About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2011
>>
[2011] ZAFSHC 139
|
|
Molehe v S (A68/2010) [2011] ZAFSHC 139 (31 August 2011)
VRYSTAAT
HOË HOF, BLOEMFONTEIN
REPUBLIEK
VAN SUID-AFRIKA
Appélnommer :
A68/2010
In
die appél tussen:-
MMOHLOMI JOSEPH
MOLEHE
..............................................
Appellant
en
DIE STAAT
...........................................................................
Respondent
CORAM:
VAN
ZYL, R
et
CLAASEN, WND R
_____________________________________________________
UITSPRAAK DEUR:
VAN ZYL, R
_____________________________________________________
GELEWER OP:
31 AUGUSTUS 2011
_____________________________________________________
[1] Appellant het
tereggestaan op ‘n aanklag van verkragting deurdat dit beweer
is dat hy op of omtrent 6 September 2003 te
Bloemfontein die
13-jarige klaagster verkrag het. Appellant het skuldig gepleit op die
ten laste gelegde misdryf en is dienooreenkomstig
skuldig bevind. Hy
is op 17 November 2009 tot 25 jaar gevangenisstraf gevonnis. Dit is
teen laasgenoemde vonnis wat appellant nou
met verlof van die
Verhoorhof teen hoër beroep kom.
[2] Dit blyk dat
appellant die aand van die voorval saam met vriende van hom gestap
het na ‘n familielid se huis toe hulle
langs die pad die
klaagster en van haar vriende teëgekom het. Die klaagster het
daarop appellant vergesel na die tersaaklike
familielid se huis,
waarna sy hom verder vergesel het na ‘n plaaslike taverne om
drank te gaan koop. Nadat die drank aangekoop
is, het hulle
teruggekeer na die huis van die familielid, waar appellant ‘n
groot hoeveelheid alkohol verbruik het tot ongeveer
23h00 daardie
aand. Appellant en die klaagster sou toe gaan slaap, maar het
appellant haar beveel om haar klere uit te trek, het
hy bo-op haar
geklim en haar seksueel begin penetreer. Sy het hom versoek om van
haar af te klim, aangesien hy swaar was en ook
teenoor hom aangedui
dat hy haar seermaak. Ten spyte van haar versoeke, het hy voortgegaan
en geslagsgemeenskap met haar gehad
teen haar sin. Daarna het hulle
geslaap en die volgende oggend het klaagster teenoor hom aangedui dat
wat hy gedoen het verkeerd
was, waarna sy die huis verlaat het.
[3] Wat die opgelegde
vonnis betref, was daar deur die verdediging ‘n
voorvonnisverslag verkry, welke by ooreenkoms tussen
die Staat en die
verdediging ingehandig is as Bewysstuk “C”. Verdermeer
het appellant ook self onder eed ter strafversagting
getuig.
[4] Vanweë die feit
dat appellant skuldig bevind is aan die verkragting van ‘n
klaagster onder die ouderdom van 16 jaar,
is die voorgeskrewe minimum
vonnis in terme van die Strafreg Wysigingswet, Wet 105 van 1997,
lewenslange gevangenisstraf. Die Verhoorlanddros
het egter (tereg)
bevind dat daar wesenlike en dwingende omstandighede bestaan wat die
oplegging van ‘n mindere vonnis dan
die voorgeskrewe minimum
regverdig en noodsaak. In die verband en ten spyte daarvan dat die
Verhoorlanddros in haar uitspraak na
veelvuldige faktore verwys het
wat gebruiklikerwys as versagtende faktore in aanmerking geneem
behoort te word en ook oorweeg behoort
te word as potensieel
wesenlike en dwingende omstandighede, blyk dit dat die
Verhoorlanddros slegs die ouderdom van die appellant
ten tyde van die
pleging van die misdryf en die feit dat hy ‘n eerste oortreder
is, geag het wesenlike en dwingende omstandighede
daar te stel wat
die oplegging van ‘n mindere vonnis regverdig. Sien oorkonde,
p. 38, reëls 15 – 18.
[5] Dit blyk duidelik uit
appellant se pleitverduideliking, welke deur die Staat aanvaar is,
dat hy erg onder die invloed van alkohol
verkeer het ten tyde van die
pleging van die misdryf. Hierdie feit is ook weer ten tyde van
appellant se getuienis ter strafversagting
herhaal. Nieteenstaande
die geykte beginsel dat wanneer ‘n persoon wat ‘n misdryf
pleeg onder die invloed van alkohol
was ten tyde van die pleging
daarvan, dit geag word dat sodanige persoon se inhibisies afgestomp
is en sy morele blaamwaardigheid
derhalwe verminder, het die
Verhoorlanddros bevind dat die feit dat appellant sodanig alkohol
gebruik het, geen verskoning (“excuse”)
daarstel nie en
dat appellant se gebruik van alkohol geen rol gespeel het in die
pleging van die misdryf nie. Sien oorkonde, p.
38, reëls 20 –
21 en p. 39, reëls 23 – 24. Die Verhoorlanddros se houding
in hierdie verband, stel na my
mening duidelik ‘n mistasting
daar, soos ook deur mnr. Van der Merwe, namens appellant, betoog.
Verdermeer blyk dit dat die
Verhoorlanddros die feit dat appellant
vir ses jaar as verhoorafwagtende in hegtenis verkeer het, nie as ‘n
versagtende faktor
in sy guns in ag geneem het nie. Inteendeel, sy
het appellant daarvoor verwyt op die basis dat sy van mening was dat
appellant
self vir die vertraging in die verband verantwoordelik was.
Ek stem ook in hierdie verband met mnr. Van der Merwe se betoog saam,
synde dat die Verhoorlanddros ‘n mistasting begaan het deur dit
nie ten gunste van appellant te verreken nie. Mnr Strauss,
namens die
Staat, het dan ook, heeltemal tereg, reeds in sy betoogshoofde
hierdie toegewing gemaak, welke toegewing hy ten tyde
van sy
mondelinge betoog herhaal het. Selfs ook die feit dat appellant
skuldig gepleit het, is op ‘n, met respek, onverstaanbare
wyse
deur die Verhoorlanddros afgemaak tot ‘n faktor wat in die
omstandighede van hierdie saak volgens haar nie ten gunste
van
appellant in aanmerking geneem kan word nie. Ook hierdie benadering
van die Verhoorlanddros stel na my mening ‘n mistasting
daar.
[6] Addisioneel tot
voormelde mistastings, moet dit vermeld word dat dit uit die
totaliteit van die uitspraak ten opsigte van vonnis
blyk dat die
Verhoorlanddros veelvuldige subjektiewe opmerkings en selfs
bevindings gemaak het waarvoor geen basis in die getuienis
bestaan
nie en wat in ieder geval totaal irrelevant is vir doeleindes van die
oorweging van ‘n gepaste vonnis.
[7] Buiten dat ek van
mening is dat die opgelegde vonnis skokkend swaar en onvanpas is,
soos ook deur mnr. Van der Merwe betoog,
is ek ook van oordeel dat
vanweë die faktore vermeld in die voorafgaande paragraaf, sowel
as die mistastings deur die Verhoorlanddros
begaan, hierdie Hof onder
die omstandighede geregtig is om opnuut te oorweeg wat ‘n
gepaste vonnis onder die omstandighede
daarstel.
[8] Wat die persoonlike
omstandighede van appellant betref, blyk dit dat hy 22 jaar oud was
ten tyde van die pleging van die misdryf
en dus nog relatief jonk
was. Appellant het twee minderjarige kinders, onderskeidelik 13 jaar
en 7 jaar oud, en was hy ten tyde
van die pleging van die misdryf
woonagtig saam met die moeder van een van hierdie kinders. Appellant
het skool verlaat gedurende
graad 9, welke hy aangedui het genoodsaak
was vanweë die feit dat sy ouers dit nie langer kon bekostig om
sy skooluitgawes
te betaal nie. Ten tyde van sy arrestasie was hy
werksaam as ‘n loodgieter-assistent en het hy R500-00 per week
verdien.
Dit blyk uit die voorvonnisverslag dat hy hierdie betrekking
vir ongeveer vier jaar beklee het en voor dit was hy ses jaar
werksaam
by ‘n ander werkgewer. Na my mening blyk dit gevolglik
dat appellant ‘n stabiele werksrekord gehad het. Appellant ly
ook aan `n ongeneeslike siekte waarvoor hy behandeling in die
gevangenis ontvang.
[9] Daar is ook verdere
versagtende faktore wat ten gunste van appellant in oorweging geneem
moet word. Appellant is vir doeleindes
van hierdie misdryf `n eerste
oortreder. Verdermeer, en soos ek reeds na verwys het, is dit
duidelik dat appellant erg onder die
invloed van alkohol verkeer het
ten tyde van die pleging van die misdryf. Verdermeer het hy van meet
af aan skuldig gepleit wat
aanduidend is daarvan dat hy
verantwoordelikheid neem vir sy wandaad. In sy pleitverduideliking
het hy ook aangedui dat hy berou
het oor sy optrede, welke aldus
aanvaar moet word, aangesien die Staat die pleit op daardie
feitebasis aanvaar het. Hierdie berou
het appellant in ieder geval
weer verwoord toe hy ter strafversagting onder eed getuig het. Wat
betref die feit dat appellant vir
ses jaar in hegtenis verkeer het as
verhoorafwagtende, moet na my mening, ten spyte van die omringende
omstandighede daartoe, beslis
ten gunste van appellant in oorweging
geneem word by die oorweging van `n gepaste vonnis, soos dan ook
betoog was deur beide mnr.
Van der Merwe en mnr. Strauss.
[10] Wat die aard en erns
van die misdryf betref, is dit onteenseglik ‘n baie ernstige
misdryf, veral gegewe die jeugdige
ouderdom van die klaagster. Sy was
weerloos teen appellant onder die omstandighede en dit blyk in
besonder ook uit die feit dat
die klaagster, toe appellant bo-op haar
gelê het gekla het dat appellant se gewig swaar op haar was.
Wat ook as strafverswaring
in ag geneem moet word, is die feit dat
dit uit appellant se getuienis ter strafversagting geblyk het dat die
klaagster inderdaad
aan hom bekend was, deurdat haar vader die
bestuurder was van die sokkerspan waarvoor appellant sokker gespeel
het en hy ook met
haar moeder bekend was. Hy het dus deeglik kennis
gedra dat die klaagster slegs ‘n jong meisie is teenoor wie hy
in effek,
vanweë sy verbintenis met haar ouers en sy bekendheid
aan haar, in ‘n vertrouensverhouding gestaan het.
Terselfdertyd is hierdie
egter nie een van die mees gewelddadige verkragtings soos wat in
sommige gevalle in hierdie Hof voorkom
nie. Daar is geen getuienis
dat die klaagster ernstige fisiese beserings of permanente emosionele
letsels opgedoen het nie.
[11] Dit is geyk dat by
geweldsmisdrywe soos hierdie die gemeenskapsbelang sterk na vore
tree. Hoewel alle faktore van toepassing
by vonnisoplegging behoorlik
oorweeg moet word, moet die tersaaklike vonnis derhalwe in belang van
die gemeenskap ook die nodige
elemente van afskrikking en vergelding
openbaar.
[12] Wanneer al die
voormelde feite en faktore op ‘n ewewigtige wyse in oorweging
geneem word, is ek oortuig dat die opgelegde
vonnis tersyde gestel
moet word deurdat dit skokkend swaar en onvanpas is. Hoewel
langtermyn gevangenisstraf beslis ‘n gepaste
vonnis in die
omstandighede van hierdie saak is, meen ek dat ‘n termyn van 15
jaar gevangenisstraf ‘n gepaste vonnis
is. Sien
S v
Watson
, ongerapporteerde beslissing van Jordaan, R en Kruger,
R, Saaknommer A267/2009, gelewer op 19 April 2010.
[13] Gevolglik word die
volgende bevele gemaak:
1. Appellant se opgelegde
vonnis word tersyde gestel en vervang met een van 15 jaar
gevangenisstraf.
2. Laasgenoemde vonnis
moet geag word opgelê te gewees het op 17 November 2009.
____________
C. VAN ZYL, R
Ek stem saam:
___________________
J Y CLAASEN, WND R
Namens die Appellant:
Mnr. P.L. van der Merwe
In opdrag van:
Regssentrum
BLOEMFONTEIN
Namens dieRespondent:
Adv. M. Strauss
In opdrag van:
Kantoor van die
Direkteur:
Openbare Vervolgings
BLOEMFONTEIN