About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2011
>>
[2011] ZAFSHC 72
|
|
Kokomi en Ander v S (A194/2010) [2011] ZAFSHC 72 (5 May 2011)
VRYSTAAT
HOË HOF, BLOEMFONTEIN
REPUBLIEK
VAN SUID-AFRIKA
Appèlnommer:
A194/2010
In
die appèl tussen:-
JOSEPH PAPA KOKOMI
..............................................
Eerste
Appellant
JOSEPH MONELLWA
................................................
Tweede
Appellant
en
DIE
STAAT
...........................................................................
Respondent
_____________________________________________________
CORAM:
RAMPAI, R et VAN ZYL, R
_____________________________________________________
UITSPRAAK
DEUR:
VAN ZYL, R
_____________________________________________________
GELEWER
OP:
5 MEI 2011
_____________________________________________________
Appellante het in die
Streekhof, Kroonstad, tereggestaan op ʼn aanklag van roof met
verswarende omstandighede. Dit is beweer
dat appellante op of
omtrent 18 September 2007 te Marabastad, Kroonstad, wederregtelik en
opsetlik vir Safraz Ahamed (hierinlater
na verwys as “die
klaer”) gedreig het met ʼn vuurwapen en daarop met geweld
goedere ter waarde van R2 448.90
van hom ontneem het. Beide
appellante het regsverteenwoordiging geniet ten tyde van die
verrigtinge in die Hof
a quo
en het hulle onskuldig gepleit.
Beide appellante is egter op 3 Augustus 2009 skuldig bevind op
voormelde aanklag en is hulle
op 26 November 2009 elk gevonnis tot
tien jaar gevangenisstraf.
Appellante se appèl
is slegs gerig teen hul opgelegde vonnisse, verlof waarvoor deur die
Verhoorhof aan appellante toegestaan
is op 26 April 2010.
Die feitelike agtergrond
tot die aanklag waarop appellante tereggestaan het, is kortliks die
volgende. Die klaer was die eienaar
was ʼn winkel te Marabastad,
Kroonstad. Op 18 September 2007 om ongeveer 12 uur die middag was hy
by sy winkel toe drie jong
mans hom genader het onder die
voorwendsel dat hulle yslollies wil koop. Toe die klaer egter oor
die vrieskas gebuk het ten einde
die yslollies uit te haal, het een
van die drie mans ʼn vuurwapen op hom gerig, terwyl die ander
twee mans hom aangerand
het deur hom te slaan. Hierdie drie mans was
die twee appellante, tesame met ʼn derde persoon, synde Petrus
Lenyeta, wie
aanvanklik saam met die appellante tereggestaan het,
maar wie skuldig gepleit het op die ten laste gelegde misdryf en ten
opsigte
van wie daar gevolglik ʼn skeiding van verhore
plaasgevind het. Nadat die appellante en Petrus Lenyeta die klaer
aldus beroof
het, het hulle weggehardloop vanaf die winkel. Hulle is
egter baie kort daarna arresteer met die gesteelde goedere in hul
besit
en het die klaer al die gesteelde goedere teruggekry. Die
klaer is nie ernstig beseer in die proses nie en het slegs kneusings
opgedoen. Geen skote is met die vuurwapen afgevuur ten tyde van die
rooftog nie.
Petrus Lenyeta het as
staatsgetuie getuig teen die appellante in die Hof
a quo
. Uit
Petrus Lenyeta se getuienis blyk dit dat hy die persoon was wat die
vuurwapen gehad het voor die rooftog, aangesien die vuurwapen
aan sy
oom behoort het. Hy het egter wel hierdie vuurwapen aan beide
appellante getoon voor die rooftog en was hul dus bewus dat
die
vuurwapen op een of ander wyse gebruik sou word om die rooftog uit te
voer. Hoewel die klaer getuig het dat hy deur beide appellante
aangerand is, het Petrus Lenyeta getuig dat slegs tweede appellant
die klaer aangerand het, terwyl eerste appellant die gesteelde
goedere bymekaar gemaak het. Die vuurwapen is deurentyd gedurende die
rooftog slegs deur Petrus Lenyeta hanteer.
Dit moet vermeld word
dat na kort kruisondervraging van Petrus Lenyeta namens eerste
appellant, het eerste appellant se regsverteenwoordiger
aangedui dat
eerste appellant wens sy pleit te verander deur skuldig te pleit op
ʼn aanklag van roof (nie roof met verswarende
omstandighede
nie), gegewe die feit dat dit uit Petrus Lenyeta se getuienis geblyk
het dat eerste appellant nie die vuurwapen
hanteer het nie en ook op
geen stadium die klaer aangerand het nie. Hierdie pleit is egter nie
deur die Staat aanvaar nie. Eerste
appellant het sy saak gesluit
sonder om getuienis aan te bied. Tweede appellant het wel in sy eie
verdediging getuig en volhard
met sy onskuld.
Die Hof
a quo
het
egter daarop beide appellante skuldig bevind op die ten laste
gelegde aanklag, heeltemal tereg, op die basis dat hulle tesame
met
Petrus Lenyeta met gemeenskaplike opset opgetree het ten tyde van
die rooftog.
Wat die opgelegde vonnis
van elk van die appellante betref, was die tersaaklike voorgeskrewe
minimum vonnis ooreenkomstig die
bepalings van Artikel 51(2) gelees
met Deel 2 van Bylae 2 van Wet 105 van 1997, vyftien jaar
gevangenisstraf. Die Hof
a quo
het egter bevind, na my mening
ook korrek so, dat daar wesenlike en dwingende omstandighede bestaan
wat die oplegging van ʼn
mindere vonnis regverdig. Mnr. Van
Rensburg, namens appellante, het egter ten tyde van die aanhoor van
die appél betoog
dat die opgelegde vonnisse van tien jaar elk
egter steeds in die omstandighede van hierdie saak skokkend onvanpas
is en dat die
erns van die misdryf en die gemeenskapsbelang
oorbeklemtoon is ten koste van appellante se persoonlike
omstandighede.
Wat die persoonlike
omstandighede van appellante betref, was hulle 18 jaar oud ten tyde
van die voorval, skoliere in Graad 11
en eerste oortreders. Tweede
appellant het ter strafversagting ook getuig dat hy ten tyde van
vonnisoplegging as algemene arbeider
werksaam was waar hy R400.00
per twee weke verdien het. Hy is ongetroud, met geen kinders en sy
moeder is van sy versorging afhanklik.
ʼn Baie belangrike
faktor wat na my mening ten gunste van appellante in oorweging
geneem moet word, is die feit dat beide
appellante vanaf 18
September 2007 tot 27 Februarie 2009, dit wil sê byna 17
maande, as verhoorafwagtendes in hegtenis
verkeer het. Hulle is eers
op daardie laat stadium van die verrigtinge op waarskuwing
vrygelaat. Dit blyk nie uit die oorkonde
dat laasgenoemde lang
tydperk wat appellante verhoorafwagtend was, pertinent deur hul
regsverteenwoordigers in die Hof
a quo
aan die voorsittende
beampte uitgewys is nie en het die voorsittende beampte ten tyde van
vonnisoplegging slegs daarna verwys
dat appellante “vir ʼn
tyd” aldus in hegtenis verkeer het.
Wat die erns van die
misdryf betref, het mnr. Van Rensburg tereg daarop gewys dat
appellante op geen stadium die vuurwapen hanteer
het nie. Verdermeer
is die klaer nie tydens die voorval met die vuurwapen beseer nie,
maar was hy bloot gedreig met die wapen.
Die klaer is ook nie
ernstig beseer tydens die rooftog nie. Verdermeer is al die geroofde
goedere teruggevind, hoewel dit weliswaar
nie deur die toedoen van
appellante was nie, maar eerder deur die vinnige optrede van die
polisie.
Die Hof
a quo
het
in die vonnis uitspraak daarna verwys dat appellante se aanvanklike
mede-beskuldigde, Petrus Lenyeta, reeds op daardie stadium
skuldig
gepleit het en gevonnis was tot tien jaar gevangenisstraf. Dit blyk
dat na aanleiding hiervan, die Hof
a quo
van oordeel was dat
tien jaar gevangenisstraf ook in die onderhawige geval ʼn
gepaste vonnis is. Mnr. Van Rensburg het egter
in sy betoogshoofde
en ook ten tyde van die aanhoor van die appèl daarop gewys
dat Petrus Lenyeta teen sy opgelegde vonnis
van tien jaar
gevangenisstraf geappelleer het en op 4 Februarie 2010 onder
appélnommer A279/2009, is die opgelegde vonnis
deur Cillié
R en Mocumi R op appèl verminder na 6 jaar gevangenisstraf
waarvan 2 jaar gevangenisstraf opgeskort
is vir 5 jaar op sekere
voorwaardes. ʼn Afskrif van hierdie uitspraak was ook aangeheg
tot mnr. Van Rensburg se betoogshoofde,
waarvoor hy bedank word. In
paragraaf 6 van laasgenoemde uitspraak het Cillié R as volg
bevind:
“
Dit is waar
dat direkte langtermyn gevangenisstraf vir die appellant onvermydelik
is. Dit beteken egter nie dat tien jaar gevangenisstraf
soos die
Landdros opgelê het die enigste gepaste periode van langtermyn
gevangenisstraf is nie. Ek sou reken dat inagnemende
die appellant se
jeugdigheid veral en die feit dat hy ʼn eerste oortreder is
langtermyn gevangenisstraf waarvan ʼn deel
opgeskort is meer
vanpas sou wees. Die vonnis wat ek meen gepas is verskil dermate van
die opgelegde vonnis dat dit inmenging noodsaak.”
Hoewel die geval van
Petrus Lenyeta verskil van die onderhawige appèl deurdat
Petrus Lenyeta, anders as appellante, skuldig
gepleit het, is ek van
oordeel dat hierdie verskil negeer word deur die feit dat Petrus
Lenyeta duidelik die leidende rol in
die rooftog gespeel het deur
die verskaffing van die vuurwapen en die hantering daarvan, asook
deur die feit dat Petrus Lenyeta
slegs 6 maande as verhoorafwagtende
in hegtenis verkeer het. In die onderhawige geval appellante wel nie
skuldig gepleit nie,
maar het hulle op geen stadium die vuurwapen
hanteer nie en was hulle, soos reeds genoem, 17 maande as
verhoorafwagtendes in
hegtenis.
Wanneer voormelde feite
en omstandighede in ag geneem word, is ek van mening dat daar geen
basis is waarop ʼn onderskeid getref
kan word tussen die appèl
van Petrus Lenyeta en die onderhawige appèl van appellante
nie. Mnr. Strauss, namens
die Staat, het ook ten tyde van sy betoog
in die Hof toegegee, volgens my heeltemal tereg, dat daar geen
objektiewe regverdiging
is vir die verskil in vonnis tussen die twee
gevalle nie.
Gevolglik is ek van
oordeel dat die vonnis wat op appèl vir appellante se
mede-beskuldigde opgelê is onder appèlnommer
A279/2009,
ook ʼn gepaste vonnis in die onderhawige geval daarstel.
Derhalwe word die
volgende bevele gemaak:
Die
skuldigbevinding van beide appellante word bekragtig.
Die appèl
van beide appellante teen hul opgelegde vonnis slaag, die
opgelegde vonnis van beide appellante word
tersyde gestel en
vervang met die volgende:
Ses (6) jaar
gevangenisstraf waarvan twee (2) jaar opgeskort word vir vyf (5) jaar
op voorwaarde dat appellante nie weer skuldig
bevind word aan roof of
enige ander misdryf waarvan geweld teenoor die persoon van ʼn
ander ʼn element is en waarvoor onopgeskorte
gevangenisstraf
sonder die keuse van ʼn boete opgelê word nie.
Laasgenoemde
vonnis moet geag word opgelê te gewees het op 26
November 2009.
______________
C. VAN ZYL, R
Ek stem saam:
______________
M.H. RAMPAI, R
Namens die appellante:
Adv. T.B. Van Rensburg
In opdrag van:
Die Regshulpraad
KROONSTAD
Namens die respondent:
Adv. M. Strauss
In opdrag van:
Kantoor van die
Direkteur:
Openbare Vervolgings
BLOEMFONTEIN