About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley
>>
2012
>>
[2012] ZANCHC 38
|
|
S v Petersen (29/2012) [2012] ZANCHC 38 (8 June 2012)
Rapporteerbaar:
Ja / Nee
Sirkuleer
onder Regters: Ja / Nee
Sirkuleer
onder Landdroste: Ja / Nee
Sirkuleer
onder Streeklanddroste Ja / Nee
IN DIE Hoë HOF
VAN SUID-AFRIKA
(Noord-Kaapse Hoë
Hof, Kimberley)
Saak No: 29/2012
Datum gelewer:
08/06/2012
In
die saak tussen:
Staat
en
Bertrand Sidney
Petersen
......................................................................
Beskuldigde
Coram:
Williams R
et
Olivier R
UITSPRAAK OP
HERSIENING
Olivier R:
Die
beskuldigde, mnr B S Petersen, het in die Landdroshof te Keimoes
tereggestaan op ‘n aanklag dat hy die bepalings van
artikel 31
(1) van die Wet op Onderhoud
1
oortree
het deur te versuim om betalings te maak ooreenkomstig ‘n
onderhoudsbevel. Na aanvanklike verwarring oor of die
beskuldigde
sou skuldig pleit, is ‘n pleit van onskuldig uiteindelik
genotuleer. Nadat die klaagster se getuienis aangebied
is, is die
beskuldigde se pleit egter verander na een van skuldig. Daar is toe
‘n skriftelike verklaring van die beskuldigde
ingevolge die
bepalings van artikel 112 (2) van die Strafproseswet
2
ingedien.
Nadat die aanklaer ook aangedui het dat die pleit van skuldig op
daardie basis aanvaar word, is die beskuldigde dienooreenkomstig
skuldig bevind en gevonnis tot 15 maande gevangenisstraf wat
voorwaardelik opgeskort is vir ‘n periode van 5 jaar.
Die landdros het nou
die verrigtinge voorgelê vir spesiale hersiening, en wel op
die gronde dat die inhoud van die beskuldigde
se skriftelike
verklaring nie ‘n behoorlike pleit van skuldig daargestel het
nie en dat die opgelegde vonnis die voorgeskrewe
maksimum oorskry
het. Die landdros versoek dus dat beide die skuldigbevinding en die
vonnis tersyde gestel word, en versoek verder
dat, sou die
beskuldigde weer vervolg word, sodanige verhoor deur ‘n ander
landdros behartig word.
Die opgelegde vonnis
oorskry duidelik die voorgeskrewe maksimum van “’
n
boete of .... gevangenisstraf vir ‘n tydperk van hoogstens een
jaar of met daardie gevangenisstraf sonder die keuse van
‘n
boete
” in artikel 31 (1) van die Wet op Onderhoud. Die
feit dat die gevangenisstraf opgeskort is, maak hieraan geen verskil
nie.
Die vonnis moet dus op hierdie basis alreeds tersyde gestel
word.
Die bepalings van
artikel 112 (2) maak dit vir ‘n Hof moontlik om, waar ‘n
skriftelike verklaring deur die beskuldigde
ingehandig word waarin
die beskuldigde skuldig pleit en die feite uiteensit wat erken word,
die beskuldigde op daardie basis
skuldig te bevind en te vonnis,
maar slegs “
indien
(die Hof)
oortuig is dat die
beskuldigde skuldig is aan die misdryf waaraan hy skuldig gepleit
het
”. Die voorbehoudsbepaling tot artikel 112 (2) maak dit
verder in so ‘n geval vir die Hof moontlik om “
na
goeddunke enige vraag aan die beskuldigde
... (te)
stel ten
einde ‘n aangeleentheid op te helder wat in die verklaring
geopper is
”.
Artikel 113 (1) van
die Strafproseswet lui dat ‘n Hof wat op enige stadium voor
vonnis in twyfel verkeer oor of ‘n
beskuldigde wat skuldig
gepleit het op ‘n aanklag inderdaad regtens daaraan skuldig
is, en ‘n Hof aan wie dit blyk
of beweer word dat ‘n
beskuldigde ‘n geldige verweer het op die aanklag ten laste
gelê of dat die beskuldigde
foutiewelik ‘n bewering
erken het, ‘n pleit van onskuldig moet aanteken.
Die landdros wys tereg
daarop dat daar reeds in die beskuldigde se artikel 112
(2)-verklaring twyfel geskep is oor die vraag of
hy in staat gewees
het om die betrokke betalings te maak:
Die beskuldigde het
die een oomblik erken dat hy gedurende die betrokke periode
werksaam was, net om die volgende oomblik te
verklaar dat hy vir ‘n
gedeelte van die periode werkloos was.
Op ‘n latere
stadium het die beskuldigde verklaar:
“
Dit
is egter nie omdat ek nie wou die onderhoud betaal, maar eerder omdat
ek dit nie kon betaal nie.
”
Die landdros het nie
voor skuldigbevinding aan die beskuldigde vrae gevra om hierdie
aspek te probeer opklaar nie. Die landdros
kon na my oordeel nie
regtens tevrede gewees het dat die beskuldigde se verklaring ‘n
behoorlike erkenning daargestel het
van al die elemente van hierdie
misdryf nie. Die versuim om vrae te vra ter opheldering van hierdie
aspek beteken dat die landdros
nie die bepalings van artikel 112 (2)
van die Strafproseswet behoorlik nagekom het nie.
Tydens die verrigtinge
ná skuldigbevinding en voor vonnis het die beskuldigde se
regsverteenwoordiger ook die landdros
meegedeel dat “
dit is
nie omdat hy nie wil sy kinders onderhou nie, maar omdat sy
finansiële omstandighede sommige kere van so ‘n
aard
gewees het dat hy nie die onderhoudsbevel kon nagekom het nie
”.
Toe die landdros met die regsverteenwoordiger die vraag gedebatteer
het of die beskuldigde nie uit eie keuse nie gewerk
het nie, is hy
meegedeel dat die beskuldigde “
volgens sy mediese toestand
.... ook nie teruggegaan
(het)
werk toe nie
”.
Dit mag geargumenteer
word dat hierdie onbetwiste mededelings namens die beskuldigde die
toepassing van die bepalings van artikel
113 van die Strafproseswet,
en die verandering van die pleit van skuldig terug na een van
onskuldig, genoodsaak het. In die lig
van die slotsom waartoe ek
reeds gekom het met betrekking tot die inhoud van die artikel 112
(2)-verklaring, en die implikasies
daarvan, is dit egter nie nodig
dat hierdie vraag verder oorweeg word nie.
Artikel
312 (1) van die Strafproseswet bepaal dat, waar ‘n
skuldigbevinding en vonnis tersyde gestel word weens die
nie-nakoming
van, onder andere, die bepalings van artikel 112 (2) of
artikel 113 van die Strafproseswet, die saak terugverwys sal word na
die Hof wat die vonnis opgelê het, sodat daardie Hof aan die
betrokke bepalings kan voldoen. In gepaste gevalle sal ‘n
Hof
van hersiening of appél egter afwyk van hierdie prosedure
3
.
Ek meen dat daar ook in hierdie geval gronde bestaan om so te doen:
Dit blyk uit die
oorkonde dat die landdros reeds baie betrokke was by die dispute
tussen die klaagster en die beskuldigde. Hy
het kennis gedra
daarvan dat die klaagster ‘n regsverteenwoordiger aangestel
het om “
toe te sien dat reg en geregtigheid en billikheid
seëvier met betrekking tot ....
(die)
kriminele
verrigtinge
”. Hoe die landdros dit geweet het, en watter
rol die betrokke regsverteenwoordiger verder gespeel het in die
verrigtinge,
is nie duidelik nie.
Dit het verder geblyk
dat die klaagster die landdros persoonlik genader het om te beweer
dat daar foutiewe berekeninge in die pleit
van skuldig was wat die
beskuldigde van plan was om aan te bied.
Die landdros het ook,
tydens die betoë van die partye ná skuldigbevinding,
ander uitlatings gemaak wat gedui het op
kennis van sekere gebeure
buite die Hof en op ‘n geskiedenis van betrokkenheid van die
landdros by dispute tussen die klaagster
en die beskuldigde:
“
......
ek wil hê die klaagster in die besonder moet baie goed luister
na aanleiding van alles wat dalk vandag gebeur het buite
om hierdie
hof met betrekking tot hierdie aangeleentheid.
”
“
Ons
kom al ‘n lang pad saam, u en ek en die klaagster
”.
Tweedens
het die landdros tydens die oplegging van vonnis aangedui dat ‘n
sekere gedeelte van die beskuldigde se skriftelike
verklaring na
die oordeel van die landdros nie die waarheid was nie
4
.
Hierdie uitlating van die landdros is gemaak teen die agtergrond
daarvan dat die aanklaer die pleit en feitebasis aanvaar
het en,
meer belangrik
5
,
ten spyte daarvan dat die landdros, selfs nadat die klaagster se
getuienis reeds aangehoor was, besluit het om die pleit van
skuldig
op daardie basis te aanvaar.
Laastens is daar die
feit dat die opgelegde vonnis, soos reeds aangedui, in elk geval
onbevoeg was. Dit moet dus reeds op daardie
grond tersyde gestel
word. Hierdie is dus nie ‘n geval waar die vonnis bloot
tersyde gestel word omdat die skuldigbevinding
gebrekkig was weens
die nie-nakoming van die bepalings van artikel 112 (2) of artikel
113 van die Strafproseswet nie.
In die Mmatli saak is
bevind dat dit moontlik is om ‘n saak terug te verwys vir
heropening van die artikel 112-verrigtinge
voor ‘n ander
landdros. Die onderhawige geval is egter onderskeibaar, want hier
het die landdros al getuienis aangehoor
voordat die artikel
112-verrigtinge ‘n aanvang geneem het. Sou hierdie geval
terugverwys word vir die nakoming van die
bepalings van artikel 312
(1), en sou dit dan lei tot die verandering van die pleit na een van
onskuldig, sou ‘n ander
landdros tog seker nie ‘n
verhoor kon voortsit waarin daar reeds getuienis aangehoor is deur
die eerste landdros nie.
Ek maak dus die
volgende bevele hierin:
Die
skuldigbevinding en vonnis word tersyde gestel.
Die saak word
terugverwys vir verhoor
de novo
deur ‘n ander landdros.
_____________________
C J OLIVIER
REGTER
NOORD-KAAPSE
AFDELING
Ek stem saam.
______________________
C C WILLIAMS
REGTER
NOORD-KAAPSE
AFDELING
1
99
van 1998
2
51
van 1977
3
vergelyk
S v Mmatli
1988
(2) SA 533
(T);
S v Mshengu
2009 (2) SACR 316
(SCA)
4
“…
maar om vir my te sê u het gedink dat u
werk trek die geld af, meneer, met respek ek byt nie aan daardie een
nie, hoor.
”
5
vergelyk
S v Sethoga and Others
1990
(1) SA 270
(A) op 271I-275G