Investec Bank Bpk en Anders v Scholtz NO; Investec Bank Bpk en Anders v Scholtz NO; Investec Bank Bpk en Anders v Scholtz NO (3056/2011, 3057/2011, 3058/2011) [2011] ZAFSHC 208 (15 December 2011)

57 Reportability
Insolvency Law

Brief Summary

Insolvency — Application for provisional sequestration — Compliance with notice requirements — Applicants sought provisional sequestration orders against trusts administered by the respondent, who is the sole trustee — Respondent contended that notice provisions of the Insolvency Act were not complied with — Court found that the notice requirements were met, as the employees of the trusts had proper access to the premises where notices were served — Compliance with statutory requirements deemed sufficient despite minor discrepancies — Provisional sequestration orders granted in favor of the applicants.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2011
>>
[2011] ZAFSHC 208
|

|

Investec Bank Bpk en Anders v Scholtz NO; Investec Bank Bpk en Anders v Scholtz NO; Investec Bank Bpk en Anders v Scholtz NO (3056/2011, 3057/2011, 3058/2011) [2011] ZAFSHC 208 (15 December 2011)

VRYSTAATSE HOË HOF, BLOEMFONTEIN
REPUBLIEK VAN SUID-AFRIKA
Aansoek Nr. : 3056/2011
In
die aansoek van:-
INVESTEC BANK BEPERK
..........................................
Eerste Applikant
LUKE BERNARD SAFFY N.O.
............................
Toetredende
Applikant
CHAVONNES
BADENHORST ST.CLAIR
...........
Toetredende Applikant
COOPER N.O.
DONOVAN
THEODORE MAJIEDT N.O.
.............
Toetredende
Applikant
versus
ANDREW
GEORGE SCHOLTZ N.O.
...................................
Respondent
(In
sy hoedanigheid as enigste trustee van
Jo-Ann
Trust IT 968/2000)
Aansoek Nr. : 3057/2011
In die aansoek van:-
INVESTEC BANK BEPERK
..........................................
Eerste
Applikant
ALLAN DAVID PELLOW N.O.
............................
Toetredende
Applikant
EUGENE FREDERICK SAFFY N.O.
...................
Toetredende Applikant
DONOVAN THEODORE MAJIEDT N.O.
.............
Toetredende Applikant
versus
ANDREW GEORGE SCHOLTZ
...........................................
Respondent
(In sy hoedanigheid as enigste trustee van
Rocklands Development Trust IT 874/1999)
Aansoek Nr. : 3058/2011
In die aansoek van:-
INVESTEC BANK BEPERK
.
.........................................
Eerste
Applikant
LUKE BERNARD SAFFY N.O.
............................
Toetredende
Applikant
CHAVONNES
BADENHORST ST.CLAIR
COOPER N.O.
.....................................................
Toetredende
Applikant
DONOVAN
THEODORE MAJIEDT N.O.
.............
Toetredende
Applikant
versus
ANDREW
GEORGE SCHOLTZ N.O.
.
..................................
Respondent
(In
sy hoedanigheid as enigste trustee
van
Barkly Road Development Trust IT 1701/2001)
_____________________________________________________
AANGEHOOR OP:
1 DESEMBER 2011
_____________________________________________________
UITSPRAAK DEUR:
VAN DER MERWE, R
_____________________________________________________
GELEWER OP:
15 DESEMBER 2011
_____________________________________________________
INLEIDING
[1] Op 11 Augustus 2011 is in elk van die voormelde drie
aansoeke ten gunste van die eerste applikant (Investec) voorlopige
sekwestrasiebevele
verleen ten opsigte van die boedels van Jo-Ann
Trust IT 968/2000 (Jo-Ann Trust), Rocklands Development Trust IT
874/1999 (Rocklands
Trust) en Barkly Road Development Trust IT
1701/2001 (Barkly Road Trust). Hierdie is die verlengde keerdag van
die drie voorlopige
sekwestrasiebevele.
[2] Die toetredende applikante in aansoeke 3056/2011 en
3058/2011 is die likwidateure van Vista Park Developers (Edms) Bpk
(Vista
Park). Die toetredende applikante in aansoek 3057/2011 is die
likwidateure van Aralella Holdings (Edms ) Bpk (Aralella). Op 11
Augustus 2011 is aan die toetredende applikante verlof verleen om as
applikante tot die betrokke aansoeke toe te tree. Die toetredende

applikante se standpunt is dat indien enige van die voorlopige
sekwestrasiebevele ten gunste van Investec opgehef sou word, versoek

word dat voorlopige sekwestrasiebevele ten gunste van die toetredende
applikante verleen word.
[3] Al die voormelde bevele van 11 Augustus 2011 is by
ooreenkoms tussen die partye verleen. Kragtens ooreenkoms tussen al
die partye
is al drie sekwestrasie-aansoeke en al drie voorwaardelike
aansoeke van die toetredende applikante gelyktydig verhoor. Dit is ‘n

verstandige en koste-effektiewe reëling. Die partye het aansoek
3057/2011 as die hoofaansoek beskou en in die stukke in die
ander
aansoeke is grootliks verwys na die stukke in aansoek 3057/2011. By
die aanhoor van die aansoeke het ek ‘n dupliserende
verklaring
namens die respondente toegelaat. Hierdie verklaring het betrekking
op al drie aansoeke van Investec en al drie aansoeke
van die
toetredende applikante. Dit is gevolglik aangewese om een uitspraak
te gee ten opsigte van al die aansoeke voor my. Alhoewel
die stukke
van Investec in Engels is, is al die ander stukke in Afrikaans en was
al die betoë voor my in Afrikaans. Dit is
gevolglik ook
aangewese om uitspraak in Afrikaans te gee.
[4] Mnr. Andrew George Scholtz is die enigste trustee
van Rocklands Trust, Barkly Road Trust, Jo-Ann Trust, die Scholtz
Familietrust
en Lee Marco Trust. Die begunstigdes van Rocklands Trust
is die trustees van Jo-Ann Trust. Die begunstigdes van Barkly Road
Trust
is die trustees van Jo-Ann Trust en die kinders van Mnr.
Scholtz en hul afstammelinge. Die begunstigdes van Jo-Ann Trust is
die
kinders van Mnr. Scholtz en hul afstammelinge sowel as die Lee
Marco Trust. Laasgenoemde is klaarblyklik ook ‘n verbonde
trust.
[5] Die Scholtz Familietrust is die enigste aandeelhouer
in Aralella. Mnr. Scholtz is dus in sy hoedanigheid as enigste
trustee
van die Scholtz Familietrust die enigste aandeelhouer in
Aralella en is ook die enigste direkteur daarvan. Aralella is finaal
gelikwideer
op 4 November 2010.
[6] Jo-Ann Trust is die enigste aandeelhouer in Vista
Park. Mnr. Scholtz is dus in sy hoedanigheid as enigste trustee van
Jo-Ann
Trust, die enigste aandeelhouer in Vista Park en is ook die
enigste direkteur daarvan. Vista Park is in likwidasie geplaas op 10

Junie 2010.
[7] Mnr. Scholtz is die enigste lid van Consouw BK
(Consouw). Consouw is finaal gelikwideer op 11 November 2010.
[8] Uit hoofde van die voorgaande moet eerstens bepaal
word of finale sekwestrasiebevele ten opsigte van die boedels van die
respondente
ten gunste van die Investec verleen moet word. Die
belangrikste vrae wat beantwoording verg, is of betekening soos
vereis geskied
het aan die werknemers van die respondente en of die
boedels van Rocklands Trust en Barkly Road Trust insolvent is. Indien
beide
vrae ten gunste van Investec beantwoord word, moet oorweeg word
of dit tot voordeel van die krediteure van die respondente is dat

finale sekwestrasiebevele uitgereik word en indien wel, of nogtans ‘n
diskresie teen verlening van finale sekwestrasiebevele
uitgeoefen
behoort te word.
BETEKENING AAN WERKNEMERS
[9] Ten spyte daarvan dat dit nie in die aansoekstukke
of betoogshoofde namens die respondente in die vooruitsig gestel is
nie,
steun die respondente daarop dat die bepalings van artikel
9(4A)(a)(ii) en 11(2A)(b) van die Insolvensiewet, 24 van 1936, nie
nagekom
is nie.
[10] Hierdie artikels bepaal soos volg:

(4A)(a) Wanneer ‘n versoekskrif by
die hof voorgelê word, moet die versoeker ‘n afskrif van
die versoekskrif verskaf

...
aan die werknemer self –
(aa) deur ‘n afskrif van die versoekskrif aan te bring op enige
kennisgewingbord op die skuldenaar se perseel waartoe die
versoeker
en die werknemers toegang het; of
(bb) indien daar geen toegang tot die perseel deur die versoeker en
die werknemers is nie, deur ‘n afskrif van die versoekskrif
aan
te bring op die toegangshek van die perseel, waar toepaslik, so nie
op die voordeur van die perseel vanwaar die skuldenaar
ten tye van
die voorlegging van die versoekskrif enige besigheid bedryf het;
.....
11(2A) ‘n Afskrif van die bevel nisi moet gedien word op –
...
die skuldenaar se werknemers deur ‘n afskrif van die
versoekskrif aan te bring op enige kennisgewingbord op die
skuldenaar
se perseel waartoe die werknemers toegang het, of indien
daar geen toegang tot die perseel deur die werknemers is nie, deur
‘n
afskrif aan te bring op die toegangshek, waar toepaslik, so
nie op die voordeur van die perseel vanwaar die skuldenaar ten tye

van die voorlegging van die versoekskrif enige besigheid bedryf
het;”
(Dit kom voor dat in artikel 11(2A)(b) ‘n fout
ingesluip het deurdat daarin na ‘n afskrif van die versoekskrif
verwys
word eerder as die bevel
nisi
. Ek aanvaar vir
doeleindes hiervan dat bedoel is dat die bevel
nisi
aldus
beteken moet word.)
[11] Dit is duidelik dat artikel 9(4A) ‘n
informele proses voorsien. Die applikant moet ‘n afskrif van
die aansoek om
sekwestrasie verskaf. Betekening deur die balju word
nie vereis nie. Ek stem egter saam dat hierdie bepalings in
gebiedende vorm
gegiet is, in teenstelling met byvoorbeeld artikel
9(4A)(a)(iv) wat bepaal dat die hof na goeddunke kan afsien van die
verskaffing
van ‘n afskrif van die aansoek aan die skuldenaar
indien die hof oortuig is dat dit in die belang van die skuldenaar of
van
die skuldeisers is om so te doen.
[12] Die eerste vraag is dus of
nakoming van hierdie bepalings geskied het. In hierdie verband is dit
na my oordeel belangrik om
te let op wat gesê is in
MAHARAJ
AND OTHERS v RAMPERSAD
1964 (4) SA 638
(A) op 646 D, naamlik:

The enquiry, I suggest, is not so much
whether there has been 'exact' 'adequate' or 'substantial' compliance
with this injunction
but rather whether there has been compliance
therewith. This enquiry postulates an application of the injunction
to the facts and
a resultant comparison between what the position is
and what, according to the requirements of the injunction, it ought
to be.
It is quite conceivable that a Court might hold that, even
though the position as it is is not identical with what it ought to
be, the injunction has nevertheless been complied with. In deciding
whether there has been a compliance with the injunction the
object
sought to be achieved by the injunction and the question of whether
this object has been achieved are of importance.”
[13] Daar moet vervolgens ook rekening gehou word met
die bepalings van artikel 157(1) van die Insolvensiewet wat in
outydse Afrikaans
van 1936 soos volg lui:

Geen verrigting ingevolge hierdie Wet is
weens ‘n formele gebrek of onreëlmatigheid ongeldig nie,
tensy daardeur ‘n
aanmerklike onreg aangedaan is wat volgens
die oordeel van die hof nie deur ‘n order van die hof herstel
kan word nie.”

n Aanmerklike onreg volgens
die Engelse teks van die Wet is ‘n “substantial
injustice”.
[14] In elk van die aansoeke is relase van die Balju van
Bloemfontein gedateer 19 Mei 2011 en 17 Augustus 2011 en wat soos
volg
lui:

On this 19
th
day of May 2011 at 13:55 I served this notice of motion, founding
affidavit M. Ackermann with annexures FA1 to FA43 upon the employees

of Scholtz A G N O at the chosen
domicilium
citandi et executandi
at Sovereign
House, Second Floor, c/o First Avenue and Charles Street,
Bloemfontein, aforementioned address a premises to which
the
employees of Scholtz A G N O has proper access, by fixing a copy to
the main entrance (Main door to offices) as I found the
address to be
vacated.”

Op hierdie 17de dag van Augustus 2011 om
9:15 het ek ‘n afskrif van hierdie bevel
nisi
gedateer 15 Augustus 2011 behoorlik beteken
deur ‘n afskrif daarvan op die ontvangstoonbank van Scholtz A G
N O se besigheidsplek
te Brilstraat 2, Westdene, Bloemfontein te
laat, voormelde adres ‘n perseel waartoe die werknemers van
Scholtz A G N O behoorlike
toegang het.
Opmerkings:
Daar is geen kennisgewingbord op die perseel nie en het ek dus die
afskrif vir die vier werknemers se kennisname op die toonbank

gelaat.
Die werknemers word na bewering nie deur enige geregistreerde
vakbonde verteenwoordig en kon betekening ten aansien hiervan nie

geskied nie.”
[15] Die verwysing na ‘n bevel
nisi
gedateer 15 Augustus 2011 in die relase van 17 Augustus 2011 is na my
oordeel klaarblyklik slegs ‘n fout en moet verstaan
word as ‘n
verwysing na die bevel
nisi
gedateer 11 Augustus 2011. Daar is
geen ander bevele
nisi
in hierdie aansoeke uitgereik dan dié
gedateer 11 Augustus 2011 nie.
[16] Ingevolge die bepalings van
artikel 36(2) van die Wet op die Hooggeregshof, 59 van 1959, is die
betrokke relase
prima facie
getuienis daarvan dat die werknemers van die
betrokke trusts toegang tot die betrokke persele gehad het en dit is
nie in getuienis
voor my betwis nie. Dit volg dat ten opsigte van die
relase van die betekenings op 19 Mei 2011 die bepalings van artikel
9(4A)(a)(ii)(aa)
van toepassing is en nie sub-artikel (bb) nie en dat
ten opsigte van die betekenings van 17 Augustus 2011 die eerste
gedeelte van
artikel 11(2A)(b) van toepassing is. Dit is ‘n
noodwendige implikasie van die relase van 19 Mei 2011 dat geen
kennisgewingbord
beskikbaar was nie, terwyl die relase van 17
Augustus 2011 uitdruklik vermeld dat geen kennisgewingbord op die
perseel beskikbaar
was nie. Dit is opmerklik dat die Wet nie bepaal
wat in so ‘n geval moet gebeur nie. Dit kan gevolglik nie gesê
word
dat betekening deur aanhegting aan die hoofingang op 19 Mei 2011
en deur die bevel nisi op die ontvangstoonbank te laat op 17 Augustus

2011 nie ooreenkomstig die Wet is nie. Die bedoeling van hierdie
voorskrifte is om ‘n afskrif van die aansoek om sekwestrasie
of
die voorlopige sekwestrasiebevel te laat op ‘n plek waar die
werknemers van die betrokke respondent toegang daartoe te
kan verkry.
In die omstandighede is na my oordeel aan hierdie oogmerk voldoen en
bevind ek dat nakoming van die betrokke wetsbepalings
geskied het.
[17] In ieder geval is hoogstens
formele gebreke soos bedoel in artikel 157(1) ter sprake. ‘n
Formele gebrek is een wat te
doen het met prosedure en nie met die
meriete of substansie van die aangeleentheid nie. Ek is oortuig
daarvan dat hier geen wesenlike
onreg teenoor die werknemers van die
respondente kon plaasgevind het nie. Mnr. Scholtz is die enigste
trustee van al drie respondente
en dit is skaars denkbaar dat die
vier werknemers van die respondente onbewus kon gewees het van die
aansoeke om sekwestrasie van
die respondente en/of die voorlopige
sekwestrasiebevele. Alhoewel dit nie deur die voorlopige
sekwestrasiebevele of die praktyk
van hierdie hof geverg is nie, het
publikasie van die bevel
nisi
in elk geval ook geskied in die Volksblad (en die
Staatskoerant). In die afwesigheid van enige aanduiding tot die
teendeel, is dit
moeilik om in te sien hoe die belange van vier
werknemers ‘n wesenlike invloed sou kon hê op die vrae
wat op die meriete
hiervan beantwoord moet word. Ek meen dus dat
enige gebrek of onreëlmatigheid met betrekking tot betekening
van die aansoeke
en/of die voorlopige sekwestrasiebevele aan die
werknemers van die respondente in ieder geval ‘n formele gebrek
of onreëlmatigheid
is wat nie wesenlike onreg en dus
ongeldigheid tot gevolg gehad het nie.
DAADWERKLIKE INSOLVENSIE
[18] Die toets vir feitelike
insolvensie is of die laste van die respondent, billik gewaardeer,
die bates daarvan, billik gewaardeer,
oorskry. Dit beteken dat bewys
moet word dat die werklike laste van die respondent meer is dan die
markwaarde van sy bates. Sien
DE
VILLIERS v BATEMAN
1946 TPD 126
op
130 en
MACKAY v CAHI
1962 (4) SA 193
(O) op 194
E – F, 195 D, 196 B en 204 F.
[19] Kragtens skriftelike leningsooreenkoms getitel
kontrak 002, aangegaan op 24 Maart 2010, het Investec die bedrag van
R63 733
434,92 aan Aralella geleen en voorgeskiet. Kragtens
skriftelike leningsooreenkoms getitel kontrak 005, aangegaan op 24
Maart 2010,
het Investec die bedrag van R10 332 364,71 aan Consouw
geleen en voorgeskiet. Kragtens skriftelike leningsooreenkoms getitel
kontrak
007, aangegaan op 24 Maart 2010, het Investec die bedrag van
R2 897 896,65 aan Consouw geleen en voorgeskiet. Kragtens skriftelike

leningsooreenkoms getitel kontrak 008, aangegaan op 24 Maart 2010,
het Investec die bedrag van R7 miljoen aan Consouw geleen en

voorgeskiet. Kragtens skriftelike leningsooreenkoms getitel kontrak
009, aangegaan op 16 Februarie 2010, het Investec die bedrag
van R20
938 566,00 aan Consouw geleen en voorgeskiet. Kragtens skriftelike
leningsooreenkoms getitel kontrak 010, aangegaan op
24 Maart 2010,
het Investec die bedrag van R8 472 583,00 aan Consouw geleen en
voorgeskiet. Kragtens skriftelike leningsooreenkoms
getitel kontrak
011, aangegaan op 30 Julie 2010, het Investec die bedrag van R18 907
000,00 aan Consouw geleen en voorgeskiet.
Die totale bedrag aldus aan
Consouw geleen en voorgeskiet beloop dus R68 548 410,36. Die partye
het na kontrak 002 verwys as die
eerste leningsooreenkoms, kontrak
005 as die tweede leningsooreenkoms, kontrak 007 as die derde
leningsooreenkoms, kontrak 008
as die vierde leningsooreenkoms,
kontrak 009 as die vyfde leningsooreenkoms, kontrak 010 as die sesde
leningsooreenkoms en kontrak
011 as die sewende leningsooreenkoms. Ek
sal geriefshalwe ook so doen.
[20] Dit was ‘n uitdruklike voorwaarde van die
eerste leningsooreenkoms dat Rocklands Trust, Barkly Road Trust,
Scholtz Familietrust,
Vista Park, Consouw en Mnr. Scholtz hul elk
teenoor die applikant verbind as borg en mede-hoofskuldenaar vir die
verpligtinge van
Aralella teenoor Investec tot ‘n bedrag van
R60 miljoen en dat Jo-Ann Trust hom aldus verbind tot die bedrag van
R10 miljoen.
Op hierdie wyse het Consouw ook as borg en
mede-hoofskuldenaar aanspreeklik geword teenoor Investec vir die
aanspreeklikheid van
Aralella teenoor Investec. Dit was ‘n
uitdruklike voorwaarde van elk van die tweede tot sewende
leningsooreenkomste dat Rocklands
Trust, Barkly Road Trust, die
Scholtz Familietrust, Vista Park, Aralella en Mnr. A.G. Scholtz hul
telkens teenoor Investec verbind
as borg en mede-hoofskuldenaar vir
die nakoming van die verpligtinge van Consouw teenoor Investec tot
die bedrag van R60 miljoen
en dat Jo-Ann Trust hom aldus telkens
verbind tot die bedrag van R10 miljoen.
[21] Kragtens skriftelike borgakte aangegaan op 15
Februarie 2010 het Rocklands Trust hom teenoor Investec verbind vir
die nakoming
van die verpligtinge van Aralella teenoor Investec.
Kragtens vier afsonderlike skriftelike borgaktes elk aangegaan op 15
Februarie
2010,het Rocklands Trust hom teenoor Investec verbind as
borg en mede-hoofskuldenaar vir die nakoming van die verpligtinge van
Consouw teenoor Investec. Op 22 Februarie 2010 en 20 Julie 2010 het
Rocklands Trust insgelyks skriftelike borgaktes aangegaan vir

verskuldigheid van Consouw. Elkeen van hierdie sewe borgaktes was
beperk tot die bedrag van R60 miljoen. Barkly Road Trust het
op
presies dieselfde datums en presies dieselfde terme hom as borg en
mede-hoofskuldenaar teenoor Investec verbind en dieselfde
geld vir
Jo-Ann Trust, behalwe dat die aanspreeklikheid van Jo-Ann Trust tot
R10 miljoen beperk is. (Inderwaarheid is in een van
die borgaktes wat
namens Jo-Ann Trust onderteken is op 15 Februarie 2010, die
aanspreeklikheidsperk op R60 miljoen gestel. Soos
hieronder sal blyk,
draai niks egter hierom nie.)
[22] Die partye het na elk van die drie borgaktes wat
Rocklands Trust, Barkly Road Trust en Jo-Ann Trust vir die skuld van
Aralella
gegee het, telkens verwys as die eerste borgakte. Alhoewel
nie een van die borgaktes wat deur die respondente vir die skuld van

Consouw gegee is, enigsins na enige van die leningsooreenkomste
verwys nie, het Investec in die stukke die vier borgaktes wat elk
van
die respondente op 15 Februarie 2010 ten opsigte van die skuld van
Consouw aangegaan het, gekoppel aan die tweede, derde, vierde
en
vyfde leningsooreenkomste en gevolglik ook daarna verwys as die
tweede, derde, vierde en vyfde borgaktes onderskeidelik. Die

borgaktes aangegaan op 22 Februarie 2010 is gekoppel aan die sesde
leningsooreenkoms en is telkens na verwys as die sesde borgakte.

Insgelyks is die borgaktes aangegaan op 20 Julie 2010 gekoppel aan
die sewende leningsooreenkoms en telkens na verwys as die sewende

borgakte.
[23] Na die likwidasie van Aralella en Consouw is sekere
betalings aan Investec gemaak. As gevolg hiervan is soos op 1
November
2011 die verskuldigheid van Aralella teenoor Investec
ongeveer R28,9 miljoen en die verskuldigheid van Consouw teenoor
Investec
ongeveer R47,1 miljoen, ten opsigte die tweede tot sewende
leningskontrakte tesame. Hierdie bedrae dra rente vanaf 2 November
2011
teen rentekoerse van tussen 12% per jaar en 17,62 per jaar
bereken op daaglikse saldo en maandeliks saamgestel. Bereken teen 12%

per jaar beloop die maandelikse rente betaalbaar op die totale skuld
van R76 miljoen die bedrag van R760 000,00 per maand. Dit
word
aanvaar dat die likwidateure van Consouw ‘n verdere bedrag van
R14 miljoen aan Investec sal betaal, maar dit is nog
nie inderdaad
betaal nie.
[24] Dit is namens Jo-Ann Trust reeds in die stukke
toegegee dat Jo-Ann Trust insolvent is. Op hierdie respondent se eie
syfers
en sonder inagneming van enige verskuldigheid van Jo-Ann Trust
aan Investec, oorskry die laste van Jo-Ann Trust die bates daarvan

met ongeveer R30 miljoen. In die bespreking hieronder word gevolglik
gehandel met die finansiële posisie van Rocklands Trust
en
Barkly Road Trust.
[25] Volgens die Rocklands Trust self het dit laste van
ongeveer R12,1 miljoen bo en behalwe enige verskuldigheid aan
Investec.
Volgens die Barkly Road Trust het dit laste van ongeveer
R19,8 miljoen bo en behalwe enige verskuldigheid aan Investec.
[26] Rocklands Trust is die eienaar van ‘n
winkelsentrum. Die markwaarde van die winkelsentrum is in ‘n
waardasie wat
deel vorm van die stukke voor my bepaal op R35,5
miljoen en hierdie waardasie word deur Rocklands Trust aanvaar.
Barkly Road Trust
is ook die eienaar van ‘n winkelsentrum en ‘n
vulstasie. Barkly Road Trust stel die waarde daarvan tesame op R32
miljoen
en dit word nie vir huidige doeleindes deur Investec betwis
nie. Namens die respondente is gepoog om aan te voer dat twee maande

se huurgeld ten opsigte van die winkelsentrums en vulstasie bates in
die boedels van Rocklands Trust en Barkly Road Trust vorm.
Ek kan nie
insien hoe toekomstige huurgeld vir huidige doeleindes bates in die
boedels kan vorm nie. In elk geval maak hierdie
bedrae weinig verskil
aan die groter prentjie, veral as rente verskuldig aan Investec ook
in ag geneem word. Volgens Barkly Road
Trust het dit ook bates
bestaande uit ‘n lening deur Rocklands Trust aan Barkly Road
Trust verskuldig in die bedrag van R302
098.00 en ‘n dividend
in die bedrag van R1 222 888,05 wat verwag word ten opsigte van ‘n
lening deur Barkly Road Trust
aan Jo-Ann Trust gemaak. Saam met die
winkelsentrum en vulstasie sou dit die bates van Barkly Road Trust op
ongeveer R34 miljoen
te staan bring. In argument is op gekunstelde en
foutiewe wyse aangevoer dat Barkly Road Trust as borg vir Vista Park
‘n
bedrag van ongeveer R21,5 miljoen verskuldig is aan Standard
Bank, maar dat ‘n verhaalsreg teen Standard Bank ten opsigte

van dieselfde onderwerp ‘n bate van ongeveer R18,5 miljoen
daarstel. Ek vind nie hierdie redenasie aanvaarbaar nie en meen
dat
hierdie bedrae weggelaat moet word. Barkly Road Trust ontken in die
stukke dat dit as borg teenoor Standard Bank aanspreeklik
is en
Investec steun nie op sodanige verskuldigheid nie. Dit is in elk
geval tot voordeel van Barkly Road Trust aangesien op hierdie
wyse ‘n
netto las van ongeveer R3 miljoen weggelaat word.
[27] Op die basis dat beide Rocklands Trust en Barkly
Road Trust ingevolge die borgaktes aanspreeklik is vir die totale
verskuldigheid
van Aralella en Consouw teenoor Investec, het beide
Rocklands Trust en Barkly Road Trust geen ander bates dan bogemelde
nie en
is beide heeltemal insolvent. Op hierdie basis beloop die
totale laste van Rocklands Trust R88,1 miljoen terwyl die bates
daarvan
R35,5 miljoen beloop en beloop die totale laste van Barkly
Road Trust ongeveer R95,8 miljoen, terwyl die totale bates daarvan
ongeveer
R34 miljoen beloop. Dit is gevolglik na my oordeel tereg
gedurende argument toegegee dat op hierdie grondslag insolvensie van
Rocklands
Trust en Barkly Road Trust bewys is. Die betaling van die
gemelde bedrag van R14 miljoen aan Investec, sal klaarblyklik geen
verskil
aan hierdie gevolgrekking maak nie.
[28] Die argument van die respondente dat nogtans nie
bewys is dat Rocklands Trust en Barkly Road Trust insolvent is nie,
verloop
min of meer soos volg. Die tersaaklike borgaktes magtig die
trustees slegs om die trusts as borg te verbind indien dit tot
voordeel
van die trustbegunstigdes is. Slegs die tweede en vyfde
borgaktes aangegaan deur Rocklands Trust en Barkly Road Trust is
afdwingbaar,
omdat die fondse wat by wyse van die tweede en vyfde
leningsooreenkomste bekom is, tot voordeel van die begunstigdes van
Rocklands
Trust en Barkly Road Trust aangewend is. Die Rocklands
Trust en Barkly Road Trust was dus van meet af aan slegs aanspreeklik
van
die bedrae ingevolge die tweede en vyfde leningsooreenkomste aan
Consouw geleen en voorgeskiet, dit wil sê R10 332 364,71
en R20
938 566,00. Hierdie bedrae moet egter verder verminder word as gevolg
van pro rata toedeling van die betalings wat sedertdien
deur Investec
ten opsigte van die tweede tot sesde leningsooreenkomste ontvang is
asook die verwagte betaling van R14 miljoen.
Die aldus verminderde
totale bedrag wat deur beide Rocklands Trust en Barkly Road Trust aan
Investec verskuldig is, is die bedrag
van ongeveer R14 miljoen.
[29] Dit volg dat die argument van
die respondente berus op die aanvaarding van elk van twee
proposisies, naamlik eerstens dat die
borgaktes, behalwe die tweede
en vyfde borgaktes, onafdwingbaar is
en
tweedens dat die aanspreeklikheid van Rocklands
Trust en Barkly Road Trust ingevolge die tweede en vyfde borgaktes
beperk is tot
die gemelde verminderde uitstaande bedrae ingevolge die
tweede en vyfde leningsooreenkomste. Na my oordeel, vir die redes wat
volg,
kan geeneen van hierdie proposisies aanvaar word nie.
[30] Ek aanvaar dat ‘n handeling deur ‘n
trustee verrig wat nie deur die tersaaklike trustakte gemagtig word
nie, onafdwingbaar
is. Of ‘n bepaalde handeling van ‘n
trustee deur die trustakte gemagtig is, is ‘n kwessie van
uitleg van die
trustakte, met ander woorde die vasstelling van die
bedoeling uit die woorde wat gebruik is in die konteks waarin dit
gebruik is.
[31] Die trustakte van Rocklands Trust bepaal in hierdie
verband soos volg:

11.1 The powers of the trustees defined in
this Trust Deed are powers which relate to that of the office of
trustee, to enable them
to administer the trust fund on behalf of the
beneficiaries and not for their personal benefit. The extent of the
powers vested
in trustees must be interpreted subject to the main
objective of the trust, namely to benefit the beneficiaries.
11.2 The trustees shall at all times be vested with such powers to
deal with the trust assets which they in their exclusive discretion

deem necessary to best control the trust fund for the benefit of the
beneficiaries. The main purpose of the trust is to conduct
business
of whatever nature in order to generate funds for the trust. Without
restricting the general powers of the trustees, the
trustees shall
have the powers to:”
[32] Hierna volg feitlik elke denkbare bevoegdheid,
insluitende:

11.2.5 Grant loans to a beneficiary or any
other person or institution of the trustees’ choice, with or
without interest against
or free of security, or on such terms and
conditions as the trustees may in their discretion determine;
11.2.6 Negotiate loans in favour of the trust, with or without
interest, with or without security, and on such terms and conditions

as are agreed with the lender;
11.2.7 Mortgage, hypothecate or grant a lien on any asset of the
trust;
11.2.8 Sell, let, improve, alter and maintain any fixed property
forming part of the trust fund and if need be, to demolish fixed

improvements and direct new improvements;
.....
11.2.10 Undertake township and sectional title development on trust
property;
.....
11.2.14 Guarantee as surety or co-principal debtor, the due
performance by any person or company for compensation or free of
charge,
and to bind an asset of the trust, as collateral security for
this purpose, provided that such guarantee and/or surety shall only

be given after a unanimous trustee’s resolution to that affect;
.....
11.2.20 Carry on any form of business operation, including farming,
in the name of the trust for profit or otherwise, alone or
in
partnership or association;”
[33]
Klousules 9.1 en 9.2 van die
trustakte van Barkly Road Trust is identies aan klousules 11.1 en
11.2 hierbo aangehaal, behalwe dat
dit nie die tweede sin van
klousule 11.2 bevat nie. Die spesifiek omskrewe bevoegdhede van die
trustees ingevolge trustakte van
die Barkly Road Trust is ook
wesenlik dieselfde, behalwe dat paragraaf 9.2.12 daarvan nie die
beperking van ‘n eenparige
resolusie met betrekking tot
borgaktes bevat nie en dus bloot bepaal dat die trustee gemagtig is

to guarantee as surety, or co-principal
debtor, the due performance by any person or company for compensation
or free of charge,
and to bind an asset of the trust, as collateral
security for this purpose.”
Die inhoud van paragrawe 9.1 en die inleidende gedeelte
van 9.2 van die trustakte van Jo-Ann Trust is identies aan die
ooreenstemmende
paragrawe van die trustakte van Barkly Road Trust.
Die spesifieke bevoegdhede is ook wesenlik dieselfde, met die verskil
dat paragraaf
9.2.12 van die trustakte van Jo-Ann Trust bepaal dat
die trustees die bevoegdheid het om

die nakoming van die verpligtinge van enige
persoon of regspersoon, teen vergoeding of gratis, te waarborg as
borg en mede-hoofskuldenaar,
en, as kollaterale sekuriteit vir die
doel, ‘n bate van die trust as sekuriteit te verbind, mits
sodanige borgstelling tot
voordeel van die trust en die begunstigdes
is.”
[34] Die inhoud van klousule 11.1 (en
klousule 9.2 van die trustakte van Barkly Road Trust) is inleidend en
algemeen van aard. Inderwaarheid
gee dit weer wat in elk geval die
posisie is, selfs al sou klousule 11.1 nie in die trustakte vervat
gewees het nie. Daarenteen
is klousule 11.2 (en die ooreenstemmende
klousule in die trustakte van Barkly Road Trust) ‘n spesiale
bepaling. Dit bepaal
naamlik dat die trustee die bevoegdhede het wat
hy in sy uitsluitlike diskresie ag nodig te wees om die trustfonds
ten beste vir
die voordeel van die trust begunstigde beheer en dat
sonder om die algemeenheid daarvan enigsins te beperk, die trustee
die bevoegdhede
het wat daarna spesifiek uiteengesit is.
[35] Myns insiens is dit ‘n
geval van
generalia specialibus non
derogant
(algemene bepalings doen nie
afbreuk aan spesiale bepalings nie oftewel groter gewig moet gegee
word aan spesiale bepalings dan
aan algemene bepalings). Sien
Christie,
The Law of Contract in South
Africa
, 6de Uitgawe, p. 231 –
232. Sien ook
CONSOLIDATED EMPLOYERS MEDICAL AID SOCIETY
AND OTHERS v LEVETON
1999 (2) SA 32
(HHA)
op 40 J tot 41 C.
[36] Hierdie interpretasie verduidelik en versoen die
drie verskillende bepalings met betrekking tot magtiging om borgskap
te gee.
Die trustees van Jo-Ann Trust se bevoegdheid om die trust as
borg en mede-hoofskuldenaar te verbind, is beperk tot gevalle waar

sodanige borgstelling tot voordeel van die trust en die begunstigdes
daarvan is. Die trustees van die Rocklands Trust se magtiging
om ‘n
borgskap te gee, is slegs beperk tot die vereiste van ‘n
eenparige resolusie van die trustees tot daardie effek.
Die magtiging
van die trustees van die Barkly Road Trust om borg te staan, is
onbeperk.
[37] Die bedoeling van die betrokke trustaktes is
klaarblyklik dat die trustees besigheid moet doen en moet woeker. Dit
word uitdruklik
gesê in die trustakte van die Rocklands Trust.
Daarom ook is elk die eienaar van ‘n winkelsentrum wat dit
klaarblyklik
self ontwikkel het. Enige redelike verantwoordelike
persoon wat voornemens is om met hierdie trusts sake te doen, sal die
betrokke
trustakte nagaan. Op die respondente se interpretasie sal
hierdie persone telkens moet ondersoek instel of die betrokke
transaksie
tot voordeel van die trustbegunstigdes is en of dit
hoegenaamd haalbaar of die moeite werd is om so ‘n ondersoek te
loods
en steeds rekening daarmee moet hou dat dit ondanks hul beste
pogings of die beste beloftes van die trustee later aangevoer mag

word dat die transaksie nie tot voordeel van die begunstigdes was nie
en dat die regte wat die persoon ten opsigte van die transaksie

beding het, derhalwe in twyfel getrek word. Dit sal vanselfsprekend
‘n ontmoedigende en dempende effek op besigheid deur
die trust
hê, wat myns insiens nie bedoel kon gewees het nie.
[38] Die teenkant, naamlik dat dit
vir ‘n persoon wat voornemens is om met hierdie trusts sake te
doen, slegs nodig is om
die spesifieke magtigings van die trustee in
klousules 11.2 (en 9.2) na te gaan, is in ooreenstemming met wat gesê
is in
STANDARD BANK OF SOUTH AFRICA LTD v KOEKEMOER AND
OTHERS
2004 (6) SA 498
(HHA) op 503 F, naamlik:

Part of the bank's
business is to lend money to clients, and what would have been of
interest to it is whether the trustees had
the authority to borrow
money and to encumber trust property in the process. If satisfied on
that score, the bank was under no
obligation to protect the
beneficiaries.”
[39] Na my oordeel, op ‘n behoorlike interpretasie
van die betrokke trustaktes, is die magte van die trustees van die
Rocklands
Trust en die Barkly Road Trust nie telkens onderhewig
daaraan dat die betrokke transaksie tot voordeel van die betrokke
begunstigdes
is nie. Die magtiging van die trustees van die Rocklands
Trust om die trust as borg te verbind, is slegs onderhewig daaraan
dat
‘n eenparige resolusie tot daardie effek deur die trustees
geneem word en die magtiging van die trustees van die Barkly Road

Trust om so te doen, is onbeperk. Dit is tereg nie aangevoer dat in
die geval van Rocklands Trust die vereiste resolusies ontbreek
nie.
Dit volg dat na my oordeel al die onderhawige borgaktes afdwingbaar
is.
[40] Die terme van elk van die borgaktes wat Rocklands
Trust en Barkly Road Trust vir die skuld van Consouw aangegaan het,
is identies.
Rocklands Trust en Barkly Road Trust erken uitdruklik
dat hul aanspreeklik is ingevolge die bepalings van die tweede en
vyfde borgaktes
deur elk aangegaan. Hierdie borgaktes elkeen bepaal
dat die betrokke borgakte addisioneel tot en sonder benadeling van
enige ander
borgskap is wat huidig of in die toekoms ten opsigte van
die skuld van Consouw deur Investec gehou word. Elkeen van die
borgaktes
bepaal dat die borg hom daarkragtens tot die maksimum
bedrag van R60 miljoen teenoor Investec verbind as borg en
mede-hoofskuldenaar
gesamentlik en afsonderlik met skulde van Consouw
(“the Debtor”):

1.1.1 for the due and punctual payment by
the Debtor of all and any monies which the Debtor may now or from
time to time in the
future owe to Investec from whatsoever cause and
howsoever arising, including any judgment debt against the Debtor;
and
for the due and punctual performance and discharge by the Debtor
of his obligations under or arising from, any contract or

agreement entered into or to be entered into in the future by the
Debtor, from whatsoever cause and howsoever arising.”
[41] Hieruit blyk dat aanspeeklikheid ingevolge die
borgaktes nie beperk kan word tot die uitstaande balanse verskuldig
kragtens
bepaalde leningsooreenkomste aangegaan tussen Consouw en
Investec soos wat die respondente wil hê nie.
[42] Dit volg dat na my oordeel Rocklands Trust en
Barkly Road Trust elkeen teenoor Investec aanspreeklik is vir die
totale verskuldigheid
van Aralella en Consouw teenoor Investec en dat
beide derhalwe duidelik insolvent is, selfs al word die
aanspreeklikheid van Consouw
met die bedrag van R14 miljoen
verminder, soos hierbo vermeld.
[43] Daar is myns insiens goeie rede om te glo dat
sekwestrasie van die respondente tot voordeel van hul krediteure sal
wees soos
bedoel in artikel 12(1)(c) van die Insolvensiewet, 24 van
1936. Dit is duidelik dat ‘n beduidende dividend aan krediteure

betaalbaar sal wees. In hierdie verband is die wense van krediteure
soos Investec en die toetredende applikante natuurlik belangrik.
[44] Die diskresie om nogtans nie finale
sekwestrasiebevele uit te reik nie, moet regterlik uitgeoefen word,
dit wil sê vir
gegronde rede. Die argument van die respondente
in hierdie verband was dat die respondente se totale bates meer werd
is dan hul
totale laste en dat indien die voorlopige
sekwestrasiebevele opgehef sou word, al hul skuldeisers mettertyd
volle betaling sal
ontvang terwyl aansienlike administrasiekoste
bespaar sal word. Afgesien van enigiets anders, is die posisie dat op
my voormelde
bevindings dit eenvoudig nie korrek is nie dat die
respondente se totale bates meer werd is dan die totale omvang van
hulle laste.
Ek vind derhalwe geen grondslag waarop nogtans ‘n
diskresie ten gunste van die respondente uitgeoefen kan word nie.
[45] Dit volg dat op aansoek van Investec, finale
sekwestrasiebevele ten opsigte van al die respondente verleen moet
word en dat
die aansoeke van die toetredende applikante nie oorweeg
staan te word nie.
[46] Namens Investec is versoek dat beveel word dat die
koste van sekwestrasie sal insluit die koste van die gebruik van twee
advokate
deur Investec. Namens die toetredende applikante is versoek
dat beveel word dat die koste van die toetredende applikante
ingesluit
word by die koste van sekwestrasie. In die uitoefening van
my diskresie met betrekking tot koste, is ek van oordeel dat aan
beide
versoeke gehoor gegee moet word.
[47] Gevolglik word die volgende bevele uitgereik:
1. ‘n Finale sekwestrasiebevel word uitgereik ten
opsigte van elk van die boedels van Jo-Ann Trust, Rocklands
Development
Trust en Barkly Road Development Trust.
2. Die koste van sekwestrasie van elke boedel sluit in
die koste van die gebruik van twee advokate deur die applikant, sowel
as
die koste van die toetredende applikante.
________________________
C.H.G. VAN DER MERWE, R
Namens die applikant: Adv. F.H. Terblanche SC
Bygestaan deur:
Adv. J.E. Smit
In opdrag van:
E G Cooper Majiedt Ingelyf
BLOEMFONTEIN
Namens die toetredende
applikante: Adv. J.W. Steyn
In opdrag van:
Honey Prokureurs
BLOEMFONTEIN
Namens die respondente: Adv. F.W.A. Danzfuss SC
Bygestaan deur:
Adv. D.J. van der Walt
In opdrag van:
Matsepes Ingelyf
BLOEMFONTEIN
/sp