Meintjies v S [2008] ZAFSHC 95 (29 June 2008)

57 Reportability
Criminal Law

Brief Summary

Criminal Law — Rape and Assault — Appeal against conviction — Appellant convicted of assault with intent to do grievous bodily harm and rape — Appellant's defense based on self-defense and denial of presence at the scene — Evidence from complainants and witnesses corroborated — Appellant's version rejected due to inconsistencies — State proved guilt beyond reasonable doubt — Appeal dismissed.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2008
>>
[2008] ZAFSHC 95
|

|

Meintjies v S [2008] ZAFSHC 95 (29 June 2008)

IN
DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(ORANJE
VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)
Appèl Nr. : A11/06
In
die appèl tussen:-
KOOS
MEINTJIES
Appellant
en
DIE
STAAT
Respondent
_____________________________________________________
CORAM:
MALHERBE
RP
et
BECKLEY
R
et
VAN
ZYL R
____________________________________________________
AANGEHOOR
OP:
27
MAART 2007
_____________________________________________________
UITSPRAAK
DEUR:
VAN
ZYL R
_____________________________________________________
GELEWER
OP:
29
JUNIE 2007
_____________________________________________________
[1] Appellant het in die
streekhof gehou te Fauresmith tereggestaan op twee aanklagte, die
eerste aanklag synde huisbraak met die
opset om aan te rand en
aanranding en die tweede aanklag huisbraak met die opset om te
verkrag en verkragting. Appellant het onskuldig
gepleit, maar is op
beide aanklagte skuldig gevind en gevonnis tot 6 (ses) jaar
gevangenisstraf en 15 (vyftien) jaar gevangenisstraf
onderskeidelik,
welke vonnisse samelopend uitgedien moet word. Appellant kom nou in
hoër beroep teen beide die skuldigbevindings
en beide die
vonnisse.
[2] Duidelikheidshalwe
moet vermeld word dat hierdie appèl aanvanklik voor twee van
ons kollegas gedien het, maar het hulle
verskil oor die uitslag van
die appèl en is dit bygevolg voor ‘n volbank geplaas vir
beregting.
[3] Appellant
het regsverteenwoordiging in die hof
a
quo
geniet. Ten opsigte van aanklag een is daar ‘n
pleitverduideliking namens appellant op rekord geplaas. Hiervolgens
het
appellant erken dat hy die klaagster in aanklag een, Sina, met ‘n
stok raakgeslaan het. Aldus sy pleitverduideliking het
dit egter
gebeur nadat Sina se man appellant aangeval het deur hom met ‘n
baksteen raak te gooi, appellant toe ‘n stok
opgetel het wat op
die grond gelê het en toe hy die klaagster se man daarmee wou
slaan, die klaagster in die pad daarvan
gespring het. Ten opsigte
van aanklag twee het appellant ontken dat die beweerde voorval
enigsins plaasgevind het en het hy al
die elemente van die misdryf in
dispuut geplaas.
SKULDIGBEVINDING
T.O.V AANKLAG 1:
[4] In aanklag een is dit
beweer dat appellant op of omtrent 25 Julie 1999 te Luckhoff die huis
van Sina Samuels oopgebreek en binnegegaan
het met die opset om haar
aan te rand en haar daar toe inderdaad aangerand het deur haar met ‘n
kierie te slaan. Twee getuies
het ten opsigte van hierdie aanklag
getuig, synde die klaagster, Sina Samuels, en haar eggenoot, Dirk
Kok.
[5] Sina Samuels het
getuig dat die aand van die voorval het sy en haar gesin in die een
vertrek van die tweevertrek huis gelê
en slaap. Haar man het
met hul twee seuntjies op die vloer geslaap, terwyl sy en haar klein
dogtertjie op die bed geslaap het.
Die volgende oomblik het ‘n
persoon wie sy ken as Seun, by die vertrek ingekom. Hy het die huis
binnegekom deur `n deur
wat toe was, maar nie gesluit was nie. Hoewel
sy gesien het dat dit Seun was, het sy gevra “Seun, wie is jy?”
Hy het
egter nie geantwoord nie. Daarop het hy die klaagster
eenkeer met ‘n kierie teen haar kop geslaan. Die klaagster het
haar
man wakker geskree en haar man, Dirk Kok, het agter Seun die
huis uitgehardloop. Sy het intussen haar een seun deur die venster

na buite gesit en hom gestuur om ‘n polisiebeampte, ene
Jantjie, wie oorkant die straat gewoon het, te gaan roep vir hulp.
Die polisiebeampte,
Jantjie, was wel later op die toneel saam met ‘n verdere
polisiebeampte, ene Mnr. Topkin. Die klaagster
is met ‘n
ambulans na die hospitaal geneem.
Volgens die klaagster
het sy vir Seun duidelik gesien en hom herken, aangesien hy aan haar
bekend is. Volgens haar is Seun die
appellant. Die straat se lig het
deur die deur binne-in die huis ingeskyn en daarom kon sy appellant
duidelik sien. Toe hy haar
geslaan het, was hy ook by haar bed en
dus duidelik sigbaar.
[6] Gedurende
kruisverhoor is die weergawe wat ten tyde van die pleitverduideliking
op rekord gestel is, aan die klaagster gestel.
Dit is nodig om uit
te wys dat dit pertinent gestel is dat appellant ontken dat hy die
betrokke aand by die klaagster se huis
sou gewees het en dat die
voorval waartydens die klaagster se man vir appellant met ‘n
baksteen sou gegooi het en appellant
daarop per ongeluk die klaagster
met ‘n stok raakgeslaan het, in die straat plaasgevind het.
Hierdie weergawe is egter deur
die klaagster ontken.
[7] Die klaagster se man,
Dirk Kok, het getuig dat terwyl hy die aand van die voorval gelê
en slaap het, het hy wakker geword
met die klaagster wat vir hom
skree “Donkie, Donkie kyk hoe slaan Seun my”. Op die
oomblik wat hy wakker geskrik het,
was appellant besig om by die deur
uit te gaan. Hy het hom agtervolg tot op ‘n sekere punt in die
straat waartydens appellant
‘n baksteen opgetel het en na hom
gegooi het, maar hy het gekoes.
Volgens hom is Seun die
appellant. Die getuie het bevestig dat hy appellant ken en hom daarom
die aand van die voorval herken het.
Hy kon hom sien in die lig wat
die straatligte gebied het.
[8] Gedurende
kruisverhoor is dit aan hom gestel dat daar vroeër die aand ‘n
woordewisseling in die straat plaasgevind
het tussen appellant, die
klaagster en die getuie waartydens die getuie appellant met ‘n
klip sou gegooi het. Hierdie stelling
is ten sterkste ontken deur
die getuie. Dit is toe voorts gestel dat appellant sal getuig dat hy
toe die klaagster en die getuie
gejaag het, dat hulle by hulle huis
in is en dat die appellant agter hulle aan die huis in is. Die
getuie het weereens hierdie
stelling ontken.
[9] Dit dien vermeld te
word dat daar wel sekere weersprekings tussen die getuienis van die
klaagster en haar man was. Dit het
onder andere behels dat die
klaagster getuig het dat net die dogtertjie by haar op die bed gelê
en slaap het, terwyl die
twee seuns saam met haar eggenoot op die
vloer geslaap het. Volgens haar eggenoot het al drie kinders egter
by die klaagster geslaap.
Dan blyk daar ook ‘n mate van
weerspreking te wees met betrekking tot die vraag of die seuntjie wie
die klaagster beweer
sy deur die venster gesit het om die
polisiebeampte te gaan haal, inderdaad vir Jantjie gaan haal het. In
die verband het haar
eggenoot getuig dat hy nie kennis dra daarvan
dat die kind vir Jantjie sou gaan haal het nie aangesien hy self na
Jantjie se huis
gegaan het. Laasgenoemde weerspreking blyk egter na
my mening verduidelikbaar te wees op die basis dat op dié
stadium wat
klaagster die seuntjie deur die venster gesit het, haar
eggenoot waarskynlik reeds uit die vertrek was besig om die appellant
te
jaag. Dit blyk ook nie duidelik uit die getuienis of die seuntjie
inderdaad die opdrag uitgevoer het om die polisiebeampte te gaan
haal
nie en is dit derhalwe redelik moontlik dat die getuie, Dirk Kok, die
enigste een is wat die polisiebeampte by sy huis gaan
roep het.
[10] Appellant het in sy
eie verdediging getuig en ook sy moeder, Rachel Meintjies, as getuie
geroep. Haar getuienis het egter
slegs geslaan op aanklag twee. Ten
opsigte van hierdie voorval het appellant getuig dat hy die aand van
die voorval die klaagster
en haar man in die straat teëgekom
het. Die klaagster het hom beskuldig dat hy haar eggenoot se radio
gesteel het en hom
ook gevloek. Haar man het toe ‘n klip
opgetel en appellant met die klip gegooi. Appellant het toe agter
haar man aangegaan
tot by ‘n hek waar ‘n stok gelê
het, wat hy opgetel het. In daardie proses is die klaagster en haar
man hulle
huis binne. Appellant is ook die huis binne. Die huis was
donker binne en hy kon niemand sien nie. Hy het toe voetstappe agter

hom in die huis gehoor en hy het blindelings met die betrokke stok
geslaan. Hy het nie gesien waar hy slaan nie en is hy daarna
uit die
huis uit. Volgens hom was hy kwaad gewees omdat die klaagster se man
hom met ‘n klip gegooi het en is dit die rede
waarom hy hom met
die stok wou gaan slaan het.
[11] Die verhoorlanddros
het met bogemelde enkele weersprekings wat daar bestaan tussen die
weergawe van die klaagster en die van
haar man, in sy uitspraak
gehandel. Na my mening het hy heeltemal tereg tot die gevolgtrekking
gekom dat daardie weersprekings
nie aanduidend is daarvan dat die
staatsgetuies se weergawe in die geheel gesien, onwaarskynlik is nie.
[12] Daarteenoor het hy
insgelyks in sy uitspraak gehandel met die weersprekings wat daar in
appellant se weergawe bestaan. Dit
is pertinent namens appellant aan
die klaagster gestel dat appellant nie op enige stadium in die huis
van die klaagster en haar
gesin was nie en dat die totaliteit van die
voorval in die straat plaasgevind het. Hoewel dit nie spesifiek so
vermeld was in
die pleitverduideliking nie, was my indruk van die
pleitverduideliking ook tot dien effek dat die aanranding in die
straat plaasgevind
het. In ieder geval was dit spesifiek ten tyde
van die pleitverduideliking vermeld dat appellant die klaagster
raakgeslaan het
deurdat sy in die pad gespring het toe appellant die
klaagster se eggenoot wou raakslaan.
Direk weersprekend met
voormelde weergawe, is dit daaropvolgend namens appellant aan die
klaagster se eggenoot gestel dat die voorval
waartydens die klaagster
se eggenoot na bewering appellant met ‘n klip sou gegooi het,
in die straat plaasgevind het, maar
dat appellant daarna die
klaagster en haar eggenoot gejaag het en hulle inderdaad agtervolg
het tot binne-in hulle huis. Ook
toe appellant onder eed in sy eie
verdediging getuig het, het hy pertinent getuig dat hy in die
klaagster en haar eggenoot se huis
was. Verder weersprekend tot sy
aanvanklike weergawe, getuig hy nie dat klaagster tussenbeide getree
het toe hy klaagster se eggenoot
met die stok wou geslaan het nie,
maar getuig hy dat hy bloot in die donker rondgeslaan het omdat hy
niks kon sien nie.
[13] Na my mening het die
verhoorlanddros, gegewe voormelde wesenlike weersprekings in sy
weergawe, heeltemal tereg appellant se
weergawe as vals verwerp.
Mnr. Van der Merwe, wie namens appellant ten tyde van die aanhoor van
die appèl verskyn het,
het dus na my mening ook heeltemal
tereg toegegee dat die appèl teen die skuldigbevinding op
aanklag een nie kan slaag nie.
[14] Gevolglik is ek van
mening dat die Staat appellant se skuld op aanklag een bo redelike
twyfel bewys het en kan die appèl
teen hierdie
skuldigbevinding nie slaag nie.
SKULDIGBEVINDING
T.O.V AANKLAG 2:
[15] Wat aanklag twee
betref, is dit beweer dat appellant op of omtrent 8 Augustus 1999 te
Luckhoff die huis van Mona Apies oopgebreek
en binnegegaan het met
die opset om haar, synde ‘n volwasse vrou, te verkrag en haar
toe inderdaad aldaar verkrag het. Vier
getuies het namens die Staat
ten opsigte van hierdie aanklag getuig.
[16] Mona Apies het
getuig dat hulle die aand van die voorval drie persone was wat in
haar huis sou geslaap het, synde sy, Mina
Kok en Hendrik Uithaler,
lasgenoemde wie algemeen bekend staan as Oupa Bill. Volgens haar het
sy en Mona in die kamer geslaap
en Oupa Bill in die kombuis. Op
daardie stadium was haar man in die gevangenis en het sy Oupa Bill,
synde ‘n vriend van
haar man, gevra om daar te bly sodat daar
ter wille van veiligheid ‘n man in die huis kon wees. Hulle
was almal op pad om
te gaan slaap, maar het nog nie geslaap nie.
Hulle het iemand buite hoor aankom en hy het van buite die huis vir
Mina gesê
dat hy sy geld soek. Die klaagster het gemeen dat
dit dalk ‘n persoon is bekend as “Ou Rol”, maar
Mina het aangedui
dat dit nie hy is nie, maar dat dit Seun was.
Hulle het nie die deur oopgemaak nie. Die volgende het ‘n
hangkas in die
kamer wat voor ‘n stukkende venster gestaan het,
omgeval deurdat die persoon wat buite die huis was deur die venster
die
hangkas omgestoot het en deur die venster die huis binnegeklim
het. Die klaagster, Mina en Oupa Bill het toe aldrie agtermekaar
die
huis uitgehardloop. Seun het egter die klaagster voor ene Fusi se
huis gegryp terwyl sy probeer het om na haar tannie se huis
weg te
hardloop. Hy het haar vandaar teruggeneem na haar eie huis. Hy het
die huis se deur toegemaak, die klaagster na die kamer
geneem, haar
neergegooi op die grond, haar damesbroekie uitgetrek en haar verkrag.
Intussen het persone wat buitekant die huis
was vir Seun gesê
dat hy Mina se kind wat nog in die huis was, uit die huis moes laat
gaan. Seun het toe Mina se seuntjie
deur die venster van die huis na
buite gesit. Daarna het Seun by dieselfde venster uitgespring as
waar hy ingekom het en het hy
weggehardloop.
[17] Volgens die
klaagster het sy onmiddellik na die voorval vir Jan Kruger vertel dat
Seun haar verkrag het. Hy het haar toe aangesê
om ‘n
aanklag by die polisie aanhangig te maak. Volgens die klaagster is
die persoon, Seun, na wie sy verwys, die appellant.
Sy het getuig
dat sy hom van voor die voorval ken en dus sy stem herken het en ook
sy gesig duidelik gesien het. Hy is inderdaad
aangetroude familie
van haar deurdat sy met Seun se oom getroud is.
[18] Gedurende
kruisverhoor het die klaagster ontken dat appellant se broer en sy
suster se kind veronderstel was om die naweek
van die voorval by haar
te gebly het. Toe daar aan haar gestel is dat appellant die naweek
van die voorval vir klaagster R30,00
sou gegee het om sop en ander
kos vir die kinders te koop, het sy dit ontken. Sy het weereens
getuig dat die kinders nie op daardie
stadium by haar gebly het nie
en inderdaad by ander mense woonagtig was. Dit was ook aan haar
gestel dat appellant die Sondagoggend
by haar huis sou aangekom het,
weereens om navraag te doen oor die kinders, en haar in die kamer
aangetref het waar sy saam met
‘n ander man gelê en slaap
het. Hierdie stelling het sy ook ontken.
[19] Mina Kok het ten
opsigte van die aand se gebeure in wese dieselfde weergawe aan die
hof voorgehou as die klaagster. Sy het
ook getuig dat Seun by die
huis aangekom het en dat hy deur die stukkende venster die hangkas
omgestoot het en toe deur die venster
die huis binnegekom het. Sy,
die klaagster en Oupa Bill het daarop weggehardloop en sy het na ene
Jan Kruger se huis gehardloop,
wie sy om hulp gevra het om haar te
help om haar seuntjie, wie nog in die huis was, te gaan haal. Sy het
nie gesien toe Seun die
klaagster gevang het nie, maar sy het wel die
klaagster op ‘n stadium om hulp hoor skree. Sy en Jan Kruger
is toe na die
huis, waar Seun die kind deur die venster gesit het na
buite. Sy het Seun geïdentifiseer as synde die appellant.
Daar was wel sekere
weersprekings tussen haar en die klaagster se getuienis. Volgens
haar het Seun wie buite die huis was, niks
van geld gesê toe hy
daar opgedaag het nie. Anders as die klaagster het sy ook getuig dat
Seun aan die deur geruk het en
gesê het dat hy wil inkom.
[20] Hendrik Uithaler,
ook bekend as Oupa Bill, het getuig dat hy die aand van die voorval
saam met die klaagster en Mina Kok in
die klaagster se huis was.
Anders as die klaagster en Mina, het hy egter getuig dat hy in die
kamer geslaap het en dat die klaagster
en Mina in die kombuis geslaap
het. Daar het toe ‘n persoon by die deur van die huis
opgedaag. Hierdie getuie het getuig
dat hy wat die getuie is,
probeer het om die deur van die binnekant af oop te kry, maar dit nie
kon regkry nie. Die persoon aan
die buitekant het toe na die
kamervenster gegaan waar die venster stukkend was en deur die
stukkende venster die hangkas wat voor
die kamervenster gestaan het,
omgestoot en deur die venster die huis binnegekom. Die getuie, die
klaagster en Mina Kok het toe
aldrie saam by die agterdeur
uitgehardloop. Buitekant die huis het hy gesien dat die persoon die
klaagster gevang het, weer haar
huis binnegeneem het en die deur
toegemaak het.
Volgens hom is die
persoon wat daar opgedaag het en die klaagster gevang het, bekend as
Seun en is dit die appellant. Hy het hom
in die lig wat deur deur
die straatligte verskaf is, gesien.
[21] Jan Kruger het
getuig dat die nag van die voorval, synde ‘n Sondagnag,
ongeveer drieuur die oggend het hy gelê
en slaap by sy huis.
Mina Kok het toe daar opgedaag en hom gevra om te kom help aangesien
Seun in hulle huis was. Toe hy saam
met Mina by die huis opdaag, het
hy gehoor hoe die klaagster binne-in die huis huil en om hulp skree.
Hy het probeer om die huis
se deur oop te maak, maar kon dit
aanvanklik nie oopkry nie. Hy het eventueel die deur met geweld
oopgemaak, op welke stadium
die man wat binne die huis was by die
venster uitgespring het. Intussen was Mina se seuntjie deur die huis
se venster na buite
gesit. Nadat die man wat binne die huis was
weggehardloop het, het die klaagster aan hom rapporteer dat ene Seun
binne die huis
haar verkrag het. Hy het egter nie self die persoon
gesien nie, aangesien die persoon by die venster uitgespring het op
die stadium
wat hy die huis binnegekom het. Hy het wel bevestig dat
die beligting sodanig was dat ‘n mens die persoon, indien jy
hom
sou sien hardloop, in die straatligte sou kon eien.
[22] Appellant het ten
tyde van sy getuienis omvangryke getuienis gelewer oor hoe sy jonger
broer en sy suster se een seun veronderstel
was om ten tyde van die
voorval by die klaagster in die huis te gebly het, maar dat sy hulle
uit die huis gesit het. Hy het beweer
dat hy die aand van die
voorval by die klaagster se huis aangedoen het en navraag gedoen het
oor die kinders. Die kinders was
egter nie tuis nie. Hy het die
klaagster gekonfronteer oor sy na bewering die geld wat hy vir haar
gegee het om vir die kinders
kos te koop, gebruik het om drank te
koop. Volgens sy getuienis meen hy dat die klaagster se motief om
hom vals te inkrimineer
moontlik kan wees vanweë die feit dat hy
die klaagster saam met ‘n ander manspersoon die Sondagoggend in
die bed by
haar huis gevind het. Hy het ontken dat hy op enige
stadium die klaagster sou verkrag het soos deur haar beweer.
[23] Rachel Meintjies,
synde appellant se moeder, is as verdedigingsgetuie geroep. Sy het
getuig dat sy die eienares is van die
huis waar Mona Apies, synde die
klaagster in aanklag twee, woon. Volgens haar getuienis het die twee
seuns waarna appellant in
sy getuienis verwys het, nie daardie naweek
by die klaagster gebly nie. Hulle het by haar oudste seun in die
dorp gebly. Ten
opsigte van die Saterdagaand voor die voorval, dus
die Saterdagaand waaroor appellant getuig het as synde die aand wat
die kinders
veronderstel was om by Mona Apies te wees, het sy getuig
dat hulle die aand by haar op die plaas geslaap het.
[24] Ten opsigte van
hierdie tweede aanklag, net soos met die eerste aanklag, het die
verhoorlanddros weer op behoorlike en volledige
wyse met die
weersprekings tussen die verskillende staatsgetuies gehandel. (Sien
uitspraak, p. 195 reël 20 tot p. 197 reël
12.) Net so het
hy op soortgelyke wyse met die belangrikste weersprekings in die
verdediging se saak gehandel. (Sien uitspraak,
p. 198 reël 9
tot reël 23.)
[25] Die verhoorlanddros
het ook op behoorlike wyse die getuienis namens beide die Staat en
die verdediging evalueer. Hoewel die
klaagster ‘n enkelgetuie
met betrekking tot die voorval van verkragting as sulks is en haar
getuienis gevolglik met die nodige
versigtigheid benader moet word,
is daar inderdaad stawing met betrekking tot die omliggende gebeure
die aand. Die voorval waartydens
appellant die huis sou binnegekom
het deur die hangkas voor die venster om te stamp en deur die venster
die huis in te kom, word
deur beide Mina Kok en Hendrik Uithaler
gestaaf. Hendrik Uithaler staaf ook die klaagster se weergawe in dié
opsig dat
hy getuig het dat hy gesien het toe appellant die klaagster
gevang het. Die onafhanklike getuie, Jan Kruger, se getuienis dien

ook as wesenlike stawing van die gebeure die aand. Sy getuienis van
hoe Mina Kok hom om hulp kom vra het, hoe hy die klaagster
binne die
huis gehoor huil en om hulp gehoor skree het en hoe hy gesien het dat
‘n persoon by die venster uitspring net toe
hy toegang tot die
huis verkry het, staaf in wesenlike opsigte die totaliteit van die
getuienis van die ander drie Staatsgetuies.
Hierteenoor is ek dit
eens met die verhoorhof se evaluering van appellant se weergawe tot
dien effekte dat hy met verloop van
die saak sy getuienis aangepas
het. Van besondere belang is ook die feit dat sy moeder se getuienis
lynreg in stryd is met appellant
se hele weergawe rondom die feit dat
hy na bewering geld aan die klaagster sou gegee het en by haar sou
navraag gedoen het oor
die afwesigheid van die kinders. Na my mening
kan daar nie tot ‘n ander gevolgtrekking gekom word as wat die
verhoorlanddros
gedoen het, synde dat appellant se weergawe nie as
redelik moontlik waar geag kan word nie. Mnr. Van der Merwe het ten
opsigte
van hierdie aanklag dan ook reeds in sy betoogshoofde
toegegee dat hy geen sinvolle submissies aan die hof kan voorhou met
betrekking
tot die meriete van die appèl ten opsigte van
hierdie aanklag nie, welke toegewing hy in die hof herhaal het.
Hierdie toegewing
is na my mening heeltemel tereg deur hom gemaak.
[26] Ek is derhalwe van
mening dat die appèl teen die skuldigbevinding op aanklag twee
ook nie kan slaag nie.
VONNISSE T.O.V
BEIDE AANKLAGTE:
[27] Soos reeds vroeër
hierin vermeld, is appellant 6 (ses) jaar gevangenisstraf ten opsigte
van aanklag een opgelê en
15 (vyftien) jaar gevangenisstraf ten
opsigte van aanklag twee en is dit gelas dat dit samelopend uitgedien
moet word.
[28] Dit blyk dat wat
appellant se persoonlike omstandighede betref, hy ten tyde van die
vonnisoplegging 29 jaar oud was. Hy was
nie getroud nie, maar het
saam met ‘n dame gebly vir een en ‘n half jaar voor
vonnisoplegging. Hy het arbeidswerk
op ‘n plot verrig waar hy
R250,00 elke twee weke verdien het. Appellant is nie ‘n
algeheel eerste oortreder nie, deurdat
hy gedurende die tydperk wat
strek vanaf 1992 tot 1994 skuldig bevind is aan diefstal, besit van
dagga en besit van vermoedelik
gesteelde eiendom. Appellant is
gedurende Augustus 1999 gearresteer en op 20 Julie 2001 gevonnis en
was derhalwe ongeveer 23 maande
verhoorafwagtend.
[29] Soos tereg deur Mnr.
Strauss, namens die Staat, uitgewys en betoog, is ‘n hof van
appèl se reg tot inmenging met
die opgelegde vonnis beperk en
kan daar slegs sodanig ingemeng word indien die verhoorhof ‘n
mistasting begaan het of die
opgelegde vonnis skokkend swaar en
onvanpas is.
[30] Wat betref aanklag
een, is dit, soos deur die verhoorlanddros in sy uitspraak vermeld,
‘n ernstige misdryf. Soos egter
tereg deur Mnr. Van der Merwe
betoog, is daar ongelukkig geen mediese getuienis aangebied met
betrekking tot die erns, al dan nie,
van die beserings wat die
klaagster opgedoen het as gevolg van die hou teen haar kop met die
kierie/stok nie. Na my mening blyk
dit voorts dat die verhoorlanddros
afskrikking as een van die oogmerke van vonnisoplegging,
oorbeklemtoon het. Wanneer die elemente
van vonnisoplegging
ewewigtig teen mekaar opgeweeg word, meen ek egter dat die opgelegde
vonnis van 6 (ses) jaar gevangenisstraf
skokkend swaar en onvanpas
onder die omstandighede is. Mnr. Strauss het ook heeltemal tereg
hierdie toegewing gemaak ten tyde
van die aanhoor van die appèl.
Na my mening moet daar gevolglik met hierdie vonnis ingemeng word en
is ek van oordeel dat
gevangenisstraf vir ‘n termyn van 3
(drie) jaar ‘n gepaste vonnis onder die omstandighede is.
[31] Wat betref die
termyn van 15 (vyftien) jaar gevangenisstraf wat op aanklag twee
opgelê is, blyk dit dat die verhoorlanddros
hierdie vonnis
opgelê het terwyl hy onder die indruk verkeer het dat 15
(vyftien) jaar gevangenisstraf die voorgeskrewe minimum
vonnis vir
die tersaaklike aanklag is en daaruit voortspruitend ook bevind het
dat daar geen wesenlike en dwingende omstandighede
bestaan wat die
oplegging van ‘n mindere vonnis dan die voorgeskrewe minimum
regverdig nie. Die verhoorlanddros het egter
‘n mistasting
begaan, deurdat artikel 51(2)(b) saamgelees met Deel III van Bylae 2,
van die Strafregwysigingswet 105 van
1997 bepaal dat die voorgeskrewe
minimum vonnis in die onderhawige geval 10 (tien) jaar
gevangenisstraf is. Gegewe hierdie mistasting
is ons gevolglik
geregtig en verplig om ook met hierdie opgelegde vonnis in te meng.
[32] Mnr.
Van der Merwe het betoog dat hoewel hierdie misdryf uiters ernstig
van aard is, dit tog as stafversagtend in ag geneem
moet word dat
geen wapen deur appellant gebruik is gedurende die pleeg van die
misdryf nie en dat die klaagster nie enige beserings
opgedoen het
nie. Dit was voorts sy betoog dat gegewe die kumulatiewe effek van
appellant se persoonlike omstandighede, die feit
dat hy ‘n
algeheel eerste oortreder ten opsigte van die aanklag van verkragting
is en bogemelde versagtende faktore, sowel
as die feit dat hy 23
maande verhoorafwagtend in hegtenis was, wesenlike en dwingende
omstandighede daarstel wat die oplegging
van ‘n mindere vonnis
dan die voorgeskrewe minimum van 10 (tien) jaar gevangenisstraf
regverdig. Mnr. Strauss, daarenteen,
het aan die hand gedoen dat 10
(tien) jaar gevangenisstraf ‘n gepaste vonnis onder die
omstandighede is, veral gegewe die
feit dat hier nie slegs
verkragting ter sprake is nie, maar inderdaad huisbraak met die opset
om te verkrag en verkragting. Hy
het voorts daarop gewys dat dit uit
die getuienis blyk dat Hendrik Uithaler juis versoek is om by die
klaagster aan huis te slaap
ter wille van haar veiligheid terwyl haar
man in hegtenis is, maar was hierdie voorsorgmaatreël ongelukkig
nie voldoende in
hierdie omstandighede nie. Appellant het steeds die
huis van die klaagster binnegekom en selfs nadat sy weggehardloop
het, haar
gevang, haar teruggeneem na haar huis en haar in haar eie
huis verkrag. Aldus Mnr. Strauss se betoog is dit verswarende
faktore
wat tot gevolg het dat die kumulatiewe effek van die
versagtende faktore nie sodanig is dat dit as wesenlike en dwingende
omstandighede
aangemerk kan word nie.
[33] Na behoorlike
oorweging van die versagtende en verswarende faktore, die persoonlike
omstandighede van appellant, die belange
van die gemeenskap en die
aard en erns van die misdryf is ek dit eens met Mnr. Strauss se
betoog dat hier nie wesenlike en dwingende
omstandighede bestaan wat
die oplegging van ‘n mindere vonnis dan die voorgeskrewe
minimim termyn van 10 (tien) jaar gevangenisstraf
regverdig nie. Die
klaagster was in die veiligheid van haar eie huis toe appellant haar
huis met geweld binnegekom het, haar teruggeneem
het na haar huis
nadat sy weggehardloop het en haar in haar eie huis verkrag het.
Daar kan geen verskoning vir appellant se optrede
wees nie. Na my
mening is 10 (tien) jaar gevangenisstraf inderdaad ‘n gepaste
vonnis onder die omstandighede.
[34] Aangesien die twee
aanklagte hierin ter sprake in totaliteit twee aparte insidente
daarstel wat op verskillende datums plaasgevind
het, is dit nie die
tipe omstandighede waaronder normaalweg gelas sal word dat die
opgelegde vonnisse samelopend uitgedien moet
word nie. Gegewe die
feit dat appellant 23 maande verhoorafwagtend in hegtenis was, meen
ek egter dat dit gepas sal wees om in
die onderhawige geval wel die
kumulatiewe effek van die opgelegde vonnisse te temper deur te gelas,
soos wat die verhoorhof ook
gedoen het, dat dit samelopend uitgedien
word.
[35] Gevolglik word die
volgende bevel verleen:
1. Die appèl teen
die skuldigbevindings op beide die aanklagte word van die hand gewys
en beide die skuldigbevindings word
bekragtig.
2. Die vonnis opgelê
op aanklag een word tersyde gestel en vervang met een van 3 (drie)
jaar gevangenisstraf.
3. Die opgelegde vonnis
op aanklag twee word tersyde gestel en vervang met een van 10 (tien)
jaar gevangenisstraf.
4. Beide bogemelde
vonnisse moet geag moet word opgelê te gewees het op 20 Julie
2001.
5. Dit word gelas dat
voormelde vonnisse samelopend uitgedien moet word.
____________
C. VAN ZYL, R
Ek
stem saam.
__________________
J.P. MALHERBE, RP
Ek
stem saam.
_______________
A.P. BECKLEY, R
Namens
die appellant: Mnr. P.L. van der Merwe
In
opdrag van:
Bloemfontein
Regsentrum
BLOEMFONTEIN
Namens
die respondent: Adv. M. Strauss
In
opdrag van:
Direkteur
Openbare Vervolgings
BLOEMFONTEIN
/sp