About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: North Gauteng High Court, Pretoria
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: North Gauteng High Court, Pretoria
>>
2009
>>
[2009] ZAGPPHC 45
|
|
Prokureursorde van die Noordelike Provinsies (Ingelyf as die Prokureursorde van Transvaal) v Van Zweel (44223/07) [2009] ZAGPPHC 45 (27 March 2009)
IN
DIE HOË HOF VAN SUID-AFRIKA
(
NOORD GAUTENG HOË HOF, PRETORIA
)
SAAK
NO: 44223/07
DATUM:
27/3/2009
NIE
RAPPORTEERBAAR
IN
DIE SAAK TUSSEN
DIE PROKUREURSORDE VAN
DIE NOORDELIKE PROVINSIES APPLIKANT
(Ingelyf
as die Prokureursorde van Transvaal)
EN
YOLANDI
VAN ZWEEL RESPONDENT
UITSPRAAK
PRINSLOO,
R
[1] Die applikant doen aansoek vir die skrapping van die respondent
se naam van die rol van prokureurs van hierdie Hof.
Die aansoek is geskoei op die voorskrifte van artikel 22(1)(d) van
die Wet op Prokureurs, Wet 53 van 1979 ("die Wet").
[2] Die tersaaklike deel van artikel 22 van die Wet lees soos volg:
"22. Iemand wat as 'n prokureur toegelaat en ingeskryf is, kan
deur die hof binne wie se regsgebied hy praktiseer van die
rol
geskrap of in sy praktyk geskors word op aansoek van 'n betrokke orde
–
(a) …
(b) …
(c) …
(d) indien die hof oortuig is dat hy nie 'n geskikte en gepaste
persoon is om voort te gaan om as prokureur te praktiseer nie."
[3] Die applikant voer aan dat die respondent haar skuldig gemaak het
aan onprofessionele, oneerbare en onbetaamlike gedrag van
so aard dat
dit 'n gepaste geval is waar haar naam van die rol geskrap behoort te
word. Dit blyk uit die aanhef van artikel 22
dat die Hof 'n
diskresie het om óf die prokureur se naam van die rol te skrap
óf die prokureur in sy praktyk te skors.
[4] Alhoewel die respondent, tereg, toegee dat sy haar aan
onbetaamlike gedrag skuldig gemaak het, voer sy aan dat die skrapping
van haar naam van die rol van prokureurs nie die mees gepaste straf
in hierdie besondere omstandighede sou wees nie.
[5] Voor ons het mnr Van Kerken vir die applikant verskyn, en
mnr Botha vir die respondent.
Die applikant
[6] Die applikant, as Prokureursorde, is 'n statutêre
beroepsliggaam wat reeds aan die einde van die negentiende eeu sy
beslag gekry het maar tans bestaan ingevolge die bepalings van
artikel 56 van die Wet.
[7] Ingevolge artikel 60 word die sake van die applikant bestuur en
beheer deur 'n Raad wat die bevoegdhede van die applikant (die
0rde)
kan uitoefen ("die Raad").
[8] Die doelstellings en bevoegdhede van die Prokureursorde word
breedvoerig in die Wet uiteengesit en behels, onder andere, doelwitte
om die prestige, status en waardigheid van die beroep te onderhou en
te bevorder, die integriteit van praktisyns te handhaaf en
voorsiening te maak vir die doeltreffende beheer oor die
professionele gedrag van praktisyns.
Die respondent
[9] Die respondent is op 1 September 1979 gebore, en is tans
29 jaar oud. Sy is getroud sedert die voorval plaasgevind
het
wat aanleiding gegee het tot hierdie aansoek.
[10] Die respondent is op 20 0ktober 2003 deur hierdie Hof as 'n
prokureur toegelaat en haar naam verskyn steeds op die rol
van
praktiserende prokureurs.
[11] Volgens haar opponerende eedsverklaring, praktiseer die
respondent vir 'n geruime tyd nie meer as 'n prokureur nie. Sedert
ongeveer Augustus 2007 werk sy as regsadviseur by 'n bekende mediese
fonds. Sy sê in haar verklaring dat sy vanaf Junie
2007
"geensins meer as prokureur van hierdie agbare hof gepraktiseer
het nie". Sy gee nie 'n duidelike aanduiding
of sy van
plan is om weer te begin praktiseer nie, en, indien wel, wanneer sy
dit sou wou doen nie.
[12] Die respondent het 'n baie indrukwekkende
curriculum vitae
by haar eedsverklaring aangeheg. Sy het vyf onderskeidings in
matriek behaal en ook haar LL.B graad met lof geslaag by die destydse
Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër 0nderwys.
[13] Die respondent het onteenseglike leierseienskappe. Sy was die
onder-hoofdogter van haar skool in Potchefstroom en het ook
op
verskeie komitees gedien terwyl sy op universiteit was. Sy het
op skool en op universiteit verskeie prestige toekennings
ontvang.
In 2001 was sy die beste student van die jaar op universiteit.
Ironies genoeg, het die huidige applikant, as Prokureursorde,
ook
toekennings aan die respondent gemaak in 2002, onder andere as die
beste student en die beste kandidaat prokureur. In 2001
was sy ook
'n uitruil-student en in daardie hoedanigheid het sy in Amsterdam
opleiding ontvang.
[14] Wat haar werksgeskiedenis betref, het die respondent vanaf Junie
2002 tot April 2004 vir 'n prokureursfirma in Pretoria gewerk.
Vanaf
Mei 2004 tot Augustus 2005 (die tyd toe sy die gewraakte oortredings
begaan het) het die respondent vir 'n prokureursfirma,
Wessels &
Genote, in Johannesburg gewerk.
Vanaf 1 September 2005 tot einde Desember 2005 was sy weer 'n
regsadviseur in Johannesburg en vanaf Januarie 2006 tot Junie
2007
was sy weer by 'n prokureursfirma werksaam. Dit was ook in
Johannesburg. Sedert Augustus 2007 werk sy vir die mediese fonds,
soos ek genoem het.
Die oortredings wat die respondent ten laste gelê word, en
wat aanleiding gegee het tot hierdie aansoek
[15] Die feite is, vir praktiese doeleindes, nie in geskil nie. Ek
voeg egter by dat van die fynere besonderhede, ten opsigte
van sekere
aspekte, ietwat vaag is.
[16] Volgens die respondent se eie relaas, vervat in 'n skrywe wat sy
op 2 September 2005 aan die applikant gerig het, in
antwoord op
laasgenoemde se navraag, het die respondent, waar sy sedert 1 Mei
2004 werksaam was as 'n professionele assistant
by Wessels &
Genote, grotendeels "versekeringsreg" sake hanteer. Daar
was egter op 'n ongereelde basis instruksies
ontvang om toe te sien
tot die registrasie van aktes. Hierdie opdragte is dan na 'n ander
firma gestuur om die nodige te doen
ten aansien van die opstel van
dokumente en registrasie van die oordrag van die eiendom.
[17] Dit blyk dat 'n gedeelte van die registrasie fooie dan oorbetaal
is aan die respondent se werkgewer se firma.
[18] Volgens die respondent het sy merendeels toegesien dat die lêers
by die aktevervaardiger afgegee word. Gedurende die
loop van Julie
2005 is 'n opdrag ontvang van 'n prokureur in Pretoria. Hy wou 'n
transportakte by die Aktekantoor in Johannesburg
laat indien.
[19] Wat verder gebeur het, vind ek in sekere opsigte ietwat moeilik
om te volg uit die respondent se skrywe, maar dit kom daarop
neer dat
sy toegesien het dat die dokumente by die kantoor van Aktes ingedien
word deur 'n sogenaamde "prep klerk".
Die
Registrateur van Aktes het die dokumente verwerp aangesien
regstellings gemaak moes word. Die dokumente is toe teruggestuur
na
die Pretoriase korrespondent wat die foute reggemaak het. Die
respondent het toe weer die dokumente vir die "prep klerk"
gegee om weer in te dien. Daarna het die "prep klerk"
die respondent telefonies geskakel, meegedeel dat die dokumente
nou
in orde is en haar versoek om die volgende dag by die kantoor van
Aktes aan te meld. Aldaar het die "prep klerk"
die
respondent na 'n sekere dame geneem "vermoedelik 'n prep klerk
of 'n aktevervaardiger" wat verskeie dokumente
by haar gehad het
en vir die respondent gevra het om op die voorblad van die "omslag"
te teken wat sy sonder om te skroom
gedoen het. Sy het deur die
bundel dokumente gegaan en ook haar handtekening op 'n ander dokument
binne in die bundel aangebring.
Die dame het toe die dokumente vir
die respondent gegee en haar 'n toonbank gewys waar die dokumente
ingedien moes word. Volgens
die respondent was sy nog nooit tevore
binne in die Johannesburgse Aktekantoor nie en was sy onder die
indruk dat die Pretoriase
prokureur "geskakel sal word om voor
die Registrateur te verskyn ten einde die dokumente te registreer".
Sy het dus
nie besef, toe sy die dokumente geteken het, dat sy
inderwaarheid die akte uitgevoer het nie.
[20] Haar werkgewer, mnr Wessels, wat aanvanklik die saak by die
applikant aangemeld het, is toe gevra om op hierdie relaas
van die
respondent kommentaar te lewer. Volgens sy brief, blyk dit dat hy,
kort nadat die respondent die akte uitgevoer het, 'n
oproep van 'n
aktevervaardiger, me Kripotos, ontvang het. Me Kripotos is
die akte uitmaker wat soms vir mnr Wessels
aktes uitvoer.
Volgens me Kripotos het sy 'n gesprek met die Registrateur van
Aktes, Johannesburg, gehad waartydens laasgenoemde
haar meegedeel het
dat die respondent se naam nie op die lys van aktevervaardigers vir
die Johannesburgse kantoor verskyn nie en
die Registrateur wou weet
of die respondent inderdaad 'n aktevervaardiger is.
[21] Mnr Wessels het die respondent met hierdie vraag gekonfronteer
waarop sy bevestigend geantwoord het. Tydens die dissiplinêre
ondersoek wat die applikant van stapel gestuur het, en waartydens die
respondent getuig het, het sy ook bevestig dat sy vir mnr Wessels
gesê het dat sy wel 'n aktevervaardiger is.
[22] Mnr Wessels het die respondent toe gevra om die hofbevel,
waarkragtens sy toegelaat is as 'n aktevervaardiger, aan hom te
toon.
Dit blyk uit die CV, waarna ek verwys het, en wat ook aan prokureur
Wessels getoon is tydens die aanstelling van die respondent,
dat sy
'n "conveyancing course" bygewoon het.
[23] Nietemin het die respondent toe aan mnr Wessels die betrokke
hofbevel getoon wat hy aanvaar het "as die ware Jakob".
Hy
het me Kripotos dienooreenkomstig ingelig en laasgenoemde het
gevra dat die respondent die formaliteite wat nodig mag
wees by die
Johannesburgse Aktekantoor met die Registrateur van Aktes nagaan en
afhandel. 0ngeveer 'n week later het die respondent
vir mnr Wessels
meegedeel dat sy nou amptelik op die lys van aktevervaardigers is.
[24] In sy brief sê mnr Wessels ook vir die applikant dat
hy van meet af onder die indruk was dat die respondent 'n
aktevervaardiger is. Die redes hiervoor was die feit dat haar CV na
die aktes kursus verwys en, baie belangrik, "vanaf omtrent
Maart
2005 het sy volgens my inligting, op ons briefhoof agter haar naam
die woord 'Conveyancer' ingevoeg".
Hierdie invoeging van die woord "Conveyancer" sou dus
etlike maande voor die "uitvoering" van die akte namens
die
Pretoriase korrespondent geskied het. Laasgenoemde voorval het eers
in Julie 2005 plaasgevind.
Ek voeg by dat dit duidelik blyk uit die briefhoof wat mnr Wessels
gebruik het toe hy op 17 Augustus 2005 aan die applikant
geskryf
het om die saak te rapporteer dat die naam "Yolandi van Zweel
LL.B (conveyancer)" duidelik op die briefhoof pryk.
[25] Die probleem is egter die volgende: die "hofbevel" wat
die respondent aan mnr Wessels getoon het, en ongetwyfeld
ook
later aan die Registrateur van Aktes, is nie 'n wettige hofbevel nie.
Dit is 'n hofbevel wat die respondent, op haar eie bekentenis,
blatant vervals het.
Wat kennelik gebeur het is dat die respondent die vervalsing
bewerkstellig het deur gebruik te maak van die hofbevel van
16 0ktober
2003 wat uitgereik is nadat sy deur hierdie hof as 'n
prokureur toegelaat is. Die vervalsing is 'n replika van die
eersgenoemde
bevel behalwe dat sy die woord "prokureur"
vervang het met die woord "aktevervaardiger". Die datum
het sy
ook verander van 16 0ktober 2003 na 20 November 2003
en die saaknommer het sy verander van 25380/2003 na 25400/2003.
Die
name van dieselfde regters wat haar as 'n prokureur toegelaat het
verskyn steeds op die vervalste hofbevel. Die hofrol vir
20 November
2003 bevat net die name van drie praktisyns wat daardie dag toegelaat
is en dit sluit nie die naam van die respondent
in nie. Die
saaknommer wat die respondent op die vervalste hofbevel aangebring
het is dié van heeltemal 'n ander saak naamlik
Standard
Bank v Letageng
.
[26] Die vervalsing moes met 'n mate van beplanning en vernuf gepaard
gegaan het: die handtekening van die griffier en selfs die
ampseël
bly natuurlik ongeskonde op die vervalsing nadat die ander
besonderhede, waarna ek verwys het, vervang is. Dit blyk
dat die
respondent nooit die oorspronklike (blou) dokument te voorskyn kon
haal nie, maar dat die afskrifte wat sy vervaardig het
oortuigend
genoeg was om mnr Wessels en die Registrateur om die bos te lei.
[27] In haar genoemde skrywe, wat die respondent aan die applikant
gerig het om kommentaar op laasgenoemde se navraag te lewer,
sê
sy die volgende nadat sy verduidelik het hoe sy die akte "uitgevoer
het":
"3.16 Gedurende die eerste week van Augustus 2005 het my
voormalige werkgewer, mnr Erich Wessels, my gekonfronteer en
gevra of ek 'n aktevervaardiger is. Ek het beaam dat ek wel 'n
aktevervaardiger is.
3.17 Mnr Wessels het my gevra om 'n sertifikaat aan hom te toon. Tot
my spyt het ek later daardie dag in 'n ondeurdagte oomblik
die
'sertifikaat' waarna u verwys in u skrywe van 22 Augustus 2005 aan
hom getoon."
[28] Mnr Wessels, tot sy krediet, het toe agter die kap van die byl
gekom nadat hy die saak verder ondersoek het. Hy sê
die
volgende in sy brief van 17 Augustus 2005 waarin hy die saak aan
die applikant rapporteer vir verdere ondersoek:
"According to a court order dated 20 November 2003 attached
hereto, it appears that Ms Van Zweel was admitted as a
conveyancer
under case number 25400/2003. She was placed on the Roll
of Conveyancers in the Johannesburg Deeds 0ffice on 2 August
2005
(confirmed on even date by 'Annette' at 011-3782224) and has
presumably since been executing Deeds.
We have been reliably informed that to date Ms Van Zweel has
failed to pass the conveyancers examination (confirmed on even
date
by your Ms Dirkie Barkhuizen).
According to your Ms Bulelwa to date no application for
admission as a conveyancer has been served on your offices.
Upon further investigation by our offices, it was confirmed by an
employee at the High Court of South Africa (TPD) that the parties
involved in the above case number 25400/2003 are in fact Standard
Bank …"
[29] Teen hierdie agtergrond sal ek poog om die misstappe wat die
respondent ten laste gelê word soos volg saam te vat:
1. Sy het oogluikend toegelaat dat haar naam vir etlike maande op die
firma se briefhoof verskyn met die titel "conveyancer"
daar
agter. Sy het geweet dat sy nie 'n akte uitmaker is nie. In die
loop van haar werksaamhede moes sy letterlik dosyne, dalk
honderde,
briefhoofde hanteer het met hierdie vals kennisgewing daarop. Sy het
niks gedoen om dit reg te stel nie. Tydens die
dissiplinêre
verrigtinge wat deur 'n dissiplinêre komitee van die applikant
hanteer is, en waartydens die respondent
getuig het, is sy oor
hierdie verskynsel gekruisvra. Haar antwoorde op die betrokke vrae
was, om die minste te sê, onoortuigend.
Sy het eers probeer
verduidelik dat daar eers 'n ander aktevervaardiger by die firma was
en toe sy naam, met sy vertrek, van die
briefhoof verwyder is, het
daar moontlik 'n fout ingetree wat die gevolg gehad het dat die
beskrywing "conveyancer" agter
die respondent se naam gebly
het. Later, na verdere kruisondervraging, het sy gesê sy weet
nie hoe dit gekom het dat die
"conveyancer" agter haar naam
geplaas is nie. Soos ek reeds vermeld het, het mnr Wessels, in sy
brief aan die applikant,
die volgende gesê:
"Vanaf omtrent Maart 2005 het sy volgens my inligting op ons
briefhoof agter haar naam die woord 'conveyancer' ingevoeg."
Daar is ook ander vae stellings gemaak tot die effek dat daar
moontlik 'n fout kon ingetree het toe die briefhoofde met 'n rekenaar
saamgestel is. Die feit bly staan dat die respondent vir etlike
maande geweet het dat daar 'n valse voorstelling op die briefhoof
verskyn en sy het nie 'n vinger verroer om dit reg te stel nie. Myns
insiens kom dit neer op oneerlike en onbetaamlike gedrag
wat nie
tuishoort by 'n prokureur nie.
2. Sy het 'n akte uitgevoer terwyl sy geweet het dat sy nie 'n akte
uitmaker is nie. Haar verduideliking van hoe dit gebeur het,
waarna
ek reeds verwys het, vind ek ewe onoortuigend. Tydens die
dissiplinêre verhoor het die respondent toegegee dat sy
alreeds
die akte eksamen geskryf en gedruip het voordat hierdie akte deur
haar "uitgevoer" is. 0p die oorweldigende
waarskynlikhede moes sy, myns insiens, besef het dat sy nie
veronderstel was om die dokument te teken nie. Ek sê dit veral
teen die agtergrond van haar onteenseglike hoë intellek en
akademiese prestasies.
Myns insiens moet hierdie "uitvoering" van die akte ook
gesien word teen die agtergrond van die feit dat sy vir etlike
maande
toegelaat het dat sy op die briefhoof beskryf word as 'n
"conveyancer". Die enigste redelike afleiding, na my
mening, is dat sy nie die beskrywing om dowe neute op die briefhoof
laat bly het nie en waarskynlik een of ander tyd van hierdie
"kwalifikasie" gebruik sou wou maak in die praktyk. Dit
het sy wel gedoen.
3. Sy het valslik teenoor minstens mnr Wessels en die
Registrateur van Aktes verklaar dat sy 'n akte uitmaker is terwyl sy
geweet het dat dit nie die geval is nie. Dit sluit aan by die
wanvoorstelling op die briefhoof. In daardie sin het die valse
voorstelling oor 'n tydperk van maande voortgeduur. Eweneens beskou
ek dit as onbetaamlike en oneerlike gedrag wat nie tuishoort
by 'n
prokureur nie.
4. 0m alles te kroon, het sy 'n bevel van hierdie hof vervals. Sy
het dit gedoen met die doel om nie alleen haar werkgewer nie,
maar
ook die Registrateur van Aktes te mislei. Deur die Registrateur te
mislei, het sy toegesien dat haar naam op die lys van
akte uitmakers
by die Johannesburgse Aktekantoor gevoeg word. Sy het eers
skuld beken toe sy gekonfronteer is met die vals
hofbevel. Die vraag
bly staan of sy met die sak patats na vore sou kom as sy nie
uitgevang is nie.
Deur die hofbevel te vervals, het die respondent haar nie alleen
skuldig gemaak aan 'n misdaad nie, maar aan skreiende oneerlikheid
wat, myns insiens, nie deur hierdie hof gedoog kan word in 'n
ondersoek van hierdie aard nie.
Enkele opmerkings oor die optrede van die respondent
[30] Die hoof tema van die respondent se saak tydens die dissiplinêre
ondersoek, en ook in haar opponerende eedsverklaring,
is dat sy
opgetree het in "'n oomblik van waansin", dat dit 'n
eenmalige voorval was en dat daar nie 'n gevaar bestaan
dat sy
hierdie gedrag sal herhaal nie.
[31] Die respondent sê die volgende tydens die dissiplinêre
verhoor:
"Ja, die akte is derhalwe verwerp. Daar is vrae gevra daaroor
en mnr Wessels het vir my gevra of gesê van die
probleem,
die akte is geteken deur my. Ek was geskok en ek het onmiddellik
gevoel iets is verkeerd en ja, ek het gereageer op
daardie vrees van
my om in die moeilikheid te wees en dat ek 'n fout begaan het en dat
ek die reputasie van die firma skade aandoen,
my eie reputasie
ongelooflike skade aandoen en ook van 'n aktevervaardiger wat al jare
lank werk doen in die Aktekantoor, aangesien
die akte ingedien is
onder Kripotos prokureurs en dit 'n merk los op hulle naam ook en dit
is wat aanleiding gegee het tot hierdie
dokument wat vervals is.
MNR MAKOBE
: So toe mnr Wessels nou u daarop gewys het, het u
maar die dokument vervals, die hofbevel of op watter stadium het u
die hofbevel
dat u 'n aktevervaardiger is, vervals?
Me VAN ZWEEL
: 0p daardie stadium
MNR MAKOBE
: 0p daardie stadium. Waarom?
Me VAN ZWEEL
: Ek het nie geweet hoe anders om die probleem op
te los nie.
MNR MAKOBE
: So u het nou voorgegee aan Wessels dat u
inderdaad 'n aktevervaardiger is?
Me VAN ZWEEL
: Ja."
[32] Teen die agtergrond van die feite van die saak, soos ek dit
geskets het, vind ek dit moeilik om hierdie getuienis van die
respondent eenvoudig te aanvaar: in haar brief aan die applikant
in antwoord op die uitnodiging om haar gedrag te verduidelik,
die
inhoud waarvan ek volledig na verwys het, gaan die respondent uit
haar pad om te verduidelik hoe sy 'n
bona fide
fout gemaak het
toe sy die akte dokumente saam met die prep klerk en die ander
dame by die kantoor van Aktes onderteken het.
Sy verduidelik hoe sy
glad nie besef het dat sy 'n fout begaan nie. As sy agterna, volgens
haar, deur mnr Wessels gekonfronteer
is met die feit dat sy bloot die
dokumente geteken het, is dit moeilik om te verstaan waarom sy nie
net verduidelik het dat dit
'n
bona fide
fout was sodat die
akte reggestel kon word en weer ingedien kon word nie. Daar is myns
insiens geen aanvaarbare verduideliking
vir haar drastiese optrede om
vol te hou daarmee dat sy 'n akte uitmaker is en om bowenal die
hofbevel te vervals om hierdie valsheid
verder te probeer onderskraag
nie.
[33] Wanneer die applikant in sy funderende eedsverklaring beweer dat
die respondent se handelinge sekere persoonlikheidsgebreke
openbaar,
reageer sy soos volg in die opponerende verklaring:
"Ek word egter deur my regsadviseurs adviseer, welke advies ek
aanvaar, dat die applikant se stelling dat my gedrag sekere
persoonlikheidsgebreke openbaar te ver gaan. Hierdie stelling van
die applikant wek die indruk dat ek gebuk gaan onder een of
ander
permanente persoonlikheidsgebrek wat, met eerbied, nie die geval is
nie."
[34] Wanneer die applikant in sy funderende verklaring die stelling
maak dat "met hierdie optrede het die respondent onberekenbare
skade aan die goeie naam van die prokureursberoep berokken en die
publiek se vertroue in die beroep geskaad", sê die
respondent in haar eedsverklaring dat die opmerking van die applikant
"in alle waarskynlikheid 'n cliché is wat
die
standpunt van die komitees van die applikant wat my optrede ondersoek
het, weerspieël, welke standpunt egter nie ondersteun
word deur
die getuienis wat aangebied is voor genoemde komitees nie".
Sy sê weliswaar dat sy hierdie opmerking
maak op advies
van haar regsadviseurs. In die repliserende verklaring word daar
namens die applikant aangevoer, tereg na my mening,
dat hierdie
opmerkings van die respondent in haar antwoordende verklaring, daarop
dui dat sy nie die erns van haar optrede besef
nie.
[35] Vir die redes wat ek genoem het, het ek tot die gevolgtrekking
geraak dat die respondent nie in alle opsigte oop kaarte met
die Hof
gespeel het nie.
In die bekende saak van
Prokureursorde van Transvaal v Kleynhans
1995 1 SA 839
(TPA) word die volgende gesê op 853G H:
"Uit die aard van die dissiplinêre verrigtinge vloei voort
dat van 'n respondent verwag word om mee te werk en die nodige
toeligting te verskaf waar nodig ten einde die volle feite voor die
hof te plaas sodat 'n korrekte en regverdige beoordeling van
die
geval kan plaasvind. Blote breë ontkennings, ontwykings en
obstruksionisme hoort nie tuis by dissiplinêre verrigtinge
nie."
[36] In haar antwoordende eedsverklaring roem die respondent haar
daarop dat sy onmiddellik skuld beken het toe sy gekonfronteer
is.
Alhoewel sy moontlik 'n pluimpie daarvoor verdien, kan ek nie sien
hoe sy werklik 'n alternatief kon gehad het in die lig
van die
verdoemende getuienis waarmee sy gekonfronteer is nie.
[37] Soos ek reeds gesê het, word daar klem gelê deur die
respondent en haar regsverteenwoordigers daarop dat haar
optrede as
'n "eenmalige gebeurtenis" beskryf kan word. Teen die
agtergrond van die ware feite is dit moeilik om hierdie
verduideliking te aanvaar. Die feit is dat sy vir etlike maande
toegelaat het dat sy valslik as 'n "conveyancer" op
die
briefhoof beskryf word. Nadat sy die eerste keer gekonfronteer is
het sy nie onmiddellik die fout erken nie, maar voortgegaan
om die
hofbevel te vervals ten einde die ware toedrag van sake te verdoesel.
[38] In haar opponerende verklaring spreek die respondent ook die
volgende kritiek uit ten opsigte van die applikant se benadering
tot
die saak:
"Ek word deur my regsadviseurs adviseer dat die inhoud van
aanhangsel YVZ7 geensins enige aanduiding bevat dat die Raad soos
die
Dissiplinêre Komitee voor dit, enige van die aangebode
versagtende omstandighede enigsins eers oorweeg het, alternatiewelik
behoorlik oorweeg het nie. Alle aanduidings is egter dat die Raad
maar slegs blindelings uitvoering verleen het aan een of ander
onwrikbare beleid."
Myns insiens openbaar hierdie opmerkings, op sigself, 'n ernstige
gebrek aan goeie insig aan die kant van die respondent en 'n
gebrek
aan begrip vir die funksies en verpligtinge van die applikant as die
professionele bestuursliggaam.
Aanhangsel "YVZ7" is 'n oorskrif van die finale verrigtinge
wat voor die volle Raad gedien het op 16 Julie 2007
toe die
besluit geneem is, en aan die respondent oorgedra is, om hierdie
aansoek te loods.
[39] Die prosedure wat deur die applikant gevolg is, is dat die
respondent eers voor die Dissiplinêre Komitee gedaag is waar
sy
skuldig gepleit het op twee klagtes naamlik dat sy valslik haarself
voorgedoen het as 'n akte uitmaker en ook dat sy die hofbevel
vervals
het. Na 'n volledige verhoor het die Dissiplinêre Komitee toe
besluit om die saak na die Raad te verwys vir uitsluitsel
in terme
van reël 101 van die applikant se Reëls.
[40] Die volledige Raad het toe sitting geneem oor die saak op
16 Julie 2007. Volgens die notule was die sitting bygewoon
deur
die president, twee vise presidente, twaalf lede van die Raad en vier
lede van die direktoraat.
Na behoorlike bespreking en besinning, het die Raad toe besluit om
hierdie aansoek te loods.
Ek meen dit is vanpas om op hierdie stadium te verwys na geykte
gesag wat daarop dui dat die howe as 'n re
ë
l
groot waarde heg aan die besluite en uitsprake van 'n professionele
liggaam wat by statuut aangestel is om die sake van 'n sekere
professie te orden. Sien bv
De La Rouviere v SA Medical
& Dental Council
1977 1 SA 85
(NPD) op 97E H.
[41] Tydens die verrigtinge voor ons, het ons ook die saak (blykbaar
tot nog toe ongerapporteer) van
The Law Society of the Cape of
Good Hope v Henrietta Peter
[2006] SCA 37 (RSA) waarvan die
uitspraak gelewer is op 28 Maart 2006 met die advokate
gedebatteer.
Die jong vroulike prokureur wat onder moeilike omstandighede groot
geword het, het besluit om op haar eie 'n praktyk te begin.
Sy het
staatgemaak op ondersteuning van haar vriend wat by 'n vakbond
betrokke was. Sy het vasgebrand en kon nie haar praktyk
uitgawes en
ander onkoste betaal nie. Sy het klein bedrae geld uit verskillende
trustrekenings wanaangewend ten einde haar noodsaaklike
kostes te
dek. Sy het op haar eie opgehou met die verdoeseling van die
trustgelde en planne beraam om die gelde terug te betaal.
Sy het nie
die wanaanwending van die trustgelde met bv vals inskrywings in haar
boeke probeer versteek nie. Blykbaar het die
Hof die buitengewone
druk waaronder sy verkeer het, haar finansiële nood en ander
persoonlike omstandighede in ag geneem en
besluit om haar eerder in
haar praktyk te skors as om haar van die rol te skrap.
Elke saak moet op sy eie feite beoordeel word.
In
Malan & Another v Law Society, Northern Provinces
2009
1 SA 216
(SCA) word die volgende gesê op 221D F, ook met
verwysing na die ongerapporteerde saak van
Peter, supra
:
"
0bviously, if a court finds dishonesty, the cirumstances
must be exceptional before a court will order a suspension instead of
a
removal.
(Exceptional circumstances were found in
Summerley
and
in
Law Society, Cape of Good Hope v Peter
[2006] ZA SCA 37
and the court was able in the formulation of its
order in those cases to cater for the problem by requiring that the
particular
attorney had to satisfy the court in a future application
that he or she should be permitted to practice unconditionally.)
Where
dishonesty has not been established the position is as set out
above, namely that a court has to exercise a discretion within the
parameters of the facts of the case without any preordained
limitations."
(Ek beklemtoon.)
Die verwysing na "Summerley" is die verwysing na die saak
van
Summerley v Law Society, Northern Provinces
2006 5 SA 613
(SCA).
Gevolgtrekking
[42] Die optrede van die respondent was ongewoon, en, na my mening,
van 'n buitengewoon ernstige aard. Daar was geen aanvaarbare
verduideliking vir haar optrede om bv die hofbevel te vervals eerder
as om bloot die beweerde
bona fide
oorsig te erken sodat
die saak op daardie manier beredder kon word nie.
[43] Die respondent het haar in verskeie opsigte aan oneerlike gedrag
skuldig gemaak.
[44] Die respondent het, in haar opponerende verklaring, ernstige
aantygings teen die applikant gemaak en ongefundeerde kritiek
teen
die applikant uitgespreek. Hierdie houding dui myns insiens op 'n
gebrek aan insig.
[45] Ek is van mening dat die respondent haar skuldig gemaak het aan
onprofessionele, oneerbare en onbetaamlike gedrag wat onteenseglik
daarop dui dat sy nie 'n geskikte en gepaste persoon is om voort te
gaan om as prokureur te praktiseer nie. Die applikant het
dus myns
insiens 'n behoorlike saak uitgemaak soos bedoel in artikel 22(1)(d)
van die Wet.
[46] Wat oorbly is om te besluit of ek my diskresie moet uitoefen ten
gunste van 'n bevinding dat die respondent se naam van die
rol
geskrap moet word alternatiewelik of sy net in haar praktyk geskors
moet word. 0nder al die omstandighede is ek van mening
dat die
oneerlike gedrag van so ernstige aard is dat 'n gepaste bevel sal
wees dat die respondent se naam van die rol geskrap behoort
te word.
[47] Aangesien die respondent vir 'n geruime tyd nie meer praktiseer
nie is dit onnodig om die gebruiklike volledige bevel te maak
wat bv
slaan op die beslaglegging van lêers, die aanstelling van 'n
kurator, die nagaan van trustrekeninge, ens. Hierdie
feit het ons
met die applikant se advokaat uitgeklaar tydens die verrigtinge wat
voor ons gedien het.
[48] Dit is gepas, en geykte praktyk, dat koste in gevalle van
hierdie aard op die skaal soos tussen prokureur en kliënt ten
gunste van die 0rde toegestaan word.
Die bevel
[49] Ek maak die volgende bevel:
1. Die naam van die respondent word van die rol van prokureurs van
hierdie Hof geskrap.
2. Die respondent word gelas om haar sertifikaat van inskrywing as
prokureur aan die Griffier van hierdie agbare Hof te oorhandig.
3. Indien die respondent in gebreke sou bly om binne twee weke na
datum van hierdie bevel te voldoen aan die bepalings van
2 hierbo
word die Balju vir die distrik waarin die sertifikaat is gemagtig en
gelas om besit daarvan te neem en dit aan die Griffier van
hierdie
Hof af te lewer.
4. Die respondent word gelas om die koste van die aansoek te betaal
op die skaal soos tussen prokureur en kliënt.
W R C PRINSLOO
REGTER
VAN DIE HOË HOF
Ek
stem saam
A A LOUW
REGTER
VAN DIE HOË HOF
44223/07
AANGEHOOR
OP: 6 MAART 2009
VIR DIE
APPLIKANT: L E VAN KERKEN
IN OPDRAG
VAN: STEGMANNS INGELYF PRETORIA
VIR DIE
RESPONDENT: A BOTHA
IN OPDRAG
VAN: STRAUSS-SCHOEMAN INGELYF, PRETORIA