Hendricks v S (CA&R 124/2011) [2012] ZANCHC 60 (29 June 2012)

55 Reportability
Criminal Law

Brief Summary

Criminal Law — Possession and dealing in dagga — Appellant convicted of dealing in dagga after being found near large quantities of dagga in plastic bags — Appellant denied possession and claimed to have been in transit with toiletware — State witnesses testified to finding dagga in proximity to appellant — Appellant's defense contradicted by evidence and lack of credible explanation for possession — Court upheld conviction, finding no reasonable doubt regarding appellant's involvement in dealing.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley
>>
2012
>>
[2012] ZANCHC 60
|

|

Hendricks v S (CA&R 124/2011) [2012] ZANCHC 60 (29 June 2012)

VERSLAGWAARDIG
JA/NEE
SIRKULEER
ONDER REGTERS JA/NEE
SIRKULEER
ONDER LANDDROSTE JA/NEE
IN DIE HOË HOF
VAN SUID-AFRIKA
(Noord-Kaapse Hoë
Hof, Kimberley)
SAAK NO.:CA&R
124/2011
DATUM AANGEHOOR:
07-05-2012
DATUM GELEWER:
29-06-2012
In die Appél van:
WILLIAM BENJAMIN
HENDRICKS
........................................
APPELLANT
teen
DIE STAAT
.........................................................................
RESPONDENT
CORAM: C C WILLIAMS R
et VAN NIEKERK WnR:
UITSPRAAK
WILLIAMS R:
1. Die appellant is op 21
Julie 2010, in die Landdroshof te Garies, skuldig bevind aan handel
in dagga en is gevonnis to 7 jaar
gevangenisstraf. Hy kom in hoër
beroep teen beide die skuldigbevinding en die vonnis hom opgelê.
2. Die appellant wat
regsverteenwoordig was met die verhoor, het onskuldig gepleit en het
by monde van sy regsverteenwoordiger ‘n
pleitverduideliking
verskaf waarin hy erken het dat hy naby die toneel waar die dagga
gevind is was, maar ontken het dat hy op
enige stadium in besit was
van die dagga of kennis gedra het van die dagga.
3. Die staat het slegs
twee getuies geroep, reservis konstabel Goedeman en konstabel Maart.
Hulle het getuig dat die polisie op
Garies ‘n berig ontvang het
van ‘n ontsnapte gevangene. Terwyl hulle met kollegas op die
stoep van die polisiestasie
gestaan het en hul optrede beplan het,
het hulle ongeveer 700 tot 800 meter vér op die N7, ‘n
taxi sien stop. ‘n
Persoon met ‘n oranjekleurige oorpak
het uitgeklim. Die persoon het ‘n groot bloukleurige drasak by
hom gehad met ‘n
groenerige kombers oor sy skouers.
4. Hulle het vermoed dat
dit moontlik die ontsnapte gevangene was en het onmiddellik die
persoon agternagesit in ‘n polisievoertuig.
Die persoon het oor
die draad geklim en inbeweeg tussen die bome langs wat klaarblyklik
‘n droë rivierloop was. Goedeman
en Maart het hom
agternagesit, terwyl ander polisielede van voor af gekom het. Die
appellant is daar gekry, sonder enige sak of
kombers en terwyl hy met
‘n ander persoon gestaan het. Goedeman en Maart het in die
omgewing rondgesoek en op die bloukleurige
drasak sowel as ‘n
klein rugsak afgekom wat tussen die bome gelê het. Beide sakke
was vol dagga wat in kleiner plastieksakke
verpak is. Die appellant
is op die toneel gearresteer en inspekteur Links van Kammieskroon het
die appellant afgevoer na die Garries
polisiestasie waar die
appellant aangehou is en die dagga geweeg is. Dit was nie in geskil
dat daar dagga in die sakke was nie
en dat die dagga 11.171kg geweeg
het nie.
5. Die appellant se
weergawe was dat hy die spesifieke dag geryloop het Garries toe vanaf
Kaapstad waar hy toiletware gekoop het.
Hy het ontken dat hy ‘n
blouerige drasak of ‘n rugsak by hom gehad het. Volgens hom was
die toiletware wat hy aangekoop
het in drie wit plastieksakke en het
hy ‘n opgerolde kombers met ‘n serp vasgemaak en wat soos
‘n sak kon lyk,
gedra. Hy erken wel dat hy ‘n
oranjekleurige oorpak aangehad het. Sy weergawe is dat daar ‘n
Rastaman op dieselfde
tydstip toe hy afgeklim het langs die N7, by ‘n
taxi uitgeklim het. Hierdie Rastaman het ‘n blouerige drasak by
hom
gehad en was geklee in ‘n groen, rooi en geel uitrusting.
Die man het vinnig beweeg van waar die taxi hom afgelaai het, oor
die
draad langs die pad geklim en tussen die bome in verdwyn. Die
appellant se getuienis was voorts dat hy glad nie die twee
staatsgetuies
Goedeman en Maart op die toneel gesien het nie, maar
dat Links die sakke met dagga gevind het, dit aan hom getoon het en
hom daar
gearresteer het. Die stasiebevelvoerder kaptein Debbie
Abrahams was ook op die toneel. Hy het aan hierdie laasgenoemde
polisielede
verduidelik dat ‘n Rastaman die sakke gehad het
maar is nietemin in hegtenis geneem. Sy getuienis was ook dat hy by
die polisieselle
ingeboek was waar hy in die selle toegelaat is met
sy kombers en die plastieksakke met toiletware. Dit was aanvanklik
die verdedigingsaak.
6. Na betoog en ‘n
verdaging en net voor die verhoorhof uitspraak sou lewer het die
regsverteenwoordiger vir die appellant
aansoek gedoen om die
verdedigingsaak te heropen om vir ‘n sekere Collin Watt wat met
die appellant op die toneel was sowel
as vir Links te roep om te
getuig. Die aansoek is toegestaan.
7. Watt se getuienis was
dat hy die appellant goed ken deurdat hy voor die appellant opgegroei
het. Sy getuienis is dat hy op die
betrokke dag tussen 12:00 en 13:00
by sy vriendin se huis was. Net toe hy by die hek uitkom oppad terug
huis toe het hy vir die
appellant raakgeloop. Terwyl hulle nog daar
gesels het, het twee polisievoertuie opgedaag. Links en sy vrou, ook
‘n polisiebeampte,
kaptein Abraham en twee polisiebeamptes
Kagisho en Potswelo het uitgeklim. Links het opdrag gegee dat hy en
die appellant vasgehou
word. Hulle is toe albei gevisenteer deur
Kagisho en Potswelo. Links is toe rivier se rigting in waarna hy na
omtrent 5 minute
teruggekom het met twee sakke. Een van die sakke was
‘n langerige groen sak, die ander ‘n klein swart Rasta
sak. Links
sou toe vir Kagisho en Potswelo sê “
Ons het
hom”.
Die appellant is toe daar gearresteer en die twee
sakke is in die vangwa gelaai. Volgens Watt het hy nie geweet wat in
die sakke
was nie, en was daar ook nie gepraat daarvan nie. Hy het
eers die volgende dag gehoor dat die appellant gearresteer is vir
dagga.
Hy ontken ook dat Goedeman en Maart betrokke was met die vind
van die sakke en die arrestasie. Volgens die getuie het die appellant

‘n oranje oorpak aangehad en was hy in besit van ‘n groen
kombers sowel as twee wit plastieksakke wat hy met hom gedra
het.
Volgens die getuie was daar nie Rastas in die onmiddellike omgewing
nie, maar wel in die rivierloop. Sy getuienis was ook
dat hy nie die
persoon was wat saam met appellant gestaan het soos getuig deur
Goedeman nie.
8. Links se getuienis in
kort was dat hy slegs betrokke was met die vervoer van die appellant.
Garies polisiestasie het slegs ‘n
oop bakkie beskikbaar gehad
en Links, wat ‘n toe bakkie gehad het, is gekontak om te help
met die vervoer van ‘n persoon
wat vir dagga gearresteer is.
Toe hy by die toneel kom was die appellant reeds gearresteer deur
Goedeman en Maart. Volgens Links
het hy gesien dat een van Goedeman
of Maart ‘n sak in sy hand gehad het, maar het hy nie gesien
wat in die sak was nie.
9. Die verhoorhof het aan
die einde van die verdere getuienis vir die verdediging vir kaptein
Abrahams geroep om te getuig. Abrahams
se getuienis was dat sy ook na
die arrestasie op die toneel aangekom het en dat sy nie met die
appellant gepraat het op die toneel
nie.
10. Haar getuienis is
relevant in die opsig dat sy getuig het dat ‘n gearresteerde
persoon nie toegelaat word om persoonlike
items met hom in die selle
te neem nie. Persoonlike items soos onder andere toiletware, word in
‘n prisonierseiendomsregister
ingeskryf en ingeboek. Komberse
word in die selle verskaf. Die prisonierseiendomsregister het ‘n
inskrywing aangetoon, ten
opsigte van die appellant se eiendom, van
‘n bedrag kontant, ‘n beursie, ‘n bankkaart,
veters, ‘n selfoon
en ‘n tou. Ontvangserkenning van
hierdie items is deur die appellant onderteken toe hy later vrygelaat
is. Daar was geen
inskrywings van toiletware of ‘n kombers nie.
11. Die verhoorhof het
met die evaluering van die getuienis soos kortliks hierbo-in
uiteengesit, die appellant se weergawe verwerp
as nie redelik
moontlik waar nie, en na my mening met reg so. Hoekom sou die
polisielede ‘n sak in die veld gaan soek (en
vind) as hulle dit
nie kort tevore by die appellant gesien het nie? Wat is die
waarskynlikheid dat al die betrokke polisielede
(dit is nie net
Goedeman en Maart wat hom agtervolg het nie) ‘n fout gemaak het
en op die verkeerde man toegesak het? Die
moontlikheid dat die
appellant, wat ‘n opvallende oranje oorpak aangehad het, verwar
kon word met ‘n Rasta man is maar
skraal.
12. Die appellant se
getuie Watt het hom ook nie veel gebaat nie. Benewens al die
weersprekings tussen hierdie getuie en die appellant,
kon Watt nie
getuig oor die appellant se bewegings voor hy gearresteer is nie.
13. Dit is ook nooit
gedurende kruisondervraging gestel aan die twee staatsgetuies dat die
appellant plastiek inkopiesakkies in
sy hande gehad het nie.
Inteendeel die stelling is gemaak dat die appellant slegs die
opgerolde kombers by hom gehad het. Die appellant
en Watt se
getuienis dat hy inkopiesakke by hom gehad het is duidelik ‘n
versinsel, wat ook blyk uit Abrahams se getuienis
dat sulke items nie
in die prisoniereiendomsregister ingeboek was nie. Die register toon
ook nie aan dat die kombers en serp ingeboek
was nie en versterk die
getuienis van Goedeman en Maart dat die appellant ook nie meer die
kombers by hom gehad het toe hy gearresteer
was nie. Indien die
appellant wel egter die kombers by hom gehad sou ten minste die serp
waarmee dit vasgebind was ingeboek wees
soos gedoen is met die tou en
veter.
14. Na my mening was die
verhoorhof korrek deur te bevind dat die enigste redelike afleiding
om te maak uit die getuienis is dat
die sakke met die dagga wat onder
die bome gevind is, deur die appellant daar gegooi is.
15. Die enigste ander
vraag wat beantwoord moet word is of die appellant korrek skuldig
bevind is aan handel in dagga en of dit
nie net bloot besit van dagga
moet wees nie.
In
S v Mathe
1998(2) SASV 225 OPA te 229 b-c sê Lombard R die volgende oor
hierdie kwessie:

Wat in
omstandighede soos die onderhawige nie uit die oog moet verloor word
nie, is dat ten einde aan handeldryf in dagga skuldig
bevind te kan
word, daar nie van die Staat vereis word om te alle tye bo redelike
twyfel te bewys dat daar inderdaad handel gedryf
is soos deur die Wet
vereis nie. Die feit dat sekere vermoedens hieromtrent weggeval het,
beteken nie dat basiese regsbeginsels
en gesonde verstand ook in die
slag gebly het nie.
Waar ‘n persoon
in besit van ‘n groot hoeveelheid dagga gevind word en daar
word geen redelike aanvaarbare verduideliking
vir sodanige besit deur
hom of haar verskaf nie kan die afleiding redelikerwys gemaak word
dat so ‘n persoon daarin handel
gedryf het soos deur die Wet
omskryf.”
16. In die onderhawige
geval het die appellant geen verduideliking verskaf vir die besit van
die dagga nie. Dit is ‘n redelike
groot hoeveelheid dagga en is
die dagga ook in kleiner plastiekpakkies verpak. Gesonde verstand
vereis na my meing die afleiding
dat die appellant daarmee wou
handeldryf. Ter bevestiging hiervan het die appellant se
regsverteenwoordiger betoog tydens die vonnisverrigtinge
en op die
instruksie van die appellant, dat die appellant werk bekom het en dat
sy situasie “
is tans so dat hy nie nodig het om meer handel
te dryf in dagga nie.”
17. Na my mening moet die
skuldigbevinding aan handel in dagga staan.
18. Wat die vonnis
aanbetref is ons na geen mistastings deur die verhoorhof begaan
verwys nie. Die vonnis is wel swaar, maar die
appellant het ook al
benewens vele ander vorige veroordelings, nie minder as vyf
dwelmverwante vorige veroordelings nie. Me Jansen
wat namens die
staat verskyn het, het ons verwys na die vonnisse wat opgelê is
in soortgelyke sake, meer spesifiek Noord-Kaapse
sake, waaruit dit
duidelik blyk dat die 7 jaar gevangenisstraf die appellant opgelê
nie skokkend onvanpas is nie.
In die omstandighede word
die volgende bevele gemaak.
(a) Die appél
teen skuldigbevinding en vonnis word van die hand gewys.
(b) Die
skuldigbevinding en vonnis word bekragtig.
_______________________
C.C. WILLIAMS
REGTER
Ek stem saam.
_______________________
J.G. Van Niekerk
Waarnemende Regter
Nms. Appellante: Adv.
P.J. Cloete
Regshulpraad
Nms. Respondent: Adv. T.
Barnard
Kantoor van die Direkteur
van Openbare Vervolgings, Noord-Kaap
.