Melck and Ander v S (A191/2011) [2011] ZAFSHC 146 (8 September 2011)

60 Reportability
Criminal Law

Brief Summary

Criminal Law — Murder and Attempted Murder — Appellants convicted of murder and attempted murder — Appellants pleaded not guilty — Evidence presented included testimonies from state witnesses and the appellants themselves — Appellant 1 acquitted of attempted murder, found guilty of murder; Appellant 2 found guilty of attempted murder and assault with intent to cause grievous bodily harm — Appellants appealed against convictions and sentences — Court considered the credibility of witnesses and the evidence presented — Convictions upheld as evidence supported findings of guilt beyond reasonable doubt.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2011
>>
[2011] ZAFSHC 146
|

|

Melck and Ander v S (A191/2011) [2011] ZAFSHC 146 (8 September 2011)

VRYSTAATSE
HOË HOF, BLOEMFONTEIN
REPUBLIEK
VAN SUID-AFRIKA
Appèl Nr. : A191/2011
In
die appèl tussen:-
DANIëL MELCK
................................................................
1ste
Appellant
STANLEY
VAALBANK
......................................................
2de
Appellant
en
DIE
STAAT
...........................................................................
Respondent
_____________________________________________________
CORAM:
EBRAHIM, R
et
VAN DER MERWE,
R
et
JORDAAN, R
_____________________________________________________
AANGEHOOR OP:
20 JUNIE 2011
_____________________________________________________
UITSPRAAK DEUR:
JORDAAN, R
_____________________________________________________
GELEWER OP:
8 SEPTEMBER 2011
_____________________________________________________
[1] Die appellante is aanvanklik saam met drie ander
mede-beskuldigdes aangekla van verskeie misdade. Die huidige
appellante het
figureer as beskuldigdes 1 en 2 onderskeidelik tydens
die verhoor.
[2] By die aanvang van die verhoor is die aanklagte teen
beskuldigde nommer 5 teruggetrek en het dit geblyk dat beskuldigdes
nommers
3 en 4 reeds oorlede was. Die verhoor het slegs voortgegaan
ten opsigte van appellante nommers 1 en 2 en ook slegs ten opsigte
van twee aanklagte synde:
Aanklag 3: Poging tot moord
Aanklag 4: Moord.
[3] Beide appellante het onskuldig gepleit en was
regsverteenwoordig tydens die verhoor. Nadat die staatsgetuies getuig
het het
beide appellante self getuienis afgelê en is daar ook
twee getuies namens appellant nommer 2 geroep, synde ene Scheepers en

ene Mcharleys. Laasgenoemde getuie het slegs ten opsigte van sekere
voorafgaande gebeure getuig en is sy getuienis nie werklik
relevant
by beoordeling van die saak nie.
[4] Ten opsigte van aanklag 3 is appellant nommer 1
onskuldig bevind terwyl appellant nommer 2 skuldig bevind is, soos
aangekla,
dit wil sê aan poging tot moord. Wat aanklag 4 betref
is appellant nommer 1 skuldig bevind soos aangekla aan moord terwyl

appellant nommer 2 skuldig bevind is aan aanranding met die opset om
ernstig te beseer. Appellant nommer 1 is ten opsigte van die
moord
gevonnis tot 15 jaar gevangenisstraf en appellant nommer 2 is ten
opsigte van die aanklag, poging tot moord, gevonnis tot
6 jaar
gevangenisstraf en ten opsigte van die aanranding met die opset om
ernstig te beseer tot 2 jaar gevangenisstraf waarvan
12 maande
samelopend uitgedien moes word met die vonnis op aanklag 3 (poging
tot moord). Beide appellante kom in hoër beroep
teen hul
skuldigbevindings en vonnisse met verlof van die hof
a quo
.
[5] Die getuienis van die verskillende getuies,
insluitende die van die appellante, is in die uitspraak van die
verhoorhof volledig
behandel en ontleed. Ek is nie van voorneme om
dit hierin op te som of te herhaal nie. Dit dien vermeld te word dat
appellant nommer
1 geen pleitverduideliking gegee het nie terwyl daar
wel ‘n pleitverduideliking namens appellant nommer 2 gegee is.
Beide
appellante het sekere erkennings gemaak in terme van artikel
220 van die Strafproseswet waarna later verwys sal word in soverre

dit relevant is tot beslissing van die aangeleentheid.
[6] Die breë agtergrond wat aanleiding gegee het
tot voormelde skuldigbevindings is die volgende:
Op die 8ste September 1997 was die twee appellante besig
om te kuier by ‘n sekere drinkplek. Op ‘n stadium het die
getuie
Mcharley (ook bekend as Tossie) daar opgedaag en was hy
klaarblyklik verwond. Volgens sy mededeling is hy deur Frans Tony
Alexander
(hierna genoem die oorledene) met ‘n mes gesteek
tydens ‘n onderonsie. Appellant nommer 2 het daarop gereël
dat
Tossie vir mediese behandeling geneem word deur ‘n vriend
en, aangesien die oorledene aan die appellante bekend was en
klaarblyklik
bevriend was met die appellante, besluit om te gaan
uitvind wat gebeur het. Hulle is met die voertuig van appellant
nommer 1 en
deur laasgenoemde bestuur na die omgewing van Dalystraat
45, waar appellant nommer 2 se Venture voertuig geparkeer was.
Appellant
nommer 1 het naby die Venture voertuig stilgehou waarop
appellant nommer 2 uit die voertuig geklim het en die oorledene, wat
in
die omgewing was, gaan konfronteer het. Die oorledene was met ‘n
mes gewapen, klaarblyklik aggressief en onder die invloed
van drank.
Appellant nommer 2 was gewapen met ‘n .38 rewolwer en het onder
andere ‘n aantal skote in die rigting van
die onderlyf van die
oorledene afgevuur. Die oorledene het, gewapen met die mes, steeds
dreigend na die 2de appellant gekom as
gevolg waarvan laasgenoemde
terug is na die voertuig van die 1ste appellant, daarin gespring het
en die oorledene probeer het om
aan die voertuig vas te klou terwyl
dit wegtrek. Dit is gemene saak dat die oorledene toe sy greep
verloor het en klaarblyklik
geval het. Volgens die staatsgetuie,
Jordaan asook appellant nommer 1 het appellant nommer 1 weer met die
voertuig tot stilstand
gekom, ‘n entjie vanaf die punt waar dit
weggetrek het en het appellant nommer 2 weer uit die voertuig geklim
waarop die
oorledene weggehardloop het na ‘n sypaadjie, waar
appellant nommer 2 verdere skote op die oorledene gevuur het. Hierdie
tweede
geleentheid van die afvuur van skote op die oorledene is deur
appellant nommer 2 ontken en ook nie gestaaf deur die getuienis van

die getuie Scheepers, namens die 2de appellant nie. Op ‘n
stadium gedurende hierdie proses het ene Neusie (voorheen beskuldigde

3) by die appellante aangesluit en agter op die bakkie van appellant
nommer 1 gespring en is toe saam met die appellante met die
voertuig
daar weg. ‘n Ent verder het gesegde Neusie aangedui dat hy wou
afklim en het hy, vergesel van appellant nommer 2,
te voet verder
beweeg. Dit blyk dat hulle twee klaarblyklik daarvandaan gestap het
na die woning van die oorledene geleë te
Dalystraat 32 waar die
verdere voorval, wat aanleiding gegee het tot die moordklagte,
plaasgevind het. Appellant nommer 1 het aangery
en weer by ‘n
drinkplek gaan kuier. Alhoewel hy geen afspraak gehad het om weer die
ander twee te ontmoet nie het hy op ‘n
stadium besluit om na
hulle te gaan soek. Op ‘n stadium het hy getuig dat hy eintlik
oppad was na sy huis en nie spesifiek
oppad was om die twee, naamlik
appellant nommer 2 en Neusie te gaan soek nie. Terwyl hy ry het hy sy
susterskind, Gloria, wie in
‘n verhouding met Neusie betrokke
was, langs die pad ontmoet en as gevolg van sekere mededelings wat sy
aan hom gemaak het
het hy besluit om na die woning van die oorledene
te Dalystraat 32 te gaan. Dit was ongeveer ‘n half uur na die
eerste voorval.
[7] Dit blyk uit die getuienis dat, alvorens appellant
nommer 1 by die oorledene se huis opgedaag het, daar by die betrokke
huis
weer ‘n geveg tussen die oorledene, appellant nommer 2 en
Neusie plaasgevind het waarby moontlik nog ander persone ook betrokke

was. Tydens hierdie geveg was die oorledene na bewering steeds met ‘n
mes bewapen en het Neusie en appellant nommer 2 met
die oorledene
handgemeen geraak. Neusie het ‘n voorwerp vergelykbaar met ‘n
sabel gehad waarmee hy die oorledene oor
die kop en nek geslaan het.
Op ‘n stadium tydens hierdie struweling het een van die
omstanders ‘n bofbalkolf in die
rigting van appellant nommer 2
gegooi en het laasgenoemde die gesegde kolf gebruik om die oorledene
twee harde houe op die lyf
toe te dien. Weens hierdie geveg was die
oorledene bebloed. Dit blyk uit die getuienis dat daar verskeie
omstanders was toe die
betrokke geveg plaasgevind het. Op die stadium
wat appellant nommer 1 by die toneel opgedaag het was appellant
nommer 2 en Neusie
oppad om die perseel te verlaat en in die omgewing
van die hekkie wat lei na die sypaadjie, uit die erf van die
oorledene. Appellant
nommer 1, ook gewapen met ‘n .38 special
rewolwer, het skote op die oorledene afgevuur, volgens hom omdat hy
bevrees was
dat die oorledene vir appellant nommer 2 en Neusie verder
sou beseer. Die oorledene is dood as gevolg van die gesamentlike
effek
van die kop en nek wonde deur Neusie toegedien en die verskeie
skietwonde op die laer liggaam van die oorledene wat hipovolemiese

skok tot gevolg gehad het.
[8] Namens die appellante is aangevoer dat die
verhoorhof fouteer het in sy beoordeling van die getuies en sy
geloofwaardigheidsbevindings.
In die besonder is aangevoer dat die
verhoorhof in ‘n mate verblind was deur die stof van die arena
aangesien dit uit die
oorkonde blyk dat die verhoorhof tot ‘n
mate van tyd tot tyd tot ‘n onbehoorlike mate (aldus die
argument) met die
voer van die verhoor ingemeng het en vrae gevra het
wat neerkom op onbehoorlike kruisverhoor vanaf die regbank. Mnr Nel
namens
appellant nommer 1 het egter uitdruklik nie aangevoer dat die
optrede van die verhoorhof tot gevolg het dat die appellante nie ‘n

regverdige verhoor gehad het nie maar hoogstens aangevoer dat die
geloofwaardigheidsbevindings van die verhoorhof daardeur besoedel
is
en in twyfel getrek behoort te word. Die kritiek op die optrede van
die verhoorhof is nie totaal ongegrond nie. Die vraag is
egter of die
bevindinge van die verhoorhof, inagnemende voormelde kritiek, fouteer
kan word. Uit die uitspraak blyk dit dat die
verhoorhof uiters
versigtig was in die beoordeling van die getuienis en inderdaad sy
bevindings hoofsaaklik gebasseer het op die
getuienis van die
appellante as sulks en soos aangevul of gestaaf deur ander aanvaarde
getuienis. Ek sal hiermee handel wanneer
die posisie van die
onderskeie appellante oorweeg word.
[9] Weens die kronologiese verloop van gebeure is dit
aangewese om eers die posisie van appellant nommer 2 te behandel. Wat
aanklag
3, poging tot moord aanbetref het Mnr Pretorius wat namens
appellant nommer 2 verskyn het tereg toegegee dat, indien die
verhoorhof
korrek was in sy bevinding dat appellant nommer 2 ‘n
tweede keer uit die voertuig geklim en op die oorledene gevuur het,
hy korrek skuldig bevind is. Hy het egter aangevoer dat die
verhoorhof nie voldoende gewig verleen het aan die getuienis van die

getuie Scheepers wat nie so ‘n tweede voorval gesien het of
waargeneem het nie. Sy getuienis staaf natuurlik dan die ontkenning

van die tweede appellant dat hy ‘n tweede keer op die oorledene
gevuur het. Ten opsigte hiervan het die verhoorhof die getuienis
van
die getuie Jordaan aanvaar soos gestaaf deur die getuienis van die
eerste appellant naamlik dat die tweede appellant ‘n
tweede
keer uit die voertuig geklim en op die oorledene gevuur het. In
hierdie verband is die erkenning namens appellant nommer
2 van
wesenlike belang. Dit is naamlik deur hom erken dat die polisie na
die voorval sy vuurwapen ondersoek het en in die vuurwapen
drie
lewendige rondtes en twee afgevuurde doppies gevind het. Dit is
gemene saak dat appellant nommer 2 se rewolwer slegs 5 lewendige

rondtes in die magasyn kan huisves. Volgens sy eie getuienis het
appellant nommer 2 drie skote afgevuur wat natuurlik nie versoenbaar

is met die feit dat daar drie lewendige en twee afgevuurde doppies in
die rewolwer gevind is na die tyd nie. Volgens die getuienis
van
beide Scheepers en Jordaan het die betrokke appellant gedurende die
eerste afvuur van skote ten minste vyf skote afgevuur.
Dit bring mee
dat daar, tensy die vuurwapen herlaai is, geen lewendige rondtes
daarin gevind sou word na die tyd nie. Die afleiding
is derhalwe
onvermydelik dat tweede appellant op ‘n stadium die vuurwapen
oopgemaak, ontlaai en herlaai het alvorens die
polisie die vuurwapen
ondersoek het. Dit is nie sy getuienis nie, en is dit verder op die
geheel van die getuienis duidelik dat
daar tydens die afvuur van die
eerste vyf skote nie ‘n geleentheid vir die tweede appellant
was om sy vuurwapen te herlaai
nie. Die enigste geleentheid wat daar
was om dit te doen sou wees toe hy terug in die voertuig van eerste
appellant geklim het
en alvorens hy weer uitgeklim het en weer eens
op die oorledene geskiet het.
[10] Dit is voorts duidelik dat die tweede appellant
daarop uit was om konfrontasie met die oorledene te ontlok. Volgens
sy eie
weergawe het die afvuur van skote na die oorledene geen effek
op laasgenoemde gehad nie maar het die tweede appellant nogtans
daarin
geslaag om die beweerde aggressie van die oorledene te ontduik
deur bloot terug te hardloop na die voertuig en daar in te spring.

Dit kon hy uit die staanspoor gedoen het sonder die nodigheid van die
afvuur van die vuurwapen op die oorledene. Selfs al het hy
na die
onderlyf van die oorledene gemik is dit uit sy eie getuienis duidelik
dat hy besef het dat hy die oorledene noodlottig kon
wond indien hy
so optree en het hy hom daarmee versoen. Waar hy kon ontvlug was die
afvuur van die skote nie in die omstandighede
geregverdig nie. Nie
alleen was daar ander omstanders in die persone van Jordaan en
Scheepers wat hulp kon verleen teen ‘n
dreigende aanval van die
oorledene nie maar was die eerste appellant ook beskikbaar om
sodanige hulp te verleen. Dit blyk verder
dat die derde beskuldigde,
Neusie, kans gesien het om die oorledene om sy lyf te gryp en om hom
onder bedwang te probeer bring.
[11] Ek is nie oortuig dat die verhoorhof fourteer het
deur te bevind dat die tweede appellant op ‘n stadium weer uit
die
voertuig geklim en op die oorledene gevuur het nie. Op daardie
basis is hy onteenseglik skuldig aan poging tot moord soos aangekla.

Selfs indien die verhoorhof in hierdie opsig sou fouteer het, waarvan
ek nie oortuig is nie, blyk dit uit die voormelde dat die
appellant
in die omstandighede hoegenaamd nie nodig gehad het om op die
oorledene te vuur nie. Hy is na die oorledene, gewapen
met sy
vuurwapen, wat hy volgens beide Scheepers en Jordaan in sy hand gedra
het, hy het konfrontasie gaan soek en het bo redelike
twyfel op die
oorledene gevuur nie met die bedoeling om ‘n aanval van die
oorledene af te weer nie maar ten einde die oorledene
te verwond,
welke verwonding voorsienbaar tot die dood van die oorledene sou kon
lei. Hy is derhalwe tereg skuldig bevind op aanklag
3.
[12] Wat aanklag 4 betref is appellant nommer 2 soos
voormeld skuldig bevind aan aanranding met die opset om ernstig te
beseer.
Dit is duidelik dat die appellant, vergesel van Neusie, weer
eens die oorledene gaan konfronteer het nadat hy pas ‘n halfuur

gelede gepoog het om die oorledene te dood. Hy het geweet dat die
oorledene aggressief is en het geweet dat ‘n verdere
konfrontasie
met die oorledene tot verdere geweld sou lei. Nie alleen
het hy kort tevore op die oorledene gevuur nie maar in alle
waarskynlikheid
ten minste een wond aan die oorledene toegedien
tydens die skietery. Hy het weer eens gaan konfrontasie soek, wetende
dat die oorledene
gewapen is en wetende dat die oorledene hom
waarskynlik weer sou aanval. Hy kon die hele situasie vermy het deur
bloot weg te bly
van die oorledene totdat dinge kalmeer het. Eweneens
was hy nie alleen vergesel van Neusie nie, maar blyk dit uit die
getuienis
dat daar ander omstanders was wat tot hulp kon kom indien
daar ‘n aanval deur die oorledene op hom sou wees. Myns insiens

het die verhoorhof tereg bevind dat die tweede appellant hom nie kan
beroep op noodweer waar hy self die konfrontasie gaan soek
het in die
voormelde omstandighede nie. Ook ten opsigte van hierdie klag is ek
van mening dat hy tereg skuldig bevind is soos voormeld.
[13] Wat die posisie van appellant nommer 1 aanbetref is
namens hom aangevoer dat hy op die minste opgetree het in ‘n
putatiewe
noodtoestand ten einde ‘n moontlike aanval op
appellant nommer 2 en Neusie af te weer. Dit is ook aanvoer dat die
hof na
sy subjektiewe beoordeling van die omstandighede moet let en
nie die omstandighede asof uit ‘n leunstoel moet benader nie.

Dit is betoog dat die eerste appellant veral bekommerd was oor die
veiligheid van Neusie wat in ‘n verhouding met die appellant
se
susterskind betrokke was. Laasgenoemde submissie strook natuurlik nie
met die getuienis van die eerste appellant homself, tot
die effek dat
hy bekommerd was oor beide die tweede appellant en Neusie se
veiligheid nie. Eerste appellant se verduideliking waarom
hy na
Neusie en tweede appellant gaan soek het was onoortuigend. Hulle het
geen afspraak gehad om mekaar weer te ontmoet nie en
voorts is sy
verduideliking hieromtrent teenstrydig. Op een stadium meld hy dat hy
weg is om na hulle te gaan soek terwyl hy op
‘n ander stadium
meld was dat hy oppad was na sy huis toe hy sy susterskind Gloria
raakgeloop het.
[14] Appellant nommer 1 se optrede moet beoordeel word
aan die hand van die breë agtergrond van die feitelike
omstandighede
wat op die betrokke dag geheers het. Tydens die eerste
voorval waar appellant nommer 2 op die oorledene geskiet het in die
omgewing
van Dalystraat 45 het appellant nommer 1 bloot in sy
voertuig bly sit nieteenstaande die getuienis dat die oorledene
gewapen met
‘n mes die tweede appellant bedreig het. Hy het dit
nie toe nodig geag om ter verdediging van tweede appellant enige
handeling
te verrig nie. Soos reeds vermeld is sy verduideliking van
die rede waarom hy na die oorledene se huis is verdag. Op sy eie
weergawe
het hy die oomblik toe hy by die oorledene se huis aankom,
opgemerk dat die oorledene op die stoepie staan en bebloed is.
Welliswaar
het die oorledene nog ‘n mes in sy hand gehad.
Volgens hom was appellant nommer twee en Neusie reeds besig om die
erf te
verlaat en in die omgewing van die hekkie ten einde so te
doen. Appellant nommer twee en Neusie was tussen hom en die oorledene

en hulle het derhalwe sy weg versper. Dit spreek vanself dat hy nie
op daardie stadium summier op die oorledene kon vuur sonder
om te
sorg dat Neusie en appellant nommer 2 uit die pad is nie. Die
waarskynlikhede is sterk dat appellant nommer 2 korrek is in
sy
getuienis tot die effek dat appellant nommer 1 hulle gelas het om uit
die pad te kom, juis klaarblyklik met die doel om ‘n
oop teiken
na die oorledene te hê. Behalwe appellant nommer 2 en Neusie
was daar verskeie ander omstanders en was dit nie
nodig om die
oorledene te skiet ten einde Neuse en appellant nommer 2 te beskerm
nie. Sy skielike besorgdheid strook nie met sy
optrede tydens die
eerste geleentheid soos voormeld, waar appellant nommer 2 en die
oorledene in ‘n onderonsie was nie. Die
aantal skote wat hy na
bewering afgevuur het strook ook nie met die waarskynlikhede nie. Op
die getuienis het appellant nommer
2 hoogstens die oorledene een
skoot in die been raakgeskiet. Dit blyk dat die oorledene vyf skote
in sy liggaam gehad het en, volgens
appellant nommer 1, het hy een
skoot in lug afgevuur en slegs twee skote op die oorledene afgevuur.
Dit blyk verder uit die getuienis
dat daar nog ‘n skoot teen
die muur by die venster van die betrokke huis sigbaar was. Wat meer
is, die appellant se getuienis
tot die effek dat die oorledene op die
toneel gestaan het met ‘n mes in sy hand is teenstrydig met die
stelling wat namens
hom gemaak is aan Me Visagie tot die effek dat
die oorledene by sy aankoms gesit/lê het alvorens hy opgestaan
het. Appellant
nommer 2 en Neusie was tevrede dat hulle die toneel
kan verlaat sonder gevaar is daar geen goeie rede waarom appellant
nommer 1
anders sou moes oordeel nie. Uit die getuienis blyk dit dat
appellant nommer 2 hoegenaamd nie sy vuurwapen gebruik het by die
woning
van die oorledene nie. Tog word daar op die toneel een
lewendige rondte en een afgevuurde doppie gevind ongeveer 9 meter van
die
posisie waarin appellant nommer 1 hom bevind het toe hy die skote
afgevuur het. Soos blyk uit bewysstuk “E” is die huis
van
die oorledene waar die skote deur appellant nommer 1 afgevuur is
ongeveer 1,9 kilometer vanaf die toneel waar die eerste voorval

tussen die oorledene en appellant nommer 2 plaasgevind het. Die
afleiding is bykans onvermydelik dat appellant nommer 1 op die
toneel
van die oorledene se huis ook waarskynlik sy vuurwapen herlaai het.
Daar is geen ander redelike verduideliking van waar
die betrokke
bewysstukke hul oorsprong sou vind nie. Ek is oortuig dat die
verhoorhof korrek was in sy bevinding dat appellant
nommer 1 by die
betrokke toneel op die oorledene gevuur het sonder enige regverdiging
en met die bedoeling om hom te dood, ten
minste by wyse van
moontlikheidbewussyn. Hy is derhalwe terreg skuldig bevind soos
aangekla.
[15] Wat die opgelegde vonnisse betref dien dit vermeld
te word dat die misdrywe gepleeg is voordat die bepalings van Wet 105
van
1997 in werking getree het. Die hof was derhalwe nie gebonde aan
enige voorgeskrewe minimum vonnisse wat betref die moordklag nie.
[16] In die oplegging van vonnis het die verhoorhof op
versigtige en ewewigtige wyse die persoonlike omstandighede van die
appellante,
die belang van die gemeenskap en die erns van die
misdrywe in ag geneem. Ek is nie van mening dat die verhoorhof hom in
enige opsig
ten opsigte van die oplegging van vonnis wanvoorgelig het
nie. Die enigste oorblywende vraag is die vraag of die vonnisse in al

die omstandighede aangemerk kan word as skokkend hoog en onvanpas tot
die mate wat hierdie hof daarmee moet en behoort in te meng.
Ek is
nie van mening dat enige van die opgelegde vonnisse ten opsigte van
appellant nommers 1 of 2 sodanig swaar of onvanpas is
dat inmenging
deur hierdie hof geregverdig is nie.
[17] Bygevolg word die appèl van beide appellante
teen skuldigbevinding en vonnis afgewys.
_______________
A.F. JORDAAN, R
Ek
stem saam.
_______________
S. EBRAHIM, R
Ek
stem saam.
__________________
VAN DER MERWE, R
Namens
die appellant
No.
1: Adv. J. Nel
In
opdrag van:
Mphafi
Khang Ing.
BLOEMFONTEIN
Namens
die appellant
No.
2: Mnr. K. Pretorius
In
opdrag van:
Regshulpraad
BLOEMFONTEIN
Namens
die respondent: Adv. A. Bester
In
opdrag van:
Die
Direkteur van Openbare
Vervolgings
BLOEMFONTEIN
/eb