S v Williams (14/09) [2012] ZANCHC 47 (14 September 2012)

70 Reportability
Criminal Law

Brief Summary

Criminal Law — Appeal — Incomplete record of proceedings — Appellant convicted of theft but record of trial proceedings found to be deficient due to faulty recording equipment — Appellant's right to a fair appeal compromised — Appeal upheld and conviction set aside. The appellant was convicted of sheep theft in the Victoria-West Magistrate's Court and sentenced to a fine or imprisonment. He appealed against the conviction, but the trial record was incomplete due to poor audio quality, making it impossible to reconstruct the proceedings. Both the trial magistrate and prosecutor were unable to assist in reconstructing the record, and the appellant's legal representation had limited notes. The legal issue was whether the incomplete record prevented a fair consideration of the appeal. The court held that the deficiencies in the record compromised the appellant's right to a fair appeal, leading to the conclusion that the conviction must be set aside.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley
>>
2012
>>
[2012] ZANCHC 47
|

|

S v Williams (14/09) [2012] ZANCHC 47 (14 September 2012)

Rapporteerbaar:
Ja / Nee
Sirkuleer
onder Regters: Ja / Nee
Sirkuleer
onder Landdroste: Ja / Nee
Sirkuleer
onder Streeklanddroste: Ja / Nee
IN DIE Hoë HOF
VAN SUID-AFRIKA
(Noord-Kaapse Hoë
Hof, Kimberley)
Saak No: 14/09
Saak Aangehoor:
10/09/2012
Datum gelewer:
14/09/2012
In
die saak tussen:
N W Williams
............................................................................................
Appellant
en
Die Staat
................................................................................................
Respondent
Coram: Williams et
Olivier R
UITSPRAAK
Olivier R:
Die appellant het in
die Landdroshof te Victoria-Wes tereggestaan op ʼn aanklag van
diefstal met inagneming van die bepalings
van Wet 57 van 1959, met
ander woorde kortweg veediefstal. Dit is hom ten laste gelê
dat hy ʼn skaap gesteel het. Die
appellant se pleit van
onskuldig ten spyt, is hy op 15 Oktober 2008 skuldig bevind en
gevonnis tot ʼn boete van R1 000,00
of 3 maande
gevangenisstraf, welke vonnis in die geheel voorwaardelik opgeskort
is. Die appellant kom nou met verlof van die
landdros in hoër
beroep teen sy skuldigbevinding.
Die probleem is egter
dat die verrigtinge nie volledig getranskribeer is nie. Die
getranskribeerde oorkonde wemel van aantekeninge
dat die verrigtinge
daar onhoorbaar was en nie getranskribeer kon word nie. ʼn
Skrywe van die instansie verantwoordelik vir
die transkripsie,
Transcription Africa, lui soos volg:

Die
opnames in hierdie aangeleentheid was uiters swak. Nie al die kanale
neem korrek op nie. Die mikrofone blyk buite werking te
wees, vandaar
al die onhoorbare gedeeltes. Die oorkonde is na die beste van die
transkribeerder se vermoë getranskribeer.

Dit blyk nou dat ʼn
rekonstruksie van die betrokke gedeeltes ook nie moontlik gaan wees
nie. Die landdros en aanklaer het
nie meer enige notas nie en het
beide onder eed verklaar dat hulle nie ʼn bydrae tot ʼn
rekonstruksie sou kon lewer nie.
Die prokureur wat
namens die appellant die verhoor behartig het, is die enigste
persoon wat nog oor notas beskik. Dit is egter
slegs, in die geval
van die staatsgetuies, van hulle hoofverhoor, en in die geval van
die appellant en sy getuie van hulle getuienis
onder kruisverhoor.
Dié notas is ongelukkig nie getik nie en ons kon nie werklik
daarin slaag om dit te lees nie. Dit
sal egter na my oordeel nie
werklik ʼn doel dien om dit nou te laat tik nie, of om te gelas
dat dit aan die landdros en die
aanklaer beskikbaar gestel word om
hulle insette daaroor te verkry in ʼn poging om so die
ontbrekende gedeeltes wat wel deur
die betrokke notas gedek sou
word, te probeer rekonstrueer, nie. Daar sal dan nog altyd
substantiewe gedeeltes van die verrigtinge
bly wat nie
getranskribeer kan word nie, insluitende veral dan die kruisverhoor
van die twee staatsgetuies.
Mnr Hollander, die
advokaat vir die respondent, het reeds in vroeëre betoogshoofde
al toegegee dat hy, weens die gebrekkige
oorkonde, nie eers in staat
sou wees om behoorlik te antwoord op die argumente vir die appellant
nie.
Ook namens die
appellant is die betoog dat die appél bloot weens die
gebrekkige oorkonde al te behoort te slaag.
Ek meen ook dat dit
nie moontlik is om op die oorkonde, in hierdie vorm en met hierdie
gebreke, die appél behoorlik te
oorweeg nie. ʼn Enkele
een of enige van ʼn aantal van die ontbrekende antwoorde van die
staatsgetuies in kruisverhoor
kan, byvoorbeeld, ʼn kardinale rol
speel by beoordeling van of die landdros korrekte feite- en
geloofwaardigheidsbevindinge
gemaak het.
Die appellant het ʼn
grondwetlike reg om, waar daar destyds aan hom verlof verleen is, sy
appél voort te sit en dit
te laat bereg. Die betrokke
owerhede, aan die ander kant, het die verpligting om toe te sien dat
rekords van sake so gemaak en
bewaar word dat sulke regte uitgeoefen
kan word. Dit het nie hier gebeur nie.
Daar is geen
aanduiding dat die appellant enige skuld hoegenaamd het aan hierdie
toedrag van sake nie. Die skrywe van Transcription
Africa maak dit
duidelik dat die opname-toerusting foutief was; iets wat nie voor
die deur van die appellant gelê kan word
nie.
Dit sou in elk geval
ook nie gesê kon word dat die appellant met sy appél
gesloer het en so bygedra het tot die feit
dat die landdros en die
aanklaer nou ook nie meer kan help met ʼn rekonstruksie nie. Dit
blyk dat verlof tot appél
alreeds op 19 Desember 2008,
ongeveer 2 maande ná die skuldigbevinding en vonnis, aan die
appellant toegestaan is. Sy
prokureur het reeds op 22 Desember 2008
die Klerk van die Landdroshof versoek om behulpsaam te wees met die
verkryging van die
oorkonde.
Dit blyk egter dat die
bogemelde skrywe van Transcription Africa, gerig aan die Klerk van
die Hof, reeds op 20 November 2008 gedateer
is. Dat die oorkonde
gebrekkig was, moes dus van toe af al duidelik gewees het. Daar is
egter geen aanduiding dat enigiets toe
daaraan gedoen is nie.
Volgens die lêerinhoud
sou die appél toe op 11 Mei 2009 aangehoor word. Dit blyk nie
duidelik wat op daardie datum
gebeur het nie, maar op die een of
ander stadium is daar egter versoek dat gepoog moes word om die
ontbrekende gedeeltes te rekonstrueer.
Presies wanneer dit was en
wat daarna gebeur het, blyk ook nie uit die lêer nie.
Die volgende wat wel
blyk, is ʼn skrywe van die appellant se destydse, en huidige,
prokureur, wat gedateer is 7 April 2012,
en waarvan die inhoud dit
toe duidelik gemaak het dat ʼn volledige, of selfs naastenby
volledige, rekonstruksie nie moontlik
gaan wees nie.
Dié
omstandighede laat eintlik nie hierdie Hof met veel van ʼn keuse
nie. Dit blyk gemenesaak te wees dat die twee
staatsgetuies elk
meerdere strydige verklarings afgelê het. Op die oog af was
daardie strydighede argumenteerbaar wesenlik,
maar minstens sou die
antwoorde in kruisverhoor oor, onder andere, daardie strydighede
uiters relevant gewees het.
Alhoewel dit moontlik
nie in die omstandighede billik sou wees om finaal hieroor tot ʼn
bevinding te kom nie, lyk ook dit
wat wel gelees kan word van die
res van hierdie getuies se getuienis nie op die oog af na baie
duidelike en probleemvrye getuienis
nie.
Dit volg dus dat die
appél moet slaag en dat die skuldigbevinding, en gevolglik
ook die vonnis, tersyde gestel sal moet
word.
Dit spreek vanself dat
hierdie tipe gebeure en gevolg nie bevorderlik is vir die
regspleging nie. Ek aanvaar egter dat die probleem
met die
toerusting op Victoria-Wes teen hierdie tyd al opgelos sou wees en
ek meen dus dat verdere stappe van ons kant in hierdie
verband nie
nodig is nie.
Die tersydestelling
van die skuldigbevinding sal natuurlik ook nie op die meriete wees
nie en dit sou dus teoreties gesproke die
Staat vrystaan om weer ʼn
vervolging in te stel teen die appellant.
In die omstandighede
maak ek dan die volgende bevel hierin:
Die appél
slaag en die skuldigbevinding en vonnis word tersyde gestel.
_____________________
C J OLIVIER
REGTER
NOORD-KAAPSE
AFDELING
Ek stem saam.
______________________
C C WILLIAMS
REGTER
NOORD-KAAPSE
AFDELING
Nms Appellant: Adv A G van Tonder
In opdrag van: Len Coetzee
Prokureurs, KIMBERLEY
Nms Respondent: Adv Q Hollander
Namens: Direkteur van Openbare
Vervolgings, KIMBERLEY