About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2011
>>
[2011] ZAFSHC 164
|
|
Khuduga v Dirksen (A329/2010) [2011] ZAFSHC 164 (20 October 2011)
VRYSTAATSE HOË
HOF, BLOEMFONTEIN
REPUBLIEK VAN
SUID-AFRIKA
Appèlnommer :
A329/2010
In
die appèl van:-
RICHARD
KHUDUGA
..............................................................
Appellant
en
JOHN
ALEC DIRKSEN
.......................................................
Respondent
CORAM:
HANCKE, R
et
RAMPAI, R
et
KUBUSHI, WND R
AANGEHOOR OP:
17 OKTOBER 2011
_____________________________________________________
UITSPRAAK DEUR:
HANCKE, R
_____________________________________________________
GELEWER OP:
20 OKTOBER 2011
_____________________________________________________
[1] Die huidige appèl
is gerig teen ‘n uitspraak en vonnis van Mocumie, R in die guns
van die respondent (die eiser
in die hof
a quo
) teen die
appellant (verweerder in die hof
a quo
) wat verleen is vir die
bedrag van R152 848,08 tesame met ‘n gepaste bevel vir rente en
koste. Hierinlater word na die partye
onderskeidelik verwys as
“eiser” en “verweerder”.
[2] Die eiser se aksie
teen die verweerder is gebaseer op ‘n ooreenkoms wat soos in
die besonderhede van vordering gepleit
is:
4.
“
Op of
ongeveer September 1999 en te Bloemfontein, het Eiser en Verweerder
‘n mondelinge ooreenkoms aangegaan waarvan die uitdruklike,
alternatiewelik stilswyende, alternatiewelik geïmpliseerde terme
die volgende was:
4.1 Barc Funeral Services Bk h/a R &
B Motors sou afgesien van sy normale verkope van brandstofprodukte
ook elektrisiteitsverkope
doen vanaf die perseel te Rembrandtsingel
38, Heidedal, Bloemfontein, 9301;
4.2 Die verkope van die elektrisiteit
sou in aanvang neem op 1 Desember 1999 en vir ‘n onbepaalde
tydperk geld;
4.3 Die lede van die voormelde Beslote
korporasie sou geregtig wees op winsdeling vanuit die beslote
korporasie aan die einde van
elke finansiële jaar, op die basis
van 50% (vyftig persent) van die totale
elektrisiteitsverkope-kommissie deur die beslote
korporasie verdien,
wat aan elke lid toegedeel sou word.”
5.
Barc Funeral Services Bk h/a R & B
Motors het vanaf Oktober 1999 tot en met April 2003 totale kommissie
van R305,696.17 verdien
met elektrisiteitsverkope.
6.
6.1 Die bedrag van R305,696.17, synde
kommissie verdien op elektrisiteitsverkope deur die voormelde beslote
korporasie, moes in
die bankrekening van die beslote korporasie
gedeponeer word in en as gevolg van ‘n tjekbetaling deur die
munisipaliteit in
hierdie verband.
6.2 Verweerder het die totale
kommissie in die voormelde bedrag opsetlik en onregmatiglik vir
homself toegeëin as sy eiendom
deurdat hy:
6.2.1 In die uitsluitlike beheer van
Barc Funeral Services BK h/a R & B Motors was wat betref
elektrisiteits-verkope sowel as
brandstof produkte;
6.2.2 Verweerder het toegesien dat
telkens wanneer ‘n tjek van die munisipaliteit vir die
kommissies verdien deur die beslote
korporasie, beskikbaar geraak
het, gemelde tjek vir homself toegeëin het deur dit vir eie
rekening te wissel;
6.2.3
Alternatiewelik
tot 6.2.2
hierbo en op gelykluidende datum wanneer sodanige tjeks van die
munisipaliteit inderdaad gedeponeer is in die bankrekening
van die
beslote korporasie, kontant wat uit verkope van brandstofprodukte van
die beslote korporasie gedoen is, vir homself toe
te eien in
dieselfde bedrag as dit wat in die bankrekening van die beslote
korporasie gedeponeer is as synde kommissie op elektrisiteitsverkope.
7.
7.1 Barc Funeral Services BK h/a R &
B Motors is gelikwideer deur bogemelde Agbare Hof en is Mnr Charl
Johannes Stander aangestel
as die likwidateur.
7.2 Soos op datum van likwidasie was
Verweerder ‘n debiteur van voormelde Barc Funeral Services BK
in soverre as wat hy opsetlik
en onregmatiglik fondse wat aan die
beslote korporasie toegekom het, vir homself toegeëin het in die
totale bedrag van R305
696.17, synde gelde ontvang vir
elektrisiteits-verkope, alternatiewelik kontantgelde ontvang van
brandstofprodukte welke deur hom
onttrek is in ruil vir die tjek van
die kommissie van elektrisiteits-verkope wat in die beslote
korporasie se bankrekening gedeponeer
is.”
[3] In sy verweerskrif
erken verweerder die bewerings gemaak in paragrawe 4.1 en 4.2 hierbo.
Ten opsigte van 4.3 pleit die verweerder
soos volg:
“
Die
Verweerder pleit dat die lede van die beslote korporasie geregtig sou
wees op winsdeling vanuit die beslote korporasie aan die
einde van
elke finansiële jaar, welke winsdeling sou insluit die totale
kommissie verdien uit die elektrisiteitsverkope deur
die beslote
korporasie.”
[4] Verder erken die
verweerder ook dat die totale kommissie gedurende voormelde tydperk
inderwaarheid R305 696,17 beloop het. Wat
eiser se bewering dat
verweerder die totale kommissie “opsetlik en onregmatiglik vir
homself toegeëin” het as
sy eiendom, word dit “ontken
asof met elk afsonderlik gehandel en word die eiser tot bewys daarvan
geplaas”.
[5] Dit is gemene saak
dat R & B Motors gelikwideer is en dat die eiser beskik oor ‘n
sessie aan hom verskaf deur die
likwidateur vir die invordering van
hierdie kommissie.
[6] ‘n
Party wat op ‘n ooreenkoms steun moet al die terme (hetsy
uitdruklik of stilswyend) van die ooreenkoms waarop
hy steun, bewys.
1
Dit is
ook geykte reg dat ‘n party al die bewerings waarop hy steun,
synde die
facta
probanda
moet
bewys ten einde met sy vordering suksesvol te wees.
[7] Mnr Hefer het namens
die verweerder toegegee dat respondent wel daarin geslaag het om aan
te toon dat die verweerder vir homself
op ‘n stadium die
kommissie ten aansien van die elektrisiteitsverkope toegeëin
het, soos beweer, maar het betoog dat
eiser nie daarin geslaag het om
aan te toon dat die verweerder die totale bedrag ten aansien van die
kommissie, soos gevorder,
vir homself toegeëin het nie.
[8] Benewens die eiser
het ‘n boekhouer, mnr Du Plessis, getuig. Die basis van die
eiser se getuienis was dat hy en die verweerder
hierdie mondelinge
ooreenkoms aangegaan het en dat elektrisiteit aldus verkoop is vanaf
Oktober 1999 tot April 2003 en dat die
kommissie gelykop gedeel moes
word op ‘n 50/50 basis. Dit is eiser se getuienis, wat ook nie
betwis is nie, dat hy nooit
enige kommissie ontvang het nie en dat
dit die verweerder was wat die besigheid bedryf het, insluitende die
verkope van elektrisiteit
asook alle finansiële aangeleenthede
van die beslote korporasie. Eiser het getuienis aangebied dat die
deposito’s wat
gemaak was in die bankrekening van R & B
Motors, minder was as die totale bedrag van verkope van petrol en dat
by elkeen van
hierdie geleenthede, die bedrag min of meer dieselfde
bedrag was as die wat by wyse van ‘n tjek deur die Mangaung
Munisipaliteit
ten opsigte van kommissie in die rekening inbetaal is.
Verder blyk dit uit die getuienis van mnr Du Plessis, die voormalige
boekhouer
van die beslote korporasie, dat ooreenkomstig die
finansiële state van die beslote korporasie, die
elektrisiteitsverkope nie
ingesluit was in die finansiële state
van die beslote korporasie nie.
[9] Wat die getuienis van
die verweerder betref, maak hy reeds in hoofgetuienis die stelling
dat die eiser nie meer wou deelneem
in hierdie koopkragooreenkoms
nie. Verweerder beweer ook in sy hoofgetuienis dat die 50/50 reëling
net sou geld indien elkeen
van hulle 50/50 sekuriteit sou gee, dit
ten spyte van die feit dat die eiser die eerste sekuriteit ten volle
gestel het. Later
verklaar hy dat die wins ten aansien van die
koopkrag inderdaad prakties op die basis van 50/50 verdeel is tussen
die partye.
[10] Dit blyk dus dat wat
die eiser gepoog het om te bewys deel geword het van die verweerder
se getuienis in hoof toe hy getuig
dat die munisipaliteit die
kommissie inbetaal het, hy ‘n soortgelyke bedrag in kontant
geneem het. Verder getuig hy dat die
eiser hom meegedeel het hy stel
nie meer belang in die elektrisiteitskommissie nie en dat die
besigheid nou uiteindelik die verweerder
s’n was. Insiggewend
is ook die verweerder se getuienis dat hy toe van oordeel was dat die
sisteem in elk geval nooit gewerk
het nie, want die geld is in ‘n
kluis gehou en moes van tyd tot tyd weer in die rekening terug
gedeponeer word. Hy was van
oordeel dat Barc al die gelde opgesuig
het en gevolglik het hy ‘n rekening geopen in sy vrou se naam,
waarna al hierdie gelde
in daardie rekening gedeponeer is. Dit blyk
dan ook later dat verweerder getuig dat reeds op 4 Mei 2001 hy die
geld direk oorbetaal
het in sy vrou se bankrekening nadat dit aldus
geopen is.
[11] Ten opsigte van die
sekuriteitstelling getuig hy soos volg:
“
So wat u nou
eintlik vir my sê is, vanaf die oomblik wat u die borg gestaan
het, was alle kommissies u en u vrou s’n?
... Dit was
veronderstel om so te wees ja.
En het u en u vrou dit vir uself
gevat? – Ons het probeer wat nie kon realiseer met die bewyse
wat ek vir u gegee het.
U het probeer om dit te vat? –
Ja.”
[12] Ten opsigte van sy
getuienis dat nadat hy borg gestaan het vir die krag was hy allenig
betrokke by die krag en dus uitsluitlik
geregtig op die opbrengs
daarvan. Op ‘n vraag of hy dit vir sy regsverteenwoordigers
gesê het, antwoord hy:
“
Ek dink ek
het al baie keer duidelik gestel.”
[13] Later in
kruisverhoor verklaar hy die volgende:
“
Miskien het
ek dit nie vir hulle gesê nie, want soos ek vir u sê ek
het saam met baie prokureurs gewerk, ek het saam
met ander mense
gewerk en ek het dit daarso genoem.”
Op ‘n vraag of
verweerder vir eiser 50% betaal het, verklaar hy onomwonde dat eiser
nie ‘n sent van hierdie elektrisiteitskommissie
ontvang het
nie.
[14]
Dit is van belang om daarop te let dat die verweerder se weergawe in
skrille kontras is met wat in die pleitstukke gemene saak
was, asook
met die bewerings in sy opponerende eedsverklaring ter opponering van
die aansoek om summiere vonnis. In hierdie verklaring
was dit die
verweerder se weergawe dat alle gelde inderdaad inbetaal is in die
rekening van R & B Motors vir die tydperk Oktober
1999 tot April
2003. In gemelde verklaring meld hy dat Fadoek BK die besigheid van
die motorhawe oorgeneem het, sowel as die elektrisiteitsverkope
vanaf
Mei 2003. Nêrens in gemelde verklaring word gemeld dat hy die
geld vir homself toegeëin het, omdat die eiser nie
belanggestel
het om deel te wees van die ooreenkoms nie, maar dat hy in elk geval
uit sy eie uit teruggeploeg het in die beslote
korporasie. Ook
hierdie verweer was nooit gepleit gewees nie en stem ek saam met die
betoog van mnr Reinders, namens die eiser,
dat indien die verweerder
uit die staanspoor hierdie erkennings gemaak het en bloot beweer het
dat hy die geld terugbelê
het in die eiser, sou die onus op hom
gewees het om hierdie betalings te bewys.
2
[15]
Wat die verweerder se geloofwaardigheid betref, het mnr Hefer betoog
dat ‘n leuen nie noodwendig ‘n teken van ‘n
leuenagtige karakter is nie en dat ‘n persoon wat leuenagtig is
ook die waarheid kan praat.
3
Mnr
Hefer het egter te kenne gegee dat hy nie hierdie hof versoek om in
te meng met die geloofwaardigheidsbevindinge van die hof
a
quo
nie,
welke toegewing na my mening geregverdig is veral in die lig van die
talle weersprekings en gebreke in die weergawe van die
verweerder.
Die leuenagtige optrede van die verweerder in die getuiebank is egter
‘n faktor wat in ag geneem moet word ten
einde te bepaal of
eiser sy saak op ‘n oorwig van waarskynlikhede bewys het. Mnr
Hefer het egter volhard in sy betoog dat
die eiser nie bewys het dat
verweerder die totale geëiste bedrag vir homself toegeëin
het nie. In hierdie verband het
hy onder andere verwys na ‘n
bedrag van R114 041,63. Hierdie item kom op een bladsy in die notule
voor en is die volgende
in hierdie verband genotuleer:
“
Daar is op
‘n stadium tydens likwidasie ‘n bedrag aangetoon in die
bedrag van R114 000,00 ten aansien van elektrisiteitsgelde
gevorder... Weet u enigsins waar daardie bedrag vandaan kom mnr
Khuduga? – Ek kan nie presies onthou nie maar ek dink miskien
dit is die tyd wat die likwidateur besig was om die geld in te vorder
van Barc Funeral en dit kan miskien nog steeds deel gewees
het van
daardie geld wat ons uitgehou het en in die kluis in gehou het wat
ons vir hom moes gegee het. Ek dink so, ek kan nie onthou
nie.”
Hierdie aspek is glad nie
enigsins verder ondersoek nie; dit is onduidelik op watter tydperk
dit betrekking het en of dit hoegenaamd
relevant is wat die huidige
geskil betref.
[16]
In die lig van al die feite en omstandighede is ek van mening dat die
mees voor die hand liggende en aanvaarbare afleiding
wat gemaak kan
word in die omstandighede is dat verweerder die volle geëiste
bedrag vir homself toegeëin het.
4
Die
bevinding wat deur die hof
a
quo
in
hierdie verband gemaak word, blyk dus die korrekte een te wees.
[17]
Al sou ek fouteer met die bogemelde bevinding, blyk dit by ‘n
ontleding van die pleitstukke dat eiser geregtig was op
50% van die
“
totale
elektrisiteitsverkopekommissie
deur die beslote korporasie verdien en dat die totale kommissie R305
696,17 beloop het”. Laasgenoemde
feite is gemene saak.
Kontraktueel was die verweerder dus aanspreeklik vir die helfte van
hierdie bedrag en wat hy ook al met hierdie
geld gemaak het, of hy
dit wanaangewend het of vir homself toegeëin het, is vir
doeleindes van hierdie beskouing van die pleitstukke
dus heeltemal
irrelevant. Ten opsigte van hierdie skuldoorsaak, is daar geen
verweer vir die verweerder beskikbaar nie. Om hierdie
rede bestaan
daar insgelyks ook nie gronde om in te meng met die beslissing van
die hof
a
quo
nie.
[18] Bygevolg word die
appèl van die hand gewys met koste.
________________
S.P.B. HANCKE, R
Ek stem saam.
______________
M.H. RAMPAI, R
Ek stem saam.
____________________
E.M. KUBUSHI, WND R
Namens die appellant:
Adv. J.J.F. Hefer
In opdrag van:
McIntyre & Van der
Post
BLOEMFONTEIN
Namens die respondent:
Adv. S.J. Reinders
In opdrag van:
Rossouws Prokureurs
BLOEMFONTEIN
/sp
1
Amler’s
Precedence of Pleadings
(7de Uitgawe) deur L T C Harms;
KRIEGLER
V MINITZER AND ANOTHER
1949 (4) SA 821
veral te 827;
TOPAZ
KITCHENS (PTY) LTD V NABOOM SPA (EDMS) BPK
1976 (3) SA 470
(A)
2
ITALTILE
PRODUCTS (PTY) LTD v TOUCH OF CLASS
1982 (1) SA 288
(O)
3
CARPEDE
v CHOENE NO AND ANOTHER
1986 (3) SA 445
(O) te 451;
S
V MOKONTO
1971 (2) SA 319
(A) te 323 A;
REX v GUMEDE
1949 (3) SA 749
(A) te 756
4
AA
ONDERLINGE ASSURANSIE ASSOSIASIE BPK V DE BEER
1982
(2) SA 603
(A) verklaar Viljoen A.R. op 614 H die volgende:
“
Dit
is, na my oordeel, nie nodig dat 'n eiser wat hom op
omstandigheidsgetuienis in 'n siviele saak beroep, moet bewys dat
die
afleiding wat hy die Hof vra om te maak die enigste redelike
afleiding moet wees nie. Hy sal die bewyslas wat op hom rus kwyt
indien hy die Hof kan oortuig dat die afleiding wat hy voorstaan die
mees voor-die-hand-liggende en aanvaarbare afleiding is van
'n
aantal moontlike afleidings.
”
Vergelyk
ook
GOVAN V SKIDMORE
1952 (1) SA 732
(N) te 734 C - D