About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2009
>>
[2009] ZAFSHC 139
|
|
Talane v Makatsa (1900/2007) [2009] ZAFSHC 139 (3 December 2009)
VRYSTAATSE
HOë HOF, BLOEMFONTEIN
REPUBLIEK
VAN SUID-AFRIKA
Case No. : 1900/2007
In
die aansoek van:
J
M TALANE
Applikant
and
M
A MAKATSA
Respondent
_____________________________________________________
CORAM:
CILLIé R
et
EBRAHIM R
AANGEHOOR
OP:
30 NOVEMBER 2009
______________________________________________________
UITSPRAAK:
CILLIé R
GELEWER OP:
3 DESEMBER 2009
[1] Hierdie appèl
is gerig teen die Landdros van Bothaville se afwysing met koste van
die appellant se aansoek om tersydestelling
van ‘n vonnis wat
in sy afwesigheid teen hom toegestaan was. By die aanvang van die
appèl is kondonasie aan die appellant
toegestaan vir die laat
indiening van betoogshoofde namens hom.
[2] In sy funderende
eedsverklaring ter ondersteuning van sy aansoek om tersydestelling
van die vonnis verduidelik die appellant
dat hy eers toe hy ‘n
lasbrief vir eksekusie ontvang het, besef het dat vonnis teen hom
verleen was. Hy het sy prokureur
gaan spreek en verneem dat ‘n
eksepsie teen sy verweerskrif gehandhaaf was en dat vonnis
onmiddellik daarna teen hom verleen
was. Hy beklemtoon dat hy
ernstig is om die eis teen hom te bestry. Hy sit dan sy verweer op
die respondent se eis teen hom uiteen.
Daarmee sal hierinlater meer
volledig gehandel word.
[3] Die appellant se
prokureur verduidelik in ‘n ondersteunende eedsverklaring dat
hy ‘n skrywe van die respondent se
prokureur ontvang het.
Daardie skrywe is deel van die oorkonde voor die hof en gedateer 19
Mei 2008. Hierin word die appellant
se prokureur meegedeel dat die
verweerskrif
“
1 … vaag en verwarrend
is; 2 … nie voldoen aan die vereistes soos uiteengesit in
reël 19 van die Wet op Landdroshowe
nie.”
Hy bevestig dat behalwe
vir hierdie skrywe daar nooit ‘n kennisgewing van eksepsie teen
die verweerskrif ontvang is nie.
Die eerste wat hy hiervan verneem
het was toe die hofbevel vanaf die Landdroskantoor op Bothaville deur
hom ontvang is. Hieruit
blyk dat die eksepsie op 25 Junie 2008 in
die afwesigheid van die appellant en sy prokureur gehandhaaf is en
dat dit opgevolg is
met vonnis by verstek teen die appellant.
[4] Die respondent het
nie enige bestrydende eedsverklarings ingedien nie en die aansoek om
tersydestelling is gevolglik op 15 Oktober
2008 deur die Landdros
aangehoor. Hieroor het die Landdros oënskynlik op 28 Oktober
2008 uitspraak gelewer.
[5] In die redes vir die
weiering van die aansoek skyn dit asof die Landdros onder die indruk
verkeer het dat die rede vir die appellant
en/of sy prokureur se
afwesigheid ‘n gebrek aan kommunikasie tussen die appellant en
sy prokureur was. Dit is foutief.
Hierdie verduideliking van die
appellant en sy prokureur in hul onderskeie eedsverklarings verwys na
‘n situasie wat ontwikkel
het nadat vonnis reeds verleen was.
Die afwesigheid tydens aanhoor van die eksepsie word verduidelik op
die basis dat geen kennis
van die te rolle plasing van die eksepsie
ooit ontvang was nie. Hoe dit ookal sy word die aansoek deur die
landdros afgewys op
die basis
dat
“
the reasons set out by the
applicant/judgment debtor and his attorney in their affidavits that
his absence or default was due to
lack of communication between the
two cannot be acceptable.”
[6] Landdroshofreël
49 na ‘n wysiging daarvan in 1997, skryf voor dat
tersydestelling van vonnis deur ‘n hof verleen
kan word as
“
goeie redes aangevoer word of
indien hy tevrede is dat daar goeie rede daarvoor is.”
In
GRANT
v PLUMBERS (PTY) LTD
1949 (2) SA 470
(O) het hierdie hof neergelê dat dit verstaan
moet word dat so ‘n applikant
‘
n redelike
verduideliking vir sy verstek moet verskaf;
‘
n
bona
fide
verweer moet openbaar; en
bona fide
moet wees in sy aansoek
[7] Die Landdros het in
sy afwysing van die aansoek nie gehandel met vereiste 6.2 en 6.3
supra
vermeld nie maar volstaan daarmee dat die verduideliking vir die
versuim nie aanvaarbaar is nie. Hierin het die Landdros fouteer.
Die beweringe van die appellant en sy prokureur in hul
eedsverklarings dat die terolleplasing van die eksepsie nooit ontvang
is nie is nie deur enige bestrydende eedsverklarings namens die
respondent weerspreek nie. Hoe presies die appellant se prokureur
in
kennis gestel sou wees van die terolleplasing van die eksepsie is nie
heeltemal duidelik uit die stukke nie. Dit blyk uit die
stukke dat
die appellant se prokureur op Kroonstad en die respondent se
prokureur op Bothaville praktiseer. Die dagvaarding is
vanuit
Bothaville se Landdroshof uitgereik. Geen adres binne 8km vanaf die
Bothaville hof is egter deur die appellant se prokureur
verskaf nie.
Vergelyk Hofreël 13(4)(c). Volgens die respondent se
mededelinge op 15 Oktober 2009 aan die Landdros het die
appellant se
prokureur ook nie ‘n versoek soos beoog in Landdroshofreël
13(4)(cb) van die appellant se prokureur ontvang
nie. Skynbaar het
die partye sommer informeel en sonder enige werklike ooreenkoms
daartoe die pleitstukke per pos gewissel. Op
die kennisgewing van
eksepsie word aangedui dat dit per geregistreerde pos na ‘n
posadres wat voorgee die appellant se prokureur
sin te wees, versend
is. Volgens die oorkonde het die respondent se prokureur se
prokureur tydens aanhoor van die eksepsie die
Landdros ingelig dat:
“
Die eiser het reeds die
verweerder in kennis gestel om die verweerskrif te wysig en word ‘n
afskrif van sodanige kennisgewing
hierby aangeheg.”
Hoe die kennisgewing van
eksepsie self tot kennis van die appellant gebring is, word egter nie
vermeld nie. Tydens aanhoor van
die aansoek om tersydestelling van
vonnis het die respondent se prokureur uitlatings gemaak wat dalk
verstaan kan word as dat dit
per faks geskied het. Hoe dit ookal sy,
dit was sekerlik binne die respondent se vermoë om die bewys van
aflewering van die
geregistreerde stuk aan appellant se prokureurs
aan die hof beskikbaar te maak as dit is hoe dit geskied het. Dit is
tog welbekend
dat vir ontvangs van ‘n geregistreerde stuk
geteken word deur die ge-adresseerde. Die somtotaal van dit alles is
gevolglik
dat die verduideliking namens appellant vir sy afwesigheid
nie verwerp kan word nie. Mnr Gilliland, namens die respondent, het
dit ook heeltemal geredelik so toegegee.
[8] Mnr Gilliland betoog
egter dat die appellant nie aan die ander vereistes vir die aansoek
om tersydestelling van vonnis voldoen
het nie. Besonderlik betoog hy
dat die appellant nie ‘n
bona
fide
verweer in sy ondersteunende eedsverklaring openbaar het nie.
Hierdie betoog maak dit nodig om te verwys na wat presies die
respondent
se eis teen die appellant is. In die besonderhede van eis
word die relevante gedeeltes daarvan as volg gestel:
“
Eis nommer 1
:
Gedurende of ongeveer 2001 het eiser ‘n bedrag van R4 000,00
aan verweerder geleen en voorgeskied op versoek van die verweerder.
…
Eis nommer 2:
Verweerder het twee koeie van die
eiser verkoop.
Die verweerder het betaling van die
bedrag van R7 600,00 synde die koopprys van die twee koeie in
ontvangs geneem en nie die
gelde oorbetaal aan die eiser nie.”
Hierop verklaar die
appellant as volg in sy eedsverklaring wat die aansoek om
tersydestelling van vonnis ondersteun:
“
5.1 Ten opsigte van eis nommer
1 ontken ek ten sterkste dat ek die bedrag van R4 000,00 aan die
respondent verskuldig is ten opsigte
van geld geleen en voorgeskied.
5.2 Ten opsigte van eis nommer 2
ontken ek ten sterkste dat ek twee beeste by die respondent gekoop
het.
6. Ek en die respondent was saam in
besigheid vanaf 2002 tot en met 3 Februarie 2007. Die besigheid het
behels die aankoop en grootmaak
van beeste. Ek het die ooreenkoms
soos reeds vermeld beëindig en vermoed ek dat as gevolg daarvan
het die respondent die
fiktiewe eise voormeld teen my ingestel.”
Mnr Gilliland wys daarop
dat dit nie eintlik die respondent se bewering is dat die appellant
self die twee beeste by hom gekoop
het nie en dat die appellant
gevolglik ‘n verweer opper op ‘n bewering wat nooit
gemaak is nie. Dit mag so wees maar
ek is tevrede dat die appellant
met voldoende besonderhede sy verweer openbaar. Daar is geen rede om
die
bona
fides
daarvan te betwyfel nie. Die respondent het soos reeds gemeld ook
nie in enige bestrydende eedsverklaring daarmee gehandel nie.
[9] Die appèl moet
gevolglik gehandhaaf word. Mnr Gilliland het egter betoog dat die
respondent se bestryding van die appèl
nie onredelik was nie
en dat dit die appellant is wat die hof se tegemoetkoming vra.
Hierdie betoog is korrek ten aansien van
die aansoek om
tersydestelling van vonnis. Dit kan egter nie geld vir die koste van
die appèl nie. Die respondent moes
tydig sy vooruitsigte om
die appèl met sukses te bestry oorweeg het. ‘n Tydige
abandonering van die verstekvonnis
wat in sy guns gegee was sou hom
sy koste gespaar het. Daar is gevolglik geen rede waarom die koste
nie die uitslag van die appèl
sal volg nie.
Bygevolg word die
volgende bevel gemaak.
Die appèl slaag.
Die Landdros se bevel
word vervang met die volgende:
“
Die bevel by
verstek toegestaan ten gunste van die eiser op 28 Oktober 2002 word
tersyde gestel maar die verweerder moet die koste
van die aansoek om
tersydestelling van die vonnis betaal. Indien die eiser wil
voortgaan met die eksepsie kan hy dit met kennisgewing
aan verweerder
soos deur die reëls voorgeskryf ter rolle plaas”.
3. Respondent word gelas
om die koste van die appèl te betaal.
_______________
C. B. CILLIé R
Ek stem saam.
________________
S. EBRAHIM, R
Namens
die appellant: Adv. T. Pienaar
In
opdrag van:
Quinton
Grimbeek Prokureurs
BLOEMFONTEIN
Namens
die respondent: Adv. J. G. Gilliland
In
opdrag van:
Hill
McHardy & Herbst Ing.
BLOEMFONTEIN
/em