About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2008
>>
[2008] ZAFSHC 122
|
|
Du Plooy v Bitflow Investments 220 (Edms) Bpk (5448/08, 5023/2006) [2008] ZAFSHC 122 (30 October 2008)
IN
DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(VRYSTAATSE
PROVINSIALE AFDELING)
Aansoeknommer : 5448/08
In
die aansoek tussen:-
JOHANNES
PETRUS DU PLOOY
Applikant
en
BITFLOW
INVESTMENTS 220 (EDMS) BPK
Respondent
IN
RE:
Saaknommer : 5023/2006
In die saak tussen:
JOHANNES
PETRUS DU PLOOY
Eiser
en
BITFLOW
INVESTMENTS 220 (EDMS) BPK
Verweerder
_____________________________________________________
CORAM:
VAN
ZYL, R
_____________________________________________________
UITSPRAAK
DEUR:
VAN
ZYL, R
_____________________________________________________
AANGEHOOR
OP:
23
OKTOBER 2008
_____________________________________________________
GELEWER
OP:
30
OKTOBER 2008
_____________________________________________________
[1] Hierdie is ‘n
interlokutêre aansoek om wysiging ingevolge Hofreël 28 vir
die wysiging van applikant se besonderhede
van vordering geliasseer
in saaknommer 5023/2006 (hierinlater na verwys as “die
hoofaksie”) waarin applikant, as eiser,
die volgende
tersaaklike regshulp vanaf respondent, as verweerder, vorder:
“’
n
Bevel dat verweerder die nodige stappe neem om toe te sien dat ‘n
reg van weg oor sy plaas Bergplaats 120, distrik Bethlehem
geregistreer word, welke reg van weg 5 meter breed sal wees en oor
die roete sal strek soos tans daar uitsien,
alternatiewelik
oor sodanige roete as wat die Agbare Hof sal bepaal.”
Die alternatiewe en
aanverwante regshulp is nie tersaaklik vir doeleindes van hierdie
aansoek nie.
[2] Die tersaaklike
agtregrond tot hierdie aansoek is kortliks die volgende:
Applikant is die
geregistreerde eienaar van die plase Mooihoek nr. 878, Rusthoek nr.
398 en Uitzicht nr. 382, geleë in die
distrik Bethlehem.
Voormelde eiendomme is aangrensend tot mekaar . Respondent was ten
tyde van die uitreik van die dagvaarding
in die hoofaksie die eienaar
van die plaas Bergplaats nr. 120, welke plaas aangrensend tot die
plase Rusthoek en Uitzicht van applikant
lê (hoewel die plaas
Bergplaats klaarblyklik intussen verkoop is, berus die nuwe eienaar
by die uitspraak van die hof). Volgens
applikant is die plaas
Uitzicht `n geïsoleerde plaas, hoofsaaklik op `n berg geleë
en feitlik omring deur klowe wat toegang
tot die plaas versper.
Voorheen het applikant by ooreenkoms toegang tot die plaas Uitzicht
verkry deur middel van die roete wat
nou as `n reg van weg gevorder
word. Die vergunning om dit te gebruik is egter op of omtrent 24
September 2006 deur respondent
se verteenwoordiger opgesê.
Volgens applikant is hierdie roete die enigste wyse waarop hy toegang
tot die plaas Uitzicht
kan verkry (so lees die bewering tans).
Gevolglik het applikant op 29 September 2006 die Hof op `n dringende
basis genader onder
aansoeknommer 4080/2006 (hierinlater na verwys as
“die dringende aansoek”) en is `n bevel verleen in terme
waarvan
respondent verplig is om applikant toe te laat om voort te
gaan om die roete te gebruik hangende die instel en finalisering van
`n aksie om sodanige roete as `n reg van weg te registreer. Sodanige
aksie is ingestel by wyse van die hoofaksie hierin. Die hoofaksie
het
die eerste keer voor my gedien op 5 Februarie 2008, op welke datum
daar `n inspeksie ter plaatse gehou is. Op 6 Februarie is
die saak op
versoek van applikant uitgestel en het toe weer voor my gedien op 27
Mei 2008. Op hierdie dag is die getuienis van
een getuie van
applikant aangehoor, waarna die saak weer op versoek van applikant
sine die uitgestel is. Die besonderhede van en
redes vir laasgenoemde
uitstelle sal ek later hierin mee handel.
[3] Op 18 Julie 2008 het
applikant skriftelik kennis gegee van sy voorneme om sy besonderhede
van vordering te wysig, ‘n afskrif
van welke kennisgewing
aangeheg is tot die aansoekstukke as aanhangsel “A”,
waarop respondent op 31 Julie 2008 skriftelik
beswaar aangeteken het
teen die voorgenome wysiging, ‘n afskrif van welke kennisgewing
aangeheg is tot die aansoekstukke
as aanhangsel “D2”.
[4] Vanweë enkele
klein verskille tussen die voorgenome wysigings in die kennisgewing
van wysiging vermeld en dié in
die kennisgewing van mosie
gevorder, gaan ek na die wysigings soos in die kennisgewing van mosie
gevorder, verwys. Dit handel met
die volgende paragrawe van die
besonderhede van vordering (duidelikheidshalwe verwys ek ook na die
paragrawe soos dit tans lees):
4.1 Paragraaf 3 van die
besonderhede van vordering lees tans as volg:
“
3.
Eiser is die geregistreerde eienaar
van die plaas Rusthoek Nr. 398 sowel as Uitzicht Nr. 382, geleë
in die distrik Bethlehem.
Voormelde plaaseiendomme is aangrensend
aan mekaar.”
Applikant versoek dat
paragraaf 3 geskrap word en vervang word met die volgende:
“
3.
Eiser is die geregistreerde eienaar
van die plase Mooihoek nr.878, Rusthoek nr. 398 sowel as Uitzicht nr.
382, geleë in die
distrik Bethlehem. Voormelde plaaseiendomme
is aangrensend aan mekaar.”
Paragraaf 5 van die
besonderhede van vordering lees tans as volg:
“
5.
Verweerder se vermelde plaas
Bergplaats is aangrensend aan beide eiser se vermelde plase en lê
aan die westekant daarvan,
soos blyk op ‘n kaart hierby
aangeheg, synde aanhangsel “A”.”
Applikant versoek dat
paragraaf 5 geskrap word en vervang word met die volgende:
“
5.
Verweerder se vermelde plaas
Bergplaats is aangrensend aan beide eiser se vermelde plase Rusthoek
en Uitzicht en lê aan die
westekant daarvan, soos blyk uit die
kaart hiertoe aangeheg synde aanhangsel “A”.”
Paragraaf 6.1 van die
besonderhede van vordering lees tans as volg:
“
6.1 Die eiser se plaas Uitzicht
is ‘n geïsoleerde plaas, hoofsaaklik op ‘n berg
geleë.”
Applikant versoek dat
paragraaf 6.1 gewysig word om as volg te lees:
“
6.1 Die eiser se plaas Uitzicht
is ‘n geïsoleerde plaas, hoofsaaklik op ‘n berg
geleë en bestaan daar geen
ingang of uitgang vanaf Uitzicht na
‘n openbare pad nie, behalwe soos in paragraaf 6.3 infra
aangedui.”
Paragraaf 6.3 van die
besonderhede van vordering lees tans as volg:
“
6.3 Die enigste wyse waarop
eiser toegang tot die plaas Uitzicht kan verkry, is om vanaf sy plaas
Rusthoek deur te gaan na verweerder
se plaas Bergplaats toe, teen die
grens af te beweeg tussen die gemelde plase om uiteindelik, waar die
plaas Uitzicht ook aan Bergplaats
grens, deur te gaan om sodoende die
plaas Uitzicht te bereik.”
Applikant versoek dat
paragraaf 6.3 gewysig word om te lees:
“
6.3 Die enigste redelike wyse
waarop eiser toegang tot die plaas Uitzicht kan verkry vanaf die
naaste openbare pad, te wete die
S230, is om vanaf sy plaas Mooihoek
waardeur die S230 openbare pad loop, oor sy plaas Rusthoek te beweeg
na verweerder se plaas,
Bergplaats, en op Bergplaats teen die
grensheining tussen Bergplaats aan die eenkant en Rusthoek en
Uitzicht aan die anderkant
af te beweeg om uiteindelik, waar die
plaas Uitzicht ook aan Bergplaats grens, deur te gaan om sodoende die
plaas Uitzicht te bereik.”
Paragraaf 6.4 van die
besonderhede van vordering lees tans as volg:
“
6.4 Daar bestaan geen ander
alternatiewe roete wat toegang tot Uitzicht verleen nie.”
Applikant vorder dat
paragraaf 6.4 gewysig word om as volg te lees:
“
6.4 Daar bestaan geen ander
redelike en/of begaanbare alternatiewe roete wat toegang tot Uitzicht
verleen vanaf die naaste openbare
pad, te wete die S230 nie en is die
roete soos in paragraaf 6.3 beskryf, saamgelees met paragrawe 7.2,
7.3, paragraaf 11 en aanhangsel
“A” nie alleen die
kortste roete vanaf `n openbare pad na Uitzicht nie, maar ook die
roete wat die minste beswaring
en/of skade vir verweerder inhou.”
[5] Dit blyk uit die
kennisgewing van beswaar dat respondent se beswaar die volgende
behels:
“
1.
Die saak is reeds deelsverhoor. Die
partye het reeds ‘n inspeksie ter plaatse gehou op 5 Februarie
2008. Tydens die voormelde
inspeksie het verweerder deur middel van
sy deskundige meerdere roetes en potensiële roetes uitgewys.
Daarbenewens het die
partye se onderskeie deskundiges ‘n notule
van samesprekings gehou deur die deskundiges en gedateer 6 Februarie
2008 ingehandig.
Daarin het die deskundiges (en derhalwe die eiser
en die verweerder) se deskundiges verwys na meerdere roetes hierin
tersaaklik
met as vertrekpunt en as beginsel dat die roetes slegs
haalbaar moet wees vir 4 X 4 voertuie. Die voorgenome wysiging beoog
nou
‘n wysiging wat derhalwe nie strook met die getuienis sover
aangebied nie, deurdat die wysiging beoog om die geskilpunte te
beperk tot die wyse waarop eiser toegang tot die plaas kan kry met
verwysing na die naaste openbare pad. Die voorgenome wysiging
sal
gevolglik nie strook met die getuienis sover aangebied nie en sal die
pleitstuk in sy gewysigde vorm, bots met die getuienis
sover
aangebied. Verweerder se beswaar is derhalwe dat die voorgenome
wysiging in stryd sal wees met die getuienis sover aangebied.
2.
In paragraaf 7.3 van die Reël 37
notule is ooreengekom dat die geskilpunt tussen die partye onder
andere is
‘
dat die enigste wyse waarop
eiser toegang tot die plaas Uitzicht kan verkry deur verweerder se
plaas loop op die roete soos aangedui
op aanhangsel “A”
tot die besonderhede van vordering en dat geen alternatiewe roete
bestaan nie.’
Dit is verder ooreengekom dat die
eiser daardie bewyslas dra. Die voorgestelde wysiging is in stryd
met voormelde ooreenkoms.
3.
Eiser het reeds die getuienis onder
eed aangebied van sy deskundige Smith. Tydens die aanbied van sy
getuienis, is geen getuienis
aangebied met betrekking tot die paaie
of toegangsroetes deur hom voorgestel en oor getuig in verhouding tot
die sogenaamde ‘naaste
openbare pad’ nie. Hy is ook nie
daaroor gekruisverhoor nie. Nie net sal die voorgenome wysiging
gevolglik nie strook met
sy getuienis nie, maar word verweerder
benadeel deurdat verweerder hom nie daaromtrent gekruisverhoor het
nie.”
4.
Die voorgenome wysiging is in stryd
met die applikant se eie beëdigde verklaring in terme waarvan hy
die tussentydse bevel
bekom het om die roete te mag gebruik hangende
die afhandeling van die hoofaksie in soverre hy in die voormelde
aansoek verklaar
het dat dit enigste beskikbare roete is en geen
ander roete bestaan nie. Die voorgenome wysiging sal dus nie
ooreenstem met die
eiser se eie beëdigde verklaring rakende
toegangsroetes nie en sal derhalwe in stryd wees met die eiser se eie
weergawe rondom
die regshulp wat hy verlang.
5.
Die kennisgewing van voorgenome
wysiging is vaag en verwarrend deurdat in paragrawe 4 en 5 daarvan
onderskeidelik verwys word na
die naaste openbare pad as synde S230
en S1102.”
[6] Die
algemene beginsels van toepassing met betrekking tot wysigings, is as
volg in
AFFORDABLE
MEDICINES TRUST AND OTHERS v MINISTER OF HEALTH AND OTHERS
[2005] ZACC 3
;
2006 (3) SA 247
(CC) op 261 C – D uiteengesit:
“
The practical rule that emerges
from these cases is that amendments will always be allowed unless the
amendment is mala fide (made
in bad faith) or unless the amendment
will cause an injustice to the other side which cannot be cured by an
appropriate order for
costs, or 'unless the parties cannot be put
back for the purposes of justice in the same position as they were
when the pleading
which it is sought to amend was filed'. These
principles apply equally to a notice of motion. The question in each
case, therefore,
is, what do the interests of justice demand?”
‘
n
Handige opsomming van die tersaaklike beginsels word ook as volg
saamgevat in die kopskrif van
TRANS
- DRAKENSBERG BANK LTD (UNDER JUDICIAL MANAGEMENT) v COMBINED
ENGINEERING (PTY) LTD AND ANOTHER
1967 (3) SA 632
(D & CLD) op 632 E – F:
“
The aim in allowing amendments
to pleadings should be to do justice between the parties by deciding
the real issues between them.
The mistake or neglect of one of them
in the process of placing the issues on record is not to stand in the
way of this: his punishment
is in his being mulcted in the wasted
costs. The amendment will be refused only if to allow it would cause
prejudice to the other
party not remediable by an order for costs
and, where appropriate, a postponement. It is only in this relation
that the applicant
for an amendment is required to show it is bona
fide and to explain any delay there may have been in making the
application, for
he must show that his opponent will not suffer
prejudice.
If a litigant has delayed in bringing
forward his amendment, this in itself, there being no prejudice to
his opponent not remediable
in the manner indicated above, is no
ground for refusing the amendment.”
[7] Met
betrekking tot ‘n geval waar ‘n skuldoorsaak nie
behoorlik of duidelik uiteengesit is nie, sal ‘n wysiging
normaalweg toegestaan word ten einde die ware dispuut tussen die
partye te ventileer. Hierdie beginsel is as volg in
Superior
Court Practice
,
Erasmus, op p. B1-180 verwoord:
“
Where the real issue in a case
is imperfectly or ambigiously expressed in the pleadings, an
amendment designed to place on record
the true issue will be
allowed.”
Sien
ook
TRANS-AFRICAN
INSURANCE CO LTD v MALULEKA
1956 (2) SA 273
(AD) op 279 C en
SLOMOWITZ
v VEREENIGING TOWN COUNCIL
1966 (3) SA 317
(AD) op 329 E – F.
[8] Selfs
‘n wysiging wat ‘n nuwe skuldoorsaak daarstel, word
toegelaat indien geen benadeling daardeur veroorsaak word
nie, selfs
al veroorsaak dit die verandering van die karakter van die aksie en
heropening van die saak om nuwe getuienis te lei
ten einde die
werklike geskilpunt tussen die partye te bepaal en te besleg. Sien
Superior
Court Practice
,
supra
,
op B1-180.
[9] Alvorens die
beginsels met betrekking tot wysigings op die feite van hierdie
aangeleentheid toegepas kan word, meen ek dit is
ook noodsaaklik om
te let op die regsaard van en die regsbeginsels van toepassing op die
gevorderde reg van weg. Op ‘n spesifieke
vraag deur myself aan
beide advokate, het dit geblyk dat die partye dit eens is dat die
enigste regsfiguur wat hierin ter sprake
kan wees as synde die reg
van weg wat deur applikant gevorder word, dié van ‘n
noodweg is.
[10] ‘n Aanspraak
op ‘n noodweg ontstaan onder die volgende omstandighede:
“
A way of necessity is granted
either by way of agreement or by order of court if a piece of land is
landlocked without any access
to a public road or, if an alternative
route is indeed available, such alternative route is so difficult and
inconvenient as to
be almost impassable. A way of necessity takes
the form of the shortest route to the nearest public road and the
route that causes
the least damage to the servient tenement.”
Sien
LAWSA
,
Joubert, Vol. 24, eerste heruitgawe, par. 407.
Voormelde
beginsels is as volg verwoord in
Sakereg
,
C.G. van der Merwe, 2de Uitgawe, op p. 486 en 488:
“
Die Suid-Afrikaanse Reg aanvaar
dat ‘n noodweg verleen moet word in gevalle waar ‘n
grondstuk heeltemel van openbare
verkeersweë afgesny is. Indien
daar wel uitgange na die publieke verkeersweë bestaan, maar die
bestaande roete so moeilik
is dat dit prakties onmoontlik is om
daarvan gebruik te maak, word ‘n noodweg ook geredelik
verleen….
Dit beteken eerstens dat `n noodweg
verleen moet word oor die grondstuk wat die kortste uitweg vanaf die
ingeslote grondstuk na
die publieke pad verleen. Indien die grondstuk
hiervolgens aangewys so onbegaanbaar is dat dit prakties geen uitweg
bied nie, of
as gevolg van die besondere aard daarvan besonder
nadelig deur die verlening van `n noodweg getref sal word, kan `n
noodweg ten
opsigte van `n ander aanliggende grondstuk verleen word.”
Sien
ook
VAN
RENSBURG v COETZEE
1979 (4) SA 655
(A).
[11] Die hoofaksie het
die eerste keer voor my gedien op 5 Februarie 2008. Voorafgaande
hierdie datum en wel ten tyde van ‘n
Reël 37 konferensie
wat gehou is op 17 Januarie 2008, het die partye, op voorstel van
respondent, ooreengekom dat ek versoek
sou word om op die eerste
verhoordag en voor die aanbied van getuienis, ‘n inspeksie ter
plaatse te hou. Sodanige inspeksie
het inderdaad plaasgevind in
teenwoordigheid van die onderskeie partye, die regsverteenwoordigers
asook die tersaaklike deskundiges.
Die oggend van die tweede
verhoordag, synde 6 Februarie 2008, is ‘n notule gesamentlik
deur die partye ingehandig van samesprekings
gehou tussen sommige van
die partye se onderskeie deskundiges, synde mnr. Smith, ‘n
ingenieur, namens applikant en mnr. Van
Heerden, ‘n ingenieur,
namens respondent. Uit hierdie notule het dit geblyk dat die
deskundiges se benadering gebaseer was
daarop dat die moontlike
roetes haalbaar moet wees vir ‘n 4 X 4 voertuig. Gebaseer
hierop, is daar sewe roetes identifiseer
en bespreek as moontlike of
potensiële roetes wat aan applikant toegang tot die plaas
Uitzicht kan verleen, hoewel hulle dit
eens was dat een roete, synde
roete 3, onbegaanbaar is vir `n 4 x 4 voertuig. Dit het egter ook
uit hierdie notule geblyk dat
mnr. Van Heerden vermeld het dat
volgens sy berekeninge die mees noordelike punt van Uitzicht op die
laer vlak onder die kranse
is en dat dit sonder enige addisionele 4 X
4 roetes bereik kan word.
Hierdie opmerking het
daartoe aanleiding gegee dat argumente voor my gevoer is wat inisieer
is deur mnr. Daffue op die basis dat
dit `n totaal nuwe punt is wat
namens respondent geopper word nadat die inspeksie ter plaatse juis
gereël was om die geskilpunte
te beperk. Ten tyde van verdere
argumente, is hierdie punt eventueel deur mnr. Reinders, namens
respondent, abandoneer. Desnieteenstaande
het mnr. Daffue steeds op
daardie stadium namens applikant uitstel versoek ten einde hierdie
moontlike toegangsroete te ondersoek,
aangesien dit nog nooit
voorheen deur enige van die partye geopper was nie en dus nie
voorheen ondersoek is nie. Ek het die uitstel
verleen en het ek
voorts gelas dat die verspilde koste teweeggebring deur die uitstel,
oorstaan vir latere beregting.
[12] Die aangeleentheid
is daaropvolgend ter rolle geplaas vir voortsetting van die verhoor
op 27, 28 en 30 Mei 2008. Op eersgenoemde
datum het mnr. Daffue ‘n
openings toespraak met betrekking tot applikant se saak en die
getuienis wat hy voornemens is om
aan te bied, gehou, wat onder
andere daarop gedui het dat getuienis aangebied gaan word deur of
namens applikant ten opsigte van
die moontlike beskikbare en/of
potensiële roetes wat toegang verleen tot die plaas Uitzicht en
hulle verhouding tot die naaste
openbare pad en die afstand vanaf die
plaas Uitzict tot die naaste openbare pad via die onderskeie roetes.
Mnr. Reinders het reeds
op daardie tydstip aangedui dat respondent
beswaar sou aanteken teen die aanbied van sodanige getuienis.
Applikant het toe voortgegaan
en die getuienis van mnr. Smith
aangebied. Tydens die aanbied van hierdie getuienis is namens
respondent beswaar gemaak toe die
getuie getuienis wou aanbied met
betrekking tot openbare paaie en die toeganklikheid en/of afstand
vanaf die plaas Uitzicht vanaf
sodanige openbare paaie via die
onderskeie potensiële roetes. Mnr. Reinders het tydens hierdie
beswaar aan die hand gedoen
dat indien daar gelet word op die
pleitstukke van applikant, dit applikant se saak is dat die dispuut
wat hierin ter sprake is,
handel oor ‘n reg van weg tussen die
plaas Mooihoek, alternatiewelik die plaas Rusthoek van applikant, om
sy plaas Uitzicht
te bereik. Dit handel nie oor die toeganklikheid
van die plaas Uitzicht vanaf ‘n openbare pad nie. Mnr. Daffue
het daarenteen
aan die hand gedoen dat waar die pleitstukke spesifiek
daarna verwys dat die plaas Uitzicht ‘n geïsoleerde plaas
is,
dit geïnterpreteer moet word as synde dat dit daarop slaan
dat dit ook onbereikbaar is vanaf ‘n openbare pad. Mnr. Daffue
het ook aan die hand gedoen dat die partye dit tot op daardie stadium
eens was wat die aard van die dispuut is, in besonder gesien
in die
lig daarvan dat ‘n inspeksie ter plaatse gedoen was en almal
dit eens was wat die doel van die inspeksie was en gevolglik
ook wat
die doel van die reg van weg is wat hier aangevra word. Mnr. Daffue
het aan die hand gedoen dat daar gevolglik geen verrassingselement
vir die respondent daarin ter sprake kon wees nie.
[13] In
my
ex
tempore
uitspraak wat ek daartydens gelewer het, het ek na ontleding van die
pleitstukke, die kennisgewings en die dringende aansoek, bevind
dat
daar nie enige uitdruklike verwysing is na die toeganklikheid van die
plaas Uitzicht met betrekking tot ‘n openbare pad
en/of die
afstand daarvan nie. Ek het die volgende opmerkings in daardie
uitspraak gemaak:
“
Dit moet ook vermeld word dat
gegewe die vereiste dat om ‘n noodweg te vestig ek eventueel
sal moet ag slaan op die vereiste
dat dit (en ek haal weer aan uit
LAWSA) ‘the shortest route to the nearest public road and the
route that causes the least
damage to the servient tenement’
moet wees, meen ek dat Mnr. Reinders gelyk gegee moet word dat daar
nie op hierdie stadium
enige aanduiding in die pleitstukke of in die
opsomming van die eiser se deskundiges was dat daar getuienis
aangebied gaan word
met betrekking tot die toeganklikheid van die
plaas Uitzicht vanaf ‘n openbare pad en/of die afstand tussen
die naaste openbare
pad en die plaas Uitzicht met verwysing na die
gevorderde reg van weg nie. Ek kan egter op hierdie stadium voorsien
dat dit vir
my ‘n probleem sal wees om die aangeleentheid te
beslis in afwesigheid van enige sodanige getuienis met betrekking tot
die
toeganklikheid van die plaas met betrekking tot `n openbare pad
en die afstand tussen die plaas Uitzicht en die naaste openbare
pad
via die gevorderde reg van weg en/of die moontlike alternatiewe
roetes waarop die deskundiges ooreengekom het.”
Ek het derhalwe as volg
bevind en beslis:
“
Aangesien hierdie aspekte nie
deur die pleitstukke gedek word soos dit tans staan nie, word Mnr.
Reinders se beswaar gehandhaaf
en is die eiser nie geregtig om op
hiérdie stadium getuienis aan te bied wat slaan op die bestaan
van openbare paaie en
die toeganklikheid van die plaas Uitzicht vanaf
sodanige openbare paaie en/of die afstand vanaf sekere punte tot en
met die naaste
openbare pad of paaie in die omgewing nie.”
[14] Voortspruitend uit
laasgenoemde bevinding, het applikant steeds Mnr. Smith se getuienis
aangebied, uitgesluit die gedeeltes
welke deur my bevinding getref
is. Mnr. Smith is wel gekruisverhoor namens respondent, maar is
vanweë my bevinding en sy
gevolglike nie-aanbied van enige
getuienis ten opsigte van daardie aspekte, nie daaromtrent
gekruisverhoor nie.
[15] Nadat die getuienis
van Mnr. Smith aangebied is, het Mnr. Daffue aansoek gedoen om
uitstel van die aangeleentheid. Hy het
dan ook namens applikant
aangebied dat applikant die verspilde koste teweeggebring deur die
uitstel, sal betaal. Daar is reeds
op daardie stadium deur Mnr.
Daffue aangedui dat die aansoek om uitstel teweeggebring is deur my
voormelde bevinding wat die applikant
noodsaak om sy pleitstukke te
wysig ten einde voorsiening te maak vir bewerings met betrekking tot
die toeganklikheid van die plaas
Uitzicht met betrekking tot openbare
paaie en afstande vanaf die plaas Uitzicht tot en met die naaste
openbare pad met verwysing
na die gevorderde noodweg en/of enige
ander punt.
Hoewel die aansoek om
uitstel op daardie stadium deur Mnr. Reinders geopponeer is, het ek
wel die aansoek om uitstel toegestaan.
Ek het in die uitoefening van
my diskresie met betrekking tot ‘n gepaste kostebevel, ‘n
bevel gemaak wat sover moontlik
respondent in ‘n posisie sou
plaas asof die verrigtinge nie ter rolle geplaas was vir daardie dag
nie, gegewe dat hoogstens
‘n uur van die hele dag nuttig
gebruik was. Ek het gevolglik applikant gelas om die koste van die
dag, ingesluit voorbereidingskoste,
te betaal. Ek het ook
respondent se deskundige getuie, Mnr. Van Heerden, verklaar as ‘n
noodsaaklike getuie en voorts applikant
gelas om die koste ten
opsigte van Mnr. Van Heerden se reis- en verblyfkoste,
voorbereidingskoste en die dag se koste, te betaal.
[16] Voortspruitend uit
voormelde gebeure het applikant sy kennisgewing van voorgenome
wysiging, waarna ek reeds vroeër verwys
het, geliasseer.
[17] Mnr. Daffue het aan
die hand gedoen dat met die voorgenome wysiging daar nie sprake is
van ‘n nuwe skuldoorsaak nie.
Aldus sy betoog blyk applikant
se aanspraak op ‘n reg van weg in die vorm van ‘n noodweg
reeds uit sy besonderhede
van vordering in die huidige vorm en het
die wysigings slegs ten doel om die ietwat gebrekkige of onvolkome
besonderhede van vordering
waarin applikant se vorderingsreg waarop
daar deurgaans gesteun is, reeds uiteengesit is, meer volledig uiteen
te sit, met spesifieke
verwysing na toegang vanaf die plaas Uitzicht
via ander eiendom na die naaste openbare pad. Hy het voorts aan die
hand gedoen
dat hierdie aansoek om wysiging teweeggebring is deur my
vorige bevel, waarna ek reeds hierbo verwys het. Hy het gevolglik
betoog
en versoek dat die aansoek toegestaan moet word.
Mnr. Reinders het ter
opponering van die aansoek onder andere betoog en aan die hand gedoen
dat dit uit die dringende aansoek,
sowel as die pleitstukke soos dit
tans lees, duidelik blyk dat dit applikante se saak was dat die roete
wat as noodweg gevorder
word, die enigste roete is waarvolgens
applikant sy plaas Uitzicht kan bereik. Noudat respondent egter
bewys het dat daar wel
alternatiewe roetes bestaan, soos duidelik
blyk uit die notule ten opsigte van die samesprekings tussen die
deskundige getuies
van applikant en respondent, poog applikant om,
aldus Mnr. Reinders se betoog, die fokus te verskuif deur nou skielik
die eerste
keer te verwys na die toeganklikheid van die plaas
Uitzicht met betrekking tot die naaste openbare pad. Soos blyk uit
die bewerings
in die opponerende verklaring (aansoekstukke, p. 44,
paragraaf 14 en p. 49, paragraaf 25.2) poog applikant hiermee om sy
skuldoorsaak
te wysig. Sodanige wysiging sal, aldus Mnr. Reinders se
betoog, dan ook in stryd wees met die getuienis wat applikant verkies
het
om by wyse van Mnr. Smith op rekord te plaas, welke getuienis,
vanweë my vroeëre bevel, geensins ‘n verwysing na
die
naaste openbare pad bevat het nie. Verdermeer is Mnr. Smith nie
namens respondent hieromtrent gekruisverhoor nie. Mnr. Reinders
het
ook aan die hand gedoen dat hierdie fokusverskuiwing deur applikant
gedoen word vanweë die feit dat dit applikant se saak
was dat
die gevorderde roete die enigste roete is waarvolgens hy toegang tot
sy plaas Uitzicht kan verkry terwyl dit, selfs op
applikant se eie
weergawe ooreenkomstig die notule van die deskundiges se
samesprekings, nou vasstaan dat daar alternatiewe roetes
bestaan. Hy
het gevolglik betoog en versoek dat die aansoek van die hand gewys
moet word.
[18] Wanneer die
regsbeginsels met betrekking tot wysiging aan die een kant en die
geregtigheid op ‘n noodweg aan die ander
kant, waarna ek vroeër
hierin verwys het, in oorweging geneem word, meen ek eerstens dat
hier nie sprake kan wees van ‘n
nuwe skuldoorsaak wat applikant
poog deur die voorgenome wysiging daar te stel nie. Soos reeds
vermeld, is beide partye dit eens
dat die aard van die vordering wat
applikant van meet af aan vorder in die besonderhede van vordering
soos dit tans lees, geen
ander vordering of skuldoorsaak kan wees as
dié van ‘n noodweg nie. Na my mening verander die
voorgenome wysiging
dus nie hierdie skuldoorsaak nie.
[19] Soos blyk uit die
definisie of elemente van ‘n noodweg, bestaan dit in wese uit
twee elemente of oorwegings, synde:
1. dit behels die
kortste roete vanaf die geïsoleerde eiendom tot die naaste
openbare pad; en
2. die roete wat die
minste beswarend op die ander party se eiendom sal wees.
Saam met voormelde moet
ook in oorweging geneem word dat dit ook behels dat indien en in
soverre daar wel ‘n alternatiewe
roete tot die naaste openbare
pad bestaan, maar sodanige alternatiewe roete so moeilik en
ongerieflik is dat dit so te sê
onbegaanbaar is, `n noodweg
steeds verleen sal word.
[20] Gegewe voormelde
definisie en elemente van `n noodweg, is die getuienis wat tot op
hede aangebied is en die inligting versamel
ten tyde van die
inspeksies deur die onderskeie deskundiges sowel as die inspeksie ter
plaatse deur die Hof, asook die daaropvolgende
opsommings en
gevolgtrekkings van die deskundiges, steeds uiters relevant. Die
vraagstuk met betrekking tot die bestaan, aldan
nie, aard en
begaanbaarheid van alternatiewe roetes, is en bly elemente van die
reg op `n noodweg wat steeds deur my beslis sal
moet word, selfs al
word die wysiging toegestaan. Dit sal beslis ook in oorweging geneem
word by, onder andere, die beregting
van vraagstukke soos die
geïsoleerdheid, aldan nie, van die plaas Uitzicht, en die graad
van beswaring wat op die dienende
eiendom in die onderskeie gevalle
geplaas word.
[21] Daar kan dus nie
sprake wees daarvan dat die voorgenome wysiging strydig is met `n
ooreenkoms tussen die partye bereik wat
betref die vraagstuk of daar
alternatiewe roetes bestaan, aldan nie, en/of dat dit strydig is met
getuienis wat reeds aangebied
is nie.
[22] Hoewel die
deskundige opsommings van beide Smith en Van Heerden “indirekte
verwysings” na sekere openbare paaie
bevat, welke verwysings
deur Mnr. Daffue uitgewys is maar wat ek nie meen nodig is om hierin
te herhaal nie, is dit duidelik dat
die besonderhede van vordering,
soos dit tans lees, nie enige uitdruklike sodanige verwysing na `n
openbare pad of die naaste openbare
pad bevat nie – vandaar ook
my vroeëre uitspraak in die verband. Dit is egter duidelik uit
die bewerings wat wel gemaak
word in die huidige besondering van
vordering, dat applikant se vordering gebaseer is op ‘n reg tot
‘n noodweg. Waar
dít applikant se skuldoorsaak is, maar
die besonderhede van vordering geen spesifieke bewering bevat met
betrekking tot
die toeganklikheid van die geïsoleerde eiendom
vanaf ‘n openbare pad, en in besonder die naaste openbare pad
nie, meen
ek dat dit tipies ‘n geval is waar die voorgenome
wysiging resorteer onder ‘n geval waar dit neerkom op die
opklaring
van ‘n gebrekkige of onvolkome pleitstuk. Al wat die
voorgenome wysiging dus doen, is om pertinent en duidelik die gebrek
in die besonderhede van vordering met betrekking tot die elemente van
die geregtigheid op ‘n noodweg, behoorlik en volledig
aan te
spreek. Dít blyk in besonder duidelik uit die voorgenome
wysiging van paragraaf 6.4 van die besonderhede van vordering
waar in
die voorgenome wysiging beweer word dat die gevorderde roete “nie
alleen die kortste roete vanaf ‘n openbare
pad na Uitzicht (is)
nie, maar ook die roete (is) wat die minste beswaring en/of skade vir
verweerder inhou”.
[23] Na my mening is
applikant se voorgenome wysiging derhalwe nie ‘n fokus- of
klemverskuiwing soos deur Mnr. Reinders betoog
nie. Hoewel applikant
weliswaar in die dringende aansoek beweer het dat die gevorderde
roete “die enigste manier”
is waarop hy die plaas
Uitzicht kan bereik (dringende aansoek, aansoeknommer 4080/06, p. 3,
par. 7.1 en p. 5, par. 8.2), moet sodanige
bewering steeds gesien
word teen die agtergrond dat applikant se skuldoorsaak ‘n
noodweg is en daardie bewering derhalwe
bloot as ‘n gebrekkige
bewering beskou moet word wat by implikasie, gegewe die aard van die
skuldoorsaak, eintlik beteken
het of bedoel het om te beteken dat
daar geen ander redelike en/of begaanbare alternatiewe roete bestaan
wat toegang tot Uitzicht
verleen vanaf die naaste openbare pad nie.
[24] Indien die
voorgenome wysiging toegestaan sou word, sal dit tot gevolg hê
dat die geskilpunte tussen die partye behoorlik
geventileer word en
die werklike dispute tussen hulle behoorlik aangespreek kan word.
[25] Na my mening kan die
toestaan van die voorgenome wysiging ook geen onherstelbare
benadeling vir respondent inhou wat nie deur
‘n gepaste
kostebevel negeer of reggestel kan word nie. Die enigste moontlike
aspek wat ter sprake kan wees wat nie deur
‘n kostebevel
reggestel kan word nie, is die feit dat Mnr. Smith reeds sy getuienis
voltooi het sonder dat hy namens respondent
gekruisverhoor is oor
aspekte met betrekking tot en met verwysing na die naaste openbare
pad. Enige sodanige moontlike benadeling
vir respondent kan egter
ook reggestel word deurdat, indien nodig, die getuie teruggeroep kan
word.
[26] Volledigheidshalwe
moet vermeld word dat waar die voorgenome wysiging van paragraaf 6.4
van die besonderhede van vordering
in terme van die kennisgewing
daartoe verwys na die naaste openbare pad as synde die “S1102”
en dit dus verskil van
die ander verwysings daarin na die “S230”
en respondent hieromtrent in sy beswaar geopper het dat dit vaag en
verwarrend
is, blyk dit duidelik slegs ‘n oorsig of tikfout te
wees en is dit in ieder geval nou reggestel in die regshulp wat in
terme
van die kennisgewing van mosie gevorder word.
[27] Wat
betref die vraag of die aansoek
bona
fide
is,
moet die volgende in oorweging geneem word. Dit was van meet af aan
applikant se saak dat die gevorderde roete die enigste wyse
is waarop
applikant toegang tot die plaas Uitzicht kan verkry, welke bewering,
soos reeds vermeld, na my mening bedoel was om te
beweer dat as synde
die enigste redelike en/of begaanbare roete vanaf die naaste openbare
pad. Tans is die partye dit ook eens
dat die gevorderde roete die
mees direkte roete vanaf die plaas Rusthoek tot die plaas Uitzicht
daarstel. Gegewe dat applikant
in elk geval die geregistreerde
eienaar van die plase Mooihoek en Rusthoek is, synde die plase wat
via die gevorderde roete vanaf
Uitzicht toegang verleen tot die
openbare pad S230, is dit redelikerwys verduidelikbaar en/of
verstaanbaar dat daar nie aanvanklik
in die besonderhede van
vordering pertinent na die naaste openbare pad verwys is nie,
aangesien dit tog uiteraard nie vir applikant
nodig is om ‘n
serwituut van noodweg te registreer oor sy eie laasgenoemde twee
eiendomme nie. (Sien aansoekstukke, funderende
verklaring, p. 20,
par. 8.1.) Die eerste geleentheid waartydens dit geblyk het dat
hierdie gebrek in die besonderhede van vordering
bestaan en dat
applikant nie geregtig sal wees om sonder ‘n wysiging getuienis
daaromtrent aan te bied nie, was op 27 Mei
2008 toe Mnr. Reinders
beswaar teen die aanbied van hierdie getuienis gemaak het en ek ‘n
beslissing gemaak het dat sodanige
getuienis inderdaad nie aangebied
mag word nie. Hoewel Mnr. Daffue voortgegaan het om die getuienis
van Mnr. Smith aan te bied
sonder enige verwysing in sy getuienis na
die plaas Uitzicht se toeganklikheid tot `n openbare pad en die
nabyheid van sodanige
openbare pad, het Mnr. Daffue onmiddellik
daarna, soos reeds vermeld, ‘n uitstel van die verhoor versoek
juis ten einde applikant
se besonderhede van vordering in dié
verband te wysig. Dit is presies wat nou deur die kennisgewing van
voorgenome wysiging
gedoen is. Dit is dus op die vroegste moontlike
stadium gedoen nadat hierdie gebrek in die besonderhede van vordering
te berde
gebring is en daaropvolgend genoodsaak is deur my uitspraak.
[28] Ek
is dus van oordeel dat die aansoek om wysiging wel
bona
fide
is.
[29] Mnr.
Reinders het verwys na die uitspraak in
TENGWA
v METRORAIL
2002 (1) SA 739
(CPD) waarin ‘n aansoek om wysiging wat geloods
is nadat die verhoor reeds in ‘n gevorderde stadium was en die
voorgenome
wysiging die respondent kon benadeel, nie toegestaan is
nie. Dit was sy betoog dat dit ook tersaaklike oorwegings in die
onderhawige
geval is. In daardie geval het die eiser die verweerder
aangespreek op die basis van die
lex
aquilia,
voortspruitend uit gebeure wat plaasgevind het terwyl hy ‘n
passasier op ‘n trein van die verweerder was en waartydens
hy
beserings opgedoen het wat tot gevolg gehad het dat sy been
geamputeer is. Die voorgenome wysiging was steeds gebaseer op
dieselfde skuldoorsaak, maar het ander gronde van onregmatigheid
en/of nalatigheid aangevoer waarop die eiser toe sy vordering wou
baseer. Die wysiging sou tot gevolg hê dat die eiser sy
vordering op ‘n totale nuwe feitestel baseer, ‘n
feitestel
wat juis namens die verweerder aan hom gestel was ten tyde
van kruisverhoor, en wat hy ontken het. Die hof het daarin bevind
dat
indien die wysiging toegestaan sou word, die verhoor uitgestel
sou moes word ten einde die verweerder die geleentheid te gee om
die
nuwe feite en bewerings te ondersoek. Dit mag vir die verweerder
nodig gewees het om getuies te probeer opspoor wat op die
tersaaklike
tydstip passasiers op die trein was, maar met wie nie voorheen
gekonsulteer is nie vanweë die feitelike basis
waarop die eiser
se oorspronklike vordering gebaseer was. Vanweë die
tydsverloop, mag dit moeilik, indien nie onmoontlik
gewees het, om
sodanige passasiers te identifiseer en op te spoor. Die hof het
gevolglik bevind dat indien die wysiging toegestaan
sou word, dit
onherstelbare benadeling vir die verweerder sal veroorsaak en is die
aansoek dus nie toegestaan nie. (Volledigheidshalwe
kan vermeld word
dat die verdere redes waarom die hof nie die wysiging toegestaan het
nie, was omdat die eiser nie aangetoon het
dat die noodsaaklikheid
vir die wysiging vanweë “reasonable cause” ontstaan
het nie en verdermeer dat die voorgenome
wysiging, indien dit
toegestaan sou word tot gevolg sou hê dat die besonderhede van
vordering eksipieërbaar sou wees.
Hierdie aspekte is egter nie
ter sake in die onderhawige geval nie.)
Na my mening is die
feite in daardie saak egter, soos deur mnr. Daffue betoog, in
totaliteit onderskeibaar van die feite in die
onderhawige
aangeleentheid.
In die onderhawige geval
steun applikant nie op ‘n nuwe feitestel ter ondersteuning van
sy vordering van ‘n noodweg
nie. Die verwysing na die naaste
openbare pad is ‘n wesenlike element van ‘n noodweg en
moet dit dus geag word van
meet af aan deel uit te gemaak het van
applikant se skuldoorsaak, hoewel dit ongelukkig nie duidelik
uiteengesit was in die besonderhede
van vordering nie. Verdermeer is
hier nie tans sprake van getuies of potensiële getuies wat
vanweë tydsverloop nie beskikbaar
is of nie meer beskikbaar sal
wees om te getuig nie. In soverre dit nodig sou wees dat mnr. Smith
verdere getuienis moet aanbied
en/of namens respondent gekruisverhoor
moet word, kan hy as getuie teruggeroep word. Die oorwegings van die
hof wat dus in daardie
saak daartoe gelei het dat die aansoek om
wysiging afgewys is, is geensins in die onderhawige geval van
toepassing nie.
[30] Vir die redes reeds
vermeld, is ek gevolglik van oordeel dat daar geen basis of rede is
waarom die voorgenome wysiging nie
toegestaan behoort te word nie.
[31] Wat die koste-aspek
betref, het Mnr. Daffue betoog en aan die hand gedoen dat die
respondent se opponering van die aansoek
onredelik en ongegrond was
en dat respondent gevolglik gelas behoort te word om die koste van
die aansoek te betaal. Mnr. Daffue
het wel toegegee dat
ooreenkomstig die gebruiklike beginsels met betrekking tot ‘n
wysiging, applikant gelas behoort te word
om die koste voortspruitend
uit die wysiging, te betaal, soos ook aangebeid is in die
kennisgewing van voorgenome wysiging.
Mnr. Reinders het
daarenteen betoog en aan die hand gedoen dat selfs indien applicant
se aansoek toegestaan sou word, respondent
se opponering van die
aansoek redelik en geregverdigd was en dat applikant gevolglik gelas
behoort te word om die koste van die
aansoek te betaal, wat insluit
die koste van die opponering en argumentering daarvan. Wat die koste
voortspruitend uit die wysiging
betref, was dit Mnr. Reinders se
betoog dat applikant gelas behoort te word om alle koste vanaf die
datum van hierdie hofbevel
tot en met die liassering van die
gewysigde verweerskrif, te betaal. Hierdie submissie was daarop
gebaseer dat alle stappe wat
nou geneem gaan word as die wysiging
toegestaan sou word, soos byvoorbeeld deskundiges wat weer inspeksies
moet doen, aanvullende
deskundige opsommings wat moontlik geliasseer
sal moet word, moontlike verdere versoeke tot nadere besonderhede
ensovoorts, alles
koste sal wees wat voortspruit uit die wysiging en
derhalwe deur applikant betaal behoort te word.
[32] Die
argumente wat deur respondent geopper is ter opponering van die
onderhawige aansoek, was ook reeds geopper ter opponering
van Mnr.
Daffue se aansoek om uitstel op 27 Mei 2008. In dié verband
het ek reeds op daardie stadium as volg in my
ex
tempore
uitspraak
bevind:
“Na
my mening blyk dit gevolglik dat hier twee aspekte is wat van belang
gaan wees by die eventuele beregting hiervan en dit
gaan eerstens
wees die afstand via die onderskeie die toegangsroetes vanaf die
naaste openbare pad tot en met die plaas Uitzicht
en tweedens ‘n
oorweging van selfs indien daar ‘n roete oor die eiser se eie
plase beskikbaar is, tot watter mate sodanige
roete moeilik of minder
toeganklik is tot die mate dat dit moontlik geag moet word
onbegaanbaar te wees in vergelyking met ander
roetes wat moonlik oor
verweerder se eiendom strek.
Die blote feit dat daar gevolglik op
hierdie stadium deur die eiser se eie getuie getuienis aangebied is
dat daar wel alternatiewe
roetes bestaan, kan nie na my mening deur
my in oorweging geneem word op die basis dat dit die einde van die
eiser se skuldoorsaak
en die meriete van sy saak is nie. Daar is op
hierdie stadium nog steeds geen getuienis voor my met betrekking tot
afstande tot
die openbare pad nie, welke ‘n wesentlike element
is van ‘n vordering van noodweg soos wat applikant in die
onderhawige
geval vorder. Dit is dus aspekte wat deur getuienis
gedek sou word, meen ek, indien ek wel die aangeleentheid sou uitstel
en aan
eiser die geleentheid sou gee om sy stukke te wysig.
Hoewel dit
inderdaad so is, soos ook vanoggend deur my bevind, dat die eiser se
pleitstukke nie behoorlik die tersaaklike elemente
van die
skuldoorsaak aanspreek nie en selfs die eiser se deskundige
opsommings tot op hede nie behoorlik hierdie aspek aangespreek
het
nie, meen ek nie dat ek kan bevind dat die eiser se aansoek om
uitstel om wel hierdie aspekte by wyse van ‘n wysiging
te dek,
enigsins
mala
fide
gedoen word nie. Dit moet ook in gedagte gehou word dat hierdie
spesifieke aspek vanoggend die eerste keer ter sprake gekom het
en is
dit gevolglik nie ‘n geval dat die eiser deurentyd daarvan
bewus was dat hierdie beswaar geopper gaan word en desnieteenstaande
voortgegaan het om die aangeleentheid ter rolle te plaas nie. Dit
kan waarskynlik hoogstens toegeskryf word daaraan dat daar ‘n
oorsig aan die eiser se kant was in hierdie verband, maar meen ek nie
dat dit aanduidend is van enige
mala
fides
nie.
Ek meen gevolglik dat dit in belang
van geregtigheid is dat die uitstel wel verleen moet word en dat die
eiser die geleentheid
gebied word om sy pleitstukke te wysig soos hy
sou goed vind in ‘n poging dat die punte van dispuut behoorlik
beliggaam kan
word in die onderskeie pleitstukke en eventueel
behoorlik gedek kan word deur getuienis.”
Bogemelde bevindings is
weliswaar gemaak met betrekking tot `n aansoek om uitstel en nie `n
aansoek om wysiging nie, maar is die
onderliggende beginsels en
oorwegings by beide tog soortgelyk. Daarom ook dat van die bevindings
daarin gemaak soortgelyk is aan
die bevindings wat ek nou in die
onderhawige aansoek gemaak het. Sonder dat die indruk enigsins geskep
moet word dat die verlening
van die uitstel outomaties of
noodwendigerwys tot gevolg sou hê dat die aansoek om wysiging
toegestaan sou word, meen ek
tog dat gegewe die aard en inhoud van my
vorige bevindings en die soortgelyke beginsels wat nou toepassing
vind, die respondent
waarskynlik voorsien het of moes voorsien het
dat die aansoek om wysiging toegestaan behoort te word.
Verdermeer, toe die
hoofaksie op 27 Mei 2008 uitgestel is, het ek ‘n kostebevel
gemaak wat op daardie stadium enige moontlike
benadeling wat
respondent kon ly, uit die weg geruim het. In applikant se
kennisgewing van voorgenome wysiging het applikant spesifiek
aangedui
dat hy verantwoordelikheid aanvaar vir respondent se koste wat
veroorsaak word deur die voorgenome wysiging. Hierdie
aanbod sou
gevolglik verdere beskerming aan respondent verleen het vir enige
moontlike benadeling wat uit die voorgenome wysiging
sou voortspruit.
Desnieteenstaande het respondent steeds die voorgenome wysiging
opponeer en ook volhard met die opponering van
die aansoek wat
genoodsaak het dat die aansoek as ‘n bestrede aansoek voor my
moes dien.
[33] Ek is gevolglik van
oordeel dat respondent se opponering van die aansoek inderdaad
ongegrond en onredelik was. Derhalwe meen
ek in die uitoefening van
my diskresie dat respondent gelas behoort te word om die koste van
die aansoek te betaal.
[34] Wat betref die koste
voortspruitend uit die wysiging, is dit gemeensaak tussen die partye
en stem ek daarmee saam dat applikant
gelas behoort te word om
daardie koste te betaal, soos ook deur hom aangebied in sy
kennisgewing van voorgenome wysiging. Hoewel
sodanige koste
waarskynlik die meeste van die koste gaan insluit wat vanaf die datum
van hierdie bevel tot en met die liassering
van die gewysigde
verweerskrif aangegaan gaan word, meen ek dat dit nie gepas sal wees
vir my om die bevel sodanig te verwoord
nie. Die rede hiervoor is
dat dit denkbaar is dat daar addisioneel tot koste wat voortspruit
uit die wysiging, ook gedurende hierdie
tydperk moontlik ander
handelinge en/of prosedures deur die partye verrig kan word wat nie
voortspruit of teweeggebring is deur
die wysiging nie, maar wat dan
verkeerdelik deur my bevel gedek gaan word indien ek dit sou bewoord
met verwysing na koste tot
en met die liassering van die gewysigde
verweerskrif. Ek meen dat dit meer gepas is om die bevel op die
gebruiklike wyse te verwoord,
synde dat applikant gelas behoort te
word om die koste teweeggebring deur die wysiging, te betaal, in
welke geval enige dispuut
wat moontlik daaromtrent kan ontstaan, ten
tyde van taksasie geargumenteer en uitgesorteer kan word.
[35] Gevolglik word die
volgende bevele verleen:
1. Verlof word aan
applikant verleen om sy besonderhede van vordering geliasseer in die
hoofaksie onder saaknommer 5023/06, te
wysig ooreenkomstig bede 1 van
die kennisgewing van mosie.
2. Applikant word gelas
om die koste teweeggebring deur en voortspruitend uit voormelde
wysiging, te betaal.
3. Respondent word gelas
om die koste van die aansoek te betaal.
____________
C. VAN ZYL, R
Namens die
applikant: Adv. J.P. Daffue
In opdrag van:
Naudes Prokureurs
BLOEMFONTEIN
Namens die
respondent: Adv. S.J. Reinders
In opdrag van:
Honey Prokureurs
BLOEMFONTEIN
/sp