Van Tonder v Van Dyk (11303/2007) [2009] ZAGPPHC 369 (26 November 2009)

55 Reportability

Brief Summary

Delict — Negligence — Motor vehicle collision — Plaintiff claiming damages for injuries sustained in a multi-vehicle collision — Defendant admitting liability for damages but disputing causation — Evidence presented regarding the circumstances of the collision, including the actions of the defendant and the driver of the vehicle that collided with the plaintiff's vehicle — Court finding that the defendant's actions were negligent in executing a right turn without ensuring the way was clear, thereby causing the collision and subsequent damages — Defendant held liable for the full amount claimed by the plaintiff.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: North Gauteng High Court, Pretoria
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: North Gauteng High Court, Pretoria
>>
2009
>>
[2009] ZAGPPHC 369
|

|

Van Tonder v Van Dyk (11303/2007) [2009] ZAGPPHC 369 (26 November 2009)

IN
DIE HOË HOF VAN SUID-AFRIKA
/
ES
(NOORD
GAUTENG HOË HOF. PRETORIA
)
SAAK NO: 11303/2007
DATUM: 26/11/2009
NOT REPORTABLE
NOT OF INTEREST TO
OTHER JUDGES
IN DIE SAAK
TUSSEN
GIDION-JEANN VAN
TONDER
..........................................................................................................
EISER
EN
J VAN
DYK
.............................................................................................................................
VERWEERDER
UITSPRAAK
VAN PER MERWE. R
Op 28 Januarie 2006
om nagenoeg 02h00 het 'n botsing plaasgevind te Lynnwoodweg. Die
Wilgers, Pretoria, tussen 'n motorvoertuig
met registrasienommer
M[...], bestuur deur mnr J van Dyk (die verweerder) en 'n
motorvoertuig met registrasienommer R[...], bestuur
deur 'n sekere J
Freitag ("Freitag"). In die besonderhede van vordering word
beweer dat as gevolg van hierdie botsing
die voertuig bestuur deur
Freitag op sy beurt in 'n botsing betrokke was met die eiser se
motorvoertuig. Soos uit die getuienis
sal blyk het Freitag se
motorvoertuig in botsing gekom met drie ander motorvoertuie en ook 'n
muur. Die wyse waarop die botsings
plaasgevind het sal later meer
volledig hieruit blyk.
Die eiser voer aan
dat die botsing veroorsaak is deur die nalatigheid van die
verweerder. Die belangrikste bewering vir doeleindes
van hierdie
uitspraak is dat die verweerder 'n draai na regs uitgevoer het voor
aankomende verkeer in wat die reg van weg gehad
het.
Die eiser vorder
betaling van 'n totale bedrag van R135 212,28 tesame met rente en
koste.
Die
verweerder het die eiser se
locus
standi
om
die aksie te bring in geskil geplaas. Dit is by wyse van 'n erkenning
namens die verweerder buite geskil geplaas. Terselfdertyd
het die
verweerder erken dat die eiser se skade 'n bedrag van R135 212.28
beloop.
Die enigste
oorblywende geskilpunt tussen die partye is dus die vraagstuk na
aanspreeklikheid.
Vir doeleindes van
wat hierna sal volg is dit nodig om paragraaf 14 van die verweerder
se verweerskrit hierin te herhaal. In hierdie
paragraaf sit die
verweerder se regsverteenw'oordiger uiteen hoe die botsing
plaasgevind het. Dit lui soos volg:
"14.1
Verweerder verklaar dat hy op die 28ste Januarie 2006 die bestuurder
van voertuig MGF 702 GP om 14h00 voormiddag was.
en beweeg het in
Lynnwoodweg van oos na wes. toe hy 'n regterhandse-draaibeweging wou
uitvoer om in te draai in die perseel van
Presley's Restaurant aan
die noorde kant van Lynnwoodweg.
14.2 Verweerder het
by die interseksie om regs te draai na Presleys Restaurant toe, sy
motor tot stilstand gebring aangesien daar
verkeer aankomend was, en
was van voomeme om stilstaande te bly totdat aankomende verkeer verby
gery het.
14.3
Terwyl verweerder se voertuig stilstaande was het daar 'n Peugeot
voertuig van voor af gekom bestuur deur ene mnr Freitag,
soos daarin
blyk te wees, en met verweerder se stilstaande voertuig, aan die
regter voorkant te bots.
(sic)
14.4 Gemelde Peugeot
voertuig het onmiddellik daama van verweerder se voertuig weggeskiet
in Presleys Restaurant se parkeerruimte
in en met ander voertuie
gebots, vermoedelik ook met die van die eiser.
14.5 Verweerder
ontken ten sterkste dat hy die oorsaak van die tersaaklike of enige
ander botsing was, en plaas eiser tot die bewys
daarvan."
Die verwysing na
14h00 voormiddag in paragraaf 14.1 daarvan moet wees 'n verwysing na
02h00.
Die eerste getuie
namens die eiser was mnr J J Freitag. Mnr Freitag is 'n
beroepsatleet. Op 28 Januarie 2006 het hy aan die hoogspring
item te
Pilditch stadion in Pretoria deelgeneem. Hy het eers om 22h00 begin
deelneem. 0m 23h30 moes hy die gewone en normale opkikkertoets

ondergaan. Daama is hy, sy vriendin en twee vriende na 'n restaurant
in Generaal Louis Botha rylaan in Lynnwood. Hulle het daar
gearriveer
om OOhl 5. Aangesien die eienaar aan Freitag bekend is het dié
versnapperinge voorgesit. Freitag self het minder
as een bier
gedrink. Sy vriendin, me Pieterse, en mnr Daniel du Plessis. sy
woonstelmaat, en dié se vriendin het moontlik
meer as een
drankie gehad.
Van die restaurant
af het die twee dames in Du Plessis se vriendin se voertuig gery
terwyl Freitag en Du Plessis saam in Freitag
se voertuig gery het.
Hulle het van wes na oos in Lynnwoodweg beweeg. By die kruising
tussen Rubidaweg en Lynnwoodweg was die robot
vir Freitag groen maar
die twee dames moes daar stop. Freitag sê dat nadat hy deur die
groen robot is het hy ietwat spoed
verminder en het hy so 60 tot
70kpu gery om te wag vir die twee dames in die kar agter syne.
Die Presleys nagklub
is verder oos in Lynnwoodweg geleë. Toe Freitag die nagklub
nader het hy twee of drie voertuie se ligte
hom van voor af sien
nader. By die ingang na die Presleys nagklub het die laaste van
hierdie drie voertuie skielik voor Freitag
ingedraai. Hy sê hy
het net ligte sien draai. Dit is duidelik dat hierdie voertuig by die
Presleys nagklub se ingang wou
ingaan. Freitag sê dat hierdie
voertuig na regs gedraai het toe die twee voertuie baie naby aan
mekaar was. Hy sê dit
het vir hom voorgekom asof die bestuurder
van die ander voertuig gedraai het asof Freitag se voertuig nie eers
op die pad was nie.
Freitag sê dat hy nie kans gehad het om rem
te trap nie en moontlik 'n poging aangewend het om na links te swaai.
Die botsing
het egter plaasgevind. Daarvandaan het Freitag se
voertuig links van die pad af beweeg tot op 'n grondgedeelte waar hy
nie kon
rem nie. Sy voertuig het uiteindelik met drie voertuie in
botsing gekom, onder andere ook dié van die eiser en 'n gat in

'n muur gery waar sy voertuig tot stilstand gekom het.
Onder kruisverhoor
het Freitag gesê dat hy die verweerder se voertuig voor aan die
passasierskant gestamp het. Hy sê
ook dat na die botsing die
verweerder se voertuig presies in die middel van die pad gestaan het
sodat die soliede middellyn wat
die twee bane skei onder in die
middel van die kar deur geloop het. Die voorkant van die verweerder
se voertuig was ongeveer 45°
na noord-oos gedraai terwyl Freitag
se kar verder noord-oos tot stilstand gekom het.
Daar is aan Freitag
gestel dat hy na regs geswaai het en toe met die verweerder se
stilstaande voertuig in botsing gekom het. Freitag
het dit ontken en
gesê dat indien dit sou gebeur het hy eerstens met die karre
voor die venveerder se voertuig sou gebots
het aangesien hulle baie
naby aan mekaar gery het en tweedens dat die twee voertuie wat in
botsing was dan by die punt van botsing
tot stilstand sou gekom het.
Freitag het ook
ontken dat daar 'n 4x4 voertuig stilstaande was by die uitgang van
Presleys asook dat 'n voertuig by hierdie 4x4
voertuig verby gegaan
het en voor Freitag ingery het. Sy antwoord was dat die verweerder
skynbaar sal getuig oor 'n botsing van
'n heel ander aard as waarin
Freitag betrokke was.
Freitag sê dat
dit vir hom voorgekom het asof hy oor die verweerder se voertuig se
neus gery het. Hy het nie gaan ondersoek
instel na die skade aan die
kar nie. Daarom sê Freitag ook dat dit wel moontlik is dat die
linker voorwiel van die verweerder
se voertuig nie beskadig sou
gewees het nie maar dat die hele voorkant van die verweerder se
voertuig moontlik gestroop kon gewees
het.
Die tweede getuie
namens die eiser was mnr Daniel Petrus du Plessis wat 'n passasier in
Freitag se voertuig was.
Du Plessis kan die
saak nie werklik verder neem nie. Hy sê dat omdat hy nie
bestuur het nie hy nie besonder opgelet het na
Freitag se spoed nie
maar dat dit vir hom heeltemal normaal voorgekom het. Hy het met
Freitag gesels terwyl hulle op pad huis toe
was maar hy is oortuig
daarvan dat daar geen voertuig van links af uit Presleys nagklub se
terrein gekom het nie. Freitag het reguit
gery en nie na enige kant
toe geswaai nie.
Onder kruisverhoor
sê Du Plessis dat hy kan onthou dat hy twee ligte gesien het
wat gedraai het maar dat hy nie kan onthou
of die verweerder se
voertuig beweeg het of stilstaande was nie.
Me Pieterse was die
derde en laaste getuie namens die eiser. Soos reeds gesê is sy
Freitag se vriendin wat op haar beurt in
die voertuig van Du Plessis
se vriendin saam met haar gery het.
Me Pieterse bevestig
Freitag se getuienis oor die atletiek-byeenkoms en hulle optrede
daarna. Sy bevestig ook dat die robot by die
kruising van Lynnwoodweg
en Rubidaweg vir hulle rooi was en dat Freitag se voertuig ongeveer
eenhonderd meter verder in 'n oostelike
rigting voor hulle was. Sy
kan nie sê hoe die botsing plaasgevind het nie. Sy het wel
gesien dat daar 'n botsing plaasvind
en dat daar 'n stofwolk is en 'n
kar wat van die pad af tol.
Op die toneel het sy
dadelik uitgespring om te gaan kyk of almal wat in die botsing
betrokke was in orde is. Sy het die verweerder
se voertuig dwars in
die pad sien staan. Die voorkant van sy voertuig het na die ingang
van Presleys nagklub gewys. Die voorwiele
het in die noordelike baan
van die pad gestaan en die agterwiele in die suidelike baan.
Me Pieterse sê
sy het na die Golf motorvoertuig. dit wil sê die verweerder se
voertuig gegaan. Die verweerder het self
buite die voertuig aan die
bestuurderskant gestaan. Sy het met die verweerder gepraat en hom
gevra of alles in orde is. Sy sê
dat hy gesê het dat hy
in orde is. hy het sy hande langs sy kop gehad en gesê hv het
nie die motor, verwysende na Freitag
se voertuig, gesien nie. Daama
is me Pieterse na die verweerder se vriendin wat nog in die
passasiersitplek gesit het. Sy getuig
dat die verweerder se vriendin
die verweerder aangesê het om terug te klim in die kar anders
sou die versekeringsmaatskappy
nie betaal nie. Me Pieterse het op
haar beurt die dame aangesê om uit die kar te klim omdat hulle
in die middel van die pad
gestaan het. Sy het ook gevra of sy die
verweerder se vriendin se ouers kon bel. Die het gesê nee maar
sy het verstaan dat
die vriendin se ouers óf te Mosselbaai óf
te George woonagtig is.
Dit is later
bevestig dat die vriendin se ouers wel te Mosselbaai woonagtig is.
Me Pieterse het ook
gesê dat dit vir haar gelyk het of die grootste skade aan die
passasierskant van die verweerder se voertuig
was. Me Pieterse getuig
ook dat die verweerder se vriendin uit die kar gehaal is en dat daar
'n suurstofmasker op haar gesig gesit
is.
Hierdie getuienis
het die eiser se saak afgesluit.
Die eiser het self
getuig. Hy sê dat hy saam met sy vriendin die betrokke aand by
sy huis was toe hy deur 'n vriend van hom
gebel is en meegedeel is
dat die vriend en sy vriendin probleme het met mekaar en dat die
verweerder hom asseblief by Presleys
moet hom haal. Daarom is die
verweerder en sy vriendin van 'n oostelike rigting na 'n westelike
rigting na Presleys. Regoor die
ingang na Presleys het hy tot
stilstand gekom aan sy korrekte kant van die pad met sy voet op die
rem wagtend dat die verkeer van
voor af moet verbygaan. Terwyl die
verweerder so wagtend is het hy na regs gekyk en 'n groot 4x4 bakkie
gesien wat gew'ag het om
in Lynnwoodweg in te beweeg. Daar was 'n
hele ry karre agter hierdie bakkie. Daar het toe 'n voertuig agter
die bakkie aan die
regterkant van die bakkie verbygegaan, soos die
verweerder dit stel. seker omdat hy haastig was. Daardie voertuig het
verby die
4x4 voertuig in die pad in beweeg. Op daardie stadium sê
hy het Freitag seker effe uitgeswaai en sy (die verweerder se)
voertuig
liggies aan die regter voorkant getref. Die verweerder sê
dat hy dink dat Freitag teen 'n geweldige spoed moes gery het want

nadat hy die verweerder se voertuig gestamp het is hy van die pad af
en in botsing met drie ander voertuie en dan nog deur 'n muur.
Die verweerder sê
dat met die botsing sy voertuig met 45° na noord-wes gedraai is
en ietw'at teruggeskuif is.
Die verweerder kon
nie sy voordeur oopmaak nie en het sy vriendin aangesê om uit
te klim en hy is ook by die passasierskant
uit. Sy vriendin het na
die noordekant van Lynnwoodweg beweeg waar sy op gras gaan lê
het omdat haar nek beseer was. Die
verweerder het self oorbeweeg na
die passasierskant van die voertuig. Hy het nie met me Pieterse
gepraat nie. Hy het slegs met
'n persoon gepraat wat sy voertuig wou
wegsleep. Hy het wel 'n dame met sy vriendin sien gesels maar hy weet
nie wie sy is nie.
By die aanvang van
die verhoor was daar 'n geskil tussen die regsverteenwoordigers of
die verweerder kon gebruik maak van drie foto's
wat van sy beskadigde
voertuig geneem is deur sy vader. Daar is uiteindelik ingestem deur
die eiser se advokaat dat die verweerder
se regsverteenwoordigers wel
hierdie foto's kon gebruik. Dit is egter nie aan enige van die eiser
se getuies getoon of met hulle
gedebatteer nie. Die verweerder sê
dat sy vader die foto's in sy teenwoordigheid geneem het. Ek sal
later weer met hierdie
foto's handel.
Die verweerder sê
dat hy aangekla was van roekeloos/nalatige bestuur maar dat hy
onskuldig bevind is.
Onder kruisverhoor
het die verweerder sy getuienis herhaal dat Freitag teen 'n baie hoë
spoed moes gery het. Hy het so ver
gegaan as om te sê dat
daardie hoë spoed in die strafsaak bewys is. Dit is egter
duidelik uit die kruisverhoor dat die
verweerder oor Freitag se spoed
spekuleer. Hy maak afleidings sonder dat hy Freitag se kar hoegenaamd
gesien het. A1 waarop hy
sy bewering van hoë spoed baseer is die
skade wat in die botsing aangerig is.
Die verweerder het
die verstommende opmerking gemaak onder kruisverhoor dat hy kon hoor
dat Freitag se voet op die petrolpedaal
is en dat hy versnel het toe
die botsing plaasgevind het. Hy het toegegee dat dit ook 'n afleiding
is en dat hy sy eie afleidings
maak.
Dit was onder
kruisverhoor aan die verweerder gestel dat daar op geen stadium
tydens die eiser se saak aan enige getuie gestel is
dat Freitag so
buitensporig vinnig gery het nie. Hy kon nie verduidelik waarom dit
nie gestel is nie. Dit is ook aan die verweerder
gesê dat daar
nie aan me Pieterse gestel is dat die verweerder se vriendin nie in
die voertuig was toe hulle met mekaar gepraat
het nie. Die verweerder
kon nie verduidelik waarom dit nie aan me Pieterse gestel is nie.
Die verweerder is
pertinent verwys na die inhoud van paragraaf 14 van sy verweerskrif
wat hierbo aangehaal is. Die verweerder gee
ook toe dat dit vir hom
vreemd is dat in daardie weergawe van die gebeure daar nie verwys is
na die voertuig wat om die 4x4 bakkie
beweeg het voor Freitag in wat
Freitag genoodsaak het om na regs uit te swaai nie. Die verweerder sê
dat hy aanvaar dat Freitag
nie verantwoordelik is vir die gebeure nie
maar wel die bestuurder van die voertuig wat so voor Freitag inbeweeg
het.
Die verweerder sê
ook dat hy kan aanvaar dat Du Plessis nie die 4x4 voertuig en die een
wat om dit beweeg het gesien het nie
omdat Du Plessis biere gedrink
het en met Freitag gesels het en daarom nie na vore sou gekyk het
nie.
Ek noem hierdie
aspekte omdat dit later sal blyk dat ek van mening is dat die
verweerder spekuleer en afleidings maak op gegewens
wat hy nie by
magte is om aan die hof oor te dra nie. Dit wil voorkom asof hy
spekuleer en afleidings maak om homself te regverdig.
Die verweerder se
vader mnr Frans Johannes van Dyk het ook getuig. Hy is die fotograaf
wat die drie foto's geneem het en het getuig
oor wat hy waargeneem
het toe hy die verweerder se voertuig inspekteer het. Mnr Van Dyk
senior is van mening dat die botsing op
die regter voorkant van die
verweerder se voertuig plaasgevind het en dat die sierrooster van die
voertuig tesame met die buffer
afgeruk is. Ek sal binnekort in ietwat
meer detail met Van Dyk senior se getuienis handel.
Daar is twee
teenstrydige weergawes namens die eiser en die verweerder voorgelê.
Die eiser dra die bewyslas. Die saak kan
net beslis word op
geloofwaardige aanvaarbare getuienis. Ten einde te bepaal waar die
waarheid lê moet na die waarskynlikhede
gekyk word.
Op die getuienis as
geheel moet aanvaar word dat Freitag teen 'n spoed van nagenoeg 70kpu
van wes na oos in Lynnwoodweg beweeg het.
Dit moet verder aanvaar
word dat hy drie voertuie van oos na wes sien nader kom het. Nadat
twee van hierdie voertuie by hom verby
is het hy net ligte na regs
sien beweeg en het ’n botsing onmiddellik gevolg wat meegebring
het dat Freitag se voertuig links
van die pad af is en daar met onder
andere die eiser se voertuig gebots het.
Na my oordeel is dit
op die waarskynlikhede onmoontlik dat 'n voertuig vanuit Presleys by
'n groot 4x4 bakkie kon verby ry en na
oos in Lynnwoodweg draai
feitlik op die moment wat Freitag en die verweerder se voertuie met
mekaar bots sonder dat Freitag met
hierdie onbekende voertuig sou
bots. Soos reeds gesê kon Du Plessis se getuienis nie veel
bydra tot die oplossing van die
dispuut tussen die partye nie. Hy is
egter baie oortuig daarvan dat daar geen voertuig vanuit Presleys
voor Freitag se voertuig
inbeweeg het nie. Hy sê dit sou deel
van die botsings-opset wees en hy sou dit kon onthou het.
Me Pieterse se
getuienis oor wat die verweerder se vriendin vir haar gesê het
is van belang. Dit staan vas dat die verweerder
se vriendin se ouers
te Mosselbaai woonagtig is. Dit sê me Pieterse het sy gehoor
terwyl die vriendin binne in die verweerder
se voertuig gesit het. Sy
was eers by die verweerder self. Met sy hande langs sy gesig het hy
gesê dat hy nie die voertuig,
nie die ligte sien aankom het
nie. As daardie getuienis vasstaan dan is dit verdoemend teen die
verweerder. Beide die verweerder
en sy vader het getuig dat die
bestuurder se deur aan die verweerder se voertuig nie kon oopmaak
nie. Die verweerder het gesê
dat sy vriendin eers uit die
voertuig geklim het en hy daarna.
Me Pieterse getuig
dat die verweerder se vriendin hom gevra het om terug te klim in die
voertuig omdat die versekering sal verval
indien hy nie in die
voertuig is nie. Dit is gevolglik nie onwaarskynlik dat sy weer kon
terugklim in die voertuig nie.
Die foto's wat
ingehandig is as bewysstuk "B" is deur Van Dyk senior
behandel en baseer hy sy standpunt dat die verweerder
se voertuig aan
die regter voorkant getref is op die skade wat op die foto's
uitgebeeld is. Op vrae van die hof het mnr Van Dyk
senior toegegee
dat die afruk van die sierrooster en stamper van die verweerder se
kar die verbuiging van metaal van links na regs
op die kar kon
meegebring het. Dit is gevolglik ook nie onmoontlik dat die
verweerder se voertuig net gedeeltelik in 'n draai-beweging
was toe
dit regs voor getref is en skade aan die hele voorkant aangerig is
met Freitag se kar wat links van die pad af beweeg nie.
Dit verleen
sterk waarskynlikheid in die guns van Freitag se weergawe.
Freitag was 'n goeie
getuie. Daar bestaan geen rede waarom sy getuienis in twyfel getrek
moet word nie.
Soos reeds gesê
kon Du Plessis weinig bydra behoudens die feit dat daar nie 'n
voertuig uit die parkeerterrein van Presleys
voor Freitag inbeweeg
het nie.
Me Pieterse was 'n
goeie getuie. Die feit dat sy met die verweerder se vriendin gepraat
het word bevestig deurdat sy weet waar die
vriendin se ouers
woonagtig is. Op die waarskynlikhede en op die manier waarop me
Pieterse dit oorgedra het is ek tevrede dat sy
wel met die verweerder
'n gesprek gevoer het en dat hy aan haar gesê het dat hy nie
die ligte of die kar van Freitag sien
aankom het nie.
Die verweerder self
se getuienis was nie goed nie. Hy is geneig om te spekuleer en om
aannames te maak op nie-bestaande feite. Sy
spekulasie en aanname is
ter ondersteuning van homself. Ek het ook reeds gewys op aspekte wat
nie aan die eiser se getuies gestel
is nie. Ek dink nie dat die
verweerder noodwendig opsetlik getuienis versin nie maar dat hy
aannames en spekulasie aanbied asof
dit feitelike getuienis is.
Mnr Van Dyk senior
kon die saak nie werklik verder neem nie. Veral foto "Bl"
is versoenbaar met die eiser se saak.
Namens die
verweerder is gesê dat daar 'n belangrike deel van die
getuienis namens die eiser is wat nie verklaar kan word
nie en dit is
dat beide Freitag en me Pieterse gesê het dat die grootste
skade aan die linkerkant van die kar was. Natuurlik
sou dit 'n
aanduiding wees dat die verweerder reg voor Freitag se voertuig
inbeweeg het as dit waar was. Wat egter wel vasstaan
is dat daar aan
die passasierskant van die kar 'n eerste impak was nie. Dit wil lyk
asof die botsing tussen die twee voertuie met
hulle regter voorkante
was op 'n manier wat die totale voorkant van die verweerder se
voertuig beskadig het en panele na regs uitgedruk
het.
Op die
waarskynlikhede bevind ek gevolglik dat die eiser bewys het dat die
verweerder na regs beweeg het in die baan van aankomende
verkeer en
die botsing aldaar plaasgevind het.
Vonnis w'ord ten
gunste van die eiser toegestaan soos volg:
1. Die verweerder
word gelas om 'n bedrag van R135 212.28 aan die eiser te betaal.
2. Die verweerder
word gelas om rente op die bedrag in 1 hierbo te betaal teen die
koers van 15.5% per jaar vanaf 10 Augustus 2007.
synde datum van
betekening van die dagvaarding.
3. Die verweerder
word gelas om die koste van die geding te betaal.
4. Die eiser word 'n
noodsaaklike getuie verklaar.
W J VAN DER MERWE
REGTER VAN DIE NOORD
GAUTENG HOE HOF
AANGEHOOR OP:
20/11/09
NAMENS DIE EISER:
ADV VAN ONSELEN
IN OPDRAG VAN: ALEX
BOSMAN
NAMENS DIE
VERWEERDER: ADV. H VILJOEN
IN OPDRAG VAN:
SERFONTEIN PROKUREURS