About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2010
>>
[2010] ZAFSHC 25
|
|
Baloyi v S (A127/09) [2010] ZAFSHC 25 (25 February 2010)
VRYSTAAT
SE
HOË HOF, BLOEMFONTEIN
REPUBLIEK VAN
SUID-AFRIKA
Appèlnommer:
A127/09
In die
appèl
tussen:-
MOLEFI
JEREMIAH BALOYI
Appellant
en
DIE
STAAT
Respondent
_____________________________________________________
CORAM
:
HANCKE,
R
et
VAN
ZYL, R
_____________________________________________________
UITSPRAAK
DEUR:
VAN
ZYL, R
_____________________________________________________
AANGEHOOR
OP:
8
FEBRUARIE 2010
_____________________________________________________
GELEWER
OP:
25
FEBRUARIE
2010
_____________________________________________________
[1] Appellant
het in die Streekhof, Welkom, tereggestaan op ‘n aanklag van
onsedelike aanranding, gelees met die bepalings
van artikel 51(2)(b)
van die Strafregwysigingswet, Wet 105 van 1997. Dit is beweer dat
appellant op of omtrent 11 Mei 2007 vir
Teboho Simon Sekoe
ra
(“die klaer”), ‘n elfjarige seun, onsedelik
aangerand het deur hom anaal te penetreer.
[2] Appellant
het regsverteenwoordiging geniet in die hof
a
quo
.
Hy het onskuldig gepleit en namens hom is ‘n algehele
ontkenning as pleitverduideliking op rekord gestel. Appellant is
egter op 26 Augustus 2008 skuldig bevind aan onsedelike aanranding
waarby die toediening van liggaamlike leed betrokke is en gevonnis
tot 10 (tien) jaar gevangenisstraf. Appellant kom nou in hoër
beroep teen beide sy skuldigbevinding en die opgelegde vonnis.
[3] Die
klaer het by wyse van ‘n tussenganger getuig. Hy het getuig dat
die middag van die voorval hy naby sy ouerhuis saam
met sy boeties
gespeel het. Teen ongeveer 18h30, nadat sy boeties reeds weg was, het
‘n man opgedaag en hom meegedeel dat
‘n persoon met ‘n
wit bakkie daar naby hom roep. Dit is die eerste keer wat hy hierdie
man gesien het. (Aangesien die
klaer egter die onbekende man later in
sy getuienis identifiseer as die appellant, verwys ek
doelmatigheidsredes dus na appellant.)
Vanweë die feit dat die
klaer se vader ‘n wit bakkie het, het die klaer gedink dat dit
sy vader is wat na hom op soek
was. Hy het saam met appellant geloop
tot by ‘n area naby ‘n skool. Daar het die appellant geld
vanaf die klaer geëis.
Daarna het appellant die klaer met ‘n
mes gedreig en aangedui dat hulle nog verder moes loop. Appellant het
ook die klaer
gedreig deur te sê dat indien hy sou skree, hy
hom met die mes sou steek.
Appellant
het die klaer aangesê om sy broek en sy onderbroek uit te trek
en vooroor te buig. Daarop het appellant sy eie
broek afgetrek en die
klaer anaal penetreer terwyl hy die klaer aan sy heupe vasgehou het.
Volgens die klaer het hy inwendig seergekry
en het dit vir hom gevoel
asof iets oopskeur. Appellant het vir ‘n lang tydperk met
hierdie penetrasie volgehou en daarna
het hy die klaer aangesê
om met sy (die klaer se) T-hemp appellant se penis af te vee. Nadat
die klaer dit gedoen het, het
appellant hom aangesê om aan te
trek en weg te loop sonder om terug te kyk.
Die
klaer het na sy ouerhuis geloop. Sy klere was met fekalieë
(ontlasting) besmeer. Die klaer het verduidelik dat sy T-hemp
sodanig
besmeer geraak het toe hy appellant se penis daarmee afgevee het. Ten
opsigte van sy broek het hy verduidelik dat op die
stadium
onmiddellik nadat appellant sy penis onttrek het, die klaer spontaan
in sy broek ontlas het deurdat hy geen beheer daaroor
gehad het nie.
Toe hy by sy ouerhuis opdaag, was sy tannie daar. Hy het sy tannie
vertel wat gebeur het. Sy tannie het sy vader
gebel, waarna hulle na
die polisiestasie en ook na die dokter is.
[4] Ten
tyde van kruisverhoor was dit duidelik dat die verloop van die
gebeure, soos deur die klaer getuig, nie in dispuut geplaas
is nie.
Die kruisverhoor was byna uitsluitlik op die klaer se identifisering
van die appellant gerig, die detail waarvan ek later
hierin mee sal
handel.
[5] Mev.
Lerato Sekoera, synde die klaer se tannie, het in haar getuienis
bevestig dat sy die aand van die voorval na die klaer
gaan soek het,
aangesien hy nie van buite teruggekeer het waar hy vroeër
gespeel het nie. Sy kon hom nie vind nie, maar toe
sy later by die
huis terugkeer, het sy die klaer huilend daar gevind. Die klaer het
aan haar op gedetailleerde wyse alles vertel
wat met hom gebeur het,
soos dit ook deur hom in die hof getuig is. Die klaer het haar ook
meegedeel dat die persoon wat dit aan
hom gedoen het, kaalkop is en
lyk soos hulle buurman, ene Shuping. Sy het op haar eie waarneming
van appellant se voorkoms getuig
en bevestig dat appellant inderdaad
soos die tersaaklike buurman lyk.
[6] Dr.
Vahed het bevestig dat hy op 12 Mei 2007 die klaer, wie gebore is op
10 Julie 1995, ondersoek het.
Hy het gevind dat die klaer se T-hemp en onderklere besmeer was met
fekalieë en moontlike semen. Hy het die klaer as klein
van
postuur beskryf. Met betrekking tot sy kliniese ondersoek en
waarnemings, soos dit aangeteken is op die J88 wat as bewysstuk
D
ingehandig is, het hy as volg getuig:
“He
had abrasions around the orifice... He had bruising and the anal
orifice was red. Of significance, he had multiple tears
at the five,
six, seven o’ clock and twelve o’ clock positions. The
examination of the rectum was very very tender...
He was very tender
on examination and I said he was definitely sodomised with deep anal
penetration. He has suffered severe anal
injuries, notably
lacerations and tears. I made a note of the tears and lacerations
and a diagrammatic form on the J88.”
(Oorkonde,
p.58, reël 14 tot p.59, reël 3)
[
7] Appellant
het in sy eie verdediging getuig tot dien effekte dat hy die aand van
die voorval by sy ouerhuis saam met sy ma en
sy oom was, waar hulle
televisie gekyk het. Met betrekking tot sy arrestasie het hy getuig
dat die dag waarop hy gearresteer is,
was hy vanaf die kliniek oppad
na sy huis toe ‘n polisiebeampte verskyn en hom gearresteer
het. Saam met die polisiebeampte
was ‘n ander manspersoon wat
aangedui het dat hy die vader van die klaer is. Nadat hy gearresteer
is, is hy in die polisievoertuig
gelaai en na ‘n sekere taverne
geneem. Die polisie het die agterkant van die voertuig oopgemaak en
die klaer (hoewel appellant
beweer dat hy toe die eerste keer die
klaer gesien het en hom op daardie stadium as `n onbekende seun
beskou het) is geroep en
gevra of appellant die regte persoon is, wat
die klaer bevestig het. Geen identiteitsparade is op enige stadium
gehou nie. Volgens
appellant het die klaer hom in die hof uitgewys
omdat die klaer hom reeds vantevore in die polisievoertuig gesien
het.
Ten
tyde van kruisverhoor het appellant getuig dat toe die klaer
appellant uitgewys het toe laasgenoemde agter in die polisievoertuig
was, die klaer na sy (appellant se) skoene gekyk en hom toe uitgewys
het. Hy het skoene gedra wat bekend staan as Jack Puzzles.
Appellant
het gedurende verdere kruisverhoor verduidelik dat hy ‘n
sieklike persoon is en gedurende Mei 2007, toe hierdie
voorval
plaasgevind het, hy so siek was dat hy nie verder as enkele meters
kon loop nie. Toe hy egter gekonfronteer is met die
feit dat hy, op
sy eie weergawe, enkele dae na die voorval toe hy gearresteer is in
staat was om vanaf die kliniek na sy huis te
loop, het hy verduidelik
dat hy op daardie stadium begin beter voel het. Ten tyde van verdere
kruisverhoor oor die vraag of hy
op ‘n Vrydag of ‘n
Saterdag gearresteer is, het hy getuig dat hy dit baie goed onthou
aangesien hy die voorafgaande
Woensdag stad toe was om ‘n bed
en ‘n musieksisteem te koop. Hy is toe gekonfronteer hiermee,
aangesien dit juis gedurende
daardie tydperk was wat hy, aldus sy
weergawe, skaars in staat was om te loop. Ten spyte van vele
verduidelikings, kon hy nie werklik
hierdie teenstrydighede sinvol
verduidelik nie.
Dit
het ook tydens kruisverhoor geblyk dat appellant voornemens was om sy
moeder as getuie te roep, maar dat sy moeder deurentyd
in die hof
gesit het ten tyde van sy getuienis.
[8] Nadat
die hof
a
quo
die Staat en die verdediging se betoë aangehoor het, het die
verhoorlanddros aangedui dat gegewe dat die identiteit van appellant
in dispuut is, sy dit nodig ag om die getuienis van die
polisiebeampte wat verantwoordelik was vir die arres van die
appellant,
aan te hoor ten einde vas te stel hoe en deur wie
appellant geïdentifiseer is.
[9] Die
tersaaklike polisiebeampte het toe inderdaad getuienis aangebied,
hoewel dit nie duidelik is wat sy identiteit is nie, aangesien
die
hofrekord aantoon dat daar `n kort meganiese onderbreking plaasgevind
het (oorkonde, p. 96). Die polisiebeampte het egter getuig
dat hy
genader is deur die klaer en sy vader, beide wie op daardie stadium
aan hom onbekend was, en het die klaer se vader hom
meegedeel dat
hulle sy hulp nodig het ten einde ‘n persoon te arresteer wat
die klaer gesodomiseer het. Hulle het die klaer
by sy vader se motor
gelos, terwyl die klaer se vader en die polisiebeampte met die
polisievoertuig gery het na die appellant,
waarop die klaer se vader
aangetoon het dat appellant die persoon is wat deur die klaer aan hom
uitgewys is. Appellant was welbekend
aan die polisiebeampte en daarom
het hy hom by name geroep. Hy het appellant in die polisievoertuig
gelaai en met hom gery na waar
die klaer was. Die klaer het appellant
toe uitgewys as die persoon wat hom gesodomiseer het. Ten tyde van
daardie uitwysing was
appellant in die polisievoertuig.
[10] Die
verhoorlanddros het daarop ook die klaer se vader, mnr. Sekoera, as
getuie geroep. Mnr. Sekoera het getuig dat ongeveer
sewe dae na die
voorval het hy die klaer by die skool gaan haal. Terwyl hulle deur
die gedeelte wat bekend staan as Meshengoville
gery het, het die
klaer skielik ‘n persoon (appellant) uitgewys en aangedui dat
dit die persoon is wat hom gesodomiseer het.
Appellant het in die
rigting van die winkels gestap. Nadat die klaer hom aan sy vader
uitgewys het, wou die klaer homself versteek.
Mnr. Sekoera het
opgemerk dat daar ‘n polisievoertuig geparkeer gestaan het en
het hy die polisiebeampte genader en hom meegedeel
dat die klaer pas
vir appellant uitgewys het as synde die persoon wat hom gesodomiseer
het. Hy het gevolglik die polisiebeampte
gevra om hom behulpsaam te
wees om appellant te arresteer. Hulle het die klaer in mnr. Sekoera
se motorvoertuig gelaat en met die
polisievoertuig na appellant gery.
Die polisiebeampte het hom gearresteer, waarna hy in die
polisievoertuig geplaas is. Hulle het
teruggery na waar die klaer
was, waar die klaer appellant uitgewys het as synde die persoon wat
hom gesodomiseer het. Appellant
het wel dieselfde tipe skoene
aangehad as wat die klaer van meet af aan gesê sy aanvaller die
dag van die voorval gedra het.
Dit is tekkies wat bekend staan as
sogenaamde Jack Puzzles. Mnr. Sekoera het getuig dat op die stadium
wat die klaer vir appellant
uitgewys het, hulle nie op soek was na
die aanvaller nie. Hulle het bloot gery, waarop die klaer spontaan
vir appellant uitgewys
het. Op daardie stadium was daar ook ander
mense in die omgewing. Hy het wel getuig dat die omgewing waar
appellant opgemerk is,
dieselfde omgewing is as waar die voorval
plaasgevind het.
Ten
tyde van sy kruisverhoor het mnr. Sekoera getuig dat na die voorval
die klaer aan hom ‘n gedetailleerde beskrywing van
sy aanvaller
gegee het. Onder andere het die klaer aan hom genoem dat die persoon
merke, amper soos skrape, en knoppies of openinge
op sy gesig het en
dat hy bles was. Hy het ook sy kleredrag aan hom beskryf. Verdermeer
het hy ook aan hom ‘n beskrywing
gegee van die velkleur van die
persoon. Volgens mnr. Sekoera het die klaer aan hom gesê dat sy
aanvaller soos mnr. Sekoera
se oom se kind lyk en het mnr. Sekoera
bevestig dat appellant inderdaad soos daardie persoon lyk.
[1
1] Mnr.
Nkhahle, namens appellant, het betoog dat appellant se identiteit as
synde dié van die aanvaller nie bo redelike
twyfel bewys is
nie. Hy het betoog dat gegewe dat die klaer en appellant onbekend was
aan mekaar, appellant nie kon geweet het
dat die klaer se vader ‘n
wit bakkie het nie. Hy het derhalwe aan die hand gedoen dat die
aanvaller waarskynlik eerder ‘n
persoon is wat bekend is aan
die klaer en sy vader. Verder het hy ook verwys na die feit dat daar
klaarblyklik twee persone is
wat nes appellant lyk, synde die buurman
en mnr. Sekoera se oom se kind. Dit het tot gevolg, aldus sy betoog,
dat dit blyk dat
appellant ‘n algemene voorkoms het. Verder het
hy ook aan die hand gedoen dat daar geen waarde aan die klaer se
identifisering
van appellant in die hof geheg kan word nie, aangesien
dit gekontamineer is deur die feit dat appellant na sy arrestasie in
die
polisievoertuig na die klaer geneem is en die klaer sodoende vir
appellant reeds voor die verhoor waargeneem het. Laastens was dit
ook
sy betoog dat dit blyk uit die uitspraak, soos dit voorkom op p. 128,
reëls 1 tot 7 van die oorkonde, dat die hof
a
quo
appellant se getuienis as vals verwerp het omdat die klaer se
getuienis aanvaar is, en nie, soos die hof
a
quo
veronderstel
was om te doen, deur appellant se getuienis te evalueer met
betrekking tot die vraag of dit redelik moontlik waar is
nie.
[12]
Mnr.
Strauss, namens die Staat, het na die verskillende beskrywings verwys
waarvolgens die klaer appellant beskryf het en het aan
die hand
gedoen dat appellant se identiteit as synde die aanvaller, inderdaad
bo redelike twyfel deur die Staat bewys is.
[13] Wat
die klaer se identifisering van appellant betref, het hy gedurende
kruisverhoor getuig dat hoewel die son besig was om
te sak, daar ‘n
kollig (“spotlight”) was wat die area verlig het waar die
klaer die eerste keer deur appellant
genader is toe appellant met hom
gepraat het. Volgens die klaer was die beligting sodanig dat hy ‘n
boek sou kon lees. Ook
naby die skool was daar steeds beligting
gewees. Na aanleiding van die klaer se waarneming van sy aanvaller,
was hy in staat om
‘n volledige en ‘n deeglike beskrywing
van appellant sowel as sy kleredrag te gee. In dié verband het
hy getuig
dat sy aanvaller bles was en dat sy gesig knoppies op gehad
het sowel as `n skraapmerk op sy wang. Verder het hy getuig dat hy ‘n
blou oorpakbroek aangehad het, met ‘n wit baadjie met ‘n
kappie en tekkie-skoene wat bekend staan as Jack Puzzles.
Hy het hom
as bruin van kleur beskryf, maar donkerder as hyself.
Nadat
die klaer vir appellant uitgewys het, is dit op rekord gestel dat
appellant inderdaad effens donkerder van kleur is as die
klaer, net
soos deur die klaer getuig en dat appellant wel knoppies op sy gesig
het. Met nadere ondersoek het dit ook geblyk dat
hy ‘n merk aan
sy gesig het soos deur die klaer beskryf.
Na my
mening word die klaer se getuienis met betrekking tot die beskrywing
van sy aanvaller ook versterk deur die feit dat die
klaer se tannie
en sy vader onderskeidelik bevestig dat appellant lyk soos die twee
persone met wie se voorkoms die klaer sy aanvaller
vergelyk het. Die
uitwysing deur die klaer van appellant in die teenwoordigheid van sy
vader, het ook baie spontaan plaasgevind
en kon op geen wyse
“gekontamineer” wees soos wat mnr. Nkhahle betoog het
moontlik die geval kan wees met betrekking
tot die klaer se uitwysing
van appellant in die hof nie.
[14] Mnr.
Nkhahle se betoog met betrekking tot die feit dat appellant nie kon
geweet het dat die klaer se vader ‘n wit bakkie
het nie, meen
ek dat wanneer daardie getuienis van naderby beskou word, veral soos
dit voorkom op p. 10, reëls 5 tot 7 van
die oorkonde, blyk dit
dat die aanvaller nie vir die klaer gesê het dat dit sy vader
is wat hom roep nie, maar bloot gesê
het dat dit ‘n
persoon met ‘n wit bakkie was wat hom geroep het en dat die
klaer in sý gemoed gemeen het dat
dit sy vader is.
[15] Wanneer
die uitspraak van die hof
a
quo
bestudeer word, blyk dit dat die hof
a
quo
ook bogemelde aspekte met betrekking tot die klaer se identifisering
van appellant in ag geneem het. Verder blyk dit uit p. 121,
reël
21 tot p. 122, reël 24 van die oorkonde, dat die verhoorlanddros
die gevare verbonde aan die getuienis van kinders
deeglik in ag neem
het, asook die versigtigheid wat aan die dag gelê moet word met
betrekking tot identifikasie getuienis.
Hiermee inaggenome het die
hof
a
quo
op p. 123, reëls 6 tot 7 van die oorkonde, tot die
gevolgtrekking gekom dat die klaer ‘n betroubare en
geloofwaardige
getuie is. Die hof
a
quo
het dan ook waarborge vir die betroubaarheid van die klaer se
identifisering van die appellant gevind en dit volledig uiteengesit
(oorkonde, p. 123, reëls 10 tot 18).
[16] Na
my mening kan daar geensins fout gevind word met die hof
a
quo
se evaluering van die klaer se getuienis en die gevolgtrekkings
waartoe geraak is nie.
[17] Wat
die getuienis van appellant betref, is dit inderdaad so dat daar geen
bewyslas op appellant gerus het om sy alibi te bewys
nie. Dit is
tereg deur mnr. Nkhahle betoog dat die aanvaarding van die Staat se
getuienis op sigself nie voldoende is om appellant
se alibi getuienis
te verwerp nie. Die getuienis moet in totaliteit beoordeel word by
oorweging van die vraag of die alibi redelik
moontlik waar kan wees,
aldan nie. Sien
S
v LIEBENBERG
2005 (2) SASV 355 (SCA) op 358 h – i.
[18] Wanneer
die getuienis in totaliteit beoordeel word, blyk dit dat daar nie net
oorweldigende getuienis teen appellant is nie,
maar terselfdertyd
blyk dit ook dat appellant nie ‘n goeie getuie was gegewe die
onwaarskynlikhede en weersprekings in sy
getuienis nie. Gebaseer op
die totaliteit van die getuienis, kan daar nie tot ‘n ander
gevolgtrekking gekom word as dat appellant
se alibi getuienis nie
redelik moontlik waar kan wees nie en dat die Staat bo redelike
twyfel appellant se skuld bewys het. Die
appèl teen die
skuldigbevinding kan derhalwe nie slaag nie.
[19] Wat
die opgelegde vonnis betref, was die enigste aspek daarvan wat deur
mnr. Nkhahle in sy betoog aangeveg is, die feit dat
appellant 15
maande verhoorafwagtend was welke aspek, aldus die betoog, nie
behoorlik in ag geneem is vir doeleindes van die oorweging
van ‘n
gepaste vonnis nie. Mnr. Nkhahle het onder andere gesteun op
S
v VILAKAZI
2009 (1) SASV 552 (SCA) op 572 en
S
v SEBOKO
2009 (2) SASV 573 (NCK).
[20] Die
vertrekpunt van die verhoorlanddros by die oorweging van ‘n
gepaste vonnis was 10 jaar gevangenisstraf, deurdat dit
die
voorgeskrewe minimum vonnis in terme van artikel 51(2)(b) van die
Strafregwysigingswet is vir onsedelike aanranding op ‘n
kind
onder die ouderdom van 16 jaar waarby die toediening van liggaamlike
leed betrokke is. By die oorweging van die vraag of daar
wesenlike en
dwingende omstandighede is wat die oplegging van ‘n mindere
vonnis noodsaak of regverdig, het die hof deeglike
oorweging geskenk
aan al die elemente tersaaklik by vonnisoplegging.
Wat
appellant se persoonlike omstandighede betref, blyk dit dat hy 32
jaar oud was, ongetroud met een afhanklike 10-jarige kind.
Hy het
standerd 8 op skool geslaag en het voorheen by Spoornet gewerk, maar
ten tyde van sy arrestasie was hy werkloos en het hy
‘n
staatstoelaag ontvang. Appellant is nie ‘n eerste oortreder
nie, deurdat hy vorige veroordelings van diefstal en
huisbraak met
die opset om te steel en diefstal het.
Wat
die aard en erns van die misdryf betref, het die hof
a
quo
volledig
daarmee gehandel, asook die gemeenskapsbelang wat gedien moet word
deur die oplegging van ‘n gepaste vonnis in die
geval van ‘n
ernstige misdryf soos die onderhawige. Die hof
a
quo
het na my mening ook heeltemal tereg verwys na die getuienis van die
klaer se moeder, mev. Maria Sekoera. Sy het getuig dat die
klaer
sedert die voorval swakker vaar op skool as voorheen. Vir ‘n
geruime tyd na die voorval het appellant ook nie meer
soos voorheen
met sy maats buite gespeel nie, hy het heeltyd in die huis gebly. Hy
het ook probleme ondervind om te slaap. Vir
ongeveer drie weke na die
voorval het hy telkens gehuil wanneer hy toilet toe gegaan het en het
hy aangedui dat hy pyn en ‘n
lopende maag, tesame met bloeding,
ervaar. Die hof
a
quo
het ook tereg verwys na die trauma en vernedering wat die klaer moes
ervaar het deur die daad van appellant.
[21] Wat
die tydperk betref wat appellant verhoorafwagtend was, is dit wel
deur die verhoorhof in
oorweging
geneem, maar is daar, na my mening heeltemal tereg, daarop gewys dat
sodanige tydperk slegs as wesenlike en dwingende
omstandighede beskou
kan word met inagneming en afhangende van die totaliteit van die
feite en omstandighede van ‘n bepaalde
saak (oorkonde, p. 142,
reëls 14 tot 17).
[22] Waar
daar in die onderhawige geval ‘n voorgeskrewe minimum vonnis is
en met inagneming van die totaliteit van die verswarende
faktore in
hierdie saak, meen ek dat die hof
a
quo
heeltemal tereg tot die klaarblyklike gevolgtrekking gekom het dat
die feit dat appellant 15 maande verhoorafwagtend was, nie op
sigself
voldoende is om wesenlike en dwingende omstandighede daar te stel in
hierdie geval nie. Dit is noodsaaklik om te let op
die onderskeid
tussen die twee sake waarna mnr. Nkhahle verwys het se feite en
omstandighede en dié in die onderhawige geval.
In
S
v VILAKAZI
,
supra
,
is ‘n vonnis van meer as die voorgeskrewe minimum opgelê
en het die hof in daardie geval die tydperk wat die appellant
verhoorafwagtend was, in aanmerking geneem by die vasstelling van die
hoeveelheid jaar gevangenisstraf addisioneel tot die voorgeskrewe
minimum. Dit is dus nie in ag geneem as ‘n wesenlike en
dwingende omstandigheid of faktor wat ‘n vermindering van die
voorgeskrewe minimum vonnis teweeggebring het nie. In
S
v SEBOKO
,
supra
,
het vonnisoplegging in die hof
a
quo
plaasgevind vóór die inwerkingtreding van die
Strafregwysigingswet en hoewel die tydperk wat die appellant
verhoorafwagtend
was in ag geneem is by die oorweging van ‘n
gepaste vonnis, is dit dus ook nie gedoen op die basis dat dit ‘n
faktor
is wat ‘n afwyking van enige voorgeskrewe minimum vonnis
regverdig het nie. Ten tyde van argument in die hof
a
quo
in
die onderhawige geval, is daar ook verwys na die uitspraak in
S
v NJIKELANA
2003 (2) SASV 166 (CPD) en is daar betoog dat in daardie geval die
hof die tydperk wat die appellant verhoorafwagtend was, as wesenlik
en dwingend beskou het om af te wyk van die voorgeskrewe minimum
vonnis. By nalees van daardie uitspraak blyk dit egter dat hierdie
betoog ten opsigte van daardie uitspraak, nie korrek is nie. In
daardie saak het die hof ses faktore uitgelig, één
waarvan die tydperk van verhoorafwagting was, en bevind dat die
kumulatiewe effek van ál ses die faktore as wesenlike en
dwingende omstandighede geag moet word.
[23] In
die onderhawige geval
meen ek dat die tydperk wat appellant verhoorafwagtend was, nie op
sigself voldoende is om af te wyk van die voorgeskrewe minimum
vonnis
van 10 jaar gevangenisstraf nie. Die opgelegde vonnis kan nie geag
word skokkend swaar en onvanpas te wees nie en is daar
derhalwe geen
basis waarop ingemeng kan word met die verhoorhof se diskresie met
betrekking tot vonnisoplegging nie.
[24] Gevolglik
word die die appèl ten opsigte van beide die skuldigbevinding
en die opgelegde vonnis van die hand gewys.
_____
________
C. VAN ZYL, R
Ek stem saam.
________________
S.P.B. HANCKE, R
Namens
appellant: Adv.
R.J. Nkhahle
In opdrag van:
Regssentrum
BLOEMFONTEIN
Namens
respondent: Adv. M. Strauss
In opdrag van:
Direkteur
Openbare Vervolgings BLOEMFONTEIN
/sp