About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2008
>>
[2008] ZAFSHC 68
|
|
Motsoeneng v S [2008] ZAFSHC 68 (11 September 2008)
IN
DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(ORANJE
VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)
Appèl Nr. : A43/07
In
die appèl tussen:-
BOESMAN
MOTSOENENG
Appellant
en
DIE
STAAT
Respondent
_____________________________________________________
CORAM:
BECKLEY,
R
et
VAN
ZYL, R
____________________________________________________
UITSPRAAK
DEUR:
VAN
ZYL, R
_____________________________________________________
AANGEHOOR
OP:
8
SEPTEMBER 2008
_____________________________________________________
GELEWER
OP:
11
SEPTEMBER 2008
_____________________________________________________
[1] Appellant het as
beskuldigde 1 van 2 beskuldigdes in die Streekhof, Welkom,
tereggestaan op ses aanklagte, synde:
Aanklag 1: Diefstal van
R60.00 gepleeg op 21 September 2002;
Aanklag 2: Diefstal van
een 9mm pistool en 15 x 9mm rondtes ter waarde van R3 500.00, gepleeg
op 21 September 2002;
Aanklag 3: Besit van ‘n
ongelisensieerde vuurwapen, synde ‘n 9mm pistool, gepleeg op 21
September 2002;
Aanklag 4: Besit van
ongelisensieerde ammunisie, synde 15 x 9mm rondtes, gepleeg op 21
September 2002;
Aanklag 5: Diefstal van
een selfoon ter waarde van R499.00, gepleeg op 30 April 2002;
Aanklag 6: Roof met
verswarende omstandighede gepleeg op 23 September 2002, tydens welke
rooftog ‘n vuurwapen gebruik is en
goedere ter waarde van R10
900.00 geroof is.
[2] Beskuldigde 2 het
slegs op die eerste 5 aanklagte tereggestaan en is na sluiting van
die Staatsaak ooreenkomstig die bepalings
van artikel 174 van Wet 51
van 1977 onskuldig bevind en ontslaan. Nadat appellant getuienis
afgelê het, is appellant onskuldig
bevind en ontslaan op
aanklagte 1 en 5. Appellant is wel skuldig bevind soos aangekla op
aanklagte 2, 3, 4 en 6, waarop appellant
as volg gevonnis is:
Aanklag 2: 6 (ses) jaar
gevangenisstraf;
Aanklag 3: 3 (drie) jaar
gevangenisstraf;
Aanklag 4: 6 (ses)
maande gevangenisstraf;
Aanklag 6: 15 (vyftien)
jaar gevangenisstraf.
Dit is deur die
Verhoorhof gelas dat “die vonnisse opgelê op die 2de en
3de aanklag samelopend uitgedien sal word met
dié op die 2de
en 6de aanklag”.
[3] Appellant het by die
Verhoorhof aansoek gedoen om verlof om te appelleer teen die
skuldigbevindings sowel as die vonnisse, maar
is die aansoek van die
hand gewys. Appellant het daarop ‘n petisie tot die
Hooggeregshof gerig, waarop op 9 Februarie 2007
verlof aan appellant
verleen is om teen sy vonnisse te appelleer. Gevolglik is die
onderhawige appèl slegs teen die opgelegde
vonnisse gerig.
[4] Mnr. Vorster, namens
appellant, het in sy betoogshoofde en ook tydens die aanhoor van die
appèl aan die hand gedoen dat
dit blyk dat die Verhoorlanddros
waarskynlik ‘n fout begaan het deur die bogemelde wyse waarop
hy gelas het die vonnisse
samelopend uitgedien moet word, deurdat sy
bevel waarskynlik nie sy ware bedoeling korrek reflekteer nie. Die
resultaat van voormelde
bevel van die Verhoorlanddros het tot gevolg
dat appellant ‘n effektiewe vonnis van 15 (vyftien) jaar en 6
(ses) maande moet
uitdien, terwyl dit, aldus mnr. Vorster se betoog,
waarskynlik die bedoeling was van die Verhoorlanddros dat die
vonnisse met betrekking
tot die diefstal van die vuurwapen, die
onwettige besit van die vuurwapen en die onwettige besit van
ammunisie samelopend uitgedien
moet word, maar apart van die vonnis
van 15 (vyftien) jaar. Mnr. Vorster het aan die hand gedoen dat
vanweë hierdie onduidelikheid,
hierdie Hof op appèl
geregtig is om appellant van nuuts af te vonnis.
Addisioneel tot
voormelde, het mnr. Vorster aan die hand gedoen dat die Verhoorhof
fouteer het deur nie te bevind dat daar wesenlike
en dwingende
omstandighede bestaan wat op aanklag 6 die oplegging van ‘n
mindere vonnis dan die voorgeskrewe minimum van
15 (vyftien) jaar
regverdig en noodsaak nie. Hy het aan die hand gedoen dat die vonnis
van 15 (vyftien) jaar gevangenisstraf skokkend
swaar en onvanpas is
in die omstandighede van hierdie saak.
[5] Mnr. Hoffman, namens
die Staat, het toegegee dat die Verhoorhof waarskynlik fouteer het
met die wyse waarop hy die bevel ten
opsigte van die samelopende
uitdiening van die onderskeie vonnisse, bewoord het. Hy het aan die
hand gedoen dat dit waarskynlik
die bedoeling was dat aanklagte 2 en
3 saam met aanklagte 4 en 6 uitgedien moes word en dat hierdie Hof
gevolglik op appél
kan inmeng om die bevel dienooreenkomstig
te wysig. Die resultaat hiervan sal egter steeds wees dat appellant
‘n effektiewe
vonnis van 15 (vyftien) jaar en 6 (ses) maande
moet uitdien, welke vonnis, aldus mnr. Hoffman se betoog, nie
skokkend swaar en
onvanpas onder die omstandighede is nie.
Wat die vonnis van 15
(vyftien) jaar gevangenisstraf op aanklag 6 betref, het mnr. Hoffman
aan die hand gedoen dat daar geen basis
is waarop die Verhoorhof kon
of moes bevind het dat daar wesenlike en dwingende omstandighede
bestaan wat die oplegging van ‘n
mindere vonnis dan die
voorgeskrewe minimum van 15 (vyftien) jaar regverdig nie. In dié
verband het hy in besonder daarop
gewys dat appellant vorige
veroordelings met betrekking tot huisbraak met die opset om te steel
en diefstal, sowel as met betrekking
tot diefstal, het. Hy het
bygevolg aan die hand gedoen dat die appèl nie behoort te
slaag nie.
[6] Die tersaaklike
omstandighede waartydens appellant die oortredings beweer in
aanklagte 2, 3 en 4 begaan het en wat na my mening
tereg deur die
Verhoorhof as bewese bevind is, is die volgende. Die klaer in
aanklagte 2, 3 en 4, synde Inspekteur Rantai, was
op 21 September
2002 van diens af en het in sy privaat motor gereis, waarin sy jong
kind saam met hom was. Hy het toe vir mnr.
Khoza, die klaer in
aanklag 1, teëgekom, waarop mnr. Khoza aan hom berig het dat
R60.00 vanaf hom gesteel is. Inspekteur
Rantai het daarop vir mnr.
Khoza opgelaai en het hulle twee persone wie deur mnr. Khoza
uitgewys is as die persone wat die
R60.00 vanaf hom sou gesteel het,
een waarvan appellant was, agternagesit. Op ‘n later stadium
het Inspekteur Rantai vir
appellant opgemerk terwyl hy alleen
gehardloop het, waarop Inspekteur Rantai na hom gery en uitgeklim
het. Inspekteur Rantai het
sy vuurwapen uitgehaal en het hy
appellant na hom geroep. Hy het appellant gekonfronteer oor die
bewerings wat mnr. Khoza gemaak
het. Appellant het toe beweer dat
die geld by die ander persoon was wat weggehardloop het. Hulle het
op daardie stadium langs
Inspekteur Rantai se voertuig gestaan.
Inspekteur Rantai het sy vuurwapen binne sy voertuig op die sitplek
gegooi ten einde vir
appellant te visenteer. Op daardie stadium het
appellant egter agter in Inspekteur Rantai se voertuig ingeklim en
het appellant
na die vuurwapen in die voertuig gegryp en dit ook
beetgekry. Daar het ‘n stoeiery tussen Inspekteur Rantai en
appellant
plaasgevind en terwyl appellant die vuurwapen in sy hand
gehad het, het ‘n skoot in die proses afgegaan en dit het
Inspekteur
Rantai se kind wat voor in die motor was, getref.
Inspekteur Rantai het daarin geslaag om appellant uit die voertuig te
kry in
die stoeiery wat gevolg het. Hoewel mnr. Khoza steeds
verskrik agter in die voertuig gesit het, het hy die geleentheid
gekry om
appellant ‘n vuishou te gee. Die vuurwapen het op die
grond geval. Inspekteur Rantai wou dit optel, maar appellant het dit
van hom af weggeskop. Appellant het daarna die vuurwapen opgetel en
dit op Inspekteur Rantai gerig en twee skote afgevuur. Die
skote het
Inspekteur Rantai gemis en appellant het toe opgespring en
weggehardloop. Die vuurwapen ter sprake was Inspekteur Rantai
se 9mm
dienspistool en was daar ook 15 x 9mm rondtes in die pistool. Die
vuurwapen is na die arrestasie van appellant teruggevind,
maar met
slegs 3 x 9mm rondtes daarin.
[7] Wat aanklag 6 betref,
was dit die getuienis van die klaagster daarin, mej. Masilo, wie ten
tyde van die voorval in Graad 8 was,
dat sy op 23 September 2002 die
middag omstreeks 13h00 by haar ouerhuis in die geselskap van verskeie
ander persone was. Terwyl
hulle gesit en TV kyk het, het appellant
ingekom en na haar vader geroep. Sy het hom meegedeel dat haar vader
nie tuis was nie.
Uit die getuienis van haar vader, Joseph Masilo,
het dit geblyk dat appellant voorheen mnr. Masilo se tuinier was.
Appellant
het teenoor die klaagster beweer dat die klaagster se vader
aan hom geld verskuldig was en het hy ‘n vuurwapen te voorskyn
gebring en gedreig dat hy hulle daarmee gaan skiet. Appellant het
haar gevloek en haar aangesê om die TV en hoëtroustel
te
ontkoppel en dit na die kombuis te neem. Uit vrees dat hy haar sou
skiet, het sy dit gedoen. Appellant het deurgaans die vuurwapen
op
haar gerig. Appellant het haar ook gevra waar haar vader se
vuurwapen is, maar het sy geantwoord dat sy nie kennis dra van
so ‘n
wapen nie. Appellant het daarop al die sleutels van die huis gevra
en het hy hulle toe binne die huis toegesluit,
waarna hy met die
geroofde items vertrek het. Hierdie geroofde items het ingesluit een
kleur TV, een hoëtroustel met twee
luidsprekers en 15 CD’s,
die totale waarde daarvan R10 900.00 beloop het. Al hierdie goedere
is teruggevind na appellant
se arrestasie.
[8] In die oorweging van
gepaste vonnisse, moet daar eerstens op die aard en erns van die
misdrywe gelet word. Wat aanklagte 2,
3 en 4 betref, behoef dit geen
betoog dat al drie hierdie misdrywe ernstige misdrywe is nie. Ten
opsigte van aanklag 2, synde
die diefstal van die pistool, is dit
duidelik dat die omstandighede waaronder dit gepleeg is, grens aan
roof en kan appellant hom
gelukkig ag dat hy nie inderdaad van die
roof van daardie vuurwapen aangekla is nie. Die erns van die
omstandighede waaronder
die diefstal van die vuurwapen gepleeg is,
blyk ook uit die feit dat die jong kind van Inspekteur Rantai in die
proses verwond
is. Dit staan ook vas dat appellant daardie einste
vuurwapen twee dae later gebruik het om die roof waarna reeds verwys
is, uit
te voer.
Wat betref die aard en
erns van aanklag 6, synde die roof met verswarende omstandighede, is
dit uiters ernstig van aard, veral
waar appellant ‘n jong
meisie in die veiligheid van haar eie woning met ‘n vuurwapen
gedreig het ten einde die geroofde
goedere vanuit haar beheer te
neem. Die erns waarmee die wetgewer hierdie tipe misdryf bejeën,
blyk dan ook uit die feit
dat artikel 51 van die
Strafregwysigingswet, Wet 105 van 1997, ‘n minimum vonnis van
15 (vyftien) jaar gevangenisstraf voorskryf,
tensy daar wesenlike en
dwingende omstandighede bestaan wat die oplegging van ‘n
mindere vonnis regverdig.
[9] Ten opsigte van
aanklagte 2 en 6, het appellant ook vier vorige veroordelings wat
relevant is. Appellant is reeds by drie geleenthede
skuldig bevind
aan aanklagte van huisbraak met die opset om te steel en diefstal en
by een geleentheid is hy skuldig bevind aan
diefstal. Hierdie vorige
veroordelings moet strafverswarend in ag geneem word.
[10] Teenoor voormelde,
moet daar egter ook gelet word op die persoonlike omstandighede van
appellant. Ten tyde van vonnisoplegging
was appellant 24 jaar oud en
was hy slegs 22 jaar oud ten tyde van die pleging van die misdryf.
Hy is ongetroud en het een kind
van sewejarige ouderdom. Ten tyde
van sy arrestasie was hy nie permanent werksaam nie, maar het hy wel
van tyd tot tyd stukwerk
verrig waarvoor hy soms R100.00 per dag
verdien het. Hy het standerd 6 op skool geslaag.
[11] Aanvullend
tot appellant se persoonlike omstandighede, meen ek dat dit ook
wesenlik is om ten gunste van appellant in aanmerking
te neem dat hy
ten tyde van vonnisoplegging reeds byna twee jaar verhoorafwagtend
was. Daarmee saam is dit ook so dat die vuurwapen
wat gesteel is,
teruggevind is, sowel as al die geroofde items in aanklag 6. ‘n
Verdere belangrike faktor wat in aanmerking
geneem moet word, is die
feit dat appellant nie die klaagster of enige van die ander persone
teenwoordig enige fisiese leed of
beserings toegedien het ten tyde
van die pleging van die rooftog nie. Hoewel ek aanvaar dat dit ‘n
traumatiese ervaring
vir die klaagster moes wees, is daar geen
getuienis daaromtrent aangebied nie. Sonder om enigsins afbreuk te
doen aan die erns
van die roofaanklag, is dit so dat die graad van
erns van hierdie misdryf gegewe die omstandighede van hoe dit
plaasgevind het,
nie van die ernstigste graad is nie. Hierdie faktor
moet ook in ‘n gepaste vonnis geflekteer word. Sien
S
v ABRAHAMS
2002 (1) SASV 116 (SCA) op 127D – E en
RAMMOKO
v DIRECTOR OF PUBLIC PROSECUTIONS
2003 (1) SASV 200 (SCA) op 204G – 205D.
[12] Wanneer al die
bogemelde versagtende en verswarende faktore op ewewigtige wyse in
oorweging geneem word, meen ek dat die vonnisse
wat opgelê is
ten opsigte van aanklagte 2, 3 en 4 wel van pas is en is daar geen
basis waarop daarmee ingemeng kan word nie.
Die teendeel is, na my
mening heeltemal tereg, ook nie deur mnr. Vorster betoog nie.
Wat aanklag 6 betref, is
ek egter van mening dat vanweë die faktore reeds vermeld, daar
wel wesenlike en dwingende omstandighede
bestaan wat die oplegging
van ‘n mindere vonnis dan die voorgeskrewe minimum van 15
(vyftien) jaar regverdig. Die opgelegde
vonnis van 15 (vyftien) jaar
gevangenisstraf is skokkend swaar en onvanpas in die omstandighede
van hierdie saak en regverdig dus
inmenging op appèl.
[13] Wat betref die wyse
waarop die Verhoorhof gelas het die onderskeie vonnisse samelopend
uitgedien moet word, is ek insgelyks
van mening dat dit ook inmenging
regverdig, deurdat die wyse waarop die Verhoorhof dit gelas het, nie
blyk ‘n sinvolle basis
te hê nie. Gegewe die beperkte
ruimte en tyd waarbinne aanklagte 2, 3 en 4 gepleeg is, meen ek dat
dit gepas is dat die
vonnisse opgelê op aanklagte 2, 3 en 4,
samelopend uitgedien moet word. Verdermeer meen ek dat ten einde die
kumulatiewe
effek van die opgelegde vonnisse te temper, soos
klaarblyklik ook die Verhoorlanddros se bedoeling was, behoort die
vonnisse opgelê
op aanklagte 2, 3 en 4 gedeeltelik samelopend
uitgedien te word met die vonnis opgelê op aanklag 6. Hierdie
samelopende
uitdiening moet egter sodanig geskied dat appellant
steeds op behoorlike wyse gestraf word vir die oortredings wat hy in
aanklagte
2, 3 en 4 begaan het. Ten einde dit teweeg te bring sal
dit dus nie van pas wees om die totaliteit van die vonnisse opgelê
op aanklagte 2, 3 en 4 samelopend met die vonnis opgelê op
aanklag 6 te laat uitdien nie, maar slegs gedeeltelik.
[14] Gevolglik word die
volgende bevel gemaak:
1. Die appèl teen
die vonnisse opgelê op aanklagte 2, 3 en 4, word van die hand
gewys en die opgelegde vonnisse word
bekragtig.
2. Die appèl
slaag teen die vonnis opgelê op aanklag 6, die opgelegde vonnis
word tersyde gestel en vervang met een
van 10 (tien) jaar
gevangenisstraf.
3. In terme van die
bepalings van artikel 280 van Wet 51 van 1977 word dit gelas dat die
vonnisse opgelê op aanklagte 2,
3 en 4 samelopend uitgedien
moet word met mekaar en voorts moet 4 (vier) jaar daarvan samelopend
uitgedien word met die vonnis
opgelê op aanklag 6.
4. Bogemelde vonnisse
moet geag word opgelê te gewees het op 4 Augustus 2004.
____________
C. VAN ZYL, R
Ek
stem saam.
_______________
A.P. BECKLEY, R
Namens
die appellant: Mnr. J.B. Vorster
In
opdrag van:
Bloemfontein
Regsentrum
BLOEMFONTEIN
Namens
die respondent: Adv. R. Hoffman
In
opdrag van:
Direkteur
van Openbare Vervolging
BLOEMFONTEIN
/sp