Pretoria Kollege v Furter en 'n Ander (A1225/2006) [2009] ZAGPPHC 11 (26 March 2009)

62 Reportability
Contract Law

Brief Summary

Contract — Breach of contract — Claim for damages — Appellants, Furter and Matlhare, sought damages from Pretoria Kollege for breach of a written agreement regarding course offerings at the Skills Campus — Respondent denied existence of any valid agreement — Court considered whether a written or oral contract was established and the implications of the respondent's conduct — Court held that the appellants had established a breach of contract and were entitled to damages as claimed.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: North Gauteng High Court, Pretoria
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: North Gauteng High Court, Pretoria
>>
2009
>>
[2009] ZAGPPHC 11
|

|

Pretoria Kollege v Furter en 'n Ander (A1225/2006) [2009] ZAGPPHC 11 (26 March 2009)

IN
DIE HOË HOF VAN SUID-AFRIKA
/ES
(
NOORD
GAUTENG HOË HOF, PRETORIA
)
SAAK
NO: A1225/2006
DATUM:
26/3/2009
NIE
RAPPORTEERBAAR
IN
DIE SAAK TUSSEN
PRETORIA
KOLLEGE

APPELLANT
EN
T
P
FURTER

EERSTE RESPONDENT
L
S
MATLHARE

TWEEDE RESPONDENT
UITSPRAAK
VAN
DER MERWE, R
Die pleitstukke in hierdie
aangeleentheid is in Afrikaans. Al die getuies het hulle getuienis in
Afrikaans afgelê. Tot die
mate wat die advokate se betoë
getranskribeer is was dit ook in Afrikaans. Behalwe vir enkele
dokumente is al die bewysstukke
in Afrikaans. Die hoofde van betoog
voor hierdie hof is in Afrikaans. Slegs die verhoorhof se uitspraak
is in Engels. Al rede wat
ek daarvoor kan sien is omdat die geleerde
waarnemende regter die uitspraak as rapporteerbaar gemerk het. Ek is
van oordeel dat
die partye in hierdie aangeleentheid geregtig is om
'n uitspraak in die taal van hulle keuse, dit wil sê Afrikaans,
te kry.
Daarom gaan ek voort om hierdie uitspraak in Afrikaans te
lewer.
Gedurende Mei 2005 het mnr T P Furter
as eerste eiser en mnr L S Matlhare as tweede eiser 'n dagvaarding
teen die Pretoria Kollege
as verweerder uitgereik ingevolge waarvan
drie bedrae skadevergoeding gevorder was naamlik die bedrae van
R1 353 957,60,
R1 080 934,80 en R111 600,00.
In wat hierna volg sal ek na die
partye verwys soos in die hof
a quo
, naamlik na die
appellant as die verweerder of Pretoria Kollege, na mnr T P Furter
as die eerste eiser of Furter en na
mnr L S Matlhare as die
tweede eiser of Matlhare.
Die dagvaarding en besonderhede van
vordering hierbo na verwys is 'n toonbeeld van hoe pleitstukke nie
opgestel moet word nie. Ek
hoef gelukkig nie daarmee te handel nie
aangesien die eisers gedurende Mei 2004 nuwe besonderhede van
vordering beteken het met
die volgende kennisgewing:
"Neem kennis dat eisers afstand
doen van alle vorige besonderhede van vordering en verskaf hiermee
eisers se gewysigde besonderhede
van vordering."
In terme van hierdie gewysigde
besonderhede van vordering vorder die eisers dan van die verweerder:
1.
betaling van die bedrag van R1 098 000,00;
2.
rente op die gemelde bedrag teen 15,5%
a tempore morae
vanaf
datum van dagvaarding tot datum van betaling; en
3.
koste van die geding.
Aangesien 'n
wesentlike vraag in hierdie aangeleentheid is of die partye met
mekaar 'n ooreenkoms gesluit het al dan nie, is dit
nodig om na die
besonderhede van vordering in 'n mate van detail te verwys.
In die besonderhede van vordering word
die volgende bewerings deur die eisers gemaak:
" 5.
0p of omtrent 1 Januarie 2001 het 'n skriftelike ooreenkoms tussen
die
partye tot stand gekom by die 'Skills Kampus' van verweerder by
die verweerder se gesiteerde adres. Verweerder is tydens die sluit

van die ooreenkoms deur mnr Theuns Steenkamp en/of me N Small
en/of mnr Nick Arnold en/of ander onbekende persone

verteenwoordig sonder dat 'n handtekening namens verweerder as
kontraksparty op die skriftelike ooreenkoms aangebring is. Die
ooreenkoms is deur werknemers van verweerder naamlik me 0'Conner
en me Landman as getuies onderteken. Die skriftelike
ooreenkoms,
hierby aangeheg as aanhangsel 'A1 tot A4', is aangeheg op die basis
dat:
5.1    Die kursusse wat
deur eisers aangebied word te die 'Skills Kampus' 'n aparte projek is
wat anders hanteer
word as die normale klasse wat deur of namens die
verweerder aangebied word te die hoof kampus.
5.2    Die eisers as
onafhanklike kontrakteurs klasse aanbied te die 'Skills Kampus' en
nie as werknemers van die
verweerder nie.
5.3    Die verweerder
die nodige klaskamers en infrastruktuur aan die eisers beskikbaar
stel om klasse aan te bied
vir ingeskrewe studente.
5.4    Behoudens
paragraaf 8 hieronder het die ooreenkoms op 1 Januarie 2001 tot stand
gekom en sou voortduur totdat
die dienste van die eisers om een of
ander geldige rede nie meer benodig sou word nie.
5.5    Die klasgelde
soos ontvang van die betrokke ingeskrewe studente tussen die partye
verdeel sal word op 'n basis
dat die eisers 60% van die netto
inkomstes ontvang, terwyl die verweerder 40% sal ontvang.
5.6    Die eisers vir
die interim tydperk elk R3 000,00 (drie duisend rand) per maand
ontvang met die verstandhouding
dat dit later verreken word wanneer
eisers hul deel van die 60% inkomstes ontvang na afhandeling van elke
ses maandelikse kursus
tydperk.
5.7    Enige ander
relevante terme van die kontrak is soos uiteengesit in aanhangsel 'A1
tot A4'.
6.
In die alternatief
Indien die hof sou bevind dat die
skriftelike ooreenkoms om een of ander rede nie geldig is nie word as
alternatief aangevoer dat
daar 'n mondelinge ooreenkoms tussen die
partye tot stand gekom het op die basis en die terme soos uiteengesit
in paragraaf 5 hierbo.
7.
Die kursusse en die inhoud daarvan sowel as die studie materiaal van

al die kursusse is deur eisers opgestel en aan studente beskikbaar
gestel.
8.
Indien die kursus op die 'Skills Kampus' suksesvol en winsgewend
gedurende die periode 1 Januarie 2001 tot 30 Junie 2001 deur eisers
aangebied word, sou die ses maandelikse kursus deur eisers vir

minstens nog drie keer aangebied word vanaf 1 Julie 2001 tot Desember
2002. Afgesien van die skriftelike ooreenkoms wat die tydsperiode
van
die ooreenkoms bepaal, het verweerder deur mondelingse mededelings
aan eisers deur mnr Theuns Steenkamp namens verweerder
'n
verwagting geskep dat die kursus tydperke verleng sal word soos
vermeld, alternatiewelik het die verwagting dat die kursus vir

gemelde tydperke sou voortbestaan stilswyend en/of by implikasie
ontstaan.
9.
Eisers het alle wesenlike en relevante bepalings van die ooreenkoms

vir die tydperk 1 Januarie 2001 tot 30 Junie 2001 nagekom. Daarenteen
het die verweerder gedurende dieselfde tydperk aan die eisers
te
kenne gegee dat verweerder nie die ooreenkoms tussen die partye soos
voormeld gaan nakom nie, welke kennisgewing uitdruklik
en/of
stilswyend en/of by implikasie of deur gedrag aan eisers oorgedra is.
10.
Weens die kennisgewing aan eisers dat die ooreenkoms nie nagekom sal
word nie,
welke kennisgewing 'n wesenlike verbreking van die
ooreenkoms is, het eisers die ooreenkoms skriftelik gekanselleer
gedurende Mei
2001.
11.
Weens die kontrakbreuk deur die verweerder soos voormeld het die
eisers gedurende
die kontraksperiode van Januarie 2001 tot Junie 2001
skade gely in die bedrag van R234 000,00 synde sestig persent
(60%) van
die netto wins van gelde ontvang van 90 ingeskrewe studente
teen R5 000,00 per student, min die maandelikse vergoeding van

R3 000,00 elk wat deur eisers ontvang is gedurende die ses
maande tydperk.
12.
Was dit nie vir die verweerder se kontrakbreuk soos voormeld nie sou
die kursus
vir minstens 'n verdere 18 maande (3 kursus tydperke van
ses maande elk) verleng word en sou eisers na verwagting, indien
dieselfde
studentetal behaal was en indien die kursusprys vir die
jaar 2002 met 10% ge eskaleer het nog 'n verdere R864 000,00
verdien het vir die gemelde 18 maande tydperk, welke bedrae soos
volg bereken word:
12.1
Tydperk Julie 2001 tot
Desember 2001 (ses maande)
:
R270 000,00 – 60% van
R450 000,00 (90 studente teen R5 000,00)
12.2
Tydperk Januarie 2002
tot Desember 2002 (twaalf maande) plus 10% eskalasie
:
R594 000,00 – 60% van
R990 000,00 (90 studente teen R5 500,00 x 2)
Die totale skade wat eisers oor die
gemelde tydperk van twee jaar gely het was dus R1 098 000,00."
Aanhangsels "A1" tot "A4"
was nie, volgens die oorkonde, aangeheg by óf die
oorspronklike besonderhede
van vordering óf die gewysigde
besonderhede van vordering nie. Dit was egter moontlik om daardie
dokumente op te spoor tussen
die bewysstukke en was dit moontlik om
met die aanhoor van die appèl voort te gaan.
Die verweerder het 'n gewysigde
verweerskrif op die gewysigde besonderhede van vordering afgelewer.
Insgelyks is dit nodig dat tot
'n mate in detail na die verweerskrif
verwys moet word.
Die verweerder ontken dat daar enige
skriftelike ooreenkoms tussen die partye tot stand gekom het soos
uiteengesit in aanhangsels
"A1" tot en met "A4".
Die verweerder gaan dan voort om soos volg te pleit:
"2.4   Dit word ontken
dat tweede eiser of mnr Theuns Steenkamp of me Small of
mnr Arnold en/of ander onbekende
persone geregtig was om namens
die verweerder 'n ooreenkoms aan te gaan of namens die verweerder te
kontrakteer op die terme soos
uiteengesit in paragraaf 5 of op enige
ander terme en word die eiser geplaas tot die bewys daarvan.
2.5    Verweerder pleit
dat die eerste en tweede eisers reeds voor 1 Januarie 2001
kursusse aangebied het te
die Pretoria Kollege, ten aansien waarvan
hulle 'n maandelikse vergoeding ontvang het.
2.6    Eerste en tweede
eisers het kursusse aangebied en is hulle dienstydperk gekoppel aan
die tydperk van die kursusse
wat vir 6 maande duur.
2.7    In soverre
eerste en tweede eisers as kontrakteur en/of as werknemer van die
verweerder aangestel is om kursusse
aan te bied vanaf 1 Januarie
2001 het die geskied op die volgende uitdruklike,
alternatiewelik
stilswyende,
alternatiewelik
geïmpliseerde terme:
2.7.1
eisers word aangestel om vir 'n tydperk van 6 maande kursusse aan te
bied ten aansien
van vakke soos gespesifiseer deur die verweerder;
2.7.2
sodanige klasse sal geskied ooreenkomstig die normale pligstaat van
die verweerder;
2.7.3
verweerder sal die nodige fasiliteite beskikbaar stel vir die aanbied
van die kursusse;
2.7.4
verweerder sal die nodige curriculum asook produkte en materiaal
beskikbaar stel
wat deur die eisers benodig word vir die doeleindes
van aanbied van die klasse, en sal die outeursreg ten aansien van
sodanige
curriculum, produkte en materiaal wat beskikbaar gestel
word, te alle tye by die verweerder berus;
2.7.5
die eerste en tweede eisers sal te alle relevante tye tot voordeel
van die verweerder
optree in uitvoering van die ooreenkoms, en sal in
alle opsigte enige botsing van belange tussen die eisers en die
verweerder vermy;
2.7.6
die eisers sal te alle relevante tye die verweerder se reëls met
betrekking
tot die inbetaling van kursusgelde, finansiële
kontrole en aanbied van kursusse navolg;
2.7.7
ten aansien van eerste eiser is ooreengekom dat hy 'n maandelikse
vergoeding van
R3 000,00 per maand sal ontvang vanaf 1 Januarie
2001, en ten aansien van tweede eiser is ooreengekom dat hy 'n
maandelikse
vergoeding van R3 500,00 per maand sal ontvang vanaf
1 Januarie 2001, vir die tydperk wat die kursusse duur;
2.7.8
alle materiaal wat deur die eerste en tweede eisers gebruik word in
hulle kursusse,
en wat in hul besit is by diensbeëindiging, sal
aan die verweerder terugoorhandig word, en sal geen materiaal vir eie
gewin
deur die eerste en tweede eisers aangewend word nie."
Die verweerder het ook ontken dat 'n
mondelinge ooreenkoms tussen die partye tot stand gekom het. Verder
was erken dat die eisers
die kontrak gekanselleer het maar daar was
ontken dat die eisers geregtig is op die verhaal van enige
skadevergoeding of dat hulle
enige skade gely het.
Die verweerder het, toe die
oorspronklike verweerskrif geliasseer is, ook 'n teeneis ingestel.
Met daardie teeneis was nie op verhoor
voortgegaan nie en handel ek
gevolglik nie daarmee nie.
Die eisers het 'n repliek geliasseer.
Die wesenlike bewerings daarin word uiteengesit in paragraaf 2
daarvan wat soos volg
lui:
"2.
Indien die hof sou bevind dat die persone genoem in paragraaf 2.4
van
verweerder se verweerskrif nie volmag gehad het om namens die
verweerder 'n ooreenkoms aan te gaan of te kontrakteer nie, word
die
verweerder op die beginsel van estoppel estop om hom op te beroep op
die verweer dat genoemde persone nie volmag gehad het
nie en wel om
die volgende redes:
2.1    Die verweerder,
alternatiewelik persone wat in diens van die verweerder is of was
tydens die sluiting van
die ooreenkoms, was die outeur van aanhangsel
'A' soos na verwys word in die besonderhede van vordering.
2.2    Die verweerder
het in die vorige jaar (2001) 'n soortgelyke ooreenkoms met ene mnr
Khanya gesluit.
2.3    Die persone wat
die ooreenkoms as getuies onderteken het is amptenare in diens van
die verweerder wat direk
met die uitbetaling van kontraktuele
vergoeding gewerk het en moes die verweerder redelikerwys kennis
gedra het van die ooreenkoms
en stilswyend die volmag van die
betrokke amptenare erken het.
2.4    Die verweerder
het nie 'n amptelike delegering van bevoegdhede wat uitdruklik bepaal
wie namens die verweerder
volmag het om ooreenkomste aan te gaan nie
en moet redelikerwys aanvaar word dat die persone genoem in paragraaf
2.4 van die verweerder
se verweerskrif senior posisies beklee wat
volmag sou gehad het om namens verweerder ooreenkomste te sluit.
2.5    Weens die gebrek
aan 'n skriftelike dienskontrak tussen eisers en verweerder moet
redelikerwys aanvaar word
dat aanhangsel 'A' die enigste ooreenkoms
tussen die partye was.
2.6    Aanhangsel 'A'
was deur die verweerder of amptenare namens verweerder aangevra om
betalings te kon maak en
die betrokke dokument is ook deur verweerder
in bewaring geneem wat daarop dui dat verweerder hom met die kontrak
en die volmag
van die amptenare betrokke vereenselwig het."
Die verhoor voor die verhoorhof (VAN
ROOYEN, WR) het etlike dae geduur. Beide eisers het getuig
terwyl mnre T G Steenkamp
en N H Arnold namens hulle as getuies
geroep is. Me M W Venter, die rektor van die
verweerder op die relevante tyd,
het namens die verweerder getuig.
Die getuienis beloop naastenby 600 bladsye en 'n veeltal
bewysstukke is ook ingehandig.
Dit is opvallend dat die verhoorhof
nie die getuienis van die getuies bespreek het nie, nie sy siening
oor hulle getuienis in sy
uitspraak vermeld het nie en gevolglik ook
geen geloofwaardigheidsbevinding gemaak het in soverre dit nodig mag
gewees het nie.
Die verhoorhof het bevind dat 'n
ooreenkoms tussen die partye tot stand gekom het op die volgende
basis:
"I have come to the conclusion
that the plaintiffs have proved on a balance of probabilities that
the college, through its
principal, represented by way of omission
and commission that a contractual relationship between them existed.
To my mind
the college is estopped from averring that since the
document was not signed there was no contract."
Ten opsigte van die inhoud van die
ooreenkoms het die verhoorhof tot die volgende gevolgtrekking gekom:
"I accordingly hold that the
contract between the plaintiffs and the College provided that after
all the expenses were subtracted
from the gross income, the net
profit would be divided on a basis of 60% to the plaintiffs and 40%
to the College."
Die verhoorhof het vervolgens besluit
oor die tydperk wat die ooreenkoms sou duur en die volgende daaroor
gesê:
"In the circumstances I believe
that it would be reasonable to draw an inference that the College
would at least have continued
the course for the second and third
semesters. It would amount to pure conjecture to postulate a further
semester."
Laastens het die verhoorhof 'n
bepaling gemaak van die skade wat die eisers na bewering gely het en
gelas dat die volgende bedrae
voor of op 1 September 2006 soos
volg betaal moet word:
"1.     To Mr
Matlhare R60 650,00 plus interest at 15,15% per annum from date
of amended particulars
of claim to the date of payment.
2.
To Mr Matlhare R42 000,00 plus interest at 15,15% per annum from
date of amended particulars
of claim to the date of payment.
3.
To Mr Furter R60 650,00 plus interest at 15,15% per annum from
date of amended particulars
of claim to the date of payment.
4.
To Mr Furter R36 000,00 plus interest at 15,15% per annum from
date of amended particulars
of claim to the date of payment.
5.
Taxed costs of the plaintiffs.
6.
Interest for purposes of this order does not amount to compound
interest. The date of the
amended particulars of claim is 5 May
2004."
Die verweerder het appèl
aangeteken teen die geheel van die verhoorhof se uitspraak en bevele.
Dit is nie nodig dat ek op
hierdie stadium na die gronde van appèl
verwys nie. In die uitspraak sal sekere van die gronde wel hanteer
word.
Die verweerder se hoof kampus is geleë
op die hoek van Du Toit en Kerkstrate in Pretoria. Die
sogenaamde vaardigheidskampus
is geleë op die hoek van Potgieter
en Pretoriusstrate, ook in Pretoria. By die vaardigheidskampus word
kort kursusse aangebied.
Matlhare het getuig dat gedurende die
jaar 2000 hy en Furter betrokke was saam met 'n sekere mnr Khanya in
die aanbied van 'n sekuriteitskursus.
0p die betrokke tydstip was me Venter
die rektor van die verweerder en mnr Steenkamp na wie reeds
verwys is die hoof van
die vaardigheidskampus.
Matlhare sê dat hy en Furter met
Steenkamp onderhandel het vir 'n kontrak wat hulle met die verweerder
wou aangaan om die
betrokke kursus aan te bied. Hy getuig dan dat
daar inderdaad 'n kontrak gesluit is. Die dokument wat die kontrak
sou uitmaak dra
die opskrif: "Independent contractor: Memorandum
of Agreement". Dit maak dan verder voorsiening vir die "company"

wat die verweerder sou wees en die kontrakteur wat Matlhare sou wees.
Paragraaf 1 van hierdie dokument maak uitdruklik daarvoor

voorsiening dat die "kontrakteur" nie in diens van die
verweerder sou wees nie maar 'n onafhanklike kontrakteur sou bly.
Paragraaf 4 van die dokument handel
met die fooie struktuur en bepaal paragraaf 4.1 soos volg:
"Payment in terms of this
contract shall be linked to the number of students enrolled for the
course. The company shall pay
the contractor 60% of the net profit.
The company shall pay the contractor R3 500,00 per month for
services rendered."
Klousule 13 bepaal dat die duur van
die kontrak sou wees vanaf 1 Januarie 2001 en dat dit sou
voortduur solank as wat die kontrakteur
se dienste benodig sou word.
Dit is gemeensaak dat hierdie dokument
nooit namens die verweerder ontderteken is nie. Furter het geteken
waar die verweerder moes
teken en Matlhare het as kontrakteur
geteken. Daar het weliswaar twee getuies geteken.
Matlhare se getuienis is dat hy en
Furter 60% van die wins wat die kursus gemaak het sou kry maar dat sy
salaris nie in berekening
gebring sou word vir bepaling van die netto
wins nie.
Matlhare getuig ook dat hy
dink
dat die ooreenkoms deur die verweerder
erken
was omdat die
ooreenkoms by die verweerder self gekry is, hy dit nie self opgestel
het nie en omdat dit na die verweerder se hoof
kampus gestuur is.
0nder kruisverhoor getuig Matlhare dat
Steenkamp inderdaad aan hom gesê het dat die
bestuursvergadering van die verweerder
die ooreenkoms goedgekeur het.
Ek sal later handel met 'n ondersoek
wat die verweerder gehou het na sekere gebeure verbandhoudende met
die betrokke kursus op 19 Maart
2001.
Matlhare het gesê dat die
kontraksverhouding tussen die eisers en die verweerder het tot 'n
einde gekom omdat hulle bedank
het. Hy en Furter het daarna
voortgegaan om die betrokke kursus elders aan te bied.
Volgens Furter het die ooreenkoms
tussen die eisers en die verweerder bepaal dat hulle 'n klein salaris
sou ontvang en aan die einde
van elke kursus sou 'n winsverdeling van
60/40% geskied. Na die ondersoek van 19 Maart 2001 was 'n brief
van me Venter
ontvang en sê Furter dat hy van sekere dinge
skuldig bevind is waarvan hy niks geweet het nie en het hy besluit om
te bedank.
0or die goedkeuring van die ooreenkoms
sê Furter dat Steenkamp hom meegedeel het dat die hoof kampus
moes besluit of die winsverdeling
aanvaarbaar was. Steenkamp het
nooit na hom toe teruggekom en gesê dat hoof kampus dit wel
goedgekeur het nie. Hy het slegs
aangeneem dat dit in orde was omdat
hy vir 'n tydperk nog steeds salaris ontvang het.
Volgens Furter het hy en Matlhare met
die aanbieding van die kursus na hulle bedanking by die verweerder
sukses gehad.
Matlhare en Furter het inskrywingsgeld
van studente vir die sekuriteitskursus ontvang. Die verweerder het op
'n stadium 'n oudit
van sodanige gelde gedoen en bevind dat daar
ietwat meer as R23 000,00 tekort was. Daarom was besluit om 'n
feitebevinding
ondersoek te doen wat plaasgevind het op 19 Maart
2001.
Matlhare het tydens hierdie ondersoek
getuig. Sy getuienis was dat hy eers op 15 Maart 2001, enkele
dae voor die ondersoek,
'n kontrak geteken het. Dit is duidelik dat
daardie kontrak nie deur die verweerder geteken is nie. Matlhare se
houding was dat
daar 'n mondelinge ooreenkoms met Steenkamp gesluit
was. Daarvolgens sou hy 'n werknemer van die verweerder wees. 0ok sou
hy 'n
maandelikse salaris ontvang en daar sou aan die einde van die
betrokke kursus gekyk word watter persentasie van die wins hy sou

kry. Volgens hom sou hy 5% kry indien daar meer as veertig studente
ingeskryf het.
Dit is duidelik dat daar wesenlike
verskille bestaan tussen Matlhare se getuienis tydens die ondersoek
en sy getuienis voor die
hof
a quo.
Furter het ook getuig tydens die
ondersoek. Furter se getuienis oor die sluiting van die kontrak is
baie kort en saaklik. Volgens
hom was die eerste weergawe van die
kontrak nie korrek nie want daarvolgens sou hulle 'n salaris kry plus
60% van die wins. Dit
sou reggestel word.
Van belang is Steenkamp se getuienis
tydens die ondersoek. Hy het tydens die verhoor vir die eisers
getuig. Steenkamp getuig tydens
die ondersoek oor onderhandelinge wat
plaasgevind het tussen die eisers en homself. Daar was hulp gesoek by
onder andere mnr Arnold
met die opstel van 'n kontrak en daar
was ook gepraat oor winsverdeling. Dan vervolg Steenkamp soos volg:
"Toe het ons besluit nee, kom ons
kyk eers heeltemal eenvoudig wat gebeur en ons stel die ouens aan op
'n doodgewone kontrak
waar hulle vir 'n salaris werk van R3 500,00
en R3 000,00 en sou dit dan na die eerste ses maande baie goed
verloop dan
kan 'n mens die kontrak weer in heroorweging neem."
Hierdie ondersoek het plaasgevind
voordat die betrokke ses maande reeds verloop het.
Voor die hof
a quo
het
Steenkamp getuig dat die eisers en verweerder op 'n 60/40% verdeling
van die wins van die kursus ooreengekom het. Die eisers
sou nie 'n
salaris ontvang nie. In daardie opsig is die dokument wat die kontrak
sou beliggaam verkeerd.
Steenkamp se getuienis tydens die
ondersoek is in kruisverhoor aan hom gestel. Hy kon die verskil
tussen sy getuienis voor die hof
a quo
en tydens die ondersoek
nie verklaar nie. Hy het toe die korrektheid van die oorkonde van die
ondersoek in twyfel getrek ten spyte
daarvan dat die partye
ooreengekom het dat die oorkonde korrek is.
Dit is duidelik dat die getuienis van
die eisers voor die hof
a quo
van mekaar verskil. Dit verskil
ook van hulle getuienis tydens die ondersoek. Die getuienis van
Steenkamp verskil van dié
van die eisers. 0ok verskil
Steenkamp se getuienis voor die verhoorhof van sy getuienis tydens
die ondersoek.
Weinig sin kan gemaak word van die
getuienis van die eisers en Steenkamp.
Me Venter het in haar getuienis
die standpunt ingeneem dat daar op geen basis deur die verweerder
ingestem sou gewees het tot
'n 60/40% verdeling van die netto wins
nie. Haar getuienis is sinvol en verstaanbaar.
Dit is nie nodig dat die getuienis in
enige verdere detail ondersoek word nie.
Die verhoorhof het oorsigtelik na
sekere van die feite waarna ek hierbo verwys het verwys. Die
verhoorhof kom dan tot die gevolgtrekking
dat die ooreenkoms nooit
namens die verweerder geteken is nie. Die eerste keer wat daar besef
was dat daar probleme was aangaande
die bestaan van 'n ooreenkoms was
tydens die ondervraging. Tot op daardie stadium het Furter R3 000,00
per maand ontvang en
Matlhare R3 500,00 per maand.
Nadat die verhoorhof tot die
gevolgtrekking gekom het dat die dokumente wat deur Furter en
Matlhare geteken is nie ooreenkomste
daarstel nie word die vraag deur
die hof
a quo
gevra of die verweerder nie deur estoppel
verhoed moet word om aan te voer dat die ooreenkoms nie geteken is
nie.
Ter beantwoording van daardie vraag
ondersoek die verhoorhof die feit of daar 'n voorstelling aan die
eisers gemaak was. Die verhoorhof
kom tot die gevolgtrekking dat
enige voorstelling wat Steenkamp moontlik aan hulle kon gemaak het
nie voldoende is "to prove
the case against the College on
a basis of estoppel".
Die verhoorhof sê dat die
ondersoek wat gehou is getoon het dat daar onsekerheid is oor die
bestaan al dan nie van die kontrak.
Die verhoorhof verwys dan na 'n skrywe
wat me Venter op 24 April 2001 na afloop van die ondersoek
aan beide die eisers
gerig het. Die inhoud van daardie brief moet in
geheel aangehaal word en lui soos volg:
"Na afloop van die ondersoek
gehou ten einde te bepaal watter partye betrokke was tydens die
verlies van gelde wat op die vaardigheidskampus
hanteer is, spyt dit
my om die volgende aan u mee te deel:
1.  Daar is bevind dat u
betrokke, en deels verantwoordelik was vir die verliese van die
gelde.
2.  Geliewe hiermee kennis te
neem dat u 'n finale waarskuwing ontvang wat vir twaalf maande geldig
sal wees (sien aanhangsel).
3.  U sal ook geen bonusse
ontvang tydens die jaar 2001 nie.
4.  Die Kollege hou hom die reg
voor om geld van u salaris terug te hou totdat die volle uitstaande
bedrag vereffen is. Die
Kollege het dit egter goed gedink om nie
gelde van u salaris terug te hou nie, maar daar sal van u verwag word
om sonder vergoeding
kort kursusse aan te bied. Verdere besonderhede
in die verband sal deur mnr Badenhorst met u bespreek word.
5.  Die groei van die kursusse
wat u aanbied sal gemoniteer word ten einde te bepaal of u kontrak
hernu sal word na die vervaldatum.
6.  Daar sal verder van u verwag
word om die Kollege se finansiële beleid streng na te volg
wanneer daar met gelde gewerk
word.
7.  Indien u sou versuim of
nalaat om u aan die bogemelde bepalings te onderwerp, sal dit lei tot
summiere ontslag.
8.  Indien u voel dat daar
onbillik teen u opgetree is, kan u 'n versoek rig dat bogenoemde
besluite in hersiening geneem word.
Sodanige versoek moet binne vyf
werksdae gerig en aan die rektor van Pretoria Kollege oorhandig
word."
Die verhoorhof sê dat hierdie
skrywe die totale antwoord op die ondersoek gee. Hierdie brief, sê
die verhoorhof "amounts
to a clear representation from the
principal that a contractual relationship with the plaintiff exists.
It provides the missing
link, as it were."
0p daardie basis het die verhoorhof
dan tot die gevolgtrekking gekom dat "the College is
estopped from averring that since
the document was not signed there
was no contract".
Wat die verhoorhof gevolglik gedoen
het was om te konkludeer dat die ongetekende skriftelike ooreenkoms
die ooreenkoms tussen die
eisers en die verweerder daarstel weens 'n
voorstelling deur me Venter dat daar wel 'n kontraktuele
verhouding tussen die
partye bestaan het.
Ek kan met hierdie standpunt van die
verhoorhof nie saamstem nie. Tot en met die ondersoek, enkele dae
voor die betrokke skrywe,
is daar geen duidelikheid in die gemoed van
Furter of Matlhare dat hulle wel 'n ooreenkoms met die verweerder
gesluit het en wat
die terme daarvan is nie. Tot op daardie stadium
was daar geen voorstelling aan hulle gemaak nie. Deur die skrywe van
me Venter
van 24 April 2001 skep die verhoorhof nou 'n
ooreenkoms tussen die partye geldig vanaf Januarie 2001. Die
toepassing van die
beginsels van estoppel deur die verhoorhof is
geheel en al misplaas.
Soos reeds hierbo daarop gewys het die
verhoorhof, nadat bevind is dat die ongetekende skriftelike kontrak
deur middel van estoppel
'n bindende ooreenkoms tussen die partye is,
voortgegaan om die terme van die kontrak te bepaal. Dit het
aanleiding daartoe gegee
dat die verhoorhof tot die gevolgtrekking
kom dat die kursus nog vir 'n verdere drie semesters deur die eisers
aangebied sou word
maar dat dit spekulasie sou wees om te bevind dat
dit vir 'n vierde semester aangebied sou word. Wat die verhoorhof
hier gedoen
het was om 'n kontrak vir die partye te skryf waarop
hulle nie ooreengekom het nie. Die oomblik toe die verhoorhof met die
toepassing
van die beginsels van estoppel bevind het dat daar 'n
skriftelike kontrak tussen die partye bestaan moes die terme van
daardie
skriftelike ooreenkoms net so gelaat gewees het. Die
verhoorhof gaan egter verder en beding in werklikheid 'n nuwe kontrak
vir
die partye.
Wat die verhoorhof uit die oog verloor
het is dat wilsooreenstemming tussen kontrakspartye nodig is om 'n
kontraktuele verhouding
tussen hulle tot stand te bring. In 'n
verhoor soos die onderhawige was die verhoorhof geroepe om te bepaal
of daar wel konsensus
was al dan nie.
Vergelyk bv Christie
The Law of
Contract in South Africa
, 5de uitgawe, bl 72 waar die volgende
gesê word:
"There is a wealth of authority
for regarding agreement by consent as the foundation of contract. …
A lawyer needs proof before concluding
that a particular state of affairs exists, and when the state of
affairs in question is something
so subjective as the states of mind
of two or more parties on a particular occasion or occasions, the
lawyer will find that, in
truth, the search is not for agreement by
consent but for evidence of such agreement. In the words of Wessels
para 62:
'Although the minds of the parties
must come together, courts of law can only judge from external facts
whether this has or has
not occurred. In practice, therefore, it is
the manifestation of their wills and not the unexpressed will which
is of importance.'"
Die verhoorhof het dit nie gedoen nie.
Wat die verhoorhof wel gedoen het is om van die leerstuk van estoppel
gebruik te maak ten
einde tot die gevolgtrekking te kom dat die
verweerder nie kan steun op die nie-ondertekening van die dokument
nie. Dit is verre
daarvan om te bevind waarop ooreengekom is, naamlik
wat die inhoud van die ooreenkoms is. 0m hierdie rede moes die
verhoorhof toe
'n kontrak vir die partye skryf.
Dit wil voorkom asof die verhoorhof
met die begrip "
quasi
mutual assent" wou werk maar
dit heeltemal verkeerd toegepas het. Soms wil dit voorkom asof die
verhoorhof met die beginsels
van stilswyende ooreenkomste of
stilswyende terme wou werk maar dit ook nie korrek toegepas het nie.
Die kern van die probleem is dat die
verhoorhof die feite totaal verkeerd hanteer het. Die hof het enkele
eenvoudige feite geneem
en 'n ingewikkelde regsprobleem daarom heen
geweef. In werklikheid was die feite ingewikkeld en die regsprobleem
eenvoudig –
daar was geen wilsooreenstemming tussen die partye
nie.
Ek het reeds daarop gewys dat die
verhoorhof die brief van 24 April 2001 as repudiasie van sy
verpligtinge deur die verweerder
beskou het en dat die briewe van
bedanking as aanvaarding van die repudiasie gesien is.
Dit kan nie reg wees nie. Die briewe
van bedanking van die eisers is duidelik. Hulle was nie tevrede met
die siening van die verweerder
dat hulle gewone werknemers is nie en
het toe as werknemers bedank en met die kursus elders voortgegaan.
Dit is geykte reg dat
'n beweerde repudiasie binne 'n redelike tyd in
ondubbelsinnige terme aanvaar moet word. In hierdie geval het die
respondente na
die gewraakte brief van 24 April 2001, bloot
voortgegaan met die aanbied van die kursus en dit voltooi. In hulle
bedankingsbriewe
word niks gemeld van die beweerde repudiasie nie.
Trouens, Matlhare sê uitdruklik hulle het net
bedank
. In
die lig daarvan kan daar geen sprake wees van kontrakbreuk of
skadevergoeding nie, ongeag of skade hoegenaamd bewys is al dan
nie.
Van meer belang is die verhoorhof se
berekening van die skade. Die verhoorhof het met aannames wat nie op
feite gebaseer is nie
heengegaan en 'n beraming van skade gemaak.
Daar is geen getuienis voor die verhoorhof gelê oor wat die
moontlike bruto wins
van die kursus sou wees of wat die koste daaraan
verbonde sou wees nie. Die netto wins kon op geen basis hoegenaamd
bereken word
nie. Ek het reeds daarna verwys dat die verhoorhof
sonder 'n feitelike basis die duur van die kontrak bepaal het en dit
as inset
gebruik het by die berekening van skade.
Die verhoorhof het ook wat die
berekening van die skadevergoeding betref fouteer.
Die verhoorhof moes, na my oordeel,
absolusie van die instansie met koste gelas het.
Die volgende bevele word gemaak:
1.
Die appèl slaag met koste.
2.
Die bevele van die verhoorhof word tersyde gestel en vervang met die
volgende: Absolusie
van die instansie met koste.
W
J VAN DER MERWE
REGTER
VAN DIE NOORD GAUTENG HOË HOF
Ek
stem saam
R
D CLAASSEN
REGTER
VAN DIE NOORD GAUTENG HOË HOF
Ek
stem saam
W
R C PRINSLOO
REGTER
VAN DIE NOORD GAUTENG HOË HOF
A1225-2006
AANGEHOOR
OP: 25 MAART 2009
VIR
DIE APPELLANT: C D DE JAGER
IN
OPDRAG VAN: J W WESSELS & VENNOTE INGELYF
VIR
DIE VERWEERDERS: Me S BUITENDAG
IN
OPDRAG VAN: VISSER GERBER
INGELYF