S v Plaatjies and Others (CA&R 108/2011) [2012] ZANCHC 31 (10 February 2012)

65 Reportability
Criminal Law

Brief Summary

Criminal Law — Rape — Sentencing — Appellants convicted of rape after pleading guilty — Sentences imposed deviated from prescribed life imprisonment due to compelling circumstances — Appellants argued that mitigating factors, including absence of premeditation and time spent in custody, were not adequately considered — Court held that the regional magistrate erred in not addressing these factors and in miscalculating the age of one appellant at sentencing — Sentences of 24 years for first and third appellants and 18 years for second appellant upheld as appropriate given circumstances.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley
>>
2012
>>
[2012] ZANCHC 31
|

|

S v Plaatjies and Others (CA&R 108/2011) [2012] ZANCHC 31 (10 February 2012)

Rapporteerbaar:
Ja / Nee
Sirkuleer
onder Regters: Ja / Nee
Sirkuleer
onder Landdroste: Ja / Nee
Sirkuleer
onder Streeklanddroste: Ja / Nee
IN
DIE Hoë HOF VAN SUID-AFRIKA
(Noord-Kaapse
Hoë Hof, Kimberley)
Saak No: CA&R
108/2011
Saak Aangehoor:
06/02/2012
Datum gelewer:
10/02/2012
In
die saak tussen:
Leon Plaatjies
..................................................................................
Eerste
appellant
Willem van Rooy
..........................................................................
Tweede
appellant
Curvin Louw
....................................................................................
Derde
appellant
en
Die Staat
................................................................................................
Respondent
Coram: Olivier R et
Phatshoane R
UITSPRAAK
Olivier R:
Die
drie appellante het in ‘n gesamentlike verhoor in die
Streekhof tereggestaan op aanklagte dat elk van hulle die klaagster

een keer verkrag het. Al drie van hulle het op hierdie aanklagte
skuldig gepleit. Hulle het elk ‘n verklaring ingevolge
artikel
112 (2) van die Strafproseswet
1
afgelê.
Die aanklaer het hulle pleite van skuldig, en die basis daarvan soos
uiteengesit in die verklarings, aanvaar en
hulle is dan ook op
daardie basis elkeen aan een aanklag van verkragting op die
klaagster skuldig bevind.
Die eerste en derde
appellante was ten tye van die verkragtings 24 jaar oud, en ten tye
van vonnisoplegging 26 jaar oud. Die tweede
appellant was ten tye
van die verkragtings 17 jaar oud, en ten tye van die oplegging van
vonnis 20 jaar oud.
Weens
die feit dat die klaagster meer as een keer verkrag is en deur meer
as een persoon, en weens hulle ouderdomme, het die eerste
en derde
appellante blootgestaan aan ‘n voorgeskrewe vonnis van
lewenslange gevangenisstraf
2
.
Die streeklanddros het egter bevind dat daar wesenlike en dwingende
omstandighede bestaan het wat ‘n afwyking van die
voorgeskrewe
vonnisse geregverdig het.
Die eerste en derde
appellante is elk gevonnis tot 24 jaar gevangenisstraf, en die
tweede appellant tot 18 jaar gevangenisstraf.
Die appellante kom nou
met verlof van die streeklanddros in hoër beroep teen hierdie
vonnisse.
Dit
is geykte reg dat ‘n hof van appél slegs met ‘n
vonnis sal inmeng waar dit skokkend swaar en onvanpas is
of waar dit
die gevolg is van ‘n wesenlike mistasting
3
.
Die tersaaklike feite,
soos dit blyk uit die appellante se verklarings en uit die getuienis
van die klaagster (vir sover dit onbetwis
was en nie strydig was met
die inhoud van die appellante se verklarings nie), was soos volg:
Die drie appellante
het deur die loop van die betrokke dag gedrink. Daardie nag het
hulle in ‘n voetganger tonnel onder
‘n spoorlyn te De
Aar gesit en rook, en al drie van hulle was op daardie stadium
sterk onder die invloed van drank.
Die klaagster, ‘n
50 jarige vrou, was saam met ‘n ander persoon te voet
onderweg vanaf ‘n kuierplek, waar
sy gedrink het, na die
stasie te De Aar om haar dogter te gaan haal, wat van Johannesburg
sou kom.
Toe die klaagster
deur die tonnel beweeg, is sy aangeval deur die appellante en het
die ander persoon op die vlug geslaan. Die
eerste appellant het toe
die klaagster teen die sementvloer van die tonnel gegooi, wat
veroorsaak het dat haar kop gekap het
en dat sy ‘n besering
opgedoen het bokant haar linkeroog. Die klaagster was eweneens
sterk onder die invloed van drank
en het geen weerstand gebied toe
die tweede appellant haar klere uitgetrek het nie.
Die derde appellant
het toe die klaagster verkrag, terwyl die eerste en tweede
appellante uitkyk gehou het vir enige persone
wat moontlik op hulle
kon afkom. Daarna het eers die eerste appellant ook die klaagster
verkrag, terwyl tweede en derde appellante
uitkyk gehou het, en toe
die tweede appellant, terwyl die eerste en derde appellante uitkyk
gehou het.
Kort ná
hierdie gebeure is daar tydens ‘n mediese ondersoek van die
klaagster ‘n klein snywond gevind bokant
haar linker ooglid
en was haar linker ooglid toegeswel. Daar was ook ‘n 5 x 5 cm
hematoom aan haar kopvel.
Dit was die klaagster
se getuienis dat sy, as ‘n direkte gevolg van hierdie
gebeure, vir ‘n tyd lank behandeling
moes ondergaan vir
depressie. Sy het verder getuig dat die gebeure ‘n nadelige
invloed gehad het op haar geslagslewe,
tot so ‘n mate dat ‘n
verhouding waarin sy op daardie stadium verkeer het, skipbreuk gely
het. Ook hierdie gevolg
was klaarblyklik van tydelike aard,
aangesien sy ten tye van die aflegging van haar getuienis alreeds
weer getroud was en in
Kaapstad woonagtig was.
As gronde van appèl
is namens die appellante aangevoer, ondermeer, dat die
streeklanddros onvoldoende gewig geheg het aan
die afwesigheid van
enige voorafbeplanning, en ook dat die streeklanddros versuim het om
by die oorweging van vonnis in ag te
neem dat die appellante vanaf
hulle arrestasie in Oktober 2009 tot met die oplegging van vonnis in
Julie 2010 verhoorafwagtend
in hegtenis verkeer het. Daar is dan ook
inderdaad in die vonnis-uitspraak geen vermelding van enige van
hierdie twee faktore
nie. Die streeklanddros het ook nie op hierdie
gronde van appèl gereageer by wyse van verdere redes nie,
maar verkies
om te volstaan by haar
ex tempore
uitspraak. Na
my oordeel behoort dus vir doeleindes van die appèl aanvaar
te word dat hierdie stellings korrek is en dat
die streeklanddros in
hierdie opsigte mistastings begaan het.
Wat die kwessie van
berou betref, was die streeklanddros ook nie bereid om verder te
gaan nie as om die appellante se pleite van
skuldig te aanvaar as ‘n

aanduiding
” van berou. Daardie benadering het
egter uit die oog verloor, oënskynlik, die feit dat al drie die
appellante dit
in hulle artikel 112 (2)-verklarings as ‘n feit
gestel het dat hulle “
baie jammer
” was en “
diepe
berou
” gehad het oor die gebeure. Hierdie feitelike
stellings vorm deel van die feite wat die aanklaer aanvaar het as
korrek
en die streeklanddros was dus gebonde daaraan vir die
doeleindes van vonnis.
Voorts het die
streeklanddros klaarblyklik verkeerdelik onder die indruk verkeer
dat die derde appellant op die stadium van vonnisoplegging
26 jaar
oud was, terwyl hy toe net 24 jaar oud was.
Die eerste appellant
is in die loop van die jaar 2000 by twee geleenthede skuldig bevind
aan huisbraak met die opset om te steel
en diefstal, en by een
geleentheid aan ontsnapping of ‘n poging tot ontsnapping. Nie
een van sy vorige veroordelings
is dus verbandhoudend met die
misdaad van verkragting nie, maar dit blyk minstens dat hierdie nie
sy eerste kennismaking met
die gereg was nie. Dit blyk ook uit die
vonnisse wat hy opgelê is dat hy reeds by meerdere
geleenthede die geleentheid
gebied is om, by wyse van opgeskorte
gevangenisstraf, buite gevangenisverband te rehabiliteer. Dit
behoort egter sekerlik in
die guns van die eerste appellant in
aanmerking geneem te word dat ‘n periode van ongeveer 8 jaar
verstryk het tussen
die datum van sy laaste vorige veroordeling en
die pleging van die onderhawige misdaad.
Die tweede appellant
het geen vorige veroordelings van enige aard gehad nie.
Die derde appellant
is in 2000 en in 2006 skuldig bevind aan huisbrake met die opset om
te steel en diefstal, en in 2004 aan
diefstal. By geleentheid van
sy eerste vorige veroordeling is hy die voordeel gegee van ‘n
uitgestelde vonnis. By sy
latere vorige veroordelings is hy egter
telkens gevangenisstraf opgelê. Wat beslis verswarend teen
die derde appellant
tel, is die feit dat die derde appellant die
verkragting gepleeg het terwyl hy nog op parooltoesig uit was nadat
hy by die
laaste geleentheid uit die gevangenis vrygelaat is. Dit
sou ‘n basis kon gewees het vir ‘n onderskeid tussen sy

vonnis en dié van die eerste appellant, maar nou is dit so
dat laasgemelde die persoon was wat die klaagster eerste aangeval

het en wat haar aangerand het deur haar teen die vloer te gooi.
Die streeklanddros het
na my oordeel tereg bevind dat daar, wat die eerste en derde
appellante betref, wesenlike en dwingende
omstandighede bestaan het
wat ‘n afwyking van die voorgeskrewe vonnis regverdig het.
Daar is in hierdie verband melding
gemaak van die afwesigheid van
verbandhoudende vorige veroordelings, die aanduiding van berou wat
te vinde is in die appellante
se pleite van skuldig en die rol wat
drank gespeel het. Hierby sou na my oordeel gevoeg kon word,
minstens, die afwesigheid van
enige voorafbeplanning en dat al drie
appellante ongeveer 9 maande lank verhoorafwagtend in hegtenis
verkeer het.
Wat die tweede
appellant betref, is daar geen proefbeampteverslag wat meer lig sou
kon werp op sy persoonlike omstandighede nie.
Dit moet egter in
gedagte gehou word dat, alhoewel hy 17 jaar oud was ten tye van die
pleging van die misdaad, hy by oorweging
van vonnis alreeds 20 jaar
oud was. Boonop het hy op die stadium toe die misdaad gepleeg is
duidelik reeds die lewe van ‘n
volwassene gelei, want hy het
op daardie stadium tydelike werk verrig by ‘n boukontrakteur.
Beide ouers van die
tweede appellant is oorlede toe hy nog baie jonk was, en hy het by
sy tannie grootgeword. Sy moes vir hom
sorg, alhoewel sy ook maar as
‘n skoonmaker werksaam was. Die tweede appellant het op skool
slegs tot graad 8 gevorder.
Die tweede appellant
het hierdie misdaad gepleeg slegs twee dae voordat hy 18 jaar oud
sou word. Dit moet egter steeds in gedagte
gehou word dat hy ten tye
van pleging van hierdie misdaad ‘n jeugdige was, wat boonop
sterk onder die invloed van drank
was en wat in hierdie aanval
betrokke geraak het in die geselskap van twee heelwat ouer persone.
Hy is egter die een wat die
klaagster ontklee het en daar is geen
suggestie dat hy aangesê is om so te doen nie. Op sy eie
weergawe was hy ook inderdaad
deel van die besluit om die klaagster
te verkrag.
Die
eerste en derde appellante se persoonlike omstandighede is volledig
voor die streeklanddros geplaas. Daar is nie enige aspek
daarvan wat
in besonder as versagtend aangemerk sou kon word nie. Ook hulle was
egter ten tye van pleging van die misdaad maar
nog relatief jeugdig
en, soos reeds gemeld, was hulle beide ook sterk onder die invloed
van drank. Beide die eerste en derde
appellante het kinders
onderhou
4
.
Beide was werksaam ten tye van hulle arres.
Wat die misdade self
aanbetref, is dit duidelik gepleeg op die ingewing van die oomblik,
en toe die appellante die klaagster die
tonnel sien binnekom het.
Aan die ander kant is dit verswarend dat hulle ‘n weerlose en
besope vrou, wat heelwat ouer was
as enige van hulle, so aangeval en
verkrag het. Die klaagster het dit as ‘n besondere vernedering
ervaar.
Alhoewel
die betreklik geringe aard van die klaagster se fisiese beserings
moontlik nie opsigself as ‘n wesenlike en dwingende

omstandigheid sou kon gedien het vir soverre dit die voorgeskrewe
vonnis ten aansien van die eerste en die derde appellante betref
het
nie
5
,
sou hierdie faktor sekerlik relevant wees waar wesenlike en
dwingende omstandighede op ‘n ander basis bevind is, en in
elk
geval ook ten aansien van die tweede appellant. Na my oordeel
behoort ook aanvaar te word dat daar geen blywende fisiese
skade uit
die aanval voortgespruit het nie. Die klaagster se getuienis dat sy
as gevolg van die gebeure verswakte sig in haar
een oog het, is
gebaseer op advies wat sy skynbaar verkry het van ‘n
geneesheer, wie se getuienis nooit aangebied is nie.
In die lig
hiervan, en ook in die lig daarvan dat dit baie duidelik is dat die
klaagster in haar getuienis die erns van die aanval
probeer aandik
het, meen ek dat aanvaar behoort te word dat daar geen betroubare
getuienis is van blywende fisiese gevolge nie.
Op die weergawes in
die appellante se verklarings is daar, afgesien van die neergooi van
die klaagster, geen geweld of dreigemente
van geweld toegepas tydens
die verkragtings nie.
Wanneer
die feite en die omstandighede van die onderhawige geval volledig
oorweeg word, en by wyse van vergelyking kennis geneem
word van
vonnisse soos dié in
S
v Matoewa
6
en
S
v Mabuza and Others
7
,
meen ek dat vonnisse van 18 jaar gevangenisstraf, 14 jaar
gevangenisstraf en 18 jaar gevangenisstraf gepaste vonnisse sou

gewees het vir onderskeidelik die eerste, tweede en derde
appellante. Hierdie vonnisse verskil tot so ‘n mate van die
opgelegde
vonnisse dat die noodwendige gevolgtrekking is dat die
laasgemelde vonnisse skokkend swaar en onvanpas is.
Ek vind die submissies
van die advokaat vir die respondent, mnr Mokone, dat die vonnisse
onvanpas lig is, en dat die streeklanddros
verkeerd was om ten
aansien van die eerste en derde respondente wesenlike en dwingende
omstandighede te bevind, moeilik om te
begryp. In die betoogshoofde
namens die respondent word die tweede appellant, ten aansien van wie
daar nie ‘n voorgeskrewe
vonnis was nie, se posisie ook glad
nie onderskei van dié van die eerste en derde appellante nie.
Mnr
Mokone het gesteun op
S
v Matyityi
8
.
Die feite van daardie geval is egter onderskeibaar. Daar is op appèl
bevind dat die betrokke appellant ‘n verbandhoudende
vorige
veroordeling gehad het en dat, alhoewel hy skuldig gepleit het, hy
nooit verduidelik het waarom hy dit gedoen het of inligting
verskaf
het op grond waarvan bevind kon gewees het dat hy berou gehad het
nie. Hier was nie verbandhoudende vorige veroordelings
nie en het
dit onbetwis gestaan dat die verkragtings gepleeg is vanweë die
invloed van drank en dat die appellante opregte
berou gehad het. In
Matyityi
is
die verkragtings ook gepleeg as deel van ‘n brutale en wrede
aanval op die klaagster en haar vriend, en het haar vriend
as gevolg
van sy beserings beswyk. Boonop het die betrokke appellant die
leiersrol gespeel teenoor sy mede-aanvallers en het
hy heel berekend
gepoog om hul spore uit te wis.
Die submissie,
oënskynlik, dat die streeklanddros verkeerd was om te bevind
dat die eerste en derde appellante se vorige
veroordelings nie
verbandhoudend was met die verkragtings nie, is duidelik verkeerd en
verg werklik geen verdere bespreking nie.
Net so ooglopend
verkeerd is die submissie dat die appellante se pleite van skuldig
in die omstandighede van hierdie geval nie
aanduidend van berou was
nie. Dit verloor uit die oog die appellante se onbetwiste
verklarings van berou.
Die advokaat vir die
respondent se steun (in sy hoofde van betoog) op die klaagster se
getuienis dat sy ook geskop is en dat sy
weens die voorval sig in
haar een oog verloor het, is ook misplaas. Haar getuienis dat sy
geklap is, was strydig met die feite
wat die aanklaer aanvaar het
toe die appellante skuldig gepleit het. Wat betref haar getuienis
oor haar oog, het sy eers beweer
dat haar linkeroog in die voorval
beskadig is, en later dat dit haar regteroog was. Sy het ook nooit
getuig dat sy haar sig verloor
het nie – slegs dat dit verswak
het, en selfs dit het sy gebaseer op die opinie van ‘n oogarts
wat nooit getuig het
nie.
Die submissies van
dieselfde advokaat dat die streeklanddros te veel gewig geheg het
aan die feit dat die misdade nie vooraf beplan
was nie, is net so
vreemd. Soos reeds gemeld, is hierdie faktor nie eers in die
vonnis-uitspraak vermeld nie.
Daar is eenvoudig geen
meriete in die respondent se betoog dat die vonnisse te lig is nie.
Bygevolg slaag die
appélle. Geen ander vonnisse as direkte en relatiewe
langtermyn gevangenisstraf sal egter gepas wees
nie en dus word die
volgende bevele hierin gemaak:
Die eerste
appellant se vonnis van 24 jaar gevangenisstraf word tersyde gestel
en vervang met een van 18 jaar gevangenisstraf,
wat teruggedateer
word tot 16 Julie 2010.
Die tweede
appellant se vonnis van 18 jaar gevangenisstraf word tersyde gestel
en vervang met een van 14 jaar gevangenisstraf,
wat teruggedateer
word tot 16 Julie 2010.
Die derde appellant
se vonnis van 24 jaar gevangenisstraf word tersyde gestel en vervang
met een van 18 jaar gevangenisstraf,
wat teruggedateer word tot 16
Julie 2010.
_____________________
C J OLIVIER
REGTER
NOORD-KAAPSE
AFDELING
Ek stem saam.
______________________
M V PHATSHOANE
REGTER
NOORD-KAAPSE
AFDELING
Nms Appellant: Mnr A van Tonder
Namens: Regshulpsentrum,
KIMBERLEY
Nms Respondent: Adv U Mokone
Namens: Direkteur van Openbare
Vervolgings, KIMBERLEY
1
51
van 1977
2
Artikel
51 (1), gelees met Deel 1 van Bylae 2, van die Strafregwysigingswet,
105 van 1997
3
S
v Giannoulis
1975 (4) SA 867
(A) op
868E-G
4
Die
eerste appelant het vyf kinders by vyf verskillende vroue
5
Sien
artikel 51 (3) (aA) (ii) van die voormelde Strafregwysigingswet;
vergelyk
S v Nkawu
2009
(2) SACR 402
(ECG)
6
2009
(2) SACR 303
(ECG)
7
2009
(2) SACR 435
(SCA)
8
2011
(1) SACR 40
(SCA)