About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2011
>>
[2011] ZAFSHC 152
|
|
Van der Merwe v Padongelukkefonds (7475/2008) [2011] ZAFSHC 152 (8 September 2011)
VRYSTAATSE HOË HOF, BLOEMFONTEIN
REPUBLIEK VAN SUID-AFRIKA
Saaknommer: 7475/2008
In die saak tussen:-
ANNA
SUSANNA ELIZABETH
VAN
DER MERWE
...........................................................................
Eiser
en
PADONGELUKKEFONDS
....................................................
Verweerder
_____________________________________________________
UITSPRAAK DEUR:
KRUGER, R
_____________________________________________________
AANGEHOOR OP:
30 en 31 AUGUSTUS 2011
_____________________________________________________
GELEWER OP:
8 SEPTEMBER 2011
_____________________________________________________
[1] Eiseres dagvaar die verweerder vir skadevergoeding
voortspruitende uit ‘n motorongeluk wat op 21 Augustus 2006
plaasgevind
het. ‘n Bevel is op 3 Junie 2010 gemaak dat
verweerder 100% aanspreeklik is vir eiseres se bewese of erkende
skadevergoeding.
[2] Die verhoor voor my het slegs met die quantum
gehandel. Die enigste geskilpunte was die algemene skade vir pyn en
lyding en
die eis vir verlies aan inkomste. Daar was ooreenkoms
tussen die partye oor die bedrag reeds gelede mediese en
hospitaaluitgawes
en dat ‘n sertifikaat onder artikel 17(4)(a)
van die Padongelukkefondswet 56 van 1996 vir toekomstige mediese
uitgawes uitgereik
sou word. Die deskundige verslae van eiseres is
erken. Slegs eiseres het getuig. Geen getuienis is namens verweerder
aangebied
nie.
[3] Die eiseres het getuig dat sy na die motorongeluk in
Augustus 2006 haar buurman gebel het en toe inmekaargesak het. Sy het
‘n
bakkie bestuur. Die bestuurder van die Golf, waarmee sy
kop-aan-kop gebots het, is as gevolg van die botsing dood. As gevolg
van
die botsing het sy harsingskudding opgedoen sowel as skaafwonde
en laserasies aan die voorkop en ‘n nekbesering. Sy het ook
‘n
intra-artikulêre fraktuur van die distale radius van die
regterpols opgedoen, sowel as ‘n platofraktuur van
die laterale
tibiale plato van die regterknie en besering van die kraakbeen van
die regterknie. Laasgenoemde twee beserings aan
die regterpols en
regterknie is die beserings wat tans nog die grootste probleme vir
eiseres bied, en wat die fokus van die verhoor
oor quantum was.
[4] Eiseres was vir vyf dae in die hospitaal. Op die
eerste dag is penne in haar gewrig gesit. Die bloed en bene is uit
haar knie
verwyder. Haar nek was vir twee dae in traksie. Die wonde
aan haar kop is verbind. Sy het geweldige pyn gehad en het anti-pyn
inspuitings
ontvang.
[5] Die pols is aanvanklik met ‘n eksterne
fiksator behandel. Dit het ‘n jaar geduur vir die bene om by
die pols te
heg en toe het sy na ‘n jaar ‘n tweede
operasie gehad waartydens haar pols styfgemaak is met ‘n
interne plaat.
[6] Toe sy uit die hospitaal is, was sy vir ses tot agt
weke bedlêend. Toe begin sy met een kruk beweeg, wat baie
moeilik
was, want haar regterhand kon glad nie gewig vat nie. Een
jaar en drie maande na die ongeluk kon sy loop soos sy tans loop, met
‘n effense waggelgang. Vir die eerste vier weke nadat sy uit
die hospitaal ontslaan is, het sy eenmaal per week anti-pyn
inspuitings by haar huisdokter gekry. Sy het geweldige pyn verduur.
Na die eerste maand het sy eenmaal per maand anti-pyn inspuitings
gekry. Die pyn was in die gewrig en nek. Sy het toe ook erge hoofpyne
gekry.
[7] Eiseres is ‘n boer. Na skool het sy vir
omtrent ses maande as tikster by Sanlam gewerk en daarna het sy gaan
boer. Sy
is in 2003 geskei en van toe af boer sy op twee plase wat
gesamentlik 370 hektaar groot is. Sy het twee spilpunte. Van die 370
hektaar is daar 100 hektaar landerye. ‘n Tyd gelede het sy as
gevolg van haar beserings deur die ongeluk opgedoen besluit
om alles
te verkoop. Die koper kon toe nie sy geld kry nie, en sy het daarna
besluit om die plaas uit die mark te haal. Sy het
nadat sy begin boer
het in 2003 eers boerbokke gekoop en daarna skape gekoop. Sy het
sedert daardie tyd vyf arbeiders. Twee pas
skape op en twee is
algemene plaaswerkers en daar is nog ‘n werker. Voor die
ongeluk het sy trekkers en stropers gery en
vragmotors bestuur. Sy
het ook gesweis en met ‘n hoeksnyer gewerk. Die spilpunte kom
van die hoof kanaal. Sy is op die vierde
punt en dit gebeur soms dat
daar gras en takke inkom en dan verstop die kanaal en dan moet dit
oopgemaak word. Sy kon dit altyd
self doen, maar nou het sy hulp
nodig om die goed daar te kan uithaal. Sy kan nie die krane alleen
oopdraai nie. Sy het twee trekkerdrywers.
Sy moet self by die
landerye wees wanneer haar werkers gif spuit want dit kan gebeur dat
hulle dit verkeerd doen. Wat groente betref,
is dit baie
arbeidsintensief. Daar is sekere goed wat nie onkruiddoder vat nie.
Sekere soorte spinasie reageer nie op onkruiddoder
en die gras
tussenin moet uitgetrek word. Sy kan toesig hou, maar sy kan nie saam
met die werkers wees nie. Dit vat nou baie langer
om die werk gedoen
te kry. Die werkers het ook groot waardering daarvoor as ‘n
mens saam met hulle werk, wat sy tans nie
meer kan doen as gevolg van
die feit dat sy nie vir verder as ‘n halfuur of uur kan staan
en nie vir meer as ‘n 100
of 200 meter kan loop nie en nie die
werk kan doen nie.
[8] Wat vee betref, het sy 460 vleis merino skape. Sy
was voor die ongeluk by gewees as die dosering gedoen is, maar nou
kan sy
dit nie meer doen nie. Wat die inspeksie van die heinings
betref, kan sy dit nou ook nie meer self doen nie. Sy vind dit
moeilik
om in die bakkie in te klim, want sy het pyn as sy inklim.
[9] ‘n Plaasarbeider verdien nagenoeg R1 300,00
per maand en sy meen as sy ‘n addisionele plaaswerker sou kon
kry, sou
dit haar help om die situasie te verlig. ‘n
Plaasvoorman verdien R6 000,00 plus per maand en die grootte van haar
boerdery
regverdig nie ‘n plaasvoorman nie. ‘n
Plaasvoorman sou kon toesig hou.
[10] Sy is gevoelig vir klimaatsveranderinge nou deur
haar klagtes, want die skroewe en die plaat maak die koue erger en sy
kom
omtrent eers tienuur in die oggend uit die huis uit en intussen
moet die boerdery aangaan.
[11] Eiseres se huidige klagtes is dat sy vir die laaste
ses maande daagliks hoofpyn kry, veral in die oggende. Soms is dit
baie
erge migraine. Sy gebruik elke tweede dag medikasie wat sy by
die dokters kry vir die hoofpyne.
[12] Haar gewrig gee baie las. Sy kan nie skoenveters
knoop nie. Sy sukkel om die gespes aan skoene vas te maak. Sy moet
hulp hê
om juwele aan te sit. Sy kan nie ‘n haardroër
vashou nie. Sy kan nie op ‘n leer staan nie. Voorheen het sy
gordyne
alleen afgehaal, maar haar hand kan nou nie eers ‘n
bottel water optel nie. Die pols kan nie behoorlik buig en sy kan nie
gryp nie.
[13] Wat die knie betref, het die dokters gesê sy
moet ‘n knievervanging kry, maar hulle sê sy is nog te
jonk
daarvoor, want die leeftyd van so ‘n knie is ongeveer tien
jaar en sy sal nog ‘n paar jaar moet wag tot die simptome
te
erg word voordat sy dit sal kan kry. Dit word dus in die vooruitsig
gestel dat sy wel ‘n knievervanging sal kry. Die eiseres
is
gebore op 2 November 1965 en is dus nou in haar middel veertigs.
[14] Wat eiseres se persoonlike omstandighede betref, sê
sy sy kan nie bad nie. Stort is moeilik, want sy kan nie lank staan
nie. Sy kan nie lank sit, staan of lê nie. Die knie en die
regterheup raak seer. Omdat sy oneweredig en mank loop laat die
knie
haar rug pyn. As sy sit moet sy haar posisie verander deur haar
heupe. Na die ongeluk het sy 20 kilogram gewig opgetel, omdat
sy
minder doen. Voor die ongeluk het sy hokkie gespeel vir die senior
vroue van die Noord-Vrystaat. Sy het vis gevang. Nou kan
sy dit nie
meer doen nie, want die aksie van die lyn ingooi kan sy nie meer doen
nie. Sy was lief vir dans. Sy het vierwiel motorfiets
gery saam met
haar seun. As stokperdjie het sy ook tuinwerk gedoen, wat sy nou
alles gelos het. Sy kan nie op haar knieë staan
nie. Wat
naaldwerk betref, doen sy net herstelwerk, maar sukkel om die garing
in die naald te kry om die masjien te bedraad en
iemand moet haar
daarmee help.
[15] In kruisondervraging deur mnr Coetzer, namens die
verweerder, het sy bevestig dat sy tans vyf werkers het en ook voor
die ongeluk
vyf gehad het. Sy het gesê dat sy addisioneel
daartoe ook 20 tot 60 werkers gehad het in die groenteseisoen. Wat
haar verlies
aan inkomste betref, sê sy haar verloofde, wat sy
van ‘n buurplaas af ken, help haar en staan in met haar
boerdery,
maar hy het sy eie boerdery en moet ook daar daagliks
toesig hou.
[16] Sy het gesê dat daar definitief ‘n
afname in die winsgewendheid van haar boerdery is. Voor die ongeluk
het sy het
‘n X3 BMW gekoop en ‘n Hyundai bakkie en hulle
moes afbetaal word en sy was ten volle op dreef om hulle af te
betaal.
Sy was ook op dreef om haar oortrokke rekening by die bank af
te betaal, maar tans maak die rente daar haar klaar. Sy kan nie nou
by daardie betalings bykom nie. Sy stem saam dat die koste gestyg het
en dat daar ook markverwante prysstygings plaasgevind het.
Sy stem
saam dat daar stygende insetkostes was en daardie faktore het wel ook
‘n invloed op haar. Dit is aan haar gestel
dat volgens die
deskundige verslae van dr Van Jaarsveld het sy in die jaar 2005 ‘n
netto verlies gehad van R267 923,00 en
in 2006 ‘n netto verlies
van R180 328,00. Sy het gesê dat dit te wyte is aan die
kapitaal uitgawes wat sy aangegaan
het by wyse van die spilpunte en
ook die verbeterings wat sy aangegaan het en dan natuurlik ook die
voertuie wat sy gekoop het
wat alles uitgawes behels het wat afgetrek
moes word van die wins van die boerdery. Sy sê sy het
winsgewend geboer vir die
afgelope vyf jaar en beduidende
verbeterings aangebring. Verbeterings wat sy aangebring het, soos
byvoorbeeld die spilpunte, hou
basies lewenslank. Dit is moeilik om
die winsgewendheid van ‘n boerdery te bereken. Jy kan nie
werklik jou uitgawes bepaal
nie. Dit is moeilik om die uitgawes te
bepaal.
[17] Wat haar beserings betref, het sy in
kruisondervraging gesê dat haar heup nie reg is nie. Sy het
ongemak in die regterheup.
Sy het twee rugoperasies op ‘n vroeë
leeftyd gehad as gevolg van iets wat onverwant is aan die ongeluk en
haar probleme
met die stap kom uit die knie en nie uit die
rugoperasie nie. Die rugoperasie het haar rug totaal herstel. Sy het
in 1981 weer
geval, 14 dae na die aanvanklike operasie. Toe het sy
rugpyn gehad. Dit was ‘n fratsongeluk, maar daardie besering
het 100%
herstel.
[18] Wat haar migraine betref, sê sy sy sukkel om
uit die bed uit te kom. Sy kry inspuitings omtrent eenmaal per week.
Sy
het elke dag hoofpyn oor die laaste ses maande. Dit word erger en
dit is definitief nou ‘n groot probleem vir haar. Dit is
aan
haar gestel dat sy ouer word en dus minder aktief op die boerdery sal
wees, waarop sy vermeld het dat haar vader 75 jaar oud
is en nog
steeds baie aktief op sy plaas is en dat sy dus nie kan sien dat daar
‘n vinnige einde aan haar aktiwiteite op
die plaas behoort te
wees nie. In herondervraging is sy gevra waarom sy nie ‘n
ekstra werker aangestel het nie en sy sê
dat sy dit tot dusver
nie kon bekostig nie. Sy het wel ‘n kode 14 bestuurderslisensie
om haar swaar vragmotor te bestuur
om groente na die mark te neem,
maar tans maak dit meer ekonomiese sin om die vervoerwerk deur ‘n
kontrakteur te laat doen
wat dan na die mark ry en dan ook ‘n
vrag terugbring.
[19] Dit het eiseres se getuienis voltooi. Tydens betoog
het die advokate gekonsentreer op die twee beserings, naamlik die
pols
en die knie. Mnr Steenkamp, namens eiseres, het die twee apart
behandel en na sake verwys wat met beide handel. Mnr Coetzer sê
dat hulle nie afsonderlik gesien kan word nie en dat hierdie ‘n
geval van veelvuldige beserings is wat gesamentlik gesien
moet word.
Daar is ‘n mate van waarheid in wat beide advokate sê,
soos wat hieronder sal blyk en ek handel vervolgens
met die
submissies wat die advokate gemaak het oor die beserings en die sake
waarna hulle verwys het. In sy betoog het mnr Steenkamp
verwys na die
verslag van die arbeidsterapeut, Letitia Reyneke, waar sy op bl 11
van haar verslag by die deskundige bundel sê:
“
The client does not weight-bear
sufficiently on her right leg, due to pain when walking. She has a
slight limp on the left side,
when she walks and she complains of
pain in her back, when she walks, especially over uneven surfaces and
long distances.
Op bl 12 sê sy:
“
...it was observed, though, that her
physical endurance is poor. She was constantly breathless, sweating
and complained of tiredness
in her limbs during the assessment of
climbing stairs, walking longer distances, crawling, carrying, etc.”
Betreffende pyn, het die eiseres gesê
dat sy omtrent 80 tot 90% steun op pynpille. Die verslag vermeld dat
daar ‘n 85%
onvermoë is (
“disability”)
wat ‘n “severe disability” is.
Die
handfunksie word geïnterpreteer en die linkerhand is
ondergemiddeld en die regterhand is baie swak. Oor die afhanklikheid
van die eiseres blyk dat sy probleme het met toiletgebruik, aantrek,
trappe klim en bad, soos wat die eiseres ook getuig het. Uit
die
verslag vermeld sy ook dat sy nie aandag aan haar tuin gee nie en wat
stap betref en mobiliteit vermeld die verslag dan soos
volg op bl 22:
“
The client is unable to negotiate short
uneven distances and long distances (even and uneven). She has poor
balance and experiences
pain with fast walking – her agility is
therefore poor and she moves slow and cautiously as a result. She has
difficulty
to crawl, due to pain and stiffness in her back and knee
and she has excessive pain when weight bearing on her wrist, while
crawling.
She has difficulty in climbing, especially when lifting her
foot higher than hip level, due to pain and stiffness in her right
knee and hip.”
Die arbeidsterapeut handel met werksmoontlikhede en sê
dan dat eiseres ‘n boer is en sy kan niks anders doen nie en
die aanpassings wat sy moes gemaak het as gevolg van die ongeluk is
soos volg:
1. Om op te hou met haar groentetuin;
2. Om meer plaaswerkers en huiswerkers aan te stel;
3. Om ‘n tuinier aan te stel om na haar tuin te
kyk, en
4. Om ‘n voorman aan te stel vir haar plaas.
Mnr Steenkamp het ook verwys na die bedryfsielkundige,
Susan van Jaarsveld, se verslag waar sy die huidige klagtes bespreek
en ‘n
finale opinie gee. Sy gee ‘n opsomming van die
huidige klagtes, naamlik dat sy beperkte beweging het; dat sy pyn in
haar
linkerknie het; dat sy daagliks kopsere het; dat sy nie vir
langer as omtrent 10 minute kan staan nie; dat sy nie vir langer as
omtrent 30 minute kan sit nie; dat sy nie vir lang afstande van
omtrent 500 meter kan loop nie; dat sy nie swaar voorwerpe kan
optel
of dra nie; sy kan nie trappe klim nie; sy kan nie op haar hurke sit
nie en sy word geïrriteerd en gefrusteerd as gevolg
van haar
toestand. Die bedryfsielkundige meld dat sy nie fisiese werk kan
verrig nie en dit tas haar werk aan as boer, want sy
kan nog ‘n
raadgewende rol speel, maar nie eintlik veel meer nie.
[20] Die ortopediese chirurg, Dr Ziervogel, vermeld in
sy verslag hoe die operasies uitgevoer is op die regterpols en die
regterknie
en dat sy in die hospitaal was. Dr Ziervogel sê dat
die hoofpyn waarvan sy kla waarskynlik post-konkussie hoofpyn is. Dit
kan ‘n baie lastige probleem wees en as dit nie binne twee jaar
bedaar nie, moet daar ‘n verslag van ‘n neuro-chirurg
verkry word. Hierdie verslag is gedoen in Desember 2007. Daar het dus
twee jaar verloop. Die hoofpyne duur voort en dit lyk asof
daar
verdere aandag aan hierdie hoofpyne gegee sal moet word hoewel die
advokate in betoog nie veel aandag daaraan gegee het nie
as synde
voortspruitende uit die res van die beserings. Dr Ziervogel meld dat
die kanse 100% is dat sy op laat middeljarige leeftyd
‘n
knievervanging sal moet kry. Die kroniese pyn dra sekerlik nie by tot
die kwaliteit van lewe nie. Dr Ziervogel handel
met die bepaling van
ongeskiktheid en hy bepaal die beperkings soos volg: die nek –
vyf persent, die regterpols – 13
persent en die linkerknie –
twee persent en na die ongeskiktheid sal die ongeskiktheid 15 tot 30
persent wees afhangende
van die uitkome van die ongeluk.
[21] Mnr Steenkamp handel dan ook met die verslag van Dr
Piet Engelbrecht, die ander ortopediese chirurg, wat sê dat
eiseres
nie op ongelyke grond kan loop nie; sy kan nie in ‘n
ploegland loop nie. Hy meld huidige klagtes: dat die linkerknie pyn
het; die regterpols is verstyf en kan nie gebruik word nie. Hy sê
dat akute pyn verduur is vir omtrent 10 tot 12 dae gevolg
deur matige
pyn vir ten minste ses weke en chroniese pyn vir die pols wat drie
maande geneem het om te herstel en dan sê
hy ook dat sy nog
steeds chroniese pyn het en dit word verwag dat die chroniese pyn sal
toeneem soos wat die tyd verbygaan. Hy
sê volgens die tabelle
wat hy geraadpleeg het, is die permanente verlies van werkkapasiteit
30% en hy beveel aan dat 30%
toegelaat word vir haar verlies aan
inkomste.
[22] Mnr Steenkamp verwys dan ook na die aktuaris, Ian
Morris, se verslag wat praat van die huidige salaris van plaaswerkers
van
R1 375,94 per maand en hy werk dan die loon uit wat dit sou
behels as daar ‘n ekstra arbeider aangestel word.
[23] In sy betoog sê mnr
Steenkamp dat toesighouding bly die probleem. ‘n Voorman is
duur en kan nie deur haar bekostig
word nie en die keuse is dus dat
iemand verkry word wat haar sal kan help en die basis vir die uitwerk
van ‘n ekstra werknemer
wat hy gebruik het, is die saak van
PRESIDENT INSURANCE CO LTD v MATHEWS
1992 (1) S
A
1
(A). Daar was ‘n boer van 57 jaar oud en dieselfde basis is
in hierdie saak gebruik om die kostes van een addisionele werker
te
gebruik om die kostes van verlies aan inkomste te bereken.
[24] Wat die algemene skade betref, verwys mnr Steenkamp
na verskeie sake. Wat die kniebesering betref, sê mnr Steenkamp
dat
haar heup seer raak as gevolg van die oneweredige loopgang. Haar
hoofpyne neem toe. Sy kan nie meer op die plaas behoorlik toesig
hou
nie.
Die verwysings is almal na Corbet en Buchanan en die
toekennings word in 2011 rand waarde weergegee soos deur die advokate
bereken:
Gewrig
(1)
WELLS et UXOR v SHIELD INSURANCE CO LTD
(1966) (K)
Corbett en Buchanan, Vol I, p 648
‘
n 62-jarige tikster het ‘n
fraktuur van die radius en ultra by haar regterpols gehad. Sy het
hoofpyne gekry. Sy kon nie vir
langer periodes tik nie – R89
000,00.
(2)
NYEZI v RONDALIA ASSURANCE CORPORATION OF SA
LTD
(1964) (N)
Corbett en Buchanan, Vol I, p 542
‘
n 49-jarige priester het
beserings aan sy femur en pols gehad. Daar was ‘n operasie om
‘n been uit die pols te haal
en twee operasies om die been te
herstel – R119 000,00.
Wat die gewrig betref, stel mnr Steenkamp ‘n
bedrag van R100 000,00 skadevergoeding voor.
Knie
Hier het mnr Steenkamp na vyf sake verwys.
(1)
VAN DEN BERG v MOTOR UNION INSURANCE CO LTD
(1953) (Ook-Kaap)
Corbett en Buchanan, Vol I, p 533
‘
n Vrou van 45 het veelvuldige
beserings opgedoen, naamlik gebreekte ribbes en ‘n beseerde
knie. Sy het voortdurende hoofpyn
– R105 000,00.
(2)
TITUS v ROAD ACCIDENT FUND
2003 –
Arbitrasie
Corbett en Buchanan, Vol V, E 7 – 9
Knie-probleem, wat nie presies omskryf kon word nie. Hy
was permanent ongeskik om as brandweerman te werk – R125
000,00.
(3)
ZUNGU v AUTO PROTECTION INSURANCE CO LTD
(1963) (D)
Corbett en Buchanan, Vol I, p 459
‘
n 33-jarige polisiekonstabel
het sy tibia gebreek as gevolg waarna die knie onstabiel geword het.
Hy kon nie meer motor bestuur.
Knie het verstyf – R153 000.00.
Mnr Steenkamp het toegegee dat
ZUNGU
se
besering meer ernstig as eiseres s’n was.
(4)
FROST v SCOTTISH UNION AND NATIONAL INSURANCE
CO
(1952) (K)
Corbett en Buchanan, Vol I, p 455
‘
n 41-jarige man wat ‘n
werk gedoen het waar hy baie moes loop en staan, se knieskyf is
vergruis. Daar was ‘n operasie
om helfte van die knieskyf te
verwyder. Erge pyn. Dertig grade beperking van beweging – R155
000,00.
(5)
WITHAM v MARSHALL AND JACKSON
(1957)
(SR)
Corbett en Buchanan, Vol I, p 493
‘
n 40-jarige vrou wat vir
haarself gewerk het se tibia is gebreek. Daar was twee operasies.
Waarskynlik dat artritis sou volg. Waarskynlike
derde operasie. Haar
knie kon net 90º draai in plaas van die normale 140º - R238
000,00.
Wat die kniebesering betref, sê mnr Steenkamp dat
haar heup seer raak as gevolg van die oneweredige loopgang. Haar
hoofpyne
neem toe. Sy kan nie meer op die plaas behoorlik toesig hou
nie.
Mnr Steenkamp sê as mens die gewrig- en
kniebeserings saamneem, behoort ‘n toekenning van R200 000,00
tot R250 000,00
gemaak te word.
[25] In sy betoog voer mnr Coetzer, vir die verweerder,
aan dat eis vir verlies van inkomste afgewys moet word. Wat die eis
vir
algemene skadevergoeding betref, sê mnr Coetzer dat mens
hier met veelvuldige beserings te doen het en jy nie die bedrae vir
die knie en pols eenvoudig kan bymekaar tel nie, met verwysing na
MDUNGE v MULTILATERAL MOTOR VEHICLE ACCIDENTS FUND
(1998) (N)
Corbett en Buchanan, Vol IV, J2 – 145, te 148 –
149
Mnr Coetzer verwys na onder meer die sake in Vol V van
Corbett en Buchanan wat handel met veelvuldige beserings. Dit lyk of
mnr
Coetzer eenvoudig op die indeks van die sake oor “multiple
injuries” in Vol V, by Afdeling J afgegaan het en die sake
wat
naastenby relevant was, gesien het. Dit is nie sinvol om na al die
sake te verwys wat Mnr Coetzer genoem het nie.
[26] Mens soek by die bepaling van quantum vergelykbare
sake. Soos mnr Steenkamp aantoon, is in hierdie geval die besering
van die
pols en die knie onafhanklik. Elk het sy eie gevolge. Die
eindresultaat van die twee beserings, omdat albei aan die regterkant
is, maak beide se gevolge erger, omdat die regterhand nou nie die
regterbeen kan help nie en die regterbeen kan nie die regterhand
help
nie. In hierdie geval is dit sinvol om die erns van elke besering te
bepaal en dan gesamentlik te beoordeel. Na my mening
moet R100 000,00
vir die pols toegelaat word. Die skade aan die knie skep ‘n
groot beperking vir eiseres, want boerdery is
al werk wat sy ken. Ek
meen die gevalle van
ZUNGU
en
FROST
,
waarna hierbo na verwys is, is vergelykbaar. Mens moet in gedagte hou
dat die hoofpyne erger word; ‘n knievervanging wag
vir eiseres.
Haar bewering is reeds erg belemmer en haar pyn word erger. Ek sou
gemeen het R150 000,00 vir die knie is nie buitensporig
nie, en omdat
mens die twee beserings saam moet beoordeel, sou ek 10% aftrek van
die totaal wat die bedrag dan op R225 000,00 te
staan sou bring.
[27] Wat die eis vir verlies aan inkomste betref, gee
mnr Coetzer toe dat eiseres se grondslag om die eis te bereken op die
basis
van ‘n addisionele werker, korrek is in die
omstandighede. Hy sê egter, met verwysing na
Law of Third
Party Compensation
deur H B Klopper (2000) op 188 – 189
dat, voordat ‘n eis vir ‘n vervangende werker toegelaat
kan word, is een
van die vereistes dat eiseres moet aantoon dat voor
die ongeval, was haar besigheid lewensvatbaar. (Klopper gebruik die
woord “viable”.)
Klopper verwys na ‘n beslissing,
waar daar ‘n oortrokke rekening by ‘n plaas was wat besig
was om toe te neem.
“
The records showed that there was no
prospect of the farm earning a sufficient income to contribute
materially to the cost of servicing
the bond.” (Klopper, bl
189, Voetnoot 316)
[28] In die huidige geval steun mnr Coetzer op die
jaarstate van eiseres se plaas waarna Dr Van Jaarsveld verwys,
waarvolgens eiseres
se plaas in 2005 ‘n netto verlies van R267
923,00 en in 2006 ‘n netto verlies van R180 328,00 getoon het.
Die state
is nooit aan eiseres getoon vir kommentaar tydens
kruisondervraging nie en die state is nie voor die hof geplaas nie.
Die eiseres
was ‘n eerlike en reguit getuie wat nie probeer
aandik het nie en geen kritiek is teen haar geopper deur mnr Coetzer
nie.
Die eiseres se getuienis was dat sy na 2003 groot en duur
kapitaalbeleggings op die plaas aangebring het, met verwysing na die
installering van spilpunte, wat ‘n baie lang leeftyd sal hê.
Haar getuienis was ook dat sy ‘n BMW X3 voertuig
en ‘n
bakkie gekoop het op huurkoop, wat nou beide afbetaal is. Sy het
getuig – onbetwis – dat sy besig was om
haar skulde af te
betaal.
[29] Met sulke getuienis kan nie betoog word dat die
plaas nie lewensvatbaar was nie. Die state sal die lenings aantoon.
Die feit
dat daar ‘n netto verlies getoon word (wat trouens
gekrimp het van 2005 tot 2006) dui nie daarop dat die besigheid nie
lewensvatbaar
was nie.
[30] Die eiseres se eis om ‘n addisionele werker
aan te stel, ondervang tot ‘n mate haar ingeperkte vermoëns
en
moet toegelaat word op die basis soos bereken deur mnr Morris.
Daar is geen gronde om met die gebeurlikhede in te meng nie. Dit
lyk
of die eiseres se toenemende hoofpyne en 100% kans op ‘n
knievervanging, in die nie so verre toekoms daartoe sal lei
dat die
eiseres se posisie eerder sal agteruitgaan as beter word. Daar is op
die getuienis nie rede om te glo dat haar toestand
sal verbeter nie.
[31] Die laaste aspek waaraan aandag gegee moet word, is
mnr Steenkamp se betoog dat eiseres vergoed moet word vir die feit
dat
sy nie meer kan toesig hou soos voorheen nie. Hy sê hierdie
verlies is nie deel van haar algemene skadevergoeding vir pyn
en
lyding nie en vorm ook nie deel van die eis vir die koste van ‘n
addisionele werker nie.
[32] Die beginpunt van mnr Steenkamp
se betoog oor die eis vir verlies aan inkomste is
PRESIDENT
INSURANCE CO LTD v MATHEWS
(
supra)
,
waar ‘n 57-jarige boer as gevolg van ‘n botsing toegelaat
is om ‘n bykomende werker in diens te kan neem. Die
Appèlhof
sê dat betoog sou kon word dat eiser beter daaraan toe was
omdat daar nou ‘n bykomende werker was,
maar vind dan op die
getuienis dit nie so was nie. Eweneens in die huidige saak is dit
onbetwis dat die eiseres nou minder kan
werk en minder kan toesig
hou. Sy kry ‘n bykomende werker, wat die werklas vir al die
werkers minder maak en wat ook tot
gevolg behoort te hê dat
daar minder toesighouding nodig sal wees, omdat daar meer werkers is
wat meer werk kan doen. Die
ekstra werk wat ses in plaas van vyf
werkers doen, maak op vir die verlies aan toesighouvermoë van
die eiseres. Daar is geen
basis vir ‘n verdere vergroting van
die eis vir verlies aan toekomstige inkomste nie. Dit is reeds
verreken in die aanstelling
van ‘n bykomende werker.
[33]
BEVEL
1. Die verweerder sal ‘n sertifikaat uitreik
ingevolge artikel 17(4)(a) van die Padongelukkefondswet 56 van 1996
vir haar
toekomstige mediese- en hospitaaluitgawes.
2. Die verweerder moet eiseres betaal vir reeds gelede
mediese uitgawes – R23 163,69.
3. Die verweerder moet eiseres betaal as volg:
3.1 Algemene skadevergoeding van R225 000,00.
3.2 Afgelope verlies aan afgelope inkomste – R51
043,00.
3.3 Toekomstige verlies aan inkomste – R86 485,00.
4. Die verweerder word gelas om die koste van die geding
te betaal.
____________
KRUGER, R
Namens eiseres: Adv. M. D. J. Steenkamp
In opdrag van:
Wessels & Smith
BLOEMFONTEIN
Namens verweerder: Adv. J. C. Coetzer
In opdrag van:
Matsepe Prokureurs
BLOEMFONTEIN
sp/em