Duvenhage v De Kock (3233/2009) [2011] ZAFSHC 158 (15 September 2011)

62 Reportability

Brief Summary

Delict — Assault — Claim for damages arising from alleged assault during public altercation — Plaintiff sustained severe eye injury as a result of defendant's actions — Defendant claimed self-defense and denied striking plaintiff — Court found that plaintiff bore the burden of proof regarding the assault and injuries — Evidence indicated that a physical altercation occurred, but defendant's involvement in causing plaintiff's injury was not sufficiently established — Plaintiff's claim for damages dismissed due to lack of proof of assault.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2011
>>
[2011] ZAFSHC 158
|

|

Duvenhage v De Kock (3233/2009) [2011] ZAFSHC 158 (15 September 2011)

IN
DIE VRYSTAAT HOë HOF, BLOEMFONTEIN
REPUBLIEK
VAN SUID-AFRIKA
Saak Nr. : 3233/2009
In
die saak tussen:-
ABRAHAM
CHRISTIAAN DUVENHAGE
........................................
Eiser
en
KENNY
DE KOCK
.................................................................
Verweerder
_____________________________________________________
AANGEHOOR OP:
30 en 31 AUGUSTUS 2011
_____________________________________________________
UITSPRAAK DEUR:
DAFFUE, WND. R
_____________________________________________________
GELEWER OP:
15 SEPTEMBER 2011
_____________________________________________________
INLEIDING:
[1] In Hof C van die
Vrystaatse Hooggeregshof het vier oulike jong mans, klaarblyklik wel
opgevoed en in die fleur van hulle lewe,
voor my verskyn op 30 en 31
Augustus 2011. Al vier van hulle is tans werksaam en beklee goeie
poste. Al vier was op 5 September
2006, dit wil sê vyf jaar
gelede, studente aan die Vrystaatse Universiteit. Een van hulle, Ian
Duvenhage, was nie betrokke
by die onderonsie wat aanleiding gegee
het tot hierdie verhoor nie en is slegs as getuie geroep ter
bevestiging van die weergawe
van sy broer, die eiser in hierdie saak,
ten opsigte van ‘n voorval wat later die aand te die
Medi-clinic Hospitaal in Bloemfontein
plaasgevind het.
[2] Drie van die vier
getuies, te wete eiser, verweerder en eiser se vriend, Johnny
Schoeman (Johnny), was betrokke in ‘n
onderonsie op die hoek
van Nelson Mandelarylaan en Krigestraat, in die omgewing van die
Formule 1 en Protea Hotels in Bloemfontein.
Afgesien van hierdie drie
getuies was drie verdere persone – almal studente aan die
Vrystaatse Universiteit - in die onderonsie
betrokke, synde Lourens
Luther (Boy) en Ernest Starke (Starke) aan die kant van eiser en Ryno
Pretorius (Ryno) aan die kant van
verweerder. In totale kontras met
die rustigheid van die verrigtinge in die hofsaal en die mooi
taalgebruik tydens die verhoor
het dit die betrokke aand tussen 23h00
en 24h00 woes gegaan. Dit is duidelik uit die getuienis dat lede van
die twee groepe studente
die aand in die openbaar soos onopgevoede,
ongedissiplineerde en onvolwasse rebelle op mekaar gevloek en geskree
het, mekaar geruk
en pluk het en dat daar minstens een voltreffer
vuishou geplant is. Ek kan maar net hoop en vertrou dat almal
betrokke, insluitende
daardie persone wat nie in hierdie hof getuig
het nie, vandag skaam is oor wat gebeur het en elkeen moet maar met
sy gewete saamleef
dat ‘n mede-student, synde die eiser in
hierdie saak, moontlik die volle gebruik van sy regteroog verloor het
deurdat hy
na bewering slegs 5% sig het. Niemand anders is beseer in
die onderonsie nie, behalwe dat verweerder volgens hom ‘n
effense
swelling aan sy gesig opgedoen het.
[3] Cloete, AR het by
geleentheid die opmerking gemaak dat die natuurlike simpatie wat ‘n
regter vir ‘n vrou mag uitstraal
vanweë die feit dat sy na
bewering verkrag is, nie ‘n rol behoort te speel ten einde te
bepaal of die Staat bo redelike
twyfel bewys het dat sy inderdaad
verkrag is nie. Vergelyk
S v GENTLE
2005 (1) SASV 420
(HHA). Dit is sekerlik menslik om simpatie vir eiser te koester en
kan nie uit die oog verloor word nie dat hy
as ‘n 19-jarige
eerstejaarstudent redelik beseer is. Ek sal nie toelaat dat my
simpatie my oordeel aantas nie. Ek moet wel
byvoeg dat ek terdeë
bewus is daarvan dat die bewerings wat deur eiser gemaak is in sy
Besonderhede van Vordering met betrekking
tot die ernstigheid van sy
besering nie deur verweerder erken is nie en dat alhoewel eiser self
kortliks getuienis aangebied het
met betrekking tot sy beweerde
permanente oogskade, dit nie nodig was om hom in daardie verband te
kruisverhoor nie vanweë
die ooreenkoms waartoe die partye geraak
het. Sonder om my oor die permanensie of graad van eiser se beserings
uit te laat, bloot
omdat dit onbewese is, aanvaar ek dat hy wel ‘n
oogbesering opgedoen het.
DIE PLEITSTUKKE EN
SKEIDING VAN GESKILPUNTE:
[4] Eiser het in sy
Besonderhede van Vordering beweer dat hy op 5 September 2006 en te of
naby Nelson Mandelarylaan, Bloemfontein
wederregtelik en opsetlik
deur verweerder aangerand is deurdat laasgenoemde hom met die vuis in
die gesig geslaan het ten aanskoue
van lede van die publiek. As
gevolg van die aanranding is sy oogbank oopgekloof, was sy oog vir
ongeveer twee weke toegeswel, het
hy digte vitreouse bloeding
opgedoen sowel as ‘n skeur deur die retina en die onderliggende
bloedvatlaag, die choroid. Eiser
se gesigskerpte is 0,05 wat hom
blind maak in sy regteroog en die gevolg is dat hy slegs die gebruik
van een oog het.
[5] Verweerder het
gepleit dat daar op 5 September 2006 ‘n bakleiery plaasgevind
het en dat hy en sy vriend deur vier onbekende
persone aangeval is
met die bedoeling om hulle fisies te beseer. Hy het spesifiek gepleit
dat hy nie daarvan kennis dra dat hy
eiser tydens die geveg met die
vuis raakgeslaan het nie, maar selfs indien dit bevind sou word, hy
in noodweer opgetree het en
is die onregmatigheid van sy handeling
dus in geskil geplaas. Verweerder was nie bereid om die verdere
bewerings ten aansien van
die beserings deur eiser opgedoen en die
gevolge daarvan te erken nie en dra eiser dus die bewyslas om dit te
bewys.
[6] Adv Els het namens
die eiser verskyn tydens die verhoor, terwyl verweerder
verteenwoordig is deur adv Langenhoven.
Ek is met die aanvang van
die verrigtinge versoek om ooreenkomstig die partye se ooreenkoms
soos vervat in paragraaf 2.5 van die
Reël 37 Minuut te gelas dat
meriete en
quantum
geskei word ooreenkomstig die bepalings van
Reël 33(4) en dat dit slegs nodig is om die bewerings vervat in
paragraaf 3 van
die Besonderhede van Vordering, saamgelees met
paragraaf 4 van die Verweerskrif, te beslis. So ‘n bevel is
gemaak.
DIE GETUIENIS:
[7] Alvorens ek die
getuienis van elkeen van die getuies ontleed, plaas ek die volgende
op rekord. Twee duidelike en direk teenstrydige
voorvalle is geskets
van wat op die aand van 5 September 2006 gebeur het.
7.1
Die weergawe van
die eiser en sy getuie is die volgende:
Volgens hulle was hulle
en hul twee vriende, Starke en Boy, eerstejaars en inwoners van die
destydse Huis Verwoerd, nou Armentum.
Hulle het die aand na ‘n
rugby-oefening gaan eet by die casino buite Bloemfontein. Op pad
terug na die Universiteit het hulle
by die Bloemgate Sentrum
ingedraai omdat hulle graag die Pizaz kuierplek wou besoek. Toe hulle
daar arriveer was daar ‘n
bakleiery buite die kuierplek en het
hulle besluit om eerder Universiteit toe te gaan. Dit was reeds amper
23h30 en hulle moes
in elk geval teen 24h00 in die koshuis wees.
Die dubbelkajuit bakkie,
bestuur deur Boy, waarmee hulle in die regterbaan van Nelson
Mandelarylaan op pad was in die rigting van
die Universiteit, dit wil
sê vanaf ‘n westelike na ‘n oostelike rigting, is
tot stilstand gebring omdat twee
voetgangers wat in die regterbaan
van die rylaan gestap het, hulle met handseine en/of mondelings
versoek het om te stop. Dit was
in die omgewing van die Formule 1 en
Protea Hotels en die T-aansluiting van Krigestraat met Nelson
Mandelarylaan en dus baie naby
aan die hoofingang van die
Universiteit. Johnny het links agter gesit en eiser regs agter.
Starke het links voor gesit.

n
Gesprek het hierna plaasgevind tussen die twee voetgangers wat op
daardie stadium aan die linkerkant van die bakkie gestaan het
en van
die insittendes in die bakkie. Die voetgangers het onsamehangend
verwys na ‘n “kar” waarna hulle op soek
was en ‘n
vriend van hulle wat by gemelde kuierplek beseer is. Die insittendes
van die bakkie het onderling besluit dat hulle
nie kon help nie en
Boy het weggetrek. Op daardie stadium het die twee voetgangers op
hulle geskree en gevloek en ook teen die
bakkie se kap geslaan. Boy
het die bakkie tot stilstand gebring waarna Johnny en eiser uitgeklim
en na die twee voetgangers wat
op daardie stadium aan die agterkant
van die bakkie was, beweeg het. Toe die vier studente bymekaar kom
het een van die twee voetgangers
‘n hou na Johnny geslaan wat
hy suksesvol vermy het. Dit het gelei tot ‘n gepluk en getrek
tussen die vier wat tydens
die gespook uit Nelson Mandelarylaan
beweeg het tot op die sypaadjie op die hoek van Krigestraat en Nelson
Mandelarylaan en wel
aan die Protea Hotel kant van die betrokke
straat.
Intussen het Boy die
bakkie uit die pad verwyder en dit op die sypaadjie getrek aan die
Formule 1 Hotel kant van Krigestraat. Aan
die oorkant van die straat
was die vier steeds besig met hul onderonsie. Boy en Starke het uit
die bakkie geklim, oor Krigestraat
gestap en hulle by die vier
aangesluit. Op ‘n stadium is vrede gemaak, maar dis nie
heeltemal duidelik of dit gebeur het
nadat Boy en Starke aangesluit
het by die ander vier en of hulle nog op pad soontoe was nie. Direk
hierna het die vier vriende
teruggeloop na die bakkie en was minstens
twee van hulle, Boy en Starke, reeds binne die bakkie en Johnny besig
om in te klim toe
‘n verdere onderonsie plaasgevind het.
Terwyl eiser nog buite
die bakkie was, is hy deur verweerder se vriend, Ryno, wie se
identiteit eiser later vasgestel het, versoek
om na iets op Ryno se
selfoon te kyk. Dit het plaasgevind direk langs die bakkie, aan die
regterkant daarvan en effens agter die
kajuit. Verweerder en Ryno
moes dus agter die vier vriende aangestap en ook Krigestraat gekruis
het. Terwyl eiser na Ryno se selfoon
gekyk het, is hy deur
verweerder, wie se identiteit ook eers agterna vasgestel is en wat op
daardie stadium aan sy regterkant was,
met ‘n steelhou op die
regteroog getref in so ‘n mate dat die oogbank oopgeslaan is en
bloed vryelik gevloei het. Eiser
was duiselig en deurmekaar en het
almal agter gelaat en vanaf die toneel na sy broer wat in Gaudiamus
woonstelle woonagtig was,
nie te ver daarvandaan geleë nie,
gehardloop wat hom na die Medi-clinic Hospitaal geneem het. Dit dan
in wese is die getuienis
soos voorgehou deur en namens die eiser.
7.2
Verweerder se
weergawe was die volgende:
Hy en Ryno was op pad na
die Medi-clinic Hospitaal om vas te stel hoe ernstig ‘n vriend
van Ryno, wat die aand saam met hulle
gekuier het by Pizaz en
klaarblyklik deur ‘n glas gesteek of gesny is en na die
Medi-clinic Hospitaal geneem is deur ‘n
ander vriend, beseer
is. Hulle het op die sypaadjie van Nelson Mandelarylaan gestap en
Ryno het duimgegooi vir ‘n voertuig
wat van agter gekom het.
Toe die voertuig langs hulle kom was daar ‘n geskree uit die
voertuig, synde ‘n dubbelkajuit
bakkie. Ryno het teruggeskree
waarop die bakkie tot stilstand gekom, in trurat beweeg en toe
vorentoe beweeg het om op die sypaadjie
van Krigestraat reg voor die
Formule 1 Hotel tot stilstand te kom.
Vier onbekende persone
het uit die voertuig geklim en in hul rigting oor Krigestraat beweeg,
terwyl hulle op daardie stadium reeds
aan die anderkant van
Krigestraat aan die kant van die Protea Hotel was. Ryno is
gekonfronteer deur een van die persone omdat hy
op hulle geskree het.
Die onbekende persoon het ‘n hou na Ryno geslaan waarna
verweerder wat op daardie stadium besig was
om met een van die ander
persone te praat, tussenbeide getree het ten einde vrede te maak.
Instede daarvan dat vrede intree, het
dit aanleiding gegee tot ‘n
groepsgeveg waaraan almal deelgeneem het. Verweerder is ‘n hou
op sy wangbeen toegedien
en alhoewel hy erken dat hy met die vuis
geslaan het, kan hy nie getuig dat hy enige van die aanvallers
raakgeslaan het nie. Bo
en behalwe ‘n vuisslanery was daar ‘n
gerondplukkery deur al ses persone op die toneel. Verweerder het nie
in sy getuienis
‘n poging aangewend om eiser of Johnny wat voor
hom getuig het, te identifiseer as deel van die aanvalsmag nie. Hy
het ook
nie ontken dat hulle betrokke was by die onderonsie nie. Die
bakleiery het skielik opgehou en het die twee groepe daarna hul eie

afsonderlike rigtings ingeslaan. Hy en Ryno het voortgestap in die
rigting van die Medi-clinic terwyl die bakkie nog geparkeer
was op
die sypaadjie. Verweerder het dit beklemtoon dat hy opgetree het in
selfverdediging ten einde die aanval deur die oormag
van vier teen
hulle twee te probeer afweer.
[8] Op die eiser se
weergawe, en indien dit aanvaar word, het verweerder vir eiser met
die vuis op die oog geslaan nadat die partye
reeds vrede gemaak het
en kan daar dus nie sprake wees van selfverdediging nie. In so ‘n
geval moet die eiser slaag en mnr
Langenhoven het dit toegegee.
Indien verweerder se weergawe aanvaar word, is hy en sy vriend
aangeval deur vier onbekende persone
wat veroorsaak het dat daar nie
net ‘n gerondplukkery was nie, maar dat ‘n volwaardige
groepsgeveg uitgebreek het.
Alhoewel hy nie kennis dra dat hy eiser
raakgeslaan het nie, is dit sy getuienis dat hy bloot probeer het om
homself te beskerm
en dus in noodweer opgetree het. Indien sy
weergawe aanvaar word, moet eiser se eis van die hand gewys word met
koste, of soos
mnr Langenhoven in die alternatief geargumenteer het,
op die beste vir eiser behoort absolusie van die instansie toegestaan
te
word met koste.
[9] Johnny het eiser se
weergawe, behalwe vir soverre hieronder uiteengesit, in alle
wesenlike opsigte gestaaf. Hy het wel nie die
beweerde vuishou en die
aanloop daartoe waargeneem nie, maar ‘n klapgeluid gehoor
waarna hy om die bakkie beweeg en die beseerde
eiser, verweerder en
Ryno aangetref het. Die volgende weersprekings tussen eiser en sy
getuie, Johnny, word uitgelig:
9.1 eiser het by
herhaling aangetoon dat hy en Johnny uit die bakkie geklim het om uit
te vind of hulle verweerder en sy vriend
kon help. Daarteenoor het
Johnny dit duidelik gemaak dat die vier vriende in die bakkie gebelgd
was oor die kras vloekwoord(e)
wat hulle toegesnou is, dat die bakkie
tot stilstand gebring is en hy en eiser uitgeklim het om uit te vind
hoekom daar op hulle
gevloek word. Hy het geensins melding gemaak dat
dit hul doel was om uit te vind waarmee hulle die twee voetgangers
kon help nie.
9.2 Eiser se weergawe dat
verweerder en sy vriend “naby aan slingerend dronk” was,
is nie deur Johnny bevestig nie en
het hy die indruk gewek dat die
twee voetgangers nie juis onder die invloed van drank was nie.
Mnr Langenhoven het
gesubmitteer dat Johnny sy weergawe aangepas het en dat dit ook
teenstrydig is met eiser se weergawe. Betreffende
inherente verskille
in sy weergawe het hy aanvanklik getuig dat die onderonsie tussen die
vier stopgesit is toe Boy en Starke nader
kom. Later is die indruk
geskep dat daar ‘n tyd was waartydens al ses by die onderonsie
betrokke was voordat dit uiteindelik
tot ‘n einde gekom het. Ek
aanvaar dat die twee getuies nie in detail kan onthou presies hoe
alles plaasgevind het, wanneer
wat gebeur het en welke gesprekke
gevoer is nie. Dit is verstaanbaar, gegewe nie alleen die tydsverloop
nie, maar ook die harwar
wat ontstaan het.
[10] Eiser en sy broer
staaf mekaar ten opsigte van die gebeure wat plaasgevind het by die
Medi-clinic Hospitaal. Mnr Langenhoven
het dit uitdruklik aan eiser
gestel dat dit ontken word dat die voorval by die Medi-clinic
Hospitaal plaasgevind het soos wat eiser
getuig het. Dit het eiser se
regspan genoop om sy broer wat nie die Dinsdag by die hof teenwoordig
was nie, na Bloemfontein te
ontbied om Woensdag getuienis aan te
bied. Dit het toe later duidelik geword dat verweerder nie werklik
die weergawe van eiser
en sy broer kan betwis nie, maar net nie kan
onthou dat dit gebeur het nie. Die volgende stelling aan Ian
Duvenhage is insiggewend:
“Hy sê hy het nie u broer by
Medi-clinic gesien nie – hy sê hy weet nie daarvan nie.”
Ek sou ‘n
meer besliste stelling verwag het en dit moet ook
beoordeel word aan die hand van verweerder se eie getuienis waarna ek
later sal
verwys.
[11] Dit is nie betwis
nie dat eiser later die identiteit van verweerder en sy vriend, Ryno,
vasgestel het. Die wyse hoe dit plaasgevind
het, is wel betwis, maar
ek het ek nie rede om eiser se weergawe van hoe dit gebeur het, in
twyfel te trek nie. Hy het ook getuig
dat hy gedurende 2007 vir
verweerder by dieselfde Pizaz kuierplek waarna hierbo verwys is,
raakgeloop het. Hy het opgemerk dat
ene JP Maritz ‘n
gemeenskaplike vriend van hom en verweerder is waarna hy Maritz
versoek het om hom aan verweerder voor te
stel. Hierop het hy en
verweerder ‘n gesprek buite die kuierplek gevoer waartydens hy
verweerder meegedeel het dat hy wat
verweerder is hom aangerand het
en dat hy as gevolg van die aanranding die sig in sy oog verloor het.
Verweerder se reaksie hierop
was dat hy “moerse jammer”
is. Verweerder het in sy getuienis erken dat hy Maritz ken, maar
beweer dat hy hom op skool
in Kimberley laas gesien het en beslis nie
in 2007 in Bloemfontein raakgeloop het nie. Hy het ook ontken dat die
voorval waaroor
die eiser getuig het, plaasgevind het. Eiser het nie
in Kimberley grootgeword nie en die toeval van hierdie voorval sal
later aangespreek
word.
[12] By die beoordeling
van die getuienis kan aanvaar word dat al die getuies basies eerlike
getuies is, maar dat heelwat aspekte
vaag is omdat die voorval bykans
vyf jaar voor die aanbied van hulle getuienis plaasgevind het en
drankinname deur verweerder nie
‘n onbeduidende rol gespeel het
nie. Ek moet ook aanvaar dat daar in so ‘n geval altyd die
gevaar bestaan van ‘n
rekonstruksie van wat werklik gebeur het.
Ek meen dat die volgende aanhalings gepas is:

70. In
assessing the reliability of the witnesses on this aspect, the key to
this conundrum, in my view, is not to be found in an
examination of
the
minutiae
of
the evidence of each individual witness, nor in an enquiry as to who
is lying and why, but in an understanding of the notorious

fallibility of human memory, of which the present matter is a
textbook case study.”
Sien
KATZ
& ANOTHER v KATZ & OTHERS,
(2004)
4 All SA 434
(KPA) te 562d.

Human memory
is inherently and notoriously liable to error. One knows that people
are less likely to be complete and accurate in
their account after a
long interval than after a short one. It is a matter of common
experience that, during the stage of retention
or storage in the
memory, perceived information may be forgotten or it may be modified
or added to, or distorted by subsequent
information. One is aware too
that there can occur a process of unconscious reconstruction.”
Sien
COMMISSIONER
FOR INLAND REVENUE v PICK n PAY WHOLESALERS
1987
(3) SA 453
(A) te 569G.
VERSUIM OM GETUIES
TE ROEP:
[13] Mnr Els het
aanvanklik te kenne gegee dat die versuim van die partye om verdere
getuienis aan te bied, nie ‘n nadelige
afleiding regverdig
teenoor enige van die partye nie. In hierdie verband het hy gesteun
op die volgende uitsprake:
WEBRANCHEK v LK JACOBS & CO LTD
1948 (4) SA 671
(A) te 682;
SAMPSON v PIM
1918 AD 657
te 662;
RAND COLD STORAGE & SUPPLY CO LTD v ALLIGIANES
1968 (2) SA 122
(TPA) te 124. Op ‘n latere stadium gedurende sy
betoog het hy egter aangevoer dat die feit dat verweerder versuim het
om
Ryno as ‘n getuie te roep, ‘n nadelige afleiding ten
gunste van die eiser regverdig.
[14]
Mnr Langenhoven het geargumenteer dat ‘n nadelige afleiding
selde gemaak word as getuies nie geroep word nie. Hy het
my versoek
om dit nie te doen met betrekking tot die afwesigheid van die
getuienis van Ryno nie. Dit lyk asof Ryno ‘n beskikbare
getuie
was, maar dat hy aldus die mededelings deur verweerder in die
getuiebank en soos oorgedra deur sy prokureur, mnr Len Coetzee
aan
hom, glad niks van die voorval kan onthou nie en dus geen bydrae tot
die saak sou kon maak nie. Hierdie weergawe is natuurlik
dubbele
hoorsê. Die volgende passasie uit
WEBRANCHEK
loc.cit.
te
682
is egter relevant:

Moreover a
litigant who calls a witness vouches, as it were, on pain of being
discredited himself, for his probity and truthfulness.
The potential
witness may be untruthfully hostile, he may have a bad memory or an
unfortunate presence. After all, plaintiff was
entitled to rest his
case upon evidence which he considered adequate to discharge the
onus
which
lay upon him.”
Verweerder het erken dat
hy verskeie drankies ingeneem het onmiddellik voor die betrokke
onderonsie en waarskynlik sou sy vriend
Ryno dieselfde gedoen het.
Verweerder se geheue het hom in die steek gelaat, meer so as die
geval met eiser en sy getuie. Tewens
sy weergawe van die gebeure of
sy gebrek aan kennis daarvan te die Medi-clinic Hospitaal is verdag.
Dit is nie vergesog om te aanvaar
dat verweerder se regspan besluit
het om nie vir Ryno te roep nie vanweë een van drie
moontlikhede, eerstens omdat hy geen
geheue van die voorval het nie,
tweedens omdat die regspan van oordeel was dat sy getuienis nie nodig
is om ‘n beslissing
in die guns van verweerder te bekom nie en
derdens omdat hy die saak van verweerder sou benadeel. Dit is
insiggewend dat verweerder
so ver gegaan het in sy getuienis om te
beweer dat hy Ryno goed ken en dat hy kan verstaan dat hy nie die
voorval kan onthou nie
omdat hy in elk geval in die algemeen nooit
iets kan onthou nie. Dit wil voorkom oordrewe en vergesog te wees.
Nietemin is ek nie
bereid om in hierdie omstandighede ‘n
nadelige afleiding te maak vanweë verweerder se versuim om Ryno
as getuie te roep
nie.
TWEE TEENSTRYDIGE
WEERGAWES EN DIE TOETS TOEGEPAS TE WORD:
[15] Die nuutste en
gesaghebbende uiteensetting van hoe twee direk teenstrydige weergawes
in ‘n siviele saak oorweeg behoort
te word blyk uit die
volgende passasie:

[5] On the
central issue, as to what the parties actually decided, there are two
irreconcilable versions. So, too, on a number of
peripheral areas of
dispute which may have a bearing on the probabilities. The technique
generally employed by courts in resolving
factual disputes of this
nature may conveniently be summarised as follows. To come to a
conclusion on the disputed issues a court
must make findings on (a)
the credibility of the various factual witnesses; (b) their
reliability; and (c) the probabilities. As
to (a), the court's
finding on the credibility of a particular witness will depend on its
impression about the veracity of the
witness. That in turn will
depend on a variety of subsidiary factors, not necessarily in order
of importance, such as (i) the witness'
candour and demeanour in the
witness-box, (ii) his bias, latent and blatant, (iii) internal
contradictions in his evidence, (iv)
external contradictions with
what was pleaded or put on his behalf, or with established fact or
with his own extracurial statements
or actions, (v) the probability
or improbability of particular aspects of his version, (vi) the
calibre and cogency of his performance
compared to that of other
witnesses testifying about the same incident or events. As to (b), a
witness' reliability will depend,
apart from the factors mentioned
under (a)(ii), (iv) and (v) above, on (i) the opportunities he had to
experience or observe the
event in question and (ii) the quality,
integrity and independence of his recall thereof. As to (c), this
necessitates an analysis
and evaluation of the probability or
improbability of each party's version on each of the disputed issues.
In the light of its
assessment of (a), (b) and (c) the court will
then, as a final step, determine whether the party burdened with the
onus of proof
has succeeded in discharging it. The hard case, which
will doubtless be the rare one, occurs when a court's credibility
findings
compel it in one direction and its evaluation of the general
probabilities in another. The more convincing the former, the less

convincing will be the latter. But when all factors are equipoised
probabilities prevail.”
Sien
SFW GROUP LT
D
& ANOTHER v MARTELL ET CIE & OTHERS
2003
(1) SA 11
(HHA) te par. 5 p.14 en 15.
In die betrokke saak het
die geleerde appèlregter die getuienis ontleed en toe soos
volg bevind:

7. I propose
to discuss the probabilities with reference to various successive
phases as events unfolded between the parties during
the period under
discussion.” [The Learned Judge of Appeal then analysed the
evidence and proceeded as follows at paragraph
34 of his judgment].

34. In
assessing the probabilities, phase by phase as events unfolded, as
well as comprehensively and in retrospect, the conclusion
seems to me
to be inescapable that of the two versions before Court as to what
the parties agreed to, SFW’s is the more probable.”
Insoverre daar
in casu
ook sprake is van gebeurtenisse wat in tyd en ruimte van mekaar
geskei is, sal dit afsonderlik oorweeg word, maar sal ek steeds
die
geheelprentjie voor oë hou.
DIE ELEMENTE BEWYS
TE WORD MET BETREKKING TOT ONREGMATIGE DAAD EN DIE REGVERDIGINGSGROND
VAN NOODWEER.
[16] Eiser dra die
bewyslas om die elemente van die onregmatige daad, synde aanranding
in
casu,
te bewys, dit wil sê dat verweerder hom
onregmatig en met die nodige bedoeling aangerand het deur hom met die
vuis te slaan
wat tot gevolg gehad het dat hy beserings opgedoen het.
Insoverre verweerder die handeling ontken is eiser dus verplig om die
Hof
op ‘n oorwig van waarskynlikhede te oortuig dat die
elemente van die onregmatige daad, uitgesluit dit wat met
quantum
verband hou, bewys is. Verweerder het in die alternatief gepleit dat,
indien bevind word dat hy eiser wel met die vuis geslaan
het, wat
ontken is, hy in noodweer opgetree het en bygevolg gesteun op ‘n
regsverdigingsgrond. Alvorens en totdat eiser die
Hof oortuig dat hy
wel deur verweerder met die vuis geslaan is, trek verweerder geen
bewyslas nie. Staan dit eenmaal vas dat verweerder
eiser inderdaad
met die vuis geslaan het, moet hy die Hof op ‘n oorwig van
waarskynlikhede oortuig van sy verweer, synde
noodweer. Vergelyk
MINISTER OF LAW AND ORDER v MONTI
1995 (1) SA 35
(A) te
39G – H en
MABASO v FELIX
1981 (3) SA 865
(A) te
875.
OORWEGING VAN DIE
GETUIENIS EN REGSARGUMENTE:
[17] Mnr Els het
aangevoer dat eiser en sy getuie ‘n goeie indruk gemaak het in
die getuiebank en ook eerlik en opreg getuig
het. Volgens hom was
Johnny geensins bevooroordeeld nie. Daarteenoor was verweerder ‘n
swak getuie, was dit duidelik uit
sy gedrag en optrede in die
getuiebank dat hy nie gemaklik voorgekom het nie, veral toe hy met
weersprekings gekonfronteer is.
Hy het dan ook gesteun op die
sogenaamde interne en eksterne weersprekings in verweerder se
getuienis met verwysing na die
SFW
-saak. Volgens hom was die
enigste moontlike weerspreking in die weergawe van eiser en Johnny
met betrekking tot of die onderonsie
verby was op die stadium toe
Starke en Boy by die ander vier gearriveer het.
[18] Mnr Els het
verweerder se weergawe met betrekking tot die casino-besoek en die
verskaffing van inligting daaromtrent deur eiser
en sy groep
gedurende die stryery afgemaak as leuenagtig. Dit is interessant dat
mnr Langenhoven die verwysing na die besoek aan
die casino en
verweerder se kennis daaromtrent glad nie gestel het aan eiser self
nie, maar eers aan Johnny nadat eiser reeds daaroor
getuig het. Dit
mag spekulasie wees, maar dit is moontlik dat dit wel ter sprake
gekom het omdat verweerder en Ryno kon vermoed
het dat eiser en sy
groep betrokke was by die aanranding op hul vriend. Hulle bakkie het
juis vanuit die rigting van die kuierplek
gekom. Daar is ook heftig
geargumenteer deur mnr Els dat verweerder ‘n leuen aan sy
advokaat vertel het uit hoofde van mnr
Langenhoven se stelling dat
die bakkie wat deur Boy bestuur is, in trurat op die sypaadjie getrek
is, terwyl al die getuies, insluitende
verweerder, dit eens was dat
dit nie die geval was nie. Na my oordeel is dit maklik dat ‘n
misverstand tussen die advokaat
en sy kliënt kon ontstaan in
hierdie verband. Dit is tewens verweerder se saak dat die bakkie
inderdaad in trurat beweeg het
in Nelson Mandelarylaan ten einde Boy
‘n geleentheid te gee om by die T-aansluiting met Krigestraat
in te beweeg en sodoende
op die sypaadjie te parkeer.
[19] Verweerder se
getuienis is gekritiseer met betrekking tot sy weergawe van wat by
die Medi-clinic Hospitaal plaasgevind het.
In sy hoofgetuienis het hy
die voorval ontken, maar tog op ‘n stadium aangedui dat hy die
gebeure nie kan onthou nie. Op
vrae van die Hof het hy aangedui dat
hy seker is dat die voorval nie plaasgevind het nie, terwyl hy in
kruisverhoor weer getuig
het dat hy niks kan onthou van wat by die
hospitaal gebeur het nie. Dit moet gesien word in die lig van die
stelling deur sy advokaat
die vorige dag aan eiser dat die voorval by
die hospitaal uitdruklik ontken word. As gevolg hiervan is eiser se
broer, spesiaal
ontbied na Bloemfontein ten einde eiser se weergawe
te bevestig ter neutralisering van verweerder se weergawe soos
geantisipeer.
[20] Mnr Els het na die
volgende onwaarskynlikhede verwys in verweerder se weergawe, te wete:
20.1 dat die insittendes
van die bakkie op hulle sou geskree het bloot omdat hy en sy vriend,
Ryno, doodluiters op die sypaadjie
in Nelson Mandelarylaan gestap en
Ryno duimgegooi het op soek na ‘n rygeleentheid;
20.2 dat verweerder nie
kan sê of Ryno raakgeslaan is gedurende die geveg nie;
20.3 dat die geveg tot ‘n
einde gekom het sonder enige rede en sonder enige verduideliking;
20.4 die gebrek aan ‘n
verduideliking van hoe en waar eiser beseer is, terwyl dit nooit in
dispuut geplaas is dat hy inderdaad
op die betrokke tyd en plek
beseer is in so mate dat hy behandeling in die hospitaal moes
ondergaan nie;
20.5 verweerder se
geheueverlies is verdag en is suggereer dat hy of nie kan onthou nie
of nie wil onthou nie.
Bygevolg is geargumenteer
dat eiser se weergawe meer aanvaarbaar is. Voorts is gesubmitteer dat
verweerder se vriend, Ryno, nie
geroep is om te getuig nie omdat
verweerder geweet het dat hy nie sy weergawe sal staaf nie.
[21] Ten slotte het mnr
Els geargumenteer dat die tweede onderonsie waartydens eiser na
bewering beseer is, en welke voorval plaasgevind
het nadat daar reeds
vrede gemaak is, verduidelik kan word aan die hand van verweerder en
sy vriend se drankinname en veglustigheid.
[22] Mnr Langenhoven het
daarop gewys dat nie veel ingelees behoort te word in die feit dat
eiser die voorval in meer detail kan
onthou as verweerder nie. Vir
eiser was dit immers ‘n besondere belewenis en het hy alle rede
gekoester om dit te onthou.
Verweerder daarenteen, het die
dagvaarding bykans drie jaar na die voorval ontvang en het hy nie
rede gehad om bestekopname te
doen van wat gebeur het op ‘n
vroeër stadium nie.
[23] Volgens mnr
Langenhoven skree die onwaarskynlikhede luid en helder teen eiser se
weergawe. Waarom dan, was sy retoriese vraag,
sal twee persone, synde
verweerder en sy vriend, teruggaan op hul spoor in die aangesig van
vier persone wat oomblikke gelede in
oormag was en aanleiding daartoe
gegee het dat eerder vrede gemaak word. Hy meen dat eiser die Hof wil
oortuig dat verweerder en
sy vriend ‘n komplot gesmee het dat
die vriend eiser se aandag aftrek ten einde verweerder geleentheid te
gee om eiser met
‘n steelhou te betrek. Volgens hom kan daar
nie sprake daarvan wees dat verweerder en sy vriend in die tyd tot
hulle beskikking
en in die besondere omstandighede so ‘n
ooreenkoms kon bereik nie.
[24] Mnr Langenhoven het
gewys op die inherente weerspreking in die getuienis van Johnny, maar
ook dat hierdie getuie die antwoord
verskaf het op die vraag wat
enige persoon wat na die getuienis geluister het, sou kwel. Dit is
naamlik dat toe die oormag van
vier teen twee duidelik word,
verweerder en sy vriend basies die spreekwoordelike wit vlag gehys
het. Volgens eiser was hy en sy
vriende nie aggressief nie en wou hy
en Johnny, toe hulle uit die bakkie geklim het, slegs maar navraag
doen hoe hulle kon help.
Johnny, daarenteen het getuig dat die
vieslike vloekwoord(e) wat hulle toegesnou is, die insittendes van
die bakkie tot die besef
laat kom het dat dit nie geduld behoort te
word nie. Mnr Langenhoven het klem gelê daarop dat volgens sy
getuienis hy en
eiser uitgeklim het ten einde uit te vind hoekom die
ander twee so optree en was daar duidelik aggressie aan hulle kant.
Alhoewel
mnr Langenhoven eintlik toegegee het dat verweerder aan
selektiewe geheueverlies ly, het hy aan die hand gedoen dat selfs dit
nie
die skreiende onwaarskynlikheid van ‘n tweede onderonsie
soos die eiser beskryf het en gedeeltelik gestaaf deur sy getuie,

waarskynlik kan maak nie. Ten slotte het mnr Langenhoven
geargumenteer dat dit nie moontlik is om een weergawe bo die ander te

verkies nie en dat dit noodwendig beteken dat eiser die onderspit
moet delf en dat die aksie van die hand gewys moet word met koste;

alternatiewelik en op die beste vir eiser, dat absolusie van
instansie met koste toegestaan word.
[25] Mnr Els het in
repliek aan die hand gedoen dat verweerder se identiteit as die
aanrander bo verdenking is. Voorts het hy my
versoek om nie te veel
in te lees in die beweerde oormag van vier teen twee nie omdat
verweerder self getuig het dat hulle aanhou
baklei het selfs op die
stadium toe daar ses persone in die bakleiery betrokke was. Dit is op
rekord geplaas dat die ses rolspelers
almal omtrent ewe groot was,
maar kan dit nie uit die oog verloor word nie dat eiser en sy drie
vriende, alhoewel rugbyspelers,
slegs eerstejaarstudente was en dus
18 of 19 jaar oud was, terwyl verweerder en Ryno minstens ‘n
jaar of twee ouer was.
[26] Na oorweging van die
getuienis en die argumente is ek soos volg van oordeel:
26.1 dat eiser en sy drie
vriende nie alleen inwoners van dieselfde koshuis was nie, maar dat
hulle ook vir die koshuis se rugbyspan
gespeel en daar ‘n sterk
bondgenootskap tussen hulle bestaan het en selfs steeds bestaan;
26.2 dat eiser en sy drie
vriende nie geneë was met die optrede van verweerder en sy
vriend nie, veral nie nadat hulle weggetrek
en daar op hulle gevloek
en geskree en teen die bakkie geslaan is nie – instede daarvan
om bloot weg te ry, moes hulle sake
gaan “uitsorteer”,
wat dit ookal mag beteken en dat verweerder se botsende weergawe dat
hy en Ryno voor die onderonsie
doodluiters op die sypaadjie geloop
het onwaarskynlik en onbetroubaar is;
26.3 dat eiser en Johnny
uitgeklim het en van voorneme was om die twee wat hulle so wangedra
het, ernstig aan te spreek, terwyl
Boy besef het dat daar moeilikheid
mag kom en vir hulle gesê het dat hy net die voertuig uit die
pad wil trek waarna hy en
Starke by hulle sal aansluit;
26.4 eiser se weergawe,
wat hy op reëlmaat herhaal het, dat hulle uitgeklim het om bloot
uit te vind of hulle die twee voetgangers
kon help, is onwaarskynlik
en ook teenstrydig met Johnny se weergawe, maar kan nie uit die oog
verloor word dat die getuies verskillende
persepsies kon gehad het
nie;
26.5 dat die gevloek op
mekaar, die geruk en gepluk, verskuif het vanaf Nelson Mandelarylaan
tot op die sypaadjie waarna Boy en
Starke nader gekom en die
onderonsie gestaak is, hetsy voordat hulle self fisies toegetree het
of daarna;
26.6 dat die rede waarom
die onderonsie so skielik beëindig is, nie presies bepaal kan
word nie, maar moontlik verband hou
met die oormag van eiser se
groep;
26.7 die weergawe van
eiser, gedeeltelik gestaaf deur Johnny, dat vrede gemaak is, dat die
vier vriende oor Krigestraat geloop het
na die bakkie en twee van
hulle daarna reeds ingeklim het, waarna eiser se aandag op ‘n
slinkse wyse gevestig is op Ryno
se selfoon ten einde verweerder ‘n
geleentheid te gee om hom met ‘n steelhou te betrek, klink in
isolasie beskou, onwaarskynlik.
In konteks gesien het verweerder, wat
later by die hospitaal uiters aggressief was, waarskynlik die kans
benut om eiser aldus te
betrek terwyl sy vriende nie geredelik
beskikbaar was om te keer nie. Hierdie gebeure verskaf die enigste
logiese antwoord met
betrekking tot die toedien van geweld op eiser
en sy beserings. Die wyse waarop hy beseer is en die effek op hom –
duiseligheid
en vloei van bloed oor sy gesig – sou immers
waargeneem gewees het deur almal, verweerder inkluis, indien dit
gebeur het
met die eerste onderonsie;
26.8 ek het geen rede om
die eiser en sy broer se weergawe van wat by die Medi-clinic
Hospitaal gebeur het te verwerp nie en word
dit aanvaar. Dit verleen
stawing vir eiser se identifikasie van verweerder as sy aanrander en
die feit dat nadat daar kwansuis
vrede gemaak is, verweerder eiser
betrek het met ‘n steelhou wat aanduidend is van sy
voortdurende veglustigheid wat by die
hospitaal voortgesit is, in so
mate dat hy verwyder moes word deur sy vriende nadat
hospitaalpersoneel kapsie gemaak het teen sy
optrede;
26.9 ek aanvaar ook dat
eiser gedurende Januarie 2007 op die toevallige wyse soos deur hom
getuig en tydens die universiteiteksamens
homself in dieselfde
eksamenlokaal as verweerder en Ryno bevind het en dat hy deur
gebruikmaking van die presensielyste van die
universiteit hul
identiteit vasgestel het;
26.10 die verdere voorval
te die Pizaz kuierplek in 2007 soos beskryf deur eiser het op
waarskynlikhede plaasgevind. Dit is net
te toevallig dat eiser
hierdie getuienis met betrekking tot JP Maritz aangebied het, terwyl
verweerder probeer voorgee dat hy Maritz
laas op skool in Kimberley
gesien het en beslis nie in 2007 nie. Hoe anders sou eiser weet dat
verweerder en Maritz mekaar ken
en waarom sou hy so ‘n storie
wou opmaak? Na my oordeel is eiser se weergawe baie meer waarskynlik
as verweerder se blote
ontkenning van die ontmoeting;
26.11 ten slotte, dat
verweerder se weergawe in totaliteit onbetroubaar en onwaarskynlik
is, dat die partye op eiser se weergawe
betrokke was in ‘n
onderonsie, dat oënskynlik vrede gemaak is, waarna verweerder
eiser opsetlik en onregmatig met ‘n
steelhou op die regteroog
geslaan het en dat daar nie sprake bestaan dat verweerder in noodweer
opgetree het nie en bevind ek aldus.
[27] Die geskilpunt wat
vir beslegting dien moet dus in die guns van eiser beslis word en is
eiser ook geregtig op die koste van
die geding tot dusver.
[28] Bygevolg bevind ek
soos volg:
dat verweerder eiser
aangerand het deur hom onregmatig en opsetlik met die vuis op sy
regteroog te slaan;
verweerder word gelas om
eiser se koste van die geding tot dusver te betaal;
die saak word
sine
die
uitgestel vir bewys van die
quantum
van eiser se eis.
________________________
JP DAFFUE, WND. R
Namens die eiser: Adv.J
Els
In opdrag van:
Vermaak en Dennis
Bloemfontein
Namens die verweerder:
Adv. GT Langenhoven In opdrag van:
Stiglitz Botes
BLOEMFONTEIN