About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley
>>
2012
>>
[2012] ZANCHC 43
|
|
Steenkamp v Janse van Rensburg (2130/2010) [2012] ZANCHC 43 (6 September 2012)
VERSLAGWAARDIG
JA/NEE
SIRKULEER
ONDER REGTERS JA/NEE
SIRKULEER
ONDER LANDDROSTE JA/NEE
IN DIE HOË HOF
VAN SUID-AFRIKA
(NOORD-KAAP HOË
HOF, KIMBERLEY)
SAAK NO.: 2130/2010
Datum aangehoor:
09/03/2012
Datum van
uitspraak: 06/09/2012
In die saak tussen:
PAUL CHRISTIAAN BOTHA
STEENKAMP
....................................
EISER
en
F G JANSE VAN RENSBURG
..........................................
VERWEERDER
CORAM: C.C WILLIAMS R:
U I T S P R A A K
WILLIAMS R:
Die eiser het aksie
ingestel teen die verweerder ten opsigte van twee eise – die
eerste eis spruit voort uit ‘n beweerde
mondelinge ooreenkoms
tussen die partye aangegaan gedurende Augustus 2006 en die tweede
eis is voortspruitend uit ‘n skriftelike
ooreenkoms aangegaan
tussen die partye op 30 Augustus 2006.
Die dagvaarding is op 11
Januarie 2011 op die verweerder beteken waarna hy op 25 Januarie
2011 ‘n eksepsie geliasseer
het teen die Besonderhede
van Vordering. ‘n Kennisgewing van wysiging is hierna deur die
eiser geliasseer, maar nadat die
verweerder ‘n beswaar teen die
voorgenome wysiging geliasseer het, is daar nie voortgegaan met ‘n
aansoek om wysiging
nie en het die eiser se Kennisgewing van sy
voorneme om te wysig gedateer 2 Maart 2011 dus verval.
Nadat die verweerder se
eksepsie reeds ter rolle geplaas is vir 9 Maart 2012 het die eiser
op 16 Februarie 2012 weer ‘n
Kennisgewing van voorneme om sy
besonderhede van vordering te wysig geliasseer en het hy ook kennis
gegee dat indien daar weer
‘n beswaar teen die voorgenome
wysiging is, aansoek gedoen sal word op 9 Maart 2012, by die aanhoor
van die eksepsie, vir
die toestaan van sodanige wysiging.
Die verweerder het
weereens ‘n Kennisgewing van beswaar teen die voorgenome
wysiging geliasseer.
Die aansoek om wysiging
en die eksepsie is op dieselfde geleentheid aangehoor en moet die
aansoek om wysiging beoordeel word in
die konteks van die eksepsie.
Ek moet net terloops noem dat mnr Stroh SC, wat namens die
verweerder verskyn het, aanvanklik die
houding ingeneem het dat
aangesien die aansoek om wysiging nie in die vorm van ‘n
Kennisgewing van Mosie met gepaardgaande
eedsverklaring is nie, dit
nie behoorlik voor die hof is nie, en dat die eksepsie beslis moet
word op die stukke soos dit staan.
Alhoewel mnr Stroh vir doeleindes
van die finalisering van die aangeleentheid
toegegee het dat die
aansoek om wysiging, in die vorm soos wat dit voor die hof is,
aangehoor kan word, is die posisie egter dat
die aansoek om wysiging
wel behoorlik voor die hof is. Die aansoek om wysiging is ‘n
interlokutêre aansoek soos beoog
in Hofreël 6(11) en
behoef nie ‘n Kennisgewing van Mosie met ‘n
eedsverklaring nie. Sien
Swartz v Van der Walt T/A Sentraten
1998(1) SA 53 (WLD)
56 I-58B. Die aansoek om wysiging is dus
behoorlik voor die hof.
Die verweerder se
beswaar teen die Besonderhede van Vordering is dat dit bewerings
ontbreek wat nodig is om die aksie te staaf
en dat beide Eis 1 en
Eis 2 nie ‘n skuldoorsaak openbaar nie.
Die besware teen Eis 1
is tweeledig en is eerstens;
6.1 Dat die eiser op ‘n
mondelinge ooreenkoms steun wat teenstrydig en regtens onbestaanbaar
is met die bepalings van klousule
16.1 van die skriftelike
ooreenkoms, ‘n verbodsklousule wat as volg lees:
“
16.1
Hierdie
ooreenkoms bevat die gehele ooreenkoms tussen die partye en geen
wysiging daarvan of toevoeging daartoe sal van enige krag
wees nie
tensy dit op skrif gestel is en deur al die partye onderteken is.”
En tweedens; dat die
beweerde mondelinge ooreenkoms nie handel met die okkupasie van die
eiendom en/of die
beëindiging daarvan
nie. Dat die eiser ook nie beweer dat die verweerder ingevolge die
mondelinge ooreenkoms nie geregtig was
om op te tree soos beweer nie
en dat die eiser se Eis 1 gevolglik nie ‘n skuldoorsaak
openbaar nie.
Die relevante gedeelte
van die Besonderhede van Vordering lees as volg:
“
EIS
1:
Op of ongeveer
Augustus 2006 en te Upington het Eiser en Verweerder mondelings
ooreengekom soos hieronder uiteengesit. By die onderhandelinge
by die
aankoop van Gedeelte 959 (gedeelte van plot 943) van die plaas Karos
Nedersetting, gehou kragtens Akte van Transport T99672/99,
groot 6
000ha, deur die Verweerder vanaf Eiser het die partye as volg
ooreengekom:
4.1
Eiser wou
R1 500 000,00 hê vir die voormelde plaas, maar die Verweerder
het aangedring op ‘n korting van R400 000,00;
4.2
Die partye
het toe verder ooreengekom dat Eiser aan Verweerder R400 000,00 op
die koopprys van R1 500 000,00 sou afkom. As teenprestasie
hiervoor
sou Verweerder dan aan Eiser 5 jaar weidingregte op die betrokke
plaas gee, teen helfte van die drakrag van die plaas;
4.3 Eiser het in terme
van hierdie mondelinge ooreenkoms reeds volledig presteer deur die
Verweerder R400 000,00 afslag op die prys
van die plaas toe te gee en
gevolglik die voormelde plaas vir R1 100 000,00 te verkoop. Sien
Aanhangsel “A” hierby
aangeheg.
Gedurende Mei of
Junie 2007, het Eiser ‘n skrywe ontvang vanaf Verweerder se
prokureurs, en in opdrag van die
Verweerder, om binne 3
weke die voormelde plaas te verlaat en om nie later nie as 30 Junie
2007, alle roerende bates van die Eiser
van die plaas te verwyder en
dat Eiser geen toegang tot die plaas verder sal hê nie.
Hierdie handelswyse
van die Verweerder het die Eiser aanvaar as kontrakbreuk van
voormelde mondelinge ooreenkoms en sy goedere
van die plaas
verwyder. As gevolg van gemelde kontrakbreuk deur die Verweerder,
het die Eiser skade gely in die bedrag van
R1 300 000,00.”
Die eiser se beoogde
wysiging ten opsigte van Eis 1 lees as volg:
“
1.
Eiser is van voorneme
om sy Besonderhede van Vordering in Eis 1 te wysig en wat hy hiermee
doen deur na Par. 4.2 daarvan in te voeg
die volgende paragraaf:
“
4.2.1
Tydens
die sluiting van die skriftelike ooreenkoms, Aanhangsel “A”
was Eiser en Verweerder en Verweerder se vader, wie
‘n
prokureur is te die verteenwoordiger firma Haasbroek en Boezaart, in
die aand teenwoordig te Verweerder se huis in Upington.
Die kontrak,
Aanhangsel “A” is te die Verweerder se woning op skrif
gestel.
4.2.2
Eiser en
Verweerder het die aand verder ooreengekom dat Verweerder se vader
die bepalings soos uiteengesit in paragraaf 4.1 en 4.2
hierbo op
skrif sou stel en dat die partye as gevolg daarvan dat dit reeds laat
was, dit later sou onderteken en dat dit deel sou
vorm van Aanhangsel
“A”.
4.2.3 Eiser het na ‘n
redelike tyd, Verweerder en sy vader gekontak en navraag gedoen oor
die gewysigde skriftelike ooreenkoms
soos hierbo vermeld om
geonderteken te word. Verweerder se vader en Verweerder het gemeld
dat Verweerder nie meer belangstel om
die gewysigde skriftelike
ooreenkoms te onderteken en/of na te kom, en/of op te stel nie, en
het Verweerder gevolglik in die vooropstelling
op ‘n
bedrieglike wyse die Eiser beinvloed om Aanhangsel “A” te
onderteken en voorgehou dat ‘n verdere
gewysigde skriftelike
ooreenkoms onderteken en gesluit sal word met die bepalings wat
paragraaf 4.1 en 4.2 hierbo vermeld, bevat.
4.2.4 Eiser sal tydens
die verhoor van hierdie aksie, na die aanhoor van getuienis, aansoek
doen vir rektifikasie van die skriftelike
ooreenkoms soos uiteengesit
in Aanhangsel “A” om die werklike bedoeling tussen die
partye soos uiteengesit in paragraaf
4.1 en 4.2 hierbo, te vervat ten
spyte van die bepalings van die paragraaf 16.1 van Aanhangsel “A”.
2.
EISER is van voorneme
om sy Besonderhede van Vordering te wysig en wat hy hiermee doen deur
in par. 4.3, deur na die woord “ooreenkoms”
die volgende
in te voeg:
“
,wat
op skrif moes gewees het,”
EISER is van voorneme
om sy Besonderhede van Vordering te wysig en wat hy hiermee doen deur
in par 4.5, na die woord “mondelinge
ooreenkoms” in te
voeg die volgende:
“
,wat
op skrif gestel moes gewees het,”
4.
Eiser is van voorneme
om sy Besonderhede van Vordering te wysig, en wat hy hiermee doen,
deur die smeekbede van Eis 1, die volgende
paragraaf aan die begin in
te voeg;”
“
A.
Rektifikasie van die ooreenkoms soos hierbo uiteengesit en dan;”
Die verweerder se
beswaar ten opsigte van die beoogde wysiging wat betref Eis 1 is die
volgende:
9.1 Die eiser se wysiging
handel geensins met paragrawe 1.4 tot 1.7 van die verweerder se
eksepsie wat betrekking
het op die eiser se
eerste eis nie. (Hierbo-in saamgevat in paragraaf 6.2)
9.2 Die eiser vra vir
rektifikasie van die koopkontrak maar sit in sy wysiging geensins die
bewoording uiteen van die ooreenkoms
soos wat dit volgens die
rektifikasie moet lees nie.
9.3 Die eiser se wysiging
is gevolglik ook vaag en verwarrend.
Wat opvallend is omtrent
die beswaar ten opsigte van die wysiging is dat dit nie spesifiek
beroep maak op klousule 16.1 van die
skriftelike ooreenkoms nie. Die
punt was egter breedvoerig voorgehou gedurende betoog.
Die situasie is egter
dat daar in die beoogde wysiging ‘n bewering van bedrog gemaak
word. Bedrog is 'n erkende uitsondering
op die beginsel neergelê
in
SA Sentrale Ko-0p Graanmaatskappy Bpk v Shifren en Andere
1964(4) SA 760(A) en sal Howe nie ‘n beroep op ‘n
verbodsklousule handhaaf in gevalle waar dit bedrog sou bevorder
nie. Sien die uitspraak van Cameron AR in
Brisley v Drotsky
2002(4) SA 1 (SCA) te 34F.
Die beswaar dat die
mondelinge ooreenkoms nie regtens bestaanbaar is met klousule 16(1)
van die skriftelike ooreenkoms nie, sal
in die lig van die beoogde
wysiging dus nie meer kan staan nie.
Die probleem wat die
eiser egter nog steeds mee sit is dat die beoogde wysiging, wat die
invoeging van paragrawe 4.2.1 tot 4.2.3
ten doele hê, nog
steeds nie die terme van die mondelinge ooreenkoms genoegsaam
uiteensit om ‘n skuldoorsaak te openbaar
nie. Al wat die
beoogde paragrawe 4.2.1 tot 4.2.3 aanspreek is die omstandighede
waaronder die mondelinge ooreenkoms aangegaan
is en nie die
besonderhede van die mondelinge ooreenkoms nie. Die wysiging spreek
dus nie die verweerder se beswaar aan nie.
13. Wat die beoogde
wysiging ten opsigte van rektifikasie betref moet die volle terme van
die gerektifiseerde gedeelte van die ooreenkoms
uiteengesit word en
kan daar nie slegs verwys word na rektifikasie om “
die
werklike bedoeling tussen die partye soos uiteengesit in paragraaf
4.1 en 4.2 hierbo, te vervat nie”
. Behalwe vir die feit dat
paragrawe 4.1 en 4.2 eksipieerbaar is deurdat dit nie ‘n
skuldoorsaak daarstel nie, word daar vereis
vanaf ‘n eiser wat
vra om rektifikasie om die presiese bewoording van die wysiging wat
hy aanvra tot die skriftelike ooreenkoms
uit een te sit en nie slegs
die algemene strekking en effek daarvan nie. In
Levin v Zoutendijk
1979(3) SA 1145(W) te 1147 H – 1148 A sê Coetzee R
die volgende hieromtrent:
“
The
purpose of an action for rectification is to reform a written
document in a specific fashion and a wholesome practice has developed
over the years to draft the actual wording of the term omitted and to
pray that that be inserted at a suitable place in the writing.
An
example can be found in
Munnik and Munnik v
Sydney Clow & Co Ltd
1965 (4) SA 312
(T) at 314. It is essential
for any party to a written contract to know what the other party
contends regarding the actual wording
of the contract. Important
rights and obligations may arise or be affected by the form of a
written contract. Merely a general
description of the omitted terms
such as one finds in para 3 (b) and the prayer, is calculated to
embarrass the defendant, not
only in the course of the trial but if
this claim is eventually granted in this form, he is then left with a
written contract in
which there is a vague summary only of these
conditions. The very cause of action for rectification postulates
that the parties’
agreement or common intention was clear and
unmistakable on those aspects in respect whereof the writing is to be
reformed. Cf
Anglo-African Shipping Co (Rhod) (Pvt) Ltd v Baddeley
and Another 1977(3) SA 236(R) at 241.”
14. Die beoogde wysiging
om ‘n eis om rektifikasie daar te stel voldoen nie aan die
bogenoemde vereistes nie en kan dus ook
nie toegelaat word nie.
15. Ten opsigte van Eis 2
is die eksepsie gerig spesifiek teen paragraaf 9.4 van die
Besonderhede van Vordering waarin die eiser
beweer dat daar direkte
teenstrydighede is tussen sekere klousules van die skriftelike
ooreenkoms, dat daar dus geen wilsooreenstemming
tussen die partye
was ten opsigte van ‘n wesenlike term van die ooreenkoms nie en
dat daar gevolglik geen koopkontrak tot
stand gekom het nie.
16. Die bewerings gemaak
in paragraaf 9.4 van die Besonderhede van Vordering word volgens die
verweerder nie ondersteun deur die
betrokke klousules van die
skriftelike ooreenkoms nie en is ook teenstryding met die ander
bewerings gemaak in die
Besonderhede van
Vordering. Mnr Strydom namens die eiser het geredelik toegegee dat
paragraaf 9 en spesifiek paragraaf 9.4 van die
Besonderhede van
vordering nie ‘n skuldoorsaak openbaar nie en dat paragraaf 9
dus geskrap kan word. Ek hoef dus niks verder
hierby te voeg nie.
17. Wat die koste van die
aansoek betref het mnr Strydom ook toegegee dat sou ek die eksepsie
handhaaf, dat die verweerder geregtig
sou wees op ‘n kostebevel
wat insluit die koste van ‘n senior advokaat. Ek meen die
toegewing is tereg gemaak.
Die volgende bevele
word gemaak:
Die eiser se aansoek
om wysiging word van die hand gewys.
Die verweerder se
eksepsie word handhaaf.
Die eiser word verlof
verleen om binne 14 dae na hierdie bevel sy Besonderhede van
Vordering te wysig.
Die eiser word gelas
om die verweerder se koste te betaal wat insluit die koste van ‘n
senior advokaat.
_________________________
C.C WILLIAMS
REGTER
Vir Eksipient (Verweerder)
: Adv.J.H. Stroh SC
i.o.v Elliot, Maris,
Wilmans & Hay
Nms. Respondent
(Eiser)
: Adv Strydom
i.o.v Haarhoffs Ing