About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2012
>>
[2012] ZAFSHC 225
|
|
Sutil NO v Matsepe NO and Ander (3480/2012) [2012] ZAFSHC 225 (6 December 2012)
VRYSTAATSE HOË HOF, BLOEMFONTEIN
REPUBLIEK VAN SUID-AFRIKA
Saaknr. : 3480/2012
In
die aansoek van:-
GORETE TEIXEIRA SUTIL N.O.
.
.............................................
Applikant
en
TSUI VINCENT MATSEPE N.O.
...............................
Eerste
Respondent
A.P. BECKLEY N.O.
................................................
Tweede
respondent
_____________________________________________________
AANGEHOOR OP:
29 NOVEMBER 2012
_____________________________________________________
UITSPRAAK DEUR:
VAN DER MERWE, R
_____________________________________________________
GELEWER OP:
6 DESEMBER 2012
_____________________________________________________
[1] Hierdie is ‘n aansoek ingevolge artikel
13(2)(a) van die Wet op Arbitrasie 42 van 1965 vir die
tersydestelling van die
aanstelling van ‘n arbiter.
[2] Die applikant vra hierdie regshulp aan in die
hoedanigheid van die enigste trustee van JLM Distributors Trust, IT
288/03 (JLM
Trust). Die eerste respondent is die enigste kurator in
die insolvente boedel van Rooikraal Game Ranch Trust, IT1672/1996
(Rooikraal
Trust), in daardie hoedanigheid. Die tweede respondent is
die arbiter oor wie se aanstelling dit hier gaan. Hy is ‘n
afgetrede
regter wat in hierdie hof gedien het. Die arbiter berus by
die beslissing van die hof.
[3] Die eerste respondent het op 14 en 15 Februarie 2011
‘n ondervraging laat hou ingevolge die bepalings van artikel 65
in
die Insolvensiewet 24 van 1936. Die applikant het nie by die
ondervraging getuig nie en JLM Trust was ook nie daar verteenwoordig
nie. Na die ondervraging het die eerste respondent aksie in hierdie
hof teen JLM Trust ingestel. In hierdie aksie het die eerste
respondent die bedrag van R2 452 576,00 van JLM Trust gevorder op
grond daarvan dat die bedrag op leningsrekening deur JLM Trust
aan
Rooikraal Trust verskuldig en betaalbaar is, asook die bedrag van R3
250 000,00 op grond daarvan dat die bedrag onverskuldig
deur
Rooikraal Trust aan JLM Trust betaal is. Hierna, voor indiening van
die verweerskrif, het die applikant en die eerste respondent
skriftelik ooreengekom om die geskilpunte in die aksie vir arbitrasie
deur die arbiter te verwys.
[4] Die wesenlike feite wat gelei het tot die huidige
aansoek is gemeensaak of onbetwis. Met die bedoeling om die arbiter
in staat
te stel om vir die arbitrasie voor te berei, het die eerste
respondent se prokureur die pleitstukke, die arbitrasie-ooreenkoms en
al die dokumente wat tot op daardie stadium deur die applikant en die
eerste respondent blootgelê is, aan die arbiter laat
toekom.
Die blootgelegde stukke het ingesluit die notule van die voormelde
ondervraging (die notule). Die notule is deur elk van
die partye
blootgelê. Die oorhandiging van die blootgelegde stukke aan die
arbiter het plaasgevind sonder die toestemming
van die applikant se
prokureur en was dus onreëlmatig. Dit word aanvaar dat die
eerste respondent se prokureur nie met enige
bymotiewe opgetree het
nie.
[5] Die applikant se regsverteenwoordigers het beswaar
aangeteken teen die oorhandiging van die blootgelegde stukke aan die
arbiter.
Tydens ‘n vergadering tussen die arbiter en die
regsverteenwoordigers van die partye het die applikant se
regsverteenwoordigers
daarop gewys dat na hul mening die notule nie
as getuienis in die arbitrasie toelaatbaar is nie. Die arbiter het
uit eie beweging
te kenne gegee dat hy slegs die pleitstukke en die
notule gelees het, dat die notule beide Rooikraal Trust en JLM Trust
inkrimineer
en dat JLM Trust benadeling sal moet bewys. Hy het
bygevoeg dat uit hoofde van sy ondervinding hy in staat is om
ontoelaatbare
materiaal of getuienis buite rekening te laat en nie
daardeur beïnvloed sal word nie. Daar is egter ooreengekom dat
die arbitrasie
nie ‘n aanvang sal neem op die beoogde datum
nie, ten einde die applikant in staat te stel om die huidige aansoek
te bring.
[6] Dit is gemeensaak dat indien die notule as getuienis
of bewysmateriaal by die arbitrasie toegelaat sou word, dit
benadelend
vir die saak van die applikant kan wees. Die applikant
voer aan dat uit hoofde van die bepalings van artikel 65(5) van die
Insolvensiewet,
die notule nie toelaatbaar is in ‘n geding teen
JLM Trust ingestel nie. Ek stem saam met die applikant se advokaat
dat artikel
68 van die Insolvensiewet nie vir die eerste respondent
van hulp is in hierdie verband nie. Artikel 68 bepaal die prosedure
waarkragtens
‘n notule van ‘n ondervraging bewys kan word
indien dit toelaatbaar is. Hoe dit ook al sy, dit is nie vir my om ‘n
beslissing oor die toelaatbaarheid al dan nie van die notule te maak
nie, dit sal by die arbitrasie moet geskied. Die korrekte
standpunt
tans is myns insiens om te aanvaar dat dit mag bevind word dat die
notule ontoelaatbaar is teen JLM Trust. Die hart van
die applikant se
saak op die feite is dus dat die arbiter die notule gelees het,
terwyl dit bevind mag word dat dit ontoelaatbare
getuienis daarstel.
[7] Artikel 13(2) van die Wet op Arbitrasie lees soos
volg:
“
(2) (
a
) Die
hof kan te eniger tyd, op aansoek van ’n party by die
verwysing, om ’n gegronde rede aangevoer, die
aanstelling van
’n arbiter of skeidsregter tersyde stel of hom van sy amp
onthef.
(
b
) By
die toepassing van hierdie subartikel, beteken die uitdrukking
‘gegronde rede’ ook versuim aan die kant
van die arbiter
of skeidsregter om met alle redelike spoed op die verwysing in te
gaan en dit voort te sit en ’n toekenning
te maak of, in die
geval van twee arbiters wat nie kan saamstem nie, om kennis van
daardie feit aan die partye of aan die skeidsregter
te gee.”
[8] Op bogemelde
feitegrondslag is die applikant se saak dat gegronde rede vir die
tersydestelling van die aanstelling van die arbiter
daargestel word
deur die applikant se reg op daadwerklike vervulling van die
arbitrasie-ooreenkoms, alternatiewelik deur haar vrees
dat die
arbiter nie ‘n onpartydige en onbevooroordeelde oordeel sal vel
nie.
[9] Daar is geen beletsel
daarteen om daadwerklike vervulling van ‘n
arbitrasie-ooreenkoms te beveel nie. Daar is ook in beginsel
geen
rede waarom ‘n reg op daadwerklike vervulling nie ‘n
gegronde rede soos bedoel in artikel 13(2)(a) kan daarstel
nie. Die
vraag is wat presies die inhoud is van die term waarvan spesifieke
nakoming geverg word. In hierdie verband het die applikant
se
advokaat gesteun op ‘n uitdruklike term van die
arbitrasie-ooreenkoms, te wete klousule 5.1 daarvan, wat bepaal dat
die
arbiter sal
“
...
die algemene regsbeginsels ten aansien van die proses en bewysreg
volg.”
[10] Ingevolge die
arbitrasie-ooreenkoms is die dispute tussen die partye na arbitrasie
verwys en sal die arbitrasie plaasvind te
Bloemfontein op datums en
tye op ooreengekom. Klousule 3 daarvan bepaal soos volg:
“
Die
arbitrasie is formeel en geskied aan die hand van die terme hiervan
en, waar hierdie ooreenkoms nie spesifiek daarvoor voorsiening
maak
nie, sal die reëls van die Hooggeregshof geld.”
Klousule 4 sit ‘n
prosedure uiteen wat die arbitrasie sal volg, onderworpe aan enige
aanwysing van die arbiter. Hierdie prosedure
is wesenlik dieselfde as
dié van ‘n siviele verhoor. Klousule 5.2 bepaal dat die
arbiter die saak volgens toepaslike
regsbeginsels sal beslis.
[11]
In samehang beteken klousule 5.1 myns insiens dat die arbiter tydens
die arbitrasie die algemene beginsels van die siviele
prosesreg en
die bewysreg sal toepas. Dit het na my oordeel nie te doen daarmee of
die arbiter weens vooroordeel of redelike vrees
daarvan hoegenaamd by
die arbitrasie betrokke behoort te wees nie. Daar is geen rede om te
glo dat klousule 5.1 nie nagekom sal
word nie, anders gestel,
daadwerklike vervulling van klousule 5.1 is nie ‘n rede vir die
tersydestelling van die aanstelling
van die arbiter nie. Ek aanvaar
dat dit ‘n stilswyende of regtens inbegrepe term van die
arbitrasie-ooreenkoms is dat die
arbitrasie-verrigtinge op billike en
onbevooroordeelde wyse sal plaasvind. Sien
LUFUNO
MPHAPHULI & ASSOCIATES (PTY) LTD v ANDREWS AND ANOTHER
2009 (4) SA 529
(KH) op 593 – 594 para [221].
Of
daadwerklike vervulling van hierdie term verg dat die aanstelling van
die arbiter tersyde gestel moet word, hang daarvan af of
daar ‘n
redelike persepsie van vooroordeel aan die kant van die arbiter is,
waarmee ek hierna handel.
[12]
Van arbiters word dieselfde onpartydigheid verwag as van ‘n
persoon wat regterlike funksies vervul. Vergelyk
ORANGE
FREE STATE PROVINCIAL ADMINISTRATION v AHIER AND ANOTHER; PARYS
MUNICIPALITY v AHIER AND
ANOTHER
1991 (2) SA 608
(W) op 618 I – J. Die toets
wat toegepas moet word by die vraag of ‘n regterlike amptenaar
hom- of haarself weens persepsie
van vooroordeel behoort te onttrek
van die verrigtinge, is duidelik uiteengesit in
PRESIDENT
OF THE REPUBLIC OF SOUTH AFRICA AND OTHERS v SOUTH AFRICAN RUGBY
FOOTBALL UNION AND OTHERS
[1999] ZACC 9
;
1999 (4) SA 147
(KH)
op
172 – 177 paras [40] – [48]. Sien ook
SOUTH
AFRICAN COMMERCIAL CATERING AND ALLIED WORKERS UNION AND OTHERS v
IRVIN & JOHNSON LTD (SEAFOODS DIVISION FISH PROCESSING)
[2000] ZACC 10
;
2000 (3) SA 705
(KH) op 713 – 715 paras [11] – [17].
Die
bewyslas rus op die applikant en die toets is objektief. In hierdie
saak is dit voldoende om te vra of ‘n redelike persoon
in die
posisie van die applikant sal glo dat die arbiter bevooroordeeld mag
wees omdat hy die notule gelees het voordat hy dit
as ontoelaatbaar
teen JLM Trust bevind het.
[13]
Die applikant is nie ‘n regsgeleerde nie. Sy is egter ook nie
ongeletterdheid of ongesofistikeerd nie. Sy is die enigste
trustee
van ‘n trust wat transaksies van miljoene rande gedoen het. Die
applikant weet dat die arbiter ‘n regter is
wat na jarelange
diens afgetree het. Sy aanvaar uitdruklik dat die arbiter te alle
tersaaklike tye
bona fide
opgetree het. Sy weet dat die arbiter gesê
het dat hy weens sy opleiding en ervaring die vermoë het om
ontoelaatbare
materiaal wat tot sy kennis gekom het, by beoordeling
van die aangeleentheid buite rekening te laat en dat hy nie daardeur
beïnvloed
sal word nie. Uiteindelik is die vraag of ‘n
redelike persoon in die omstandighede hierdie mededeling van ‘n
regter
sal betwyfel. Ek is oortuig daarvan dat dit nie die geval is
nie. Die applikant het haar dus nie van haar bewyslas gekwyt nie.
[14] Gevolglik word die
aansoek afgewys met koste.
________________________
C.H.G. VAN DER MERWE, R
Namens
die applikant: Adv. D.J. van der Walt SC
In
opdrag van:
Symington
& De Kok BLOEMFONTEIN
Namens
eerste respondent: Adv. P. Zietsman SC
In
opdrag van:
Matsepes
Ing
BLOEMFONTEIN
/spieterse