Wiid and Others v Wiid and Others (1571 / 2006) [2012] ZANCHC 62 (13 January 2012)

65 Reportability
Trusts and Estates

Brief Summary

Trusts — Trustee duties — Allegations of breach of fiduciary duty — Ejectment and damages sought by trust beneficiaries against trustees for leasing trust property at below market rates — Trustees acknowledged under-market leases but denied any resulting damage to the trust — Court found that trustees acted improperly and awarded damages for loss of income and use of trust assets, totaling R2,178,448.20.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: High Court, Northern Cape Division, Kimberley
>>
2012
>>
[2012] ZANCHC 62
|

|

Wiid and Others v Wiid and Others (1571 / 2006) [2012] ZANCHC 62 (13 January 2012)

Rapporteerbaar:
Ja / Nee
Sirkuleer
onder Regters: Ja / Nee
Sirkuleer
onder Landdroste: Ja / Nee
Sirkuleer
onder Streeklanddroste: Ja / Nee
IN
DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(Noord-Kaapse
Hooggeregshof, Kimberley)
Saaknommer:
1571 / 2006
Datums
aangehoor : 21 - 22/04/2010; 15 – 16/08; 12 – 15/12/2011
Datum
gelewer : 13/01/2012
In
die saak tussen:
HERMANUS
HENDRIK WIID
Eerste
Eiser
JOHANNA
SOPHIA FISCHER
Tweede Eiseres
SUSANNA
ELIZABETH RABIE
Derde Eiseres
en
ELIZABETH
HENDRIKA WIID
Eerste
Verweerderes
WILHELMINA
BARENDINA VAN
LOGGENBERG
Tweede Verweerderes
JACOBUS
PHILIPUS
WIID
Derde Verweerder
EBEN
JEAN DU TOIT
Vierde Verweerder
ELIZABETH
HENDRIKA FERREIRA
Vyfde Verweerderes
ANNA
SOPHIA DE WET
Sesde Verweerderes
DIE
MEESTER VAN DIE
HOOGGEREGSHOF
Sewende Verweerder
DAWID
SMITH
PRINSLOO
Agste Respondent
Coram:
Lacock, R
UITSPRAAK
Lacock,
R
[1]
In ‘n onverkwiklike famielietwis vorder die eisers in hul
hoedanigheid as trustbegunstigdes
van die Elwida Trust omvattende
regshulp van die eerste vier verweerders. Geen regshulp word teen die
ander verweerders gevorder
nie. Ten einde die aard en die omvang van
die regshulp wat gevorder word beter te begryp, is dit nodig om die
verhouding tussen
die partye asook die aanleidende agtergrond en
tersaaklike gebeure (wat gemeensaak is tussen die partye) wat gelei
het tot die
instel van hierdie aksie, van nader toe te lig.
[2]
In lewe was wyle mnr Francois Johannes Gerhardus Wiid (die oorledene)
getroud met
die eerste verweerderes, Mev Elizabeth Hendrika Wiid (die
weduwee). Uit hierdie huwelik is gebore die drie eisers, en die
tweede,
derde, vyfde en sesde verweerders. Voor sy dood was die
oorledene ‘n vermoënde boer en het op verskeie plase in
onder
andere die Hopetown distrik geboer met skape en wild.
2.1
In Februarie 1992 het die oorledene die Elwida Trust (die Trust)
opgerig en is terselfdertyd
as trustees van die Trust aangestel die
oorledene, die weduwee, die tweede verweerderes (Loggenberg) en ene
mnr Erasmus, ‘n
boekhouer van beroep. Die gemelde trustees is
op 10 Desember 1996 deur die Meester van die Hooggeregshof,
Kimberley, gemagtig om
aldus as trustees op te tree.
2.2
Te alle tersaaklike tye vir doeleindes van hierdie aksie was die
Trust die eienaar van die
plase Karls Waaiveld, Thee Kop en Wina (die
plase) geleë in die distrikte Hopetown en Herbert (Wina is ‘n
gedeelte van
die plaas Dover), asook van sekere skape en wild waarmee
op die plase geboer is.
2.3
Die inkomste- en kapitaalbegunstigdes van die Trust was die
oorledene, die weduwee en al
die kinders en hul wettige afstammelinge
van die oorledene en die weduwee. Klousule 5 van die trustakte lees
as volg:-

INKOMSTE
Die
Trustees moet die inkomste invorder wat uit die belegging van die
Trustkapitaal voortvloei en, nadat voorsiening gemaak is vir
betaling
van alle onkoste, rente verskuldig, belasting en Trusteekommissie,
moet die netto inkomste by die Trustkapitaal gevoeg
word en as deel
daarvan belê word, aangesien dit die bedoeling met die stigting
van die Trust is om die Trustkapitaal ten
bate van die
Kapitaalbegunstigdes te vermeerder.
Met
dien verstande dat die Trustees in hulle uitsluitlike diskresie ‘n
deel van of die hele netto inkomste aan enigeen of
meer van die
meerderjarige Inkomstebegunstigdes kan betaal en/of dit kan aanwend
vir die onderhoud, opvoeding en algemene voordeel
van enigeen of meer
van die minderjarige Inkomstebegunstigdes (of die Trustees kan in hul
diskresie namens enige sodanige minderjarige
aan sy ouer of voog ‘n
betaling doen) op so ‘n wyse en op die voorwaardes en in die
verhoudings en op die tye as wat
die Trustees in hulle uitsluitlik
diskresie mag besluit.
Met
dien verstande verder dat die Trustees in hulle uitsluitlike
diskresie al die of enige van die Inkomstebegunstigdes ingevolge

hierdie Trust, vrye gebruik en genot mag toelaat van enige bates
waarvan die Trust eienaar is, en mag besluit of die Trust of die

betrokke Inkomstebegunstigdes vir die instandhouding van die bates
asook die betaling van enige belastings, versekeringspremies
en ander
soortgelyke koste verantwoordelik moet wees.

[3]
Die fundamentele skuldoorsake in hierdie geding vind hul oorsprong in
die handelinge van die trustees van die Trust soos verstalt in die
notule van ‘n trustee vergadering gehou op 20 Augustus
2001 en
die daaropvolgende huurkontrakte gesluit tussen die Trust en die
derde verweerder. Die inhoud van hierdie notule lees as
volg:-

NOTULE
VAN TRUSTEE VERGADERING GEHOU OP 20 AUGUSTUS 2001
TEENWOORDIG:
Mnr.
F.J.G. Wiid
Mev
E.H. Wiid
Mev
W.B. Loggenberg
Mnr
E.J. du Toit
A
WESIG
Mnr
J.P. Wiid
Daar
is ‘n kworum en die vergadering word as behoorlik
gekonstitueerd verklaar.
BESLUITE
Die
vergadering neem kennis van die verswakkende gesonheids toestand van
die bestuurder van die boerdery van Elwida Trust, mnr F.J.G.
Wiid. Op
aanbeveling van mnr F.J.G. Wiid is daar eenparig deur die
teenwoordiger trustees besluit om die boerdery bates van die
trust
naamlik plase, 1000 dorper ooie en wild te verhuur aan mnr J.P. Wiid
vir R10 per hektaar per jaar en R 12 per ooi per jaar
met ‘n
eskalasie klousule van 5 % per jaar op die huurkontrak van die plase.
Die wild kan die huurder vir sy eie gebruik
aanwend sonder enige
verdere huurgeld op voorwaarde dat hy die wild trop getalle in stand
hou soos wat dit is wanneer hy begin
huur het. Daar behoort redelike
teeltroppe gehou word van elke wildsoort wat teen woordig is.
Die
periode van die huur kontrak sal wees 9 jaar en 11 maande vanaf 1
September 2001 met ‘n opsie aan die huurder om die termyn
te
verleng met ‘n verdere 9 jaar en 11 maande.
Die
huur sal ‘n aanvang neem aan die begin van die maand wat volg
op die dag wat mnr F.J.G. Wiid te sterwe kom of wanneer
hy sou
besluit om sy bestuurs verpligtinge by Elwida Trust te staak.
Mnr
Thinus Schutte prokureur van Hopetown moet die kontrak namens Elwida
Trust opstel.
Die
vergadering het besluit dat die ooreenkoms namens die trust deur mnre
FJG & JP Wiid, mev EH Wiid en mev WB Loggenberg onderteken
moet
word.

3.1
Dit is gemene saak tussen die partye dat die gemelde plase van die
Trust asook die 1000
dorperooie aan die derde verweerder verhuur is
kragtens skriftelike huurkontrakte gesluit op 30 Augustus 2001. Dit
is verder gemeensaak
dat geen huurgeld betaalbaar was vir die wild op
die plase nie, en dat die oorspronklike huurkontrak ten aansien van
die Thee Kop
plaas skriftelik gewysig is op 30 Januarie 2003 ten
einde voorsiening te maak vir die instandhouding van die wildgetalle
op hierdie
plaas.
3.2
Die datum waarop die derde verweerder die plase en die 1000
dorperooie begin huur het, was
1 Maart 2002.
3.3
Namens die Trust beweer die eisers nou dat die trustees destyds die
plase en die dorperooie
verhuur het aan die derde verweerder teen
onder markverwante huurgelde, en dat, as gevolg daarvan asook die
kostelose gebruik van
die wild, die Trust skade gely het; en vorder
vervolgens skadevergoeding van die eerste vier verweerders. Die
verweerders erken
dat die plase en die dorperooie aan die derde
verweerder verhuur is teen onder markverwante huurgelde, en dat die
wild kosteloos
aan die derde verweerder beskikbaar gestel is, maar
ontken dat die Trust as gevolg daarvan skade gely het of dat hulle
aanspreeklik
is teenoor die Trust vir enige skade wat gely mag gewees
het.
[4]
Benewens skadevergoeding, vorder die eisers ook onder andere ‘n
bevel vir die nietigverklaring van die voormelde huurkontrakte en dat
die trustees van hul poste as sulks onthef word. Ek handel
hieronder
meer breedvoerig met die regshulp soos gevorder.
[5]
Na die aanvang van die verhoor het die partye ‘n ooreenkoms
bereik (bewysstuk
‘G’) wat tot gevolg gehad het dat van
die geskille óf geskik is óf akademies geword het.
5.1
Eerstens het die derde verweerder onderneem om op 30 April 2010 die
plase te ontruim en
dit tesame met die dorperooie en die wild aan die
Trust te restitueer, en het terselfdertyd afstand gedoen van enige
regte waaroor
hy kragtens die huurkontrakte mag beskik het.
5.2
Tweedens het die partye ooreengekom op die verskil tussen die waardes
(huurgeld) waarteen
die plase aan die derde verweerder verhuur is en
‘n markverwante huurwaarde waarteen die Trust die plase sou kon
verhuur
het vir die periode 1 Maart 2002 tot en met 28 Februarie
2010. Hierdie bedrag beloop R973,923.20.
5.3
Derdens het die partye ooreengekom op die verskil tussen die huurgeld
waarteen die derde
verweerder die 1000 dorperooie gehuur het en die
markverwante huur waarteen die Trust die ooie sou kon verhuur het vir
die periode
1 Maart 2002 tot 28 Februarie 2010. Hierdie bedrag beloop
R404,525.00.
5.4
Geen ooreenkoms kon bereik word aangaande die verlies wat die Trust
gely het as gevolg van
die gratis benutting van die wild deur die
derde verweerder nie.
[6]
Die partye is dit eens dat, indien bevind word dat enige van die
verweerders aanspreeklik
is teenoor die Trust vir die betaling van
skadevergoeding, die voormelde bedrae van R973,923.20 en R404,525.00
tesame met die gebruikswaarde
van die wild die omvang van sodanige
skade verteenwoordig.
6.1
Wat betref die gebruikswaarde van die wild het Dr Phillipus C Cloete,
‘n landbou-ekonoom
met uitgebreide praktiese en akademiese
kennis van wildboerdery in Suid-Afrika namens die eisers getuig dat,
konserwatief bereken,
die netto inkomste wat die Trust kon verdien
het uit die wild op die plase vir die periode 1 Maart 2002 tot 28
Februarie 2010 minstens
R100,000.00 per jaar (dit wil sê
R800,000.00 vir die volle periode) beloop. Die werklike berekeninge
gedoen deur hierdie
getuie beloop aansienlik meer, maar het Adv van
der Walt, namens die eisers, aangedui dat die eisers die
konserwatiewe berekening
van R100,000.00 per jaar aanvaar.
Dr
Cloete het my as getuie en ‘n deskundige op sy gebied beïndruk,
en het ek geen rede om sy berekeninge en die korrektheid
daarvan in
twyfel te trek nie. Die verweerders het geen getuienis ter
weerlegging van die getuienis van Dr Cloete aangebied nie,
en het die
derde verweerder self ook nie enige getuienis ter weerlegging van die
berekeninge van Dr Cloete voor my geplaas nie.
Vervolgens aanvaar ek
die berekeninge van Dr Cloete en is ek tevrede dat die eisers op ‘n
oorwig van waarskynlikhede bewys
het dat die netto inkomste wat die
Trust uit die wild kon verdien het vir die periode 1 Maart 2002 tot
28 Februarie 2010 indien
die wild nie gratis aan die derde verweerder
beskikbaar gestel was nie, minstens R800,000.00 beloop.
6.2
Die totale verlies gely deur die Trust vir die tersaaklike
ooreengekome periode beloop dus
R2,178,448.20.
[7]
In die lig daarvan dat die derde verweerder alle regte en aansprake
waaroor hy mag
beskik het kragtens die huurkontrakte en die
wysigingsooreenkoms abandoneer het, en reeds die plase, dorperooie en
wild aan die
Trust gerestitueer het, vind ek dit nie nodig om te
handel met die vraag naamlik of die kontrakte nietig is aldan nie.
Daardie
vraagstuk is nou bloot van akademiese belang.
[8]
Wat eerstens beslis moet word is of die eerste tot vierde verweerders
aanspreeklik
is vir die betaling van die skade gely deur die Trust as
gevolg van die huurkontrakte gesluit met die derde verweerder.
Vir
doeleindes van die beslissing van hierdie vraag sal ek, soos betoog
deur mnr Coetzee, namens die verweerders, aanvaar, sonder
om te
beslis, dat die derde en vierde verweerders behoorlik as trustees van
die Trust aangestel is nadat mnr Erasmus (intussen
oorlede) kennis
van sy bedanking as trustee aan die ander trustees gegee het. Hierdie
bedanking is gegee op ‘n trustee vergadering
van 15 Desember
1999, en is die vierde verweerder op dieselfde vergadering in die
plek van Erasmus “
as administratiewe trustee en
rekenmeester
” aangestel en sou sy aanstelling in werking
tree “
met ontvangs van sy skriftelike aanvaarding
”.
Twee dae later, op 17 Desember 1999, het die vierde verweerder sy
aanstelling as sulks aanvaar.
Hoewel
dit nie duidelik uit die notules van die Trust blyk wanneer die derde
verweerder as ‘n trustee aangestel is nie, kan
aanvaar word dat
hy ook op 15 Desember 1999 as trustee aangestel is, aangesien hy sy
aanstelling ook skriftelik op 17 Desember
1999 aanvaar het, en die
ander trustees sy “
aanvaarding van trusteeskap
” op
27 Oktober 2000 goedgekeur het.
[9]
Soos blyk uit die notule van die trustee vergadering van die Trust
gedateer 20 Augustus
2001, was die oorledene, die weduwee (eerste
verweerderes), Loggenberg (die tweede verweerderes) en die vierde
verweerder (Du Toit)
die teenwoordige trustees wat besluit het om die
tersaaklike huurkontrakte met die derde verweerder te sluit. Die
derde verweerder
was nie teenwoordig toe hierdie besluit genotuleer
is nie. Niks draai egter hierom nie, aangesien dit gemeensaak is dat,
toe die
kontrakte gesluit en onderteken is, hy hom met daardie
besluite vereenselwig het.
9.1
Uit die getuienis van Mev Loggenberg (die tweede verweerderes) blyk
dit dat, ten tye van
die neem van die voormelde besluite, al die
trustees hulle laat lei en intimideer het deur die wilsbesluite van
die oorledene.
Die oorledene was duidelik die persoon wat besluit het
teen welke huurgeld die plase en die skape aan die derde verweerder
verhuur
moet word, en dat hy die wild gratis kon benut, en die ander
trustees het eenvoudig sy wil gevolg en aanvaar sonder om onafhanklik

oorweging te gee en ‘n eie diskresie uit te oefen aangaande die
vraag naamlik of die tersaaklike besluite in die belang of
tot
voordeel van die Trust en/of die trustbegunstigdes sou wees.
9.2
Trouens, dit is ondermeer duidelik uit die getuienis van beide
Loggenberg en Du Toit dat
al die trustees ten tye van die neem van
hierdie besluite en die sluit van die kontrakte besef het dat die
plase en die skape ver
benede markverwante huurgelde aan die derde
verweerder verhuur word. Ten spyte hiervan, het al die trustees,
sonder om die ander
trustbegunstigdes te ken in die proses,
voortgegaan om uitvoering aan die besluite te gee; en was selfs
bereid om hierdie benadelende
(teenoor die ander trust-begunstigdes)
situasie te laat voortduur vir ‘n periode van byna 20 jaar.
(Die huurtermyne was 9
jaar en 11 maande, met ‘n opsie om te
verleng vir ‘n verdere periode van 9 jaar en 11 maande).
[10]
Dit spreek vanself dat die voormelde handelinge van die trustees
uiters benadelend vir die Trust en
gevolglik vir die
trustbegunstigdes, behalwe die derde verweerder, was en steeds sou
wees indien die ooreenkoms waarna hierbo verwys
is, nie tussen die
partye tydens die verhoor bereik was nie. Trouens, dit blyk dat oor
die periode Maart 2002 tot Februarie 2010
die plase verhuur is teen
‘n huurgeld wat ongeveer 60 % minder beloop het as ‘n
markverwante huurgeld, terwyl die skape
verhuur is teen ‘n
huurgeld wat ongeveer 80 % minder beloop het as ‘n markverwante
huurgeld. Daarbenewens is die wild
sonder enige vergoeding aan die
derde verweerder beskikbaar gestel vir die volle duur van die
huurtermyn. Die teenkant van hierdie
munt is natuurlik dat die derde
verweerder as ‘n trustbegunstigde ten koste van die ander
trustbegunstigdes bevoordeel is.
[11]
Die
locus standi
van die eisers om namens die Trust
skadevergoeding van die eerste vier verweerders te vorder, is nie in
geskil nie. Sien in hierdie
verband
Gross & Others v Pentz
,
[1996] ZASCA 78
;
1996 (4) SA 617
(AD) te 621 C en verder.
[12]
Die bevoegdhede en verpligtinge van ‘n trustee word ontleen aan
die voorskrifte van die
trustakte en dié van die Wet op die
Beheer van Trustgoed, Nr 57 van 1988 (die Wet). Artikel 9 van die
Wet, en wat in wese
‘n samevatting van die gemenereg is, lees
as volg:-

Sorgsaamheid,
ywer en kundigheid van trustee vereis. – (1) ‘n Trustee
moet by die nakoming van sy pligte en die uitoefening
van sy
bevoegdhede met die sorgsaamheid, ywer en kundigheid optree wat
redelikerwys verwag kan word van ‘n persoon wat die
sake van ‘n
ander hanteer.
(2)
‘n Bepaling van ‘n trustdokument wat die uitwerking sou
hê dat ‘n trustee vrygestel word van of gevrywaar
word
teen aanspreeklikheid vir troubreuk indien hy versuim om die mate van
sorg, kundigheid en vlyt aan die dag te lê soos
in subartikel
(1) vereis, is nietig.

So
ver terug soos in 1925 het die Appèlhof die volgende gesê
aangaande die aard van die verpligtinge van ‘n trustee
wat die
goed van andere administreer, naamlik

The
effect of this authority is that a tutor must invest the property of
his ward with diligence and safety. It is also said that
a tutor must
observe greater care in dealing with his ward’s money than he
does with his own, for, while a man may act as
he pleases with his
own property, he is not at liberty to do so with that of his ward.
The standard of care to be observed is accordingly
not that which an
ordinary man generally observes in the management of his own affairs,
but that of the prudent and careful man;

(
Sackville
West v Nourse and Another,
1925 AD 516
te 534).
Olivier
et al
stel dit as volg in hul “Trustreg en Praktyk”
(tweede uitgawe) te 3–26:

Al
die trustee se pligte soos hulle gefragmenteer is en wat later onder
verskeie hoofde bespreek sal word, kan teruggevoer word
na die
oorheersende vereiste om deurgaans in belang van die begunstigdes op
te tree.

In
Ex parte
Knight and Others
, 1946 KPA (800) te 814 is
die volgende gesê aangaande die verpligting van ‘n
administrateur van boedelbates, naamlik

The
normal powers of administrators include the right to maintain the
investments (using the latter word in a wide sense) of the
deceased
person whose estate they administer. If these investments are risky
and speculative it would be negligent for them to
maintain them, and
to secure themselves against claims of interested persons for damages
resulting from such risky and speculative
investments they should
timeously realise the so invested assets and invest them with
adequate security – see e.g. remarks
of Kotze, J.A., in
Sackville West v. Nourse and Anothers (1925, A.D. at pp. 534, 535) –
put in other words, administrators
have such power, but they must be
very careful in exercising: they can do so, but at their own risk cf.
Ex parte Executor Estate
Storm
(1943, N.P.D. 279).
It is their duty
to keep the assets of the estate properly invested in the best
interests of the beneficiaries, due regard being
had to the
production of fruits and the security of the corpus.

Dieselfde
beginsels is myns insiens toepaslik op trustees van ‘n trust.
[13]
Die tersaaklike gedeelte (paragraaf 5) van die trustakte is reeds
hierbo aangehaal. (Sien paragraaf
2.3). Daar is geen aanduiding in
die trustakte dat die oprigter (die oorledene) beoog het om die derde
verweerder bo die ander
trustbegunstigdes te bevoordeel nie.
[14]
Mnr Coetzee het, tereg so, toegegee dat die Trust benadeel is en
skade gely het as gevolg van die nie-markverwante
huurgeld waarteen
die plase en skape aan die derde verweerder verhuur is, en die gratis
gebruik van die wild; en dat die ander
trustbegunstigdes gevolglik
benadeel is. Hy voer egter aan dat die trustees uit hoofde van die
tweede voorbehoudsbepaling van paragraaf
5 van die trustakte (hierbo
aangehaal) en meer bepaald die woorde “
...in hulle
uitsluitlike diskresie al die of enige van die inkomstebegunstigdes
ingevolge hierdie Trust, vrye gebruik en genot mag
toelaat van enige
bates waarvan die Trust eienaar is...
”, bevoeg en gemagtig
was om die plase en skape aan die derde verweerder te verhuur teen
die lae huurgeld soos gedoen en aan
hom die vrye gebruik van die wild
te laat toekom. Na my mening is daar geen meriete in hierdie argument
nie.
14.1
In die eerste plek moet hierdie voorbehouds-bepaling gelees word in
die samehang van die trustakte
as geheel en meer bepaald die primêre
oogmerk wat die oprigter in die vooruitsig gestel het. Die inleidende
paragraaf A van
die akte lees, “
Die oprigter, as gevolg van
die toegeneentheid wat hy teenoor sy kinders koester, verlang...

Dit, saamgelees met die omskrywing van “
Inkomstebegunstigdes

en “
Kapita­al
-begunstigdes” asook die eerste
gedeelte van paragraaf 5 van die akte is aanduidend daarvan dat die
Oprigter al sy kinders
op ‘n gelyke voet wou bevoordeel. So
gesien, blyk dit dat die voorbehoude vervat in paragraaf 5 bedoel is
om voorsiening
te maak vir die geval waar ‘n trustbegunstigde
op verdienstelike gronde ‘n behoefte aan voorkeurbehandeling
het.
In
‘n sogenaamde “
brief van wense
” gedateer 25
Februarie 1992 en gerig aan die trustees van die Trust, druk die
oorledene homself as volg uit:

Die
ondergetekende, FRANCOIS JOHANNES GERHARDUS WIID, het die bogemelde
Trust mondeling geskep te Bloemfontein op 9 Desember 1991
en die
Trust was skriftelik uitgevoer by wyse van ‘n Trustakte op
9/12/1991. Die Trust was opgerig ten einde my in staat
te stel om my
persoonlike sake gedurende my leeftyd en na my dood so te reël
dat voorsiening gemaak word vir die deurlopendheid
van my sake en om
te voorsien vir die onderhoud, opvoeding en algemene welsyn van my
gade en kinders. Ingevolge die Trustakte het
die Trustees van die
Trust sekere diskresies. Dit is my wens, vir die doel van sekerheid
en vir die beter administrasie van die
Trust, om my wense skriftelik
op rekord te plaas, naamlik –
1.
Enige inkomste wat voortvloei uit
die Trust van tyd tot tyd moet aan my betaal word soos en wanneer ek
dit mag verlang. Na my dood
moet die inkomste aangewend word en die
kapitaal, indien nodig, ingevolge u diskresie tot voordeel van my
gade sodat sy haar lewensstandaard
kan handhaaf waaraan sy gewoond
was, slegs met inagneming van my kinders se opvoedkundige onkostes.
2.
Die Trust moet beëindig word by
die afsterwe van die langslewende van my gade en myself, of die jaar
2007, welke datum ookal
laaste aanbreek, onderhewig aan die
voorwaarde dat u gemagtig is, in u algehele diskresie, om die
trust-beëindiging uit te
stel, in sy geheel of gedeeltelik vir
sodanige verdere tydperk of tydperke as wat u mag besluit, indien
omstandighede dit regverdig.
3.
By die beëindiging van die
Trust, na die dood van die langslewende van my gade en myself, moet
die kapitaal soos dit dan daar
uitsien gelykop verdeel word tussen my
kinders, of by gebrek aan enige kinders, tussen hulel onderskeidelike
wettige afstammelinge
by plaasvervulling.
4.
Ek stel voor dat u hierdie Brief van
Wense liasseer saam met die oorspronklike afskrif van die Trustakte.
5.
Alle versekeringspremies op die
Sanlam polisse deur my uitgeneem op die lewens van my onderskeie
kinders moet uit die inkomste van
die Trust betaal word tot die
vervaldatum van die laaste polis (2007).
6.
Ek behou die reg voor om te enige
tyd enige gedeelte van hierdie Brief van Wense te wysig by wyse van
geskrewe kennisgewing.

Sou
hierdie voorbehoud tot paragraaf 5 van die trustakte vertolk word as
die verlening van ‘n onbelemmerde arbitrêre
diskresie aan
die trustees, sou dit myns insiens die oorkoepelende oogmerk van die
Oprigter ongedaan maak, en die weg open vir
wanpraktyke. Vergelyk
Liebenberg N.O. v MGK Bedryfsmaatskappy (Pty) Ltd
,
2003 (2) SA
224
(HHA) te 233C – F.
14.2
Selfs al sou gesê kan word dat die voorbehoudsbepaling aan die
trustees ‘n diskresie bied
om na willekeur met die bates te
handel, het nóg Loggenberg nóg Du Toit getuig dat, ten
tye van die neem van die
tersaaklike besluit in Augustus 2001, die
trustees hoegenaamd behoorlik die aangeleentheid oorweeg het en
daarna ‘n deurdagte
besluit geneem het. Inteendeel is dit
duidelik dat die besluit primêr deur die oorledene geneem is,
en dat die ander trustees
soos marionette bloot daarmee saamgestem en
ingeval het sonder om ‘n onafhanklike diskresie uit te oefen.
Geen uitoefening
van ‘n diskresie het dus hoegenaamd geskied
deur enigeen van die eerste, tweede en vierde verweerders nie. Die
tweede en
derde verweerders het verkies om nie te getuig nie. Uit hul
aanvaarding van die besluit en die afwesigheid van enige getuienis
tot die teendeel kan aanvaar word dat ook hulle bloot berus het in
die besluit van die oorledene. Waarom sou die derde verweerder
nie in
die besluit berus het nie: hy is immers enorm daardeur bevoordeel.
14.3
Nóg uit die notule nóg die huurkontrakte blyk dit dat
die trustees ten tye van die neem
van die besluite of die sluiting
van die kontrakte beoog het om te handel ingevolge die voorskrifte
van paragraaf 5 van die trustakte.
Die beroep op hierdie klousule kom
my ‘n nagedagte voor.
14.4
In iedere geval is die plase en die skape nie in “
vrye
gebruik en genot
” aan die derde verweerder beskikbaar
gestel nie. Daar is besluit om dié bates te verhuur.
[15]
Dat die eerste tot vierde verweerders uiters nalatig en
skadeberokkend vir die Trust en die trustbegunstigdes
gehandel het
met die sluiting van die huurkontrakte tussen die Trust en die derde
verweerder, spreek vanself.
15.1
Duidelik het hierdie trustees nie ‘n onbevange en onafhanklike
diskresie uitgeoefen toe besluit
is om die kontrakte te sluit nie.
15.2
Geeneen van die hierdie trustees het gepoog om te verhoed dat die
kontrakte gesluit word op die terme
waarop dit gesluit is, en dit
terwyl hulle bewus was daarvan dat die huurgeld soos daarin vervat
ver benede ‘n markverwante
huur was.
15.3
Al hierdie trustees was bewus daarvan dat, as gevolg van die
nie-markverwante huurgeld, die Trust benadeel
is. Ten spyte hiervan
het hulle uitvoering gegee aan die besluit om voort te gaan om die
bates teen die huurgeld soos vervat in
die kontrakte te verhuur.
15.4
Deur die bates teen ‘n nie-markverwante huur te verhuur, en die
wild gratis tot die beskikking
van die derde verweerder te stel, het
hierdie trustees die Trust ontneem van die geleentheid om sy kapitaal
op ‘n redelike
wyse aan te vul, en sodoende die
trustbegunstigdes van daardie voordeel ontsê.
15.5
Uit hoofde van die voorgaande het die gemelde verweerders versuim om
hul pligte as trustees kragtens
die voorskrifte van artikel 9 van die
Wet uit te voer, deurdat hulle versuim het om die bates van die Trust
tot voordeel van die
trustbegunstigdes te bestuur.
[16]
Die vierde verweerder se getuienis naamlik dat hy nie deelgeneem het
aan die besluitnemingsproses om
die plase en diere aan die derde
verweerder te verhuur en die uitvoering van daardie besluite nie,
vind ek nie alleen onwaarskynlik
nie, maar ook leuenagtig. Hoewel hy
aanvanklik getuig het dat hy ten tye van die neem van die besluit in
Augustus 2001 nie ‘n
trustee was nie omdat hy nog nie kragtens
artikel 6 van die Wet deur die Meester gemagtig was nie, moes hy
later erken dat hy toe
reeds as ‘n trustee aangestel was, en
dat hy sy aanstelling aanvaar het. Geeneen van die notules van die
Trust, en wat deur
die vierde verweerder self gehou was, toon aan dat
hierdie verweerder nie as trustee aan die besprekings en besluite
deelgeneem
het nie. Trouens, presies die teendeel blyk uit die
notules. Hierdie verweerder het duidelik te alle tersaaklike tye as
‘n
trustee van die Trust gehandel en hom met die besluite
daarvan vereenselwig.

The
fact that a trustee has not received the requisite authorisation from
the master would not relieve him or her from liability
for a wrongful
act in conducting the affairs of a trust.

(WA
Joubert
et al
, “The Law of South Africa, Vol 31 (2de
Uitgawe) te 370).
[17]
Uit hoofde hiervan is die eerste tot vierde verweerders aanspreeklik
teenoor die Trust vir die skade
aldus gely in die bedrag van
R2,178,448.20.
Vergelyk
Boyce N.O. v Bloem & Others
,
1960 (3) SA 855
(TPA).
[18]
Dit bring my by die volgende geskilpunt naamlik of die voormelde
nalatige en/of opsetlike gedraginge
van die eerste tot vierde
verweerders hul ontheffing as trustees van die Trust regverdig soos
versoek deur die eisers. Die antwoord
hierop is na my mening
bevestigend.
18.1
Afgesien van die nalatige handelinge van die trustees waarna hierbo
verwys is, is daar die een oorheersende
onverskoonbare gedraging wat
hulle onbevoeg maak om as trustees van die Trust te funksioneer, en
dit is dat hulle hulself deur
die oorledene aan die neus laat lei het
en geïntimideer is. Deur dit toe te laat, het die trustees hul
statutêre verpligting
soos verstalt in artikel 9 van die Wet
gruwelik verontagsaam en het die Trust en die trustbegunstigdes as ‘n
groep enorme
skade gely. In hierdie verband is ek dit eens met wat
Kirk-Cohen, R gesê het in
Tijmstra N.O. v Blunt-Mackenzie
N.O. & Others
,
2002 (1) SA 459
(TPA) te 471J tot 472A –
B en 474 E – F, naamlik:

The
applicant annexes to her papers a copy of an e-mail from the third
respondent addressed to the first respondent indicating that
she and
her two sisters, the fourth and fifth respondents, approved of the
sale of the farm. The applicant alleges, in my view
correctly, that
the third, fourth and fifth respondents simply endorse their father’s
actions without question. They certainly
have not attempted to do
otherwise after receipt of a copy of the application served upon the
first respondent, who acts for them
by virtue of the powers of
attorney. Counsel for the applicant has submitted that they are
puppets of their father and simply endorse
without question whatever
he has done and is doing. That submission is correct.
...
On
this ground alone the first respondent and his daughters are no
longer fit to be trustees. I include the daughters because they

express no independent view, rely entirely upon their father and
approve of his conduct. In doing so it is obvious that they are
not
fit to remain on as trustees.

18.2
Hoewel ek ‘n mate van begrip het dat die eerste verweerderes
graag sou wou toesien dat die wense
van haar afgestorwe eggenoot
uitgevoer word, moet hierdie simpatie ongelukkig wyk voor die
realiteite van trusteeskap. Die amp
van trustee verg veel meer as
sentiment. In
Administrators, Est. Richards v Nichol &
Another
,
[1998] ZASCA 82
;
1999 (1) SA 551
(SCA) het die Hof gehandel met
beleggings gemaak deur trustees in onder andere aandele, maar meen ek
dat die volgende algemene
opmerking ook hierin toepaslik is:

Generally
speaking, however, a trustee will as far as is practicable seek to
spread the investments of the trust over various forms
of undertaking
in order to obtain a balance of stability and growth in the capital
value of the trust and the income it produces.
(te 558I)
18.3
Met die derde verweerder het ek egter geen simpatie nie. Duidelik het
hy van sy posisie as trustee
misbruik gemaak om homself te
bevoordeel. Selfs nadat daar druk op hom geplaas was deur die
prokureurs van die eisers om die huurkontrakte
te kanselleer, het hy
volhard daarmee om die Trust gebonde daaraan te hou. Met hierdie
houding het hy – sowel as die ander
trustees – volhard
totdat die verhoor ‘n aanvang geneem het. Eers nadat die
verhoor begin het, het die derde verweerder
afstand gedoen van sy
regte kragtens die huurkontrakte en die plase en diere aan die Trust
restitueer. Dit het hy klaarblyklik
gedoen omdat hy besef het dat die
wind vir hom Wes waai. Die belangebotsing tussen homself, die Trust
en die ander trustbegunstigdes
verg die verwydering van die derde
verweerder as trustee van die Trust, daar hierdie belangebotsing die
trustbegunstigdes as ‘n
groep ernstig benadeel het. Vergelyk
Sackville West (supra)
, en
Die Meester v Meyer en Andere
,
1975 (2) SA 1
(TPA) te 18 D – E:

Dit
moet beklemtoon word dat daar geen getuienis is van misbruik van
bates of geld in die gewone sin nie. Die eenvoudige posisie
is dat
dit bewys is dat daar ‘n botsing van belange is en dat die
belange van die boedel en van die begunstigdes nie in alle
opsigte
beskerm is nie. Dit is moontlik dat geen verliese opgedoen is nie,
maar op hierdie stadium is dit nie nodig om op daardie
aspek in te
gaan nie – Grobbelaar se saak, supra te bl. 724H.
In
hierdie omstandighede het ek tot die gevolgtrekking geraak dat dit in
die belang van die boedel en die begunstigdes sal wees
om die eerste
respondent van sy amp as eksekuteur te onthef.

Sien
ook
Land and Agricultural Bank of South Africa v Parker &
Others
,
2005 (2) SA 77
(HHA) te 86E en verder.
18.4
Die vierde verweerder het reeds voor die aanvang van die verhoor as
trustee van die Trust bedank, en
is sy ontheffing as trustee
ingevolge artikel 20(1) van die Wet nie verder tersaaklik nie.
Nietemin sou sy en die derde verweerder
se ontheffing verdermeer
geregverdig gewees het deurdat hulle, bewus daarvan dat hulle nog nie
deur die Meester kragtens artikel
6 van die Wet gemagtig was om
namens die Trust te handel nie (aldus die vierde verweerder),
deelgeneem het aan die besluit en die
uitvoering daarvan om die
huurkontrakte met die derde verweerder te sluit. Soos hierbo gestel,
is die ontkenning deur die vierde
verweerder dat hy as trustee
gehandel het, onwaarskynlik.
18.5
Ten slotte meen ek dat die voortgesette trusteeskap van die eerste
tot derde verweerders nie in belang
van die trustbegunstigdes as ‘n
groep is nie vanweë die ooglopende en, mag ek byvoeg,
jammerlike, vyandskap en gebrek
aan vertroue wat bestaan tussen
minstens die eisers aan die een kant en die eerste drie verweerders
aan die ander kant. Hierdie
wantroue en vyandigheid blyk duidelik uit
die getuienis van mevv Fischer en Loggenberg, asook van die
dokumentasie ingehandig,
en behoef geen verdere toeligting nie.
Hierdie aspek verg deeglike oorweging by die aanstelling van trustees
nadat hierdie uitspraak
gelewer is. Vergelyk
Land and Agricultural
Bank (supra)
te 90B.
18.6
Oneerlike of
mala fide
optrede is geen voorvereiste vir die
ontheffing van ‘n trustee van sy of haar amp as sulks nie.
(
Tijmstra (supra)
te 473F).
[19]
Dit sal gemerk word dat ek nie gehandel het met die vraag of wyle
Erasmus behoorlik bedank het as trustee
van die Trust, of die derde
en vierde verweerders behoorlik as trustees aangestel is, en of die
magtiging van die Meester waarkragtens
laasgenoemdes as trustees
gemagtig is kragtens artikel 6 van die Wet om namens die Trust te
handel, ter syde gestel moet word nie.
Die rede hiervoor is daarin
geleë dat hierdie geskilpunte primêr betrekking het op die
geldigheid van die huurkontrakte.
Aangesien, en soos hierbo opgemerk,
die huurkontrakte by ooreenkoms gekanselleer is en restitusie reeds
plaasgevind het, het daardie
geskilpunt alleen van akademiese belang
geword.
Voorts
ag ek dit onnodig om uitsluitsel te gee oor die vraag of die derde en
vierde verweerders behoorlik as trustees aangestel
is omdat dit geen
verskil sou maak aan hul aanspreeklikheid vir die betaling van
skadevergoeding nie. Hulle het te alle tye gehandel
as trustees van
die Trust en hulle vereenselwig met die besluite en die uitvoering
daarvan.
Vervolgens
het ek die vraag naamlik of die derde verweerder as trustee verwyder
behoort te word, benader op die veronderstelling
dat hy wel behoorlik
as ‘n trustee aangestel en gemagtig was, maar sonder om hierdie
geskilpunt te beslis. Die slotsom waartoe
ek gekom het naamlik dat
die eerste tot derde verweerders van hul amp as trustees onthef
behoort te word, maak dit onnodig om uitsluitsel
te gee oor die
nietigheid aldan nie van die aanstelling van hierdie verweerders as
trustees van die Trust. Die derde verweerder
sou, indien sy
aanstelling nietig was, steeds van sy amp as trustee onthef moes
word.
[20]
Ten slotte handel ek met die onderskeie koste aspekte wat ter sprake
is.
[21]
Dit is gemeensaak dat die Trust die kostes vir die voer van hierdie
geding van die eerste tot vierde
verweerders gefinansier het. Die
eisers vorder hieraangaande dat die gemelde verweerders gelas word om
sodanige gelde aan die Trust
terug te betaal, dat ‘n rekening
gelewer word met besonderhede van alle betalings aldus namens hierdie
verweerders gedoen,
en debattering van sodanige rekening.
Die
eerste vier verweerders steun op die voorskrifte van klousule 8.3 van
die trustakte, naamlik

Die
Trustees word uit die Trustkapitaal skadeloos gestel teen alle eise
en vorderings van watter aard ookal wat teen hulle ingestel
mag word
na aanleiding van die bona fide uitoefening van enige van die magte
wat deur hierdie Trustakte aan hulle verleen word.
”,
vir
hulle verweer dat hulle geregtig is op vrywaring van hul regskostes
deur die Trust. Na aanleiding van die gronde van nalatigheid
en die
redes vir die ontheffing van die verweerders as trustees waarmee
hierbo gehandel is, meen ek dat die verweerders nie op
hierdie
vrywaring geregtig is nie.
21.1
Hoewel die algemene reël is dat ‘n Hof nie ligtelik sal
gelas dat trustees wat namens ‘n
trust handel, die gedingskoste
de bonis propriis
sal betaal nie, het ons hier te make met ‘n
geval waar die trustees grof nalatiglik versuim het om hul
verpligtinge as sulks
tot die beste belang van die Trust en die
trustbegunstigdes uit te voer. Trouens, ek het bevind dat hul
gedraginge waarmee hierbo
gehandel is, hul ontheffing as trustees
regverdig. In sodanige geval is daar geen rede waarom die Trust,
synde die entiteit wat
in die eerste instansie deur daardie
gedraginge van die trustees benadeel is, nog verder benadeel behoort
te word deur die betaling
van die regskoste van die trustees (eerste
tot vierde verweerders) nie. Sien
Sackville West (supra)
te
528 tot 532;
Boyce, N.O. v Bloem (supra)
te 875 A – B,
en die volgende
dicta
in
Stander & Others v Schwulst &
Others
,
2008 (1) SA 81
(KPA)

Since
this is the position where a trustee is sued in his representative
capacity, a trustee sued in his personal capacity for breach
of trust
can hardly be in a better position. If he is removed for misconduct
or other improper or unreasonable behaviour, his opposition
to the
application for his removal would inevitably be found to have been
unreasonable, and he could not only be ordered to pay
the other
side’s costs personally, but would also have no entitlement to
an indemnity from the trust in respect of his own
costs.

(te 95D),
en

This
shows a misapprehension as to the circumstances in which a trustee is
and is not entitled to an indemnity out of the trust
estate. The
indemnity is lost not only where there has been criminal conduct. If
opposition to removal is not proper in all the
circumstances, there
will be no indemnity. The grounds for removal might include
unreasonable conduct, negligence or breach of
trust. Opposition to
removal on those grounds, if such grounds are established, would be
improper.

(te 97B – C).
21.2
Op grond van die voorgaande is die eisers geregtig op die regshulp
soos hieraangaande versoek.
21.3
Dit is gemeensaak dat, nadat die vierde verweerder as trustee bedank
het, die agste verweerder (mnr
Prinsloo) in sy plek as trustee van
die Trust aangestel is. Ek meen dat dit in belang van die Trust is
dat hy inspraak sal hê
in die debattering van die rekening soos
versoek.
[22]
Wat betref die koste van die geding, versoek die eisers dat die
eerste tot vierde verweerders gelas
sal word om die kostes van die
eisers te betaal
de bonis propriis
op ‘n skaal soos
tussen prokureur en eie kliënt. Vir doeleindes hiervan steun mnr
Van der Walt op die volgende submissies
en soos vervat in sy
skriftelike betoogshoofde:

76.
Dit word betoog dat die hierna gemelde omstandighede die verlening
van sodanige kostebevel regverdig
omdat:
76.1
Die feite ter sake tot die beregting van die geskilpunte op die
pleitstukke (paragrawe 9 tot 9.35 hierbo)
grotendeels op ‘n
onredelike wyse deur die eerste tot vierde verweerders ontken was,
alhoewel baie van hierdie feite binne
hulle kennis was en op
sigwaarde onteenseglik geblyk het uit dokumente wat in hulle besit
was, sommige waarvan voorberei en opgestel
was deur die vierde
verweerder.
76.2
Die eerste tot vierde verweerders op ‘n onredelike wyse versuim
het om erkennings wat ingevolge
die bepalinge van Reël 37
versoek was, te maak met betrekking tot die volgende feite:
76.2.1
die bedanking van Erasmus ingevolge die bepalinge van klousule 4.6
van die
trustakte;
76.2.2
dat die vierde verweerder op die datum toe die huurkontrakte en
wysigingsooreenkoms
gesluit was, nie ingevolge die bepalinge van
artikel 6(1) van die Wet deur die sewende verweerder gemagtig was om
as ‘n trustee
van die Trust op te tree nie;
76.2.3
dat die derde verweerder op die datum toe die huurkontrakte en
wysigingsooreenkoms
gesluit was nie ingevolge die bepalinge van
artikel 6(1) van die Wet gemagtig was om as trustee van die Trust op
te tree nie;
76.2.4
dat die trustakte van die Trust nie voorsiening daarvoor maak dat die
trustees
van die Trust anders as gesamentlik mag optree nie;
76.2.5
dat die tersaaklike onroerende eiendom benede markwaarde aan die
derde verweerder
verhuur was;
76.2.6
dat die 1 000 Dorper ooie benede markwaarde aan die derde
verweerder
verhuur was; en
76.2.7
dat die samestelling van die wild wat tot die gebruik en benutting
van die
derde verweerder beskikbaar gemaak was.
76.3
Die eerste toe vierde verweerders eers gedurende die loop van die
verhoor tersaaklike erkennings ten
opsigte van relevante feite, wat
binne hulle kennis was en wat geblyk het uit die dokumente wat onder
hulle beheer was, gemaak
het welke erkennings ooglopend reeds op die
pleitstukke of in antwoord op die versoek ingevolge Reël 37
gemaak behoort te
gewees het.
76.4
Die eerste tot vierde verweerders op 23 April 2010 deur middel van
die ooreenkoms ter inperking van
geskilpunte erken het dat die plase
sowel as die Dorper ooie teen bedrae wat vêr benede markwaarde
was, aan die derde verweerder
verhuur was.
76.5
Dit geskied het nadat:
76.5.1
die eisers verplig was om die kostes op te loop ten einde in staat te
wees
om deur middel van die deskundige Beukes te bewys dat die plase
nie teen markverwante huurwaardes verhuur was nie;
76.5.2
die eisers verplig was om die landbou ekonome, dr Laubscher, dr
Taljaard
en toe nog mnr Cloete as deskundiges te verkry en koste
daaromtrent op te loop om te bewys dat die Dorper ooie nie teen
markprys
verhuur was nie.
76.6
Die eerste tot vierde verweerders op 23 April 2010 effektiewelik die
uitvoering van die huurkontrakte
beëindig het, alhoewel hulle
steeds ontken het dat sodanige huurkontrakte nietig was, en sodoende
die vordering van toekomstige
verlies uitgeskakel het op ‘n
stadium nadat die eisers weereens verplig was om die deskundige
aktuaris, Van der Linde, as
‘n deskundige getuie te verkry om
die verlies oor die restant van die twintig jaar huurtermyn te bewys.
76.7
Die eerste tot vierde verweerders, totdat die vierde verweerder op
die laaste dag van die verhoor getuig
het, volhard het dat die
huurkontrakte nie nietig en onafdwingbaar was nie.
76.8
Die tweede en vierde verweerders in hulle getuienis baie van die
feite wat ter sake is tot die gronde
waarop die eisers aanvoer die
trustees onredelik opgetree het en onthef behoort te word, toegegee
en erken het, soos wat hulle
reeds op die pleitstukke kon gedoen het.
76.9
Die opponering van die aansoek om ontheffing van die trustees in die
omstandighede onredelik was.

22.1
Dat daar meriete in hierdie argumente is, kan nie betwyfel word nie.
Trouens, ek het elkeen hiervan
deeglik oorweeg en tot die slotsom
gekom dat hierdie een van daardie gevalle is wat die skaal deur ‘n
miggie na die een of
die ander kant geswaai kan word.
22.2
Wat my egter oorreed het dat dit onbillik sal wees om die verweerders
met ‘n bestraffende kostebevel
te belas, is die feit dat die
tersaaklike besluite van die verweerders nie deur hulle alleen geneem
is nie, maar ook deur die oorledene.
Verdermeer het die verweerders
per slot van rekening – weliswaar verkeerdelik so –
gepoog om die wil van die oorledene
te eerbiedig. Daar is tog –
soos hierbo vermeld – ‘n mate van begrip daarvoor dat
veral die eerste en tweede
verweerderesse deur hul eggenoot en vader
voorgeskryf is en hom nie teengegaan het nie.
22.3
In gedagte moet ook gehou word dat hier nie sprake van oneerlike of
mala fide
optrede aan die kant van die trustees is nie.
Daarmee sê ek nie dat oneerlikheid of
mala fide
optrede
‘n voorvereiste vir ‘n bestraffende kostebevel is nie.
Hierdie is bloot ‘n faktor wat ek in ag neem by
die uitoefening
van my diskresie.
22.4
Vir dieselde redes hierbo vermeld in paragraaf 21, is daar geen
regverdiging daarvoor dat die Trust
en nie die eerste vier
verweerders gelas behoort te word om die gedingskoste van die eisers
te betaal nie.
Bygevolg
Word Die Volgende Bevel Hierin Verleen:
1.
DIE EERSTE TOT DERDE VERWEERDERS WORD ONTHEF AS TRUSTEES VAN DIE
ELWIDA TRUST,
T287/92.
2.
DIE EERSTE TOT VIERDE VERWEERDERS WORD GELAS OM, GESAMENTLIK EN
AFSONDERLIK,
DIE EEN BETAAL DIE ANDER VRYGESTEL TE WORD,
SKADEVERGOEDING IN DIE BEDRAG VAN R2,178,448.20 AAN DIE ELWIDA TRUST
TE BETAAL TESAME
MET RENTE DAAROP
A TEMPORE MORAE
BEREKEN
VANAF DIE DATUM VAN LEWERING VAN HIERDIE UITSPRAAK TOT DATUM VAN
BETALING.
3.
DIT WORD VERKLAAR DAT DIE EERSTE TOT VIERDE VERWEERDERS NIE GEREGTIG
DAAROP IS
DAT HUL GEDINGSKOSTE DEUR DIE ELWIDA TRUST BETAAL WORD NIE,
OF OP VRYWARING VAN SODANIGE KOSTE DEUR DIE ELWIDA TRUST NIE.
4.
DIT WORD VERKLAAR DAT DIE EERSTE TOT VIERDE VERWEERDERS AANSPREEKLIK
IS OM ALLE
GEDINGSKOSTE TOT HIERDIE AKSIE DEUR DIE ELWIDA TRUST TEN
BEHOEWE VAN DIE VERWEERDERS BETAAL, AAN DIE GEMELDE TRUST TERUG TE
BETAAL.
5.
DIE EERSTE TOT VIERDE VERWEERDERS WORD GELAS OM BINNE 21 (EEN EN
TWINTIG) DAE
VANAF DIE DATUM VAN LEWERING VAN HIERDIE UITSPRAAK ‘N
VOLLEDIGE REKENING, GERUGSTEUN MET STAWENDE DOKUMENTASIE WAAR
TOEPASLIK,
AAN DIE PROKUREURS VAN DIE ELWIDA TRUST TE LEWER TEN
AANSIEN VAN ALLE GELDE WAT DEUR DIE GEMELDE TRUST VIR REGSKOSTES
EN/OF UITGAWES
VAN HIERDIE GEDING TEN BEHOEWE VAN DIE VERWEERDERS
BETAAL IS, MET VERMELDING VAN DIE DATUM EN DIE BEDRAG VAN ELKE
SODANIGE BETALING.
6.
DIE EERSTE TOT VIERDE VERWEERDERS WORD GELAS OM DIE REKENING VERMELD
IN PARAGRAAF
5 VAN HIERDIE BEVEL MET DIE EISERS EN DIE AGSTE
VERWEERDER TE DEBATTEER BINNE 21 (EEN EN TWINTIG) DAE NA LEWERING
DAARVAN OP ‘N
PLEK EN DATUM SOOS BEPAAL DEUR DIE AGSTE
VERWEERDER.
7.
DIE EERSTE TOT VIERDE VERWEERDERS WORD GELAS OM, GESAMENTLIK EN
AFSONDERLIK,
DIE EEN BETAAL DIE ANDER VRYGESTEL TE WORD, NÁ
DEBATTERING OF AANVAARDING VAN DIE REKENING VERMELD IN PARAGRAAF 5
VAN HIERDIE
BEVEL DEUR DIE EISERS EN DIE AGSTE VERWEERDER, SODANIGE
BEDRAG AAN REGSKOSTES ALDUS DEUR DIE ELWIDA TRUST TEN BEHOEWE VAN DIE
VERWEERDERS
BETAAL, AAN DIE GEMELDE TRUST TERUG TE BETAAL TESAME MET
RENTE DAAROP
A TEMPORE MORAE
BEREKEN VANAF DIE DATUM WAAROP
DIE REKENING AANVAAR IS TOT DATUM VAN BETALING.
8.
VERLOF WORD AAN DIE EISERS VERLEEN OM, INDIEN DIE PARTYE TOT DIE
DEBATTERING
VAN DIE REKENING VERMELD IN PARAGRAAF 5 VAN HIERDIE BEVEL
NIE DAARIN SLAAG OM KONSENSUS TE BEREIK OP DIE BEDRAG ALDUS BETAAL
NIE,
HIERDIE HOF TE NADER VIR DIE NODIGE REGSHULP TER FINALISERING
DAARVAN.
9.
DIE EERSTE TOT VIERDE VERWEERDERS WORD GELAS OM, GESAMENTLIK EN
AFSONDERLIK,
DIE EEN BETAAL DIE ANDER VRYGESTEL TE WORD, DIE KOSTE
VAN DIE EISERS TE BETAAL; SODANIGE KOSTE DIE KWALIFISERENDE KOSTES
VAN DIE
VOLGENDE DESKUNDIGE GETUIES IN TE SLUIT: VAN DER LINDE,
BEUKES, TALJAARD, CLOETE EN LAUBSCHER.
INDIEN
DIE KOSTES NIE VAN DIE GEMELDE VERWEERDERS VERHAAL KAN WORD NIE, SAL
DIE EISERS GEREGTIG WEES OM HUL KOSTES VAN DIE ELWIDA
TRUST TE
VERHAAL.
HJ
LACOCK
REGTER
NOORD-KAAPSE
AFDELING
Nms
Eisers:

Adv. D.J. van der walt (i.o.v Duncan & Rothman)
Nms
Verweerders:
Adv. W.J. Coetzee (i.o.v De Jager Prokureurs)