Genis v Genis (A282/2010) [2011] ZAFSHC 125; 2012 (3) SA 12 (FB) (25 August 2011)

62 Reportability

Brief Summary

Divorce — Maintenance — Right of occupation — Appellant and respondent were previously married and entered into a marriage contract providing for the respondent's right to occupy a retirement unit — Appellant challenged the validity of the contract's provisions regarding occupation — Court found that the provisions were not void and ordered the appellant to ensure the respondent's right to occupy the unit as part of maintenance obligations — Appeal against the order for maintenance and occupation rights upheld.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2011
>>
[2011] ZAFSHC 125
|

|

Genis v Genis (A282/2010) [2011] ZAFSHC 125; 2012 (3) SA 12 (FB) (25 August 2011)

VRYSTAATSE HOË HOF, BLOEMFONTEIN
REPUBLIEK VAN SUID-AFRIKA
Appèlnommer: A282/2010
In
die saak tussen:-
JOHANNES
PETRUS GENIS
...................................................
Appellant
en
MARIA SOPHIA GENIS
........................................................
Respondent
_____________________________________________________
CORAM:
VAN
DER MERWE
et
JORDAAN,
RR
et
KUBUSHI,
WND R
_____________________________________________________
AANGEHOOR OP:
15 AUGUSTUS 2011
_____________________________________________________
UITSPRAAK DEUR:
VAN DER MERWE, R
_____________________________________________________
GELEWER OP:
25 AUGUSTUS 2011
_____________________________________________________
[1] Hierdie appèl, met verlof van die verhoorhof,
is gerig teen bevele wat in ‘n egskeidingsgeding met betrekking
tot
onderhoud van die respondent teen die appellant verleen is.
[2] Ten tyde van die voltooiing van die getuienis by die
verhoor gedurende Desember 2009, was die appellant ongeveer 68 jaar
oud
en die respondent ongeveer 58 jaar oud. Die partye is vir die
eerste keer met mekaar getroud gedurende 1997. Voor hierdie huwelik

was beide partye met ander persone getroud en het hul beide uit
daardie huwelike kinders gehad wat toe reeds volwassenes of
tienderjariges
was. Hierdie huwelik tussen die partye was van korte
duur, aangesien dit beëindig is deur ‘n egskeiding
gedurende Februarie
1999.
[3] Teen Maart 2005 het die partye besluit om weer met
mekaar in die huwelik te tree. Op daardie stadium was die respondent
te Hoopstad
woonagtig in haar eie woning en was die appellant
woonagtig in ‘n aftreeoord genaamd Village of Happiness te
Margate. Kragtens
skriftelike ooreenkoms aangegaan tussen die
appellant en Hibiscus Retirement Villages (“Hibiscus”)
het die appellant
teen betaling van die bedrag van R160 000,00 die
reg verkry om die eenheid genaamd woonstel nr. 412 Hibiscus Heights
in die gemelde
aftreeoord (“die eenheid”) lewenslank te
bewoon. Die ooreenkoms het bepaal dat die appellant of sy boedel
geregtig
is op terugbetaling van die gemelde bedrag:

14.1.1
On
transfer of the Occupier or last of joint Occupiers to the Frail Care
Facility on a permanent basis, or
14.1.2 On the death of the sole Occupier or the last of joint
Occupiers, or
14.1.3 In the event of the Occupier or the last of joint Occupiers
deciding to abandon his right to occupy the Unit for any reason

whatsoever.”
Klousule 2.7 van hierdie ooreenkoms bepaal soos volg -
(“The Society” verwys na Hibiscus):

2.7 The Occupier shall not be entitled to
make over, cede, assign or sub-let his rights to occupy the Unit in
any way whatsoever
or permit any other person to occupy the Unit
without the prior written approval of the Society.”
[4] Op 17 Maart 2005 het die partye ‘n
huweliksvoorwaardekontrak (“die HVK”) aangegaan wat op 19
April 2005 in
die Aktekantoor geregistreer is. Klousule 4 van die HVK
bepaal soos volg:

4. JOHANNES PETRUS GENIS het in terme van
‘n ooreenkoms met Hibiscus Retirement Villages te Margate, ‘n
Lewensregooreenkoms
gesluit in terme waarvan JOHANNES PETRUS GENIS ‘n
lewensreg verkry het op ‘n eenheid om daarin te woon tot by sy
afsterwe.
JOHANNES PETRUS GENIS sedeer hierdie lewensreg in terme van die
ooreenkoms aan en ten gunste van MARIA SOPHIA MARAIS en bepaal
dat
hierdie lewensreg waarop hy geregtig is in terme van die ooreenkoms
met Hibiscus Retirement Villages, MARIA SOPHIA MARAIS sal
toeval tot
by haar dood.
Dit word uitdruklik bepaal dat die bedrag welke deur JOHANNES PETRUS
GENIS betaal is om die lewensreg te verkry, sy boedel sal
toeval by
die plaasvind van die volgende gebeurtenisse.
4.1 Op datum van oorplasing van die laaste een van JOHANNES PETRUS
GENIS of MARIA SOPHIA MARAIS na die ‘Frail Care Facility’

te Hibiscus Retirement Villages.
4.2 By die afsterwe van die laaste een van JOHANNES PETRUS GENIS of
MARIA SOPHIA MARAIS.
4.3 By afstanddoening van die lewensreg deur die langslewende van
JOHANNES PETRUS GENIS of MARIA SOPHIA MARAIS.”
[5] Op 22 Maart 2005 het die partye en Hibiscus ‘n
skriftelike ooreenkoms met betrekking tot die eenheid aangegaan in
feitlik
identiese terme dan die ooreenkoms van 10 Oktober 2002.
Ingevolge hierdie ooreenkoms het beide partye die reg van bewoning
van
die eenheid verkry teen betaling van die bedrag van R200 000,00.
Die bedrag van R200 000,00 is betaal by wyse van oordrag van die

gemelde bedrag van R160 000,00 en die betaling van ‘n verdere
bedrag van R40 000,00, waarvan elk van die partye in effek
R20 000,00
bygedra het. Hierdie ooreenkoms het ook klousules bevat soos in para
3 hierbo aangehaal. Op 22 Maart 2005 is die ooreenkoms
tussen die
appellant en Hibiscus ook onderling deur hulle gekanselleer.
[6] Die partye is gevolglik met mekaar getroud buite
gemeenskap van goedere met uitsluiting van die aanwasbedeling op 24
Maart 2005.
Hul het tot Desember 2005 in die respondent se woning te
Hoopstad gewoon. Die woning is egter toe verkoop en die partye het
daarna
saam die eenheid bewoon. Dit is gemeensaak dat die huwelik
tussen die partye teen 1 Januarie 2008 onherstelbaar verbrokkel het
en dat hulle daarna nie weer saamgewoon het nie. Dagvaarding in die
onderhawige geding is reeds uitgereik op 7 Januarie 2008.
[7] Vir redes wat nie tans bespreek hoef te word nie, is
die verhoor van die egskeidingsgeding op die teeneis van die
respondent
voortgesit. In die teeneis het die respondent benewens ‘n
bevel wat die appellant gelas om die respondent se redelike mediese-,

tandheelkundige-, oogkundige-, hospitalisasie- en aptekerskoste te
betaal, ook betaling van onderhoud in die bedrag van R6 800,00
per
maand gevorder. Die respondent het ook uitvoering van die bepalings
van die HVK gevorder, insluitende ‘n bevel wat die
appellant
gelas om alle dokumentasie te onderteken wat nodig is om gevolg te
gee aan die bepalings van die HVK, alternatiewelik
wat die Griffier
magtig en gelas om sodanige dokumentasie namens hom te onderteken.
[8] Die verhoorhof het bevind dat die bepalings van die
HVK met betrekking tot die respondent se bewoningsreg van die eenheid
ab initio
nietig is en nie afgedwing kan word nie. Die
verhoorhof het egter bevind dat die bewoningsreg deur die appellant
aan die respondent
beskikbaar gestel moet word as deel van ‘n
onderhoudsbevel ingevolge artikel 7(2) van die Egskeidingswet 70 van
1979 en het
op 21 Mei 2010 die volgende bevele hieromtrent gemaak:

4. Eiser
word gelas om onderhoud aan verweerderes te betaal en te verskaf op
die volgende wyse en terme:
4.1 Eiser word gelas om onderhoud aan
verweerderes te betaal ten opsigte van die maande Junie 2010 en Julie
2010 in die bedrag van
R5000.00 per maand, welke bedrag betaalbaar
sal wees voor of op 7 Junie 2010 en weer daarna voor of op 7 Julie
2010.
Eiser word gelas om verweerderes se
redelike mediese-, tandheelkundige-, oogkundige-, hospitalisasie-
en aptekerskoste aangegaan
en/of opgedoen deur verweerderes sedert
die datum van hierdie bevel tot en met einde Julie 2010, te betaal,
waarna hierdie
verpligting van eiser verval.
Eiser word gelas om na afloop van
Julie 2010, onderhoud aan verweerderes te betaal in die bedrag van
R3000.00 per maand, die
eerste betaling waarvan moet geskied voor
of op 5 Augustus 2010 en daarna voor of op die 5de dag van elke
daaropvolgende maand,
welke onderhoudsverpligting sal voortduur tot
verweerderes se dood of hertroue, welke ookal eerste mag plaasvind,
waarna die
verpligting verval.
Eiser word gelas om toe te sien dat
die uitsluitlike reg van okkupasie van die eenheid bekend as
Hibiscus Heights 412, in die
kompleks bekend as Village of
Happiness, geleë te Margate, verweerderes toekom voor of op 1
Augustus 2010, welke sodanige
uitsluitlike reg op okkupasie hiermee
aan verweerderes toegeken word met ingang vanaf 1 Augustus 2010 tot
en met haar dood
of hertroue, welke ookal eerste mag plaasvind.
Ter nakoming en uitvoering van die
bevel in 4.4 hierbo, word die volgende beveel:
Eiser word gelas om die nodige
dokumentasie, soortgelyk aan die dokument aangeheg tot bewysstuk
“G” voor die hof,
getiteld “Cottage or Flat
Relinquishment Agreement”, soos gewysig indien nodig, te
onderteken ten einde voor
1 Augustus 2010 afstand te doen van sy
reg op okkupasie van voormelde eenheid voortspruitend uit die
lewensregooreenkoms
gesluit tussen die partye en Hibiscus
Retirement Villages op 22 Maart 2005, en wel op `n wyse wat aan
verweerderes die uitsluitlike
okkupasie van die eenheid sal
verleen tot haar dood of hertroue, welke ookal eerste mag
plaasvind.
Verweerderes word gelas om by haar
hertroue, indien enige, onverwyld die nodige dokumentasie te
onderteken ten einde afstand
te doen van haar reg op okkupasie van
voormelde eenheid ooreenkomstig die bepalings van klousule 13.1.3
van die lewensregooreenkoms
gesluit tussen die partye en Hibiscus
Retirement Villages.
Indien enige van die partye sou
versuim om voormelde dokumentasie te onderteken, word die Griffier
van hierdie Hof gemagtig
en gelas om dit aldus namens sodanige
party of partye te onderteken.”
[9] Dit is hierdie bevele wat op appèl aangeveg
word. Daar is nie ‘n teenappèl nie. Op 26 Augustus 2010
is ingevolge
die bepalings van reël 49(11), deur die verhoorhof
beveel dat paragrawe 4.2 en 4.3 van die bevel nie hangende appèl

opgeskort word nie, maar in werking gestel word.
[10] Ek kan nie saamstem met die bevinding dat die
bepaling van die HVK met betrekking tot die bewoningsreg van die
eenheid nietig
is nie. Hierdie bevinding is gebaseer op die verbod op
‘n sessie sonder skriftelike toestemming van Hibiscus, vervat
in klousule
2.7 van die kontrak aangegaan tussen die appellant en
Hibiscus. Hierdie bepaling het myns insiens nie tot gevolg gehad dat
klousule
4 van die HVK nietig is nie, net so min as wat ‘n
kontrak ingevolge waarvan ‘n persoon iets verkoop wat nie
sy/haar
eiendom is nie om daardie rede alleen nietig is. Dit beteken
maar bloot dat aan klousule 4 van die HVK nie gevolg gegee sal kan

word sonder die samewerking van Hibiscus nie. Tydens die aanhoor van
die appèl moes die advokaat vir die appellant toegee
dat
klousule 4 van die HVK nie nietig is nie. Hy het egter aangevoer dat
die regte wat die respondent daarkragtens verkry het,
tot ‘n
einde gekom het op 22 Maart 2005. Dit kon op die feite van die
onderhawige saak egter slegs gebeur het indien die
respondent toe
afstand gedoen het van haar regte ingevolge die HVK. So iets is nie
gepleit of enigsins in die getuienis of by die
verhoor behandel nie.
[11] Soos die verhoorhof in fyn besonderhede aangedui
het, is die onbetwiste getuienis van die respondent dat klousule 4
van die
HVK sy weg daarin gevind het omdat sy daarop aangedring het.
Sy het naamlik getuig dat sy dit duidelik gestel het aan die
appellant
en sy prokureur dat sy nie weer in ‘n situasie sou
wou beland waarin sy as gevolg van ‘n huwelik wat skeef geloop
het
geen vastigheid onder haar voete het nie en as’t ware op
straat sit. Sy het dit gevolglik duidelik gemaak dat sy nie met die

appellant sou trou indien daar nie voorsiening gemaak word vir haar
vir die res van haar lewe nie. Dit was die rede waarom die
appellant
die ernstige belofte gemaak het wat in die HVK vervat is. Dit blyk
ook duidelik uit die getuienis dat die enigste rede
waarom die
ooreenkoms en kansellasie van die vorige ooreenkoms en die sluit van
‘n nuwe ooreenkoms op 22 Maart 2005 plaasgevind
het, was omdat
dit deur Hibiscus verlang is.
[12] Teen hierdie agtergrond kan klousule 4 van die HVK
myns insiens nie eng uitgelê word nie en moet dit uitgelê
word
om te beteken dat die appellant die uitsluitlike bewoningsreg
van die eenheid aan die respondent oorgedra of oorgemaak het. Aan

hierdie uitleg en bedoeling kan gevolg gegee word indien die
appellant bloot sy bewoningsreg ingevolge die ooreenkoms van 22 Maart

2005 vir die duur van die respondent se reg van bewoning van die
eenheid, laat vaar. Die hoof uitvoerende beampte van Hibiscus
het
getuig dat ‘n bepaalde vorm vir hierdie doel deur Hibiscus
gebruik word en dit het gelei tot paragraaf 4.5.1 van die
bevel.
Hierdie paragraaf maak dit myns insiens duidelik genoeg dat slegs
geverg word dat die appellant afstand doen van sy bewoningsreg
vir so
lank as wat die bewoningsreg van die respondent so bestaan.
[13] Na my oordeel moes die verhoorhof gevolglik die reg
van bewoning van die eenheid aan die respondent toegeken het omdat sy
daarop
geregtig is en nie as deel van ‘n diskresionêre
toekenning van onderhoud nie. Die respondent is op appèl
geregtig
om die bevele met betrekking tot die bewoningsreg te
verdedig op enige grond wat blyk uit die oorkonde. ‘n Teenappèl

is slegs nodig indien die respondent verlang dat ‘n bevel tot
nadeel van die appellant gewysig word. Vir hierdie rede kan
die
toekenning van die bewoningsreg aan die respondent tot haar dood of
hertroue nie op appèl gewysig word nie, ondanks
die feit dat
ingevolge die HVK die bewoningsreg tot haar dood aan die respondent
verleen is.
[14] Dit volg dat na my mening die appèl teen
paragrawe 4.4 en 4.5 van die verhoorhof se bevele nie kan slaag nie.
Dit volg
ook dat dit onnodig is om te beslis of die appellant
enigsins of voldoende in die pleitstukke of andersins daarop bedag
gemaak
is dat die bewoningsreg as deel van onderhoud aan die
respondent toegeken kon word en ook of ‘n ander bevel dan
betaling
van ‘n bedrag geld ingevolge artikel 7(2) van die
Egskeidingswet verleen kan word. Die omstandighede verg egter dat die
datum
1 Augustus 2010 waar dit ookal voorkom in paragrawe 4.4 en 4.5
van die verhoorhof se bevele, gewysig moet word na 30 September 2011.
[15] In die lig van die voormelde moet die kwessie van
‘n onderhoudsbevel ten gunste van die respondent deur hierdie
hof heroorweeg
word. Dit moet gevolglik oorweeg word watter bevel
billik is met inagneming van die faktore gemeld in artikel 7(2) van
die Egskeidingswet.
[16] In hierdie verband is namens die appellant betoog
dat nie meer dan oorbruggingsonderhoud aan die respondent toegestaan
behoort
te word nie. Die advokaat vir die appellant het verwys na ‘n
ope aanbod wat deur die appellant gemaak is vir betaling van

onderhoud aan die respondent in ‘n bedrag van R5 000,00 per
maand vir ‘n tydperk van 12 maande en het bevestig dat
dit
steeds appellant se houding weerspieël.
[17] Ek stem met die appellant se benadering saam. Die
appellant is ‘n afgetrede boer. Die verhoorhof het aanvaar dat
sy inkomste
ongeveer R14 000,00 per maand beloop. In die lig van die
voormelde sal die appellant huisvesting vir homself moet verkry en
die
koste daaraan verbonde moet dra. Daarenteen is die respondent ‘n
gekwalifiseerde onderwyseres. Sy het haarself ook as haarkapper

bekwaam. Sy het haar eie haarsalon bedryf vanaf 1983 tot sluiting van
haar eerste huwelik met die appellant. Na die egskeiding
het sy
onderhoud van R2 000,00 per maand vir ‘n tydperk van 12 maande
ontvang. In hierdie tyd het sy die haarsalon weer aan
die gang gekry
en ‘n lewe daaruit gemaak tot Desember 2005. Vanaf Oktober 2008
tot minstens by afsluiting van die getuienis
gedurende Desember 2009
was die respondent deurentyd in diens as onderwyseres, weliswaar in
tydelike poste. Haar netto verdienste
hieruit is die bedrag van R6
900,00 per maand. ‘n Faktor wat na my mening gewig dra, is dat
die onderhawige huwelik in effek
slegs geduur het vanaf 24 Maart 2005
tot 1 Januarie 2008. Anders as die verhoorhof meen ek nie dat
wangedrag aan die kant van die
appellant vir sover dit op die
verbrokkeling van die huwelik betrekking het ‘n beduidende rol
speel nie. Ek het die getuienis
van die respondent in hierdie verband
oordrewe gevind en sy moes buitendien gedurende kruisverhoor die
onvermydelike toegee, naamlik
dat daar ook baie goeie tye in die
huwelik was en dat beide partye maar skuldig was aan die
verbrokkeling van hul huwelik. Soos
gemeld, is die respondent
geregtig op die bewoningsreg van die eenheid tot haar dood of
hertroue. Daarbenewens beskik die respondent
oor ‘n belegging
in die bedrag van R370 000,00 waaruit sy ‘n maandelikse
inkomste van ongeveer R2 700,00 verdien. Dit
blyk uit die getuienis
dat vir ‘n enkel inwoner van die eenheid ‘n bedrag van R2
000,00 per maand voorsien vir die
heffing van die aftreeoord (vir
water, elektrisiteit, ens.), een goeie maaltyd per dag en busvervoer
na ‘n nabygeleë
inkopiesentrum.
[18] Die realiteit is egter dat die respondent die
bewoningsreg van die eenheid tot hede ontneem was as gevolg van die
appellant
se onsuksesvolle appèl daaromtrent. Die respondent
se getuienis asook ‘n praktiese en billike benadering dui aan
dat
die respondent die bewoningsreg van die eenheid wil uitoefen en
navolging van hierdie uitspraak eers na datum hiervan sal kan
uitoefen.
Myns insiens is dit gevolglik billik om te voorsien vir ‘n
tydperk van oorbruggingsonderhoud na datum hiervan ten einde die

respondent in staat te stel om haar voete te Margate te vind. Daar is
myns insiens goeie rede om te glo dat die respondent in ‘n

tydperk van 12 maande ‘n inkomstebron hetsy as haarkapper of as
onderwyseres sal kan bekom.
[19] Paragraaf 4.1 van die verhoorhof se bevel is
opgeskort hangende die appèl en daaraan is nie uitvoering
gegee nie. Wat
betref paragrawe 4.2 en 4.3 daarvan wat nie hangende
die appèl opgeskort is nie, is paragraaf 4.2 van die bevel nie
spesifiek
voor ons aangeveg nie en is paragraaf 4.3 daarvan hangende
die appèl in werking gestel kragtens aanbod daartoe gemaak
deur
die appellant. In al hierdie omstandighede meen ek dat dit
billik is dat aan die respondent onderhoud in die bedrag van R5
000,00
per maand vir ‘n periode van 12 maande vanaf datum
hiervan of haar dood of hertroue, welke ookal eerste gebeur,
toegestaan
moet word. Volgens my oordeel is dit die bevel wat die
omstandighede vereis soos bedoel in artikel 22(b) van die Wet op die
Hooggeregshof
59 van 1959.
[20] Wat betref die koste van die appèl meen ek
dat gelas moet word dat elke party sy of haar koste van die appèl
moet dra. In die lig daarvan dat elke party gedeeltelik op appèl
suksesvol was en in die lig van al die omstandighede van
hierdie saak
meen ek dat dit in die uitoefening van die diskresie van hierdie hof
met betrekking tot koste, billik is dat aldus
beveel word. Die bevel
van die verhoorhof met betrekking tot koste van die verhoor, bly
natuurlik staan.
[21] Gevolglik word die volgende bevel verleen:
1. Die appellant se appèl slaag slegs tot die
mate hieronder uiteengesit:
1.1 Paragraaf 4.1 van die verhoorhof se bevel word
deurgehaal.
1.2 Paragraaf 4.3 van die verhoorhof se bevel word
deurgehaal en vervang met die volgende:

Die eiser word gelas om
onderhoud aan die verweerderes te betaal in die bedrag van R5 000,00
per maand vir ‘n tydperk van
12 maande of tot haar dood of
hertroue, welke ookal eerste mag plaasvind. Die eerste betaling moet
geskied voor of op 30 September
2011 en daarna voor of op die laaste
dag van elke daaropvolgende maand totdat die onderhoudsplig verval.”
Die datum 1 Augustus 2010 word, oral waar dit voorkom
in paragrawe 4.4 en 4.5 van die verhoorhof se bevele, deurgehaal en
vervang
met die datum 30 September 2011.
2. Elke party betaal sy of haar koste van die appèl.
________________________
C.H.G. VAN DER MERWE, R
Ek
stem saam.
_______________
A.F. JORDAAN, R
Ek
stem saam.
___________________
E.M. KUBUSHI, WND R
Namens
die appellant: Adv. S.J. Reinders
In
opdrag van:
Honey
Prokureurs BLOEMFONTEIN
Namens
respondent: Adv. P. Zietsman SC
In
opdrag van:
Rossouws
Prokureurs
BLOEMFONTEIN
/sp