About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2011
>>
[2011] ZAFSHC 83
|
|
Baird v S (A85/10) [2011] ZAFSHC 83 (9 June 2011)
VRYSTAATSE HOË
HOF, BLOEMFONTEIN
REPUBLIEK VAN
SUID-AFRIKA
Appèlnommer:
A85/10
In
die appèl tussen:-
SHAUN
BANKS BAIRD
............................................................
Appellant
en
DIE STAAT
...........................................................................
Respondent
CORAM:
MUSI, RP
et
CILLIé, R
et
JORDAAN, R
AANGEHOOR OP:
30 MEI 2011
_____________________________________________________
UITSPRAAK DEUR:
CILLIé, R
_____________________________________________________
GELEWER OP:
9 JUNIE 2011
_____________________________________________________
[1] Die appellant in
hierdie aangeleentheid is deur Ebrahim, R skuldig bevind aan ‘n
eerste klagte van onsedelike aanranding
en ‘n tweede klagte van
moord. Op die eerste klagte is hy gevonnis tot tien jaar
gevangenisstraf en op die tweede klagte
tot lewenslange
gevangenisstraf. Verlof is deur die verhoorregter aan hom verleen om
na hierdie hof te appelleer teen sy skuldigbevinding
en vonnis opgelê
op klagte een. Sy aansoek om verlof tot appèl teen die vonnis
op klagte twee opgelê, is deur
die verhoorregter afgewys.
Sedertdien het die Hoë Hof van Appèl egter aan hom verlof
verleen om na hierdie hof ook
teen die opgelegde vonnis op klagte
twee te appelleer.
[2] Die appellant se
skuldigbevinding aan die klagtes spruit voort uit gebeure wat
plaasgevind het die nag van 12 Februarie 2007
by ‘n meenthuis
kompleks bekend as Paradise Hof te Virginia. Die oorledene in hierdie
saak, ‘n 81-jarige dame, het
in eenheid nr. 6 van die kompleks
gewoon. Die appellant het in dieselfde kompleks by sy suster gewoon.
Ongeveer halftwaalf die
nag is die bewoner van eenheid 1, synde ‘n
staatsgetuie ene Lötter, deur die appellant wakker geklop. Die
appellant
is ingelaat en het toe aan Lötter gesê: “Daar
is moeilikheid”. Op Lötter se navraag watse moeilikheid
het die appellant geantwoord: “By antie Murial”.
Appellant is toe gevra wat aan die gang is en sy antwoord was: “Sy
lê in bloed”. Die getuie en appellant is toe na die
oorledene se eenheid. Aldaar is die oorledene in die spaarslaapkamer
aangetref onder die omstandighede soos goed blyk uit foto’s van
die toneel, wat as bewysstukke “D2” tot “8”
ingehandig was. Dit blyk daaruit dat die oorledene se onderlyf kaal
was. Haar bolyf was ontbloot tot die mate dat haar bra opgeskuif
was
sodat ten minste een bors sigbaar was. Die polisie is toe ontbied.
[3] ‘n Kaptein in
die polisie, ene Muller, het die toneel besoek en as volg getuig oor
die toestand waarin die oorledene aangetref
was.
“
Op die vloer
het die liggaam van ‘n ou dame gelê. Sy het op haar maag
gelê met haar kop so half onder die bed
in. Ek het ook opgemerk
dat sy ‘n wit elektriese koord styf om haar nek gehad het. Die
ou dame het geen klere onder aan haar
liggaam aangehad nie. Haar bra
was (sic) en haar bloes was tot onder haar arms opgetrek u edele.”
[4] Die appellant het
tydens sy verhoor skuldig gepleit aan klagte twee, maar onskuldig op
klagte een. ‘n Verklaring wat beskou
kan word as ‘n
gekombineerde verklaring in terme van artikel 115 op klagte een en
artikel 112(2) Wet 51 van 1977 ten aansien
van klagte twee, is namens
hom ingehandig. Dit is nodig om die tersaaklike gedeeltes van daardie
verklaring
verbatim
weer
te gee, omdat dit lig werp op die gebeure wat aanleiding gegee het
tot die oorledene se dood.
“
2. Ek staan
tereg op die volgende aanklagtes:
Aanklag 1:
Onsedelike
aanranding; en
Aanklag 2:
Moord.
Ek wens onskuldig te pleit op aanklag
1 maar wel skuldig op aanklag 2 wat soos hieronder uiteengesit word.
Ad agtergrond ten opsigte van aanklag
1:
Ten opsigte van aanklag 1 word dit my
ten laste gelê dat ek die oorledene onsedelik aangerand het
deur haar damesbroekie uit
te trek en haar rok op te lig. Ek ontken
al die bewerings vervat in die akte van beskuldiging.
Ad agtergrond tot aanklag 2.
Ek erken dat ek skuldig is aan
aanklag 2 deurdat ek op 12 Februarie 2007 te Virginia wederregtelik
en opsetlik vir Murial Margaret
Carter ‘n 31-jarige vrou
gedood het.
Ek erken dat ek op die gemelde datum
ongeveer halfvier van die werk teruggekeer het. My baas ene Gert
het my by my suster se
woning te Paradise Court, Virginia,
afgelaai. Ek het op datum van voorval by my suster gewoon.
Gert en ek het vir ‘n rukkie
gesels waarna hy huis toe is, dit was ongeveer vieruur die middag.
Ek het vir my kos voorberei
toe daar ‘n klop aan die deur
was. Dit was ‘n vriend ene Freddie.
Freddie het aangedring dat ons êrens
moet gaan drink. Ek wou eers nie saamgaan nie want Freddie het
voorheen vir my moeilikheid
veroorsaak. Ek het later ingestem maar
eers nadat ons geëet het. Toe ons klaar geëet het, het
ons besluit om na die
Rivonia Klub te gaan. Ek wou net ‘n
paar biere drink en dan terugkeer huis toe.
Op pad na die klub – ons was
te voet – het ons by ‘n bottelstoor ingegaan. Ons het
‘n bottel brandewyn,
twee liter Coke, ys en glase gekoop. Ons
is na die voëlpark waar ons gedrink het. Teen ongeveer vyfuur
die middag het
‘n werknemer van die voëlpark na ons
gekom en gevra dat ons moet loop aangesien hulle die park wou
sluit.
Freddie het op daardie stadium
alreeds dagga in ‘n braaier versteek. Toe ons die park
verlaat het Freddie die dagga daar
vergeet.
Ons is van daar na die sokkerveld
reg oorkant die parkie waar ons bo-op die pawiljoen gesit en drink
het.
Ene Pitte het opgedaag. Pitte het
vir Freddie gevra om ‘n daggapyp te maak waarop Freddie
onthou het dat hy die dagga
in die voëlpark vergeet het. Pitte
en Freddie is terug om die dagga te gaan haal en het ek agtergebly.
Met hulle terugkoms het ons almal
van die dagga gerook. Die bottel brandewyn was ook al klaar gedrink
en is ons toe daar weg.
Ek is alleen na my suster se woning.
By die huis was my suster Jacqueline
in die kombuis. Ek het kontant en twee selfone geneem en na
Bronville gegaan. Ek weet egter
nie hoe ek daar gekom het nie. Ek
het by dwelmhandelaars rock gekoop en van die rock gerook.
Ek weet nie presies hoe ek by die
huis gekom het nie maar kan onthou dat ‘n kleurlingman saam
met my geloop het. Ek kan
onthou dat ek by die huis ‘n stuk
toiletpapier geneem het en dit by die broodrooster aan die brand
gesteek het om sodoende
die rock te kan rook.
Ek kan nie onthou dat ek gebad het
nie maar ek het my slaapbroek aangehad. Ek het op die stoep gaan
sit en ‘n leer gesien.
Ek het vroeër die leer by die
oorledene geleen en het sy daarvoor teruggevra. Ek het besluit om
die leer vir haar terug
te neem.
Ek het die leer na die oorledene se
woonstel geneem en het aan die voorhekkie geruk sodat sy vir my die
hekkie moet oopmaak
aangesien dit gesluit was.
Die oorledene het die voordeur
oopgesluit. Dit het vir my voorgekom asof sy met die veiligheidshek
sukkel en het ek haar meegedeel
dat sy nie bekommerd hoef te wees
nie ek sal die leer oor die hekkie sit.
Ek het op daardie stadium opgemerk
dat die oorledene iets om of aan haar lyf gehad het.
Die oorledene het die veiligheidshek
oopgemaak. Ek wou die leer op die stoep sit maar het die oorledene
gevra dat ek die leer
na agter vat. Ek het gedink die oorledene
bedoel dat ek die leer na die kombuis moet neem en het die leer
daar neergesit.
Die oorledene het my toe meegedeel
dat ek die leer in die spaarkamer moet neersit. Ek het die leer in
die spaarkamer neergesit
en het ek opgemerk dat daar kabels was.
Die oorledene het geskree dat ek versigtig moet wees. Ek het gedink
dat die oorledene
op ‘n lelike manier uitroep en het ek my
humeur verloor. Ek het omgedraai en die oorledene aan die keel
gegryp.
Ek en die oorledene het op die bed
geval en ek het haar van my weggestoot. Ek kan nie presies onthou
wat gebeur het nie, maar
kan ek onthou dat die oorledene op haar
maag gelê het en dat sy van my probeer wegkruip het. Ek
onthou dat ek die oorledene
met ‘n elektriese koord gewurg
het. Ek onthou ook dat die oorledene geruk het en het ek besef dat
ek besig is om die
oorledene te wurg. Ek het ten spyte van die
besef steeds voortgegaan om die oorledene te wurg. Sy het op
daardie stadium nog
gelewe en glo ek dat as ek opgehou wurg het sou
sy nog geleef het.
Op daardie stadium het ek ten spyte
van my vroeëre drank en dwelmgebruik, geweet dat ek besig is
om die oorledene te wurg
en het ek dienooreenkomstig opgetree en
sodoende die dood van die oorledene veroorsaak.
Ek het groot geskrik en het die
oorledene se woonstel verlaat. Op pad terug na my woonstel het ek
my suster gekry. Ek het nie
geweet hoe om vir haar te vertel wat ek
gedoen het nie. Ek het net vir haar gesê dat die oorledene
dood is.
Ek is na ons woonstel en het my
slaapbroek uitgetrek want daar was bloed op. Die oorledene se neus
het gebloei en tydens die
verwurging het van die bloed op my
slaapbroek gekom. Ek het die slaapbroek in die dak van die woonstel
gegooi en ander klere
aangetrek. Ek kan nie presies onthou watter
klere nie.
Daarna is ek na oom Willie ‘n
buurman om hom wakker te maak maar het hy nie geantwoord toe ek
geklop het nie. Ek is na
‘n telefoonhokkie van waar ek die
polisie ontbied het.
Ek is terug na oom Willie se
woonstel en het hy geantwoord toe ek hom weer roep. Ons is saam na
die oorledene se woonstel. Oom
Willie het my meegedeel dat die
oorledene reeds dood was en dat hy iets oor haar gegooi het. Ek
dink dit was ‘n laken.
Ons het buite gestaan en het die
polisie daar opgedaag. Ek het nie geweet hoe om vir hulle te vertel
dat ek die oorledene vermoor
het nie en het toe ‘n storie
opgemaak oor hoe ek gesien het dat twee swart mans uit die
oorledene se woonstel gehardloop
het.
Ek is later daardie aand
gearresteer. Die volgende dag het ek ‘n bekentenis voor ‘n
landdros afgelê asook
uitwysings gemaak maar was ek
emosioneel en verward. Ek het in breë trekke wel verduidelik
wat gebeur het maar weens my
toestand het ek nie ‘n volledige
weergawe gegee nie.”
KLAGTE 1
[5] Die verhoorregter het
aan die hand van die welbekende uitspraak in
R v BLOM
1939 AD 158
op 202 oorweeg of die feite bovermeld as enigste redelike
afleiding regverdig dat die appellant die oorledene onsedelik
aangerand
het. Daar is toe bevind dat dit alleen die appellant kan
wees wat die oorledene se klere van haar liggaam kon verwyder het.
Vanweë
die feit dat die appellant nie getuig het nie, is toe
bevind dat die appellant die oorledene onsedelik aangerand het. Daar
is egter
geen getuienis beskikbaar wat tot enige mate aandui wanneer
die oorledene se klere dusdanig verwyder was. Die bewese feite
regverdig
dus nie ‘n afleiding dat die oorledene geleef het toe
dit gedoen was nie. Indien dit plaasgevind het nadat die oorledene
reeds dood was, is die ten laste gelegde misdryf natuurlik nie
gepleeg nie. Onsedelike aanrading kan slegs ten aansien van ‘n
lewende persoon gepleeg word. Die appèl teen die
skuldigbevinding op klagte een moet dus gehandhaaf word. Daarmee val
die
appèl ten aansien van die opgelegde vonnis op klagte een
natuurlik ook weg.
KLAGTE 2
[6] ‘n
Moeiliker vraag vir beantwoording, is die gepastheid van die
opgelegde vonnis op klagte twee. Die toets op appèl
is so
welbekend dat dit nouliks vermelding verg. Opsommenderwys kan dit
gemeld word dat ‘n hof van appèl met ‘n
vonnis
opgelê deur die verhoorhof sal inmeng alleen as daar mistasting
ten aansien van of die reg of die feite was by oorweging
van die
vonnis of as andersyds die opgelegde vonnis so skokkend onvanpas is
dat geregtigheid inmenging verg. Vergelyk
S
v PIETERS
1987 (3) SA 717
(A).
Mnr.
Reyneke, namens die appellant, het nie werklik op enige mistastings
aan die kant van die verhoorregter by oorweging van ‘n
gepaste
vonnis gesteun nie. Sy betoog is eerder dat die vonnis van
lewenslange gevangenisstraf, gegewe al die omstandighede, so
skokkend
onvanpas is dat geregtigheid inmenging op appèl verg. Hierdie
betoog noodsaak nadere beskouing van al die tersaaklike
omstandighede. Daardie omstandighede sluit in die appellant se
persoonlike omstandighede, die misdaadsomstandighede en die belange
van die gemeenskap.
PERSOONLIKE
OMSTANDIGHEDE
[7] Die appellant was ten
tyde van die voorval 27 jaar oud. Hy was werksaam by Harmony Refinery
as ‘n sogenaamde “supervisor”.
Sy hoogste
skolastiese opleiding is standerd 7. Sy ouers is op ‘n jeugdige
ouderdom geskei en hy het by sy moeder as enkelouer
grootgeword. Hy
het geen verhouding met sy vader gehad nie, omdat dat daar weinig
kontak tussen hulle was. Die dag van die voorval
het hy drank gedrink
en dagga asook rock gerook. Volgens die getuienis van sy suster is
die appellant, as hy dwelms gebruik het,
‘n ander persoon as
wanneer hy nugter is. Na die gebeure het hy vir Lötter en die
polisie ontbied. Die volgende dag
het hy ‘n bekentenis voor ‘n
landdros afgelê en ook uitwysings aan die polisie gedoen. Die
appellant se vorige
botsings met die gereg is ietwat ontstellend. Hy
is op 20 Junie 2007 skuldig bevind aan huisbraak met die opset om
menseroof te
pleeg en aan aanranding en toe gevonnis tot vier jaar
gevangenisstraf waarvan een jaar opgeskort was. Hierdie
skuldigbevinding
was na die pleging van die onderhawige misdryf en
geld dus weliswaar regtens nie as ‘n vorige veroordeling nie.
Daardie huisbraak
en aanranding was egter voor die onderhawige
misdryf gepleeg. Ontstellend in hierdie verband is die feit dat
hierdie misdrywe ook
ten aansien van vroue, wie se wooneenheid die
appellant binnegegaan het, gepleeg was. Soos reeds gemeld, het die
appellant in die
onderhawige verhoor skuldig gepleit op die klagte
van moord en moet gemeld word dat in sy getuienis op versagting van
vonnis, woorde
gebruik was wat dalk verstaan moet word as ‘n
poging om verskoning aan te bied aan die familie van die oorledene.
MISDAADSOMSTANDIGHEDE
[8] Die appellant se
persoonlike omstandighede is egter nie die enigste omstandigheid wat
oorweging verdien nie. Die misdaadsomstandighede
is eweseer
tersaaklik by vonnisoplegging. Dit blyk uit die getuienis dat die
oorledene, op wat nie anders as ‘n gruwelike
wyse beskryf kan
word nie, vermoor is. ‘n Elektriese koord was so styf om haar
nek getrek dat die getuie Lötter dit
nie van haar nek kon loskry
nie. Die wyse waarop dit gedoen was, blyk duidelik uit die foto’s
– bewysstukke “D3”,
“4” en “5”.
Die appellant self meld in sy artikel 112-verklaring dat die
oorledene van hom af probeer wegkruip
het en dat sy geruk het terwyl
hy haar verwurg het. Die verwurging van ‘n slagoffer is myns
insiens van die koelbloedigste
vorme van moord en wel omdat die dader
vir etlike minute letterlik moet voel hoe die lewe die slagoffer
verlaat.
Vergelyk
R v LEWIS
1958 (3) SA 107
(A).
Hierna het die appellant
sy bloedbevlekte broek versteek en die polisie wat opgedaag het en
ook Lötter op ‘n dwaalspoor
probeer lei van wat gebeur
het.
GEMEENSKAPSBELANG
[9] Die gemeenskapsbelang
moet ook in ag geneem word. Die oorledene was ‘n 81-jarige dame
wat volgens die getuienis ‘n
aangename spontane mens was wat
goeie verhoudinge met almal gehandhaaf het. Die getuienis van haar
dogter was dat die oorledene
die moeder van vier kinders en die
grootmoeder van elf kleinkinders was. Sy het ten aansien van die
effek wat die dood van haar
moeder op die familie gehad het, as volg
getuig:
“
It affected
my family very much. My husband does not believe in God anymore
because he says there was no God to protect her. I just
want to tell
you that my mother was the most dignified lady and she would never
ever let anybody into her house half naked. That
is one thing she
would never do and I do not know, I just cannot believe that things
were said like that about her because she
was a loving mother, she
was a loving grandmother and a loving great grandmother and we loved
her very much and it is very hard
for all of us to accept this death
and it is going to take a while... I went for treatment with the
church, I am a Methodist and
my church have a trauma unit which I
went to and I thought I was over it and I was over it until the
trial. I just feel it has
just all come back again.”
Dit is duidelik uit die
getuienis dat die oorledene se familie erg ontsteld en bitter was oor
die appellant se optrede. Dat die
verstaanbare verontwaardiging en
weersin van diesulkes oor die daad van die appellant teenoor hulle
geliefde in ag geneem moet
word by vonnisoplegging, is treffend as
volg bewoord deur Nienaber AR in
S v M
1994 (2) SASV 24
(A) op 29 f – g:
“
The demands
and hence the interests of society must undoubtedly be taken into
account and may indeed be an overriding factor. In
this instance the
conduct of the appellant was so depraved, so perverse, that a lesser
sentence than the death sentence might well
not appease the outrage
felt by the community, in particular that section of the community
most directly touched by the death of
the deceased.”
[10] Gedurende betoog was
heelwat gewag gemaak van die appellant se drank- en dwelmgebruik die
dag. Die appellant was egter tevore
vir rehabilitasie van drank- en
dwelmgebruik by die Magalieshoop Sentrum. Hy het egter die
behandelingstermyn, wat 14 weke sou
duur, na ‘n week en ‘n
half laat vaar en die inrigting verlaat. Die appellant het
klaarblyklik geweet wat die effek
van drank en dwelms op hom is. Dit
is ook duidelik dat die appellant se sinne ook nie veel, indien
enigsins, deur die inname van
hierdie middels aangetas was nie. Sy
optrede voor en na die gebeure bevestig dit. Hy was heeltemal in
staat om die leer terug te
neem na die oorledene se woonstel. Na die
voorval het hy geweet hoe om die polisie te skakel, sy bebloede broek
te versteek en
met ‘n valse storie die polisie op ‘n
dwaalweg te probeer lei.
[11] Mnr. Reyneke, namens
die appellant, het groot klem daarop gelê dat hierdie nie ‘n
geval is van ‘n beplande
moord of ‘n moord gepleeg
gedurende ‘n rooftog sodat vanweë die bepalings van
artikel 51(1) van Wet 105 van 1997,
gelees met Deel I van Bylae 2
daartoe, (algemeen bekend as die Wet op Minimum Vonnisse) oplegging
van lewenslange gevangenisstraf
verpligtend was nie. Die trant van sy
argument was, as ek hom reg verstaan het, dat lewenslange
gevangenisstraf vir daardie gevalle
in die bylae vermeld, voorbehou
behoort te word. Dit is myns insiens ‘n misinterpretasie van
die Wet om dit so uit te lê
as sou die minimum vonnis slegs van
toepassing wees in gevalle soos vermeld in die bylaes tot die Wet.
Die oogmerk van Wet 105
van 1997 was duidelik
nie
om die
oplegging van die voorgeskrewe minimum vonnis, in hierdie geval
lewenslange gevangenisstraf, te beperk tot die uiteengesette
gevalle
nie, maar bloot om te verseker dat die minimum vonnis
wel
in
daardie gevalle opgelê sal word. Die oplegging van lewenslange
gevangenisstraf waar die omstandighede dit die gepaste
vonnis maak,
bly toelaatbaar en nodig al is die misdryf nie vermeld in Deel I van
Bylae 2 tot die Wet nie.
[12] Die verhoorregter
het in haar uitspraak as volg opgemerk:
“
The accused
was relentless in his desire to kill the deceased. He attacked her, a
defenceless old woman in her own home where she
thought she would be
safe... he showed a complete lack of respect for her as an elderly
woman of 81 years old, old enough to be
his grandparent... My finding
is that the accused is a man possessed of inner vice together with
the accused’s cunning behaviour
after he killed the deceased,
take this case out of the realms of those cases of murder where no
premeditation is involved and
places it amongst those cases
warranting the imposition of the extreme penalty.”
Ek stem hiermee saam.
[13] Die vraag is nie
welke vonnis hierdie hof sou oplê sittende as hof van eerste
instansie nie. Die toets is of die opgelegde
vonnis sodanig verskil
van ‘n vonnis wat ek, sittende as hof van eerste instansie, sou
oplê dat die vonnis opgelê
deur Ebrahim R as skokkend
onvanpas aangemerk kan word. Indien al die omstandighede oorweeg
word, is ek nie oortuig daarvan dat
‘n vonnis opgelê was
wat skokkend onvanpas is nie.
Bygevolg slaag die appèl
dermate dat die skuldigbevinding en vonnis opgelê op klagte een
tersyde gestel word. Die appèl
teen die vonnis opgelê op
klagte twee word egter afgewys en die opgelegde vonnis van
lewenslange gevangenisstraf word bekragtig.
____________
C.B. CILLIé, R
Ek
stem saam.
_____________
H.M. MUSI, RP
Ek stem saam.
_______________
A.F. JORDAAN, R
Namens die appellant:
Mnr. J.D. Reyneke
In opdrag van:
Bloemfontein Regsentrum
BLOEMFONTEIN
Namens die respondent:
Adv. M. Strauss
In opdrag van:
Direkteur van Openbare
Vervolgings
BLOEMFONTEIN
/sp