About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley
>>
2012
>>
[2012] ZANCHC 32
|
|
Tokkie Ferreira Makelaars BK v Stolk en Ander (1979/2011) [2012] ZANCHC 32 (17 February 2012)
Rapporteerbaar:
Ja / Nee
Sirkuleer
onder Regters: Ja / Nee
Sirkuleer
onder Landdroste: Ja / Nee
Sirkuleer
onder Streeklanddroste: Ja / Nee
IN DIE Hoë HOF
VAN SUID-AFRIKA
(Noord-Kaapse Hoë
Hof, Kimberley)
Saak No: 1979/2011
Saak Aangehoor:
14/02/2012
Datum gelewer:
17/02/2012
In
die saak tussen:
Tokkie Ferreira
Makelaars BK
....................................................................
Applikant
en
André Stolk
....................................................................................
1ste
Respondent
Adele Stolk
......................................................................................
2de
Respondent
Coram: Olivier R
UITSPRAAK
Olivier R:
Hierdie is ‘n
aansoek waarin die applikant, Tokkie Ferreira Makelaars BK, aanvoer
dat mnr André Stolk en me Adele
Stolk, onderskeidelik die
eerste en tweede respondente, in minagting optree van ‘n
hofbevel.
Die agtergrond hiertoe
is dat die applikant vroeër die besigheid van
korttermynversekeringsmakelaars van Econocom 462 BK
oorgeneem het.
Die eerste respondent was ‘n lid van die laasgemelde BK, en sy
eggenote, die tweede respondent, was ook
daar werksaam met die
bemarking van korttermynversekering, die hantering van eise en
navrae van kliënte, en administrasie
in die algemeen.
Met die oorname van
die besigheid is daar tussen die respondente en die applikant
dienskontrakte aangegaan. Daarin het die eerste
respondent onderneem
om as versekeringsadviseur en assistent dienste te lewer met
betrekking tot die bemarking van versekering,
eise, navrae,
administrasie en kliënte-advies by die applikant se tak te
Postmasburg. Die tweede respondent het onderneem
om soortgelyke
dienste by dieselfde tak te verrig in die hoedanigheid as
persoonlike assistent.
Die koopkontrak
ingevolge waarvan die applikant die versekeringsbesigheid oorgeneem
het, en ook die voormelde dienskontrakte,
het klousules ingesluit
wat bedoel was om op die respondente handelsbeperkings te plaas in
geval hulle diens by die applikant
beëindig sou word. Dit is
nie op hierdie stadium nodig om op die presiese inhoud van die
betrokke bepalings in te gaan nie.
Gedurende Augustus
2011 het beide respondente kennis gegee van die beëindiging van
hulle dienste by die applikant, met ingang
van die einde van
November 2011.
Reeds voordat die
respondente se diens by die applikant verstryk het, en wel gedurende
die week van 18 November 2011, het nie
minder nie as twaalf van die
applikant se kliënte hulle polisse gekanselleer. Die stelling
van mnr D B Ferreira, die enigste
lid van die applikant, dat dit ‘n
buitengewone verskynsel was, is nie deur die respondente betwis in
hofstukke wat later
sou volg nie.
Op 5 Desember 2011 het
die applikant ‘n aansoek geloods, op ‘n dringende basis,
om die voormelde handelsbeperkings
af te dwing. Die basis van die
betrokke aansoek was dat die respondente besig was om
versekeringsdienste te lewer ter verbreking
van die
handelsbeperkings waaraan hulle onderworpe was. Op 7 Desember 2011
is daar, by ooreenkoms en in die teenwoordigheid van
die respondente
se regsverteenwoordiger, onder andere die volgende bevele in daardie
aansoek verleen:
“
1.
Dat die respondente opgeroep word om op 10 Februarie 2012 om 10h00
redes aan te voer waarom die volgende bevel nie verleen sal
word nie:
Dat die respondent
verbied word om vir ‘n tydperk van twee jaar, bereken van 1
Desember 2011, en binne ‘n radius
van 100 km vanaf
Postmasburg, enige kontak te maak met enige kliënte van die
applikant met die doel om sodanige kliënte
se
korttermynversekering te plaas by ‘n versekeringsmaatskappy;
Dat die respondent
verbied word om vir ‘n tydperk van twee jaar vanaf 1 Desember
2011 en binne ‘n radius van 100
km vanaf Postmasburg,
enigsins te werk as korttermynversekeringsmakelaar of –adviseur
of om binne daardie gebied en in
daardie tydperk diens te aanvaar
en te doen in daardie hoedanigheid by enige besigheid wat
soortgelyke besigheid as die applikant
bedryf, hetsy sodanige
besigheid as vernaamste besigheidsplek geleë is binne die
voormelde gebied, aldan nie.
Dat die respondent
verbied word om vir ‘n tydperk van twee jaar vanaf 1 Desember
2011 en binne ‘n radius van 100
km vanaf Postmasburg enigsins
te werk as administratiewe assistent en –adviseur in die
korttermynversekeringsbedryf of
om binne daardie gebied en in
daardie tydperk diens te aanvaar in daardie hoedanigheid by enige
besigheid wat soortgelyke besigheid
as die applikant bedryf, hetsy
sodanige besigheid se vernaamste besigheidsplek geleë is binne
die voormelde gebied, aldan
nie.
Dat die respondent
verbied word om enige konfidensiële inligting van die
applikant en meer spesifiek enige inligting aangaande
die applikant
se kliënte en besigheidspraktyke, aan enige ander persoon of
instansie bekend te maak.
Dat die eerste
respondent verbied word om voor 4 Februarie 2012 en binne ‘n
radius van 200 km vanaf Postmasburg ‘n
besigheid soortgelyk
aan dié van die applikant te open, te bedryf en/of te
bestuur.
Dat die respondent
gelas word om die koste van hierdie aansoek te betaal.
2. Dat paragrawe 1.1
tot 1.5 van hierdie bevel sal geld as ‘n tussentydse interdik
met onmiddellike werking hangende die finale
beregting van hierdie
aansoek.”
Dit is duidelik dat
die verwysing na “
respondent
” (in die enkelvoud)
in paragrawe 1.1, 1.4 en 1.6 ‘n tikfout is. Die konsepbevel,
wat by ooreenkoms ‘n bevel
van die Hof gemaak is, maak dit
duidelik dat die bedoeling was dat daardie bevele ten aansien van
beide respondente sou geld.
Hoe dit ookal sy, op die aanvanklike
keerdatum van 10 Februarie 2012 is die betrokke aansoek (“
die
hoofaansoek
”) uitgestel tot 2 Maart 2012.
In
Fakie
NO v C C I I Systems (Pty) Ltd
1
is
die
volgende in paragraaf [42] beslis met betrekking tot aansoeke van
hierdie aard:
“
(a)
The
civil contempt procedure is a valuable and important mechanism for
securing compliance with court orders, and survives constitutional
scrutiny in the form of a motion court application adapted to
constitutional requirements.
(b) The respondent
in such proceedings is not an ‘accused person’, but is
entitled to analogous protections as are appropriate
to motion
proceedings.
(c) In particular,
the applicant must prove the requisites of contempt (the order;
service or notice; non-compliance; and wilfulness
and
mala
fides
) beyond reasonable doubt.
(d) But, once the
applicant has proved the order, service or notice, and
non-compliance, the respondent bears an evidential burden
in relation
to wilfulness and
mala fides
: Should the
respondent fail to advance evidence that establishes a reasonable
doubt as to whether non-compliance was wilful and
mala
fide
, contempt will have been established beyond
reasonable doubt.
(e) A declarator and
other appropriate remedies remain available to a civil applicant on
proof on a balance of probabilities.”
Dit
beteken dat daar op die applikant ‘n las rus om aan te toon
dat die betrokke bevel gemaak is, dat die respondent/e kennis
dra
van die bevel en dat die respondent/e nagelaat het om aan die bevel
te voldoen. Sodra ‘n saak hiervoor uitgemaak is,
“
wilfulness
will normally be inferred and the respondent will bear the
evidential burden to advance evidence that establishes ‘n
reasonable doubt as to whether non-compliance was wilful and
mala
fide
”
2
.
In die onderhawige
geval is daar geen dispuut daaroor nie dat die voormelde bevele
gemaak is en dat die respondente daarvan kennis
gedra het. Wat die
las van die applikant betref, gaan dit dus oor die vraag of bewys is
dat die gemelde bevele oortree is.
In
die lig daarvan dat die applikant finale regshulp versoek, sal daar,
waar dispute op die feite bestaan, die benadering gevolg
word “
om
die feite wat gemene saak is te neem en waar daar werklike dispuut
op die feite bestaan die weergawe van die respondent, vir
doeleindes
van die uitspraak, te aanvaar
”
3
.
Die uitsondering op hierdie reël sal natuurlik wees waar
beweringe van die respondente sodanig vergesog of onhoudbaar is
dat
dit bloot op die stukke verwerp kan word
4
.
Op 8 Desember 2011 is
‘n reklamebord van PSG Konsult opgerig reg voor die woning van
die respondente in Postmasburg. Dit
is ook die perseel vanwaar die
applikant se besigheid deur die respondente bedryf is, toe hulle nog
in diens van die applikant
was. Dit is gemenesaak dat PSG Konsult ‘n
instansie is wat onder andere makelaarsdienste lewer met betrekking
tot korttermynversekering,
net soos wat die applikant doen.
Die applikant se
prokureur het toe nog op dieselfde dag in ‘n skrywe aangedring
dat die reklamebord verwyder word. Daar
is onder meer soos volg aan
die respondente berig:
“
Dit
het nou onder ons aandag gekom dat u voortgegaan het met die oprig
van ‘n PSG Konsult besigheidsbord by u woning/ kantore
te
Langebaanweg 3, Postmasburg, welke die indruk skep dat u weer soos
voorheen en wel onder ‘n ander naam, van u woning besigheid
dryf, alternatiewelik dat u in diens is van ‘n besigheid
soortgelyk aan dié van ons kliënt/applikant. U optrede
is
direk in stryd met die hofbevel.
Ons het derhalwe
geen ander keuse as om u hiermee aan te sê om hierdie bord ....
te verwyder nie, by gebreke waarvan ons onverwyld
sal voortgaan om
die Hof te nader vir ‘n bevel van minagting teen u ...
”.
In reaksie hierop het
die respondente se prokureur op 9 Desember 2011 die volgende houding
ingeneem:
“
Ons
bevestig dat die Hofbevel ons kliënte geensins verbied om hul
eiendom te verhuur.
....
Ons bevestig dat
enige poging tot enige verdere aansoek hewig bestry sal word ...
”.
Die applikante se
prokureur het in reaksie hierop ‘n afskrif van die beweerde
huurooreenkoms versoek. In ‘n verdere
skrywe van die
respondente se prokureur, steeds op 9 Desember 2011, is insae in
enige sodanige ooreenkoms geweier en is die houding
ingeneem dat dit
“i
s ‘n private aangeleentheid en het absoluut niks
met u kliënt te doen
”. Ek handel hieronder weer met
hierdie skrywe.
Die applikant se
prokureur het toe egter met PSG Konsult se regsadviseur gekontak en
op dieselfde dag (steeds 9 Desember 2011)
het die respondente die
betrokke bord in opdrag van PSG Konsult bedek. Dit is blykbaar later
verwyder.
Reeds in die
funderende eedsverklaring vir die applikant in die hoofaansoek het
mnr Ferreira beweer dat daar “
waarskynlik een of ander
kontraktuele band tussen PSG Konsult en die respondente bestaan
”
het. Mnr Ferreira het in hierdie verband ondermeer verwys na ‘n
e-pos wat op 24 November 2011 van PSG Konsult ontvang
is. Die
respondente se enigste reaksie op hierdie bewering was om te ontken
dat daar “
op daardie stadium
” (dit wil sê
teen 24 November 2011) enige ooreenkoms tussen hulle en PSG Konsult
bestaan het. Die respondente se
antwoordende eedsverklarings in die
hoofaansoek is op 10 Januarie 2012 afgelê. Wat hulle duidelik
op daardie stadium verkies
het om nie te openbaar nie, is dat daar
wel vanaf 1 Desember 2011 tussen hulle en PSG Konsult ‘n
verhouding bestaan het.
Hiermee het hulle eers vorendag gekom in
hulle antwoordende stukke in die onderhawige aansoek, maar selfs toe
het die respondente
verkies om glad nie enige besonderhede te
verstrek van wat daardie ooreenkoms sou wees nie. Dit is bloot op
daardie stadium deur
hulle gestel dat die reklamebord opgerig is uit
hoofde van die betrokke ooreenkoms. Hulle het nie eers gepoog om,
selfs in antwoord
op die beweringe in die onderhawige aansoek, te
verduidelik hoe die betrokke ooreenkoms sou inpas by die inhoud van
die hofbevel
van 7 Desember 2011 nie, of selfs by die huurooreenkoms
wat in die eerste skrywe van hulle prokureur op 9 Desember 2011
voorgehou
is nie.
Eers op die dag van
die aanhoor van die onderhawige aansoek het die respondente die
verhouding tussen hulle en PSG Konsult verder
probeer toelig, toe
hulle met verlof van die Hof, en nieteenstaande beswaar namens die
applikant, ‘n eedsverklaring van
me M D Adam ingedien het. Sy
het ondermeer verklaar dat sy die enigste lid is van PSG Diamantveld
BK en dat sy op 7 Desember
2011 met die respondente ‘n
ooreenkoms bereik het dat hulle voortaan versekeringsdienste op ‘n
kommissiebasis sou
bedryf vir PSG Diamantveld.
Van besondere belang
in me Adams se verklaring is die volgende:
Die respondente het
teenoor haar te kenne gegee dat hulle weens die interdik nie meer
“
vanaf Postmasburg
” versekeringsdienste kon
verskaf nie. Soos hieronder ook sal blyk, beweer hulle nou dat
hulle die hofbevel anders verstaan
het.
PSG Diamantveld het
slegs te Kimberley ‘n kantoor. Me Adam se verklaring sou dus
nie ‘n verduideliking kon bied
vir die oprigting van die
reklamebord op 8 Desember 2011 nie. Dit blyk nie eers of daar enige
verwantskap bestaan tussen PSG
Konsult en PSG Diamantveld nie.
Die ooreenkoms
waarvan me Adam praat sou ook in elk geval nie die een kon wees in
terme waarvan die reklamebord opgerig is nie,
want die ooreenkoms
waarna sy verwys is eers op 7 Desember 2011 bereik, en die
reklamebord is volgens die respondente opgerig
uit hoofde van ‘n
ooreenkoms wat al vanaf 1 Desember 2011 gegeld het. Sy verwys wel
na inligting wat sy ontvang het tot
die effek dat PSG Konsult op ‘n
stadium ‘n kantoor te Postmasburg wou open, maar interessant
genoeg daarvan afgesien
het weens die “
interdik
”,
maar hierdie is hoorsê-getuienis en daar is geen basis gelê
vir die toelating daarvan nie.
Afgesien van dit wat
die respondente soos voormeld uitdruklik aan me Adam te kenne gegee
het met betrekking tot die effek van
die interdik, is dit ook uit
die res van me Adams se verklaring duidelik dat sy deur die
respondente onder die indruk gebring
is dat die respondente
hoegenaamd nie te Postmasburg versekeringsdienste sou kon verrig
nie. So verklaar sy byvoorbeeld dat die
tweede respondent
(nieteenstaande hulle ooreenkoms) tans nie werk nie, omdat sy te
Postmasburg moet bly waar haar minderjarige
kind is. Me Adam
verklaar verder dat die eerste respondent vanaf Januarie 2012, met
die opening van PSG Diamantveld se kantoor
vir die nuwe jaar,
“
tussen twee tot drie dae per week vanuit my kantoor te
Kimberley werksaam is en die ander dae op die pad spandeer ten einde
kliënte
te besoek
”.
Die eerste respondent
het egter nie slegs uit Kimberley gewerk het nie, want hy het
ondermeer met mnr Pretorius ‘n ontmoeting
oor versekering
gereël wat veronderstel was om te Postmasburg plaas te vind.
Dit is nou die
respondente se saak, soos gestel in hulle antwoordende
eedsverklarings, dat hulle die hofbevel van 7 Desember 2011
verstaan
het om te beteken dat hulle wel vanaf Postmasburg
versekeringsdienste kan lewer aan kliënte wat woonagtig is
buite die radius van 100 km vanaf Postmasburg.
Dit is, in die eerste
plek, duidelik nie wat hulle aan me Adam oorgedra het nie.
Die argument in
hierdie verband is blykbaar, en dit is ook hoe ek mnr Olivier (die
advokaat vir die respondente) verstaan het,
dat dienste gelewer aan
‘n kliënt wat buite die 100 km radius woon, in effek
geag moet word gelewer te wees buit
die betrokke radius. Dit rym
nie met die respondente se erkenning, in paragraaf 57.2 van die
eerste respondent se antwoordende
eedsverklaring in die
hoofaansoek, van die bewering dat hulle met bemiddeling van PSG
Konsult “
binne Postmasburg
” sulke dienste lewer
nie.
In
die eerste respondent se antwoordende eedsverklaring in die
hoofaansoek
5
het
die respondente ontken dat hulle in kompetisie met die applikant
handeldryf. Hulle saak is egter nou skynbaar dat hulle
wel so doen,
maar net dan volgens hulle beweerde vertolking nie binne die radius
van 100 km vanaf Postmasburg nie.
Die respondente voer
verder nou aan dat hulle die hofbevel verstaan het om te beteken
dat, alhoewel hulle nie ‘n “
amptelike kantoor
”
vanaf hulle woning in Postmasburg kan bedryf nie, hulle wel vandaar
korrespondensie sou kon stuur aan kliënte buite
die 100 km
radius, “
sowel as aan PSG Konsult
”.
Die respondente beweer
dat hulle aldus geadviseer is deur hulle prokureur, wat dit in ‘n
stawende eedsverklaring bevestig.
Dit is egter nie openbaar wanneer
dié advies gegee sou gewees het nie. Dit mag gegee gewees het
toe hierdie aansoek geloods
is, en dus eers nadat die optrede
plaasgevind het wat gelei het tot hierdie aansoek. In sodanige geval
sou die betrokke advies
natuurlik nie kon dien as ‘n
verduideliking vir die optrede nie.
“
Katzeff,
as indicated above, relies upon a defence of ‘legal advice’
to disprove ‘wilfulness’ on his part.
This defence
requires a proper setting out of the circumstances under which the
advice was given. It is incumbent upon a party
relying upon such
defence to ‘... testify in regard to all the circumstances
relevant to the giving of such advice’
... In motion
proceedings this means that all the relevant circumstances have to be
set out on affidavit.
“
6
Soos verder reeds
hierbo geblyk het, en ook hierinverder na verwys sal word, wil dit
in elk geval voorkom asof die respondente
nie met hulle prokureur
oop kaarte gespeel het met betrekking tot die verhouding tussen
hulle en PSG nie, en sou die advies teen
hierdie agtergrond gesien
moes word.
Afgesien hiervan sou
sodanige advies na my oordeel duidelik verkeerd gewees het. Veral
paragrawe 1.2 en 1.3 van die hofbevel het
die respondente duidelik
verbied om binne die 100 km radius “
te werk
” op
die wyse soos beskryf in daardie bevele. Sekerlik sou die
verskaffing te Postmasburg van advies rondom korttermynversekering,
hetsy mondelings of in die vorm van ‘n kwotasie of
korrespondensie, neerkom op die verrigting van sodanige werk te
Postmasburg,
ongeag van waar die geadresseerde hom mag bevind.
Net soos in die geval
van me Adam, wat verklaar dat PSG Diamantveld slegs te Kimberley ‘n
kantoor het, maar kliënte
het oor die hele land, net so is dit
duidelik dat die applikant kliënte het buite die radius van 100
km vanaf sy kantoor
te Postmasburg. ‘n Vertolking soos dié
voorgehou deur die respondente sou meebring dat die hofbevel nie die
applikant
in die geval van sulke kliënte kan beskerm nie.
Wat betref die
bewering dat die hofbevel bloot die bedryf van ‘n “
amptelike
kantoor
” vanaf die respondente se woning sou belet, is dit
van belang dat daar nêrens in die betrokke bevel woorde tot
hierdie
effek voorkom nie.
Voorts is dit van
belang dat daar steeds tans aan die voorkant van die respondente se
woning kennisgewings pryk waarop aangedui
word waar die ingang is na
die “
KANTOOR
” en wat die kantoorure is.
Dan is daar ook die
feit dat daar teen 25 Januarie 2012 nog altyd in die woning ‘n
sertifikaat teen ‘n muur vertoon
is dat PSG Konsult
gesertifiseer is as ‘n finansiële diensteverskaffer. Dit
is die respondente se saak dat dié
sertifikaat ná 1
Desember 2011 ontvang is (volgens hulle uit hoofde van die beweerde
ooreenkoms met PSG Konsult, waarna
in hulle antwoordende verklarings
hierin verwys is) en dat bloot vergeet is om die sertifikaat af te
haal toe die kennisgewingbord
bedek en later verwyder is.
Die feit is egter dat
dit daar was om deur mnr Grobler waargeneem te word toe die tweede
respondent hom van ‘n kwotasie
voorsien het op 25 Januarie
2012 (ek keer weer hierna terug). Dit was ook al ruim meer as ‘n
maand nadat die applikant
juis inligting versoek het oor die
verhouding tussen hulle en PSG Konsult. Dat beide van hulle onder
hierdie omstandighede sou
vergeet het van die sertifikaat teen die
muur klink vir my totaal vergesog.
Die naam PSG Konsult
pruik ook op die makelaaraanstellingsvorms gedateer 21 en 29
Januarie 2012. Op die een vorm word naam van
die agent van PSG
Konsult aangedui as “
André Stolk
” (die
naam van die eerste respondent), en op die ander as “
A
Stolk
” (wat na die eerste of tweede respondent kan
verwys). Op beide vorms verskyn ‘n e-posadres van die tweede
respondent,
met haar naam gevolg deur “
@psgkonsult.co.za
”.
Dit is duidelik dat
hierdie vorms deur die respondente voorsien is aan die betrokke
kliënte, en nog op daardie datums was
die respondente duidelik
tevrede dat hulle handel as agente van PSG Konsult.
Dit is so dat die
makelaarskode op die een vorm volgens me Adam dié van PSG
Diamantveld is, maar die feit is dat die respondente
aanstellings
geneem het in ‘n oënskynlike verbintenis met, en as
agente van, PSG (hetsy Konsult of Diamantveld).
Dit is duidelik dat
daar, in die eerste skrywe van die respondent se prokureur op 9
Desember 2011, nie die volle en korrekte besonderhede
van die
verhouding tussen die respondente en PSG Konsult geopenbaar is nie.
‘n Mens weet nie wat die respondente alles
aan hulle prokureur
openbaar het nie.
Selfs op die suggestie
van ‘n huurooreenkoms is daar later dieselfde dag, in ‘n
verdere skrywe van die respondente
se prokureur, van weergawe
verander, want toe is die moontlikheid oopgelaat dat die respondente
moontlik ook nie eers met PSG
Konsult ‘n huurooreenkoms mag
gehad het nie.
In dieselfde skrywe is
dit ook gestel dat die applikant se prokureur in kennis gestel sou
word “
wanneer PSG Konsult van voornemens is, indien
enigsins, om besigheidsbedrywighede vanaf Langebaanweg 3,
Postmasburg te bedryf
”. Dit is moeilik te rym met wat me
Adam verklaar. Volgens haar het die respondente al op 7 Desember
2011 (en dus voordat
die betrokke skrywe deur hulle prokureur gerig
is) vir haar gesê dat hulle nie in Postmasburg sake kon doen
nie, sou PSG
Diamantveld nooit daar ‘n kantoor gehad het nie
en sou, vir soverre die eerste respondent werk vir PSG Diamantveld
sou
doen, dit gedoen word vanaf die kantoor te Kimberley (en origens
terwyl hy reis). Die respondente en me Adam sou al op 7 Desember
2011 ‘n diensooreenkoms bereik het en dus kon daar teen 9
Desember 2011, toe dié skrywe gerig is, nie meer sprake
bestaan het van ‘n moontlikheid dat PSG Konsult in hulle huis
te Postmasburg sake sou gaan doen nie.
Die respondente se
gebrek aan openhartigheid blyk ook elders in die stukke.
Dit is gemenesaak dat
mnr Grobler op 25 Januarie 2012 by die woning van die respondente
van ‘n kwotasie vir versekering
voorsien is deur die tweede
respondent. Volgens mnr Grobler het dit gebeur nadat hy die eerste
respondent om ‘n kwotasie
versoek het en dié hom toe na
die tweede respondent verwys het.
Die eerste respondent
verskaf hieroor in sy antwoordende verklaring in die onderhawige
aansoek die volgende vreemde verduideliking.
Volgens hom het hy
vermoed dat dit ‘n lokval was en het hy toe vir Grobler gesê
dat die tweede respondent hom sou
skakel. Hy gaan dan egter voort en
beweer dat hy toe self die tweede respondent gekontak het, haar van
sy vrese ingelig het en
haar toe versoek het om “
nie vir
meneer Grobler te kontak of hom te help nie
”.
Dit is onduidelik
hoekom dit, op die eerste respondent se weergawe, dan vir hom nodig
sou gewees het om die tweede respondent
te versoek om nie vir
Grobler te skakel nie. Hy kon bloot, indien hy gemeen het dit was ‘n
lokval, nie, soos hy belowe
het, die tweede respondent versoek het
om Grobler te skakel nie.
Volgens die eerste
respondent het Grobler toe uit sy eie die middag by hulle woning
opgedaag en het hy wat die eerste respondent
is, vir Grobler die
deur oopgemaak. Hoekom sou hy vir Grobler ingelaat het onder
omstandighede waar hy vermoed het dat Grobler
deel was van ‘n
lokval en indien, selfs op sy eie vertolking van die hofbevel, die
respondente Grobler in elk geval nie
behulpsaam sou kon wees daar by
hulle woning nie?
Volgens die eerste
respondent het hy toe bloot die vertrek verlaat en Grobler by die
tweede respondent gelaat. Hoekom het hy dit
gedoen? Hy kon mos maar
gebly het en dan self Grobler se versoek om ‘n kwotasie
geweier het en vir hom verduidelik het
wat die effek van die
hofbevel was. Inteendeel, hy kon dit al vroeër gedoen het, toe
Grobler hom genader het in verband
met ‘n kwotasie.
Volgens die tweede
respondent sou sy toe ingewillig het om aan Grobler ‘n
kwotasie te gee, maar ook aan hom verduidelik
het dat sy nie ‘n
polis aan hom kon verkoop nie. Hoekom sou sy ingewillig het om
enigsins ‘n kwotasie te gee, as
sy wel soos beweer deur die
eerste respondent gewaarsku is en versoek is om Grobler nie met ‘n
kwotasie te help nie? Volgens
haar het sy bloot die kwotasie verskaf
om Grobler behulpsaam te wees, en nadat hy teenoor haar aangedui het
dat hy sy voertuig
voortaan self wou verseker en wou kyk of hy dit
kon bekostig. So ‘n rede vir ‘n versoek om ‘n
kwotasie sou
tog niks buitengewoon wees nie en ek kan geen basis
sien waarop dit ‘n regverdiging sou gebied het daarvoor om, in
weerwil
van die hofbevel en die beweerde waarskuwing, tog vir
Grobler behulpsaam te wees nie. Die tweede respondent se optrede is
baie
eerder versoenbaar daarmee dat sy glad nie, soos beweer, deur
eerste respondent gewaarsku is nie en dat sy, net soos wat enige
versekeringsmakelaar sou doen, besluit het om aan Grobler ‘n
kwotasie te voorsien. Die respondente se weergawe rondom die
beweerde waarskuwing, is na my mening sodanig onwaarskynlik dat dit
op die stukke verwerp kan word.
Die eerste respondent
se weergawe hieroor is ook weerspreek in ‘n skrywe wat hulle
prokureur op 31 Januarie 2012 aan die
applikant se prokureur gerig
het. Daarvolgens sou die eerste respondent, toe Grobler hom genader
het, vir Grobler “
meegedeel het dat hul nie hom van diens
kan wees nie
”. Dit is nie wat die eerste respondent in sy
verklaring sê nie en dit rym nie met sy bewering dat hy,
inteendeel,
vir Grobler gesê het dat die tweede respondent hom
sou skakel in verband met die kwotasie wat hy verlang het nie.
Grobler ontken dan
ook, in ‘n verdere eedsverklaring, dat die tweede respondent
ooit vir hom gesê het dat sy nie aan
hom ‘n polis kon
verkoop nie.
Ek is, in die lig van
die voorgaande, tevrede om op die stukke Grobler se weergawe te
aanvaar en dié van die respondente
te verwerp vir soverre dit
daarmee strydig is, op die basis dat dit inherent strydig en totaal
onwaarskynlik is.
Mnr Olivier het daarop
gewys dat die respondente nie gepoog het om Grobler se navraag op te
volg nie. Dit sou egter nie afbreuk
doen aan hulle optrede op 25
Januarie 2012 nie. Dit sou ook werklik onnosel moes gewees het om
dit te doen nadat hulle prokureur
op 30 Januarie 2012 juis hiermee
gekonfronteer is.
Dit is insiggewend dat
die tweede respondent dié Santam kwotasie daar in Postmasburg
verskaf het, nogal met kode 9245 wat
volgens me Adam PSG Diamantveld
se Santamkode is, terwyl me Adam onder die indruk sou verkeer het
dat die tweede respondent nie
te Postmasburg gewerk het (of kon
werk) nie.
Wat betref die
makelaarsaanstelling van 21 Januarie 2012, waarmee mnr Maritz, toe
‘n kliënt van die applikant, sy verhouding
met die
applikant beëindig het en die eerste respondent, in sy
hoedanigheid as agent van PSG Konsult, as makelaar aangestel
het,
blyk dit ook asof die respondente moontlik nie hulle prokureur ten
volle in hulle vertroue geneem het nie. Toe die applikant
se
prokureur in ‘n skrywe verwys het na ‘n
makelaarsaanstelling wat op 21 Januarie 2012 aan die eerste
respondent
gegee is deur ‘n voormalige kliënt van die
applikant, het die respondente se prokureur dit bevraagteken dat so
‘n
aanstelling op ‘n Saterdag gegee sou gewees het.
Dit word egter nou
erken dat dit wel gebeur het, op 21 Januarie 2012, maar daar word
opgewerp dat mnr Martiz buite die 100 km
radius woonagtig is en dat
hy die eerste respondent gekontak het. Daar word gesteun op ‘n
eedsverklaring van Maritz.
Maritz bevestig dat hy
die eerste respondent gekontak het. Dit is duidelik vir doeleindes
van die hofbevel nie tersaaklik wie
vir wie gekontak het nie.
Alhoewel Maritz dit
nie in soveel woorde sê nie, sal ek aanvaar dat hy van sy
plaas, wat buite die 100 km radius geleë
is, die eerste
respondent geskakel het. Ook dit is nie deurslaggewend nie. Indien
die eerste respondent toe, waar hy in Postmasburg
was, aan Maritz
advies gelewer het, of met hom ‘n ontmoeting gereël het
vir die lewering van sulke advies, sou hy
besig gewees het om aldaar
die “
werk
” te doen wat hy nie binne die betrokke
radius kon doen weens die hofbevel nie.
Maritz verklaar ook
nie waar die daaropvolgende ontmoeting tussen hom en die eerste
respondent plaasgevind het nie. Moontlik moet
aanvaar word dat dit
tog op Maritz se plaas gebeur het, want hy verklaar vroeër dat
hy die eerste respondent geskakel het
om hom “
te kom
spreek
”. Indien hierdie ontmoeting gereël is met die
eerste respondent terwyl hyself op daardie stadium in Postmasburg
was,
en Maritz hom daar gekontak het in sy hoedanigheid as ‘n
versekeringsmakelaar, sou die eerste respondent steeds besig gewees
het om hierdeur vanaf Postmasburg sodanige werk te doen.
Dieselfde geld wat
betref die makelaarsaanstelling van ‘n ander voormalige kliënt
van die applikant, mnr Visser. Die
feit dat Visser die eerste
respondent gekontak het en dat die eerste respondent daarna vir
Visser besoek het buite die 100 km
radius, sou nie beteken dat die
eerste respondent nie in die proses vanaf Postmasburg gewerk het as
versekeringsmakelaar nie.
Nie Maritz of Visser verklaar dat hulle
nie die eerste respondent te Postmasburg gekontak het nie, en dit
word ook nie deur die
eerste respondent self ontken nie.
Volgens die eerste
respondent konsulteer hy nooit kliënte by sy woning nie, maar
altyd by hulle werksplekke of wonings. Sou
die eerste respondent se
argument korrek wees, sou dit aanvaar moes word dat hy dus van geen
kantoor af werk nie. Dit is, wanneer
die kennisgewings by sy woning
in ag geneem word, en ook die besoek van Grobler aan die betrokke
woning, duidelik nie korrek
nie. Die eerste respondent se stelling
dat hy en die tweede respondent nie ‘n kantoor (skynbaar
amptelik of nie-amptelik)
vanaf hulle woning bedryf nie, is ook
moeilik te versoen daarmee dat die tweede respondent of 25 Januarie
2012 presies daar ‘n
gedrukte kwotasie aan Grobler voorsien
het.
Ek is in die
omstandighede tevrede dat daar op ‘n oorwig van
waarskynlikhede aangetoon is dat die respondente die hofbevel
van 7
Desember 2011 oortree het. Wanneer gelet word op die teenstrydighede
en onwaarskynlikhede waarna ek reeds verwys het, is
ek voorts van
oordeel dat hulle nie die onvermydelike afleiding van
mala fides
weerlê het nie. Ek bevind dus dat die respondente hulle aan
minagting van die hofbevel van 7 Desember 2011 skuldig gemaak
het.
Wat ‘n sanksie
betref, meen ek dat, alhoewel die beregting van die hoofaansoek nie
meer ver in die toekoms is nie, die afdwing
van die betrokke
hofbevel steeds ‘n oogmerk behoort te wees.
Na my oordeel sal die
oplegging van ‘n boete nie van pas wees in omstandighede waar
die verbreking van die hofbevel juis
geskied vir finansiële
gewin nie.
Ek is egter ook nie
bereid om, soos wat in hoof in die kennisgewing van mosie versoek
is, die respondente sondermeer na die gevangenis
te stuur nie,
ondermeer weens die feit dat hulle ‘n minderjarige kind het
wat daaronder sal ly.
Die applikant het
egter in die alternatief versoek dat gevangenisstraf opgeskort word
vir een jaar op voorwaarde dat die respondente
binne 3 dae na datum
van hierdie bevel die bevel van 7 Desember 2011 nakom. Die rede vir
die drie dae grasie is nie duidelik
nie. Ek meen ook nie dat ek die
werking van die hofbevel van 7 Desember 2011 as’t ware op
hierdie wyse kan opskort vir
‘n periode van 3 dae nie. Dit sou
in effek aan die respondente die reg gee om, vir die betrokke
periode van 3 dae, die
destydse bevel blatant te verontagsaam.
Daar is geen rede
waarom koste nie hierdie uitslag sal volg nie. Ek sien ook geen rede
waarom dit nie bestraffende koste sal wees
in die omstandighede nie.
Die respondente het hulle opsetlik en
mala fide
skuldig
gemaak aan die verbreking van die hofbevel en toe met gekunstelde
argumente aan die gevolge daarvan probeer ontsnap.
Dit tas nie
alleen die integriteit van die Hof se bevele aan nie, maar raak ook
die applikant op ‘n finansieel nadelige
wyse.
Ek maak dus die
volgende bevele hierin:
Die eerste en tweede
respondente word vir gevangesetting verwys vir ‘n tydperk van
30 dae, welke bevel opgeskort word vir
‘n tydperk van 1 jaar
op voorwaarde dat die eerste en tweede respondente die bevel verleen
op 7 Desember 2011 nakom vir
solank dit geld.
Verlof word aan die
applikant verleen om, indien enige van die respondente sou versuim
om aan die voormelde bevel te voldoen en
die opskortingsvoorwaarde
sou verbreek, hierdie Hof te nader om ‘n bevel waarkragtens
die betrokke respondent/e vir gevangesetting
verwys word, op
dieselfde stukke aangevul soos en indien nodig.
Die eerste en tweede
respondente word gelas om die koste van hierdie aansoek te betaal,
op die skaal van prokureur en kliënt,
gesamentlik en
afsonderlik, die een betaal die ander
pro tanto
kwytgeskeld
te word.
_____________________
C J OLIVIER
REGTER
NOORD-KAAPSE
AFDELING
Nms Applikant: Adv D van Tonder
In opdrag van: Duncan &
Rothman, Kimberley
Nms Respondente: Adv D Olivier
In opdrag van: Engelsman Magabane
Ing, Kimberley
1
[2006] ZASCA 52
;
2006
(4) SA 326
(SCA)
2
Herbstein
& Van Winsen – The Civil Practice of the High Courts of
South Africa
, 5de uitgawe, vol 2,
Cilliers
et al
,
bl 1109 – 1110.
3
1990
(2) SA 440
(NKA) op 443G
4
Plascon-Evans
Paints v Van Riebeeck Paints
[1984] ZASCA 51
;
1984 (3)
SA 623
(AD) op 635C
5
Paragraaf
83
6
HEG
Consulting Enterprises (Pty) Ltd v Siegwart
2000
(1) SA 507
(CPD) op 522B