About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2010
>>
[2010] ZAFSHC 94
|
|
S v Rampitsang (325/2010) [2010] ZAFSHC 94 (26 August 2010)
VRYSTAATSE HOË HOF, BLOEMFONTEIN
REPUBLIEK VAN SUID-AFRIKA
Hersieningnr. : 325/2010
In
die hersiening tussen:-
DIE
STAAT
en
MICHAEL
MOLIFI RAMPITSANG
_____________________________________________________
CORAM:
HANCKE,
WND RP
et
KRUGER, R
_____________________________________________________
UITSPRAAK
DEUR:
KRUGER, R
_____________________________________________________
GELEWER
OP:
26 AUGUSTUS 2010
_____________________________________________________
[1] Die beskuldigde is in die distrikshof te Botshabelo
skuldig bevind aan (1) ‘n oortreding van artikel 3 van Wet 60
van
2000, besit van ‘n 6,35 mm semi-outomatiese pistool, en (2)
oortreding van artikel 90 van Wet 60 van 2000, besit van drie
rondtes
ammunisie. Op die eerste klagte is hy gevonnis tot agt jaar
gevangenisstraf, en op die tweede klagte tot twee jaar
gevangenisstraf.
Geen samelopendheid is gelas nie, dus is die
effektiewe vonnis tien jaar gevangenisstraf. In antwoord op ‘n
hersieningsnavraag
het die landdros niks by sy uitspraak oor vonnis
gevoeg nie.
[2] Die beskuldigde se verweer was dat hy die gelaaide
vuurwapen langs ‘n voetpaadjie opgetel het en op pad was om dit
by
die polisiestasie in te handig toe hy deur die polisie voorgekeer
en gearresteer is. Die getuienis van die polisie was dat hy op
pad
was in ‘n rigting weg van die polisiestasie toe hy gearresteer
is.
[3] Die maksimum vonnis vir besit van ‘n vuurwapen
is 15 jaar gevangenisstraf – artikel 3 en bylae 4 van Wet 60
van
2000. ‘n Landdroshof kan so ‘n vonnis oplê
(artikel 151 Wet 60 van 2000). Minimum-vonnis wetgewing ingevolge
Wet 105 van 1997 is nie hier van toepassing nie, want dit geld nie in
distrikshowe nie, en die verwysing na Wet 105 van 1997 in
die
klagstaat is deurgehaal.
[4] Die persoonlike omstandighede van die beskuldigde is
dat hy 29 oud is, ongetroud, ‘n Lesotho burger met ‘n
paspoort,
hy was by sy arrestasie al agt jaar lank werksaam te
Botshabelo teen R20,00 per dag. Hy het geen skoolopleiding gehad
nie. Hy
is ‘n eerste oortreder.
[5] Die onwettige besit van ‘n
vuurwapen is ‘n ernstige misdryf, soos blyk uit die maksimum
straf van vyftien jaar gevangenisstraf.
Sien ook
R v
KAHN
1957 (4) SA 558
(N) te
559 C –
D. Die verduideliking wat die beskuldigde vir sy besit verskaf het,
is ‘n belangrike oorweging by vonnis, selfs
meer belangrik as
die omstandighede van die verkryging van die vuurwapen deur die
beskuldigde (
S v MAGADI
1962 (2) SA 229
(OK) te
231 H).
[6] Die omstandighede van die besit
van die vuurwapen deur die beskuldigde is ‘n faktor wat oorweeg
word by vonnisoplegging.
In
R v KUMALO
1949
(1) SA 620
(A) was die vuurwapen versteek agter die
bestuurders-sitplek van die voertuig, wat beskuldigde bestuur het.
In
R v MHLAULI
1954 (1) SA 85
(K) te 87 E – H was die volgende omstandighede
oorweeg:
Die wapen is op beskuldigde persoon gevind met
ammunisie wat daarin gepas het (dit was nie in sy huis of ‘n
ander veilige
plek nie).
Beskuldigde was op ‘n openbare pad toe die wapen
aan hom gevind is.
Die beskuldigde kon geen bevredigende verduideliking
vir sy besit gee nie.
[7] In
S v THEMBALETHU
2009 (1) SASV 50
(HHA) het die streekhof die volgende vonnisse opgelê:
(1) Roof met verswarende omstandighede - 15 jaar
(2) Besit van semi-outomatiese vuurwapen - 15 jaar
(3) Besit van ammunisie - 9 mnde
(4) Poging tot moord - 6 jaar
Die totale opgelegde vonnis was 36 jaar. Die landdros
het gelas dat die vonnis op klagte 3 en elf maande van die vonnis op
klagte
2 saamloop met die vonnis op klagte 1. Dus was die effektiewe
vonnis 25 jaar. Die Hoë Hof en Hoogste Hof van Appèl
het
die vonnisse bekragtig. (Die bepalings van Wet 105 van 1997, wat die
minimum vonnis vir besit van ‘n semi-outomatiese
vuurwapen
vyftien jaar gevangenisstraf maak, was van toepassing in
THEMBALETHU
se geval omdat dit ‘n streekhof was.)
[8] As gevolg van die samelopingsbevel, was die
effektiewe vonnis vir besit van die vuurwapen vier jaar
gevangenisstraf. In
THEMBALETHU
se geval was ernstige
misdrywe met die vuurwapen gepleeg. In die onderhawige geval is daar
geen ander misdrywe bewys nie. As
daar sulke misdrywe bewys was, sou
hulle hulle eie vonnisse gehad het, wat die vonnis vir besit van die
wapen sou be
ї
nvloed
het.
[9]
Die effektiewe vonnis van vier
jaar gevangenisstraf wat in
THEMBALETHU
se geval opgelê is, lyk na ‘n goeie aanduiding. Ek vind
geen versagting in die beskuldigde se persoonlike of ander
omstandighede nie. Hy kon op die feite skuldig gepleit het sonder om
‘n ongeloofwaardige verhaal dat hy op pad na die polisiestasie
was te versin.
[10] Die landdros noem in sy uitspraak dat die misdryf
van onwettige besit van vuurwapens ernstige afmetings in sy distrik
aanneem.
Dis digby Lesotho en beskuldigde is ‘n Lesotho
burger. Die beskuldigde het die wapen en ammunisie in sy besit gehad
vanaf
14h00 tot 20h40. Beskuldigde was op ‘n openbare plek en
het ‘n gelaaide vuurwapen in sy besit gehad. Die twee klagtes
behoort saamgeneem te word vir doeleindes van vonnis. ‘n
Gepaste vonnis op beide klagtes sou vier jaar gevangenisstraf
wees.
[11]
BEVEL:
1. Die skuldigbevindings word bekragtig, maar die
vonnisse word tersyde gestel en vervang met die volgende:
“Beide klagtes word saamgeneem vir doeleindes van
vonnis en gevangenisstraf van vier jaar word opgelê.”
2. Ingevolge artikel 282 van die Strafproseswet 51 van
1977, word die vonnis geag op 3 Junie 2010 opgelê te gewees
het.
____________
KRUGER, R
Ek stem saam.
______________________
S.P.B. HANCKE, WND RP
/sp