S v Jantjies (CA&R 107/2011) [2012] ZANCHC 29 (10 February 2012)

62 Reportability
Criminal Law

Brief Summary

Criminal Law — Appeal — Right to appeal — Incomplete record of proceedings — Appellant convicted of burglary, attempted murder, and illegal possession of a firearm — Appellant's petition for leave to appeal granted due to incomplete transcription of his testimony — Court held that the absence of a complete record does not inherently prejudice the appellant's right to appeal — Evidence against the appellant included shoeprints linking him to the crime scene and testimony from a co-accused — Conviction upheld as the evidence was deemed sufficient despite concerns regarding the reliability of the co-accused's testimony.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley
>>
2012
>>
[2012] ZANCHC 29
|

|

S v Jantjies (CA&R 107/2011) [2012] ZANCHC 29 (10 February 2012)

Rapporteerbaar:
Ja / Nee
Sirkuleer
onder Regters: Ja / Nee
Sirkuleer
onder Landdroste: Ja / Nee
Sirkuleer
onder Streeklanddroste: Ja / Nee
IN DIE Hoë HOF
VAN SUID-AFRIKA
(Noord-Kaapse Hoë
Hof, Kimberley)
Saak No: CA&R
107/2011
Saak Aangehoor:
06/02/2012
Datum gelewer:
10/02/2012
In
die saak tussen:
Petrus Jantjies
...........................................................................................
Appellant
en
Die Staat
.
...............................................................................................
Respondent
Coram: Olivier R et
Phatshoane R
UITSPRAAK
Olivier R:
Die appellant is in
die Streekhof skuldig bevind op aanklagte van huisbraak met die
opset om te steel (aanklag 1), poging tot
moord (aanklag 3) en die
onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie (onderskeidelik
aanklagte 4 en 5). Hy is op aanklag
1 gevonnis tot 6 jaar
gevangenisstraf, op aanklag 3 tot 10 jaar gevangenisstraf, op
aanklag 4 tot 2 jaar gevangenisstraf en op
aanklag 5 tot 6 maande
gevangenisstraf. Daar is gelas dat die vonnisse samelopend uitgedien
word tot dié mate dat die
appellant nie langer as 12 jaar
gevangenisstraf sou uitdien nie.
Latere aansoeke van
die appellant om kondonasie en om aansoek om verlof tot appèl,
teen sy skuldigbevindings en vonnisse,
het misluk. Toe die appellant
daarna by wyse van ‘n petisie aansoek gedoen het om sodanige
verlof, het dit geblyk dat die
oorkonde onvolledig is en nie verder
getranskribeer of gerekonstrueer kan word nie. Wat die
skuldigbevindings betref, ontbreek
die transkripsie van die
appellant se eie getuienis. Hy was die enigste getuie in sy
verdediging. Daar is ook geen transkripsie
van die verrigtinge wat
plaasgevind het ná afloop van die skuldigbevindings en voor
die oplegging van die vonnisse nie.
Dit beteken dat die onderskeie
betoë ten aansien van vonnis nie getranskribeer is nie. Dan is
daar ook tans net ‘n
afskrif beskikbaar van die appellant se
rekord van vorige veroordelings (SAP 69).
Die appellant se
petisie was suksesvol ten aansien van die skuldigbevindings sowel as
die vonnisse. Daar is ook spesifiek aan
die appellant verlof verleen
om die gebrekkige oorkonde aan te voer as ‘n grond van appel.
Dit
is geyk dat persone wat skuldig bevind is ‘n reg tot appèl
het
1
,
dat die Staat ‘n verpligting het om die oorkondes en opnames
van verrigtinge te bewaar vir ‘n bepaalde periode en
dat
persone se reg tot appèl nie verydel mag word deur ‘n
versuim om hierdie verpligting na te kom nie
2
.
Dit is egter geensins ‘n vereiste dat so ‘n oorkonde
absoluut perfek moet wees nie en die vraag sal uiteindelik
maar wees
of enige onvolledigheid in die oorkonde die reg tot appèl
benadeel of verydel
3
.
Wat
betref die skuldigbevindings het speurder-inspekteur Gilbert van die
veediefstaleenheid te De Aar getuig dat hy op 27 Junie
2005, na
aanleiding van inligting wat hy ontvang het, gesoek het na spore op
‘n dienspad langs die treinspoor. Toe hy later
by ‘n
tweede geleentheid weer gaan soek het na spore, het hy spore gevind
en dit gevolg tot waar hy afgekom het op die
appellant en mnr
Maliki. Hy het hulle skoene ondersoek en gevind dat die patrone van
die sole daarvan ooreenstem met die spore
wat hy tot daar gevolg
het. Die appellant het Gilbert op daardie stadium meegedeel dat hy
oppad was na Richmond om te gaan werk
soek. Later, gedurende die
aand, het Gilbert weer gaan kyk waar die spore heen lei, en het hy
die appellant en Maliki gevind
waar hulle langs die spoor geslaap
het, naby die ingang na die plaas Damfontein. Gilbert het getuig dat
die laasgemelde plaas
aangrensend geleë is aan die plaas
Wolwekraal
4
,
en dat die plek waar hy op die appellant en Maliki afgekom het nog
verder weg was vanaf De Aar, waar beide van hulle woonagtig
was, en
nog nader aan die plaas Wolwekraal.
Op 1 Julie 2005 het
mnr Schroëder, ‘n boer van die plaas Wolwekraal, van sy
plaas af gery na De Aar. Hy het sy geweer,
wat hy besig was om skoon
te maak, vir daardie tyd buite die kluis op ‘n stoel laat lê.
In sy afwesigheid is toegang
verkry tot sy huis deur ‘n gat in
‘n venster te slaan. Met sy terugkeer is daar toe met sy eie
geweer ‘n skoot
afgevuur op hom binne die huis. Hy het te voet
gevlug na sy buurman, vanwaar hulp toe ontbied is. Mnr Schroëder
was nie
in staat om die persoon wat die skoot op hom afgevuur het te
identifiseer nie. Hy het sy geweer en ‘n mes vermis.
Op 2 Julie 2005 het
die polisie twee stelle spore waargeneem, onder andere in die
omgewing van ‘n skuur op die plaas en
naby die huise van
arbeiders, en is gipsafdrukke van die betrokke spore gemaak. Omdat
die spore vir Gilbert voorgekom het soortgelyk
te wees aan dié
wat hy op 27 Junie gevolg het, en wat behoort het aan die appellant
en Maliki, het hy opdrag gegee dat
hulle gearresteer word. Hulle is
gedurende dieselfde oggend beide gearresteer. Die vermiste mes is in
die besit van Maliki gevind.
By vergelyking van die
gipsafdrukke van die een stel spore met die patrone op die sole van
die appellant se skoene, is bevind
dat die merke en patrone
soortgelyk is.
Daar was verder
getuienis van staatsweë, by monde van onder andere
polisiebeamptes, dat die appellant op 3 Julie 2005 die
vermiste
geweer uitgewys het waar dit tussen gras in die veld, en uit die
oog, gelê het op die plaas Damfontein.
Die appellant het
ontken dat hy enige kennis van die voorval gedra het. Hy het
aangevoer dat die polisie sy spore op die toneel
op die plaas
Wolwekraal geplant het met sy skoene nadat hulle met sy arrestasie
daarop beslag gelê het. Hy het verder ontken
dat hy ooit saam
met die polisie op die plaas Damfontein was, en ook dat hy ooit by
so ‘n geleentheid ‘n vuurwapen
uitgewys het.
Namens die vervolging
is nie alleen die getuienis van verskeie polisiebeamptes aangebied
rondom die skoenspore en die uitwysing
nie, maar ook dié van
Maliki. Dit het geblyk dat Maliki toe reeds skuldig gepleit het, en
skuldig bevind is, op ‘n
aanklag van huisbraak met die opset
om te steel en diefstal ten aansien van dieselfde voorval, en dat hy
gevonnis is tot 9 jaar
gevangenisstraf.
Maliki het beskryf
hoedat hy en die appellant langs die treinspoor gekonfronteer is
deur Gilbert, en hoe hulle later gaan inbreek
het by die klaer se
huis. Hy het verder getuig dat hy toe die mes gesteel het, en
volgens hom sou die appellant die een gewees
het wat die geweer
verwyder het. Ek keer later weer na hierdie aspek terug. Die feit is
egter dat Maliki se getuienis die appellant
geplaas het op die
toneel van ‘n huisbraak waaronder andere die klaer se mes
gesteel is, en dat die appellant die volgende
dag gearresteer is,
waar hy in die geselskap verkeer het van Maliki (alhoewel die
appellant dit op ‘n laat stadium weerspreek
het), wat op
daardie stadium in besit was van die mes wat op juis daardie toneel
gesteel is.
Maliki was uiteraard
‘n enkelgetuie vir soverre dit betref sy weergawe dat die
appellant hom vergesel het, en hy was boonop
ook ‘n mededader.
Sy getuienis moes dus uiteraard met versigtigheid benader word.
Die feit is egter dat
daar onafhanklike en betroubare stawing bestaan vir Maliki se
bewering dat die appellant saam met hom op
daardie toneel was. In
hierdie verband verwys ek na die getuienis rondom die appellant se
spore op die toneel, en na die getuienis
dat hy die gesteelde
vuurwapen later gaan uitwys het. Hierdie getuienis is gelewer deur
meerdere polisiebeamptes. Die streeklanddros
het bevind dat die
beamptes geloofwaardige getuies was en daar bestaan geen rede om met
daardie bevinding in te meng nie. Inteendeel,
in die appellant se
petisie is uitdruklik aangevoer dat Gilbert ‘n eerlike getuie
was.
Soos
reeds gemeld, is die appellant se getuienis nie getranskribeer nie.
Dit blyk egter duidelik uit die streeklanddros se uitspraak
dat die
appellant se ontkenning van alle kennis, sy bewering met betrekking
tot die plant van sy skoenspore en sy ontkenning
dat hy ‘n
vuurwapen uitgewys het, bloot voortgeduur het in sy getuienis.
Daardie weergawe is in kruisverhoor deur hom aan
alle getuies
voorgehou en na my oordeel kan die feit dat die appellant se
getuienis daaroor nie getranskribeer is nie, nie in
die
omstandighede vir hom nadeel inhou wat betref sy regte op appèl
nie. Daar is ook nie voor ons geargumenteer op watter
basis dit die
appellant sou kon benadeel nie
5
.
Die appellant is dus
op die toneel geplaas van ‘n huisbraak, waar ‘n geweer
en ‘n mes gesteel is. Sy ontkenning
dat hy op daardie toneel
aanwesig was, is deur die streeklanddros verwerp, en ek is geensins
oortuig dat die streeklanddros verkeerd
was in daardie bevinding
nie.
Dit is anders gesteld
wat betref aanklagte 3, 4 en 5. Dit was slegs Maliki wat die
appellant met hierdie aanklagte verbind het.
Sy getuienis was dat hy
die huis van die klaer verlaat het nog voordat die klaer opgedaag
het, en dat hy toe die appellant in
die huis agtergelaat het, in
besit van die geweer. Volgens hom het hy toe op ‘n latere
stadium, waar hy in die veld op
die appellant gewag het, ‘n
skoot hoor afgaan, en gesien hoe die klaer by die huis uitvlug.
Daarna het die appellant by
hom aangesluit, steeds in besit van die
geweer. Maliki se getuienis was dat die appellant teenoor hom beweer
het dat hy die klaer

gekwes
” het. Hy het verder
getuig dat die appellant toe vir hom sou gesê het dat hy mooi
moet kyk waar hy (die appellant)
die geweer tussen die bosse indruk.
Die streeklanddros was
nie bereid om enige bevindinge te grond op Maliki se getuienis
alleen nie. Daar is tereg verwys na die
feit dat die twee pare
skoenspore bymekaar gevind is, soos wat dit wegbeweeg het van die
huis, wat moeilik te versoen sou wees
met Maliki se bewering dat hy
eerste weg is van die huis, en dat die appellant hom later weer by
Maliki aangesluit het. Dit sou
baie toevallig gewees het dat die
appellant dan presies langs die spore van Maliki sou geloop het tot
waar hy hom weer gevind
het. Dit sou ook ‘n bietjie te veel
van die toeval gevra wees dat die appellant in presies dieselfde
rigting sou beweeg
het as Maliki, indien hulle afsonderlik van die
huis af weg is.
Daar is nog ander
aspekte van Maliki se getuienis wat oop is vir kritiek. Maliki, wat
baie duidelik probeer het om ‘n prentjie
te skets waar die
appellant alleen die inisiatief geneem het met die inbraak, het
beweer dat hulle toegang verkry het tot die
huis deur ‘n
venster by die studeerkamer. Kaptein Erasmus se getuienis was egter
dat toegang verkry moes gewees het by
die sitkamer. Maliki se
getuienis was verder dat daar by die geweer 10 patrone was, waarvan
die appellant een ingesit het. Volgens
die klaer kon daar egter
slegs 4 patrone gewees het.
Die
streeklanddros het egter bevind dat daar vir, onder andere, die
getuienis van Maliki “
genoeg
betroubaarheidswaarborge

was.
Met hierdie bevinding kan ek egter glad nie saamstem nie. Dit het
hier gegaan om daardie gedeelte van Maliki se getuienis
wat die
appellant betrek het by die hantering van die vuurwapen (met die
ammunisie daarin) en by die afvuur van die skoot op
die klaer. Wat
dus nodig sou gewees het, om as betroubaarheidswaarborg te kon dien,
sou stawing gewees het van daardie bepaalde
gedeelte van Maliki se
getuienis. Stawing vir sy getuienis op ander aspekte sou glad nie
hier relevant gewees het nie
6
.
Daar is geen stawing
in die getuienis vir hierdie bepaalde gedeelte van Maliki se
weergawe nie. Die getuienis dat die appellant
later die vuurwapen
uitgewys het, sou net so geredelik versoenbaar wees daarmee dat
hyself op geen stadium in besit daarvan was
nie en maar bloot gesien
het hoedat Maliki die vuurwapen daar weggegooi het. Opsommenderwys,
wat hierdie aspekte betref, meen
ek dus dat die getuienis van
Maliki, as ‘n enkelgetuie en ‘n mededader, hoegenaamd
nie opsigself betroubaar was nie
en dat daar nie daarvoor
onafhanklike stawing bestaan nie.
Ons hoef nie te
bespiegel oor wat die appellant in sy getuienis oor hierdie
aanklagte mag gesê het nie. Dit blyk baie duidelik
uit sy
pleitverduideliking en uit sy kruisverhoor presies wat sy weergawe
in hierdie verband was, en dus ook wat sy getuienis
na alle
waarskynlikheid sou gewees het. Die streeklanddros het immers nie in
die uitspraak enige melding gemaak van ‘n
drastiese afwyking
van die kant van die appellant van sy vroeëre weergawe nie. Die
feit dat die appellant se ontkenning
van sy teenwoordigheid op die
toneel vals mag wees, sou nog nie Maliki se ongeloofwaardige
getuienis oor die poging tot moord
en oor die besit van die
vuurwapen en die ammunisie tot geloofwaardig bo redelike twyfel kon
verhef nie.
Die advokaat vir die
respondent, mnr Kgatwe, het in sy betoogshoofde aan die hand gedoen
dat die appellant nie genoeg gedoen het
om die rekord te
rekonstrueer nie. In hierdie verband is ondermeer verwys na die
moontlikheid dat die streeklanddros se aantekeninge
behulpsaam mag
wees. Die betrokke streeklanddros, wat nie meer in diens van die
Departement is nie, het nie meer sy notas nie
en kon nie behulpsaam
wees met enige verdere rekonstruksie nie. Die probleme met die
oorkonde het reeds geblyk toe die petisie
oorweeg moes word en daar
is toe reeds versoek dat gepoog word om die ontbrekende gedeeltes te
rekonstrueer. Uit die terugvoer
blyk dat alles redelik moontlik
reeds in hierdie verband gedoen is. Dit sal na my oordeel geen doel
dien om die aangeleentheid
verder te vertraag vir hierdie doeleindes
nie, en dit het mnr Kgatwe dan ook toe in betoog toegegee.
Dit volg dus dat ek
van oordeel is dat die appellant verkeerdelik skuldig bevind is op
aanklagte 3, 4 en 5. Ook dit het mnr Kgatwe
heel korrek toegegee.
Dit volg dus ook dat die vonnisse op hierdie aanklagte tersyde
gestel moet word. Ek sien egter geen basis
vir inmenging met die
skuldigbevinding op aankla 1 nie.
In sy destydse aansoek
om verlof tot appèl het die appellant aangevoer dat hy
afstand gedoen het van sy reg op regsverteenwoordiging,
oënskynlik
omdat die betrokke regsverteenwoordiger Engelsprekend was en hy nie
Engels verstaan het nie, en is aangevoer
dat die appellant toe tot
sy nadeel sy verhoor self moes behartig. Na my oordeel is daar geen
meriete hoegenaamd in hierdie bewering
nie. By die nagaan van die
oorkonde blyk dit dat meerdere voorsittende beamptes die kwessie van
regsverteenwoordiging met die
appellant opgeneem het en baie moeite
gedoen het om aan hom te verduidelik dat die aanklagte teen hom
ernstig was en om hom aan
te moedig om eerder gebruik te maak van
regsverteenwoordiging. Hy het ook nooit, selfs toe hy uiteindelik
iemand beskikbaar gehad
het om namens hom te verskyn en verkies het
om nie daarvan gebruik te maak nie, ‘n bewering gemaak dat hy
‘n probleem
gehad het met taal nie.
Dit
laat die kwessie van die vonnis op aanklag 1. Dit blyk uit die
aansoek om verlof tot appél
7
dat
daar, voor vonnisoplegging, inligting verskaf is deur die appellant
in reaksie op vrae van die streeklanddros. Daar is nie
in die
aansoek om verlof tot appèl melding gemaak van enige ander
inligting wat voor die streeklanddros geplaas sou gewees
het, en wat
nie nou deel van die oorkonde vorm nie. Dit blyk dus dat die
inligting rakende die appellant se persoonlike omstandighede,
soos
dit uiteengesit is in die vonnis-uitspraak, slegs op hierdie wyse
verkry kon gewees het. Daar kan dus nie, na my oordeel,
wesenlike
nadeel voortspruit uit die feit dat die verrigtinge voorafgaande
vonnisoplegging nie getranskribeer is nie. Die teendeel
is ook nie
geargumenteer deur die appellant se advokaat, mnr Cloete, nie.
Wat betref die
appellant se rekord van vorige veroordelings, is ‘n afskrif
daarvan deel van die oorkonde, welke afskrif
op alle aanduidings
blyk ‘n behoorlike afskrif te wees. Die teendeel is ook glad
nie gesuggereer in argument namens die
appellant nie. Die afskrif is
onderteken deur die appellant, wat aandui dat hy die inhoud daarvan
dan ook erken het. Ek ag dit
onnodig om in detail in te gaan op die
inhoud van die appellant se rekord van vorige veroordelings. Ek
volstaan met die opmerking
dat dit letterlik bladsye se
oneerlikheidsmisdade insluit.
Na my oordeel het die
streeklanddros ook tereg gelet op die veelvuldige voorkoms van
hierdie tipe oortreding, en die erns daarvan,
en is geeneen van
hierdie aspekte oorbeklemtoon nie.
Ek kon geen mistasting
vind in die vonnis-uitspraak nie, en daar is ook nie voor ons namens
die appellant gewys op enige sodanige
mistasting nie. Na my mening
is geen aspek by die oorweging van vonnis oor- of onderbeklemtoon
nie, en is die vonnis wat die
appellant opgelê is op aanklag 1
hoegenaamd nie skokkend nie. Dit moes mnr Cloete dan ook toegee.
In die lig van die
voorgaande maak ek dus die volgende bevele hierin:
Die
skuldigbevinding en vonnis op aanklag 1 word bekragtig.
Die
skuldigbevindings en vonnisse op aanklagte 3, 4 en 5 word tersyde
gestel.
_____________________
C J OLIVIER
REGTER
NOORD-KAAPSE
AFDELING
Ek stem saam.
______________________
M V PHATSHOANE
REGTER
NOORD-KAAPSE
AFDELING
Nms
Appellant: Adv P J Cloete
Namens:
Regshulpraad, KIMBERLEY
Nms
Respondent: Adv K M Kgatwe
Namens:
Direkteur van Openbare Vervolgings: KIMBERLEY
1
Onderworpe
natuurlik aan bepalings met betrekking tot die verkryging van verlof
tot appél
2
S
v Van Staden
[2008] ZANCHC 45
;
2008 (2) SACR 626
(NC)
3
S
v Chabedi
2005 (1) SACR 415
(SCA)
paras [5] en [6];
S v S
1995
(2) SACR 420
(T) op 423e
4
waar
hierdie misdade gepleeg is
5
S
v S, supra
, op 424b-e; vergelyk
S
v Mantsha
2009 (1) SACR 414
(SCA)
6
S
v Gentle
2005 (1) SACR 420
(SCA) para [18];
S v
Scott-Crossley
2008 (1) SACR 223
(SCA) para [8]
7
O
orkonde:
bl 227