Van der Vyver v Padongelukfonds (3396/2009) [2011] ZAFSHC 6 (20 January 2011)

60 Reportability

Brief Summary

Delict — Negligence — Motor vehicle collision — Plaintiff injured as a passenger in a bakkie involved in a collision with a truck — Dispute over the negligence of the truck driver — Evidence presented by both parties regarding the circumstances of the accident — Court found the plaintiff's witnesses credible and consistent, while the truck driver's testimony was deemed unreliable and contradictory — Holding that the truck driver was negligent in causing the collision, thus entitling the plaintiff to damages.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2011
>>
[2011] ZAFSHC 6
|

|

Van der Vyver v Padongelukfonds (3396/2009) [2011] ZAFSHC 6 (20 January 2011)

VRYSTAAT
HOË HOF, BLOEMFONTEIN
REPUBLIEK
VAN SUID-AFRIKA
Saaknommer:
3396/2009
In
die saak tussen:-
T E VAN DER VYFER
..................................................................
Eiseres
en
PADONGELUKFONDS
.........................................................
Verweerder
_____________________________________________________
AANGEHOOR
OP:
1 DESEMBER 2010
____________________________________________________
UITSPRAAK
DEUR:
MURRAY, Wnd R
_____________________________________________________
GELEWER
OP:
20 JANUARIE 2011
_____________________________________________________
Die eiseres, Theresa
Elizabeth van der Vyfer, het ʼn eis ingestel teen die
Padongelukfonds weens ernstige beserings opgedoen
in ‘n
botsing op 19 Junie 2007 op die openbare pad tussen Bothaville en
Viljoenskroon in die Vrystaat Provinsie.
Die eiseres was ‘n
passassier in die Ford Bantam bakkie bestuur deur haar eggenoot, Mnr
W van der Vyfer (“die bakkie-bestuurder”),
toe hulle
betrokke was in ʼn botsing met ʼn vragmotor bestuur deur mnr
P J Makunye (“die versekerde bestuurder”).
Die kwantum en meriete
is by ooreenkoms geskei en slegs die nalatigheid al dan nie van die
versekerde bestuurder is tans te bereg
aangesien ‘n verdeling
van skadevergoeding nie op die eiseres as passassier toegepas kan
word nie.
[4] Dit is gemeensaak dat
die ongeluk vroegaand plaasgevind het na dit alreeds begin donker
word het en dat albei voertuie in die
rigting van Bothaville oor ‘n
lae trein-oorbrug gery het met die vragmotor voor. Altwee die
bestuurders was goed bekend met
die pad.
[5] Drie fotos wat vanaf
die oorbrug kort duskant die punt van botsing in die rigting van
Bothaville geneem is, is by ooreenkoms
opgehandig. Dit toon ‘n
oop, feitlik reguit, relatief smal sekondêre teerpad met
gruisskouers in ‘n onbeboude
landelike gebied met ‘n
onbelemmerde uitsig oor die pad na Bothaville. Twee groot bome aan
die regterkant verberg die regs-afdraai
na die relevante
grond-plaaspad etlike honderde meters vanaf die brug. Net verby die
plaaspad is aan die linkerkant van die teerpad
‘n duidelike
breë afdraai- of stopplek sigbaar. Dit is gemeensaak dat dit ‘n
stilhouplek is waar vragmotors mense
op- en aflaai. Die spoedgrens is
daar 120 km/h en ‘n aanmekaar wit sperstreep in die middel van
die pad strek vanaf die brug
tot by die afdraai na die plaaspad.
[6] Dit is ook gemeensaak
dat albei voertuie se ligte aan was en dat beide voertuie na die
botsing aan die regterkant van die pad
tot stilstand gekom het, die
vragmotor ongeveer 100 – 150 meter van die teerpad af op die
regtergrasrand van die plaaspad
waarin hy afgedraai het en die bakkie
nog verder in die veld anderkant die plaaspad.
[7] Die eiseres en die
bakkie-bestuurder het beide getuig dat hulle op pad was na hul huis
in Bothaville en teen ongeveer 90 –
100 km/h gery het. Verder
het beide getuig dat hulle op die afdraand aan die Bothaville-kant
voor hulle ‘n vragmotor sien
ry het met sy ligte aan. Hulle het
sy remligte skielik sterk sien aangaan, gesien hy beweeg na links tot
sy linkerwiele op die
gruisskouer ry en gesien dat hy stadig so
voortbeweeg met sy linkerwiele steeds op die gruis aan die linkerkant
van die pad. Nie
een van sy flikkerligte was aan nie.
[8] Hulle het altwee
getuig dat hulle afgelei het dat die vragmotor beoog om links af te
draai om by die aflaaiplek aan die linkerkant
van die pad te stop.
Dit is nie in kruisondervraging betwis dat die vragmotor met sy
linkerwiele op die gruisskouer gery het nie
en is trouens aan die
eiseres ‘n stelling gemaak dat hy so gery het om die draai wyd
genoeg te maak om in die plaaspad aan
die regterkant te kan afdraai.
[9] Hulle was dit ook
eens dat daar geen ander voertuie as die vragmotor en hul bakkie op
die pad was nie en dat daar beslis geen
aankomende voertuig was soos
die versekerde bestuurder beweer het nie. Volgens albei van hulle was
dit dus veilig om die vragmotor
verby te steek op die tydstip toe dit
gedoen is. Die bakkie-bestuurder het ook getuig dat die omstandighede
so was dat indien daar
wel ‘n aankomende voertuig was soos die
versekerde bestuurder beweer, daar geen manier sou wees dat dit nie
ook in die ongeluk
betrokke sou wees nie.
[10] Hy het getuig dat hy
kon sien dat daar geen aankomende verkeer was nie en dat die
vragmotor so stadig beweeg en so ver links
was dat hy veilig en
gemaklik met die bakkie se regterwiele net oor die sperstreep sou kon
verbygaan. Hy het dus sy hoofligte skerp
gestel en gedomp om die
versekerde bestuurder te waarsku dat hy verbykom en toe die vragmotor
“effe wyd” probeer verbysteek.
Net toe hy egter by die
vragmotor se agterwiele kom, het die voertuig skielik skerp regs voor
hom ingedraai.
[11] In ‘n poging
om ‘n botsing te vermy en om te verhoed dat hulle onder die
vragmotor inry, het hy die bakkie se stuurwiel
na regs gepluk tot so
ver as wat moontlik en veilig was sonder om die bakkie om te gooi.
Die linker-sykant van die bakkie en die
onderkant van die
regtervoordeur en regter-voorwiel tot buffer van die vragmotor het
mekaar egter steeds getref en die bakkie het
skuins teen die
vragmotor verbygeskuur. Die fotos toon dan ook duike in die linkersy
van die bakkie wat strek van net agter die
linkervoorlig tot by die
linkeragterlig.
[12] Weens die botsing
het hy beheer oor die bakkie verloor en is die bakkie regs van die
pad af, skuins oor die stormwatersloot
voor die plaashek en is by die
verste punt daarvan in die veld waar dit ‘n hele ent anderkant
die plaaspad tot stilstand
gekom het. Hy sê hy het nie rem
getrap nie en die bakkie bloot laat voortstu deur die veld omdat hy
geweet het dit sou andersins
in die gruis rol. Die vragmotor is oor
die stormwatersloot, deur die plaashek en tot op die regtergrasrand
van die plaaspad waar
dit 100 – 150 m verder tot stilstand
gekom het.
[13] Sy getuienis dat die
punt van botsing regoor die plaashek ongeveer op die middellyn van
die teerpad was, is nie in kruisondervraging
betwis nie. Die
versekerde bestuurder het egter later beweer die botsing het ‘n
hele ent vóór die plaashek
plaasgevind en dat hy ná
hy beheer oor die vragmotor herwin het, steeds reguit met die teerpad
in die rigting van Bothaville
aangery het voor hy regs afgedraai het
op die plaaspad.
[14] Die eiseres is
ernstig beseer in die botsing en het getuig dat sy slegs die gebeure
tot voor die slag onthou. Haar getuienis
het dié van
bakkie-bestuurder omtrent die aanloop tot die botsing egter in alle
wesenlike opsigte gestaaf.
[15] Die versekerde
bestuurder se weergawe was dat hy die bakkie agter hom sien aankom
het en toe sy flikkerlig op die afdraand
van die brug al aangeskakel
en heelpad aangehou en remgetrap het om die bakkie te waarsku dat hy
gaan regs draai.
[16] Hy het getuig dat hy
sonder om te stop voortdurend spoed verminder het van die bokant van
die brug af (hy meen dat hy daar
nog ongeveer 40 km/h gery het)
terwyl hy gewag het vir ‘n aankomende voertuig sodat hy regs in
die plaaspad kon afdraai.
Volgens hom het hy nooit uit die linkerbaan
beweeg nie en terwyl hy nog so stadig reguit in sy eie baan gery het,
en nog ‘n
ent voor die afdraai na die plaaspad, het hy skielik
‘n klapgeluid gehoor en die bakkie hier langs sy
regtervoorvenster gesien
waar dit teen die vragmotor se
regtervoordeur en regtermodderskerm gebots het. Hy het gesien die
bakkie is regs van die pad af
die veld in. Hyself het beheer verloor
oor die vragmotor maar sonder om hoegenaamd uit sy ryrigting te
beweeg beheer herwin en
steeds reguit in die linkerbaan aangery tot
hy ‘n ent verder na regs in die plaaspad afgedraai, deur die
hek gery en op die
regtergrasrand van die grondpad gaan stop het om
uit die pad van die verkeer te kom.
[17] Hy het getuig dat
die aankomende voertuig voor die botsing reeds te naby was dat hy
veilig kon draai en dat “volgens
sy waarneming” die
bakkie voor die aankomende voertuig by hom probeer verbykom en toe
links geswaai het om dié voertuig
te vermy en toe in die
vragmotor se eie baan teen hom gebots het.
[18] Daar is dus twee
botsende weergawes van die ongeluk. Om nalatigheid te kan bepaal
word, moet eers bepaal word watter een van
die twee weergawes aanvaar
moet word. In COHEN AND ANOTHER v LENCH AND ANOTHER, 2007(6) SA 132
(SCA) te 136F, par. [9] is bevestig
dat mondelinge getuienis slegs
behoorlik beoordeel kan word deur dit te toets teen die inherente
waarskynlikhede. (Sien in dié
verband ook: BODY CORPORATE OF
DUMBARTON OAKS v FAIGA 1999(1) SA 975 (SCA) en MEDSCHEME HOLDINGS
(PTY) LTD AND ANOTHER V BHAMJEE
2005(5) SA 339 (SCA) te 345A-B in
par. [14]).
[19] Die twee getuies
namens die eiseres het mekaar se getuienis in alle wesenlike opsigte
gestaaf. Beide getuies het selfversekerd
en openhartig voorgekom en
nooit geaarsel of hulself weerspreek nie. Albei het tydens
kruisondervraging by hul weergawes gebly
wat die indruk van
geloofwaardigheid versterk het.
[20] Die versekerde
bestuurder se weergawe, daarenteen, was gekenmerk deur vaagheid,
aanpassings, weersprekings en onwaarskynlikhede
en kon sekere
gedeeltes daarvan net nie logies bymekaar uitkom nie. Sy getuienis
het dus ongeloofwaardig voorgekom.
[21] Die indruk dat hy ‘n
storie versin, is versterk deurdat hy duidelik sy weergawe aangepas
en probeer plooi het om ‘n
gunstiger prentjie van sy eie
optrede te skep. In teenstelling met die stelling aan die eiseres dat
hy links beweeg het om spasie
te maak om te draai en met sy eie
getuienis dat hy links gegaan het toe hy weens die botsing beheer
verloor het, het hy byvoorbeeld
ontken dat hy enigsins links gegaan
of uit sy reguit lyn van beweging in die linker-teerbaan uitbeweeg
het voor of na die botsing.
Die stelling aan die eiseres se getuies
dat hy die flikkerlig aangeskakel het waar die voertuie op die fotos
is, dus net duskant
die plaas-afdraai, het hy ook aangepas deur te
getuig dat hy het dit reeds op die afdraand van die brug aangeskakel
en toe aangegou
het. Ook sy aanvanklike bewering dat hy gesien het en
weet die flikkerlig was aan, het hy later gekwalifiseer deur te erken
hy
het nie self gekyk nie, maar bloot op die plaas-werktuigkundiges
vertrou dat hulle sou gesorg het dat dit werk.
[22] Oor die aankomende
voertuig kon hy geen geloofwaardige inligting gee nie. Hoewel hy
beweer het dit was so naby dat hy nie kon
draai nie en ten spyte
daarvan dat hy beweer het dat hy so op dié voertuig
gekonsentreer dat hy glad nie die bakkie sien
verbykom het nie, kon
hy glad nie sê waar dié voertuig was voor of toe hy die
slag van die botsing gehoor het nie.
Hy het beweer dit was wit, wat
hy glo gesien het toe die voertuig by hom verby is, maar kon glad nie
onthou wanneer dit by hom
verby is, waar die bakkie was toe dit verby
is, of wat daarvan geword het nie, net dat dit in sy eie baan verby
is. Hoewel hy self
getuig het dat die pad nie breed genoeg is vir
drie voertuie om langs mekaar verby te kom nie, kon hy nie verklaar
waarom die beweerde
aankomende voertuig dan nie ook in die botsing
betrokke was nie.
[23] Ongeag die stelling
aan die eiseres dat die vragmotor se linkerwiele op die gruisskouer
was om sy draai wyd te maak, het die
versekerde bestuurder beweer sy
wiele was nooit links van die pad nie. Hy het volgehou dat hy van die
brug af tot hy ‘n ent
na die botsing waar hy regs afgedraai
het, deurgaans in ‘n reguit lyn in sy eie baan voortgery het,
wat natuurlik teenstrydig
was met sy aanvanklike getuienis dat dat hy
ná die botsing beheer verloor het en toe links beweeg het.
[24] Die
bakkie-bestuurder se getuienis oor die punt van botsing op die
middellyn regoor die plaashek is nie in kruisondervraging
betwis nie.
Nogtans het die versekerde bestuurder beweer die botsing het reeds ‘n
hele ent vóór die hek in
die linkerbaan plaasgevind
terwyl hy nog stadig reguit in sy baan aangery en vir die aankomende
voertuig gewag het om te kan draai.
Hy kon egter nie aandui hoe ver
vóór die plaashek dit was nie: eers het hy gesê
ver, toe naby, toe 50 m en
toe erken hy weet nie hoe ver 50 m is nie.
[25] Hy het ook beweer
dat hy wou rem “om die bakkie te help om voor hom in te kom”
maar dat dit reeds te laat was.
Later het hy erken dat hy glad nie
bakkie gesien het voor die slag nie en dat dit toe eers was wat hy
daaraan gedink het om te
rem.
[26 ] Hy het beweer dat
hy na die botsing weer beheer oor die vragmotor gekry het en toe nog
‘n ent reguit in die teerpad
aangery het voor hy regs gedraai
en deur die plaashek gery en dat hy net daarna op die regtergrasrand
daarvan gaan stilhou het
om uit die verkeer se pad te kom.
[27] Soos uiteengesit in
die gesag aangehaal in par. [18] hierbo, is dit egter ook nodig om
eksplisiet die inherente waarskynlikhede
van die twee weergawes te
ondersoek voor die een weergawe bo die ander aanvaar word.
[28] Eerstens hou die
versekerde bestuurder se bewering dat hy weens ‘n aankomende
voertuig nie regs gedraai het voor die
botsing nie, nie water nie.
Dit is hoogs onwaarskynlik dat die voertuig voor die botsing so naby
was dat hy nie kon draai nie en
dat hy dit so ernstig dopgehou het
dat hy nie eens die bakkie gesien verbykom het nie, en tog geen
konkrete inligting oor die voertuig
kan gee nie. Die enigste logiese
afleiding is dan dat daar op alle waarskynlikhede nie so ‘n
voertuig was nie, wat die weergawe
van die eiseres steun.
[29] Dié
gevolgtrekking word verder ondersteun deur die feit dat dit uiters
onwaarskynlik is dat ‘n aankomende voertuig
wat só naby
was dat die bakkie na links moes swenk om uit sy pad te kom, ‘n
botsing met die bakkie sou kon vryspring
sonder om van die pad af te
beweeg. Dit is gemeensaak dat die pad daar nie breed genoeg was vir
drie voertuie om langs mekaar verby
te gaan nie. Op die versekerde
bestuurder se weergawe het hy deurentyd met die hele vragmotor binne
die linkerbaan gebly: per noodwendige
implikasie moes die bakkie dan
in die regterbaan gery het om hom verby te steek. Terselfdertyd het
hy egter ook beweer die aankomende
voertuig het in die regterbaan
gebly terwyl dit by hulle verby is. Op dié weergawe sou bakkie
en die aankomende voertuig
dan albei in die regterbaan wees en sou ‘n
botsing tussen die bakkie en die aankomende voertuig onafwendbaar
wees as nóg
die vragmotor nóg die aankomende voertuig
uit hul bane gewyk het.
[30] Tweedens is die
versekerde bestuurder se bewering dat hy nie voor die botsing regs
gedraai het nie in die bepaalde omstandighede
uiters onwaarskynlik.
Dit is naamlik hoogs onwaarskynlik dat die impak op sy
regter-voordeur, -wiel en -buffer wat hom op sy eie
weergawe beheer
laat verloor het, nie sou veroorsaak het dat hy dan links sou swaai
nie. Netso onwaarskynlik is dit dat hy daarna
ongestoord in die
linkerbaan sou bly aanry en dan ‘n ent verder steeds by die
plaaspad indraai en die verdere 100 en 150
meter ry voor hy op die
regtergrasrand van die plaaspad gaan stilhou “om nie in die pad
van ander voertuie te wees nie”.
Dit is veel meer waarskynlik,
soos in argument namens die eiseres voorgehou, dat hy reeds na regs
gedraai het voor die botsing
en sy momentum hom deur die hek
voortgedryf het tot waar hy op die regterkant van die plaaspad tot
stilstand gekom het.
[31] Derdens is dit hoogs
onwaarskynlik dat die bakkie-bestuurder op ‘n sperstreep sou
verbygaan as die vragmotor se regter-flikkerlig
wel reeds vanaf die
brug aan was en daar boonop ‘n aankomende voertuig so naby was
dat hy skielik na links moes swaai om
dit te vermy.
[32] Met inagneming van
die geloofwaardigheid van die getuies en die waarskynlikhede, meen ek
dat die botsing wesenlik plaasgevind
het op die wyse soos die eiseres
en die bakkie-bestuurder getuig het, naamlik dat die versekerde
bestuurder sonder waarskuwing
skielik skerp na regs voor hulle oor
die pad gedraai het terwyl hulle besig was om die vragmotor verby te
steek en dat daar geen
aankomende voertuig was wat enige invloed op
die gebeure gehad het nie.
[33] Ek bevind dus dat
die versekerde bestuurder se weergawe só onwaarskynlik is dat
dit nie aanvaar kan word nie en aanvaar
die weergawe van die eiseres
se getuies.
[34] Die vraag op grond
van die bogemelde bevinding is dus of die versekerde bestuurder in
die omstandighede nalatig was. Aan die
hand van die redelike
man-toets in S v OLIVIER, 1969(4) SA 78 (N) moet dus vasgestel word
of dit in die bepaalde omstandighede
en op daardie bepaalde tydstip
vir hom veilig was om regs te draai.
[35] Dit is geykte reg
dat ‘n regsdraai-beweging inherent gevaarlik is omdat die
voertuig oor die baan van aankomende en agtervolgende
verkeer moet
beweeg. Ek stem saam met die beslissing in WELF v CHRISTNER,
1976 (2)
SA 170
(NPD) te 174 A – B dat sodanige bestuurder ‘n
besondere plig het om die regsdraai op ʼn veilige manier te doen.

In dié beslissing word ook die beslissing in S v OLIVIER,
supra,
bevestig dat ʼn flikkerlig nie so ‘n
bestuurder onthef van sy plig om eers seker te maak dat dit veilig is
om te draai
nie. In BATA SHOE,
1977 (4) SA 16
(WLD) te 21 A – C
is nie net beslis dat die persoon wat regsdraai verplig is om
duidelik en betyds te wys dat hy gaan draai
nie, maar ook dat hy
verplig is om nie te draai voor dit veilig is om dit te doen nie.
[36] Ek stem ook saam met
Miller, J, in S v Olivier,
supra,
dat ‘n bestuurder van
‘n stadigbewegende voertuig op ‘n oop deurpad wat
kort-kort deur vinniger voertuie verbygesteek
word, ‘n groter
plig het om te verseker dat agtervolgende voertuie sy draai-tekens
gesien en daarop gereageer het as een
in ‘n besige straat in ‘n
beboude gebied waar voertuie kort-kort in dwarsstrate afdraai en van
die agtervolgende voertuie
verwag kan word om daarop bedag te wees.
[37] In POTGIETER v AEG
TELEFUNKEN (EDMS) BPK 1977(4) SA 3 (O) is tereg beslis dat die
bestuurder wat regs draai ‘n wesenlike
plig het om ‘n
behoorlike uitkyk te handhaaf en nie sy draaibewering uit te voer op
‘n tyd en op ‘n wyse wat
ander motoriste in gevaar stel
nie en dat die agtervolgende motoris sou kon aanvaar dat hy so sou
optree.
In casu
het die versekerde bestuurder erken hy het die
bakkie reeds vroeër agter hom gesien. Hy het ook beaam dat die
bakkie vinnig
gery het. Hy het voorts beweer hy het op die brug al
die flikker- en remligte gebruik om die bakkie waarsku dat hy gaan
regsdraai.
Siende dat hy erken het hy het die bakkie nie weer gesien
voor hy die geluid van die botsing gehoor het nie, moes hy dus voor
of
op die brug alreeds gesien en besef het die bakkie kom vinnig
nader. Onder dié omstandighede, soos Miller, R, in S v
OLIVIER,
supra,
tereg opgemerk het, “
he would be
taking an unjustifiable risk if, without paying any further attention
to the movements of that vehicle, he were simply
to execute his
right-hand turn on the blithe assumption that the driver thereof had
seen and understood his signal and would heed
it.”
[38] Onder dié
bepaalde omstandighede waar ‘n agtervolgende voertuig besig was
is om die vragmotor vinnig in te haal,
en die bestuurder daarvan
bewus was daarvan, sou ‘n mens verwag het dat ‘n redelike
versigtige bestuurder eers sou
seker maak dat die voertuig nie besig
is om hom verby te steek nie voor hy regs oor die pad sou draai.
[39] Dit blyk uit die
versekerde bestuurder se eie weergawe dat hy dit nie gedoen het nie.
Selfs al sou hy wel sy flikkerlig aangehad
het, wat deur altwee
getuies vir die eiseres ontken is, moes of behoort hy te besef het
dat vinniger voertuie hom op dié
oop pad weens sy stadige
spoed sou of kon verbysteek selfs al sou hulle ‘n dan ‘n
verkeersoortreding begaan deur ‘n
aanmekaar sperstreep oor te
steek. (Sien: PAULEY v MARINE AND TRADE INSURANCE CO LTD
1964 (3) SA
370
(WLD) te 374). Hy kon dus nie maar bloot aanvaar het dat die
bakkie wel sy ligte gesien het en dat dit noodwendig sou wag om verby

te gaan tot hy sy draai voltooi het nie Sien: POTGIETER v AEG
TELEFUNKEN,
supra,
waarin telkens verwys word na sodanige
bestuurder se “primêre plig” om seker te maak dis
veilig voor hy draai.
Die versekerde bestuurder het beslis nie dié
plig nagekom nie en gedraai sonder om te verseker dat die bakkie op
sy waarskuwings
gelet en daarop gereageer het voor hy draai. (Sien:
BROWN v SANTAM INSURANCE CO LTD AND ANOTHER 1979(4) SA 370 (W)).
[40] Op die aanvaarde
weergawe was die versekerde bestuurder dus nalatig. Hy ken die pad en
weet dis ‘n deurpad was vinnige
verkeer dra. Hy het die bakkie
sien aankom en erken dat hy vinnig beweeg het terwyl hyself al van
die brug af baie stadig gery
het. Hy moes voorsien dat die bakkie by
hom sou verbygaan. Tog het hy geensins weer na hy die paar honderd
meter na die afdraaipad
op sy eie weergawe baie stadig afgelê
het, eers in sy spieël gekyk of die bakkie nie al besig is om
verby te gaan nie.
Op die aanvaarde weergawe het hy ook geensins
aangedui hy gaan draai nie. Sy regsdraaibeweging was dus ontydig,
onredelik en sonder
waarskuwing en dus nalatig.
[41] Hoewel die
versekerde bestuurder beweer het dis nie hy wat die botsing
veroorsaak het nie maar wel die bakkie wat volgens hom
gevaarlik
verbygesteek het op die sperstreep, het hy geensins aangedui dat hy
die aanname gemaak het dat die bakkie die wet sou
gehoorsaam het en
dat hy daarop gereageer het nie. Dit kon hom dus nie van nalatigheid
onthef nie.
[42] Op die aanvaarde
weergawe was hy dus duidelik nalatig deur die draaibeweging uit te
voer sonder om seker te maak dat dit met
veiligheid gedoen kan word
en was daar ongetwyfeld ‘n kousale verband tussen sy
nalatigheid en die botsing. Dit is in die
lig van die bepaalde eis
onnodig om te bepaal of die bakkie-bestuurder ook nalatig was.
DERHALWE WORD DIE
VOLGENDE BEVEL GEMAAK:
1. Die verweerder is
aanspreeklik vir die eiseres se bewese of ooreengekome skade.
2. Die Verweerder is ook
aanspreeklik vir die eiseres se kostes tot op datum hiervan.
______________________
H MURRAY Wnd R
Namens die Eiseres: Adv M
Steenkamp
In opdrag van:
Symington & de Kok
Prokeurs
BLOEMFONTEIN
Namens die Verweerder:
Adv A Kitching
In opdrag van:
Honey Prokureurs
BLOEMFONTEIN