Cherangani Trade and Investment 107 (Edms) Bpk v Mason NO and Others (6712/2008) [2009] ZAFSHC 30 (12 March 2009)

60 Reportability
Trusts and Estates

Brief Summary

Trusts — Trustee duties — Application for transfer of property — Applicant sought transfer of properties from trustees of a trust and a personal respondent, claiming amounts due under loan agreements — Respondents delayed filing opposing affidavits, leading to multiple postponements of the application — Court found that the delays were unjustified and attributed costs to the respondents for their failure to comply with procedural timelines — Holding that the applicant was entitled to the transfer of properties as per the agreements and that the respondents were liable for costs incurred due to their procedural non-compliance.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2009
>>
[2009] ZAFSHC 30
|

|

Cherangani Trade and Investment 107 (Edms) Bpk v Mason NO and Others (6712/2008) [2009] ZAFSHC 30 (12 March 2009)

IN
DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(ORANJE
VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)
Saak Nr. : 6712/2008
Aansoeknommer : 287/2009
In
die saak tussen:-
CHERANGANI
TRADE AND INVESTMENT 107
Applikant
(EDMS)
BPK
en
ALAN CLIFFORD MASON N.O.
Eerste
Respondent
JAMES CLIFFORD MASON
N.O.
Tweede
Respondent
THOMAS ALAN MASON N.O.
Derde
Respondent
ALAN CLIFFORD MASON
Vierde
Respondent
JILL EGREMONT MASON
Vyfde
Respondent
_____________________________________________________
UITSPRAAK
DEUR:
JORDAAN,
R
_____________________________________________________
AANGEHOOR
OP:
26
FEBRUARIE 2009
_____________________________________________________
GELEWER
OP:
12 MAART
2009
_____________________________________________________
UITSPRAAK
_____________________________________________________
[1]
Die
applikant in hierdie aangeleentheid is deurentyd tydens die
onderhandelinge waarna hierna verwys word en die sluit van die
ooreenkomste waarna verwys word, verteenwoordig deur ene mnr.
Christiaan Johannes Botha Barnard wat ook die deponent tot die
funderende
beëdigde verklaring was. In wese vorder die
applikant:
(a) Teen eerste, tweede en derde respondente as trustees
van die Selous Estate Property Trust oordrag en transport van die
plaas
“Vryheid 834”, distrik Heilbron, sowel as betaling van die
bedrag van R34 358,76 plus rente.
(b) Teen vierde respondent in sy persoonlike
hoedanigheid oordrag en transport van die plase “Balfour 811”,
Heilbron en “Die
Bult 1648”, Heilbron sowel as betaling van die
onderskeie bedrae van R22 143,00: R23 400,00: R19 000,00: R8 229,02
en rente op
voormelde bedrae.
[2]
Alvorens
ek met die meriete van die aangeleentheid handel, moet ek eerstens
verwys na die verloop van die saak in soverre dit betrekking
het op
uitstelle en die koste daardeur teweeggebring. Die aansoek was
uitgereik gedurende September 2008 en kennis van opponering
namens
die respondente was geliasseer op 15 Oktober 2008. Die respondente
se opponerende verklarings moes geliasseer word teen
5 November 2008
en aangesien dit nie geliasseer is nie, het applikant op 7 November
2008 die aangeleentheid ter rolle geplaas vir
aanhoring op 13
November 2008. Op 12 November 2008 het die respondente,
verteenwoordig deur vierde respondent (wat ook eerste
respondent is),
opponerende verklarings afgelewer wat daartoe gelei het dat die
aangeleentheid uitgestel moes word ten einde applikant
in staat te
stel om repliserende verklarings te liasseer. Die aangeleentheid is
toe uitgestel na 4 Desember 2008 en is gelas dat
die koste oorstaan
vir latere beregting.
[3]
Op
4 Desember 2008 is die aangeleentheid uitgestel na 22 Januarie 2009
as gevolg van die feit dat die repliserende verklarings deur

applikant nog nie geliasseer is en gereed was nie. Koste het weer
oorgestaan vir latere beregting. Die repliserende verklarings
is
uiteindelik geliasseer op 9 Januarie 2009.
[4]
Op
19 Januarie 2009 het die eerste, tweede en derde respondente verdere
opponerende verklarings afgelewer en aangevoer dat die tweede
en
derde respondente die opponering, soos deur vierde respondent (ook
eerste respondent) afgelewer, as onvoldoende beskou en nie

verteenwoordigend van die sienswyse van die trustees van voormelde
trust waarvan die eerste drie respondente die trustees was nie.
Die
applikant was versoek om toe te stem tot die liassering van die
verdere opponerende verklarings, maar het aangedring dat ‘n

behoorlike aansoek vir kondonasie deur die betrokke respondente
gebring word. Sodanige aansoek is dan onder aansoeknommer 287/2009

geliasseer op 21 Januarie 2009, ‘n dag voordat die aangeleentheid
aangehoor sou word. Die applikant is na bewering versoek om
toe te
stem tot ‘n uitstel, maar het aangedring dat die aangeleentheid op
22 Januarie moet voortgaan. Op 22 Januarie het die
applikant egter
versoek dat die aangeleentheid uitgestel word ten einde die applikant
in staat te stel om opponerende verklarings
tot die
kondonasie-aansoek af te lewer. Die aansoek is toe uitgestel na 26
Februarie 2009 en weereens is gelas dat koste oorstaan
vir latere
beregting.
[5]
Wat
betref die uitstel op 13 November 2008 blyk dit duidelik dat die
applikant geregtig was om die saak ter rolle te plaas in die

afwesigheid van tydige liassering van opponerende verklarings. Die
uitstel is veroorsaak deur die feit dat die opponerende verklarings

laat geliasseer is. Die dispuut wat later tussen die respondente
ontstaan het met betrekking tot die vraag of die vierde respondent

(ook eerste respondent) gemagtig was om namens die trustees van die
trust op te tree, kan nie op die stukke beslis word nie. Dit
blyk in
elk geval dat die respondente almal gemene saak maak in hul opposisie
tot die aansoek, hulle is naby familie en behoort
verantwoordelik
gehou te word vir die koste verkwis weens die uitstel op voormelde
datum.
[6]
Die
uitstel op 4 Desember 2008 was genoodsaak weens die feit dat die
applikant nie sy repliserende verklaring betyds geliasseer
het nie en
is daar geen rede waarom die applikant nie gelas moet word om die
verkwiste koste daardeur veroorsaak te betaal nie.
[7]
Wat
betref die uitstel op 22 Januarie 2009 was dit namens die respondente
een tot drie aangevoer dat, alhoewel die uitstel veroorsaak
is deur
die laat liassering van verdere opponerende verklarings, die koste
verminder en beperk kon word indien applikant nie aangedring
het
daarop dat ‘n kondonasie-aansoek geliasseer moet word en nie
aangedring het daarop dat die aangeleentheid op die 22ste aangehoor

moet word nie. Dit dien vermeld te word dat tydens die aanhoor van
die hoofaansoek mnr. Van Rhyn, namens die applikant, aangedui
het dat
hulle toestem tot die kondonasie en dat dit nie nodig is om daaroor
te beslis nie. Wat die betrokke uitstel betref, het
mnr. Van Rhyn,
namens die applikant, myns insiens tereg, uitgewys dat die verdere
opponerende verklarings op ‘n baie laat stadium
geliasseer is, die
applikant geregtig is en was om aan te dring op ‘n formele aansoek
vir kondonasie en ook geregtig was op voldoende
tyd om sy posisie te
oorweeg. Daar is geen rede om te bevind dat die liassering van
opponerende verklarings tot die kondonasie-aansoek
onredelik was nie,
aangesien dit geblyk het dat die tweede en derde respondente nou
aangevoer het dat daar ‘n wantroue tussen
hulle en eerste
respondent ontstaan het as gevolg waarvan hulle dit gerade geag het
om ook opponerende verklarings te liasseer.
Alles inaggenome is ek
tevrede dat daar geen rede is waarom die eerste tot derde respondente
nie gelas sal word om die koste verkwis
deur die gemelde uitstel te
betaal nie.
[8]
Wat
betref die koste van die aansoek om kondonasie vind ek ook geen
oortuigende rede waarom die normale bevel nie verleen sal word
nie.
Die eerste tot derde respondente, namens die trust, was in flagrante
verbreking van die tydsbeperkings in die reëls,
het gevra vir ‘n
toegewing en behoort aanspreeklik te wees om die koste daardeur
veroorsaak, te betaal.
Ek handel vervolgens met die hoofaansoek.
Feitelike agtergrond:
[9] Die trust en vierde respondent het onderskeidelik
verskeie plase besit wat met verbandlenings beswaar is ten gunste van
Eerste
Nasionale Bank.
[10] In November 2007 het Eerste
Nasionale Bank vonnis teen die respondente verkry in die onderskeie
bedrae van R849 928,82 en R1
248 020,35 met rente en koste. Die
eiendomme was in terme van ‘n lasbrief vir eksekusie op beslaggelê
en sou op ‘n eksekusieveiling
kom.
[11] Kort voor die voorgenome
eksekusieveiling het die vierde respondent op die advies van die
betrokke afslaer wat die veiling
sou hou, ene Jan Hugo, ‘n besoek
gebring aan mnr. Barnard, die direkteur van applikant. Hierdie
besoek het plaasgevind in die
begin van Maart 2008 en het die vierde
respondent die betrokke mnr. Barnard gevra vir finansiële hulp
ten einde die eis van
Eerste Nasionale Bank te betaal en sodoende die
verlies van die eiendomme by wyse van verkoping op ‘n
eksekusieveiling te voorkom.
[12] Mnr. Barnard het, ten behoewe van die applikant,
toegestem om ‘n lening aan die respondente te maak onderhewig aan
sekere
voorwaardes wat onder andere ingehou het:
(a) dat die respondente ‘n
leningsooreenkoms met die applikant sluit vir die bedrag van R2 661
482,80 (R250 000,00 daarvan sou
verteenwoordigend wees van ‘n
heffingsfooi ten gunste van applikant en die balans verteenwoordig
die bedrag verskuldig aan Eerste
Nasionale Bank vir die kapitaal
verskuldig, rente daarop en koste).
(b) dat respondente toestem dat Eerste Nasionale Bank
hulle sekuriteite dit wil sê die verbandaktes aan die applikant
sedeer
as sekuriteit vir terugbetaling van die respondente se
verskuldigheid aan applikant.
(c) dat die trust en vierde respondent as addisionele
sekuriteit die plase naamlik die plaas “Vryheid”, die eiendom van
die
trust, sowel as die plase “Balfour” en “Die Bult”, die
eiendom van die vierde respondent, aan applikant verkoop in terme
van
‘n koopooreenkoms vir ‘n bedrag van R2 411 482,80 synde die
bedrag deur applikant betaal te word aan Eerste Nasionale Bank
in
vereffening van hulle eis. Hierdie ooreenkoms sou dan wees
onderhewig aan sekere voorwaardes waarna later teruggekom word.
Die leningsooreenkoms:
[13] Die leningsooreenkoms bepaal onder andere:
(a) dat die bedrae hierbo vermeld in die totaal van R2
661 482,80 aan respondente geleen en voorgeskiet word;
(b) dat die voormelde skuld aan applikant slegs rente
sal dra indien die respondente nalaat om die totale skuld aan
applikant terug
te betaal binne ‘n 120 dae in welke geval rente op
die bedrag gehef sal word teen 30% per jaar wat maandeliks vooruit
bereken
en gekapitaliseer sal word.
(c) Indien respondente sou nalaat om hul verpligtinge in
terme van die ooreenkoms na te kom, sal applikant geregtig wees om sy
regte
in terme van die sessie vanaf Eerste Nasionale Bank uit te
oefen deur die verbonde eiendomme te verkoop en/of oordrag van die
eiendomme
in terme van die koopooreenkoms te neem en af te dwing.
(d) Indien die koopooreenkoms uitgevoer word, sal die
skuld aan applikant geag word betaal te wees deur respondente.
(e) Indien die waarde van die eiendomme wat in terme van
die koopkontrak oorgeneem of verkoop word meer is as die
leningsbedrag
en die rente daarop, sal die meerdere waarde die
applikant as eienaar toekom.
(f) Die respondente aanvaar gesamentlike en afsonderlike
aanspreeklikheid vir die verskuldigheid aan applikant.
(g) Die respondente stem toe tot sessie van Eerste
Nasionale Bank se sekuriteite en verbande aan applikant.
(h) Die respondente gee volmag aan die applikant om alle
nodige dokumente te teken ten einde oordrag van die eiendomme aan die
applikant
self of enige kopers daarvan te bewerkstellig.
[14] Die sessie-ooreenkoms is gesluit
op dieselfde datum as die ander ooreenkomste en bepaal eenvoudig dat
Eerste Nasionale Bank
teenoor betaling deur applikant van respondente
se verskuldigheid al die bank se reg, titel en belang in die eis van
Eerste Nasionale
Bank teen die respondente en die verbande gehou deur
Eerste Nasionale Bank aan applikant sedeer en oordra.
Die koopooreenkoms:
[15] Hierdie ooreenkoms bepaal
onder
andere:
(a) Die respondente verkoop die eiendomme, wat die
onderwerp van die aansoek is, aan die applikant.
(b) Die koopprys van die eiendomme beloop R1 411 482,80
ten opsigte van die trust se eiendom en die balans (foutiewelik as R2
miljoen
aangedui) van R1 miljoen ten opsigte van vierde respondent se
voormelde twee eiendomme.
(c) Die koopprys is reeds betaal uit hoofde van die
leningsooreenkoms.
(d) Respondente magtig mnr. Barnard om die nodige
dokumente te teken ten einde oordrag van die eiendomme te
bewerkstellig sou hulle
in versuim bly om dit te teken en uit te
voer.
(e) Die ooreenkoms is onderhewig aan voorwaardes dat die
leningsooreenkoms onderteken word, dat applikant inderdaad die skuld
aan
Eerste Nasionale Bank verskuldig, vereffen en dat respondente
versuim om hulle verpligtinge in terme van die leningsooreenkoms
teenoor applikant na te kom.
(f) Indien respondente wel hul verpligtinge in terme van
die leningsooreenkoms stiptelik nakom, sal die koopooreenkoms verval
en
nietig wees. Indien nie, sal dit van krag word en afdwingbaar
wees.
[16] Kort na die sluiting van
voormelde ooreenkomste het respondente met toestemming van die
applikant as verbandhouer oor die eiendomme
in terme van voormelde
sessies, opdrag aan afslaers gegee om die plase “Maraisrust” en
“Vryheid” op ‘n veiling te verkoop
ten einde applikant te kan
betaal. Die betrokke veiling is inderdaad gehou en die plase is
verkoop vir ‘n gesamentlike bedrag
van R2 550 000,00 maar het dit
skipbreuk gely deurdat die respondente besluit het om nie daarmee
voort te gaan nie.
[17] Intussen het applikant, op versoek van vierde
respondent, ook kleinere bedrae ten behoewe van die respondente aan
ander skuldeisers
van respondente betaal, welke bedrae tans deur
applikant teruggevorder word van die respondente in hierdie aansoek.
Respondente se verwere:
[18] Namens eerste tot derde
respondente is aangevoer dat die aansoek moet misluk eenvoudig omdat
die applikant nie voldoen het
aan die bepalings van artikels 97(1)
van die Akteswet, Nr. 47 van 1937 nie. Daar is geargumenteer dat
daardie bepalings gebiedend
is en dit fataal is vir die aansoek. In
hierdie verband is gesteun op die beslissing van
SMITH
v WESTON
1961
(1) SA 275
(W) waarin, met verwysing na verskeie vorige uitsprake,
bevind is dat die nie-nakoming van die voorskrifte van artikel 97
kondoneer
kon word in gepaste gevalle. Die beslissings waarop die
hof in hi
é
rdie
uitspraak steun vir sy konklusie, handel oor die algemeen nie met ‘n
vordering vir oordrag van eiendom nie, maar met gevalle
soos laat
registrasie van huweliksvoorwaardekontrakte, verklaring van regte
inter partes
tussen partye, verlof om verbande te registreer oor eiendomme
ensovoorts, almal wat tog wel ‘n handeling in die akteskantoor
sou
vereis.
[19] In
EX
PARTE SANDERS ET UXOR
2002 (5) SA 387
(CPD) word met verwysing na
EX
PARTE MOTHULOE
1996 (4) SA 1131
(T) en ander gesag bevind dat die bepalings van
artikel 97 van voormelde Wet wel gebiedend is en word verskil met die
beslissing
in eersgenoemde saak, ten minste vir sover die nodigheid
van vooraf kennisgewing vereis word. Dit blyk dat die nie-nakoming
van
die sewe dae voorgeskrewe tydperk van kennisgewing moontlik
kondoneerbaar is. Ten minste word wesenlike of substansiële
nakoming
van die bepalings van artikel 97 vereis.
[20] Ek vereenselwig my met
laasgenoemde beslissing in besonder waar die aangevraagde regshulp
gerig is op transport van onroerende
eiendom en nie net die
verklaring van regte
inter
partes
nie. In
hierdie opsig is ek derhalwe van mening dat die respondente gelyk
gegee moet word.
[21] Daar is verder namens al die
respondente aangevoer dat die betrokke koopooreenkoms ‘n integrale
deel van die gehele transaksie
vorm, welke transaksie inhou dat die
applikant geld aan die respondente leen teenoor verkryging van
sekuriteit deur middel van
‘n sessie van verbande en as gevolg van
die gelyktydige sluiting van die koopooreenkoms ook die reg verkry om
die eiendom vir
homself te behou (
pactum
commissorium
) en/of
sonder tussenkoms van die hof te gelde te maak (
parate
executie
).
[22] Mnr. Van Rhyn, namens applikant, het betoog dat die
onderhawige geval nie onder voormelde erkende nietigheidsgronde
tuisgebring
kan word nie. Hy het aangevoer dat die koopooreenkoms
losstaande van die ander ooreenkomste (lening en sessie) staan en aan
gevolg
gegee moet word. Hy het veral gesteun op die volgende
beslissings:
CITIBANK
NA v THANDROYEN FRUIT WHOLESALERS CC AND OTHERS
2007 (6) SA 110
(SCA) – In hierdie saak het die bank ‘n
likwidasie-aansoek teen die respondent gebring, welke dispuut geskik
is op die basis
dat die bank onder andere gemagtig word om ‘n
sekere eiendom van die respondent te verkoop en die bank intussen
verplig was om
alle belastings en heffings ten opsigte van die
eiendom te betaal en ook die koste van die bemarking daarvan te dra.
Indien die
eiendom verkoop sou word of na die verloop van 38 maande,
wat ookal eerste plaasvind, sou die bank ‘n bedrag van R1,1 miljoen

aanwend ter vermindering van die betrokke skuld van die respondente.
Indien die eiendom vir meer as die gesegde bedrag of minder
as die
gesegde bedrag verkoop word, sou die bank die voor- of nadeel daarvan
ly. In die betrokke uitspraak te bladsy 115H –
116B word gehandel
met die nietigheid van ‘n
pactum
commissorium
en
parate executie
klousule en te bladsy 116C – E onderskei die Agbare Verhoorregter
die onderhawige ooreenkoms van sodanige klousules. Die hof
bevind
dat die betrokke feite in die saak in effek neerkom op ‘n normale
verkoopooreenkoms van die eiendom aan die bank. Te
bladsy 116F – H
van die uitspraak handel die bank met die vraag of die transaksie
aangemerk kan word as
contra
bonos mores
en
beslis dat daar gekyk moet word na die aard van die transaksie en nie
die bewese resultaat daarvan nie. Die hof bevind dat
die bank in die
onderhawige geval net sowel ‘n verlies as ‘n wins kon maak en dat
die transaksie derhalwe ook nie
contra
bonos mores
is nie.
MEYER v HESSLING
1992 (3) SA 851
(NmSC) – In hierdie aangeleentheid was die normale
verkoop van ‘n plaaseiendom ter sprake en het die verkoper ter
versekering
van die koopprys aan die koper ‘n verbandlening verleen
en is ‘n verband ten gunste van die verkoper oor die betrokke
eiendom
geregistreer. Die ooreenkoms was dat, indien die koper nie
die koopprys in terme van die verbandakte betaal nie, die verkoper
die ooreenkoms tot niet kan laat verklaar en teruggawe van die
eiendom eis. Weens wanbetaling van die koopprys het die verkoper
toe
inderdaad kansellasie en teruggawe van die eiendom gevorder. Te
bladsy 860F – G merk die hof op dat wat gevorder word, is

kansellasie en teruggawe en nie afdwinging van die verband nie. Te
bladsy 862G – 863C bevind die hof dat die eiser se reg om
te
kanselleer en terug te vorder nie afhanklik is van die ooreenkoms
nie, maar ook volg vanweë regswerking sonder die nodigheid
van
‘n spesifieke ooreenkoms tot daardie effek. Dieselfde
dicta
word ook gevind op bladsy 865F – 866A. Te bladsy 863I – 864B
merk die hof op dat die klassieke voorbeeld van ‘n
pactum
commissorium
voorkom waar die lener van geld die skuld deur middel van ‘n
verband of pand verseker en stipuleer dat, by wanbetaling van die

skuld, die lener die eienaar van die betrokke eiendom of artikel sal
word ongeag die waarde daarvan. Te bladsy 866E – F word
die
betrokke feitestel onderskei van ‘n
pactum
commissorium
, om
verstaanbare redes.
E F SAFFY N.O. EN ANDER NNO v P
VILJOEN N.O. EN ANDER NNO
- ‘n Ongerapporteerde uitspraak van die volbank van hierdie
Afdeling gelewer in appèlnommer A258/2005. In hierdie saak

was die appellante die respondente behulpsaam om ‘n verbandlening
by Nedbank te bekom ten einde die koopprys van ‘n betrokke

plaaseiendom wat die respondente aangekoop het, te kan betaal.
Nedbank het vereis dat die appellante hulself verbind as borg vir
die
respondente se verskuldigheid uit hoofde van die verbandlening. Die
appellante het terselfdertyd ‘n ooreenkoms met die respondente

gesluit in terme waarvan die respondente aan appellante ‘n opsie
verleen het om die plaaseiendom aan te koop, welke opsie uitgeoefen

kon word indien die respondente sou versuim om hulle verpligtinge
teenoor Nedbank na te kom.
[23] Die respondente het inderdaad
agterstallig geraak teenoor Nedbank en appellante het die opsie
uitgeoefen. Die respondente
het beweer dat die betrokke ooreenkoms
nietig is op grond van die feit dat die opsie en gevolglike
koopkontrak in effek ‘n
pactum
commissorium
daargestel het en nietig is.
[24] Ten opsigte van hierdie verweer het die volbank
bevind dat dit nie van toepassing is op die onderhawige geval nie om
verskeie
redes, onder andere:
(a) Daar het nie ‘n skuldeiser skuldenaar verhouding
tussen die appellante en respondente ontstaan nie.
(b) Die appellante het nie die eiendom as sekuriteit
gehou nie.
(c) Die appellante was nie in die
posisie van ‘n hardvogtige skuldeiser
vis-a-vis
die respondent nie
en ook was respondente nie in ‘n ongunstige bedingingsposisie nie.
[25] Nadat ek bogemelde gesag oorweeg
het, is dit vir my duidelik dat al die voorbeelde waarop daardie sake
van toepassing is, onderskeibaar
is van die onderhawige geval. In
die onderhawige geval het die applikant deur middel van ‘n sessie
van die verbande inderdaad
geld aan die respondente geleen en
voorgeskiet teenoor sekuriteit van verbandlenings en uit hoofde van
die gepaardgaande koopooreenkoms
vir homself die reg beding om by
wanbetaling van die lening nie alleen die sekuriteite te gelde te
maak uit hoofde van die verbande
wat aan hom sedeer is nie, maar ook
aan homself die reg verleen om die eiendomme
ó
f
te verkoop
ó
f
vir homself te behou sonder die tussenkoms van ‘n hof. Ek het geen
twyfel dat hierdie ‘n klassieke voorbeeld van ‘n
pactum
commissorium
daarstel nie en dat die koopooreenkoms om daardie rede nietig en
ongeldig is nie.
[26] Namens die respondente is ook
betoog dat die betrokke ooreemkomste nietig is in die breëre sin
deurdat dit teen die goeie
sedes en openbare beleid sou wees om
daaraan regskrag te verleen. In die lig van die bevinding hierbo is
dit streng gesproke nie
nodig om ‘n bevinding hieroor te maak nie,
anders dan om op te merk dat daar myns insiens oortuigende gronde is
om respondente
ook op hierdie punt gelyk te gee, selfs indien mens in
gedagte hou dat ‘n hof nie ligtelik ooreenkomste wat tussen partye
gesluit
word, ongedaan sal maak nie.
Sien
SASFIN
(PTY) LTD v BEUKES
1989 (1) SA 1
(AD);
RETHA
MEIRING ATTORNEY v WALLEY
2008 (2) SA 513
(D&CLD);
BOTHA
(NOW GRIESSEL) AND ANOTHER v FINANSCREDIT (PTY) LTD
1989 (3) SA 773
(AD).
In die onderhawige geval het die
applikant nie alleen ‘n stewige heffingsfooi van R250 000,00 beding
nie, maar ook sekuriteite
deur middel van verbande sowel as ‘n reg
om sonder tussenkoms van ‘n hof die betrokke eiendom te verkoop of
te behou vir eie
rekening verkry. Die feit dat die respondente die
nadelige gevolge van die transaksie kon vermy deur betaling van die
verskuldigde
bedrag binne 120 dae doen nie afbreuk hieraan nie. Die
respondente was duidelik nie in staat om die verbandskuld teenoor
Eerste
Nasionale Bank te betaal nie en dit was hoogs onwaarskynlik
dat hulle benarde posisie eensklaps sou verander. Selfs die veiling

wat gedurende April gehou is en R2,5 miljoen opgelewer het, was te
min om die leningsbedrag verskuldig aan applikant uit te wis.
Die
bedoeling van die hele transaksie was om die respondente in staat te
stel om die plaaseiendomme te behou. Om te argumenteer
dat hulle
voldoende eiendomme gehad het om te verkoop ten einde die skuld te
delg, frustreer die voormelde doel van die hele transaksie.

Inhoudelike is die transaksie so nadelig vir respondente en eensydig
tot voordeel van die applikant dat dit sekerlik aangemerk
kan word as
teen die openbare beleid en goeie sedes.
Nasionale Kredietwet:
[27] Te
n
opsigte van die vierde respondent is aangevoer dat die ooreenkoms,
synde ‘n krediettransaksie in terme van die bepalings van
die
Nasionale Kredietwet, Nr. 34 van 2005, onwettig en nietig is.
Artikel 40(1)(b) van die Wet vereis dat ‘n persoon
moet aansoek doen om registrasie as ‘n kredietverskaffer indien die
totale
hoofskuld aan hom verskuldig ingevolge alle uitstaande
kredietooreenkomste meer is as die drempel voorgeskryf in terme van
artikel
42(1). Die drempel voorgeskryf in terme van artikel 42 is
tans R500 000,00.
Artikel 40(4) bepaal dat ‘n ooreenkoms gesluit deur
‘n kredietverskaffer wat geregistreerd moet wees maar nie is nie,
‘n
onwettige ooreenkoms is en nietig is tot die mate voorsien in
artikel 89.
Artikel 89(2)(d) bepaal dat ‘n kredietooreenkoms
onwettig is indien die kredietgewer op die stadium toe die ooreenkoms
gesluit
is geregistreerd moes wees maar nie geregistreerd was nie.
In terme van artikel 89(4) word ‘n kredietgewer
vrygestel van die bepalings van artikel 89(2)(d) in sekere
omstandighede waarvan
nie een op die onderhawige geval van toepassing
is nie.
Artikel 85(5) van die Wet vereis dat, indien ‘n
kredietooreenkoms onwettig is in terme van die bepalings van artikel
89, moet
die hof:
(a) die ooreenkoms nietig verklaar vanaf datum van
aangaan daarvan.
Artikel 89(5)(c) skryf sekere bevele voor wat deur ‘n
hof gemaak moet word indien ‘n kredietooreenkoms nietig verklaar
word.
[28] Namens applikant het mnr. Van
Rhyn (tot my verbasing) met verwysing na die bepalings van artikel
164 van die betrokke Wet,
aangevoer dat:
(a) Die verwysing na ‘n hof in die betrokke Wet nie
die Hooggeregshof insluit nie en die Hooggeregshof derhalwe nie
jurisdiksie
het om die bepalings van die Wet af te dwing nie,
alternatiewelik
(b) Dat ‘n gegriefde party verplig
is om eers sy griewe deur middel van ‘n tribunaal geskep deur die
Wet te laat bereg alvorens
hy hom tot ‘n hof kan wend.
[29] Die eerste argument is so klaarblyklik ongefundeer
dat dit nie nodig is om daaraan verdere aandag te gee nie. Die
tweede argument
word deur die bepalings van artikel 164(2)(b)(i)
weerspreek en is dit nie nodig om verder daarmee te handel nie.
[30] Die onderhawige
leningsooreenkoms val duidelik binne die voormelde bepalings van die
Wet. Applikant is nie ‘n geregistreerde
kredietverskaffer nie en
daar is geen bewerings tot die effek dat hy aansoek gedoen het vir
registrasie of in besit is van ‘n
sertifikaat bedoel in artikel
42(3)(b) nie. Die totale bedrag van die lenings aan vierde
respondent oorskry die drumpel daargestel
deur die Wet by verre.
Hierdie feite maak dit oorbodig om ook te handel met die ander
beweerde oortredings van die voorskrifte
van die Wet. Op die oog af
is daar verskeie bepalings van die Wet wat deur hierdie transaksie
oortree is.
[31] Namens die applikant is in die
algemeen ook geargumenteer dat die optrede van die respondente
bedrieglik was deurdat hulle
die betrokke ooreenkomste aangegaan het
op ‘n stadium toe hulle geld benodig het, maar daarna betaling van
die skuld frustreer
het deur nie die verkoop van die twee plase
gedurende die veiling in April deur te voer nie en voorts te verklaar
dat hulle nooit
van voorneme was om enige van die plase te verkoop
nie. Voorts het mnr. Van Rhyn daarop gewys dat die vierde respondent
gedurende
sy egskeiding in terme van die Akte van Dading van die
beswaarde eiendomme geskenk het aan ‘n trust welwetende van die
onderhawige
transaksie. Luidens mnr. Van Rhyn se argument is die
respondente met vuil hande voor die hof en behoort die hof hulle nie
toe
te laat om hulle nou te verweer teen applikant se aansprake nie.
[32] Ek meen nie dat bevind kan word
dat respondente bedrieglik opgetree het nie. Selfs al word dit
argumentshalwe aanvaar, kan
dit nie geldigheid verleen aan regtens
nietige transaksies nie.
[33] Namens respondente is ook aangevoer dat die
ooreenkomste strydig is met die Wet op Verbruikersake (Skadelike
Sakepraktyke),
Nr. 71 van 1988 en dat die aangeleentheid in terme van
voormelde Wet vir ondersoek verwys behoort te word. Dit blyk egter
dat
daar reeds deur van die respondente ‘n klag in terme van die
Wet gelê is en dit derhalwe onnodig is dat hierdie hof dit

weereens vir ondersoek moet verwys. Dit staan egter die respondente
vry om die uitspraak in hierdie saak onder die aandag van
die
betrokke beamptes te bring.
[34] Die applikant beweer dat
kredietverlening nie sy besigheid is nie, maar dat hy van tyd tot tyd
mense en instansies met finansiering
behulpsaam was. Hy dryf nie
handel as gelduitlener nie, maar bedryf ‘n wildboerdery en doen ook
besigheid in die koop en verkoop
van eiendomme. By implikasie beskou
die applikant hierdie geval as ‘n ongewone tipe geval waarby hy as
‘n reël nie betrokke
raak nie. By die deurlees van die stukke
wil dit egter voorkom asof die applikant se finansieringshulp aan
mense en instansies
nie heel onbekend is nie, ten minste nie onbekend
aan die afslaer mnr. Jan Hugo nie. Hy verwys dan juis die
respondente na die
applikant vir hulp. Dit is ook insiggewend dat
aanhangsels “CB21” en “CB22” gerig is aan die deponent van
die applikante
te die “Die Finansiële Huis”. Myns insiens
is bogenoemde voldoende rede om te glo dat finansieringstransaksies
nie so
ongereeld deur die applikant behartig word soos wat hy voorgee
nie. Tot daardie mate is ek van mening dat applikant se werksaamhede

ten minste die aandag van die Nasionale Kredietreguleerder verdien.
[35] My bevindinge is derhalwe as volg:
(a) Weens nie-voldoening aan artikel 97 van die
Akteswet, is die aansoek fataal gebrekkig.
(b) Ten opsigte van al die
respondente is die koopooreenkoms waarop die applikant steun, ‘n
nietige
pactum
commissorium
en
onafdwingbaar.
(c) Ten opsigte van respondente een tot drie is die
vordering van applikant in die bedrag van R34 358,76 onbetwis.
(d) Ten opsigte van vierde respondent is die
leningsooreenkoms en gepaardgaande koop-ooreenkoms sowel as die
addisionele lenings
vermeld in bede 6 van die Kennisgewing van Mosie,
onwettig in terme van die bepalings van die Nasionale Kredietwet, Nr.
34 van
2005.
(e) Ingevolge artikel 89(5)(c) is applikant nie geregtig
om enige verhaalsreg ten opsigte van vierde respondent se
verskuldigheid
uit te oefen nie.
[36] Wat koste betref, het die
respondente versoek dat die applikant met ‘n prokureur en kliënt
kostebevel penaliseer moet
word. In al die omstandighede meen ek nie
dat dit gepas is in die onderhawige aangeleentheid nie. Die
applikant is ten minste
suksesvol in sy vordering vir die bedrag van
R34 358,76 teenoor respondente een tot drie en word boonop
gepenaliseer deur die bevele
wat ek geroepe is om te maak ingevolge
die bepalings van die Nasionale Kredietwet. Alhoewel die applikant
suksesvol is tot die
mate vermeld in paragraaf [35](c) hierbo, het
daardie vordering geen tyd in beslaggeneem nie en is die koste
daaraan verbonde negeerbaar
in die lig van die omvang van die ander
dispute. In die lig van my bevindings hierbo, is die respondente
derhalwe wesenlik suksesvol.
[37] Ingevolge die bepalings van
artikel 89(5)(c) van die Nasionale Kredietwet is die hof geroepe om,
indien dit bevind word dat
‘n kredietooreenkoms nietig is, te gelas
dat die kredietgewer se regte om vergoeding of betaling vanaf die
kredietnemer te verhaal,
gekanselleer word tensy die hof van oordeel
is dat die kredietnemer deur so ‘n bevel onregverdig verryk sal
word, in welke geval
die hof moet gelas dat daardie regte aan die
Staat verbeurd verklaar word. Dit is nie namens die applikant
geargumenteer dat die
bepalings van daardie artikel nie gebiedend is
nie en blyk dit op die oog af ‘n gebiedende bepaling te wees. Die
hof is derhalwe
geroepe om te beslis of die kansellasie van sodanige
regte tot onregverdige verryking van die vierde respondent sou lei al
dan
nie. Daar kan geen twyfel wees dat dit sodanige verryking sal
meebring nie en sal ‘n gepaste bevel derhalwe gemaak moet word
in
die onderhawige saak.
[38] Die volgende bevele word
verleen:
A. Ten opsigte van aansoeknommer 6712/2008:
1. Respondente word gesamentlik en
afsonderlik gelas om die verkwiste koste veroorsaak deur die uitstel
op 13 November 2008, te
betaal.
2. Die applikant word gelas om die verkwiste koste
veroorsaak deur die uitstel op 4 Desember 2008, te betaal.
3. Die eerste tot derde respondente word gelas om die
verkwiste koste van die applikant en vierde respondent veroorsaak
deur die
uitstel op 22 Januarie 2009, te betaal.
4. Die eerste, tweede en derde
respondente word gelas om die bedrag van R34 358,76 met rente bereken
teen 15,5% per jaar vanaf 30
September 2008 tot datum van betaling
aan die applikant te betaal.
5. 5.1 In terme van die bepalings van
artikel 89(5)(a) van Wet 34 van 2005 word die “leningsooreenkoms en
erkenning van skuld”
synde aanhangsel “CB8” en die
“koopooreenkoms” wat daarmee saamgaan, synde aanhangsel “CB9”
tot die aansoek, in soverre
dit betrekking het op die vierde
respondent, sowel as die lenings onderliggend aan die bedrae gevorder
in smeekbede 6 van die Kennisgewing
van Mosie nietig verklaar
ab
initio
.
5.2 In terme van die bepalings van artikel 89(5)(c) word
al die applikant se regte om enige betaling of vergoeding van vierde
respondent
te verhaal aan die Staat verbeurd verklaar.
6. Origens word die aansoek afgewys en applikant word
gelas om die koste van die aansoek te betaal.
7. ‘n Afskrif van hierdie uitspraak moet aan die
Nasionale Kredietreguleerder voorsien word.
Ten opsigte van aansoek 287/2009:
1. Die eerste, tweede en derde
respondente, synde applikante in die aansoek, word gelas om die koste
van die aansoek te betaal.
__________
_____
A.F. JORDAAN
,
R
Namens
die applikant: Adv. A.J.R. van Rhyn SC
In opdrag van:
EG Cooper Prokureurs
BLOEMFONTEIN
Namens
eerste, tweede en derde
respondent
e: Adv.
J. Vorster
In
opdrag van:
Du
Toit Louw Botha Ing. BLOEMFONTEIN
Namens
vierde respondent: Adv. N.C. Hartman
In
opdrag van:
Symington
& De Kok
BLOEMFONTEIN
/sp