About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley
>>
2012
>>
[2012] ZANCHC 36
|
|
Leserwane v New Edition Valves & Pipes BK (1442/2009) [2012] ZANCHC 36 (23 March 2012)
Rapporteerbaar:
Ja / Nee
Sirkuleer
onder Regters: Ja / Nee
Sirkuleer
onder Landdroste: Ja / Nee
Sirkuleer
onder Streeklanddroste: Ja / Nee
IN DIE Hoë HOF
VAN SUID-AFRIKA
(Noord-Kaapse Hoë
Hof, Kimberley)
Saak No: 1442/2009
Saak Aangehoor:
16/03/2012
Datum gelewer:
23/03/2012
In
die saak tussen:
Teko Edward Leserwane
............................................................................
Applikant
en
New Edition Valves &
Pipes BK
..............................................................
Respondent
Coram: Olivier R
UITSPRAAK
Olivier R:
Die applikant hierin
is mnr Teko Edward Leserwane. Hy doen aansoek om kondonasie en om
die tersydestelling van ‘n verstekvonnis
wat die respondent,
New Edition Valves & Pipes Bk, teen hom verkry het.
Die respondent se
dagvaarding is blykens die relaas op 26 Augustus 2009 beteken op ene
mnr Nels by die adres van die Ga-Segonyana
Munisipaliteit te
Kuruman. Dit is nie in geskil dat die dagvaarding tot die kennis van
die applikant gekom het nie, want dit
is die applikant se saak dat
hy in reaksie daarop op 11 September 2009 (dit wil sê nadat
die
dies induciae
bepaal in die dagvaarding reeds verstryk
het) per faks ‘n skrywe gerig het aan die respondent se
prokureur. Die inhoud
van die skrywe lui soos volg:
“
I
am still saying that, I don’t know the debt that state that I
owe Mr. Ishmael like you have been saying guys. Again on the
3
rd
of
September-09, I have seen another letter saying we made an argument
only by talking to each other. That’s not true. I don’t
owe Ishmael anything I am still repeating what I have said.
I want you guys to
arrange with the Magistrate court so that I can explain to court why
I say I don’t owe Ishmael, How can
Ishmael borrow me money for
3 yrs without paying him back it’s a big lie that he confess
about me. So let’s meet in
court of Justice that’s all.
Ishmael keeps on threatening me because Ga-segonyana Municipality
decided not to buy from you
[Ishmael] so that is why you say I owe
because you know that is not the truth.
I don’t owe
you Ishmael I am still saying that and you know it.
”
By die aanhoor van
hierdie aansoek wou mnr Olivier, die advokaat vir die respondent, ‘n
eedsverklaring voor my plaas wat
volgens hom betrekking sou gehad
het op die ontvangs van hierdie skrywe. Mnr Schreuder, die advokaat
vir die applikant, het beswaar
gemaak. In die lig van mnr Olivier se
eie submissie dat die inhoud van die verklaring nie die meriete van
die aangeleentheid
enigsins verder sou neem nie, het ek nie die
verklaring toegelaat nie.
Op 15 September 2009
het die respondent se prokureur by die Griffier aansoek gedoen om
verstekvonnis teen die applikant, op die
basis dat die applikant nie
kennis gegee het van voorneme om te verdedig nie. Op 17 September
2009 het die Griffier verstekvonnis
op hierdie basis verleen in die
bedrag van R107 949,61, rente daarop teen 15.5% per jaar vanaf
1 Februarie 2009 tot datum
van betaling en koste van die geding. Die
skuldoorsaak uitgemaak in die respondent se dagvaarding was dat die
bedrag verskuldig
was weens gelde deur die respondent aan die
applikant geleen en voorgeskiet.
Die applikant openbaar
nie in sy funderende eedsverklaring wanneer hy bewus geword het van
die verstekvonnis nie. Hy verklaar
bloot dat hy “
later eers
gehoor
(het)
dat daar vonnis teen
(hom)
gegee is
”.
Hierdie tipe inligting sou normaalweg totaal onvoldoende gewees het
vir die doeleindes van ‘n aansoek om kondonasie.
Mnr Olivier
het egter in die goeie tradisie van sy beroep openbaar dat daar oor
‘n lang periode ná die verlening
van verstekvonnis
samesprekings gevoer is tussen die partye, en dat gedurende daardie
periode die applikant se aansoek om heroorweging
van die
verstekvonnis by ooreenkoms agterwee gehou is.
Die samesprekings was
egter onsuksesvol en op 29 April 2011 het die respondent se
prokureur die applikant in kennis gestel dat
daar maar voortgegaan
moes word met ‘n aansoek om tersydestelling.
Die aansoek is egter
eers op 21 Julie 2011 geloods. Mnr Olivier het geargumenteer dat die
applikant ‘n verduideliking moes
verstrek het vir die
tydsverloop tussen die laasgemelde twee datums en dat sy versuim om
so te doen fataal is vir sy aansoek
om kondonasie. Na my oordeel het
daar teen daardie tyd egter alreeds so ‘n lang tyd verstryk
sedert die verlening van die
vonnis, en terwyl die partye
samesprekings gevoer het, dat daar nie van die applikant verwag kon
gewees het om te hou by die
normale voorgeskrewe periode van 20 dae
nie; minstens nie in die afwesigheid van enige spertyd gestel deur
die respondent se
prokureur nie. Ook weens die gevolgtrekking
waartoe ek gekom het met betrekking tot die meriete van die
applikant se aansoek
om tersydestelling, meen ek dat kondonasie aan
hom verleen behoort te word.
Wat
betref die gemelde skrywe, is die eerste vraag wat oorweeg moet word
of dit as ‘n kennisgewing van voorneme om te verdedig
(of ‘n
poging daartoe) beskou en behandel moes gewees het. Die beslissing
in
Founders
Building Society v Dalib (Pvt) Ltd and others
1
is
in hierdie verband van besondere belang. In daardie geval het die
verweerder se prokureur ‘n kennisgewing afgelewer van
sy
aanstelling (welke kennisgewing vroeër blykbaar in Zimbabwe ‘n
kennisgewing van voorneme om te verdedig moes vergesel
het, maar nie
meer teen daardie stadium nie), maar is geen kennisgewing van
voorneme om te verdedig afgelewer nie. Daar is toe
aansoek gedoen om
verstekvonnis op die basis dat geen kennis gegee is van voorneme om
te verdedig nie. Die Hof het die aflewering
van eersgemelde
kennisgewing beskou as ‘n poging om kennis te gee van voorneme
om te verdedig en het beslis dat, waar daar
so ‘n gepoogde
kennisgewing van voorneme om te verdedig is, wat nie voldoen aan die
voorskrifte nie en onreëlmatig
is, dit nietemin die plig is van
die eiser se regsverteenwoordiger om die verweerder of sy
regsverteenwoordiger in kennis te
stel van die onreëlmatigheid
en om dan òf aansoek te doen om tersydestelling van die
betrokke dokument òf
die onreëlmatigheid aan die Hof te
openbaar by die aansoek om verstekvonnis en redes aan te voer waarom
die Hof, desnieteenstaande,
in die uitoefening van sy diskresie
verstekvonnis behoort te verleen.
Daar
bestaan ook ander gesag daarvoor dat ‘n eiser nie geregtig is
daarop om ‘n onreëlmatige kennisgewing van
voorneme om te
verdedig bloot te verontagsaam of te ignoreer nie
2
.
In die onderhawige
geval het die applikant dit na my oordeel nog duideliker gemaak, as
in die
Founders
geval, dat hy begerig was om die respondent
se eis te verdedig. Boonop was die applikant hier op daardie stadium
onverteenwoordig.
Alhoewel die naam van
die respondent se prokureur en die betrokke saaknommer in handskrif
aangebring is op die skrywe van 11 September
2009, bevat dit geen
ander duidelike verwysing na die partye in hierdie aangeleentheid
nie. Dit bevat geen opskrif nie, en is
ook nie aan die Griffier
gerig nie. Daar is in die antwoordende verklaring erken dat die
betrokke skrywe deur die respondent
se prokureur ontvang is, maar
mnr Olivier het my van die balie meegedeel dat, alhoewel die skrywe
wel vroeër deur die kantoor
van die respondent se prokureur
ontvang is, dit op die datum van die aansoek om verstekvonnis nog
nie tot die kennis gekom het
van die betrokke prokureur nie. Daar is
dan ook op die stukke geen aanduiding dat die teendeel waar sou wees
nie. Ek aanvaar
dus onvoorwaardelik dat, toe daar aansoek gedoen is
om verstekvonnis, die respondent se prokureur nie persoonlik bewus
was van
die bestaan en ontvangs van die betrokke skrywe nie.
Mnr Olivier moes egter
toegee dat, indien die respondent se prokureur wel op daardie
stadium self bewus sou gewees het van die
betrokke skrywe, en
inaggenome die inhoud daarvan, die aansoek om die verstekvonnis nie
gedoen sou gewees het nie; minstens nie
sonder om die bestaan van
die skrywe aan die Griffier te openbaar nie. Hy het verder toegegee
dat, in die lig hiervan reeds,
die verstekvonnis tersyde gestel
behoort te word. Ook hierdie toegewing is ‘n korrekte en
billike toegewing, want of die
respondent se prokureur nou daarvan
bewus was of nie, sou die feit wees dat daar, op die stadium toe
aansoek gedoen is om verstekvonnis
op die basis daarvan dat daar
geen kennisgewing van voorneme om te verdedig was nie, daar wel so
‘n kennisgewing (alhoewel
onreëlmatig) was.
Daar is verskeie
stappe wat die respondent se prokureur sou kon geneem het indien hy
bewus was van die bestaan van die skrywe
voordat aansoek gedoen is
om verstekvonnis. Hy sou, byvoorbeeld, die applikant in kennis kon
gestel het daarvan dat die betrokke
skrywe nie ‘n behoorlike
en reëlmatige kennisgewing van voorneme om te verdedig
daargestel het nie. ‘n Ander
opsie sou gewees het om, met die
gebruiklike kennisgewing aan die applikant, stappe te neem ingevolge
Hofreël 30, om die
regstelling of tersydestelling van die
onreëlmatigheid te bewerkstellig. ‘n Ander moontlikheid
sou gewees het om die
skrywe te benader as ‘n kennisgewing van
voorneme om te verdedig, om te wag dat ‘n verweerskrif
afgelewer word, om
by versuim daarvan die applikant onder belet te
plaas en om dan, met die vereiste kennisgewing, aansoek te doen om
verstekvonnis
op die basis dat die applikant onder belet is om ‘n
verweerskrif te liasseer. Hierdie benadering sou egter die risiko
inhou
dat daar later geargumenteer mag word dat die applikant nie
behoorlik onder belet geplaas is nie, omdat daar nie vroeër ‘n
behoorlike kennisgewing van voorneme om te verdedig was nie. ‘n
Verdere moontlikheid sou wees om, tesame met die aansoek
om verstek
vonnis by die Griffier, aan laasgemelde die bestaan van die betrokke
skrywe te openbaar en te versoek dat die aangeleentheid
oorgeplaas
word na die Hof, sodat dààr besluit kan word of, in
die uitoefening van die Hof se diskresie, die respondent
nietemin op
verstekvonnis geregtig sou wees.
Selfs al sou die
betrokke brief egter nie beskou word as ‘n kennisgewing van
voorneme om te verdedig (of selfs ‘n
poging daartoe) nie, sou
dit steeds in die omstandighede, en weereens inaggenome die inhoud
daarvan, na my oordeel die applikant
gestaaf het daarin dat hy te
alle tye begerig was om die aksie te verdedig en nie geweet het hoe
om dit te doen nie. Die applikant
was, soos reeds gemeld, op daardie
stadium onverteenwoordig. Dit is so dat die dagvaarding die stappe
uiteengesit het wat gevolg
moes word om kennis te gee van die
applikant se voorneme om te verdedig, en dit is verder so dat die
inhoud van die dagvaarding
volgens die relaas deur die Balju aan mnr
Nels verduidelik is. Daarteenoor moet egter in ag geneem word dat
daardie verduideliking
nie aan die applikant self verstrek is nie.
Voorts moet gelet word op die taal en inhoud van die brief. Dit blyk
nie, met alle
respek, geskryf te wees deur iemand wat taalkundig
baie sterk is nie. So, byvoorbeeld, is die woord “
argument
”
duidelik foutief en moes dit waarskynlik gewees “
agreement
”.
Bowendien word daarin versoek dat reëlings getref word vir ‘n
verhoor in die Landdroshof, terwyl die dagvaarding
baie duidelik
lees dat dit “
in die Hooggeregshof van Suid-Afrika
”
uitgereik is.
Wat egter wel baie
duidelik uit die skrywe blyk, is dat die applikant aanspreeklikheid
ontken en dat hy die begeerte uitspreek
om die aangeleentheid in die
Hof te laat bereg.
Wat betref die
bestaan, aldan nie, van ‘n
bona fide
verweer, verklaar
die applikant bloot “
dat
(hy)
vir ene Ishmael gehelp
het om verskaffer ... te kon wees aan die Munisipaliteit. Hy het
toegesien dat aan my sekere bedrae as
vergoeding oorbetaal word
”.
Die applikant het gevolglik ontken dat die betalings lenings
daargestel het, en aangevoer dat dit inderdaad vergoeding
was wat
aan hom verskuldig was. Dit is so dat geen verdere besonderhede in
hierdie verband verstrek is nie. Mnr Olivier het aangevoer
dat die
applikant nie eers verduidelik het wie Ishmael is nie, en dat hy
darem besonderhede moes verstrek het met betrekking
tot,
byvoorbeeld, waar die ooreenkoms aangegaan is uit hoofde waarvan
daar volgens hom vergoeding verskuldig sou gewees het.
Dit
is so dat die applikant se beweringe in hierdie verband maar aan die
yl kant is. Dit blyk egter eindelik baie duidelik wie
Ishmael is. Hy
is die bestuurder van die respondent, en hy is ook die deponent tot
die antwoordende verklaring van die respondent.
Voorts is dit so dat
‘n applikant in ‘n aansoek om tersydestelling van ‘n
verstekvonnis nie nodig het om verder
te gaan as om beweringe te
maak wat, indien by die verhoor bewys, die applikant sal laat slaag
nie. Die applikant “
is
not obliged to deal fully with the merits of the case, and produce
evidence that the probabilities are actually in his favour
”
3
.
Namens die respondent,
en in ‘n klaarblyklike poging om die applikant se beweringe in
hierdie verband te weerlê, is
oënskynlike afskrifte van
depositostrokies aangeheg. Op sommige daarvan verskyn die woord
“
loan
”, wat moontlik ‘n aanduiding daarvan
sou wees dat daardie oorbetalings gemaak is uit hoofde van ‘n
lening.
Die feit is egter dat daar geen aanduiding is dat die
applikant ‘n party was tot die aantekeninge wat op die
strokies gemaak
sou gewees het nie. Daar is geen saak daarvoor
uitgemaak dat afskrifte van die strokies aan die applikant gegaan
het nie. Sommige
van die strokies bevat, op hulle beurt, geen
aanduiding daarvan dat daardie oorbetalings gemaak sou gewees het
uit hoofde van
‘n lening nie. Voorts is dit so dat sommige van
die strokies nie eers enige verwysing bevat na die respondent nie,
en is
die inbetalings in daardie gevalle oënskynlik gemaak deur
persone wat op die oog af geen verband het met die respondent
beslote korporasie nie. Dit is egter onnodig om die strokies in
enige besonderhede te oorweeg. Dit is nie hierdie Hof se taak om
op
hierdie stadium oorweging te verleen aan die waarskynlikhede of
onwaarskynlikhede in die applikant se weergawe nie.
Ek meen dus dat aan
die applikant kondonasie verleen behoort te word, en dat die
verstekvonnis wel tersyde gestel behoort te word.
Normaalweg sou die
koste van ‘n geopponeerde aansoek die uitslag daarvan volg. In
hierdie geval moet egter in ag geneem
word dat dit die applikant is
wat die tegemoetkoming moes kom vra. Dit is die applikant want nie
behoorlik kennis gegee het van
sy voorneme om te verdedig nie. Dit
is die applikant wie se brief onvoldoende besonderhede bevat het van
die aangeleentheid waarop
dit betrekking gehad het, wat gelei het
daartoe dat daar aansoek gedoen is om verstekvonnis sonder kennis of
openbaring van die
skrywe. Dit is ook die applikant wat nie eers die
moeite gedoen het om, in sy funderende verklaring, te openbaar
wanneer hy bewus
geword het van die vonnis teen hom, of om,
minstens, dan te beweer dat hy nie oor daardie besonderhede beskik
nie.
Na my oordeel was die
respondent se opponering van hierdie aansoek in die omstandighede
nie onbillik nie. Aan die ander kant is
dit darem so dat die skrywe
minstens die naam van die betrokke prokureur (by die firma wat die
respondent verteenwoordig) bevat
het, en ook die saaknommer, en kan
geargumenteer word dat die personeel van daardie kantoor, deur die
uitoefening van redelike
stappe, maklik en tydig kon vasgestel het
dat die skrywe betrekking het op die aangeleentheid ten aansien
waarvan daar uiteindelik
op 15 September 2009 aansoek gedoen is om
verstekvonnis.
In die omstandighede
meen ek dat die billike posisie sou wees dat die partye hierin elk
hulle koste dra. Ek is gevolglik van voorneme
om geen kostebevel te
maak nie.
Bygevolg maak ek die
volgende bevele hierin:
Kondonasie vir die
nie-nakoming van die bepalings van Eenvormige Hofreël 31 (5)
(d) word verleen.
Die verstekvonnis
deur die Griffier verleen op 17 September 2009 onder saaknommer
1442/2009 word tersyde gestel.
Die datum van
hierdie bevel sal geag word die datum te wees van kennisgewing van
voorneme om te verdedig, en verdere pleitstukke
en kennisgewings sal
dienooreenkomstig afgelewer en geliasseer word.
_____________________
C J OLIVIER
REGTER
NOORD-KAAPSE
AFDELING
Nms Applikant: Adv J Schreuder
In opdrag van: Hugo, Mathewson &
Oosthuizen, KIMBERLEY
Nms Respondent: Adv D Olivier
In opdrag van: Haarhoffs Ing,
KIMBERLEY
1
[1998]
JOL 2790
(ZH)
2
Schewe
v Schewe
1909 TH 149
;
Hirschowitz
v Elsholz
1931 SWA 97;
Pugin
v Pugin
1963 (1) SA 791
(W) op 794F-G
3
Pansolutions
Holdings Ltd v P & G General Dealers & Repairers CC
2011 (5) SA 608
(KZD) para [17]