Taljaard v Mulder and Another (5267/2006) [2009] ZAFSHC 5 (29 January 2009)

62 Reportability
Civil Procedure

Brief Summary

Execution — Sale in execution — Application for rescission of writ — Applicant seeking to set aside a writ of execution issued due to alleged non-payment of a settlement amount — Applicant contending that he had paid the outstanding amount as per the settlement agreement — Respondent denying receipt of payment — Court finding that the applicant provided credible evidence of payment, while the respondent failed to present any counter-evidence — Writ of execution set aside on the basis of insufficient proof of non-payment.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2009
>>
[2009] ZAFSHC 5
|

|

Taljaard v Mulder and Another (5267/2006) [2009] ZAFSHC 5 (29 January 2009)

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(ORANJE VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)
Saak nr: 5267/2006
In
die saak tussen:
JOHANNES BERNARDUS TALJAARD
Eiser
en
SHARON MARGARET MULDER
1e Verweerder
DIE BALJU VIR DIE DISTRIK WESSELSBRON
2e Verweerder
UITSPRAAK:
FISCHER,
WND R
AANGEHOOR OP:
18 en
19 MAART 2008, 22 JULIE 2008
en 10
OKTOBER 2008
GELEWER OP:
29
JANUARIE 2009
[1] Hierdie uitspraak is voorberei na ontvangs van skriftelike hoofde
van betoog deur die advokate laat in Oktober 2008 en ‘n
mondelinkse
bevestiging deur Mnr Edeling, namens eiser, laat in November 2008,
dat hy nie van voornemens was om te repliseer nie.
Die Eiser, ‘n
boer van Wesselsbron in die Vrystaat Provinsie, het ‘n aksie
ingestel teen sy gewese eggenote (die Eerste Verweerder)
asook die
Balju vir die distrik Wesselsbron (die Tweede Verweerder) waarin hy
geëis het dat ‘n lasbrief tot uitwinning van
roerende bates
wat op 12 September 2006 deur die Griffier van die Hooggeregshof van
Suid-Afrika, Vrystaatse Provinsiale Afdeling,
uitgereik is, opgehef
en tersyde gestel word.
[2] Die tersaaklike feite wat tot die uitreiking van vermelde
lasbrief en die huidige aksie aanleiding gegee het, is kortliks die

volgende. Die Eiser en Eerste Verweerder is op 13 Julie 1995 onder
saaknommer 858/1995 in die Hooggeregshof van Suid Afrika, Vrystaatse

Provinsiale Afdeling, ingevolge ‘n finale egskeidingsbevel, geskei.
‘n Akte van dading wat tussen die partye gesluit is, is
ook ‘n
bevel van die Hof gemaak. Ingevolge vermelde akte van dading is die
bewaring van die partye se twee minderjarige dogters
aan Eiser
toegeken en het Eiser ook onderneem om ‘n bedrag van R260 000.00
aan Eerste Verweerder te betaal en
wel as volg:
“
i. Die bedrag van R60 000.00 op datum van toestaan
van die finale egskeidingsbevel;
ii. Die bedrag van R200 000.00 voor of op 1 Augustus
1995. Alle betalings te geskied te kantore van die Verweerderes se
prokureurs
van rekord, Mnre. Symington & De Kok, p/a Tweede
Vloer, NBS Gebou, Elizabethstraat, Posbus 760, Bloemfontein. Indien
enige
van die betalings voormeld nie stiptelik geskied sal die volle
balans uitstaande onmiddellik opeisbaar en betaalbaar wees.
”
[3] Eiser het, ingevolge die bepalings van voormelde akte van dading,
die bedrag van R60 000.00 deur middel van ‘n banktjek op
13 Julie
1995 aan die prokureursfirma Symington & De Kok oorhandig.
Volgens Eerste Verweerder het Eiser versuim om die balans
van R200
000.00 ingevolge die bepalings van die akte van dading voor of op 1
Augustus 1995 te betaal, welke versuim aanleiding
gegee het tot die
uitreiking van ‘n lasbrief tot uitwinning van roerende bates op 12
September 2006 (dit wil sê meer as
elf jaar nadat voormelde
balans, ingevolge die egskeidingsbevel soos saamgelees met die akte
van dading, opeisbaar en betaalbaar
geword het). Op 23 November
2006, en na aanleiding van ‘n aansoek wat deur Eiser geloods is
onder saaknommer 4742/2006, het
Beckley R, by ooreenkoms tussen die
partye, gelas dat hangende die uitslag en finale beregting van die
huidige aksie vir tersydestelling
en opheffing van die lasbrief tot
uitwinning van roerende goedere, die lasbrief, onder andere,
opgeskort word. Eiser het daarna
die huidige aksie ingestel en is
dit sy saak dat voormelde uitstaande balans van R200 000.00 inderdaad
op of omtrent 1 Augustus
1995 aan sy gewese eggenote, die Eerste
Verweerder hierin, betaal is en dat daar derhalwe geen grondslag
bestaan vir die uitreiking
van die lasbrief nie.
[4] Die Eerste Verweerder het op haar beurt gepleit dat die
uitstaande balans van R200 000.00 voor of op 1 Augustus 1995 aan die

kantore van Symington & De Kok Prokureurs uit hoofde van die
bepalings van die kontrak [
sic
] tussen die partye, betaal moes
word en dat dit tot op datum van uitreiking van die lasbrief, nog nie
betaal is nie.
[5] Die Eiser asook mnr. Dawid Jacobus Strauss (Strauss), ‘n
bankamptenaar huidiglik in die diens van Absa Bank en mnr. Allen

George Robert Reid (Reid), ‘n afgetrede bankamptenaar het namens
Eiser getuienis afgelewer. Van belang in hierdie verband is
dat geen
getuienis deur en/of namens Eerste Verweerder afgelê is nie
behalwe vir ‘n kort beëdigde verklaring ter opponering
van die
aansoek onder saaknommer 4742/2006 waarin daar, in ooreenstemming met
die verweerskrif, ‘n algehele ontkenning vervat
word. Dit is
gemene saak tussen die partye dat Tweede Verweerder geen belang by
die saak het nie. Ek sal later terugkeer na hierdie
belangrike
besluit/versuim aan die kant van Eerste Verweerder aangesien dit
verband hou met die relevante bewysmaatstaf en die
waarskynlikhede.
[6] Die getuienis van die Eiser kan kortliks soos volg saamgevat
word. Hy is ‘n sakeman en boer van beroep van die distrik van

Wesselsbron en was vir 15 jaar met die Eerste Verweerder getroud.
Daar is twee minderjarige dogters, te wete Vanessa en Nicolene
uit
die huwelik tussen die partye gebore en is die partye op 13 Julie
1995 geskei. Ingevolge ‘n akte van dading wat tussen die
partye
aangegaan is, is die bewaring van die twee minderjarige dogters aan
Eiser toegeken terwyl hy terselfdertyd onderneem het
om voormelde
bedrae op voor of op die datums soos vermeld aan Eerste Verweerder te
betaal. Die eerste betaling van R60 000.00
het inderdaad op datum
van egskeiding geskied by wyse van ‘n banktjek terwyl die
uitstaande balans van R200 000.00 daarna
en voor of op 1 Augustus
1995, en weereens per banktjek aan Eerste Verweerder betaal is.
Hierdie getuienis stem ooreen met die
bewerings soos vervat in die
besonderhede van vordering asook die beëdigde verklaring ter
ondersteuning van voormelde vroeëre
aansoek.
[7] Die feite en omstandighede wat tot die betaling van voormelde
balans aanleiding gegee het is buitengewoon en van wesenlike
belang
aangesien hierdie Hof van mening is dat daar wesenlike stawing vir
Eiser se weergawe hierin te vinde is. Volgens Eiser
was hy besig om
mielies te stroop en het hy op datum van egskeiding nie oor voldoende
kontantfondse beskik om Eerste Verweerder
ten volle te betaal nie.
Hy was voor en na die egskeiding besig om mielies te stroop en het hy
van die mielies vir kontant by
sekere silo’s afgelewer. Een van
die kopers, ene mnr. Engelbrecht, het aan Eiser ‘n kontanttjek ten
bedrae van R300 000.00
oorhandig, welke tjek Eiser by sy eie
bank, die destydse Volkskas Bank te Wesselsbron, gereël het om
onmiddellik te laat wissel.
Hy het daarna die kontantopbrengs
daarvan in ‘n sogenaamde bewaringskluis in voormelde bank gebêre.
Volgens Eiser het
Strauss, die gewese rekenmeester van die destydse
Volkskas Bank te Wesselsbron, hom kort daarna geskakel met die
versoek dat Eiser
die voormelde kontantbedrag aan die bank beskikbaar
stel omrede die bank op daardie stadium ‘n kontanttekort gehad en
Strauss
bewus was van die kontant waaroor Eiser beskik het. Strauss
self het later getuig dat die bank op daardie stadium ‘n beperking

gehad het op die hoeveelheid kontant wat die bank in sy eie kluis kon
aanhou en dat die bank boeterente daarop aan die Reserwebank
sou moes
betaal indien die beperkings van tyd tot tyd oorskry word. Die Hof
sal hierinlater kortliks met Strauss se getuienis
in hierdie verband
handel.
[8] ‘n Banktjek ter waarde van R200 000.00 is daarna en op versoek
van Eiser, deur Strauss ten gunste van of prokureurs Symington
&
De Kok, alternatiewelik Eerste Verweerder getrek en ook onder andere
deur Strauss onderteken. Eiser kon nie pertinent onthou
aan wie die
tjek uitgemaak is nie maar het toegegee dat hy 80% daarvan oortuig
was dat die tjek inderdaad ten gunste van voormelde
prokureursfirma
uitgemaak is soos bedoel in terme van akte van dading. Die tjek is
volgens Eiser na ‘n kassiere in dieselfde
bank geneem waar dit
“
inbetaal
” is. Strauss het later in hierdie verband
getuig oor die presiese wyse waarop daar met hierdie tjek gehandel is
en sal die Hof
hierinlater kortliks met hierdie relevante stukkie
getuienis handel.
[9] Eiser het daarna nie weer van Eerste Verweerder in verband met
die beweerde uitstaande balans gehoor nie tot en met die ontvangs
van
die lasbrief deur middel van Tweede Verweerder op 26 September 2006
nie.
[10] Wat Eerste Verweerder se persoonlike omstandighede betref het
Eiser getuig dat sy voor die egskeiding op ‘n dag van haar

persoonlike besittings ingepak het en sonder waarskuwing die
gemeenskaplike woning op die plaas verlaat het terwyl die twee
minderjarige
dogters in Eiser se sorg agtergelaat is. Volgens Eiser
het Eerste Verweerder haar intrek in ‘n meenthuis in Bloemfontein
geneem,
die woning met nuwe meublement gemeubileer, ‘n nuwe BMW
motor aangekoop, later ‘n groot vyf-slaapkamer woning betrek en ook

‘n afleweringsbesigheid begin. Eerste Verweerder het etlike maande
later Eiser geskakel met die versoek om haar met die aankoop
van
buitebande vir een van die besigheid se voertuie behulpsaam te wees
omrede sy nie oor voldoende fondse beskik het nie. Eiser
het maande
daarna verneem dat die besigheid inderdaad tot niet is. Eerste
Verweerder het ook intussen getrou met ene mnr. Mulder
wat, volgens
Eiser self nie ‘n vermoënde man was nie. Eiser het sy
getuienis in hoof daarna afgesluit met besonderhede
oor die
identiteit van individue, bankamptenare en instansies by wie hy
navraag gedoen het oor die beskikbaarheid van die nodige
dokumentêre
bewys van betaling van die balans van R200 000.00,
aangesien sy eie dokumentasie nie meer beskikbaar
was nie. Dit is na
bewering onder andere in ‘n brand en na aanleiding van ‘n inbraak
by sy huis verloor. Dit blyk dat verskeie
bankamptenare insluitende.
Strauss geen brondokumente, vanweë die verloop van tyd kon
opspoor nie. Ook nie Eiser se eie boekhouer
nie.
[11] Die kruisondervraging deur mnr. Grobler het grotendeels gefokus
op die vraag oor of die tjek ten gunste van prokureurs Symington
&
De Kok uitgemaak en oorbetaal is, alternatiewelik Eerste Verweerder.
Eiser het by herhaling bevestig dat hy sowat 80% daarvan
oortuig was
dat die tjek inderdaad aan die prokureursfirma oorbetaal is en indien
nie dan wel aan sy gewese eggenote. Dit blyk
dat hierdie mondelingse
weergawe tot ‘n groot mate ooreenstem met dit wat vervat is in
Eiser se verklaring ter ondersteuning
van die vroeëre aansoek
soos vermeld. Ek is van mening dat die kruisondervraging van mnr.
Grobler nie as sulks Eerste Verweerder
se saak enigsins verder geneem
het nie en dat Eiser as ‘n geloofwaardige getuie oorgekom het.
[12] Strauss, die voormalige rekenmeester van die destydse Volkskas
Bank te Wesselsbron (nou Absa Bank), het getuig dat hy die
partye
goed geken het en dat hulle op ‘n stadium huisvriende was. Hyself
was geskok oor die skielike verbrokkeling van die huwelik
en die wyse
waarop Eerste Verweerder, sonder waarskuwing, die gesamentlike woning
verlaat het. Hy staaf grotendeels die weergawe
van Eiser in soverre
dit betrekking het op die kontantvoorskot aan die bank uit Eiser se
bewaringstrommel en die daaropvolgende
trekking van die banktjek ten
bedrae van R200 000.00. Strauss kon ook nie pertinent onthou ten
gunste van wie die tjek uitgemaak
is nie behalwe dat hy goed kan
onthou dat die einste tjek met die partye se egskeiding en
skikkingsakte verband hou. Strauss het
in detail verduidelik wat met
die tjek daarna gebeur het en dat dit in of die rekening van of
prokureurs Symington & De Kok,
alternatiewelik Eerste Verweerder
by hulle eie bank gedeponeer was aangesien dit deur die normale
kanale deur die banksisteem gevoer
is. Hy getuig dat hy, vanweë
te bank se interne kontrole, enige probleem en/of wanbetaling van die
relevante tjek sou opgespoor
het indien die tjek nie deur een van die
vermelde nemers ontvang en gedeponeer is nie.
[13] Van verdere belang wat Strauss se getuienis betref is dat Eerste
Verweerder hom persoonlik ‘n maand of twee voordat die
lasbrief
uitgereik is, en gedurende 2006, geskakel het en uitdruklik gevra het
of daar nog bewyse bestaan aldan nie van die betaling
van voormelde
bedrag van R200 000.00. Hy het teenoor haar bevestig dat hy nie
sodanige bewyse kon opspoor nie waarop die gesprek
beëindig is.
Eerste Verweerderes se eggenoot, mnr. Mulder het Strauss kort daarna
ook geskakel om te bevestig dat daar inderdaad
geen verdere
dokumentêre bewyse van betaling bestaan nie. Strauss het dit
nie nodig geag om hierdie gesprekke met Eiser
op te neem nie en die
volgende wat hy van die aangeleentheid verneem het is toe die Eiser
hom geskakel het oor die onverwagte lasbrief
en die moontlike bestaan
van dokumentêre bewyse van betaling. Strauss het sy getuienis
in hoof afgesluit deur te bevestig
dat hyself, as gevolg van die
verloop van tyd en na verskeie pogings, geen bewyse kon opspoor nie.
[14] Tydens kruisondervraging deur mnr. Grobler namens Eerste
Verweerder het Strauss die volgende te sê gehad oor die
lasbrief:
“
Dit was vir my snaaks gewees want ek weet ons het
die geld inbetaal. Dit was vir my ... ek was stomgeslaan eintlik.
”
[15] Daar bestaan geen ooglopende rede waarom Strauss nie die ware
feite, soos wat hy dit kan onthou, sou aanpas en/of verdraai
nie en
het die Hof die indruk gekry dat ook hierdie getuie as geloofwaardig
beskou kan word. Sy onvermoë om na die verloop
van elf jaar te
onthou ten gunste van wie die tjek getrek is, doen geensins afbreek
aan sy geloofwaardigheid nie.
[16] Reid, ‘n afgetrede uitvoerende beampte van Absa Bank, het, met
verwysing na ‘n dokument, synde bewysstuk “C” wat deur
middel
van hom ingehandig is, getuig. Hierdie bewysstuk blyk ‘n afskrif
van bankstate van die destydse Volkskas Bank te Wesselsbron
te wees
welke inligting klaarblyklik datainligting uitmaak wat vanaf ‘n
rekenaar bekom is. Mnr. Grobler het namens Eerste Verweerder
beswaar
gemaak teen hierdie getuienis aangesien dit, volgens hom, op hoorsê
getuienis neerkom. In hierdie verband het mnr.
Grobler die Hof
verwys na die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies, Wet 25
van 2002. Hierdie Hof het te kenne gegee
dat die getuienis
voorwaardelik toegelaat sou word en dat die Hof later oor die
toelaatbaarheid daarvan aldan nie sou besluit.
Reid het getuig dat
daar, volgens die inligting soos vervat in bewysstuk “C”, ‘n
banktjek in die bedrag van
R200 000.00 getrek is
te Volkskas Bank Wesselsbron, aan ‘n ander ongeïdentifiseerde
bank vir betaling aangebied is
en dat hierdie tjek inderdaad op 2
Augustus 2005 ten gunste van ‘n ongeïdentifiseerde nemer
uitbetaal is. Hy het verduidelik
dat wanneer ‘n kliënt (soos
in hierdie geval Eiser), ‘n banktjek versoek, die betrokke bank
sodanige tjek dan sal trek
en die bank se eie tjekrekening krediteer
waarna dieselfde rekening later gedebiteer sal word wanneer sodanige
tjek vir betaling
deur die nemer daarvan aangebied word. Hy het
verder getuig dat ‘n banktjek altyd gekruis word as synde nie
oordraagbaar nie
en dat so ‘n tjek ook nie andersins oor die
toonbank verhandel kan word nie. Die betrokke banktjek sou alleenlik
ontmoet word
deur betaling deur een bankinstansie aan ‘n ander
soortgelyke instansie en dat daar met veiligheid aanvaar kan word dat
die R200
000.00 alleenlik tot krediet van die nemer van die betrokke
tjek uitbetaal is.
[17] Hierdie Hof het klaarblyklik ‘n diskresie om sodanige
getuienis toe te laat. Indien die bepalings van artikel 15 van
voormelde
wet saamgelees word met artikel 3(1)(c) van die
Wysigingswet op Bewysreg, Wet 45 van 1988 blyk dit dat ‘n hof met
inagneming
van die bepalings en omstandighede soos daarin vervat,
sodanige getuienis kan toelaat indien die Hof van oordeel is dat die
getuienis
in die belang van geregtigheid toegelaat behoort te word.
[18] Reid is nie gekruisondervra nie en daarna het Eiser sy saak
gesluit. Mnr. Grobler het, na ‘n kort verdaging, Eerste Verweerder

se saak ook gesluit sonder om enige getuienis aan te bied en dit ten
spyte van verskeie stellings tydens kruisondervraging oor
wat Eerste
Verweerder sou kom getuig het. Ek is van mening dat, inaggenome
verskeie relevante faktore soos byvoorbeeld die onbetwiste
feitelike
agtergrond wat aanleiding gegee het tot die trek van die tjek, die
betrokkenheid van die bank en meer spesifiek die getuie
Strauss, die
tydsverloop alvorens ‘n lasbrief uitgereik is en ten laaste die
feit dat Eerste Verweerder nie kom getuig het nie,
dit beslis in die
belang van geregtigheid is dat Reid se getuienis asook die inhoud van
bewysstuk “C” toegelaat behoort te
word en word dit aldus
toegelaat.
SIEN
:
Maize Board v Hart
2005 (5) SA 480
(O) te 487 H –
489 G
[19] Die advokate is dit eens dat Eiser die bewyslas dra en dat hy
alleenlik sou kon slaag met sy saak indien hierdie Hof op ‘n
oorwig
van waarskynlikhede oortuig is dat Eiser se weergawe van die feite
(synde betaling van die bedrag van R200 000.00) die waarskynlikste
in
die omstandighede blyk te wees.
SIEN
:
Pillay v Krishna & Another 1946 (AD) 946 te 952
en 955
SIEN OOK
:
Vermaak v Parity Insurance Co. Ltd (in
liquidation)
1966 (2) SA 312
(W) te 3146
[20] Uit die getuienis moet daar ‘n afleiding omtrent die
geskilpunte gemaak word, naamlik was daar betaling aldan nie en moet

die afleiding noodwendig standhoudend met al die bewese feite wees.
Die afleiding wat gemaak word moet die waarskynlikste afleiding
wees
soos Selke R dit in
Govan v Skidmore
1952 (1) SA 732
(N) te 734 C
– D
gestel het:
“
... In finding facts or making
inferences in a civil case, it seems to me that one may, as Wigmore
conveys in his work on Evidence
…, by balancing probabilities
select a conclusion which seems to be the more natural, or plausible
conclusion from amongst several
conceivable ones, even though that
conclusion be not the only reasonable one.
”
SIEN OOK
:
Sasria
Ltd v Slabbert Burger Transport (Pty) Ltd
[2008] ZASCA 73
;
2008 (5) SA 270
(SCA) te
272 J – 273 A
[21] Die Eiser, asook die twee getuies wat namens hom kom getuig het,
het ‘n goeie indruk op hierdie Hof gemaak en inaggenome
die
omstandighede van hierdie saak en veral die tydsverloop kan hierdie
Hof geen rede vind om hulle getuienis te verwerp nie.
[22] Mnr. Grobler het namens Eerste Verweerder aangevoer dat
aangesien Eiser geen getuienis, dokumentêr of andersins,
aangebied
het dat die gelde in die rekening van of prokureurs
Symington & De Kok, alternatiewelik Eerste Verweerder inbetaal is
nie,
eiser hom derhalwe nie van sy bewyslas gekwyt het nie. Hierdie
argument moet egter oorweeg word in die konteks van nie alleenlik

Eerste Verweerder se versuim om self te kom getuig nie maar ook die
onbetwiste weergawe van Eiser soos gestaaf deur die twee getuies

Strauss en Reid. Die volgende is veral belangrik in hierdie verband:
(1) Prokureurs Symington & De Kok was te alle tersaaklike
tye
die prokureurs van rekord namens en ten behoewe van Eerste Verweerder
en sou, inaggenome die bepalings van die akte van dading,
nog op
rekord gewees het op 1 Augustus 1995 synde die relevante sperdatum
vir betaling; (2) Die akte van dading se relevante bepaling
het
pertinent gestipuleer dat indien betaling nie stiptelik geskied “
sal
die volle balans uitstaande onmiddellik opeisbaar en betaalbaar
wees
”; (3) Geen stappe hoegenaamd is deur die prokureurs na
verval van die sperdatum geneem nie; (4) Hierdie Hof moet aanvaar
dat,
in die afwesigheid van getuienis tot die teendeel, Eerste
Verweerder op hoogte van haar regte ingevolge die akte van dading
moes
gewees het; (5) Die Eerste Verweerder het, vir redes wat nooit
aan hierdie Hof openbaar is nie, eers meer as elf jaar nadat die

balans opeisbaar en betaalbaar geword het, regstappe geneem; (6) Die
uitreiking van die lasbrief is voorafgegaan deur twee telefoonoproepe

aan die bankamptenaar Strauss, welke oproepe, in die omstandighede,
verdag voorkom; (7) Eerste Verweerder het klaarblyklik te
alle
tersaaklike tye finansieel swaar gekry; (8) Die afwesigheid van
beskikbare dokumentêre bewyse is in die omstandighede

verstaanbaar en nie onwaarskynlik nie; (9) ‘n Banktjek ten bedrae
van R200 000.00 is inderdaad in omstandighede gewissel wat
ooreenstem
met die waarskynlikhede en ook as sulks geloofwaardigheid aan Eiser
se saak verleen.
[23] In die omstandighede bevind hierdie Hof dat die Eiser, wat die
bewyslas dra, in die omstandighede, daarin geslaag het om ‘n

weerleggingslas op die Eerste Verweerder te plaas. Dit volg dat
Eerste Verweerder die plig gehad het om te sorg dat daar geen
oorwig
ten gunste van Eiser bly staan aan die einde van die saak nie. Om
dit anders te stel, die gevolgtrekking wat Eerste Verweerder
gepleit
het, naamlik dat daar nie betaling plaasgevind het nie moes dus
minstens net so waarskynlik wees as die gevolgtrekking
wat Eiser
gepleit en getuienis oor gelewer het naamlik dat betaling inderdaad
plaasgevind het.
[24] Die beskikbaarheid van bewysmateriaal soos byvoorbeeld
brondokument wat betrekking het op die oorspronklike betaling raak

nooit die bewyslas ten opsigte van hierdie vraag nie maar raak wel
die mate van bewysmateriaal wat ‘n party moet voorlê
om aan
die maatstaf te voldoen.
SIEN
:
Inyati Resources Ltd v Thorne
1984 (2) SA 551
(C) te
564 A – D
[25] Hierdie Hof bevind dat Eiser as bewyslasdraer getuienis en
bewyse gelewer het wat in die besonderse omstandighede van hierdie

saak ‘n antwoord van wesenlikheid geverg het en dat hierdie
getuienis in die afwesigheid van weerleggende getuienis, afdoende

bewys daarstel van die geskilpunt soos gepleit deur Eiser. Sien
Ex
parte Minister of Justice: In re R v Jacobson and Leavy
1931 AD 466
te 478
waar Appèlregter Stratford dit soos volg gestel
het:
“
If
the party on whom lies the burden of proof, goes as far as he
reasonably can in producing evidence and that evidence “calls
for
an answer” then, in such case, he has produced prima facie proof,
and, in the absence of an answer
from the other side, it becomes
conclusive proof …
”.
[26] Hierdie Hof bevind, in die omstandighede, dat Eerste Verweerder
op waarskynlikhede die balans van R200 000.00 voor of op 1
Augustus
2005 ontvang het. Gevolglik word die volgende bevel gemaak:
Die lasbrief tot uitwinning van roerende bates in saaknommer
858/1995 gedateer 17 Augustus 2006 en uitgereik op 12 September
2006
word opgehef en tersyde gestel.
Eerste Verweerder word gelas om die koste van hierdie aksie te
betaal wat insluit die koste van die aansoek onder saaknommer

4742/2006 soos vervat in die hofbevel gedateer 23 November 2006.
_____________________
P.U. FISCHER, WND R
NAMENS DIE
EISER:
Adv. W.J. Edeling
In opdrag van:
Mnre E G
Cooper Prokureurs
BLOEMFONTEIN
NAMENS DIE 1e
VERWEERDER:
Adv. S
Grobler
In opdrag van:
Mnre McIntyre & Van
Der Post
BLOEMFONTEIN