About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Supreme Court of Appeal
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Supreme Court of Appeal
>>
1984
>>
[1984] ZASCA 111
|
|
S v Sephuti (470/1983) [1984] ZASCA 111; [1985] 1 All SA 173 (A) (25 September 1984)
LL
Saak No. 470/1983
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
APPèLAFDELING
In die saak tussen:
HERMAN MAILE SEPHUTI
Appellant
en
DIE
STAAT
Respondent
CORAM
: JANSEN, BOTHA ARR et
SMALBERGER WN AR
VERHOORDATUM
: 21 AUGUSTUS
1984
LEWERINGSDATUM
: 25 SEPTEMBER 1984
UITSPRAAK
/
BOTHA AR
2.
BOTHA AR:-
Ek stem saam met my kollega SMALBERGER, om die redes vermeld in sy uitspraak,
dat die verhoorhof se bevinding van 'n beplande, koelbloedige
moord nie
geregverdig was nie, dat die verhoorhof behoort te be-vind het dat die appellant
se getuienis redelikerwyse moontlik waar
was, en dat die appellant se skuld dus
beoordeel moet word aan die hand van sy eie relaas van die gebeure. Ek stem
egter, met eerbied,
nie saam met my kollega se bevinding dat op hierdie
grondslag die appellant nogtans skuldig is aan moord nie. Na my oordeel is die
korrekte bevinding dat hy skuldig is aan strafbare manslag.
Die redes waarom my gevolgtrekking verskil van dié van my kollega is
eerstens geleë in die beoor-deling van die appellant
se getuienis dat hy
nie bedoel
/het ...
3.
het om die oorledene raak te skiet nie. Waar my kol-lega
hierdie getuienis as onaanvaarbaar beskou, is ek van oordeel dat dit, net
soos
die res van die appellant se relaas, ook redelikerwyse moontlik waar kan wees.
Ek is nie bereid om 'n nadelige afleiding teen
die appel-lant te maak uit die
feit dat wat hy in hierdie verband in sy getuienis gesê het, nie
weerspieël word in die
verklaring wat kaptein Thoms van hom afgeneem nie,
omdat daar na my mening wesenlike bedenkings bestaan oor die betroubaarheid van
die verklaring as 'n akkurate en vol-ledige weergawe van wat die appellant aan
Thoms sou gesê het. Thoms het ontken dat hy
by die afneem van die
verklaring gebruik gemaak het van 'n tolk in die persoon van sersant Mithani,
maar die appellant het deurgaans
volgehou dat die verklaring wel afgeneem is
deur middel van Mithani as tolk. Mithani was as 'n getuie by die hof beskikbaar.
As hy
Thoms se getuienis kon bevestig
/(volgens ...
4
(volgens Thoms was hy wel aanwesig toe die verklaring afgeneem
is), is dit verbasend dat die Staat hom nie as getuie geroep het nie.
Ongelukkig
het die ver-hoorregter dit ook nie gerade geag om hom te laat roep as 'n getuie
aan die einde van die saak nie, om redes
wat, te oordeel ná wat in die
uitspraak hieroor gesê word, nie oortuigend is nie. Hierdie geskilpunt is
dus nie opgelos
nie en die verhoorhof het tot geen be-vinding daaroor gekom nie.
Soos dit my voorkom, is daar geen genoegsame rede om op hierdie
besondere punt
Thoms se getuienis te aanvaar en dié van die appellant te verwerp nie. Op
hierdie grondslag kan dit betwyfel
word of die verklaring hoegenaamd as
bewysmateriaal teen die appellant aangewend kan word. Hoe dit ook al sy, Thoms
het in sy getuienis
beweer dat hy woórdeliks neergeskryf het wat die
appellant hom in Afrikaans mee-gedeel het, en dat die verklaring dus die
appellant se
/eie ...
5
eie woorde presies weergee. Ek vind dit moeilik om dit te glo. As 'n
mens die verklaring lees (en dit is 'n lang verklaring), dan
blyk dit dat die
woordge-bruik en sinsbou van so 'n aard is dat dit bepáald die indruk
skep dat die outeur daarvan van huis
uit Afri-kaanssprekend is. Die appellant
het getuig dat hy Afrikaans nie goed magtig is nie. Ten opsigte van die sin in
die verklaring
wat lui:
"Ek het een skoot op hom gevuur en dit het hom in die gesig
getref"
is dit na my mening minstens onwaarskynlik
dat dit die appellant se eie woorde presies weergee; dit is baie waarskynliker
Thoms se
eie formulering van iets wat die appellant in ander woorde aan hom
meegedeel het. Ge-volglik kan ek nie saamgaan met n bevinding
dat wat die
appellant aan Thoms gesê het, nie in ooreenstemming is
/met ...
6.
met die getuienis wat hy afgelê het nie. My bena-dering
is dieselfde met betrekking tot die feit dat die appellant nie in sy
getuienis
beweer het dat hy aan Thoms gesê het dat hy nie bedoel het om die
oor-ledene raak te skiet nie, maar dat dit nie
in die ver-klaring opgeteken is
nie. Die appellant het wel in ander opsigte beweer dat wat hy gesê het,
nie volledig in die
verklaring opgeneem is nie. Volgens my oor-deel sou dit
onbillik en ongeregverdig wees om die ap-pellant se getuienis te kritiseer,
en
'n nadelige af-leiding teen hom te maak, op grond daarvan dat hy in sy getuienis
iets aangevoer het wat nie in sy verklaring voorkom
nie, sonder dat hy in
kruisondervraging daaroor aangeval is of ten minste die geleentheid gegun is om
die oënskynlike afwyking
te verduidelik. Dit is nooit gedoen met betrekking
tot sy bewering dat hy nie bedoel het om die oorledene raak te skiet nie.
/Die ...
7.
Die appellant het in sy getuienis herhaaldelik beklemtoon dat
hy geen bedoeling gehad het om die oor-ledene raak te skiet nie en dat
hy 'n
skoot afgevuur het alleenlik met die doel om die oorledene skrik te maak. Aan
daardie positiewe getuienis word daar geen afbreuk
gedoen deur die inhoud van
die verklaring van die appel-lant soos Thoms dit opgeteken het nie, om die redes
hierbo uiteengesit.
Vervolgens moet daar aandag geskenk word aan die demonstrasie wat die
appellant in die hof gegee het van hoe hy die vuurwapen vasgehou
het toe hy die
skoot. afgevuur het: volgens opmerkings van die verhoorregter tydens die
demonstrasie het die appellant eers die vuur-wapen
in 'n opwaartse rigting van
ongeveer 25 grade gehou, en daarna het die hoek vergroot tot 45 grade. Dit
spreek vanself dat die vuurwapen
nie so gehou kon gewees
/het ...
8
het toe die skoot afgegaan het nie; anders sou die oorledene natuurlik
nie getref gewees het nie. Maar die feit dat die appellant
se demonstrasie nie
strook met die gevolg wat ingetree het nie is na my oordeel nie vernietigend van
die appellant se getuienis aan-gaande
sy bedoeling nie. 'n Mens durf nie uit die
oog verloor nie dat die gebeure wat die appellant be-skryf het in feitlik 'n
oogwink plaasgevind
het, dat daar 'n emosie-belaaide en gespanne atmosfeer
geheers het, en dat beide persone wat daarby betrokke was vin-nig aan die
beweeg
was. In laasgenoemde verband is dit insiggewend dat die appellant, toe hy in
kruisonder-vraging aangeval is oor die demonstrasie
wat hy gegee het, verklaar
het dat die skoot nie die oorledene sou getref het as hy (die appellant) op die
oomblik toe dit afgegaan
het, sou stilgestaan het en nie beweeg het nie. In al
die omstandighede is ek nie bereid om die appellant
/dit ...
9
dit te verkwalik dat hy nie in staat was om 'n
presiese
demonstrasie of verduideliking te gee van hoe dit ge-
kom het dat
die oorledene getref is nie. Sy onvermoë
om dit te doen regverdig myns
insiens nie die afleiding
bo redelike twyfel dat hy die vuurwapen inderdaad
op die
oorledene gemik het toe dit afgevuur is nie, en dit reg-
verdig ook
nie die verwerping as vals bo redelike twyfel
van die appellant se getuienis
dat hy slegs 'n waarskuwing-
skoot in die lug wou vuur om die oorledene skrik te maak
nie. Die appellant se ervarenheid in die gebruik van
'n vuurwapen skep wel
in die algemeen 'n onwaarskynlikheid
dat hy die oorledene per ongeluk sou getref het, maar as
daar gelet word
op die besondere omstandighede wat ge-
heers het toe die skoot afgegaan het, dan kan daar na my
oordeel nie bevind word dat die appellant se weergawe
so vergesog is dat dit nie redelikerwyse moontlik waar
kon wees nie.
/Uit ...
10.
Uit die voorgaande volg dit vanself dat daar geen ruimte is
vir 'n bevinding dat die appellant die oorledene geskiet het met opset
in die
vorm van
dolus
directus
nie. Wat oorbly, is die vraag of daar
by hom opset aanwesig was in die vorm van
dolus eventualis
. Die feite van
hierdie saak noodsaak dat daar weer eens beklemtoon moet word hoe versigtig daar
onderskei moet word tussen wat 'n
beskuldigde, objektief beoordeel, behoort te
voorsien het, enersyds, en andersyds, wat 'n
beskuldigde, subjektief beoordeel, werklik voorsien het (kyk bv
S v
Sigwahla
1967 (4) sa 566 (A) op 570 B-F). Hier is daar geen twyfel nie dat
die appellant behoort te voorsien het dat hy moontlik die oorledene
noodlottig
sou kon tref. Of hy dit inderdaad bewustelik voorsien het toe hy die skoot
afgevuur het, is 'n ander vraag, wat beantwoord
moet word aan die hand van die
afleiding wat uit die feite gemaak kan word aangaande die subjektiewe
/gemoedstoestand ...
11
gemoedstoestand van die appellant op die kritieke
oomblik. Die
tersaaklike feite is in hoofsaak, aan
die een kant, dat die appellant twee
tot drie tree weg
was van die oorledene toe hy geskiet het, maar aan
die
ander kant, dat daar 'n skielike krisis-toestand vir
die appellant
ontstaan het, dat die gebeure binne 'n
baie kort tydsbestek plaasgevind het,
dat albei partye
aan die beweeg was, en dat dit 'n plotselinge besluit
van die appellant was om te skiet. Die kernvraag is:
was die appellant op
daardie oomblik gedagtig aan die
moontlikheid dat hy die oorledene noodlottig
kon tref
en was dit hom om die ewe of dit sou gebeur of nie?
Met die oog op die feite wat ek genoem het, kan hierdie
vraag na my oordeel nie bo redelike twyfel bevestigend
beantwoord word nie. Die appellant is geregtig op
die voordeel van die twyfel.
/Om ...
12.
Om die voorgaande redes is my gevolgtrekking dat die
appellant níe skuldig bewys is aan moord nie, maar wel aan strafbare
manslag.
Hierdie gevolgtrekking maak dit vir my onnodig om 'n standpunt in te neem oor
die sienswyse wat in my kollega SMALBERGER se uitspraak
uiteengesit word in
ver-band met die ondersoek na die bestaan al dan nie van versagtende
omstandighede op die grondslag van die slot-som
waartoe hy geraak het aangaande
die skuldigbevinding van die appellant. Om moontlike misverstand te voor-kom,
wil ek egter net kortliks
iets daaroor sê. Op die oog af kom my kollega se
benadering my voor 'n aan-treklike een te wees wat (in ieder geval in 'n saak
soos die huidige) tot bevredigende resultate sal lei, maar ook op die oog af het
ek ernstige bedenkings oor die vraag of so 'n benadering
in beginsel versoenbaar
is met die standpunt van ons regspraak ten opsigte van die
/bewyslas ...
13.
bewyslas met betrekking tot versagtende
omstandighede, soos onlangs herbevestig is in
S v Theron
[1984] ZASCA 1
;
1984 (2) SA 868
(A). Ek sê "op die oog af" omdat hierdie aan-geleentheid nie na behore
voor ons beredeneer is in die huidige saak nie. Ek verkies
dus om geen mening
daaroor uit te spreek nie en om die vraag heeltemal oop te laat vir toekomstige
oorweging en beslissing in 'n
gepaste saak.
Ten slotte, wat betref die vonnis wat die appellant opgelê moet word op
grondslag van 'n skuldig-bevinding aan strafbare manslag,
is ek van oordeel, met
inagneming van al die tersaaklike omstandighede, dat 'n vonnis van 8 jaar
gevangenisstraf gepas sal wees.
Die appèl slaag. Die appellant se skuldig-bevinding aan moord en die
doodvonnis wat hom opgelê is, word tersyde gestel
en vervang deur 'n
skuldigbevinding
/aan ...
14.
aan strafbare manslag en 'n vonnis van 8 jaar
gevangenis-straf.
A.S. BOTHA AR JANSEN AR
STEM SAAM