About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley
>>
2012
>>
[2012] ZANCHC 45
|
|
Groenewald NO en Ander v Vrystaat Mielies (Edms) Bpk (1350/2012) [2012] ZANCHC 45 (24 August 2012)
Rapporteerbaar:
Ja /
Nee
Sirkuleer
onder Regters:
Ja
/ Nee
Sirkuleer
onder Landdroste: Ja /
Nee
Sirkuleer
onder Streeklanddroste: Ja /
Nee
IN DIE Hoë HOF
VAN SUID-AFRIKA
(Noord-Kaapse Hoë
Hof, Kimberley)
Saak No: 1350/2012
Saak Aangehoor:
17/08/2012
Datum gelewer: 24/08
/2012
In
die saak tussen:
A J Groenewald NO
...........................................................................
1ste
Applikant
P M Bester NO
...................................................................................
2de
Applikant
A Groenewald NO
..............................................................................
3de
Applikant
F Groenewald NO
..............................................................................
4de
Applikant
en
Vrystaat Mielies (Edms)
Bpk
.................................................................
Respondent
Coram: Olivier R
UITSPRAAK
Olivier R:
Die eerste tot vierde
applikante hierin is onderskeidelik mnre A J Groenewald, P M Bester,
A Groenewald en F Groenewald, in hulle
hoedanighede as trustees van
die Voordeel Trust (“
die Trust
”). Die eerste
applikant het te alle tersaaklike tye hiertoe die Trust
verteenwoordig, en hy is ook die deponent tot die
funderende en
repliserende verklarings namens die Trust.
Die respondent is
Vrystaat Mielies (Edms) Bpk, ‘n instansie wat ondermeer
betrokke is by die finansiering van die verbouing
van
landbougewasse.
Die applikante het op
3 Augustus 2012 op ‘n dringende grondslag aansoek gedoen om
tussentydse bevele, met onmiddellike werking,
dat die respondent
namens die Trust die bedrae van R4 miljoen en R2 706 499.00
betaal aan onderskeidelik Griekwaland-Wes
Korporatief Bpk (“
GWK
”)
en ABSA Bank Bpk (“
ABSA
) en dat die respondent dan op
die keerdatum redes moes aanvoer waarom die tussentydse bevele nie
bekragtig moes word nie en waarom
die respondent nie gelas moes word
om die koste van die aansoek te betaal nie.
Op aansoek van die
respondent is die aansoek egter toe uitgestel na 17 Augustus 2012
vir die liassering van antwoordende en repliserende
stukke. Die
verspilde koste van die uitstel is voorbehou vir latere beregting.
By die aanhoor van die aansoek was beide mnr van
Niekerk SC, namens
die applikante, en mnr P Zietsman, namens die respondent, dit eens
dat daardie kostes deel van die koste in
die aansoek behoort te
wees. Ek laat my dus nie op hierdie stadium verder uit oor die
omstandighede van die uitstel of daardie
koste nie en sal bloot so
‘n bevel maak.
Die
punt is namens die respondente geneem dat GWK en ABSA as partye
gevoeg moes gewees het. Die aansoekstukke en die uitstelbevel
is
egter op hulle beteken. Daar was nie op die datum van die aanhoor
van die aansoek verskyning vir enige van hulle nie. Ek kan
nie sien
hoe die uitslag van hierdie aansoek ‘n regsbelang van enige
van hulle nadelig sou kon raak nie
1
.
Selfs al sou hulle ook streng gesproke gevoeg moes gewees het, het
die betekening van die aansoekstukke en van die uitstelbevel
op
hulle enige risiko van benadeling verwyder
2
.
Die effek van die
uitstel was dat die applikante uiteindelik finale regshulp verlang
het, in die vorm van die voormelde bevele.
Die agtergrond hiertoe
is kortliks die volgende:
Gedurende November
2011 is ‘n skriftelike kontrak, getiteld “
HOOFOOREENKOMS:
KONTRAKGROEI PROGRAM
” en hierinverder na verwys as “
die
mieliekontrak
”, namens die partye onderteken. Die eerste
applikant het dit op 21 November 2011 namens die Trust
onderteken en
dit is op 25 November 2011 namens die respondent
onderteken. Dit het gehandel met die verlening van
produksiefinansiering
aan die Trust vir die verbouing van ‘n
mielie-oes.
Op 23 November 2011,
en dus nog voordat die mieliekontrak namens die respondent
onderteken is en tot stand kon kom, het die
eerste applikant ook
namens die Trust die respondent se “
TOPFIN KWOTASIE
NOMMER S12/342
” onderteken. Die kwotasie het direk
geslaan op die finansiering wat die Trust verlang het om die
mielie-oes te verbou.
In die kwotasie is
die vereiste gestel dat die Trust bepaalde sekuriteite in plek sou
stel.
Ingevolge die
bepalings van die mieliekontrak sou die terme van ‘n
sogenaamde handelskontrak deel word van die ooreenkoms
tussen die
partye rondom die finansiering van die mielie-oes.
Beide
die mieliekontrak en die handelskontrak bevat ‘n klousule
3
wat
soos volg lui:
“
Ons
Klant sedeer hiermee alle skulde aan hom verskuldig aan VM as
sekuriteit vir die betaling van alle verpligtinge van ons
Klant
teenoor VM, welke ontstaan uit enige bedrag reeds verskuldig of
enige bedrag wat in die toekoms verskuldig mag word
aan ons Klant
voortspruitend uit enige skuldoorsaak, niks uitgesluit nie.
”
Die woord “
Klant
”
verwys na die Trust en die afkorting “
VM
” na die
respondent.
Die
handelskontrak bevat voorts die volgende klousules
4
:
“
4.1
Dit word bevestig dat VM, ..., verplig is om die betrokke balans
aan die leners uit die opbrengs van die herverkoop van
die
Produkte aan derdes te betaal. VM sal geregtig wees om die
betaling van die Koopprys van die Produkte te hou op sterkte
van
die Vooruitbetalings, enige bedrag andersins verskuldig aan VM,
ander sessionarisse en enige ander ooreengekome krediteure.
...
Ons Klant sal
slegs geregtig wees op enige surplus nadat die Vooruitbetalings
vanaf die Koopprys afgetrek is en ander sessionarisse,
VM en enige
ander ooreengekome krediteur betaal is....
”
Dit is gemenesaak dat
die respondent aan die Trust geld voorgeskiet het vir die verbouing
van die mielie-oes en dat die Trust
op sy beurt weer mielies aan
die respondent gelewer het.
Intussen was die
Trust in litigasie gewikkel met GWK en op 23 Maart 2012 is by
ooreenkoms daarin ‘n bevel gemaak
ingevolge waarvan die
Trust, onder andere, teen 31 Julie 2012 aan GWK ‘n bedrag van
R4 miljoen sou moes betaal. Die eerste
applikant het toe hieroor
onderhandel met verteenwoordigers van die respondent en daar is
namens die respondent onderneem om
namens die Trust die betaling te
maak aan GWK, asook ‘n betaling aan ABSA. Dit is skynbaar in
geskil of hierdie onderneming,
soos namens die respondent
aangevoer, onderhewig gestel is aan die bestaan van ‘n
surplus op die mielierekening.
Daar
was ook in 2012 onderhandelinge tussen die Trust, weereens
verteenwoordig deur die eerste applikant, en die respondent
rondom
‘n soortgelyke
5
produksiefinansiering
kontrak vir die verbouing van ‘n koringoes. Die Trust het
ondermeer finansiering verlang vir die
aankoop van kunsmis vir
sodanige doeleindes. Dit is die applikante se saak dat daar tydens
hierdie onderhandelinge van die
kant van die respondent ‘n
onderneming gegee is om produksiefinansiering te verleen vir die
verbouing van ‘n koringoes.
Die respondent ontken dit. Ek
handel later hiermee.
Op 29 Mei 2012 het
die eerste applikant namens die Trust ‘n kontrak getiteld
“
LENINGSOOREEN-KOMS
” onderteken.
Ingevolge hiervan
sou die respondent aan die Trust die bedrag van R1 940 371.83
leen, welke bedrag die Trust benodig
het om die gemelde kunsmis
aan te koop.
Die
effek van klousules 4 tot 8 van die leningsooreenkoms sou wees
dat, indien die Trust se aansoek om produksie-finansiering
vir
die koring onsuksesvol sou wees, die volle bedrag van die lening
onmiddellik opeisbaar en betaalbaar sou word
6
.
Op 22 Junie 2012 het
die eerste applikant dan ook namens die Trust ‘n dokument
getiteld “
AANSOEK OM INSETFINANSIERING VIR ENTITEITE
”
onderteken, wat ‘n aansoek daargestel het om die voorsiening
van krediet vir die verbouing van ‘n koringoes.
Intussen
het sekere sekuriteite van die Trust
7
ten
gunste van die respondent ook in plek gekom. In die lig van wat
volg, is dit onnodig om uiteen te sit presies wat die aard
en
omvang daarvan was.
Die laaste van die
mielie-oes wat deur die Trust aan die respondent gelewer is, is op
27 Julie 2012 gelewer.
Op dieselfde datum
het die respondent ‘n skrywe gerig aan ABSA waarin aangebied
is om “
uit enige surplusfondse”
namens die Trust
‘n bedrag van R4 miljoen te betaal aan GWK, maar slegs indien
sekere verdere sekuriteite ten gunste
van die respondent in plek
sou kom en ABSA daartoe sou instem en meewerk.
Op 1 Augustus 2012
het die respondent aan die Trust berig dat die aansoek om
produksiefinansiering vir die koring onsuksesvol
was.
Dit was op sterkte van
hierdie verwikkelinge wat die applikante die aansoek geloods het. In
fundering was die applikante se saak
dat die bykomende sekuriteit
wat in die skrywe geëis is nie deel was van die onderneming om
namens die Trust ‘n betaling
aan GWK te maak nie.
Dit is die respondent
se saak dat daar geen surplus oorbly ten aansien van die
mieliekontrak en –finansiering nie, dat die
onderneming om
namens die Trust die betalings aan GWK en ABSA te maak onderhewig
was aan die bestaan van ‘n surplus en
dat daar gevolglik geen
verpligting op die respondent is om namens die Trust betalings te
maak nie. Die respondent se saak in
hierdie verband is ondermeer
soos volg:
Omdat daar besluit is
om nie produksiefinansiering vir koring aan die Trust te verleen
nie, het die bedrag van die leningsooreenkoms
opeisbaar en
betaalbaar geword. Daar is nooit aan die eerste applikant te kenne
gegee dat hierdie finansiering beslis verleen
sou word nie.
Die gevolg van die
bepalings van klousule 31 van die mieliekontrak en van klousules
11, 4.1 en 4.2 van die handelskontrak is
dat die respondent
geregtig is om, ondermeer, die bedrag verskuldig in terme van die
leningsooreenkoms teen die Trust se mielierekening
te debiteer.
Deel van die
ooreenkoms tussen die partye was dat daar met ‘n gedeelte van
die Trust se gelewerde mielies gespekuleer
sou word. Daardie
spekulasie het op verliese uitgeloop, wat eweneens teen die
mielierekening gedebiteer is.
Daar is ook nog
verdere uitgawes ten aansien waarvan voorskotte aan die Trust
verleen is en wat teen die Trust se mielierekening
gedebiteer moet
word.
Die eindresultaat van
die berekeninge op hierdie grondslag is dat daar geen surplus is
nie en dat die Trust, inteendeel, nog
aan die respondent ‘n
bedrag van R62 702.61 verskuldig is.
Die applikante se saak
in hierdie verband is soos volg:
Tydens die
onderhandeling van die mieliekontrak is daar namens die respondent
slegs melding gemaak van ‘n sessie van die
oesopbrengs as
sekuriteit. Geen ander vorm van sekuriteit of sessie is ooit gemeld
of vereis nie.
Die eerste applikant
het nie die mieliekontrak “
behoorlik
” gelees nie
en nie gelet op klousule 31 nie. Laasgemelde klousule stel ‘n
“
onbeperkte
” sessie daar en dit was nooit die
bedoeling “
van die partye
” dat daar so ‘n
sessie sou wees nie. Die insluiting van klousule 31 in die
mieliekontrak was die gevolg van ‘n
bona fide
gemeenskaplike fout, “
of dalk as gevolg van die feit dat
die amptenare van die respondent doelbewus nie
(die eerste
applikant se)
aandag daarop gevestig het dat daar sodanige
klousule in die kontrak voorkom nie
”.
Die handelskontrak is
“
geensins
” deur die eerste applikant gelees nie.
Daar is nooit ooreengekom op die insluiting van klousule 11 nie.
Die insluiting
daarvan is eweneens die gevolg van ‘n
bona
fide
gemeenskaplike fout, “
of dalk omdat die amptenare
van die respondent doelbewus die teenwoordigheid van daardie
klousule teenoor
(die eerste applikant)
verswyg het
”.
Net so is daar nie
gelet op klousules 4.1 en 4.2 van die handelskontrak nie. Die
insluiting daarvan in die handelskontrak sou
strydig wees met die
verstandhouding wat daar volgens die eerste applikant was dat die
respondent by die bepaling en berekening
van die surplus slegs
debiete, voorskotte en vooruitbetalings in bereking sou kon bring
wat betrekking gehad het op die produksiefinansiering
van die
mielies.
Nieteenstaande die
vereiste van ander vorms van sekuriteit in die gemelde kwotasie, is
finansiële voorskotte deur die respondent
verleen vir die
verbouing van die mielie-oes reeds voordat daardie sekuriteite in
plek gekom het, en gevolglik is die finansiering
vir die mielie-oes
in effek sonder sekuriteite verleen.
Tydens die
onderhandelinge oor produksiefinansiering vir koring het die
verteenwoordiger/s van die respondent aan die eerste
applikant
voorgehou dat die finansiering beslis, en as ʼn saak van
sekerheid, verleen sou word. Dit is op hierdie basis
en
verstandhouding wat die eerste applikant toe die leningsooreenkoms
onderteken het. Die bepalings daarin tot die effek dat
daar nog
oorweeg en besluit sou word of produksiefinansiering vir koring aan
die Trust verleen sou word, is strydig met wat
aan die eerste
applikant voorgestel is. Ook hierdie kontrak het die eerste
applikant nie gelees nie en hy het dus “
ook nie ag geslaan
op die tersaaklike bepalings nie
”. Die Trust is dus
volgens die applikante nie gebonde aan die betrokke bepalings nie,
wat sal beteken dat die kunsmisgeld
nie opeisbaar geraak het nie en
dus in elk geval ook op hierdie basis nie gedebiteer kon gewees het
nie.
Die
respondent het later ook verdere voorskotte
8
verleen
wat betrekking gehad het op die verbouing van die koringoes. Dit
sou volgens die applikante inpas daarby dat die verstandhouding
nie
was dat die respondent steeds finansiering vir die verbouing van
die koringoes kon weier nie.
In die afwesigheid
van die terme vervat in die voormelde klousules van die
mieliekontrak en die handelskontrak kan die bedrae
van die
laasgemelde voorskotte, en van die bedrag van die kunsmis, dus nie
teen die Trust se mielierekening gedebiteer word
nie.
Die vroeëre
verliese met die spekulasie is uitgewis deur latere winste.
Die bykomende
uitgawes na verwys namens die respondent, is aangegaan met
betrekking tot die verbouing van die koringoes en kan
eweneens nie
teen die mielierekening gedebiteer word nie.
Verder is beweer, vir
die eerste keer in repliek, dat daar “
ooreengekom
(is)
dat alle insette ten opsigte van diesel en lone na 1 Junie 2012,
gedebiteer sou word as koringinsette”.
Afgesien hiervan het
die respondent volgens die applikante in elk geval die
mielierekening gekrediteer met ʼn kleiner bedrag
as wat dit
moes.
Wanneer gewerk word
op die korrekte kredietbedrag, en die ontoelaatbare debiete
weggelaat sou word, is daar volgens die applikante
ʼn
genoegsame surplusbedrag om die bedrag van R4 miljoen aan GWK te
dek, en ook nog ʼn bedrag aan ABSA.
Die wese van die
geskil gaan dus oor of daar ʼn surplus was of is by afsluiting
van die mielierekening.
Dit is nie in geskil
nie dat, sou klousule 31 van die mieliekontrak en klousules 11, 4.1
en 4.2 van die huurkontrak geld, die
respondent geregtig sou gewees
het om, ondermeer, die bedrag vir die kunsmis en die ander
voorskotte wat moontlik ook vir die
verbouing van die koringoes
aangewend mag gewees het, teen die mielierekening te debiteer. By
beoordeling van die vraag of die
applikante ʼn duidelike reg
bewys het vir doeleindes van finale regshulp, moet dus geoordeel
word of die applikante op ʼn
oorwig van waarskynlikhede onder
andere bewys het dat die Trust nie aan die gemelde bepalings gebonde
was of is nie.
Verdere dispute, op
die stukke, wat betrekking het op die vraag of daar ʼn surplus
was of is, is ondermeer:
of daar uiteindelik ʼn
verlies was met die spekulasie;
[13.2] of die
respondent die mielierekening met die korrekte bedrag of bedrae
gekrediteer het;
[13.3] of, ten tye van
die onderneming om betalings namens die Trust te maak aan GWK en
ABSA, die moontlikheid voorsien is dat die
surplus onvoldoende mag
wees; en
[13.4] of die
uiteindelike bedrag van die surplus genoegsaam sou wees om die twee
betalings vermeld in die kennisgewing van mosie
te dek.
Omdat
die applikante finale regshulp verlang in ‘n aansoekprosedure,
moet die benadering in die algemeen wees “
om
die feite wat gemene saak is te neem en waar daar ʼn werklike
dispuut op die feite bestaan die weergawe van die respondent,
...,
te aanvaar
”
9
.
Mnr Van Niekerk SC het
egter namens die applikante aan die hand gedoen dat daar “
geen
werklike feitedispuut is indien die aangeleentheid behoorlik oorweeg
word nie
”.
In
hierdie verband het mnr Van Niekerk ondermeer die submissie gemaak
dat dit sodanig onwaarskynlik is dat die onderneming om
die bedrae
aan GWK en ABSA te betaal onderhewig gestel sou gewees het daaraan
dat daar ʼn surplus moes wees “
na
delging van die skulde aan die respondent verskuldig
”
10
,
dat dit op die stukke en sondermeer verwerp kan word.
Die eerste applikant
se enigste kommentaar, in sy repliserende verklaring, op die
stelling van die deponent vir die respondent
tot hierdie effek, is:
“
37.1
Dit was nooit betwyfel dat daar ʼn voldoende surplus sou wees
nie.
37.2
Nooit het Weeks
11
melding
gemaak daarvan dat koringinsette ook eers gedelg moet word voordat
bepaal word of daar ʼn surplus is nie
”
.
Die applikante se saak
is dat daar nooit twyfel was daaroor dat daar wel ‘n voldoende
surplus sou wees om die verlangde
betalings aan GWK en ABSA te dek
nie. Dit kom voor asof dit op sterkte van hierdie bewering is, in
die eerste plek, wat die submissie
gegrond word dat die stel van so
‘n voorwaarde onwaarskynlik sou wees. Die respondent se saak,
daarteenoor, is dat dit
in die periode ná die skikking tussen
die Trust en GWK, en in die aanloop tot die finale lewering van
mielies, juis onseker
was of daar ʼn surplus sou wees.
Die deponent vir die
respondent se weergawe was dat die skatting van wat die Trust se
mielie-oes sou wees, gaandeweg verminder
het. Die eerste applikant
se weergawe, daarteenoor, was egter dat die oesskatting nooit
gaandeweg verminder het nie en dat dit,
inteendeel, met verloop van
tyd al hoe duideliker geword het dat daar wel ʼn surplus sou
wees. Hierdie is na my oordeel ʼn
baie duidelike en werklike
feitedispuut tussen die partye, wat ʼn direkte invloed het op
die vraag oor die waarskynlikheid
dat die onderneming om die
betalings te maak onderhewig gestel is aan die bestaan ʼn
surplus.
Die eerste applikant
het ook nie gemeld presies wanneer die onderneming gegee is om GWK
en ABSA te betaal nie. Dit kon nog betreklik
lank voor die finale
lewering gewees het. Na my oordeel kan, ondermeer in die lig
hiervan, nie enigsins gesê word dat die
amptenaar van die
respondent nie die betalings aan GWK en ABSA onderhewig sou gestel
het aan die uiteindelike bestaan van ʼn
surplus nie.
Mnr
Van Niekerk het ook aan die hand gedoen dat, sou die ooreenkoms
gewees het dat die respondent geregtig sou wees om alle skulde
in
verrekening te bring
12
,
dit net so onwaarskynlik is dat die amptenaar so ʼn voorwaarde
sou gestel het, skynbaar omdat dit dan duidelik sou gewees
het dat
daar op sodanige basis nooit ʼn surplus kon wees nie. Weereens
weet ʼn mens nie presies wanneer die onderneming
13
gegee
is nie, en gevolglik dus ook nie wat op daardie stadium die
feitelike toedrag van sake was en wat die betrokke amptenaar
dus sou
moes voorsien het nie.
Daar hoef maar net
gekyk te word na die kontrakgroeistaat om te sien dat die stand van
die mielierekening letterlik van dag tot
dag sou kon gewissel het.
Ek
vind dit glad nie onwaarskynlik dat die betrokke amptenaar die
uitbetalings onderworpe sou gestel het aan die bestaan van ʼn
surplus nie; allermins sodanig onwaarskynlik dat ek bereid sou wees
om dit op die stukke te verwerp as “
palpably
implausible, far-fetched or ... clearly untenable
”
14
.
Na my oordeel sou dit, inteendeel, roekeloos gewees het om die
onderneming nie onderhewig te stel aan die bestaan van ʼn
surplus nie.
Dit blyk nie eers of
die sekuriteite wat in die kwotasie vereis is ten aansien van die
mieliekontrak, al in plek was toe die onderneming
gegee is om GWK en
ABSA te betaal nie. Dit blyk ook nie of die kunsmisgeld, en ook die
ander voorskotte wat die eerste applikant
sê ten aansien van
die koring verleen is en ten aansien waarvan daar nog nie eers ʼn
kontrak vir produksiefinansiering
gesluit was nie, toe al aan die
Trust uitbetaal was nie.
Ek moet sê dat
ek dit in elk geval moeilik vind om te verstaan hoekom die
applikante sou wou betwis dat die verstandhouding
was dat die
betalings uit die surplus gemaak sou word.
[25.1] Dit is die
strekking van die applikante se eie saak, soos vervat in die
funderende verklaring, dat die betalings gemaak moet
word uit die
“
wins
”.
[25.2] Dit is op die
stukke totaal ondenkbaar dat die verteenwoordiger van die respondent
kon bedoel het dat die betalings gemaak
sou word ongeag van of daar
‘n surplus was of nie.
[25.3] Die blote feit
dat, op die applikante se eie weergawe, die omvang van die bedrag wat
aan ABSA betaal sou word afhanklik sou
wees van watter deel van die
surplus oorbly nadat GWK betaal is, maak dit baie duidelik dat die
bedoeling was dat die betalings
uit die surplus gedoen sou word.
[25.4] Selfs al sou,
soos wat die eerste applikant te kenne gee, beide hy en die
respondent se verteenwoordiger die verwagting gehad
het dat daar wel
‘n genoegsame surplus sou realiseer, sou dit nog nie beteken
dat die verteenwoordiger van die respondent
nie die betalings daarvan
afhanklik sou gestel het nie.
[25.5] Op die beste vir
die applikante, en bloot op hulle weergawe, sou beide die
verteenwoordiger en die eerste applikant op daardie
stadium dan
gewerk het op die basis en veronderstelling dat daar wel ‘n
voldoende surplus sou wees. Sou dit dan uiteindelik
tog gebeur het
dat daar nie so ‘n surplus was nie, sou die hele substratum van
die onderneming en ooreenkoms in elk geval
weggeval het.
Mnr Van Niekerk het
namens die applikante aan die hand gedoen dat die feit dat daar in
die voormelde skrywe van die respondent
aan GWK slegs van
vooruitbetalings ten aansien van die mielies melding gemaak is,
aanduidend daarvan is dat ander skulde nie
teen die mielierekening
gedebiteer sou kon word nie. Die betrokke paragraaf van die skrywe
het egter geensins gehandel met wat
teen die mielierekening
gedebiteer sou kon word nie. Dit het bloot die feit gestel dat die
respondent vooruitbetalings aan die
Trust gemaak het.
Mnr Van Niekerk het in
hierdie verband aan die hand gedoen dat mnr Kennedy van die
respondent in sy skrywe aan ABSA op 27 Julie
2012 in effek te kenne
gegee het dat daar wel ʼn surplus was of sou wees. Ek stem nie
hiermee saam nie. Die betrokke gedeelte
van die skrywe lees dat die
respondent bereid is om “
uit enige surplus fondse
”
te betaal. Die mees waarskynlike vertolking hiervan is na my oordeel
glad nie dat daar beslis ʼn surplus was of sou
wees nie. Ek moet
egter sê dat ek dit ook moeilik vind om mnr Kennedy se
verduideliking in hierdie verband te verstaan.
Wat ookal mnr Kenedy
gesê of bedoel het, kan egter nooit dien as die beste
getuienis van of daar inderdaad op daardie stadium
‘n surplus
of fondse was wat die betalings kon gedek het nie. Hieroor moet
gekyk word na die objektiewe feite.
Wat
betref die eerste applikant se beweringe dat hy onbewus sou gewees
het van die gemelde bepalings van die mieliekontrak en
die
handelskontrak, en dat die insluiting daarvan inteendeel indruis
teen wat vir hom gesê sou gewees het, het mnr Van
Niekerk
gesteun op die beslissing in
Home
Fires Transvaal CC v Van Wyk and Another
15
.
Die feite van die
Home
Fires
saak en dié hier tersprake is egter totaal
verskillend. Die respondent se saak is hier dat die inhoud van
hierdie kontrakte
aan die eerste applikant verduidelik is en hier is
dus geen sprake daarvan dat die respondent sou geweet het dat die
eerste applikant
nie bewus was van die inhoud van die kontrakte nie.
In die
Home Fires
saak is net ‘n gedeelte van die
kontrak beskikbaar gestel. Dit gaan egter hier oor die beginsel
bespreek in daardie saak,
naamlik dat ‘n ondertekenaar wat tot
die kennis van die ander party nie bewus was van die inhoud van ‘n
dokument
by ondertekening daarvan nie, nie daaraan gebonde gehou sal
word nie waar die ander party nie deur die ondertekenaar se
ondertekening
mislei is nie en net homself te blameer het vir die
feit dat die ondertekenaar nie bewus was van die inhoud nie. Ek meen
egter
dat die applikante hier, en op die feite van hierdie geval,
nie steun kan vind in hierdie beginsel nie.
Die
eerste applikant se kommentaar op die beweringe dat die inhoud en
strekking van die kontrakte aan hom verduidelik is, is bloot
dat die
“
bedrae
wat gedelg word uit die koopprys van die mielies is bedrae deur die
trust verskuldig met betrekking tot die mielie-oes
”
.
Hy ontken nie uitdruklik dat die betrokke amptenaar van die
respondent, wat by name geïdentifiseer is in die antwoordende
verklaring, aan hom ʼn verduideliking gegee het van die inhoud
en strekking van die kontrakte nie. Geen bewering is ook gemaak
dat
die verteenwoordigers van die respondent geweet het dat die eerste
applikant die kontrakte nie gelees het nie en dat hy onbewus
was van
die gewraakte bepalings daarin
16
.
Die stelling namens
die respondent dat die sessie-terme “
standaard
(is)
in
landboufinansiering
” is ook nie spesifiek betwis nie. Dit
terwyl die eerste applikant self sê dat daar vir hom gesê
is dat die
kontrakte die standaard en normale kontrakte is wat vir
alle boere geld. Hy beweer nooit dat hy onbewus was daarvan dat
sulke
klousules deel vorm van die sogenaamde standaard en normale
kontrakte vir boere nie.
Betreffende die
bewering van die eerste applikant dat die insluiting van die
klousules ʼn gemeenskaplike fout van die partye
sou wees, is
geen so ʼn saak uitgemaak nie. Daar is geen aanduiding daarvan
dat dit ook nooit die respondent se bedoeling
was dat die betrokke
klousules ingesluit sou wees in die kontrakte nie.
Nog
minder is ʼn saak uitgemaak daarvoor dat personeel van die
respondent die eerste applikant “
dalk
”
hieroor
mislei het. Hierdie sou ‘n ernstige bewering wees ten aansien
waarvan duidelike getuienis van die kant van die applikante
nodig
sou gewees het
17
.
Die eerste applikant
voer aan dat daar ook nie tyd was om die betrokke kontrakte met die
Trust se prokureur te bespreek nie. In
hierdie verband voer hy aan
dat hy na Potchefstroom moes ry om hulle te onderteken. As hy
daarvoor tyd gehad het om daarheen
te reis, kon hy darem sekerlik
ook ‘n tydjie ingeruim het om die kontrakte te lees.
Ek meen dat, wanneer
oorweeg word of die applikante op ʼn oorwig van waarskynlikhede
aangetoon het dat die eerste applikant
nie van die inhoud van die
gemelde kontrakte bewus was nie en geen rede gehad het om die
betrokke klousules daarin te verwag
nie, daar ook gelet moet word op
die verdere verloop van sake, en die eerste applikant se soortgelyke
beweringe ten aansien van
die leningsooreenkoms. Dit is natuurlik in
elk geval ook van belang wanneer oorweeg moet word of die
kunsmisgeld enigsins opeisbaar
is.
Weereens is die eerste
applikant se bewering dat hy ook hierdie kontrak, waar dit weereens
gegaan het om ʼn groot bedrag geld,
nie gelees het voordat hy
dit onderteken het nie.
Die respondent se
saak, daarteenoor, is:
dat die terme van die
leningsooreenkoms, en meer spesifiek ook die terme waaroor die
eerste applikant hom nou bekla, deur mnr
Grobler van die respondent
aan die eerste applikant verduidelik is;
dat die
leningsooreenkoms in dié vorm aan die eerste applikant
versend is per e-pos, wat hom dus die geleentheid gegee
het om dit
te bestudeer; en
dat die eerste
applikant die ooreenkoms toe onderteken het en teruggestuur het.
Die eerste applikant
ontken nêrens dat mnr Grobler die inhoud van
leningsooreenkoms, en die betrokke terme, aan hom verduidelik
het
nie. Hy maak bloot die vae bewering dat die wyse waarop hy met die
kontrakte gehandel het “
teweeggebring
(is)
deur
voorstellings gemaak deur amptenare van die respondent
”.
Op die eerste
applikant se eie weergawe het hy die leningsooreenkoms inderdaad
twee keer onderteken en ek meen dat dit uiters
onwaarskynlik is dat
hy by beide geleenthede so sou gedoen het sonder om hulle te lees.
Wat
betref sy weergawe dat daar aan hom voorgehou is dat die toestaan
van die produksiefinansiering vir die koring ‘n sekerheid
was,
en dat hy dus geen rede gehad het om terme tot die teendeel te
verwag in die leningsooreenkoms nie, is dit ook van belang
dat die
eerste applikant op 22 Junie 2012, byna ‘n maand ná hy
die leningsooreenkoms onderteken het, namens die
Trust ‘n
aansoek om produksiefinansiering vir die koring onderteken het
18
.
Hy beweer nêrens dat hy ook hierdie dokument nie gelees het
nie, of dat hy ook hieroor mislei is nie. Hy lewer ook nie
kommentaar op die deponent vir die respondent se stelling dat sy
ondertekening van so ‘n aansoek onversoenbaar sou wees
met ‘n
beweerde indruk dat die toestaan van produksiefinansiering vir die
koring ‘n sekerheid was nie.
In fundering was ‘n
integrale deel van die eerste applikant se weergawe dat vir hom gesê
is die Trust sal beslis produksiefinansiering
vir die koring kry, sy
beweringe:
dat die enigste
voorwaarde wat daarvoor gestel is, was dat sekere sekuriteite in
plek gestel moes word;
dat daardie
sekuriteite toe wel in plek gestel is; en
dat dit juis toe
eers, ná die inplekstelling van daardie sekuriteite, was dat
die kunsmis bestel is.
Opsommenderwys was die
eerste applikant se beweringe in hierdie verband dus dat die
verskaffing van die betrokke sekuriteite,
en die daaropvolgende
bestelling van die kunsmis, stawing sou wees vir sy bewering dat dit
voorafgegaan is deur ‘n vaste
belofte dat
produksiefinansiering vir die koring verleen sou word, mits daar
maar net sekere sekuriteite in plek gestel word.
Dit is egter in die
antwoordende verklaring aan die lig gebring dat die sekuriteite
waarna die eerste applikant in hierdie verband
verwys het in die
funderende verklaring, dié is wat in plek gestel is met
betrekking tot die mieliekontrak, soos vereis
in daardie kwotasie.
Die eerste applikant
se weergawe in repliek is dan nou ook, soos tereg deur mnr Van
Niekerk toegegee, presies die teenoorgestelde
van wat dit ten
aansien hiervan in fundering was. Hy verklaar naamlik nou dat
sekuriteite nie vereis is vir koringinsette nie.
Dit raak sy hele
beskrywing van die omstandighede waaronder vir hom gesê sou
gewees het dat die Trust beslis produksiefinansiering
vir die koring
sou kry. Sy weergawe nou moet ook dus noodwendig wees dat die
belofte om vir die Trust produksiefinansiering vir
koring te gee,
heeltemal onvoorwaardelik was. Dit nogal volgens hom aan die begin
van 2012, en dus op ‘n stadium toe die
mielie-oes nog ver van
gelewer was en die respondent se risiko ten aansien daarvan dus nog
redelik hoog moes gewees het. Inteendeel,
volgens die eerste
applikant sou die respondent toe ook al bewus gewees het van die
Trust se probleme met GWK.
Hoekom sou die eerste
applikant dan in elk geval gedink het, op sy eie weergawe, dat die
respondent sou verlang dat ‘n leningsooreenkoms
slegs te
aansien van die kunsmisgeld aangegaan moes word? Heelwat meer geld
sou mos nodig wees vir die verbouing van die koringoes.
Hoekom sou
die respondent dan nie maar bloot voorgegaan het en die eerste
applikant ‘n kontrak laat teken het soortgelyk
aan die
mieliekontrak nie?
Die
afleiding dat daar ‘n vaste onderneming was om
produksiefinansiering vir koring te gee, is ook nie die mees
waarskynlike
afleiding wat gemaak sou kon word uit die feit dat geld
voorgeskiet is vir die kunsmis en vir ander koringinsette nie.
Minstens
net so ‘n waarskynlike afleiding sou wees dat die
respondent die betrokke voorskotte gemaak het op ‘n
oorbruggingsbasis
hangende die oorweging van produksiefinansiering
vir die koring, soos wat ook namens die respondent beweer word, en
omdat die
respondent geweet het dat sodanige voorskotte teen die
mielierekening gedebiteer sou kon word
19
,
ten aansien van welke rekening die respondent ook wel oor
sekuriteite beskik het.
Dit
moet in gedagte gehou word dat ‘n party wat ‘n
skriftelike kontrak onderteken normaalweg nie toegelaat sal word
om
aan die terme daarvan te ontsnap op die basis van ‘n bewering
dat die party onbewus was van wat die inhoud van die kontrak
was
nie; die sogenaamde
caveat
subscriptor
reël
20
.
Die ware grondslag van hierdie sogenaamde reël is in
werklikheid maar die vraag of die ander party in die omstandighede
redelikerwys kon aanvaar dat die ondertekenaar, deur ondertekening
van die dokument, ‘n bedoeling getoon het om daardeur
gebind
te wees.
21
.
Na my oordeel is hier nie op ‘n oorwig van waarskynlikhede
aangetoon dat die respondent nie redelikerwys die ondertekening
van
die kontrakte deur die eerste applikant kon gesien het as aanduidend
van ‘n bedoeling om die Trust te bind nie.
Op die beste vir die
applikante bestaan daar ‘n duidelike dispuut oor die vraag of
die eerste applikant geweet het wat die
terme daarvan was. Hy, aan
die een kant, beweer dat hy die kontrakte nie gelees het nie en
onbewus was van die terme. Die deponente
vir die respondent, aan die
ander kant, voer aan dat die inhoud van die kontrakte aan die eerste
applikant verduidelik is en
hulle ontken die voorstellings wat na
bewering daartoe sou gelei het dat die eerste applikant geglo het
dat die kontrakte nie
die gewraakte bepalings sou bevat nie.
Die respondent se
beweringe in hierdie verband is geensins onwaarskynlik nie en kan op
geen basis as onhoudbaar of vergesog verwerp
word nie.
Dieselfde geld ten
aansien van die dispute oor die resultaat van die spekulasie en die
bedrae waarmee die mielierekening gekrediteer
is.
Die applikante se eie
saak oor die huidige stand van die mielierekening, en die omvang van
die beweerde surplus, is onseker.
In fundering is
beweer dat die totaal van die debiete voortspruitend uit die
produksiefinansiering van die mielies die bedrag
van R10 589 589.00
beloop het, teenoor die lewerings ten bedrae van R17 296 097.00,
wat dus ‘n “
wins
” van R6 706 499.00
gelaat het.
In repliek is hierdie
syfers egter aangepas en is aangevoer dat die surplus in
werklikheid ‘n bedrag van R5 458 752.00
beloop; ‘n
volle R1 247 747.00 minder as vroeër beweer.
Die bedrag gemeld in
repliek sou nie voldoende wees om die betalings te dek wat die
applikante in die kennisgewing versoek dat
die respondent gelas
moet word om te maak nie.
Mnr Van Niekerk het
gewag gemaak daarvan dat die deponent vir die respondent, waar hy in
die antwoordende verklaring gehandel
het met die bewering wat die
eerste applikant in fundering gemaak het oor die skuld op die
mielierekening, nie pertinent daardie
bewering ontken het nie. Wat
daar gesê is namens die respondent, moet egter in konteks
gelees word. Daar is naamlik verwys
na wat later in die antwoordende
verklaring gesê sou word oor die debiete en krediete op die
rekening. Soos wat ek reeds
gesê het, is daar dan ook later in
die verklaring baie duidelik in geskil getree met die eerste
applikant se weergawe hieroor
en is daar uiteindelik gestel dat die
debiete van so ‘n aard was dat daar geen surplus is nie.
Mnr van Niekerk het
ook die respondent verkwalik daarvoor dat meer volledige inligting
nie geopenbaar is oor die mielies wat gelewer
is nie. Dit was egter
vir die applikante om hulle saak uit te maak en na my oordeel het
die respondent genoegsame beweringe gemaak
en inligting verskaf om
te toon dat daar oor die uiteindelike stand van die mielierekening
‘n werklike en wesenlike feitedispuut
bestaan.
Uiteindelik bly die
kruksvraag maar bloot of daar so ‘n surplus bestaan het. Dit
is beslis nie die saak wat in fundering
uitgemaak is dat die
respondent enige van die betrokke betalings moet maak ook selfs al
sou daar nie ‘n voldoende surplus
wees nie.
Wat betref die vraag
of die spekulasie met die mielies uiteindelik gelei het tot ‘n
wins of tot ‘n verlies, is daar
‘n duidelike
feitedispuut. Dit is wesenlik, want dit is relevant ten aansien van
die berekening van die staat van die mielierekening,
en die bepaling
van enige surplus. Die respondent se beweringe ten aansien hiervan
kan eweneens nie op die stukke sondermeer
verwerp word nie.
Mnr
Van Niekerk het in hierdie verband verder aan die hand gedoen dat
daar in elk geval nêrens in die mielie- of handelskontrak
voorsiening gemaak word daarvoor dat sodanige verliese teen die
mielierekening gedebiteer sou kon word nie. Hierdie submissie
is
onversoenbaar met die eerste applikant se houding
22
dat
die beweerde winste (uit die spekulasie) wel teen die betrokke
rekening gekrediteer moes gewees het.
Die
houding van die eerste applikant dat, omdat voorskotte vir die
mielie-oes verleen is nog voordat die sekuriteite vereis in
die
kwotasie in plek gestel is, dié produksiefinansiering in
effek sonder sekuriteite verleen is, gaan nie op nie. Dat
die
respondent van die sekuriteite afstand gedoen het deur solank voort
te gaan met die maak van voorskotte, is na my oordeel
nie die mees
waarskynlike afleiding hieruit nie
23
.
Die applikante het na my oordeel nie naastenby so ‘n
afstandoening bewys nie
24
.
Afgesien hiervan het
dit in elk geval nou duidelik geword, onder andere deur die
ommeswaai van die eerste applikant hieroor in
sy repliserende
verklaring, dat die betrokke sekuriteite nie in plek gestel is ten
aansien van die koringoes nie. Dit kon dus
maar net uit hoofde van
die mieliekontrak en –kwotasie in plek gestel gewees het.
Ek ag dit dus nie eers
nodig om te handel met klousule 30 van die handelskontrak, wat
handel met die afleidings wat uit ‘n
toegewing gemaak sou kon
word, nie.
Ook sover dit betref
die respondent se beweringe rakende die krediete wat teen die
mielierekening aangebring is en moes word,
kan hulle nie op die
stukke afgemaak word as vergesog, ooglopend vals of onhoudbaar nie.
Opsommenderwys
is ek van oordeel dat die applikante hopeloos gefaal het daarin om
‘n duidelike reg op die maak van die betalings
(deur die
respondent) aan te toon
25
.
Die applikante het nie op ‘n oorwig van waarskynlikhede ‘n
saak daarvoor uitgemaak dat hulle nie aan die volledige
inhoud van
die betrokke kontrakte gebonde gehou behoort te word nie. Dit
opsigself maak dit onmoontlik om te bevind dat daar
‘n
genoegsame surplus was en is. Dan is daar ook nog die ander
feitedispute waarop ek reeds gewys het.
Soos reeds gemeld, het
mnr Van Niekerk die houding ingeneem dat daar in werklikheid nie ‘n
feitedispuut bestaan nie. Dit
was die trant van sy betoogshoofde en
ook van sy aanvanklike argument by die aanhoor van die aansoek. Dit
was eers toe hy repliek
gelewer het wat hy aan die hand gedoen het
dat, sou die Hof tog tot die slotsom kom dat daar sodanige dispute
bestaan, dit die
Hof sou vrystaan om dit te verwys vir mondelinge
getuienis.
Ek is nie seker of
hierdie benadering eers bestempel sou kon word as ‘n aansoek
om sodanige verwysing nie, maar vir soverre
dit wel sou kon, het mnr
Zietsman toe namens die respondent aangedui dat dit teengestaan
word.
‘
n
Aansoek vir die verwysing van ‘n dispuut vir mondelinge
getuienis moet oor die algemeen darem gebring word voor die aanhoor
van argumente
26
,
alhoewel dit nie ‘n onbuigbare reël is nie
27
.
Hier
is die probleem egter ook die wye verskeidenheid van aspekte waaroor
daar dispute bestaan, en waarop ek reeds gewys het.
Wat was die
inhoud van die verskillende gesprekke rondom die ondertekening van
eers die mieliekontrak en toe later die leningsooreenkoms,
is daar
ooit ooreengekom dat insette ná 1 Junie 2012 geag sou
word koringinsette te wees
28
,
wat was die eindresultaat van die spekulasie en hoe moes hiermee
gehandel word, waarop het die verdere uitgawes geslaan wat
ook teen
die mielierekening gedebiteer is en is die korrekte krediete teen
die mielierekening aangebring? Die prosedure van ‘n
verwysing
van ‘n dispuut vir mondelinge getuienis is nie bedoel vir so
‘n uiteenlopende aantal feitedispute nie
29
.
Na
my oordeel is hierdie dus nie ‘n geskikte geval vir die
verwysing van geskilpunte vir mondelinge getuienis nie. Ek sou
ook
nie die aansoek vir verhoor verwys nie
30
.
Dit sou nie hier ‘n doel dien nie. Die skikkingsooreenkoms
tussen die Trust en GWK was tot die effek dat, sou onder andere
die
betaling van 31 Julie 2012 nie gedoen word nie, die totale skuld van
die Trust aan GWK opeisbaar en betaalbaar sou word.
Dit het nou
reeds gebeur, en die houding is ook namens GWK ingeneem dat die
volle skuld nou opeisbaar en betaalbaar is. Dit sal
in elk geval dus
nou vir GWK vrystaan om op hierdie basis stappe teen die Trust te
neem. Die hele doel van die applikante se
aansoek
31
was
om die betrokke betaling te laat geskied. Daar is geen aanduiding
dat GWK verdere uitstel verleen het nie en die waarskynlikheid
daarvan dat so ‘n verhoor eers baie later gefinaliseer sal
word, sou die uitslag van akademiese belang maak.
Wat die koste van
hierdie aansoek betref, sien ek geen rede waarom dit nie die uitslag
behoort te volg nie. Die teendeel is ook
nie geargumenteer nie.
In die betoogshoofde
namens die respondent is versoek dat sodanige koste sal wees op die
skaal tussen prokureur en kliënt.
Daar is in hierdie verband
gesteun op die bepalings van klousule 28 van die handelskontrak, wat
soos volg lui:
“
Die
partye stem in om al die ander party se regkostes op ‘n skaal
soos tussen prokureur-en-eie-kliënt te betaal indien
dit vir ‘n
party nodig is om sodanige koste aan te gaan ten einde enige regte
wat dit ingevolge hierdie ooreenkoms mag hê
af te dwing of
enige aksie deur die ander party ingestel voortspruitend uit hierdie
ooreenkoms te verdedig.
”
Mnr
van Niekerk het aan die hand gedoen dat die respondent nie hierop
kan steun nie. Hy het in hierdie verband gesubmiteer dat
hierdie nie
‘n aksie is nie en dat dit ook nie hier gegaan het om die
afdwing van regte voortspruitende uit die ooreenkoms
nie. Na my
oordeel is daar geen meriete in hierdie submissies nie. Hierdie is
duidelik een van daardie gevalle waar die woord
“
aksie
”
ook
die aansoekprosedure sal insluit
32
,
anders sou die partye gedwing wees om, ten einde geregtig te wees op
koste teen die ooreengekome skaal, die aksieprosedure te
volg selfs
waar die mosieprosedure andersins beskikbaar en gepas sou wees.
Verder kan daar geen twyfel wees nie dat die applikante
se aansoek
voortspruit uit hulle regte ingevolge onder andere die mielie- en
handelskontrakte, en dat dit is wat die respondent
hier verdedig.
Die feit dat die applikante aanvoer dat sekere gedeeltes van die
kontrakte nie teen die Trust afgedwing kan word
nie, bring nie mee
dat hulle glad nie op die kontrakte (en die Trust se regte ingevolge
daarvan) steun in hulle aanspraak op
betaling nie.
In die omstandighede
maak ek die volgende bevel:
Die aansoek word
afgewys met koste op die skaal soos tussen prokureur en kliënt,
welke koste dié sal insluit wat teweeggebring
is deur die
uitstel van die aansoek op 3 Augustus 2012.
_____________________
C J OLIVIER
REGTER
NOORD-KAAPSE
AFDELING
Nms Applikante: Adv J G Van
Niekerk, SC
In opdrag van: Haarhoffs Ing,
Kimberley.
Nms Respondent: Adv P Zietsman
In opdrag van: Elliott, Maris,
Wilmans & Hay, Kimberley.
1
Vergelyk
Gordon v Department of Health
[2009]
1 All SA 39
(SCA) para [9]
2
Wholesale
Provision Supplies CC v Exim International CC and Another
1995 (1) SA 150
(T) op 158 D-E;
Rebah
Construction CC v Renkie Building Construction CC
[2008] ZAGPHC 34
;
2008
(3) SA 475
(T) para [35]
3
Klousule
31 van die mieliekontrak en klousule 11 van die handelskontrak.
4
Klousules
4.1 en 4.2
.
5
Soortgelyk
aan die mieliekontrak.
6
Hierdie
terme is natuurlik onversoenbaar met ‘n reeds bestaande
onderneming om sodanige finansiering te verleen.
7
En
van ‘n verwante beslote korporasie.
8
As
die bedrag vir die kunsmis.
9
Staatsdiensliga
van Suid-Afrika v Minister van Waterwese
1990
(2) SA 440
(NKA) op 443G
10
Soos
wat die respondent se weergawe is
11
D
ie
naam van die betrokke amptenaar van die respondent wat by hierdie
onderneming betrokke was.
12
En
nie slegs dié wat betrekking gehad het op die mielie-oes nie.
13
Om
GWK en ABSA te betaal.
14
National
Director of Public Prosecutions v Zuma
[2009] ZASCA 1
;
2009
(2) SA 277
(SCA)
(2009 (1) SACR 361
;
2009 (4) BCLR 393
;
[2008] 1 All
SA 197)
para [26]
15
2002
(2) SA 375
(WLD)
16
Vergelyk
Spindrifter (Pty) Ltd v Lester Donovan
(Pty) Ltd
1986 (1) SA 303
(AD) op 315
I-J;
Van Wyk v Otten
1963
(1) SA 415
(O)
17
Vergelyk
National Director of Public
Prosecutions v Zuma
,
supra
(voetnota 14), op 291C
18
Net
soos wat hy moes doen voordat aan die Trust produksiefinansiering
vir die mielies verleen is.
19
Op
sterkte van die voormelde bepalings in die mieliekontrak en
handelskontrak
20
Burger
v Central South African Railways
1903
TS 571
op 578
21
The
Law of Contract in South Africa
,
Christie, 5de uitgawe, bl 175;
George v
Fairmead (Pty) Ltd
1958 (2) SA 465
(A)
op 471 A-D;
Brink v Humphries &
Jewell (Pty) Ltd
[2005] 2 All SA 343
(SCA)
22
I
n
sy repliserende verklaring.
23
Vergelyk
National Council of Societies for the
Prevention of Cruelty to Animals v Openshaw
[2008] ZASCA 78
;
2008
(5) SA 339
(SCA) para [26]
24
Vergelyk
Hepner v Roodepoort-Maraisburg Town
Council
1962 (4) SA 772
(AD) op 778E
25
Masuku
v Minister van Justisie en Andere
1990
(1) SA 832
(A) op 840 C – 841 E
26
Sien
De Reszke v Maras
2006
(1) SA 401
(C) op 413
27
Vergelyk
Administrator, Transvaal, and Others v
Theletsane and Others
[1990] ZASCA 156
;
1991 (2) SA 192
(A) op 200
28
Skynbaar
ongeag van of hulle eintlik geslaan het op die mielie-oes.
29
Vergelyk
Pressma Services (Pty) Ltd v Schuttler
1990 (2) SA 411
(C) op 419E-G
30
Vergelyk
Uniforme Hofreël 6(5)(g)
31
Nadat
GWK uitstel verleen het daarvoor tot 3 August 2012.
32
Vergelyk
Middelburg Rugbyklub v Suid-Oos
Transvaalse Rugby-Unie en ‘n Ander
1978
(1) SA 484
(T) op 487 – 488;
Danzas
Trek (Pty) Ltd v Du Bourg and Another
1979
(4) SA 915
(W) op 919 A – 920 B;
Kwik
Kopy (SA) (Pty) Ltd v Van Haarlem and Another
1999
(1) SA 472
(W) op 481 D - F