About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley
>>
2012
>>
[2012] ZANCHC 40
|
|
S v Mienies (CA&R 19/2012) [2012] ZANCHC 40 (29 June 2012)
Rapporteerbaar:
Ja / Nee
Sirkuleer
onder Regters: Ja / Nee
Sirkuleer
onder Landdroste: Ja / Nee
Sirkuleer
onder Streeklanddroste: Ja / Nee
IN DIE Hoë HOF
VAN SUID-AFRIKA
(Noord-Kaapse Hoë
Hof, Kimberley)
Saak No: CA&R
19/2012
Saak Aangehoor:
25/06/2012
Datum gelewer:
29/06/2012
In
die saak tussen:
Matthew Eldrid Mienies
............................................................................
Appellant
en
Die Staat
................................................................................................
Respondent
Coram:
Williams R
et
Olivier R
UITSPRAAK
Olivier R:
Die
appellant, mnr Matthew Mienies, het in die Streekhof tereggestaan op
aanklagte dat hy gepoog het om die klaagster te vermoor
(aanklag 1)
en dat hy haar verkrag het (aanklag 2), soos bedoel in artikel 3 van
die Wysigingswet op die Strafreg (Seksuele Misdrywe
en Verwante
Aangeleenthede)
1
.
Die appellant het op beide hierdie aanklagte onskuldig gepleit. Die
wese van aanklag 1 was dat die appellant die klaagster ‘n
oordosis Benzodiazepine ingegee het, wat die appellant in sy pleit
ontken het. Op aanklag 2 het die appellant erken dat hy gemeenskap
gehad het met die klaagster, maar aangevoer dat dit geskied het met
haar toestemming.
Na afloop van die
verhoor het die streeklanddros bevind, wat aanklag 1 betref, dat die
appellant wel die dwelmmiddel toegedien
het, maar nooit die opset
gehad het om die klaagster te dood nie, en dat die appellant
gevolglik op aanklag 1 skuldig was aan
aanranding gewoon. Wat
aanklag 2 betref het die streeklanddros bevind dat die appellant met
die klaagster gemeenskap gehad het
sonder haar toestemming en dat hy
haar dus verkrag het. Vir die doeleindes van vonnis is die twee
aanklagte saamgeneem en die
appellant is 7 jaar gevangenisstraf
opgelê. Die appellant kom nou met verlof van hierdie Hof in
hoër beroep teen sy
skuldigbevindings.
Die volgende feite was
gemenesaak, of die getuienis daaraangaande is (behalwe waar anders
aangeui) deur die appellant onbetwis
gelaat.
Die betrokke aand het
die appellant ‘n geleentheid gekry saam met sy eks-meisie, me
Patricia Downs, na die sogenaamde
Old Boys Klub, vir ‘n
partytjie ter viering van die mondigwording van Downs. Die betrokke
gebou het net een in- en uitgang,
maar daar is skynbaar dan ook aan
die binnekant ‘n oop area waar persone kon sit. Naby die
betrokke gebou is ‘n
paviljoen. Die partytjie is bygewoon
deur in die omgewing van 28 tot 30 gaste, wat ook ingesluit het die
klaagster, me Tammy
Bruce en Me Sarah Croukamp. Die klaagster en me
Downs is niggies, en die appellant en die klaagster het mekaar as
gevolg hiervan
toe alreeds geken.
Dit kom voor asof
almal wat die partytjie bygewoon het ‘n redelike hoeveelheid
alkohol ingeneem het, veral dan ook die
klaagster. Die klaagster
het deur die loop van die aand dit haar werk gemaak om die
verhouding tussen die appellant en Downs
te laat hervat.
Die appellant het op
‘n stadium ‘n mengeldrankie voorberei, soos wat hy
voorheen elke jaar gedoen het met Downs
se verjaarsdag, vir haar om
te drink. Beide Downs en haar moeder het van die drankie gedrink,
en so ook die klaagster. Wat
ander drankies betref, het die
klaagster wel drankies by die appellant gekry, maar ook by andere.
Die drankies is alles aangekoop
by ‘n kroeg op die betrokke
perseel.
Die klaagster, wat
met haar eie voertuig daar was, het op ‘n stadium gesê
dat sy gaan ry. Alhoewel daar verskille
was oor die presiese graad
van haar dronkenskap op daardie stadium, was dit gemenesaak dat sy
wel onder die invloed van drank
was. Dit was ook die onbetwiste
getuienis van Bruce dat sy inderdaad gepoog het om die klaagster te
oorreed om haar sleutels
te oorhandig, omdat sy gemeen het dat die
klaagster nie in ‘n toestand was om ‘n motor te bestuur
nie. Die klaagster
was op daardie stadium ten volle geklee, met ‘n
grys kortmou “
top
” en ‘n langbroek.
Volgens Bruce is syself en die laaste ander partytjiegangers daar
weg net na 23:00 die aand en
was dit nie lank voor daardie stadium
wat die klaagster vertrek het nie. Op die appellant se getuienis
moes die klaagster iewers
ná 23:00 vertrek het, want sy
getuienis was dat dit ongeveer 23:00 was wat sy hom uit die gebou
gevolg het. Op sy getuienis
in hoof het die partytjie geduur tot
ongeveer middernag. Sy getuie Downs het die tyd van die klaagster
se vertrek geskat op
ongeveer 23:30, en het getuig dat die res van
hulle (insluitende dan volgens haar Bruce) toe daar weg is teen
23:45.
Die klaagster het
later die nag ingestrompel by die plek waar sy en me Louverdis saam
woonagtig was. Sy was op daardie stadium
van haar middellyf af
ondertoe naak en het nie ‘n broek of damesbroekie aangehad
nie. Haar voertuig het buite die huis
gestaan, met die ligte
daarvan aan en die sleutels in die skakelaar. Die klaagster het
geslinger, opgegooi, onsamehangend gepraat
en haar oë het
omgerol. Louverdis het toe dadelik vir Downs gebel, waar Downs en
van die ander partytjiegangers hulle
kuier gaan voortsit het by ‘n
kuierplek genaamd die Half. Dit was gemenesaak dat die appellant
ook op ‘n stadium
daar by die ander aangesluit het en dat hy
te voet daar opgedaag het. Dit was Downs se getuienis dat sy
daardie oproep van
Louverdis ontvang het om 01:11 die nag, dit wil
sê in die vroeë oggendure van die volgende dag.
Downs
is toe dadelik na die woonplek van die klaagster en Louverdis. Daar
is toe onsuksesvol gepoog om ‘n ambulans te
ontbied en die
twee van hulle het toe met ‘n groot gesukkel die klaagster in
‘n voertuig gelaai en na die ongevalle
afdeling van die
Medi-Clinic hospitaal hier in Kimberley geneem. Dr Du Plessis, wat
daar aan diens was, is om ongeveer 02:00
die betrokke oggend
versoek om die klaagster te ondersoek. Sy was volgens hom op
daardie stadium in ‘n semi-komateuse
toestand. Daar is ‘n
urinemonster van die klaagster geneem en ‘n toets wat daar
uitgevoer is, en ook ‘n toets
wat later by ‘n
laboratorium in Kaapstad uitgevoer is, het aangetoon dat die
betrokke dwelm in die klaagster se urine
teenwoordig was
2
.
Mnr Vassen, ‘n verpleër wat die urinemonster met ‘n
kateter geneem het, het getuig dat hy ‘n skeur
aan die
klaagster se vaginale wand opgemerk het. Dit het vir hom gelyk na
‘n onlangse besering en daar was nog ‘n
mate van
bloeding teenwoordig.
Dit was die getuienis
van beide mnr Vassen en me S S Jonker, ‘n administratiewe
klerk by die betrokke hospitaal, dat ‘n
manspersoon op ‘n
stadium daar opgedaag het en wou weet waar die dame was wat verkrag
is, aangesien hy volgens hom sou
geweet het wie daarvoor
verantwoordelik was. Me Jonker het daardie persoon geïdentifiseer
as die appellant, en die betrokke
getuienis is nooit van die kant
van die appellant betwis nie.
Dr Du Plessis het, as
gevolg van die besering aan die klaagster se privaatdele en die
teenwoordigheid van die dwelm in haar
urine, gereël dat sy
oorgeplaas word na die Kimberley Hospitaal vir ‘n behoorlike
forensiese ondersoek. Downs en
Bruce het ook opgedaag by die
hospitaal. Bruce se getuienis was dat, terwyl hulle daar
teenwoordig was, Downs op haar selfoon
sogenaamde SMS boodskappe
van die appellant ontvang het. Volgens me Bruce het sy hulle gelees
en het die appellant daarin ‘n
dreigement geuiter teen me
Downs, en wou hy ook weet wat die klaagster kon onthou. Downs, die
appellant se getuie, het die
dreigement erken. Wat betref die
getuienis dat die appellant in die SMS boodskappe ook wou weet wat
die klaagster kon onthou,
het me Downs eers getuig dat sy nie sulke
SMS boodskappe kon onthou nie, en later dat daar beslis nie so ‘n
navraag van
die kant van die appellant was nie. Ook die appellant
kon in sy getuienis eers nie onthou dat hy so ‘n navraag
gedoen
het nie, maar was later seker dat hy nie het nie. Die feit
is egter dat Bruce se getuienis hieroor onbetwis gelaat is.
Dit was die klaagster
se verdere onbetwiste getuienis dat sy later opgemerk het dat sy ná
hierdie gebeure kneuswonde
aan haar arms en rug gehad het.
Die appellant se
weergawe was kortliks soos volg:
Die klaagster het
gedurende die loop van die aand heelwat alkohol ingeneem. Sy het op
‘n stadium by die appellant gaan
sit, waar hy by die kroeg
gesit het, en het hom toe onsedelik betas en by hom aangelê.
Die appellant het,
omdat hy nie die moontlikheid van die herstel van sy verhouding met
Downs in gevaar wou stel nie, uitgestap
en buite die gebou gaan
staan en rook. Die klaagster het hom egter gevolg en daar weer met
hom gaan staan en gesels, ondermeer
om hom aan te moedig om die
verhouding met Downs te herstel en voort te sit.
Die twee van hulle
het toe na die nabygeleë paviljoen gestap, en daar gaan sit en
gesels. Daar het die klaagster hom weer
onsedelik betas en hom op
‘n uitdagende wyse uitgenooi om met haar gemeenskap te hê.
Alhoewel hy aanvanklik teenoor
haar te kenne gegee het dat hy nie
met haar gemeenskap wou hê nie, omdat dit die moontlikheid
van ‘n herstel van
die verhouding met Downs in gevaar sou
stel, het hy geswig toe die klaagster self haar broek en
damesbroekie uitgetrek het
en gaan lê het.
Die appellant se
getuienis was dat hy die gemeenskap met die klaagster egter
onderbreek het, omdat hy gevoel het dat dit nie
reg was teenoor
Downs nie, en volgens hom is hulle toe terug na die gebou, waar
hulle verder gaan kuier het.
Volgens die appellant
het die klaagster toe saam verder gekuier en gedans en het sy later
met haar voertuig vertrek. Sy getuienis
was dat hy buite by die
klaagster se motorvoertuig met haar gestaan en gesels het voordat
sy gery het. Sy getuienis was dat
Croukamp ook gesien het hoe die
klaagster self en alleen daar wegry, aangesien Croukamp haar by hom
aangesluit het op die stadium
toe die klaagster vertrek het.
Die streeklanddros het
bevind:
dat die appellant die
dwelmmiddel in ‘n drankie gesit het met die doel om Downs
daarmee te bedwelm, maar dat die klaagster
toe daarvan ingekry het;
dat die appellant
daarvan bewus was dat die klaagster in die proses die dwelm
ingeneem het;
dat die appellant
bewus was van die uitwerking van die dwelm, insluitende dat dit
amnesie kon veroorsaak;
dat die appellant met
die klaagster gemeenskap gehad het by die paviljoen, maar eers op
die stadium toe die partytjie reeds
opgebreek het (en dus nie op
die stadium beskryf deur die appellant nie);
dat die klaagster na
afloop van daardie gemeenskap nie terug is in die gebou in nie;
dat die klaagster nie
geldige toestemming tot sodanige gemeenskap verleen het nie; en
dat die appellant
egter nie die dwelm toegedien het met die opset om te dood nie.
In betoog namens die
appellant voor ons is aan die hand gedoen dat daar nie bo redelike
twyfel bewys is dat die appellant die
dwelm toegedien het en dat hy
sonder die klaagster se toestemming met haar gemeenskap gehou het
nie, en is spesifiek namens die
appellant aan die hand gedoen:
dat daar geen
getuienis was oor presies wanneer die klaagster die dwelm sou
ingekry het nie; en
dat dit onbekend is
wat met die klaagster gebeur het ná haar vertrek en tot met
haar aankoms tuis.
Dit
is geykte reg dat ‘n Hof van appèl nie ligtelik sal
inmeng met die feite- en geloofwaardigheidsbevindinge van
‘n
verhoorhof nie
3
.
Daar is nie namens die appellant gewys op enige spesifieke
mistasting wat die streeklanddros sou begaan het by oorweging van
die getuienis, en in die maak van die gemelde bevindinge, nie.
Alhoewel ‘n Hof van appèl wel met bevindinge sal
inmeng
waar hulle duidelik verkeerd is
4
,
is daar nie hier namens die appellant geargumenteer dat enige van
die gemelde bevindinge ooglopend en op die getuienis verkeerd
was
nie.
Dit
is ewe geyk dat by die oorweging van getuienis daar ook gelet moet
word op waarskynlikhede. Dit sal ook geld by oorweging
van die vraag
of ‘n aangeklaagde se weergawe redelik moontlik waar is
5
.
Dit kom op die oog af na my oordeel totaal onwaarskynlik voor dat
die klaagster, wat op alle weergawes daardie aand daarop uit
was om
die verhouding tussen die appellant en Downs herstel te kry, haar
sou afdwing op die appellant op die wyse deur hom aangevoer;
veral
as sy op daardie stadium nog heeltemal in beheer van haarself was,
soos wat hy beweer het sy wel toe nog was. Die enigste
denkbare
verduideliking wat daar vir so ‘n anomalie sou kon wees, is
die getuienis dat een van die newe-effekte van die
betrokke dwelm is
dat ‘n persoon sy inhibisies verloor. Daarteenoor sou dan
egter opgeweeg moes word die feit dat daar
nie getuienis was dat
daar op daardie stadium, dit wil sê volgens die appellant nog
lank voor die einde van die partytjie
en voordat die klaagster gesê
het sy gaan ry, deur enigiemand anders ontoepaslike gedrag aan die
kant van die klaagster
opgemerk is nie. Selfs op die appellant se
eie weergawe sou sy dan, onmiddellik ná die beweerde
uitlokking van die appellant,
teruggegaan het na die partytjie en
daar relatief normaal opgetree het.
Terwyl dit sekerlik so
is dat daar geen bewyslas op die appellant gerus het nie, bly die
feit steeds dat daar, op die appellant
se weergawe, geen
verduideliking hoegenaamd sou wees daarvoor dat die klaagster die
een oomblik nog daar by die partytjie gedans
en gekuier het en toe
vertrek het, net om relatief kort daarna by die huis op te daag in
‘n halfnaakte toestand en totaal
buite haar sinne onder die
invloed van nie net drank nie, maar veral dan ook die dwelm. Op die
appellant se weergawe was sy nie
naastenby in so ‘n toestand
toe sy ten volle geklee vertrek het nie.
Dit was die onbetwiste
getuienis van Vassen, wat al jare lank werksaam was by
ongevalle-afdelings en wat ook volgens dr Du Plessis
“
well
trained and well experienced
” was, dat die beserings van
die vaginale wand onwaarskynlik sou wees waar ‘n volwasse
vrou, en veral een met die
liggaamsbou van die klaagster, tot
gemeenskap toegestem het. Vir die appellant se verduideliking om
redelik moontlik waar te
wees, sou dus aanvaar moes word dat die
klaagster òf reeds hierdie besering gehad het toe sy haar aan
hom opgedring het
òf die besering opgedoen het nadat sy
volgens die appellant alleen en in beheer van haarself die partytjie
verlaat het.
Die appellant se
optrede by die hospitaal kom ook uiters verdag voor. Wat betref die
feit dat hy gesoek het na ‘n meisie
wat verkrag is, is daar in
die getuienis heelwat tyd daaraan afgestaan om te bepaal hoe die
appellant toe al kon geweet het dat
die klaagster verkrag is. Die
appellant se verduideliking hiervoor was dat Downs hom dit vertel
het toe Louverdis haar gebel
het. Downs het egter, in haar getuienis
namens die appellant, haar weerspreek oor wanneer sy dit vir die
appellant sou gesê
het. Belangriker egter is die feit dat die
res van wat die appellant daar by die hospitaal volgens Vassen en
Jonker sou gesê
het, nooit in geskil geplaas is nie, naamlik
dat hy sou geweet het wie verantwoordelik was vir die verkragting.
Hoekom het die
appellant dit gesê? Na wie het hy verwys as die
persoon wat verantwoordelik sou gewees het vir die verkragting en
hoe het
hy dit geweet? Hierdie aspekte is nooit deur die appellant
in getuienis opgeklaar nie.
Dan is daar die feit
dat daar verskille was tussen die weergawes wat die appellant in ‘n
getuieverklaring en in sy latere
waarskuwingsverklaring verstrek
het. Die verskille het geslaan op die klaagster se
soberheidstoestand en op die vraag of die
appellant met haar
gemeenskap gehad het, wat juis waarskynlik op daardie stadium van
die polisie se ondersoek die twee mees wesenlike
vrae was.
Wat betref die vraag
presies wanneer die appellant met die klaagster gemeenskap sou gehad
het, hang daar ook na my oordeel vraagtekens
oor die appellant se
weergawe. Vir sy weergawe om redelik moontlik te wees, sal aanvaar
moet word dat die klaagster valslik voorgegee
het dat sy nie die
gemeenskap tussen hulle kon onthou nie, want op die appellant se
weergawe kon sy op daardie stadium nie naastenby
in ‘n
toestand gewees het waarin sy nie daarvan sou kon onthou nie (hetsy
weens drank en/of weens die betrokke dwelm).
Daar is geen
verduideliking hoegenaamd in die getuienis, of deur die appellant
aan die hand gedoen, vir waarom die klaagster
hom op so ‘n
wyse valslik sou wou inkrimineer nie. Inteendeel, dit blyk baie
duidelik uit die getuienis dat die klaagster
nie die een is wat die
klag teen die appellant aanhangig gemaak het, of van haar kant af
begin het met ‘n bewering dat
hy haar verkrag het, nie. Al wat
sy agterna geweet het is dat sy volgens die dokter onder die invloed
van die dwelm verkeer het
en dat daar met haar gemeenskap gehou is
terwyl sy in sodanige toestand was dat sy glad nie eers daarvan kon
onthou nie. Sy het
maar vir die eerste keer bewus geraak van die
feit dat dit die appellant was wat met haar gemeenskap gehou het,
toe sy dit deur
die polisie meegedeel is.
Ek is van oordeel dat
daar geen basis is waarop die streeklanddros se bevinding dat die
gemeenskap tussen die appellant en die
klaagster plaasgevind het op
‘n latere stadium as wat hy beweer, aangeveg kan word nie. Dit
is ontersaaklik of dit presies
sou gewees het toe die partytjie
opgebreek het of nie. Dit is baie meer tersaaklik of dit plaasgevind
het voor of nadat die klaagster
aangekondig het dat sy vertrek en sy
die gebou verlaat het. In hierdie verband is die volgende van
belang:
Dit
blyk na my oordeel duidelik dat die weergawe van Bruce was dat sy
nie self gesien het hoe die klaagster in haar voertuig
klim en
wegry nie. Sy weet bloot dat die klaagster op ‘n stadium,
waar hulle binne die gebou gesit het, kom sê
het dat sy
vertrek. Dit blyk ondermeer duidelik uit haar getuienis, in
kruisverhoor, dat die appellant nie “
within
the building with us
”
was
toe die klaagster kom sê het dat sy ry nie. Dit is so dat die
transkripsie op ‘n latere stadium
6
die
indruk mag skep dat Bruce getuig het dat sy dit wel aanskou het,
maar ek is van oordeel dat hierdie getuienis ‘n fout
van haar
kant was. Dit was dan ook nie die appellant se saak dat Bruce op
die stadium van die klaagster se wegry buite die
gebou was en dit
sou gesien het nie.
Op Downs se getuienis
het sy die klaagster om ongeveer 23:30 sien uitloop by die
hoofingang. Op haar weergawe sou sy op daardie
stadium binne die
gebou moes gewees het, want sy voer aan dat die appellant en
Croukamp “
apparently
” op daardie stadium
buitekant gestaan het, maar dat sy nie kon sien nie.
Op
die appellant se eie erkenning was hyself egter wel buite die gebou
teenwoordig op daardie stadium, toe die klaagster uit
is om te
vertrek. Die appellant het verder aangevoer dat Croukamp ook nog
daar saam met hom waargeneem het hoe die klaagster
met haar
voertuig daar weggery het
7
.
Croukamp, wat immers
die appellant se eie getuie was, het hom hieroor weerspreek.
Volgens haar is sy by die partytjie weg voor
enigiemand anders, en
daar is nie in haar weergawe enige ruimte daarvoor dat sy gesien
het, saam met die appellant, hoe die
klaagster daar wegry nie.
Hiermee saam moet
opgeweeg word die feit dat die onbetwiste getuienis was dat die
appellant wel op ‘n stadium deur, onder
andere, Downs gesoek
is en dat hy nie toe binne die gebou by die partytjie was nie. Dit
is gemenesaak dat hy op daardie stadium
inderdaad buite die gebou
was.
Inteendeel, dit blyk
uit Bruce se getuienis dat sy op daardie stadium onder die indruk
was dat hy alreeds die partytjie verlaat
het, sonder om hulle te
groet. Daarna is daar volgens haar gesoek na die appellant, in
verband met geld vir die kroeg. Insiggewend
is dit die appellant se
eie weergawe dat hy op daardie stadium gesoek is, en dat dit
volgens hom ‘n ander stadium was
as waarop hy met die
klaagster gemeenskap sou gehad het. Sy weergawe in hierdie verband
was dat hy bloot buite die gebou gestaan
en rook het.
Die feit is egter dat
die appellant dus wel op alle aanduidings buite was toe die
klaagster ook uit is om te ry. Niemand behalwe
die appellant is
daar om te sê wat toe buite gebeur het en of die klaagster
heel vreedsaam en ongeskonde weggery het
nie.
Ek het reeds daarop
gewys dat die appellant homself egter weerspreek het oor sy getuie
Croukamp se bewegings op daardie stadium,
en dat sy ook sy weergawe
van die gebeure met die klaagster se vertrek weerspreek het. Haar
getuienis was nie alleen dat sy
nie teenwoordig was toe die
klaagster vertrek het nie, maar ook dat sy op die stadium toe sy
wel buite die gebou was aan die
einde van die aand en met haar
vertrek, die appellant en die klaagster opgemerk het by die
paviljoen, eenkant en weg van die
ander mense.
Op die appellant se
eie weergawe was hy dus buite toe die klaagster uit is om te ry en
sy weergawe van wat toe daar buite gebeur
het, is vol strydighede
en onwaarskynlikhede.
Bruce se getuienis
dat die klaagster met haar uitstap uit die gebou sleeptong gepraat
het, geslinger het en “
stukkend
” was, is nie in
kruisverhoor betwis nie. Hierdie getuienis sou inpas by die
toestand waarin die klaagster haar woning
binnegekom het, terwyl
die appellant se getuienis dat die klaagster met haar vertrek nog
reg kon loop en praat, moeilik daarmee
te versoen is. Downs se
bewering dat Bruce nie van die appellant gehou het nie, moet gesien
word teen die agtergrond daarvan
dat ook dit nooit in kruisverhoor
aan Bruce gestel is as ‘n motief om die appellant te
inkrimineer nie.
Die oorblywende gaste
is ‘n ruk nadat die klaagster uit die gebou is om te ry, per
voertuig na die Half om verder te kuier.
Die feit dat die appellant
eers op ‘n latere stadium daar opgedaag het, en te voet, kom
ook vreemd voor. Sy verduideliking
vir die feit dat hy nie saam met
die ander in die voertuig daarheen is nie, was dat die voertuig vol
was. Sy getuie Downs het
hom egter nie hierin gestaaf nie en kon
nie verduidelik waarom die appellant nie saam met hulle daarheen
sou gery het nie.
Die appellant se
getuienis was ook in meerdere ander opsigte onbevredigend:
Hy het in
kruisverhoor baie kleigetrap oor, onder andere, waarom hy nie reeds
in sy vroeëre getuieverklaring aan die ondersoekbeampte,
Inspekteur Roos, gemeld het dat hy die aand met die klaagster
gemeenskap gehad het nie. Hy het toe op ‘n stadium beweer
dat
hy wel by daardie geleentheid ná die aflê van sy
verklaring vir Roos gesê het dat daar nog iets was,
wat hy
nie in sy verklaring vermeld het nie, wat hy wou bespreek, maar dat
Roos toe nie daarna wou luister nie. Dit is nooit
aan Roos gestel
in kruisverhoor nie en is ook na my oordeel totaal onwaarskynlik.
In sy
waarskuwingsverklaring het die appellant beweer dat hy met die
eerste onderhoud met Roos die gemeenskap verswyg het omdat
hy sy
verhouding met Downs wou red. Hy het dit weer in kruisverhoor as
die rede vir sy verswyging bevestig. Dit het egter later
geblyk dat
hy met daardie onderhoud alreeds weer van sy “huidige”
meisie vergesel was. Volgens hom sou hy egter
in haar
teenwoordigheid die feit van die gemeenskap openbaar het, as Roos
maar net wou luister.
Die appellant het by
meerdere ander geleenthede in sy getuienis ook vorendag gekom met
wesenlike beweringe wat nooit in kruisverhoor
namens hom gestel is
nie. So het hy, byvoorbeeld, vir die eerste keer in sy getuienis
vorendag gekom met ‘n bewering
dat die klaagster met haar
aankoms die aand pille wat uit ‘n botteltjie gekom het,
gedrink het. Volgens hom het sy by
haar tannie hulle gesit op
daardie stadium. Hoekom is dit nooit aan die klaagster of
enigiemand anders gestel in kruisverhoor
nie?
Dan is daar nog die
kwessie van die SMS boodskappe. Die getuienis van staatsweë
dat die appellant daarin ondermeer wou
weet wat die klaagster
onthou, is soos reeds gemeld nie betwis nie. Sy poging om dit te
verduidelik, later tydens sy kruisverhoor,
was geensins oortuigend
nie. So het hy, byvoorbeeld, te kenne gegee dat hy wel onthou dat
hy SMS’e gestuur het daardie
aand, maar het hy beweer dat die
inhoud daarvan gegaan het oor hom en me Downs. Kort tevore, ook
tydens sy kruisverhoor, het
hy egter beweer, op ‘n vraag oor
wat in sy gedagtes was toe hy die SMS’e gestuur het, dat “
ek
kan nie onthou dat ek dit gestuur het nie
”. Op nog ‘n
vroeër stadium het hy getuig: “
Ek kan nie presies sê
nie, ..., ek weet nie presies ek het die sms’e gestuur nie
”.
Die vraag is egter of
die streeklanddros korrek was om die appellant op aanklag 1 aan
aanranding skuldig te bevind. Meer spesifiek
is die vraag of, selfs
al sou aanvaar word dat die appellant die persoon is wat die dwelm
in ‘n drankie geplaas het, hierdie
bevinding versoenbaar is
met die bevinding dat die appellant die dwelm bedoel het vir Downs.
Hierdie vraag is nie deur enige
van die advokate in hulle
betoogshoofde behandel nie.
Die
streeklanddros het eers bevind dat die appellant “
had
intended the poisoned cocktail for Patricia
(Downs)”
.
Direk daarna het die streeklanddros egter verder bevind dat “
The
intention to alter the state of mind of the complainant was however
manifestly proved”
.
Indien
dit aanvaar sou word dat die appellant die dwelm in ‘n drankie
geplaas het met die opset dat Downs dit sou inkry
en daardeur
geaffekteer sou word, maar dit sou blyk dat die klaagster
uiteindelik die dwelm ingekry het deur van daardie drankie
te drink,
het ‘n mens te make met ‘n geval van
aberratio
ictus
of
sogenaamde "
afskramming
van die hou
”
8
.
In
so ‘n geval moet bepaal word of die appellant die opset gehad
het, of minstens dié gevolg voorsien het en hom
daarmee
versoen het, dat die klaagster van die drankie en dwelm sou inkry
9
.
Hier is geen sodanige
getuienis nie. Selfs al sou aanvaar word dat die appellant die dwelm
in die mengeldrankie gesit het wat
hy voorberei het vir me Downs,
sou dit op die getuienis duidelik gewees het dat sy opset was dat
dit deur Downs geneem moes word.
Sy getuienis was dat hy elke jaar
met haar verjaarsdag vir haar ‘n spesiale drankie voorberei
het. Haar getuienis was ook
dat die enigste rede waarom sy nie
hierdie drankie uiteindelik gedrink het nie, bloot was dat dit vir
haar te sterk was.
Dit is so dat meer
persone toe van die mengeldrankie gedrink het. Daar is egter geen
getuienis wat die afleiding sou regverdig,
as die enigste redelike
afleiding op die getuienis, dat die appellant dan in die proses van
die plaas van die dwelm in die mengeldrankie,
en vooraf reeds, ook
minstens voorsien het dat ook die klaagster van die betrokke drankie
kon inneem nie.
Bloot op hierdie basis
al behoort die skuldigbevinding aan aanranding na my oordeel tersyde
gestel te word.
Dit is onnodig om te
bevind of die dwelm in die mengeldrankie toegedien is of deur ‘n
ander drankie. Die feit bly dat dit
op die getuienis duidelik vir
Downs bedoel sou gewees het, en dat dit ewe duidelik op die
getuienis die appellant sou gewees
het wat dit so toegedien het.
Hierdie afleidings is die enigste redelike afleidings wat strook met
alle bewese feite, en meer
spesifiek dan:
die probleme tussen
die appellant en Downs, soos bevestig deur sy latere dreigement aan
haar;
die appellant se
belangstelling in wat die klaagster kon onthou (toe hy sekerlik
besef het dat die klaagster van die dwelm ingekry
het);
die appellant se
duidelik valse getuienis en versinsel dat hy sou gesien het hoe die
klaagster pille inneem vroeër die
betrokke aand; en
die vergesogtheid
daarvan dat iemand anders die dwelm toegedien het en dat die
appellant toe maar net opportunisties opgetree
het deur die
klaagster in daardie toestand te verkrag en dan staat te maak
daarop dat sy nie sou onthou daarvan nie (Hoe sou
hy in so ‘n
geval geweet het dat amnesie een van die gevolge van die bepaalde
tipe dwelm was?).
Die feit is egter dat
die klaagster op die een of ander wyse van die dwelm moes ingekry
het. In die lig van die feit dat die dwelm
vir Downs bedoel was, is
die waarskynlikhede groot dat die dwelm in die mengeldrankie geplaas
moes gewees het, want dit was die
een drankie wat juis vir Downs
bedoel was.
Die appellant was die
een wat daardie mengeldrankie gemeng het. In hierdie verband is ook
die volgende van belang:
Die klaagster se
getuienis dat Downs net aan die drankie geproe het, en so ook “
aunt
Jill
”, en dat sy wat die klaagster is toe die meeste van
die mengeldrankie gedrink het, is nie in kruisverhoor betwis nie.
Op die appellant se
weergawe sou Downs en haar moeder elk ‘n sluk daarvan geneem
het en sou hy dan ‘n “
redelike slukkie
”
geneem het. Dat hy self ook daarvan geneem het, is nooit aan die
klaagster of enigiemand anders gestel nie. Die appellant
bevestig
egter dat die klaagster ook van die drankie gedrink het, maar kon
nie sê of sy die laaste een was wat daarvan
gedrink het en
wat dit by haar gehad het nie. Volgens die appellant sou al die
meisies van die betrokke drankie gedrink het,
iets wat nie aan
Bruce gestel is nie en ook nie deur Croukamp bevestig is nie.
Downs se getuienis
was strydig hiermee. Volgens haar sou sy en haar moeder elkeen
meerdere slukke geneem het, soveel so dat
hulle tussen hulle
ongeveer die helfte van die drankie uitgedrink het. Daarna sou
hulle dit op die toonbank neergesit het.
Downs maak geen melding
daarvan dat òf die klaagster òf die appellant van die
drankie ingeneem het nie.
Die appellant en
Downs se getuienis lyk na pogings om die indruk te skep dat daar
geen dwelm in die mengeldrankie kon gewees
het nie, aangesien hulle
dan heelwat daarvan sou ingeneem het en niks oorgekom het nie.
Selfs al sou dit egter
so wees dat daar nie getuienis is dat die appellant voorsien het dat
die klaagster van die dwelm sou inkry
nie, is dit vir doeleindes van
die verkragting steeds duidelik dat hy geweet het wat die effek sou
wees op iemand wat dit ingekry
het, of minstens dan dat hy bewus
geraak het daarvan dat die klaagster in ‘n toestand was waar
sy later nie sou onthou
wat met haar gebeur het nie, of dit nou deur
drank of deur die dwelm, of deur beide, veroorsaak mag gewees het.
Dit is die appellant
se eie weergawe dat “
almal die meisies”
van die
mengeldrankie geniet het, en op sy eie weergawe moes hy dus minstens
toe geweet het dat die klaagster van die mengeldrankie,
en van die
dwelm wat hy vir Downs bedoel het, ingekry het; dit teen die
agtergrond van sy eie getuienis dat die klaagster ook
heelwat
alkohol ingeneem het.
Selfs al sou die hele
kwessie van die dwelm egter weggedink word, sou die feit bly staan
dat, nie alleen op die weergawe van Bruce
nie, maar selfs ook op die
weergawe van die appellant se eie getuie Croukamp, die klaagster op
die stadium toe sy die gebou verlaat
het om te vertrek (en toe
Croukamp haar en die appellant by die paviljoen gesien het)
hoegenaamd nie in ‘n toestand kon
gewees het om geldiglik toe
te stem tot gemeenskap nie, hetsy weens drank en/of die betrokke
dwelm.
Dit volg dus dat ek
van oordeel is dat die skuldigbevinding aan aanranding tersyde
gestel behoort te word. Weens die feit dat
die streeklanddros die
twee aanklagte saam geneem het vir vonnis, bring dit mee dat opnuut
oorweging verleen sal moet word aan
die vonnis van die verkragting.
Die streeklanddros het
bevind dat die appellant die klaagster die dwelm ingegee het “
to
facilitate”
die verkragting. Dit is ‘n mistasting.
Soos reeds gemeld, is daar nie getuienis dat die appellant ooit die
direkte of indirekte
opset gehad het om die klaagster die dwelm in
te gee nie. Nog minder was daar getuienis, of ruimte vir ‘n
bevinding, dat
appellant die klaagster die dwelm ingegee het met die
doel om haar te verkrag.
Die appellant wou die
dwelm vir Downs ingee. Oor sy doel daarmee, is nie ‘n
definitiewe bevinding gemaak deur die streeklanddros
nie. Sy een SMS
aan Downs het gesê “
you’ve killed me inside,
watch what I am going to do to you
”. Wat hy hiermee bedoel
het, kan maar net oor gespekuleer word. Die streeklanddros was egter
nie ten aansien van Downs
bereid om te bevind dat die appellant haar
die dwelm wou ingee om haar te kon verkrag nie. Daar is bloot bevind
dat dit ‘n
moontlikheid was. Hierdie Hof sal hom egter berus
by hierdie moontlik ietwat tegemoetkomende benadering van die
streeklanddros.
Die streeklanddros sou
dus, afgesien daarvan dat die toediening van die dwelm aan die
klaagster op hierdie Hof se bevinding nie
opsetlik sou gewees het
nie, selfs op die streeklanddros se eie bevindinge verkeerdelik ‘n
motief gekoppel het aan die
gebruik van die dwelm, tot nadeel van
die appellant.
Die verkragting van
die klaagster was, soos wat die streeklanddros self in die
vonnis-uitspraak by meer as een geleentheid gesê
het, ‘n
opportunistiese daad. Toe die klaagster die dwelm ingekry het en
daardeur geaffekteer is, het die appellant misbruik
gemaak van die
effek daarvan op haar.
Die streeklanddros se
eie bevinding was dan ook dat die verkragting nie bepland was nie,
wat ook eintlik indruis teen ‘n
bevinding dat die appellant
die klaagster bedwelm het om die verkragting moontlik te maak.
In die lig van die
getuienis dat die dwelm onder andere veroorsaak dat ‘n persoon
sy of haar inhibisies verloor, en optree
op ‘n wyse waarop hy
of sy nooit andersins sou opgetree het nie, ontstaan die vraag ook
of die klaagster nie inderdaad
by die appellant aangelê het
nie; selfs al sou dit moontlik nie gewees het tot die mate geskets
deur hom nie. Alhoewel
die klaagster en Bruce dit ontken het, was
daar namens die appellant getuienis dat sy wel met die appellant
“
geflirt
” het. Hierdie getuienis is nooit verwerp
nie en uitlokking soos hierdie sou ‘n rol kon gespeel het in
die besluit
van die appellant, wat self ook onder die invloed van
drank was tot die een of ander mate, om misbruik te maak van die
situasie.
Die appellant het
besonder gunstige persoonlike omstandighede gehad, waaronder die
feit dat hy op 32 jarige leeftyd ‘n eerste
oortreder was. Ek
verwys nie weer na al daardie omstandighede nie. Daar is vollediglik
daarna verwys deur die streeklanddros.
Ek meen dat die
streeklanddros tereg bevind het dat daar wesenlike en dwingende
omstandighede bestaan het wat ‘n afwyking
van die voorgeskrewe
vonnis van 10 jaar gevangenisstraf geregverdig het. Ek is van
oordeel dat ‘n gepaste vonnis vir die
verkragting alleen, en
gegewe die voorgaande, steeds direkte gevangenisstraf sou wees,
nieteenstaande die getuienis dat die klaagster
nie verlang het dat
die appellant gevangenisstraf opgelê word nie.
Die appellant is
duidelik rehabiliteerbaar en ek meen dat hierdie ‘n geval is
waar die termyn van 7 jaar gevangenisstraf
moontlik steeds gepas sal
wees vir die verkragting alleen, maar dan moet ‘n gedeelte
daarvan opgeskort word. Dit sal aan
die appellant die geleentheid
gee om vir ‘n deel van die vonnis buite gevangenisverband te
rehabiliteer, terwyl die totale
termyn van 7 jaar gevangenisstraf
steeds die erns van die misdaad sou weerspieël.
In die lig van die
voorgaande word die volgende bevele gemaak:
Die appél
slaag tot dié mate dat die skuldigbevinding op aanklag 1, aan
aanranding gewoon, tersyde gestel word.
Die appèl
teen die skuldigbevinding op aanklag 2 misluk en die
skuldigbevinding aan verkragting word bekragtig.
Die vonnis word
tersyde gestel en vervang met een van 7 jaar gevangenisstraf waarvan
‘n periode van 3 jaar vir ‘n
periode van 5 jaar
opgeskort word op voorwaarde dat die appellant nie skuldig bevind
word aan ‘n oortreding van artikel
3 van die Wysigingswet op
die Strafreg (Seksuele Misdrywe en Verwante Aangeleenthede), 32 van
2007, gepleeg gedurende die periode
van opskorting nie.
Die gemelde vonnis
word teruggedateer tot die datum van vonnisoplegging op 29 Julie
2010.
_____________________
C J OLIVIER
REGTER
NOORD-KAAPSE
AFDELING
Ek stem saam.
______________________
C C WILLIAMS
REGTER
NOORD-KAAPSE
AFDELING
Nms Appellant: Adv P J Cloete
Namens: Regshulpsentrum,
KIMBERLEY
Nms Respondent: Adv N B
Mabilietse
Namens: Direkteur van Openbare
Vervolging, KIMBERLEY
1
32
van 2007
2
Volgens
die toets in Kaapstad was dit in ‘n hoë konsentrasie
teenwoordig.
3
S
v Hadebe and Others
1997 (2) SACR 641
(SCA) op 645e-f
4
S
v Heslop
2007 (1) SACR 461
(SCA) para [13].
5
Olewale
v S
[2010] 1 All SA 451
(SCA) para [13]
6
Oorkonde:
vol 1, bl 114, reel 14 en verder
7
Hy
het homself wel op ‘n stadium hieroor weerspreek, tot dié
mate dat hy eers aangevoer het dat me Croukamp daar
buite by die
voertuig na hom en die klaagster gekom het en met hulle gaan gesels
het, terwyl hy later te kenne gegee het dat
me Croukamp eers daar na
hom gekom het op die stadium toe die klaagster reeds besig was om
weg te ry.
8
Strafreg
,
Snyman, 5de uitgawe, bl 196
9
vergeleyk
S v Matle
1984
(3) SA 748
(NK) op 751