About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2011
>>
[2011] ZAFSHC 174
|
|
Meyer v S (A95/2011) [2011] ZAFSHC 174 (17 November 2011)
VRYSTAATSE HOË
HOF, BLOEMFONTEIN
REPUBLIEK VAN
SUID-AFRIKA
Appèlnommer :
A95/2011
In
die appèl van:-
ESAIAS
ENGELBERTUS MEYER
...........................................
Appellant
en
DIE
STAAT
...........................................................................
Respondent
CORAM:
HANCKE, R
et
ZIETSMAN, WND R
AANGEHOOR OP:
14 NOVEMBER 2011
_____________________________________________________
UITSPRAAK DEUR:
ZIETSMAN, WND R
_____________________________________________________
GELEWER OP:
17 NOVEMBER 2011
_____________________________________________________
[1] Die appellant was
aanvanklik deur die Staat aangekla in die Streekhof te Welkom ten
aansien van 27 aanklagte van bedrog. Op
13 Augustus 2000 is klagtes
3, 4, 14 en 17 deur die Staat teruggetrek en het die appellant
onskuldig gepleit op die oorblywende
23 klagtes.
[2] Op 19 April 2007,
ongeveer sewe jaar later en aan die einde van die Staat se saak, het
die appellant aansoek gedoen om ontslag,
welke gedeeltelik suksesvol
was synde dat daar op 1 Augustus 2007 ontslag aan die appellant
verleen is op klagtes 5, 6, 25 en 26.
[3] Op 3 September 2009
het die voorsittende streeklanddros die beskuldigde skuldig bevind
aan klagtes 1, 2, 7, 8, 9, 10, 16, 18,
21, 23, 24 en 27 (altesaam 12
klagtes van bedrog). Die appellant is onskuldig bevind aan klagtes
11, 12, 13, 15, 19, 20 en 22.
[4] Dit dien ook vermeld
te word dat die appellant nadat ontslag geweier is ten aansien van
sekere van die klagtes gedurende 2007,
hy hom gewend het tot ‘n
hersieningsaansoek, welke gedien het voor Regters Cillié en
Moloi. Daardie hersieningsaansoek
is van die hand gewys.
[5] Die appellant is
gevonnis ten aansien van die klagtes waaraan hy skuldig bevind is, as
volg:
(i) Ten aansien van
klagte 1 is hy gevonnis tot 18 (agtien) maande gevangenisstraf
waarvan 12 (twaalf) maande opgeskort is vir 5
(vyf) jaar op
voorwaarde dat die appellant die bedrag van R51 058,00 plus rente
teen 10% per jaar voor 11 Mei 2011 inbetaal tot
voordeel van die
klaer ten opsigte van klagte 1;
(ii) Op klagtes 2 en 7 is
die appellant gevonnis tot 9 (nege) maande gevangenisstraf op elke
klagte;
Ten aansien van klagtes
8, 9, 10, 16, 18, 21, 23 en 24 is die appellant gevonnis tot 6 (ses)
maande gevangenisstraf op elke klagte;
Ten aansien van klagte
27 is die appellant gevonnis tot 18 (agtien) maande gevangenisstraf;
Daar is voorts gelas dat
die vonnisse so uitgedien moet word dat die appellant slegs 4 (vier)
jaar effektief daarvan moet uitdien
in geheel gesien.
[6] Die appellant het op
17 November 2010 voor die verhoorlanddros aansoek gedoen om verlof om
teen die skuldigbevindinge sowel
as opgelegde vonnisse te appelleer,
welke aansoek van die hand gewys is deur die streeklanddros. Hierna
het die appellant gepetisioneer
en is die petisie toegestaan deur
Regters Hancke en Lekale op 23 Februarie 2011, op die basis dat
verlof aan die appellant verleen
is om te appelleer ten aansien van
die skuldigbevindinge sowel as vonnisse opgelê.
[7] Ek is van voorneme om
die klagtes in dieselfde groeperinge in hierdie uitspraak te hanteer
as wat die streeklanddros van Welkom
dit gedoen het. In die opsig dan
die volgende:
(i) Aanklag 1:
Ten aansien van hierdie
aanklag is die appellant skuldig bevind aan bedrog deurdat ‘n
tjek van R51 058,00 wat aan die klaer
uitgemaak is, te wete Amon
Dengo, gedishonoreer is deur die bank. Die agtergrond tot die gemelde
klagte van bedrog is daarin geleë
dat gemelde Mnr. Dengo, die
appellant (wie ‘n besigheid bedryf te Welkom waarin lede van
die publiek hom nader vir adviese
teen die betaling van ‘n
fooi) genader het vir hulp. Mnr. Dengo het die besigheid van die
appellant genader nadat hy maandeliks
‘n fooi betaal het aan
die appellant ten einde hom behulpsaam te wees met ‘n
padongelukkefondssaak. Gemelde Mnr. Dengo
is deur die appellant
verwys na ‘n prokureursfirma wie die saak hanteer het en
uiteindelik is ‘n tjek oorhandig aan
Mnr. Dengo deur die
prokureursfirma, welke tjek Mnr. Dengo teruggeneem het na die
appellant op sy instruksies, waarna die appellant
Mnr. Dengo sou
adviseer of die bedrag korrek daarin vervat is. Hierdie tjek is deur
die appellant vervang met een van sy eie tjeks,
en is daar verskeie
redes deur die appellant opgedis van waarom dit nodig sou wees, welke
tjek, nadat dit gebank is deur Mnr. Dengo
terugverwys is na trekker.
Daar was klaarblyklik nie voldoende fondse in die bankrekening van
die appellant ten aansien van hierdie
tjek nie. Klaarblyklik (en dit
op die appellant se weergawe) is die tjek nie ontmoet nie, aangesien
daar ‘n bedrag van R497
000,00 ‘n paar dae voor die tjek
aan Dengo oorhandig is, inbetaal in die gemelde Boland Bank rekening,
maar is dit deur die
bank teruggeskryf, welke veroorsaak het dat daar
nie voldoende fondse was ten einde Dengo se tjek te honoreer nie. Dit
dien voorts
vermeld te word dat die appellant met verskeie
bankrekenings gehandel het, in verskillende name en dat hy tekenmagte
gehad het
op die meeste van hierdie bankrekenings. Die landdros
bevind dan ook dat die opsetselement in ten minste die vorm van
dolus
eventualis
teenwoordig is, veral in die lyn van die besigheid wat
die appellant bedryf het en die basis waarop hy van tyd tot tyd die
moontlikheidsbewussyn
gehad het dat ‘n bepaalde tjek nie
ontmoet sou word nie, hom nieteenstaande daarmee versoen het en
voortgegaan het om tjeks
uit te reik aan onder andere gemelde Mnr.
Dengo. Dit is dus duidelik dat die streeklanddros korrek was in sy
bevindinge ten aansien
van hierdie klagte en is ek van mening dat die
appèl ten aansien van die skuldigbevinding aan klagte 1 nie
kan slaag nie.
Ten
aansien van aanklag 2 het ‘n sekere Mnr. Mparo tjeks van ‘n
voorsorgfonds waarvan hy die begunstigde was, aan
die appellant
oorhandig, aangesien die betrokke tjeks reeds verval het en die
beskuldigde (die appellant) onderneem het om gemelde
Mnr. Mparo
behulpsaam ten einde ‘n “vars” tjek vanaf die
voorsorgfonds te bekom. Na ‘n aantal besoeke
deur Mnr. Mparo
aan die kantoor van die appellant het die appellant ‘n tjek
oorhandig van sy besigheid in die bedrag van
R11 501,00 aan Mnr.
Mparo gedateer 29 Mei 1998. Dit is deur Mnr. Mparo aanvaar dat die
appellant inderdaad die fondse vanaf die
voorsorgfonds bekom het en
nou ‘n nuwe tjek van sy eie besigheid uitgemaak het aan Mnr.
Mparo om te gaan bank. Die gemelde
tjek is gedishonoreer vanweë
onvoldoende fondse en is Mnr. Mparo mettertyd ingelig deur die bank.
Op ‘n verdere geleentheid
is ‘n nuwe tjek aan Mnr. Mparo
oorhandig deur die appellant, maar het die gemelde klaer, Mnr.
Mparo, nie daardie tjek,
welke vooruitgedateer was, aangebied vir
betaling nie, maar direk na ‘n prokureur en later die polisie
gegaan het ten einde
‘n klagte te lê in hierdie opsig
teen die appellant. Die appellant se weergawe in hierdie opsig en
uiteindelike regsargument
wat gevolg het, was dat die klaer nie in
‘n swakker posisie geplaas was as wat hy voorheen was nie,
aangesien die voorsorgfonds
se tjeks in ieder geval waardeloos was,
omdat dit reeds verval het en dat die tjek wat die appellant aan
Mnr. Mparo oorhandig
het gevolglik eweneens ‘n waardelose tjek
is, aangesien dit uiteindelik gedishonoreer is, welke tot die gevolg
gehad het
dat Mnr. Mparo nie benadeel is nie. Die argument was ook
gevoer dat daar nie deur die Staat bewys is dat die appellant
inderdaad
fondse vanaf die voorsorgfonds bekom het ten einde ‘n
nuwe tjek te kan uitreik nie. Hierdie argument is in verskeie latere
klagtes ook deur die appellant geopper, naamlik dat indien daar ‘n
bestaande verskuldigheid bestaan en daar gepoog word
om dit uit te
wis deur middel van die uitreik van ‘n tjek wat in ieder geval
waardeloos is, daar nie nadeel of potensiële
nadeel is vir die
klaer nie, aangesien hy steeds in dieselfde posisie is, naamlik dat
‘n onbetaalde skuld nog nie vereffen
is nie. Hierdie argument
is myns insiens ‘n drogargument aangesien potensiële
nadeel verskeie ander moontlikhede insluit.
In hierdie opsig is ons
deur die staatsadvokaat spesifiek ook verwys na die beslissing van
Regters Rampai en Ebrahim gelewer
op 6 Desember 2010 in die
aangeleentheid van
ANTON GERHARD VAN NIEUWENHUIZEN v
DIE STAAT
onder Appèlnommer
A40/2010. In gemelde beslissing, waarmee ek my vereenselwig, is
bevind dat daardie potensiële nadeel
ook insluit ‘n
situasie waar ‘n skuldeiser nie vroeër met invorderings
of eksekusiestappe kan voortgaan nie,
aangesien hy onder die indruk
gebring word dat hy betaling ontvang het deur middel van ‘n
tjek, welke later gedishonoreer
word. Laasgenoemde stel myns insiens
voldoende potensiële nadeel daar vir doeleindes van ‘n
skuldigbevinding aan bedrog.
Dit dien ook vermeld te word ten
aansien van hierdie klagte, dat Regter Cillié tydens die
hersieningsaansoek ‘n
voorbehoud uitgespreek het sonder om ‘n
bevinding te maak dat hierdie aanklag dalk eerder diefstal moes wees
en nie bedrog
nie. By oorweging hiervan in die lig van die getuienis
asook die uitspraak van die streeklanddros en nieteenstaande die
siening
soos hierbo uitgespreek met betrekking tot potensiële
nadeel, meen ek dat ten aansien van hierdie klagte daar nie eers
potensiële
nadeel aan die kant van die klaer bewys is nie,
aangesien dit wat die klaer gehad het (die vervalle voorsorgfonds
tjeks) in ieder
geval waardeloos was. Die appèl, behoort dus
ten aansien van aanklag 2 te slaag.
Aanklag 7:
In hierdie aanklag het ‘n
sekere Me Hlabate opdrag aan die appellant gegee om haar te help om
sekere fondse vanaf ‘n
voorsorgfonds te verkry, waarmee die
appellant suksesvol was en is daar ‘n bedrag van R40 001,76
deur hom in hierdie verband
verkry. Ten ansien van hierdie bedrag
moes Me Hlabate ‘n bedrag van R37 951,76 ontvang nadat die
appellant sekere fondse
afgetrek het vir fooie asook ‘n
voorskot wat deur hom aan haar betaal is. Die bedrag van R37 951,76
is by wyse van twee Standard
Bank tjeks ten aansien van die rekening
WNS Security uitgereik en vooruitgedateer na 9 November 1998. Gemelde
twee tjeks is aan
Me Hlabate oorhandig en het Me Hlabate die eerste
tjek vir ‘n bedrag van R17 951,76 op 2 Desember 1998 aangebied
vir betaling
by die bank, maar weens ‘n gebrek aan fondse is
die tjek terugverwys na trekker. Dit blyk dat die appellant se
verweer ten
aansien van hierdie klagte was dat hy sy aandeel in
gemelde WNS Security verkoop het aan sy vennoot, Mnr. Swanepoel, vir
‘n
bedrag van R50 000,00 juis op die stadium toe die tjeks
uitgereik is deur WNS Security aan Mr Hlabate, met die doel om fondse
te
bekom sodat die tjeks ontmoet kon word. Verdermeer is die argument
gevoer dat die betrokke tjek vir ‘n bestaande skuld aan
Me
Hlabate uitgereik is en deurdat sy dit aanvaar het (as synde ‘n
waardelose tjek) gemelde Me Hlabate nie in ‘n swakker
posisie
was by dishonorering daarvan as wat sy aanvanklik was nie. Die
streeklanddros bevind dan ook dat Me Hlabate nooit ingestem
het dat
die beskuldigde met die ontvangs van die geld vanaf die voorsorgfonds
hy dit tydelik in sy besit kon hou en tot sy eie
voordeel kon aanwend
nie. Daardeur bevind die landdros ook dat die appellant deur Me
Hlabate te betaal met ‘n waardelose
tjek, nie beteken dat dit
‘n voortsetting of verlenging van ‘n reeds bestaande
krediet was waartoe sy voorheen vrywillig
ingestem het nie. Ek is
tevrede dat ook hier ten minste potensiële nadeel was en dat die
appellant ten minste opsetlik opgetree
het in die vorm van
dolus
eventualis
deur die tjek aan haar te oorhandig, welke inderdaad
later gedishonoreer is. Ek is dus tevrede dat die appellant korrek
skuldig
bevind is aan aanklag 7 en is dus van mening dat die appèl
ten aansien van aanklag 7 nie kan slaag nie.
Aanklag 8:
Ten
aansien van hierdie klagte het die klaer ‘n tjek vanaf die
appellant ontvang in die bedrag van R333,00 ten aansien van
skryfbehoeftes wat aangekoop is by Welkom Business Machines. Die
aankope is gedoen aldus die appellant vir sy vrou se besigheid
en is
die besigheid genaamd “Soap Shop”. Die laasgenoemde
besigheid was dan ook die trekker van die tjek. Dit blyk
dan ook dat
die appellant die betrokke tjek uitgeskryf het en derhalwe tekenmagte
ten aansien van die gemelde tjek van die besigheid
gehad het. Gemelde
tjek is eweneens verwys na trekker vanweë onvoldoende fondse en
het die bankbestuurder op daardie stadium
‘n sekere Mnr. De
Castro op dieselfde datum as wat die tjek aangebied is, synde 19
Augustus 1998, die betrokke rekening gesluit.
Die verweer deur die
appellant geopper is dat die items wat aangekoop is vanaf die
besigheid van Mnr. Ramsay (synde die skryfbehoeftes)
op krediet
verkry is en dat die betaling later deur middel van ‘n
waardelose tjek nie die gemelde Mnr. Ramsay in ‘n
swakker
posisie geplaas het nie, aangesien hy steeds ‘n vorderingsreg
teen die appellant gehad het in die omstandighede.
Ek verwys weereens
na die beslissing van die
STAAT v
NIEUWENHUIZEN
soos
hierbo na verwys en bevestig dat potensiële nadeel inderdaad
wyer strek as dit waarop die appellant hierin steun en was
die
oorhandiging van ‘n waardelose tjek ten minste tot die
potensiële nadeel van Mnr. Ramsay in soverre as wat hy
invorderingstappe
vroeër kon oorweeg het en nie onder die indruk
gebring kon word dat hy betaal is nie. Alhoewel daar in
S
v CALITZ
1992 (2) SACR 66
(O)
beslis is dat die verskaffing van ‘n waardelose
vooruitgedateerde tjek ter betaling van ‘n reeds bestaande
skuld,
nie sonder meer bedrog is nie, welke natuurlik korrek is, was
hier verder ook ten minste potensiële nadeel vir die klaer.
‘
n
Verdere verweer geopper in hierdie aangeleentheid was dat die
appellant die betrokke tjek aan ‘n verteenwoordiger van hom
oorhandig het om vir Mnr. Ramsay te gaan gee, op die basis dat hy
voordat dit oorhandig is hy opdrag gegee het aan sy verteenwoordiger
om nie die betrokke tjek aan Mnr. Ramsay te oorhandig nie. Hierdie
opdrag van die appellant aan sy verteenwoordiger is verontagsaam
welke tot gevolg gehad het dat Mnr. Ramsay die tjek gaan bank het,
welke tjek gedishonoreer is. Hierdie verweer is aanduidend daarvan
dat die appellant klaarblyklik bewus was dat die tjek nie ontmoet sou
word nie en is ek tevrede dat daar aan al die elemente van
‘n
aanklag van bedrog voldoen is en die Staat bo redelike twyfel bewys
het dat die appellant skuldig is aan hierdie klagte
soos wat die
streeklanddros dan ook die appellant skuldig bevind het. Gevolglik
kan die appèl ook ten aansien van aanklag
8 nie slaag nie.
Ten aansien van aanklag
9:
In
hierdie geval is die tjek ten bedrag van R1 400,00 aan die klaer, ‘n
Mnr. Call, oorhandig vir pamflette wat vir die appellant
gedruk is.
Die tjek is gevolglik aangebied vir dienste wat gelewer is en is dit
die appellant se verweer dat hy voor die tjek aangebied
is met ‘n
sekere Mnr. Hattingh (‘n vennoot van Mnr. Call) ‘n
ooreenkoms aangegaan het ingevolge waarvan die appellant
R1 400,00 in
kontant aan hom sou oorhandig en hom sou versoek om die tjek te
kanselleer en nie aan te bied vir betaling nie. Ten
aansien van
hierdie aanklag is die oorspronklike tjek klaarblyklik nie by die hof
ingehandig nie, maar is daar wel ‘n afskrif
daarvan ingehandig
waarop die woord “cancel” verskyn welke nie verklaar kon
word deur die klaer nie. Die appellant
se verweer in hierdie opsig is
dat hy die bedrag van R1 400,00 aan ‘n Mnr. Hattingh oorhandig
het in kontant. Mnr. Hattingh
synde klaarblyklik die vennoot van Mnr.
Call het die woorde “cancel” op die betrokke tjek geskryf
op die appellant
se versoek nadat hy die kontant aan hom oorhandig
het. Aldus die appellant was die tjek in ieder geval ‘n
vooruitgedateerde
tjek en het hy op die tydstip wat hy met Mnr.
Hattingh ooreengekom het om die R1 400,00 in kontant te betaal,
hierdie betaling
gemaak nieteenstaande die feit dat die datum van die
tjek nog nie aangebreek het nie. Die appellant kon nie hierdie
weergawe verklaar
ten opsigte van ‘n kontant vooruitbetaling,
in die lig daarvan dat daar juis deur hom ‘n vooruitgedateerde
tjek gegee
is nie. Alhoewel die feit dat die woorde “cancel”
wat op die tjek aangebring is stawing bied vir die appellant se
weergawe
dat hy ‘n ooreenkoms met Mnr. Hattingh bereik het en
die R1 400,00 kontant aan hom oorhandig het op die basis dat die tjek
gekanselleer sou word, het die landdros die appellant se weergawe as
nie redelik moontlik waar aangemerk en beslis dat die appellant
hieroor ongeloofwaardig was. Die rede hiervoor synde tweërlei,
naamlik dat Mnr. Call uitdruklik verklaar het dat die tjek
(die
oorspronklike) aan die polisie oorhandig is en dit klaarblyklik uit
die dossier weggeraak het en nie, soos wat die appellant
probeer
voorgee, op ‘n ander wyse teruggegee is nie. Tweedens, die feit
dat die appellant kwansuis voor die datum waarop
die
vooruitgedateerde tjek gedateer is die bedrag in kontant sou betaal,
is nie vereenselwigbaar met die feit dat hy juis ‘n
tjek
vooruitgedateer het en oorhandig het aan die klaer nie. Dit blyk dat
Mnr. Swanepoel, die appellant se getuie, stawing bied
vir die
appellant se weergawe, soos wat die appellant beweer het en van die
kontantbetaling bewus was. In hierdie opsig is dit
natuurlik so dat
‘n Hof van Appèl nie maklik sal inmeng wanneer daar ‘n
geloofwaardigheidsbevinding gemaak word
deur die verhoofhof nie.
Verdermeer behoort ‘n Hof van Appèl nie in te meng tensy
daar ‘n duidelike en wesenlike
wanvoorligting deur die hof
a
quo
was nie. Vergelyk
S
v MLUMBI EN ‘N ANDER
1991 (1)
SASV 235 (A) op 247 f – h;
S v NTSELE
1998
(2) SASV 178 (SCA);
S v HADEBE EN ANDER
1997 (2) SASV
641 (SCA)
. Mnr. Hattingh (die persoon aan wie die
kontant gegee sou wees), is egter nie deur die Staat as getuie geroep
nie en kan die klaer
nie die kontantbetaling aan Hattingh uitsluit
nie. Die applikant se weergawe is gevolglik redelik moontlik waar.
Daar behoort met
die hof
a quo
se bevindinge in hierdie verband ingemeng te word
en die appèl behoort gevolglik ook ten aansien van hierdie
aanklag te slaag.
Klagtes 10, 16, 18, 21,
23 en 24:
Ten aansien van
bogenoemde groep klagtes is die agtergrond daartoe dat die appellant
deur middel van ‘n beslote korporasie
waarvan hy ‘n lid
was te wete SAFRO West 19 BK, ‘n besigheid begin het welke
besigheid genoem was S & N Lenings,
as sub-agent vir ‘n
maatskappy genaamd Lantern Finansiële Dienste, welke maatskappy
besigheid gedoen het in die uitleen
van geld aan lede van die
publiek. Die betrokke besigheid wat die appellant van die grond af
gebring het, soos genoem, se naam
was S & N Lenings maar het
laasgenoemde besigheid nie ‘n bankrekening gehad nie en is die
BK, SAFRO West 19, se bankrekening
vir hierdie besigheid gebruik.
Soos genoem was die appellant klaarblyklik ‘n lid of die
enigste lid van laasgenoemde beslote
korporasie. Dit is verder ter
agtergrond van hierdie klagtes so dat die sub-agent deur middel van
‘n sekere administratiewe
proses voornemende leners nader wie
‘n aansoekvorm voltooi en indien daardie aansoek goedgekeur is
deur die maatskappy genaamd
Lantern Finansiële Dienste, word ‘n
tjek deurgegee aan die sub-agent ten einde te oorhandig aan die lener
en moet die
lener hiervoor teken of ‘n duimafdruk aanbring
teenoor sy naam in ‘n sekere kolom. In hierdie opsig het die
landdros
dan ook die appellant vrygespreek op aanklagtes 11, 12, 13,
15 , 19, 20 en 22 op grond daarvan dat daar of nie getuienis
aangebied
is deur die Staat ter stawing van die gemelde klagtes nie
of daar nie bewyse voor die hof geplaas is dat die betrokke tjeks in
die bankrekening van die beslote korporasie inbetaal is in stede van
aan die lener oorhandig is nie. Hierby aanvullend moet dit
vermeld
word dat hierdie groep klagtes almal verband hou met beweringe deur
die Staat dat die betrokke tjeks wat deur Lantern deurgegee
is aan
die sub-agent ten einde oor te betaal aan die leners, direk inbetaal
is deur die sub-agent, in die geval S & N Lenings,
in die
bankrekening van die beslote korporasie waarvan die appellant die lid
was. Die gevolg was dat Lantern Finansiële Dienste
‘n
tweede tjek moes uitreik aan die betrokke leners in die
omstandighede. Dit moet verder vermeld word dat die appellant
‘n
sekere Mnr. Jansen aangestel het om die besigheid te bedryf en was
dit een van die verwere van die appellant dat hy hierdie
besigheid
gratis aan Mnr. Jansen oorgemaak het gedurende Mei/Junie 1999.
Gemelde Jansen het toe die besigheid wat aanvanklik as
S & N
Lenings bedryf was, vir sy eie rekening voortgesit. Die verweer ten
aansien van hoe die geld wat die leners moes toekom
(met verwysing na
die tjeks) wat aan die sub-agent oorgemaak is, in die bankrekening
van SAFRO West 19 BK beland het, was die appellant
se verweer dat
Mnr. Jansen die appellant se kredietkaarte gesteel het tydens sy
wittebrood en ongeveer R41 000,00 daarmee misbruik
het of gespandeer
het daarop. Die appellant het toe aan Mnr. Jansen die keuse gestel of
Mnr. Jansen die bedrag aan hom terugbetaal
of hy laat hom aankla van
bedrog. Mnr. Jansen het daarop toe appellant self nie meer betrokke
was by die besigheid nie soos ooreengekom
van tyd tot tyd kontant
inbetalings in SAFRO West 19 se bankrekening gemaak dat delging van
die bedrag van R41 000,00 (ongeveer)
wat Jansen aan die appellant
verskuldig was. Die appellant beweer dat hy nooit bewus was van die
oorsprong van die gelde wat Jansen
in die gemelde beslote korporasie
se bankrekening inbetaal het nie. Dit blyk dat die Staat op
omstandigheidsgetuienis wat hierdie
klagtes betref, gesteun het en
het die landdros ook verwys na die basis waarop sulke
omstandigheidsgetuienis moes beoordeel word.
In hierdie verband het
die landdros verwys na die beslissing van
S v BLOM
1939
AD 188
op 202 – 203 en die volgende aanhaling in sy uitspraak
ook deurgegee:
“
(1) The
inference sought to be drawn must be consistent with all the proved
facts. If it is not, the inference cannot be drawn.
(2) The proved facts should be such
that they exclude every reasonable inference from them save the one
sought to be drawn. If they
do not exclude other reasonable
inferences, then there must be a doubt whether the inference sought
to be drawn is correct.”
Een van die staatsgetuies
in hierdie verband was ‘n sekere Mnr. Rourke, wat op ‘n
stadium agtergekom het dat leners
nie hulle tjeks ontvang nie en het
hy twee of drie keer na die appellant se kantoor te Business Partners
gegaan ten einde vas te
stel wat die probleem is. Die appellant het
hy slegs eenmaal daar gevind en die probleem met hom bespreek, waarna
die appellant
gesê het dat hy en gemelde Mnr. Rourke
gesamentlik na Jansen moet gaan ten einde die probleem uit te klaar
en vas te stel
wat aan die gang is. Nooit is daar aan Mnr. Rourke
meegedeel dat hy wat die appellant is die besigheid reeds oorgemaak
of vervreem
het aan Jansen en dat hy niks meer daarmee te doen het
nie. Verdermeer het Mnr. Jansen ook namens die Staat getuig en het sy
getuienis
daarop neergekom dat hy direkte opdrag van die appellant
gehad het om tjeks wat deur Mnr. Rourke aan die sub-agentskap
beskikbaar
gestel is in te betaal in die bankrekening van SAFRO West
19. Die rede wat aangevoer is deur die appellant teenoor Mnr. Jansen
was dat die kliënte hulle geld in kontant wou gehad het en dat
Mnr. Jansen elke dag vir die appellant ‘n bankstaat moes
trek
wanneer hy die deposito’s gaan maak het. So ook getuig Mnr.
Jansen dat die appellant die enigste persoon was wat magtiging
gehad
het om ‘n kliënt te laat teken vir ‘n tjek wat aan
hom oorhandig word, welke tjek vanaf Mnr. Rourke afkomstig
was. Die
hof
a quo
het dan ook die getuienis van Mnr. Rourke sowel as
Mnr. Jansen as geloofwaardig en goeie getuienis beskou en
terselfdertyd die
bewering deur die appellant dat hy onbewus was van
die oorsprong van die gelde aan die gemelde BK se rekening, nie
aanvaar kan
word nie en bevind die hof
a quo
dan ook dat die
appellant se weergawe in hierdie verband nie redelik moontlik waar is
nie. Die hof
a quo
bevind dan ook dat die enigste redelike
afleiding vanuit die omstandigheidsgetuienis is dat die appellant
opdrag gegee het dat
die betrokke tjeks inbetaal word in die beslote
korporasie se rekening waaroor hy beheer het en dat die appellant
homself wou bevoordeel
hieruit ten koste van of die kliënte wie
die lenings sou moes ontvang en/of Lantern Finansiële Dienste
wat later twee
tjeks moes uitreik. Ek is tevrede dat die hof
a quo
die regsposisie korrek ontleed het en dat die Hof van Appèl
nie behoort in te meng met die bevindinge tot die geloofwaardigheid
van die getuienis in hierdie verband nie. In die omstandighede is ek
dus tevrede dat die appellant korrek skuldig bevind is aan
die
aanklagtes onder klagte 10, 16, 18, 21, 23 en 24 en behoort die appèl
ten aansien van die skuldigbevinding ten opsigte
van voormelde
klagtes van die hand gewys te word.
Die laaste aanklag
waaraan die appellant skuldig gevind is, is klagte 27. In hierdie
verband was die klagte dat ‘n vaste
depositosertifikaat ten
aansien van ‘n bedrag van R60 000,00 wat ‘n sekere Mnr.
Kutoane by Permanente Bank gehad
het, gesedeer is aan ‘n Mnr.
Kapp vir ‘n verskuldigheid wat die appellant teenoor Mnr. Kapp
gehad het, welke tot
die voordeel van Mnr. Kapp uitbetaal is deur
Permanente Bank toe dit aangebied is deur hom. Aldus Mnr. Kutoane
het hy die appellant
versoek om vir hom geld te leen vir voedsel en
dat hy toe die depositosertifikaat aan die appellant oorhandig het
as synde sekuriteit
wat hy het. Die gemelde belegging oftewel
depositosertifikaat is inderdaad aan Mnr. Kapp oorhandig en is daar
‘n sessie-ooreenkoms
opgestel deur ‘n prokureursfirma
tussen Mnr. Kapp en Mnr. Kutoane ten aansien van die gemelde R60
000,00 en klaarblyklik
onderteken ook deur beide van hulle. Die
weergawe van die appellant was dat Mnr. Kapp geld sou leen aan Mnr.
Kutoane vir die
aankoop van ‘n huurmotor en was die bedrag van
R20 000,00 en later R10 000,00 genoem in hierdie verband. Die balans
sou
dan deur Mnr. Kapp terugbetaal word aan Mnr. Kutoane sodra die
beleggingsertifikaat aan die bank voorgehou kon word deur Mnr. Kapp.
In hierdie verband beweer Mnr. Kutoane dat hy niks van Mnr. Kapp
ontvang het in die vorm van ‘n lening nie en dat hy bedrieg
is
deur die appellant deurdat die appellant sy handtekening op ‘n
valse wyse bekom het, en daardeur die sessie-dokument
laat
bewerkstellig het. Die hof
a quo
het die weergawe van die
appellant verwerp as synde nie redelik moontlik waar nie, maar
terselfdertyd moet dit aanvaar word dat
die getuienis van Mnr.
Kutoane asook Kapp nie in alle opsigte bevredigend was nie.
Inteendeel het Mnr. Kutaone se eggenote byvoorbeeld
getuig dat haar
man inderdaad ‘n bedrag van R10 000,00 wou leen ten einde ‘n
kombi aan te koop, terwyl Mnr. Kutoane
hiervan niks weet nie.
Alhoewel die appellant se getuienis in hierdie verband sekere
vraagtekens laat ontstaan, moet daar eers
gekyk word, myns insiens,
of daar voldoende getuienis deur die Staat aangebied is ten einde
die appellant te betrek by hierdie
klagte. Dit wil my voorkom asof
die getuienis van die Staat mekaar weerspreek het in hierdie opsig
en dat Mnr. Kapp op alle waarskynlikhede
een of ander medepligtige
in die omstandighede was. Dit laat meer vraagtekens ontstaan en
alhoewel die landdros beweer dat die
versigtigheidsreëls in
hierdie verband deur hom toegepas is, wil dit vir my voorkom asof
die appellant se weergawe redelik
moontlik waar kan wees in die
omstandighede en/of dat daar ‘n voldoende twyfel bestaan of
die Staat sy saak bo redelike
twyfel bewys het wat hierdie aanklag
betref. In die vooropstelling is ek dus van mening dat die appellant
se appèl ten
aansien van klag 27 behoort te slaag en behoort
die skuldigbevinding ten aansien van klag 27 derhalwe tersyde gestel
te word.
VONNIS
[8] Ek is tevrede dat die
hof
a quo
al die faktore wat nodig is om in ag geneem te word
by die oplegging van vonnis behoorlik in ag geneem het alvorens hy
die vonnis
uitgevaardig het.
[9] Dit het onder andere
‘n rol gespeel dat die appellant vorige veroordelings het, wat
al ‘n geruime tyd gelede, in
die vorm van verskeie klagtes van
bedrog asook huisbraak met die opset om te steel en diefstal. Wat
betref die vorige veroordelings
was die appellant nog nooit vantevore
direkte gevangenisstraf opgelê nie en het hy telkens die
spreekwoordelike swaard oor
sy kop gehad ten aansien van die vonnisse
hom voorheen opgelê.
[10] In die onderhawige
geval het die appellant klaarblyklik oor ‘n geruime tyd die
oneerlike misdrywe gepleeg en is ek van
mening dat direkte
gevangenisstraf die enigste gepaste gevangenisstraf vir die appellant
in die omstandighede is.
[11] Soos genoem is ek
van mening dat die hof
a quo
al die faktore by vonnisoplegging
oorweeg het en behoorlik toegepas het, welke insluit die persoonlike
omstandighede van die appellant
sowel as die aard van die misdrywe en
die belang van die gemeenskap.
[12] Soos hierbo genoem
het die appèl ten aansien van aanklagtes 2, 9 en 27 geslaag,
welke die gevolg het dat ook die vonnis
ten aansien van daardie
klagtes tersyde gestel moet word.
[13] As in gedagte geneem
word dat die hof
a quo
‘n maksimum van 4 (vier) jaar
gevangenisstraf bepaal het ten aansien van al die vonnisse wat in die
aanklagte opgelê
is, meen ek egter dat die appellant hom
gelukkig kan ag dat hy slegs 4 (vier) jaar gevangenisstraf opgelê
is wat betref die
globaal in die omstandighede. Ek is dus van mening
dat al sou die skuldigbevinding aan klagtes 2, 9 en 27 tersyde gestel
word tesame
met die gepaardgaande vonnisse, die appellant steeds ‘n
tydperk van ten minste 3 (drie) jaar gevangenisstraf behoort uit te
dien in die omstandighede.
[14]
Bygevolg
word
die volgende bevele verleen:
1. Die appèl wat
betref klagtes 1, 7, 8, 10, 16, 18, 21, 23 en 24 word van die hand
gewys.
2. Die appèl slaag
ten aansien van aanklagtes 2, 9 en 27 en word gemelde
skuldigbevindings en gepaardgaande vonnisse tersyde
gestel.
3. Origens en alwaar die
hof
a quo
gelas het dat die vonnisse opgelê in die
aanklagtes so uitgedien moet word dat die appellant effektief 4
(vier) jaar gevangenisstraf
moet uitdien, dit in die lig van die
tersydestelling van die skuldigbevindings op klagtes 2, 9 en 27
bepaal word dat die effektiewe
termyn van 4 (vier) jaar verminder
word na 3 (drie) jaar gevangenisstraf.
__________________
P. ZIETSMAN, WND R
Ek stem saam.
________________
S.P.B. HANCKE, R
Namens die appellant:
Adv. P. Du P. Greyling
In opdrag van:
Steenkamp De Villiers &
Coetzee Ing
BLOEMFONTEIN
Namens die respondent:
Adv. M. Swanlow
In opdrag van:
Direkteur: Openbare
Vervolgings
BLOEMFONTEIN
/sp