About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2011
>>
[2011] ZAFSHC 162
|
|
Moloi v S (A174/2010) [2011] ZAFSHC 162 (20 October 2011)
VRYSTAATSE HOË HOF, BLOEMFONTEIN
REPUBLIEK VAN SUID-AFRIKA
Appèlnommer: A174/2010
In
die saak tussen:-
MAJARA
MOLOI
.......................................................................
Appellant
en
DIE STAAT
...........................................................................
Respondent
_____________________________________________________
CORAM:
VAN DER MERWE, R
et
KUBUSHI,
WND R
_____________________________________________________
AANGEHOOR OP:
10 OKTOBER 2011
_____________________________________________________
UITSPRAAK DEUR:
VAN DER MERWE, R
_____________________________________________________
GELEWER OP:
20 OKTOBER 2011
_____________________________________________________
[1] Die appellant is in die streekhof daaraan skuldig
bevind dat hy op 16 Desember 2002 vir die klaagster twee maal verkrag
het.
Ingevolge die bepalings van artikel 51(1) van die
Strafregwysigingswet 105 van 1997, soos gewysig, (“die Wet”)
is die
appellant op 16 Julie 2009 gevonnis tot lewenslange
gevangenisstraf. Die appèl is net teen die vonnis.
[2] Die klaagster is gebore op 7 April 1986 en was dus
op 16 Desember 2002 nog nie 17 jaar oud nie. Die appellant en die
klaagster
was egter vroeër gedurende daardie jaar betrokke in ‘n
seksuele verhouding wat twee weke lank geduur het. Op 16 Desember
2002 omstreeks 15h30 het die appellant vir die klaagster in die
straat raakgeloop. Hy het haar gegryp en ondanks haar teenstand
getrek na sy woning. In die proses het die appellant vir die
klaagster geklap en met die vuis geslaan. In die appellant se huis
het die appellant vir die klaagster aan haar klere voor haar bors
gegryp, haar teen ‘n muur gestamp, op ‘n bed gegooi
en
verkrag. Hierna het die appellant vir die huilende klaagster gevra of
sy nog lief is vir hom en sy het gesê dat dit nie
die geval is
nie. Die appellant het die klaagster toe weer op die bed gegooi en
weer teen haar sin geslagsgemeenskap met haar gehou.
Na die tweede
verkragting het die appellant, klaarblyklik as ‘n dreigement,
die loop van ‘n vuurwapen teen die kop
van die klaagster gedruk
en ook later gedreig om haar met ‘n bottel te slaan. Alhoewel
die appellant en die klaagster saam
die huis verlaat het, wou die
appellant haar nie laat gaan nie en is sy uiteindelik, deur die
tussenkoms van andere, uit die greep
van die appellant bevry. Die
hele voorval vandat die appellant vir die klaagster weggetrek het
totdat sy uit sy greep bevry is,
het ongeveer ‘n uur en ‘n
kwart geduur. Die twee verkragtings het plaasgevind binne ‘n
kwessie van ‘n halfuur.
Die klaagster het slegs geringe fisiese
beserings opgedoen en daar is blykens die rekord goeie rede om te glo
dat sy geen blywende
psigiese letsels oorgehou het nie.
[3] Die appellant was ten tye van die voorval ongeveer
26 jaar oud. Hy is ‘n eerste oortreder. Hy het ‘n vaste
betrekking
beklee as ‘n werktuigkundige op ‘n plaas waar
hy ‘n maandelikse inkomste van R1 300,00 gehad het. Alhoewel hy
nie getroud is nie, is hy betrokke in ‘n verhouding waaruit
twee kinders gebore is wat ten tye van vonnisoplegging ongeveer
twee
jaar en ongeveer een maand oud was. Hy het ook bygedra tot die
versorging van sy ouers. Hy was in hegtenis as ‘n
verhoorafwagtende
vir ‘n tydperk van ongeveer een jaar. Volgens
die getuienis van die vervolging wat deur die verhoorhof aanvaar is,
was die
appellant ten tye van die voorval onder die invloed van sterk
drank.
[4] Ingevolge die bepalings van die Wet is ‘n
vonnis van lewenslange gevangenisstraf voorgeskryf, tensy wesenlike
en dwingende
omstandighede bestaan wat die oplegging van ‘n
mindere vonnis regverdig. Wesenlike en dwingende omstandighede wat
die oplegging
van ‘n mindere vonnis dan die voorgeskrewe vonnis
regverdig, beteken presies wat dit sê, naamlik die
teenwoordigheid
van omstandighede wat eerstens wesenlik is en wat
tweedens individueel of kumulatief die vonnisoplegger dwing tot die
gevolgtrekking
dat oplegging van die voorgeskrewe vonnis ‘n
onreg tot gevolg sal hê.
[5] Die verhoorhof het bevind dat geen sodanige
wesenlike en dwingende omstandighede teenwoordig was nie. Op appèl
kan ons
met hierdie bevinding slegs inmeng indien die verhoorhof ‘n
wesenlike wanvoorligting begaan het of indien ons oortuig daarvan
is
dat die landdros se bevinding verkeerd is.
[6] Daar is tereg nie op ‘n wanvoorligting gesteun
nie. Vir die redes wat volg, het ek egter tot die oortuiging geraak
dat
die verhoorhof fouteer het deur nie te bevind dat wesenlike en
dwingende omstandighede die oplegging van ‘n mindere vonnis
dan
lewenslange gevangenisstraf regverdig nie. Vir my is die wesenlike
faktore dat die appellant ‘n eerste oortreder is en
dat hy ‘n
vaste betrekking beklee het, asook dat die voorval van korte duur was
en geen blywende psigiese letsel agtergelaat
het nie. Die kumulatiewe
effek hiervan is na my oordeel dat ‘n vonnis van lewenslange
gevangenisstraf só buite verhouding
is tot die misdaad, die
misdadiger en die belange van die gemeenskap dat die oplegging
daarvan ‘n onreg teenoor die appellant
daargestel het. Die
vonnis kan dus nie bly staan nie.
[7] Daar is egter geen twyfel daaroor nie dat die
appellant ‘n baie ernstige misdryf gepleeg het. Die arrogante
seksistiese
houding wat weerspieël word deur die gedrag van die
appellant kom in my ervaring in hierdie hof, veels te dikwels voor en
moet met swaar vonnisse uit die gemeenskap geweer word. Na my oordeel
is ‘n vonnis van 19 (negentien) jaar gevangenisstraf
gepas in
al die omstandighede van hierdie saak.
[8] Gevolglik slaag die appèl teen vonnis en word
die vonnis van lewenslange gevangenisstraf tersyde gestel en vervang
met
‘n vonnis van 19 (negentien) jaar gevangenisstraf wat geag
moet word opgelê te gewees het op 16 Julie 2009.
________________________
C.H.G. VAN DER MERWE, R
Ek
stem saam.
____________________
E.M. KUBUSHI, WND R
Namens
die appellant: Mnr. J.D. Reyneke
In
opdrag van:
Bloemfontein
Regsentrum BLOEMFONTEIN
Namens
die respondent: Adv. F.J. Pienaar
In
opdrag van:
Direkteur
van Openbare Vervolgings
BLOEMFONTEIN
/sp