Van Der Sandt en 'n Ander v Padongelukfonds (11775/04) [2009] ZAGPPHC 97 (22 July 2009)

62 Reportability
Personal Injury Law - Road Accident Fund

Brief Summary

Delict — Damages — Motor vehicle accident — Claim for damages arising from injuries sustained by passenger — Defendant admitted liability for 90% of proven damages — Dispute over future loss of earnings and general damages — Court found that plaintiff had suffered significant injuries affecting future earning potential — Expert testimony considered in determining appropriate compensation — Plaintiff's claim for administrative costs of any award also addressed.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: North Gauteng High Court, Pretoria
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: North Gauteng High Court, Pretoria
>>
2009
>>
[2009] ZAGPPHC 97
|

|

Van Der Sandt en 'n Ander v Padongelukfonds (11775/04) [2009] ZAGPPHC 97 (22 July 2009)

IN DIE HOOGGEREGSHOF
VAN SUID AFRIKA
(NOORD GAUTENG,
PRETORIA)
Saaknommer: 11775/04
Datum
aangehoor:28/04/2009
Datum van uitspraak:
22/7/2009
NIE
RAPPORTEERBAAR
In
die saak tussen
:
W.F.S. VAN DER
SANDT EERSTE EISER
J.J.
VAN DER SANDT TWEEDE EISER
en
PADONGELUKFONDS VERWEERDER
________________________________________________________________
UITSPRAAK
________________________________________________________________
DU
PLESSIS R:
Op
31 Augustus 2002, toe hy 17 jaar oud was, was die tweede eiser as
passasier in ‘n motorbotsing betrokke. Saam met hom in
die
voertuig was drie van sy vriende. Al drie die vriende is as gevolg
van die botsing oorlede terwyl die tweede eiser beseer is.
Die
eerste eiseres is die tweede eiser se moeder. Die twee eisers het
teen die verweerder aksie ingestel vir skadevergoeding voortspruitend
uit die tweede eiser se beserings.
Die
eerste eiseres se eis is tussen die partye afgehandel en hierdie
uitspraak handel dus slegs met die tweede eiser se eis. Ek
sal na
hom as die eiser verwys. Die verweerder het toegegee dat dit vir 90%
van die eiser se bewese skade verantwoordelik is. Die
verweerder het
voorts reeds aan die eiser ‘n sertifikaat ingevolge art.
17(4)(a) van die
Padongelukkefondswet
,
55 van 1996
aangebied vir sy toekomstige mediese koste. Die aanbod is aanvaar.
In die loop van die verhoor het die partye ooreengekom dat die
eiser
as gevolg van sy beserings reeds R170 000 verlies aan verdienste gely
het. Dit is nie in geskil dat die eiser as gevolg van
die botsing in
die toekoms verdere verlies aan verdienste sal ly nie, maar die
omvang daarvan is in geskil. Verder is die omvang
van die eiser se
eis vir algemene skadevergoeding ook nog in geskil. Daar is nog ‘n
geskilpunt: die eiser voer aan dat die
verweerder moet betaal vir die
administrasie van enige toekenning wat aan hom gemaak word.
Die eiser self, sy
moeder, sy suster, sy swaer en sy toesighouer by die werk het namens
hom feitelike getuienis gegee. Die verweerder
het geen feitelike
getuienis aangebied nie. Vir die eiser het sewe en vir die
verweerder twee deskundiges getuig. Uiteindelik verskil
die partye
egter nie wesenlik oor wat die eiser se beserings en die gevolge
daarvan is nie. Wat algemene skade betref, verskil hulle
oor die
gepaste bedrag. Wat die eiser se toekomstige verlies aan verdienste
betref, verskil die partye oor sy potensiaal voor die
botsing. Die
eiser voer aan dat hy waarskynlik gr. 12 of ‘n soortgelyke
kwalifikasie sou behaal het en dat sy potensiële
verdienvermoë
voor die botsing daarvolgens beoordeel moet word. Die verweerder
voer aan dat die eiser waarskynlik nie tot gr.
12 sou gevorder het
nie. Alhoewel hulle dit nie eens is oor hoe gebeurlikhede dit sal
affekteer nie, is die partye dit eens oor
wat die eiser se huidige
verdienpotvermoë is. Hulle verskil egter oor die ouderdom
waarop hy waarskynlik vanweë sy beserings
sal moet aftree. Die
eiser voer aan dat hy waarskynlik op 50-jarige ouderdom reeds sal
moet aftree terwyl die verweerder dit op
60 stel.
In
die lig van die relatief beperkte geskilpunte vind ek dit onnodig om
die getuienis in die geheel op te som. Ek is van voorneme
om die ter
saaklike feite soos dit uit die getuienis blyk chronologies weer te
gee en om, soos ek aangaan, op geskille te wys.
Voor
die botsing
Die
eiser is op 12 Februarie 1985 gebore. Deskundiges wat hom na die
botsing getoets het, is dit eens dat hy gemiddeld tot hoog-gemiddeld
intelligent is en dat dit waarskynlik voor die botsing dieselfde was.
Fisies was hy voor die botsing heeltemal gesond.
Oor die eiser se
laerskoolloopbaan is daar min objektiewe feite voor die hof geplaas.
Toe hy in ongeveer gr 1 en 2 was, het sy ouers
huweliksprobleme gehad
maar daar is geen getuienis dat dit die eiser op ‘n manier
geraak het wat tans ter sake is nie. Daar
is getuienis dat hy in die
loop van sy laerskoolloopban sielkundig geëvalueer is omdat hy
in die skool baie woelig was. Dit
het van die deskundiges laat
wonder of hy dalk afwykend aandag-afleibaar of hiperaktief is. Sy
moeder het egter getuig dat die sielkundige
destyds vir haar gesê
het daar skort niks met die eiser nie. Vir die huidige doeleindes
moet dus, by gebrek aan verdere getuienis,
aanvaar word dat daar
inderdaad in daardie opsig niks met die eiser geskort het nie.
Opgesom moet op die getuienis aanvaar word
dat die eiser binne
normale perke op laerskool presteer het. Uit sy eie en sy moeder se
getuienis blyk dit dat die eiser reeds van
baie jongs af ‘n
entoesiastiese rugbyspeler was en op laerskool goed in die sport
gevaar het.
Die eiser is ‘n
lang, atleties geboude persoon. Op hoërskool in Stilfontein,
waar die gesin gewoon het, het hy aan verskillende
sportsoorte
deelgeneem, maar hy het veral op rugby gekonsentreer. Sy moeder het
getuig dat hy ‘n besonder talentvolle rugbyspeler
was. Hy is,
het sy getuig reeds in gr 9 vir die skool se eerste span gekies. Hy
het ook ‘n meriete-toekenning en later erekleure
vir rugby
gekry. Sy het getuig dat hy ook tot in die derde rondte van die
proewe vir die O/19 span van die Noord-Wes provinsie deurgedring
het
en dat ‘n klub hom genooi het om vir hulle te gaan rugby speel.
Die eiser se suster het in breë trekke beaam dat
hy op
hoërskool goed rugby gespeel het, maar sy het gesê dat hy
nie vir die skool se eerste span gespeel het nie. Die
eiser se swaer
het getuig dat hy saam met die gesin na die eiser se rugbywedstryde
gaan kyk het, maar hy kon nie sê vir watter
span of in watter
posisie die eiser gespeel het nie. Die eiser self het getuig dat hy
van laerskool af goed rugby gespeel het.
Nadat hy in gr. 8 en 9 vir
toepaslike ouderdomspanne gespeel het, het in gr. 10 vir die eerste
span gespeel. Hy het, soos sal blyk,
gr 10 gedruip. Die tweede jaar
in gr 10 het hy ook eerste span gespeel. Hy wou toe vir ‘n
klubspan gaan speel omdat hy gehoor
het hulle kort spelers. Origens
het die eiser sy moeder se getuienis oor sy rugbyloopbaan beaam.
Ten spyte van sy
intellektuele vermoëns, het die eiser op hoërskool
akademies swak gevaar. In 1999, toe hy in gr 8 was,
was sy
gemiddelde punte 38,63%, in 2000 (gr 9) was dit 31,75% en in 2001
(gr.10) was dit 28,32%. Hy het gr 10 gedruip en dit in
2002 begin
herhaal. Aan die einde van die tweede termyn van 2002, kort voor die
botsing is hy egter uit die skool uit. Die eiser
se jonger broer,
Dawie, en ‘n vriend wat by die gesin loseer het is saam met die
eiser uit die skool uit. Die drie het as
kelners by Norman’s
Pub & Grill gaan werk en ten tye van die botsing het die eiser
nog daar gewerk.
Die eiser se moeder het
getuig dat sy self matriek geslaag het, verpleegkundige opleiding
gehad het en ook relatief senior administratiewe
poste beklee het.
Sy het op ‘n stadium haar eie besigheid gehad. Sy het verder
getuig dat die eiser se vader ook gr12 (st
10) geslaag het, maar daar
is op die getuienis onsekerheid daaroor. Vir sommige deskundiges is
gesê dat hy st 8 geslaag het.
Mnr Van der Sandt het in die
mynbedryf gewerk, ondermeer as hyser-operateur en tegnikus. Die
eiser se ouer suster het gr 12 geslaag
en sy het daarna verdere
in-diensopleiding gehad. Die laaste lid van die gesin, die eiser se
broer, het tot gr 9 op skool gevorder.
Wat die eiser se
skoolverlating betref, het hy, sy moeder en sy suster getuig dat hy
uit die skool is om op rugby te konsentreer met
die oog daarop om
uiteindelik professioneel rugby te speel. Die gemelde getuies het
verder gesê dat hy van plan was om na
sy skoolverlating gr 12
of ‘n soortgelyke kwalifikasie deeltyds aan ‘n tegnikon
te verwerf. Vir daardie doel het sy
saam met hom gegaan om
inskrywingsvorms vir die tegnikon te kry. Toe mev Van der Sandt in
kruisverhoor uitgevra is oor die eiser
se besluit om die skool te
verlaat, het dit geblyk dat sy en haar eggenoot nie met die besluit
tevrede was nie maar “om verdere
konflik te vermy”
toegestem het. Die eiser se suster, Karin, het ook getuig dat sy
ouers nie wou hê hy moet die skool
verlaat nie, maar dat hy
hulle oortuig het met ‘n belofte dat hy deeltyds sou gaan
studeer vir gr 12. Die eiser self het bevestig
dat hy uit die skool
uit is omdat hy op rugby wou konsentreer. Dit het egter ook uit sy
getuienis geblyk dat hy dissipline-probleme
gehad het: Onderwysers
het hom aangesê om agter in die klas te gaan sit omdat hy in
elk geval nie aandag gee nie. Hy het getuig
dat hy gevind het
onderwysers wil hom nie help nie.
Die eiser wou op die
langer termyn ook sport sy loopbaan maak deur professioneel af te rig
of met sport-beserings te werk. Sy ander
belangstelling was kook en
die gasvryheidsbedryf was ook vir hom ‘n opsie.
Volgens die feitelike
getuienis was die eiser voor die botsing hoegenaamd nie aggressief
nie. Inteendeel, hy was die vredemaker in
die gesin en volgens sy
moeder ‘n “soentjies en drukkies persoon”. Hy was
gewild onder sy skoolmaats en hy was
nie bakleierig nie. Hy was ook
lief vir lees en het ‘n wye leessmaak gehad.
Dit sal later blyk dat
die eiser sedert die botsing dwelms gebruik. Mev Van der Sandt het
getuig dat sy baie seker is dat hy nie
voor die botsing dwelms
gebruik het nie. Die eiser self en sy suster het dit beaam alhoewel
laasgenoemde getuig het dat sy van een
keer weet wat hy met dwelms
geëksperimenteer het. Uit die verslae van sommige deskundiges
blyk dit dat die eiser wel moontlik
voor die botsing dwelms gebruik
het. Omdat daar geen verdere getuienis van dwelmgebruik voor die
botsing is nie, gaan ek voort op
die grondslag dat die eiser
waarskynlik nie voor die botsing dwelms gebruik het nie en dat hy
hoogstens daarmee geëksperimenteer
het.
Die
botsing, die beserings en die korttermyn gevolge
Die
eiser is aan die einde van Julie 2002 uit die skool uit. Die botsing
het omtrent ‘n maand daarna, in die vroeë oggendure
op 31
Augustus, plaasgevind terwyl die eiser en sy vriende van die werk af
op pad was.
Dit is nie meer in geskil
dat die eiser die volgende beserings opgedoen het nie:

n
Sagteweefselbesering van die regteroog;
snywonde
aan die voorkop en aan die kant van die kop, albei binne-in die
haarlyn;

n
oop fraktuur van die linker hakskeenbeen;

n
perforasie van die dunderm;

n
fraktuur aan die werwelkolom op die T9/T10 vlak;
frakture
aan die L3-werwel, insluitende ‘n kompressiefraktuur van die
werwel self;

n
diskusskeur op die L2, 3 en 4 werwelvlakke;
ligte
tot matige harsingskudding wat waarskynlik ‘n ligte tot matige
verspreide breinletsel tot gevolg gehad het;
verskeie
skraap- en kneuswonde en ‘n sagteweefselbesering van die
linker elmboog.
Met die botsing is die
eiser uit die motor geslinger. Hy is per ambulans na ‘n
hospitaal in Klerksdorp toe geneem. Hy het
baie pyn gehad en was
rusteloos tot die mate dat ‘n antipsigotiese middel sowel as ‘n
susmiddel toegedien is. ‘n
Breinskandering is gedoen wat
getoon het dat die brein geswel was. Die eiser is teater toe geneem
waar die fraktuur van die hakbeen
met twee skroewe geheg is, sy wonde
versorg en toegewerk is en die perforasie van die dunderm herstel is.
Daarna was die eiser vir
omtrent een dag in intensiewe sorg. Na sy
ontslag uit die intensiewe sorgeenheid was hy tot 12 September in ‘n
gewone saal.
Na sy ontslag uit die
hospitaal is die eiser, wat nog vir groot dele van die dag bedlêend
was, tuis in ‘n leefkamer versorg.
Hy het erge hoofpyn,
rugpyn, buikpyn en pyn in die hakskeen gehad. Die eiser en sy moeder
het getuig dat die pyn so erg was dat
hy, benewens voorgeskrewe
pynstillers, letterlik honderde pynpille per week geneem het. Die
eiser se huisdokter het hom na ‘n
neurochirurg in Pretoria, dr
Nel, verwys. Dr Nel het aan die begin van Oktober 2002 ‘n
fusie van die L2, 3 en 4 werwels gedoen.
In die proses is ‘n
been-oorplanting ook gedoen. Na die fusie het die eiser eers met ‘n
rolstoel en toe met krukke
beweeg. Hy was teen Maart 2003 weer op
die been.
Na
die botsing
Die eiser se moeder het
getuig, en hy het bevestig, dat hy na die botsing soos handomkeer
verander het. Hy was, anders as voor die
botsing, erg depressief,
opvlieënd, angstig en asosiaal. Hy kon nie genoeg konsentreer
om ‘n boek te lees nie. Hy het
gebeure nie altyd akkuraat
weergegee nie. Die feitelike getuies het hierdie waarnemings met
voorbeelde toegelig.
In ongeveer Maart 2003 is
die eiser van die leefkamer af terug na sy eie kamer toe. Hy was toe
depressief tot die mate dat hy sy
hele kamer swart gemaak het en self
swart klere gedra het omdat dit is hoe hy gevoel het. Hy het hom
vir lang tye in die kamer
afgesonder. Hy was ontoepaslik aggressief
en as hy hom vererg het, het hy uit die geselskap gestorm. Soms het
hy deure stukkend
geslaan en soms het hy buite teen ‘n slaansak
gaan slaan. Verskeie deskundiges het in hulle verslae gemeld dat sy
hande stukkend
was soos wat hy voorwerpe geslaan het. Toe hy begin
uitgaan het, het hy ook, anders as voorheen, in vuisgevegte betrokke
geraak.
Kort nadat hy weer begin
uitgaan het, het die eiser uitermatig drank begin gebruik. Hy het
ook dwelms gebruik. Sy moeder het getuig
dat hy dagga, mandrax,
Exstacy en selfs heroïne gebruik het. Volgens die eiser self
het hy dagga begin gebruik maar het hy
slegs kortstondig met elkeen
van mandrax en Exstacy geëksperimenteer. Die getuienis is
voorts dat die eiser in omtrent Februarie
2008 sy drankgebruik beter
begin beheer het. Hy het sy gebruik van dagga tot omtrent twee maal
per week verminder. Die eiser se
getuienis was onbetwis dat hy die
dagga begin gebruik het omdat pynpille onvoldoende was en hy gevind
het dat dit vir die pyn help.
Sedert die botsing tot
aan die begin van 2008 het die eiser ‘n besonder swak
werkrekord gehad. Hy het meer as tien betrekkings
gehad en die werk
telkens vir baie kort tydjies gehou. Daar is geen patroon in sy
werksrekord in die sin dat hy in ‘n bepaalde
rigting geneig het
nie. Die eiser se swaer het ‘n besigheid gehad wat
elektroniese toerusting installeer het. Op versoek
van die eiser se
suster het sy swaer, mnr Jan le Roux vir hom werk aangebied. Die
eiser het by sy swaer en suster in die huis gaan
woon. Mnr Le Roux
het getuig dat die eiser ‘n besonder swak werknemer was. Hy
wou nie altyd opstaan om werk toe te gaan nie.
Hy was onbetroubaar
en het soms eenvoudig verdwyn in plaas daarvan om sy werk te doen.
Dit is egter ook so dat mnr Le Roux getuig
het dat die eiser op
daardie stadium, ongeveer 2006, maklik vriende gemaak het en met Jan
en alleman geselsies aangeknoop en gekuier
het. Die eiser het ook
saans tot laat rondgekuier. Na drie maande is die eiser by sy swaer
weg, en laasgenoemde het getuig dat
hy hom nie weer sal werk gee nie.
Aan die begin van 2008
het die eiser aansoek gedoen vir werk by ‘n
sekuriteitsonderneming wat uitgang- en toegangbeheer by
die
Klerksdorpse depot van ABI, ‘n koeldrankverspreider, behartig.
Die eiser se direkte toesighouer, mnr Rossouw, het getuig
dat die
werk eintlik ‘n gr. 12 kwalifikasie vereis. Die eiser het,
vals soos dit nou blyk, voorgegee dat hy gr. 10 geslaag
het maar hy
het so goed tydens die werksonderhoud en voorlopige toetsing gedoen
dat hy die werk nogtans gekry het. Die eiser werk
12 uur skofte,
drie dae dagdiens, drie dae nagdiens en dan is hy drie dae af.
Skofte duur van 06h00 tot 18h00 en andersom.
Die werk behels dat die
eiser saam met ‘n ander beampte in ‘n kantoor sit.
Wanneer vragmotors vol koeldrank by die perseel
uit moet gaan, stap
die eiser sowat 40 tree tot by die vragmotor en dan teen ‘n
skuins loopvlak op tot min of meer op die hoogte
van die vragmotor se
bak. Hy tel dan die koeldrank wat op die vragmotor is en vul die
besonderhede op vorms in. Soms is dit nodig
dat hy kratte moet
verskuif om behoorlik te kan tel en af en toe moet hy pakke met
plastiek-gebottelde water dra. Vir laasgenoemde
taak kan hy trollies
gebruik, maar die eiser het getuig dat hy dit onnodig vind. As die
eiser die vragmotor klaar nagegaan het,
lewer hy die vorms by ‘n
nabygeleë kantoor af en dan gaan hy terug na sy kantoor toe waar
hy vir die volgende vrag wag.
Op wesenlik dieselfde manier gaan die
eiser vragte van inkomende vragmotors na. Mnr Rossouw het getuig dat
die besige tye by die
hek van 05h00 tot 07h30 in die oggend en van
omtrent 14h00 in die middag is wanneer vragmotors onderskeidelik
uitgaan en begin terugkom.
Tussenin is daar min te doen en dan sit
die eiser meestal rekenaarspeletjies en speel. Die eiser self het
getuig dat hy genoeg
tyd het om dan te studeer. Daar is egter besige
tye, veral in Desember, wanneer die eiser vir agt tot tien ure besig
is.
Mnr Rossouw het ook
getuig dat hy al by herhaling die probleem gehad het dat die eiser
laat kom vir werk. Dit het daartoe gelei dat
hy aan die eiser ‘n
finale skriftelike waarskuwing gegee het wat ten tyde van die verhoor
reeds verstryk het. Die eiser het
ook al by herhaling sy werk
nalatig gedoen en daarvoor het hy ook ‘n finale waarskuwing
gekry wat ten tye van die verhoor nog
hangende was. Volgens mnr
Rossouw het die eise al meermale by rusies met kollegas betrokke
geraak. Volgens Rossouw het hy egter
nog nooit ondervind dat die
eiser teenoor sy meerderes aggressief is nie. Een maal het hy wel
geweier om bykomende werk sonder bykomende
betaling te doen.
In die algemeen blyk dit
uit die feitelike en ook uit die deskundige getuienis dat die eiser
tans minder depressief is, minder angs
het en sy aggressie beter
beheer. Die feit dat hy tans ‘n vaste verhouding met ‘n
jong dame het dra volgens die getuienis
tot sy groter stabiliteit by.
Hy het egter nog nie psigoterapie ondergaan nie. Volgens hom het hy
nog steeds hoofpyn, rugpyn, buikpyn
en pyn in die hakskeen.
Langtermyngevolge
van die beserings
Die verweerder het die
deskundige verslag van dr Birrel, ‘n ortopediese chirurg,
erken. Daarvolgens het die eiser waarskynlik
vir sowat vyf tot sewe
dae na die botsing akute pyn gehad en vir omtrent ses tot agt dae
matige pyn. Nadat hy die fusie ondergaan
het, sou die eiser weer vir
omtrent vier tot vyf dae akute pyn gehad het. Dr Birrell aanvaar die
eiser se klagte dat hy steeds kroniese
hoof-, rug- en nekpyn verduur.
Sy hak gee ook las. Dr Birrel is van mening dat die probleem met die
hak verlig kan word indien ‘n
knop op die hak chirurgies
verklein word.
Volgens dr Birrel is die
eiser se deelname aan sport drasties ingekort en is rugby buite die
kwessie. Die eiser sal rug- en nek-higiëne
moet toepas en sal
nie swaar voorwerpe kan optel nie.
Dr Birrel meen dat die
eiser sowat 15% van sy verdienvermoë verloor het. Die verlies
sal egter algaande vergroot. Mettertyd
sal hy nie alleen die
chirurgie aan die hakskeen benodig nie, maar waarskynlik ook verdere
chirurgie aan die werwels omliggend aan
die fusie. Op die lang duur
sal die eiser nie werk wat lang ure van staan, loop en buk behels kan
doen nie. Hy sal nie werk kan
behartig wat die optel van swaar
voorwerpe behels nie. Indien die eiser werk doen wat heeldag loop of
staan behels en wat verg dat
hy hoegenaamd goed optel, sal hy
waarskynlik nie langer as ouderdom 50 kan werk nie. As hy ligte werk
kan vind wat nie optel, lang
ure staan en loop en baie buk behels
nie, kan hy tot ouderdom 60 werk.
Alhoewel dit nooit
pertinent namens die verweerder erken is nie, kan aanvaar word dat
die ligte tot matige harsingskudding wat die
eiser opgedoen het, tot
‘n ligte tot matige verspreide aksonale breinbesering
aanleiding gegee het. Dit beteken, soos ek die
neurochirurg dr Du
Plessis verstaan, dat alhoewel geen breinbesering gelokaliseer kan
word nie, aanvaar moet word dat die brein se
vermoë om
senuprikkkels te verwerk en oor te dra, êrens ingekort of op
die een of ander manier aangetas is.
Dr
Du Plessis het wel die harsingskudding in sy aanvanklike verslag
gemeld maar nie die breinbesering nie. In sy getuienis namens
die
eiser het hy verduidelik dat hy die bestaan van die besering
hoofsaaklik daarvan aflei dat die eiser kort na die botsing psigoties
opgetree het en dat X-strale getoon het dat sy brein geswel was. Dat
die eiser psigoties opgetree het, lei die dokter daarvan af
dat hy
kort na die botsing ‘n anti-psigotiese middel saam met ‘n
susmiddel toegedien is, iets wat nie normaalweg gedoen
word nie. Die
spraakheelkundige, dr Guy, het gevind dat die eiser
woordvindignsprobleme het en is van mening dat dit die gevolg
van ‘n
breinbesering is. Alhoewel sy mening meestal op mededelings van die
eiser en sy moeder gebaseer is, was die psigiater,
dr Shevel, ook van
mening dat die eiser simptome toon van ‘n breinbesering. Dr
Mazabow, ‘n neuro-sielkundige het op
grond van kliniese
waarneming, psigometriese toetse en mededelings oor die eiser se
gedrag ook tot die gevolgtrekking gekom dat die
eiser so ‘n
besering het. Ek moet daarop wys dat die deskundiges dit eens was
dat so ‘n breinbesering hoofsaaklik op
grond van omringende
getuienis gediagnoseer kan word.
Dr
Mazabow het verduidelik dat die eiser as gevolg van sy beserings uit
‘n neuro-sielkundige oogpunt hoofsaaklik
twee
soorte gevolge ervaar: psigies en kognitief. Psigies ervaar hy
depressie en angs maar hy ly nie aan ‘n post traumaties
stres
afwyking nie. Daardie simptome is reeds grootliks onder beheer en
kan met psigoterapie verder onder beheer gebring word.
Die
breinbesering het kognitiewe inkortings te weeg gebring. Die eiser
het ‘n verminderde vermoë om impulse te beheer
en om te
konsentreer. Dr Mazabow het ook ‘n verminderde vermoë om
uit sy foute te leer genoem, maar dit is eintlik ‘n
simptoom
van die genoemde twee probleme. Gedragsgewys manifesteer die
inkortings in ontoepaslike aggressie, impulsiewe optrede soos
bv om
laat te kom net omdat hy op die oomblik nie lus voel om op te staan
nie. Die eiser kan wel impulse beheer, maar tog kan die
verminderde
vermoë daartoe ernstige sosiale gevolge inhou. Spesifiek wat sy
werk betref, het die arbeidsterapeut, me Randall,
daarop gewys dat hy
maklik sy werk kan verloor omdat hy nie noukeurig is nie. Dr Shevel
het daarop gewys dat ‘n mens die eiser
se eie getuienis
versigtig moet oorweeg omdat hy, juis vanweë sy inkortings nie
altyd insig in sy probleme sal toon nie. Die
kans dat die gevolge
van die inkortings met terapie sal verbeter is “guarded”
het dr Mazabow getuig.
Verlies
aan verdienvermoë
Die bedryfsielkundiges,
mev Donaldson en mnr Wessels, het ‘n gesamentlike verslag
geskryf. Daarin het hulle sekere punte van
verskil en ook punte van
ooreenkoms uiteengesit. Wat laasgenoemde betref, het die partye die
korrektheid van die twee deskundiges
se eenstemmige mening aanvaar.
Teen daardie agtergrond is dit nie in geskil dat die eiser se
verdienvermoë deur sy beserings
en die gevolge daarvan ingekort
is nie. Oor die mate van inkorting en dus die omvang van die eiser
se gevolglike skade is daar egter
nie eenstemmigheid nie. Vir redes
wat later sal blyk, kon die partye egter aktuariële berekeninge
aan die hof voorlê
wat, afhangende van die hof se bevindings,
gekapitaliseerde waardes van die eiser se verdienste weergee,
eerstens asof die botsing
nie plaasgevind het nie en, tweedens, in
die lig van die botsing se gevolge.
In
die lig van die voorgaande is dit dus gepas om in hierdie geval die
eiser se verlies aan verdienvermoë te bepaal deur die
gekapitaliseerde inkomste na die botsing af te trek van die een wat
die posisie weergee asof die botsing nie plaasgevind het nie.
Albei
die gemelde syfers is natuurlik onakkuraat. In ‘n poging om
vir die wis en die onwis voorsiening te maak, moet die syfers
verstel
word. Soms word dit gedoen deur van die verskil tussen die twee
syfers ‘n persentasie vir gebeurlikhede af te trek
of so ‘n
persentasie daar by te tel. Vir redes wat sal blyk, meen ek dat die
onsekerhede wat op die eiser se verdienvermoë
voor die botsing
ingewerk het wesenlik verskil van dié wat nou daarop inwerk.
Gevolglik is ek van voorneme om die gebeurlikhede
voor die botsing
afsonderlik van dié na die botsing te oorweeg. (Vgl.
Southern
Insurance Association Ltd v Bailey NO
1984 (1) SA 98
(A)
op 116A
tot 117H;
Botha en ‘n Ander v Santam Bpk
. (
Corbett
and Honey
, Vol V, B4-39 op 44 en 45)
Verdienvermoë
voor die botsing
Die
kerngeskil oor die eiser se verdienvermoë voor die botsing is of
hy ‘n kwalifikasie gelykwaardig aan graad 12 op skool
(geriefshalwe sal ek na so ‘n kwalifikasie as “matriek”
verwys) sou behaal het as dit nie vir die botsing was nie.
Die
bedryfsielkundiges, mev Donaldson en mnr Wessels, het albei getuig en
uiteenlopende menings daaroor uitgespreek. Mev Mills
vir die
verweerder, ‘n opvoedkundige sielkundige, het ook ‘n
mening uitgespreek. Die deskundiges se menings oor wat
waarskynlik
is, is natuurlik van hulp. Op die ou einde is dit egter die hof se
funksie om op die getuienis, insluitende die deskundige
getuienis, te
beslis of die eiser bewys het dat hy waarskynlik matriek sou geslaag
het.
Die
vraag of die eiser matriek sou gemaak het hang af, eerstens van sy
intellektuele vermoëns en tweedens van sy motivering
om daardie
vermoëns aan te wend om matriek te maak. Die getuienis toon
onomwonde dat die eiser oor die intellektuele vermoë
beskik
het, en nog beskik, om matriek te slaag. Ek oorweeg dus vervolgens
sy motivering.
Die objektiewe getuienis wat lig werp op die eiser se motivering om
uiteindelik matriek te slaag is, eerstens, sy besonder swak
punte in
gr 8, 9 en veral 10. In die tweede plek is daar sy besluit om die
skool met slegs ‘n gr 9 agter sy naam te verlaat.
Hierdie
feite moet natuurlik oorweeg word in die lig van die feitelike
getuienis wat sy besluit verduidelik en die deskundige menings
oor
die besluit. Derdens moet die eiser se motivering om matriek te
slaag ook oorweeg word in die lig van omgewingsfaktore soos
sy
gesinslede se akademiese prestasies.
Dit
is ‘n deurlopende tema van die eiser se saak dat sy swak
prestasie op hoërskool deur sy rugbyprestasies verduidelik
kan
word. Alhoewel aanvaar kan word dat die eiser goed rugby gespeel het
en baie tyd daaraan spandeer het, meen ek dat hy en, veral,
sy
moeder, sy rugbyprestasies oorbeklemtoon het. Mev Van der Sandt se
getuienis dat ‘n klub hom genooi het om vir hulle te
speel is
nie korrek nie. Mev Le Roux se getuienis plaas selfs ‘n
vraagteken daaroor of die eiser inderdaad vir die skool se
eerste
span gespeel het. As die eiser se rugbyprestasies werklik
uitsonderlik was, sou die Le Roux egpaar na my mening meer
besonderhede
daarvan kon verskaf het. Ten beste vir die eiser kan
aanvaar word dat hy in gr 10 vir die eerste span van ‘n
relatief klein
hoërskool gespeel het. Dit kan ook aanvaar word
dat hy provinsiale proewe gespeel het vir ‘n toepaslike
ouderdomsgroep.
Kortweg, die eiser se rugbyprestasies was goed maar
nie so buitengewoon dat dit op sigself toon dat hy nie tyd vir
studeer gehad
het en dus sy swak prestasie verduidelik nie. In elk
geval het die eiser self gesê dat sy swak prestasie ten minste
deels
aan swak dissipline te wyte was.
Vir die redes wat ek
reeds genoem het meen ek ook nie dat die eiser bewys het dat sy
rugbyprestasies sy besluit om die skool te verlaat
ten volle
verduidelik nie. Die eiser self het die besluit gedeeltelik aan swak
dissipline toegeskryf. Die feit dat die eiser se
broer en vriend
saam met hom uit die skool is dui eerder op ‘n gebrek aan
dissipline as op ‘n oorwoë en ingeligte
besluit om ‘n
rugbyloopbaan te volg. Tot die mate dat die eiser subjektief gedink
het hy gaan hom op rugby toespits, was die
besluit om vir daardie
doel die skool te verlaat onrealisties. Die gevolgtrekking word
ondersteun deur sy ouers se teenkanting teen
die besluit.
Ek aanvaar die getuienis
van die eiser, sy moeder en sy suster dat die eiser se ouers na
aanvanklike teenstand ingewillig het dat
hy die skool verlaat op
voorwaarde dat hy deeltyds matriek maak. Ek aanvaar ook dat mev Van
der Sandt inskrywingsvorms vir daardie
doel by kolleges gekry het.
In die lig van die eiser se gebrek aan motivering en dissipline meen
ek egter dat die verwagting dat
hy verder sou studeer onrealisties
was. Alhoewel mev Van der Sandt matriek geslaag het en die eiser se
suster gr 12, meen ek nie
dat dit voldoende rede bied om te aanvaar
dat sy gesinsagtergrond self die eiser sou motiveer nie. Die
gesinsopset is nie, om dit
breed te stel, akademies georiënteerd
nie.
Dit
is korrek, soos betoog is, dat die eiser nie finaal beoordeel moet
word op grond van besluite wat hy op 17-jarige ouderdom geneem
het
nie. Aan die anderkant moet in ag geneem word dat baie
sewentienjariges met soortgelyke keuses gekonfronteer word en nogtans
die motivering en dissipline het om matriek te slaag. Na my oordeel
moet die eiser se verdienvermoë voor die botsing bepaal
word op
die grondslag dat hy waarskynlik nie matriek sou maak nie. Die
bevinding is en bly egter niks anders as ‘n, hopelik,
ingeligte
raaiskoot oor wat in die toekoms sou gebeur het as die botsing nie
plaasgevind het nie. Die moontlikheid bestaan dat die
eiser wel
matriek sou geslaag het of dat hy sonder matriek in elk geval
buitengewoon hoë vlakke van inkomste sou bereik het.
Die eiser
het in die getuiebank beïndruk as ‘n persoon met ‘n
besonder aanvaarbare voorkoms wat homself goed kan
uitdruk. Dit is
trouens ook die indruk wat verskeie deskundiges en sy toesighouer,
mnr Rossouw, van hom gekry het. Ek meen dus
dat daar by die bepaling
van die eiser se waarskynlike inkomste as dit nie vir die botsing was
nie voorsiening gemaak moet word vir
die moontlikheid dat hy beter
sou verdien as die gemiddelde persoon met ‘n gr 9 kwalifikasie.
Die
bedryfsielkundiges was dit eens, en die partye het aanvaar, dat as
die eiser nie matriek sou maak nie, sou hy, as dit nie vir
die
botsing was nie, begin werk het op die Patterson A1 of A2
posgradering. Hy sou dan gevorder het tot op die Patterson B1 of B2
posgradering. (Ter verduideliking, die Patterson posgraderings is ‘n
metode wat gebruik word om werksgeleenthede volgens aard
en inkomste
te gradeer. Vanweë die benadering wat die partye gevolg het, is
dit onnodig om in meer detail op die graderings
in te gaan.)
In opdrag van die
verweerder het die aktuaris, mnr Whittaker, met in agneming van
gewone gebeurlikhede twee berekeninge gedoen wat
nou ter sake is.
Die eiser het nie met die berekeninge twis nie. Die verskil tussen
die twee berekeninge (waarna Whittaker in sy
verslag as “Scenario
1A” en “Scenario 1B” verwys) is bloot dat daar in
die een aanvaar word dat die eiser
tot in die boonste kwartiel van
die Patterson B2 gradering sou vorder en in die ander dat hy êrens
tussen die boonste kwartiel
van B1 en B2 sou eindig. Die advokate
was dit eens dat, as bevind word dat die eiser waarskynlik nie
matriek sou gemaak het nie,
dit billik sal wees om te aanvaar dat as
dit nie vir die botsing was nie, sy gekapitaliseerde inkomste die
gemiddeld van die twee
syfers (Scenario 1A en 1B) sou wees.
Whittaker het die inkomste in sy “Scenario 1A” op R2 170
588 bereken. Die syfer
ooreenkomstig Scenario 1B is R2 260 854. Die
gemiddeld is R2 215 721.
Met sy berekeninge het
mnr Whittaker reeds voorsiening genaam vir gebeurlikehede soos
inflasie en die risiko van vroeë afsterwe.
Normaalweg sou ‘n
hof vir verdere gebeurlikhede soos werkloosheid, siekte en so meer
voorsiening maak deur van die berekende
verdienvermoë ‘n
gebeurlikheids-persentasie af te trek. Ek het egter reeds daarop
gewys dat daar ook voorsiening gemaak
moet word vir die moontlikheid
dat die eiser, as die nie vir die botsing was nie, beter sou vaar as
wat ek as waarskynlik bevind
het. Om daardie rede moet daar dan weer
‘n gebeurlikheidspersentasie bygetel word. Alles in ag genome
meen ek dat mnr De
Waal namens die eiser korrek is dat die negatiewe
en positiewe gebeurlikhede mekaar in hierdie geval uitkanselleer en
dat geen persentasie
dus afgetrek of bygetel moet word nie.
Mnr De Waal het voorts
aangevoer dat, ten einde voorsiening te maak vir die moontlikheid dat
die eiser wel matriek sal maak, die gekapitaliseerde
waarde van sy
inkomste in daardie geval ook in berekening gebring moet word. Ek
stem nie daarmee saam nie. Ek het reeds bevind
dat die eiser
waarskynlik nie matriek sou maak nie. Vir die moontlikheid dat ek
verkeerd is, is na my oordeel reeds hierbo voldoende
voorsiening
gemaak deur geen gebeurlikheid af te trek nie.
Die eiser se
verdienvermoë voordat die botsing plaasgevind het word dus
bepaal op R2 215 721.
Verdienvermoë na
die botsing
Die
bedryfsielkundiges was dit eens oor die eiser se huidige
verdienpotensiaal en gegrond daarop het die partye aan mnr Whittaker
opdrag gegee om sy huidige verdienpotensiaal te bereken. Die partye
verskil egter oor die vraag of die eiser op die ouderdom van
50 of 60
sal aftree. In hierdie verband steun die eiser op dr Birrel se
getuienis dat, as die eiser werk doen wat heeldag loop,
staan of buk
behels en wat verg dat hy hoegenaamd goed optel, sal hy waarskynlik
nie langer as ouderdom 50 kan werk nie. By oorweging
van die eiser
se aftreeouderdom moet in ag geneem word dat die bedryfsielkundiges
dit eens is dat, in die lig van sy kwalifikasies,
die eiser
waarskynlik sal meeding om werk met ‘n wesenlike komponent van
fisieke aktiwiteit of arbeid. Só beskou is
‘n
aftreeouderdom van 50 beslis ‘n moontlikheid. Aan die
anderkant is dit geen uitsonderlike prestasie, selfs vir ‘n
persoon met ortopediese tekortkominge, om tot op die ouderdom van 60
te werk nie. Dit is ook moontlik dat die eiser, vir die redes
wat ek
reeds genoem het, daarin slaag om beter te doen as om mee te ding om
werk wat fisiese arbeid behels. Dan sal hy waarskynlik
tot op die
ouderdom van 60 of selfs ouer kan bly werk. Ek meen dat mnr De Klerk
namens die verweerder se oplossing om met ‘n
aftreeouderdom van
55 te werk, gepas is.
Mnr
Whittaker het bereken dat, indien die eiser op 50 aftree, sy
gekapitaliseerde verdienste R1 225 344 is. As hy op 60 sou aftree
is
dit R1 587 721. Die gemiddeld tussen die twee is R1 406 532.50 wat
dan sy verdienste weergee op die grondslag dat hy op ouderdom
55 sal
aftree. Anders gestel, dat hy miskien op 50 en miskien op 60 sal
aftree.
Soos
met die eiser se verdienvermoë voor die botsing, moet hier ook
vir die wis en die onwis van die toekoms voorsiening gemaak
word.
Mnr De Waal het my verwys na die beslissings in
Botha en ‘n
Ander v Santam Bpk
. (
supra
) en
Coetzer v Road Accident
Fund
(TPA, saaknommer 215156/2001) en betoog dat die
gebeurlikhede in hierdie saak êrens tussen dié wat in
daardie sake toegelaat
is, val. Ek stem nie saam nie. Die sake
waarna die advokaat verwys het se feite, en in besonder die
voorsienbare gebeurlikehede,
verskil heeltemal van die onderhawige.
Ek is ook verwys na die sake van
Smit NO v The Road Accident Fund
(
C&H
, Vol V, B4-251) en
Mance v Road Accident Fund
(
C&H
, Vol V, J2-10) maar vir dieselfde rede meen ek
nie dat dit in hierdie geval leiding verskaf nie behalwe dat die sake
breë riglyne
gee van hoe gebeurlikhede aktuariële
berekeninge beïnvloed.
Die grondslag vir
Whittaker se berekeninge van die huidige verdien-potensiaal was die
ooreenkoms tussen die bedryfsielkundiges oor
watter vlakke van
verdienste die eiser sal bereik as hy optimaal op behandeling
reageer. Daardie aanname is egter aan heelwat gebeurlikhede
onderworpe.
In die eerste plek meen
die ter saaklike deskundiges dat die eiser se prognose, wat die
psigiese gevolge van sy breinbesering betref,
swak is. Daardie
gevolge, sy impulsiwiteit in besonder, kan maklik veroorsaak dat hy
sy werk verloor of dat hy nie na wense vorder
nie. As gevolg van sy
ortopediese beserings is die eiser se beroepskeuses beperk. As hy
dus sy werk verloor sal hy waarskynlik
meer as die volgende persoon
sukkel om weer geskikte werk te kry. Die gevolge van die eiser se
beserings kan ook tot gevolg hê
dat hy stadiger vorder as wat
volgens die berekeninge voorsien word.
Aan die anderkant, vir
die redes hierbo genoem, kan die eiser veel beter doen as wat verwag
word. Ek meen egter dat die negatiewe
moontlikhede wesentlik
swaarder weeg as die positiewe. Alles in ag genome sou ek van die
berekende verdienvermoë nog 30% gebeurlikhede
aftrek. Dit bring
die eiser se huidige verdienvermoë op R984 573 te staan (R1 406
532,50 – 421 959.75 (30%)).
Dit is nodig om daarop te
wys dat ek nie die eiser se dwelmmisbruik en sy oormatige
drankgebruik in ag geneem het nie. Ek het dit
nie gedoen nie omdat,
aan die een kant, daardie gewoontes van hom moontlik ongeag die
botsing na vore kon gekom het. Aan die anderkant
kan dit ten minste
gedeeltelik te wyte wees aan sy pogings om selfmedikasie toe te pas.
Die twee moontlikhede kanselleer mekaar
uit. Alhoewel sy gewoontes
dalk sy loopbaan kan beïnvloed (niemand het daaroor getuig nie)
is dit op grond van die benadering
wat ek volg eintlik ‘n
neutrale faktor.
Die partye het
ooreengekom dat die eiser reeds R170 000 verlies aan verdiendte gely
het. Met dit in gedagte word die eiser se verlies
aan verdienvermoë
as gevolg van sy beserings dus bepaal op R1 401 148 (R2 215 721 –
R984 573 + R170 000)
Algemene
skade
Ek
het die eiser se beserings, die korttermyn- en die langtermyngevolge
daarvan hierbo uiteengesit. By oorweging van die bedrag
algemene
skade moet in gedagte gehou word dat ‘n mens te make het met ‘n
atletiese jong man wat baie entoesiasties oor
sy sport was. Alhoewel
die jongste deskundige verslae daarop dui dat hy hom met sy fisiese
tekortkominge begin versoen, bly dit
so dat sy beserings ernstig
inbreuk gemaak het op sy lewensgenot en sy emosionele welsyn. Sy
ideale, realisties of nie, lê
aan skerwe. Sy fisiese vermoëns
is drasties ingeperk en hy moet met pyn saamleef. Sy breinbesering
het waarskynlik psigiese
letsels gelaat wat sy sosiale funksionering
nadelig raak. Dit lê aan die wese van psigiese letsels dat die
persoon wat dit
opdoen nie die effek daarvan goed verstaan nie wat
weer verdere nadelige effekte meebring.
Ek is in betoog verwys
na my eie beslissing in die saak van
Lyndy-Lee Green and another v
Road Accident Fund
(TPA saaknommer 30840/2000) waar algemene
skade met ‘n huidige waarde van R1 miljoen toegeken is vir
breinbeserings wat baie
ernstiger was as die eiser se beserings in
hierdie saak, en waar die gevolge ook baie ernstiger was. Ek meen
nie dat die
Green
-beslissing tans van hulp is nie. In die
beslissing van
Trublet-Raoul
(WLD saakno. 18968/04) het die
eiser breinbeserings sowel as ortopediese beserings opgedoen wat
wesenlik ernstiger was as die eiser
se beserings en waarvan die
gevolge ook meer ingrypend was. Die huidige waarde van die bedrag
wat daar toegeken is, is R817 000.
In
De Jongh v Du Pisani NO
(C&H, Vol V,J2-103) het die beserings wat die eiser opgedoen
het nogal met die huidige ooreengestem. Die gevolge van die
breinbeserings
in daardie saak was egter meer ingrypend: die beseerde
persoon (Rabe) het heelwat van die simptome ervaar wat die eiser in
hierdie
saak ervaar, sy persoonlikheid was ingrypend anders en sy
intellek is merkbaar ingekort. Ek meen dat Rabe se ortopediese
beserings
weer minder ingrypend was as die eiser s’n. Algemene
skadevergoeding met ‘n huidige waarde van R387 000 is toegeken.
In
Benjamin NO v Road Accident Fund
(C&H, Vol V, B4-205)
is die huidige ekwivalent van R535 000 toegeken vir ‘n ernstige
breinbesering met meer ingrypende gevolge
as in hierdie geval.
Mnr De Waal het betoog
dat algemene skadevergoeding van R600 000 toegeken moet word. In die
lig van die parameters wat na my oordeel
uit die bogemelde sake blyk,
is dit te veel. Vir die verweerder het mnr De Klerk aangevoer dat ‘n
bedrag tussen R400 000 en
R450 000 toegeken moet word. Teen die
agtergrond van die gemelde beslissings en die ander waarna die
advokate my verwys het, meen
ek dat R450 000 gepas is.
Die koste om die
skadevergoeding wat die eiser ontvang te administreer
In sy besonderhede van
vordering beweer die eiser dat hy as gevolg van die beserings wat hy
opgedoen het, beskerming benodig “van
enige bedrag
skadevergoeding wat aan hom toegeken mag word” (“die
toekenning”). Hy beweer verder dat die beskerming
bewerkstellig moet word “deur middel van die oprigting van ‘n
trust met die uitsluitlike doel om enige sodanige toekenning
aan die
eiser te beheer, te beskerm en te bestuur”. Gevolglik vra die
eiser in sy bedes ‘n verklarende bevel dat die
koste verbonde
aan so ‘n trust deel sal vorm van die koste betaalbaar
ingevolge die sertifikaat wat ingevolge artikel 17(4)(a)
van die
Padongelukkefondswet
uitgereik moet word. Die eiser vra ook
‘n bevel dat die beperking van 90% (d.w.s. die ooreengekome
verdeling) nie op die koste
van die trust toegepas moet word nie.
Die verweerder ontken die bewerings.
In betoog het mnr De Waal
uitgebrei op die bede dat die verweerder vir die administrasie van
die toekenning moet betaal. Aan die
hand van ‘n
konsep-trustakte en ‘n konsepbevel is betoog dat die eiser se
prokureurs gelas moet word om die trust ooreenkomstig
die konsep op
te rig. Opsommend kom die bevel wat aangevra is verder daarop neer
dat die toekenning nie aan die eiser betaal mag
word nie, maar aan
die trust betaal moet word. As die trust nie opgerig word nie, moet
die hof volgens die konsepbevel weer genader
word vir opdragte. Mnr
De Waal het betoog dat die verweerder moet betaal vir die oprigting
van die trust en vir die administrasie
daarvan vir so lank as wat
die eiser leef. Wat die administrasiekoste betref, is betoog dat dit
deel moet vorm van die art. 17(4)(a)-sertifikaat.
Die betoog was
egter dat die gemelde koste nie aan die ooreengekome verdeling van
skade onderhewig moet wees nie. Waarom dit so
moet wees, het nie uit
die betoog geblyk nie.
In sy betoog het mnr De
Klerk die verweerder bereid verklaar om te betaal vir
administrasiekoste tot ‘n maksimum gelykstaande
aan die koste
van ‘n kurator bonis. Daardie aanbod het mnr De Waal nie
aanvaar nie. Hy het trouens in aanvullende betoogshoofde
aangevoer
dat as die koste van ‘n trust nie toegestaan word nie, geen
bevel ter beskerming van die fondse wat die eiser toekom,
gemaak moet
word nie.
Mnr De Waal se betoog
was, soos ek hom verstaan het, op twee bene gegrond. Hy het betoog
dat die noodsaak om die toekenning te beskerm
die gevolg van die
eiser se breinbesering is en dus, so is betoog, deel van die
skadevergoeding waarvoor die verweerder aanspreeklik
is. Die
advokaat het egter ook betoog dat, ongeag of die eiser se onvermoë
deur sy breinbesering veroorsaak is, die verweerder
in elk geval vir
die koste van die trust moet betaal omdat die eiser “’n
kwesbare individu is van wie dit nie verwag
kan word om ‘n
substansiële toekenning na behore in sy eie belang te kan
beveilig en te bestuur nie”. Ter ondersteuning
van die
laasgenoemde betoog is die hof verwys na die beslissing in
Van
Deventer v Premier of Guateng (
C&B, Vol. V, E2-1 op 21). Ek
sal die twee bene van die betoog afsonderlik oorweeg. Ek begin met
die betoog dat die breinbesering
die beskerming van die toekenning
genoodsaak het.
Dr Du Plessis en dr
Shevel het albei gesê dat die eiser hulp met die administrasie
van die toekenning sal benodig. Ek meen
nie dat hulle daarmee bedoel
het dat dit juis die gevolg van sy breinbesering is nie, maar eerder
dat dit so is vanweë die eiser
se intellek, sy agtergrond en sy
vlak van ontwikkeling. Ek sê dit omdat nie een van die gemelde
twee deskundiges die eiser
getoets het om sy vlak van funksionering
vas te stel nie. Ek sal nogtans aanvaar dat die impulsiwiteit wat
een van die gevolge van
die breinbesering is, tot gevolg het dat die
eiser iemand sal moet kry om hom te help om die toekenning te
bestuur. Ek moet egter
dadelik byvoeg dat die meeste mense hulp en
advies moet inwin om groot bedrae geld te bestuur.
Daar is, volgens die
getuienis, met die eiser se intellek niks verkeerd nie. Daar is geen
rede om aan te neem dat hy nie self weet
dat hy hulp en advies moet
kry om die toekenning te bestuur nie. Dit staan trouens vas dat die
eiser nie handelingsonbevoeg is nie.
Opgesom is die eiser dus ‘n
persoon wat vanweë sy breinbesering moontlik sy geld by tye
onverantwoordelik sal aanwend,
maar hy is terselfdertyd ‘n
persoon wat die intellek en insig het om dit te weet.
Tydens betoog het ek vir
mnr De Waal gevra of die eiser pertinent geraadpleeg is daaroor dat
sy reg om met die geld te handel drasties
ingeperk word. Hy is nie.
Hy het ook nie pertinent tot die bevel toegestem wat sy
handelingsvryheid inkort nie. Ek meen ook nie
dat die algemene
volmag aan die eiser se prokureur om skadevergoeding te verhaal, ‘n
volmag insluit om ‘n bevel te bekom
wat die eiser se vryheid om
met sy geld te handel beperk nie.
Ek sal vir doeleindes van
die oorweging van die eerste been van mnr De Waal se betoog aanvaar
dat die koste van hulp en advies om
die eiser se toekenning te
administreer regtens die gevolg is van die versekerde bestuurder se
nalatigheid. (Vgl. oor die verskil
tussen feitelike oorsake en
regsoorsake
S v Mokgethi en Andere
1990 (1) SA 32
(A)
op 39D
en verder.) Ek meen egter dat, sonder bewys dat die eiser tot die
bevel toegestem het, die bevel nie binne die hof se bevoegdheid

nie. Vryheid van die persoon, wat vryheid van keuse insluit, is een
van die fundamentele regte wat in die
Grondwet van die Republiek
van Suid-Afrika, 1996
beskerm word (Art. 12). Met daardie reg
kan die hof inmeng as die betrokke persoon nie in staat is om self sy
eie sake te hanteer
nie of as die persoon daartoe instem. In hierdie
geval word ‘n bevel gevra wat die eiser se reg om met sy
toekenning te handel
feitlik uitsluit. Daar is geen getuienis dat hy
daartoe toestem nie en hy is ten volle handelingsbevoeg.
Daar is nog ‘n rede
waarom die bevel wat namens eiser aangevra is nie gegee kan word nie.
Op die veronderstelling dat die nodige
kousale verband bestaan
waarna ek verwys het, moes die eiser ook bewys dat die koste van juis
‘n trust kousaal aan die onregmatige
daad verbonde is, dat dit
die redelike manier is om die toekenning te beskerm. Daar is geen
getuienis voor die hof geplaas dat ‘n
trust die redelike
manier is om die toekenning te beskerm nie of dat dit selfs een van
meerdere redelike maniere is om dit te doen
nie. Dit is trouens uit
die betoë van sowel mnr De Waal as mnr De Klerk duidelik dat die
trust ‘n taamlike duur manier
is om die toekenning te
administreer. Daar is geen getuienis om aan te toon dat die eiser
nie bv. na ‘n bank of ‘n ander
finansiële
diensverskaffer toe kan gaan en daar goedkoper of selfs verniet die
nodige hulp en beskerming kan kry nie. Gevolglik,
al word aanvaar
dat die koste om die toekenning te administreer regtens deel van die
eiser se skade vorm, het die eiser nie die omvang
van daardie
skade-element bewys nie.
Die tweede been van mnr
De Waal se betoog gaan uit van die standpunt dat die breinbesering
nie die eiser se onvermoë veroorsaak
het nie maar dat hy na sy
aard in elk geval nie so ‘n groot bedrag geld effektief kan
administreer nie. In die
Van Deventer
-beslissing waarna ek
hierbo verwys het, is geredeneer dat die koste van ‘n trust in
so ‘n geval redelik is omdat “you
must take your victim
as you find him/her”. Ek meen met eerbied dat sulke koste,
waar dit nie deur die liggaamlike besering
self te weeg gebring is
nie, te ver verwyderd van die onregmatige daad is om regtens as ‘n
gevolg daarvan beskou te word.
Dit is egter nie nodig om dit te
beslis nie omdat die probleme wat ek hierbo genoem het ook in hierdie
geval in die eiser se weg
staan.
Die eiser se bede ten
aansien van die oprigting en bestuur van ‘n trust kan dus nie
slaag nie.
Koste
Die
eiser is klaarblyklik geregtig op die koste van die geding. Mnr De
Waal het egter aangevoer dat dit gepas is om die verweerder
te beveel
om koste te betaal soos tussen prokureur en kliënt, of selfs
soos tussen prokureur en eie kliënt. Ter ondersteuning
hiervan
het mnr De Waal eerstens aangevoer dat, omdat die verweerder
aanspreeklikheid vir 90% van die eiser se skade aanvaar het,
die
verweerder die hele saak moes geskik het. In plaas daarvan, het die
betoog gelui, het die verweerder bloot formalisties van
die eiser
geverg om sy skade te bewys. Aansluitend hierby het mnr De Waal in
die tweede plek daarop gewys dat die verweerder geen
aanbod by wyse
van ‘n inbetaling by die hof gemaak het nie.
By
oorweging van mnr De Waal se betoog moet natuurlik in gedagte gehou
word dat dit die hof se funksie is om geskille op te los na
die
oorweging van getuienis en argumente. Dit moet verder in gedagte
gehou word dat elke party tot ‘n geskil die reg het om
daardie
geskil deur die hof te laat bereg. Tot die mate dat die betoog
daarop neerkom dat daar in hierdie geval in werklikheid geen
geskil
was om op te los nie, kan ek nie daarmee saamstem nie. Die
kruisverhoor van die eiser se getuies deur mnr De Klerk het heelwat
nuwe insigte gebring. Dieselfde geld vir die getuienis wat namens
die verweerder aangebied is en vir die betoog wat namens die
verweerder
gevoer is. Ek meen dat dit uit die bevel wat ek beoog om
te maak blyk dat die verweerder se verweer nie sonder meriete was nie
en
ook dat die eiser nie bloot formalisties sy skade moes bewys nie.
In
die lig van sy toegewing van aanspreeklikheid kan die verweerder se
versuim om by wyse van ‘n inbetaling ‘n aanbod
te maak
inderdaad gekritiseer word. So ‘n inbetaling kon, en niemand
weet of dit sou nie, die verweerder teen heelwat koste
gevrywaar het.
In daardie sin kan gesê word dat die vereerder openbare geld
gemors het, maar dit het nie die eiser geraak
nie. Slegs as boonop
gesê kan word dat die eiser die aanbod sou aanvaar het, kan
gesê word dat hy deur die gebrek daaraan
benadeel is. In die
lig van die betoë wat ek namens die onderskeie partye aangehoor
het, meen ek in elk geval nie dat dit waarskynlik
is dat die eiser
die verweerder se aanbod sou aanvaar het nie.
Mnr
De Waal het verder daarop gewys dat ‘n gewone kostebevel die
effek sal hê dat die eiser sekere uitgawes uit sy toekenning
sal moet betaal. Dit is ‘n oorweging wat ter sprake kom as die
hof meen dat die verweerder se optrede ‘n spesiale kostebevel
verg. Dit is egter nie ‘n oorweging wat op sigself ‘n
spesiale kostebevel regverdig nie.
Alles in ag genome meen
ek nie dat ‘n spesiale kostebevel gepas is nie.
Die
eiser se advokaat het verder betoog dat sy kliënt geregtig is op
‘n bevel dat die verweerder die koste moet betaal
van alle
deskundige regsmediese verslae wat die eiser bekom het, ongeag of die
betrokke deskundige getuig het of nie. Dit is by
oorweging van die
betoog belangrik om daarop te let dat dit nie gaan om gespesifiseerde
deskundiges nie. Mnr De Waal se betoog was
dat die bevel in die
algemene terme hierbo verleen moet word sonder verwysing na wie die
deskundiges is. Dit is so dat kwalifiserende
gelde van deskundige
soms toegestaan word al het die betrokke deskundige nie inderdaad
getuig nie. Die vraag is telkens of die betrokke
kwalifiserende
gelde redelik aangegaan is. Die algemene reël is egter dat,
“(i)n the absence of any explanation, the
failure to call the
person as a witness would generally lead to the inference that the
payment of fees was not reasonably necessary.”
(
Stauffer
Chemical Co and Another v Safsan Marketing and Distribution Co (Pty)
Ltd and Others
1987 (2) SA 331
(A)
op 355E tot H;
Cassel and
Benedick NNO v Rheeder and Cohen NNO
[1991] ZASCA 25
;
1991 (2) SA 846
(A)
op 853B
tot I) Dit volg dat ‘n algemene bevel in die terme wat die
advokaat gevra het nie gemaak kan word nie. Die hof moet
immers ‘n
diskresie uitoefen voordat gelas word dat die kwalifiserende gelde
van deskundiges deur die ander party betaalbaar
is. Sonder om te
weet wie die deskundiges is en wat die aard en inhoud van hulle
verslae is, kan die diskresie natuurlik nie uitgeoefen
word nie.
Ek
is nogtans van oordeel, en mnr De Klerk het nie anders betoog nie,
dat die kwalifiserende gelde van deskundiges waarvan kennis
gegee is
dat hulle sou getuig toegelaat moet word. Die party het soos die
verhoor aangegaan het verskeie geskilpunte uit die weg
geruim en dit
het tot gevolg gehad dat deskundiges wat andersins sou getuig, nie
geroep hoef te gewees het nie. Ek meen verder dat
die kwalifiserende
gelde van deskundiges wie se verslae deur die verweerder erken is,
ook toegelaat moet word. Die name van die
betrokke deskundiges
verskyn in die bevel hieronder.
In
Mei 2007 is die saak uitgestel, ondermeer omdat dit te lank sou duur
om op die gewone verhoorrol afgehandel te word. Die koste
van die
uitstel is voorbehou, en daar is geen rede waarom dit nie die uitslag
van die saak as geheel moet volg nie.
Namens
die eiser is ook betoog dat die koste van betoogshoofde toegelaat
moet word. Die betoogshoofde wat deur mnr De Waal voorberei
is was
onteenseglik van hulp. Ek meen egter dat dit onnodige inmenging in
die funksie van die takseermeester sou wees om hom of
haar te gelas
om die koste toe te laat. Hy of sy moet eie diskresie daaroor
uitoefen. Dieselfde geld vir mnr De Waal se versoek
dat die hof die
verweerder moet gelas om die eiser se redelike vervoerkoste te betaal
vir vervoer na en van konsultasies met die
partye se deskundiges:
Daaroor moet die takseermeester beslis en ek spreek bewustelik geen
mening daaroor uit nie.
Mnr
De Waal het in terme van die konsep-bevel versoek dat die verweerder
gelas moet word om rente te betaal op die toekenning teen
15,5% per
jaar vanaf 14 dae na datum van die bevel. Die datum is ietwat later
as die datums wat deur die
Wet op die Voorgeskrewe Rentekoers, 55
van 1975
bepaal word. (Vgl. artikels 1 en 2A van die gemelde
wet.) Die koers is die voorgeskrewe een. Omdat ek nie verder oor
die rente
toegespreek is nie, gee ek aan mnr De Waal se versoek
gevolg. In ooreenstemming met die wet het mnr De Waal ook rente op
koste versoek.
Namens
die eiser het mnr De Waal versoek dat die bedrag wat aan die eiser
betaalbaar is in sy prokureurs se trustrekening inbetaal
word. Die
versoek is redelik.
In
die lig daarvan dat die verweerder aanspreeklik is vir 90% van die
tweede eiser se skade, word die volgende bevel gemaak:
Vonnis
word toegestaan teen die verweerder ten gunste van die tweede eiser
vir betaling van die bedrag van R1 666 033.20 plus rente
daarop
teen ‘n koers van 15,5% per jaar bereken vanaf 14 dae na datum
van hierdie bevel tot datum van betaling.
Die
verweerder word gelas om aan die tweede eiser ‘n onderneming
te gee ingevolge artikel 17(4)(a) van die
Padongelukkefondswet
,
56 van 1996
vir betaling van 90% van
die koste vermeld in die gemelde subartikel wat voortspruit uit die
beserings wat die tweede eiser opgedoen
het in die botsing wat op 31
Augustus 2002 plaasgevind het.
Die
verweerder word gelas om die eisers se koste te betaal welke koste
sal inlsuit:
Die
koste wat voorbehou is op 22 Mei 2007;
Die
koste van ‘n senior advokaat
Die
kwalifiserende gelde van die volgende deskundige getuies:
Me
BA Donaldson;
me
BL Purchase;
d
DA Birrell;
dr
JJ du Plessis;
dr
M Mazabow;
dr
DA Shevel;
mnr
J Truter;
me
L Randall;
dr
O Guy;
mnr
G Whittker.
dr
BL Mackenzie;
dr
P Gous;
dr
B White;
dr
B Barnetson;
Die
verweerder word gelas om rente te betaal op die koste verskuldig aan
die eisers teen ‘n koers van 15,5% per jaar vanaf
die datum 14
dae na taksasie van die koste tot datum van betaling.
Die
verweerder word gelas om die bedrag vermeld in paragraaf 1 hierbo en
die koste aan die eisers se prokureurs, Adams & Adams
te betaal
deur dit in te betaal in die prokureurs se trustrekening gehou te
Nebank, Pretoria-tak (takkode 1604 4500), rekeningnommer
1604 431
8902.
BR du Plessis
Regter
van die Hooggeregshof
Namens
die eisers: Adams & Adams
Adams
& Adams Place
1140
Prospect Street
Hatfield
Pretoria
Adv: W.P.
de Waal SC
Namens
die Verweerder: Gildenhuys Lessing Malatji inc.
2de
Vloer, Brooklyn Court
361
Veale Street
Brooklyn
Pretoria
Adv: M.C.C.
de Klerk