About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2012
>>
[2012] ZAFSHC 222
|
|
S v Nyalambisa (136/2012) [2012] ZAFSHC 222 (29 November 2012)
VRYSTAATSE HOË HOF, BLOEMFONTEIN
REPUBLIEK VAN SUID-AFRIKA
Hersiening Nr: 136/2012
In
die hersiening tussen:-
DIE
STAAT
en
TANDASO
NYALAMBISA
_____________________________________________________
CORAM:
KRUGER
et
DAFFUE, RR
_____________________________________________________
UITSPRAAK
DEUR:
DAFFUE, R
_____________________________________________________
GELEWER
OP:
29 NOVEMBER 2012
_____________________________________________________
[1] In hierdie saak het beskuldigde in die Marquard
Landdroshof tereggestaan op ‘n hoofaanklag van handel in dagga
ter oortreding
van artikel 5(b) van die Wet op Dwelmmiddels en
Dwelmsmokkelary 140 van 1992 (“die Wet”) en ‘n
alternatiewe aanklag
van besit van dagga ter oortreding van artikel
4(b) van die Wet. Die beskuldigde wat onverteenwoordig was tydens sy
verhoor het
op 16 Maart 2012 skuldig gepleit op die hoofaanklag
deurdat hy op of omtrent 27 Februarie 2012 en te na of naby die R708
in die
distrik van Marquard wederregtelik in ‘n ongewenste
afhanklikheidsvormende stof, te wete 127,5 kg dagga, handel gedryf
het,
sowel as die alternatiewe klagte van besit. Na ondervraging
ooreenkomstig artikel 112(1)(b) van die Strafproseswet 51 van 1977
is
hy skuldig bevind op die hoofaanklag en gevonnis tot 4 (vier) jaar
gevangenisstraf waarvan 2 (twee) jaar opgeskort is vir 5
(vyf) jaar
op voorwaarde dat hy nie weer skuldig bevind word aan oortreding van
artikel 5(b) of artikel 4(b) van die Wet gepleeg
gedurende die
tydperk van opskorting nie. Ingevolge artikel 25 van die Wet is die
dagga sowel as ‘n GWM voertuig met registrasienommer
WVK132GP
aan die Staat verbeurd verklaar.
[2] Die saak is na hierdie hof verwys as ‘n
outomatiese hersiening en het ek as die hersieningsregter die
aangeleentheid na
die voorsittende landdros terugverwys met die
volgende opmerkings:
“1) Die beskuldigde het bloot op ‘n leidende vraag
bevestigend geantwoord dat hy in besit van 127,5 kg dagga was.
Geen
objektiewe feite is op rekord geplaas ter bevestiging van hierdie
erkenning, soos byvoorbeeld dat die beskuldigde teenwoordig
was toe
die dagga geweeg is nie.
2) Dit is geensins duidelik of die beskuldigde eie kennis omtrent die
massa gehad het of ‘n idee kon gehad het daarvan nie
en is dit
byvoorbeeld nie op rekord geplaas hoeveel sakke (en welke tipe sakke)
dagga gevind is nie.
3) Op welke wyse kon die verhoorlanddros tevrede gewees het dat
beskuldigde werklik bedoel het om ‘n erkenning te maak met
betrekking tot die massa.
4) Daar is geen getuienis op rekord geplaas of ‘n erkenning
gemaak dat die dagga vervoer is en indien wel, waarmee nie.
5) Daar is niks op rekord om aan te dui dat ‘n GWM bakkie met
registrasie WVK 132 GP gebruik is deur beskuldigde om die dagga
te
vervoer nie.
6) Daar is geen getuienis dat die betrokke voertuig deur die SAP in
beslag geneem is in terme van artikel 11(1)(g) van Wet 140
van 1992
nie.
7) Daar is geen getuienis dat die voertuig onder die beheer van
beskuldigde of in sy besit was nie.
8) In die lig van S v Cetwayo
1996 (2) SACR 628
(E) word die
verhoorlanddros versoek om te bevestig dat hy steeds van mening is
dat die voertuig verbeurd verklaar kon word.”
[3] Die landdros het my navraag beantwoord waarvoor hy
bedank word. Sy antwoord word
verbatim
weergegee:
“Betreffende die eerste drie opmerkings. Met betrekking tot
Handel in Dagga word hierdie manier van ondervraging deur my
gebruik
vir die afgelope 18 jaar. Geen skuldigbevinding op ‘n pleit
van Handel in Dagga is gedurende bovermelde tydperk
ter syde gestel
op hersiening nie. Dit is een rede waarom ek van mening was dat
hierdie manier van ondervraging in orde was.
Ook wanneer beskuldigdes regsverteenwoordig is, word bloot die gewig
van die dagga erken in artikel 112(2) Wet 51/77 verrigtinge
en nie
ook dat die dagga in teenwoordigheid van die beskuldigde geweeg is
nie. Ek is van mening wat wanneer die beskuldigde onskuldig
pleit,
die vraag of die dagga in die teenwoordigheid van die beskuldigde
geweeg is en hoeveel sake (sic) dagga betrokke was, en
die grote
(sic) daarvan, dan relevant word.
Ek was werklik oortuig dat die beskuldigde bewus was van die gewig
van die dagga en daarom nie ontken het dat die gewig van die
dagga
127,5 kg was nie. Sy optrede in die hof het dit gestaaf.
Wat betref opmerkings vier tot agt. Die aanhangsel tot die klagstaat
maak ongelukkig nie voorsiening vir die omstandighede wanneer
‘n
voertuig gebruik word met betrekking tot die pleeg van die misdryf
nie. Dit is algemene praktyk in die distrik dat beslag
gelê
word op voertuie wat gebruik word om dagga te vervoer.
Op die oorkonde self word slegs aangedui dat die aanklaer die hof
toegespreek het voor vonnis. Om een of ander onverklaarbare
rede is
die betoog nie getranskribeer nie. Tydens die betoog van die staat
is inligting aan die hof oorgedra met betrekking tot
die voertuig wat
betrokke was by die pleeg van die misdryf deur die beskuldigde.
Hoewel die oorkonde dit nie reflekteer nie, kan
ek bevestig dat die
staatsaanklaer nie pertinent die hof ingelig het dat op die voertuig
beslag gelê is in terme van artikel
11(1)(g) van Wet 140/1992,
of dat dit onder die beheer of in besit van die beskuldigde was nie.
Met verwysing na S v Cetwayo 1996 (2) SASV 628 (E) is ek van mening
dat die voertuig nie verbeurd verklaar kon word in terme van
artikel
25 Wet 140/1992 nie. Die oorsig word betreur en sorg sal gedra word
dat in die toekoms die nodige getuienis voor die hof
geplaas moet
word alvorens so ‘n bevel gemaak sal word.”
[4] Dit is duidelik uit die ondervraging van die
landdros dat die beskuldigde bedoel het om skuldig te pleit op die
aanklag van
handel in dagga. Soos gebruiklik bevat die klagstaat ‘n
bewering met betrekking tot die massa dagga betrokke, te wete 127,5
kg in hierdie geval. Die bedoeling met die navrae wat aan die
landdros gerig was, was nie om uiteindelik tot ‘n bevinding
te
kom dat die beskuldigde foutiewelik skuldig bevind is aan handel in
dagga nie. Tewens artikel 5 van die Wet en 5(b) in besonder
bepaal
nie dat ‘n beskuldigde slegs skuldig bevind kan word aan handel
in dagga indien ‘n sekere hoeveelheid dagga
verhandel is nie.
‘n Beskuldigde kan skuldig bevind word aan handel in dagga
indien hy slegs 1 daggasigaret met ‘n
massa van 10 gram
verkoop. Die hoeveelheid dagga ter sprake by ‘n oortreding van
artikel 5(b) van die Wet hou egter direk
verband met die aard en
omvang van die vonnis wat ‘n beskuldigde opgelê kan of
behoort te word. Ek keer later hierna
terug.
[5] Ek neem kennis van die landdros se houding dat hy
tevrede was met die positiewe antwoord wat hy op sy leidende vraag
ontvang
het dat die beskuldigde in besit was van 127,5 kg dagga. Uit
ervaring van hersieningsake ten opsigte van byvoorbeeld die
Ficksburg,
Ladybrand, Dewetsdorp en Bloemfontein landdroshowe is ek
bewus daarvan dat voorsittende beamptes ‘n punt daarvan maak om
by onverteenwoordigde beskuldigdes vas te stel op grond waarvan die
erkenning gemaak word dat ‘n bepaalde massa van ‘n
ongewenste afhanklikheidsvormende stof in hul besit gevind is.
Telkens word die vraag gevra of die beskuldigde teenwoordig was
toe
die betrokke stof – gewoonlik dagga – geweeg is en
waargeneem het wat die massa daarvan is. Ek is van mening dat
alhoewel die hoeveelheid dagga ontersaaklik is by die beoordeling van
die getuienis om te bevind of ‘n beskuldigde hom skuldig
gemaak
het aan oortreding van artikel 5(b) van die Wet, dit aan te bevole is
dat ‘n onverteenwoordigde beskuldigde se blote
erkennings van
die bewerings soos vervat in die klagstaat nie bloot net aanvaar
behoort te word nie, veral wanneer die erkennings
gebaseer is op
feite wat buite sy persoonlike kennis val. Dit geld veral vir
ongeletterde en ongesofistikeerde beskuldigdes wat
meestal nie veel
kennis dra van mates en gewigte nie. ‘n Versigtige benadering
behoort gevolg te word.
[6] Met inagneming van die feit dat
daar ‘n wesenlike onderskeid is tussen die elemente van die
misdaad
in casu
en
misdrywe ter oortreding van artikel 65(2) van die Nasionale
Padverkeerswet 93 van 1996, synde ‘n oormatige hoeveelheid
bloed in die beskuldigde se bloedmonster, is dit myns insiens gepas
om kortliks na gesag in daardie verband en soortgelyke sake
te
verwys. Vergelyk Kruger,
Hiemstra’s
Criminal Procedure
te
17-7 en veral te 17-9 vir ‘n volledige bespreking en die
volgende gevolgtrekking: “
Despite
differences of opinion it is submitted that in all the decisions the
following common thread can be seen: the court must
ask itself and
determine by its own investigation whether it is convinced that the
admissions were correctly made. There is no
fixed rule. Every case
has its own circumstances. Where, for instance, the accused was
hastily and without legal advice dragged
before the court because of
his illegal taxi operations and pleaded guilty without knowing that
his vehicle would be confiscated,
the conviction was set aside
(Sigodolo v Attorney-General
1985 (20 SA 172
(EC).”
Du Toit
et al
Commentary on the Criminal Procedure Act
,
te p 17-10 lewer die volgende kommentaar:
“The weight of authority favours the view that an admission
that does not have its factual foundation in the personal knowledge
of the accused can be accepted if the court is satisfied that the
admission is a reliable one.”
In
S v ADAMS EN TIEN ANDER SOORTGELYKE SAKE
1986 (3) SA 733
(K) te 740 G - H het die volbank die volgende
kommentaar gelewer:
“Die geval van ‘n verteenwoordigde beskuldigde, wat
skuldig pleit en tydens ondervraging bewerings in die aanklag erken,
ook met betrekking tot feite waarvan hy nie persoonlik kennis dra
nie, behoort dus nie gewoonweg probleme op te lewer nie.
Dit is wanneer die hof te doen het met ‘n oningeligte
beskuldigde wat nie verteenwoordig word nie, dat daar ‘n gevaar
bestaan dat hy verkeerdelik skuldig bevind kan word, of dit nou is
weens ‘n formele erkenning wat hy maak kragtens artikel
220, of
weens feite wat hy erken tydens ondervraging deur die landdros
ingevolge artikel 112(1)(b) na ‘n pleit van skuldig.
Dit is so
‘n beskuldigde wat beskerming nodig het en ten aansien van wie
die hof op sy hoede moet wees dat hy nie uit onkunde
skuld erken of
formele erkennings maak sonder om te besef wat hy besig om te erken
en wat die gevolge daarvan kan wees nie.”
Sien ook die
dicta
te 742 B – E en 744 I
– J van die uitspraak.
Vergelyk ook die uitspraak van
hierdie hof in
S v NONGABE
1990 (2) SASV 522 (O)
en die volgende
dictum
te 527 G – H:
“Wanneer die beskuldigde dan skuldig pleit, is dit na my mening
verkieslik dat die Staatsaanklaer die verslag inhandig en
terselfdertyd die landdros meedeel dat die beskuldigde insae daarin
gehad het. Die landdros behoort dan hierdie feit gedurende
sy
ondervraging van die beskuldigde op rekord te plaas om sodoende die
bron van beskuldigde se kennis en die oortuigingskrag van
sy
erkennings duidelik te maak. So 'n werkswyse behoort beide die
Staatsaanklaer en die landdros meer tevrede te stel met 'n
skuldigbevinding
wat volg op 'n pleit van skuldig as wanneer die
blote erkenning deur die beskuldigde gemaak word. In 'n gepaste geval
kan die beskuldigde
natuurlik self die betrokke sertifikaat of
verslag inhandig soos gebeur het in die
Naidoo
-saak
supra
.
Om op te som wat die sertifikaat betref: Dit is wenslik dat die
sertifikaat in alle gevalle van 'n pleit van skuldig aan oortreding
van art 140(2)
(a)
van Ord 21 van 1966 of sy opvolger, aan
beide die beskuldigde en die hof beskikbaar gemaak word.”
[7]
In
casu
is dit nie op rekord geplaas in
hoeveel sakke die dagga geberg is en wat die grootte van die sakke
was nie. Indien die massa van
die dagga slegs 12,75 kg beloop het,
maar die klagstaat as gevolg van ‘n skryf- of tikfout 127,5 kg
aandui, is dit baie moontlik
dat ‘n onverteenwoordigde,
ongeletterde en ongesofistikeerde beskuldigde, wat maar net die saak
afgehandel wil kry in sy
onkunde skuldig pleit, sonder die bewustheid
van die gevolge van sy erkennings, aan handel in ‘n
hoeveelheid dagga wat baie
meer is as wat werklik die geval is. Dit
is gebruiklik om, afgesien van verpligte gevangenisstraf wat
gewoonlik opgeskort word,
gevangenisstraf met die keuse van ‘n
boete op te lê in die geval van handel in dagga selfs wanneer
hoeveelhede dagga
van soveel as 10 en 20 kg ter sprake is. Sien
S
v THORISO
2011 JDR 0924 (FB)
en
LWANA v S
(A240/09)
[2012] ZAFSHC 41
(15 Maart 2012).
[8] Ek is tevrede dat die
beskuldigde, wat wel net standerd 3 op skool geslaag het, in ‘n
groot dorp soos Rustenburg woonagtig
en ‘n motorwerktuigkundige
van beroep is en waarskynlik gesofistikeerd en geletterd is. Hy is
reeds 44 jaar oud met ‘n
groot gesin wat hy onderhou. Sy
situasie is anders as di
ė
van daardie ongesofistikeerde en ongeletterde beskuldigdes afkomstig
vanuit die plattelandse en onherbergsame dele van Lesotho
en elders
wie se hersieningsake male sonder tal voor hierdie hof dien.
[9] Handel in dagga ter waarde van
meer as R50 000,00 is onderhewig aan die Strafregwysigingswet 105 van
1997. Ingevolge artikel
51(2) daarvan saamgelees met Deel 2 van
Skedule 2 is die voorgeskrewe minimum vonnis 15 jaar. Die Wetgewer
is dus van mening dat
‘n oortreding van artikel 5(b) van die
Wet in ‘n ernstige lig gesien moet word, veral in soverre in
grootmaat handel
gedryf word. Die bepalings van die minimum vonnis
wetgewing is nie
in casu
van toepassing nie
.
Die
opgelegde vonnis van 4 (vier) jaar gevangenisstraf waarvan 2 (twee)
jaar opgeskort is onderworpe aan sekere voorwaardes, is
op
aanvaarding dat die massa van 127,5 kg korrek erken is, heeltemal in
orde en selfs te lig. Vergelyk
S v
KHANJWAYO; S v MIHLALI
1999 (2)
SASV 651 (O) in welke geval die vonnisse deur die Hooggeregshof
gewysig is na 6 (ses) jaar gevangenisstraf waar handel
gedryf is in
76,4 kg en 69 kg dagga onderskeidelik. Vergelyk ook
S
v XABA AND ANOTHER
2005 (1) SASV
435 (HHA) waar die vonnisse van appellante gewysig is na 14 en 12
jaar gevangenisstraf onderskeidelik deur die Hoogste
Hof van Appèl.
Die massa van die dagga was in beide gevalle heelwat meer was as
in
casu
. Vergelyk ook
S
v SITHOLE
2005 (2) SASV 504 HHA in
welke geval die massa van die dagga 160 kg was en welke vonnis
verminder is na 4 (vier) jaar gevangenisstraf.
Daar is nie enige
rede om met die skuldigbevinding en vonnis in te meng nie en word dit
bekragtig.
[10] Wat die ander navrae betref, het die landdros
toegegee dat die oorkonde geensins aandui dat die betrokke voertuig
wat verbeurd
verklaar is, gebruik is deur die beskuldigde om die
dagga te vervoer of dat die SAP daarop beslag gelê het
ingevolge artikel
11(1)(g) van die Wet nie. Daar is ook geen
getuienis dat die voertuig onder die beheer of in besit van die
beskuldigde was nie.
Die landdros stem dan ook saam dat
CETWAYO
loc cit
, van toepassing is en dat die voertuig nie verbeurd
verklaar kon word in terme van artikel 25 van die Wet nie. Die
landdros wys
daarop dat die staatsaanklaer in sy betoog die hof
ingelig het dat op die voertuig beslag gelê is ingevolge die
betrokke
artikel, maar dat die betoog vir een of ander onverklaarbare
rede nie getranskribeer is nie. Dit is eenvoudig nie genoeg nie.
Daar is in elk geval geen bewys dat die hoorsê getuienis wat
die aanklaer op hierdie wyse voor die hof geplaas het, deur
die
beskuldigde erken is en is daar ook geen bewys dat die landdros die
beskuldigde van sy regte met betrekking tot verbeurdverklaring
van
die voertuig verduidelik het nie.
[11] Artikel 25 wat met verbeurdverklarings handel,
bepaal dat wanneer iemand aan ‘n misdryf ingevolge die Wet
skuldig bevind
word, die hof wat hom skuldig bevind, benewens enige
ander straf en verbeurdverklaring van die gelyste stof, dwelmmiddel
of eiendom,
ook enige voertuig wat vir die vervoer daarvan gebruik is
en wat kragtens artikel 11(1)(g) van die Wet in beslag geneem is of
in
die besit of bewaring of onder beheer van die beskuldigde is, aan
die Staat verbeurd moet verklaar. Die verbeurdverklaring van
‘n
persoon se eiendom is nie net ‘n drastiese stap nie, maar ook
‘n straf en dit behoort nie ligtelik gedoen
te word en beslis
nie tensy die jursidiksionele feite uiteengesit in artikel 25(1)
aanwesig is nie. Vergelyk
S v MODJELA
, ‘n
ongerapporteerde uitspraak van hierdie hof deur C.J. Musi, R waarmee
Kruger, R saamgestem het, hersiening 704/2006 gedateer
19 Oktober
2006, en die beroep op
S v NTOMBELA
1973 (3) SA 89
(T)
te 91H. Die regte van derdes uiteengesit in artikel 26 en die
verskaffing van ‘n geleentheid vir die aanbied van getuienis
ooreenkomstig artikel 27 alvorens ‘n verbeurdverklaringsbevel
gemaak behoort te word, kan nie genoeg beklemtoon word nie.
[12] Artikel 11 van die Wet bepaal breedvoerig welke
bevoegdhede aan polisiebeamptes verleen is met betrekking tot
ondersoeke en
word daar ook ‘n reg aan ‘n polisiebeampte
verleen om beslag te lê op enigiets wat na sy oordeel betrokke
is
by of tot bewys kan strek van ‘n oortreding van ‘n
bepaling van die Wet. Soos vermeld is daar geen getuienis gelewer
of
‘n erkenning gemaak deur die beskuldigde dat ooreenkomstig
artikel 11(1)(g) opgetree is nie.
[13] Anders as wat verwag kan word, bevat die aanhangsel
tot die klagstaat geen aanduiding dat die dagga geberg of vervoer is
in
die betrokke voertuig en/of dat beskuldigde in beheer of in besit
van die voertuig met die dagga daarop of daarin was op die stadium
toe die polisie die daggavonds ontdek het nie. Indien die aanhangsel
tot die klagstaat hierdie besonderhede bevat het, sou die
landdros
waarskynlik verdere vrae ingevolge artikel 112(1)(b) aan die
beskuldigde gerig het en moontlik inligting bekom het wat
hom in
staat sou stel om die voertuig verbeurd te verklaar. Onder die
omstandighede is die verbeurdverklaringsbevel egter foutiewelik
verleen en behoort dit tersyde gestel te word.
[14] Bygevolg word die volgende bevele gemaak:
14.1 Die skuldigbevinding en vonnis word bekragtig.
14.2 Die verbeurdverklaringsbevel ten gunste van die
Staat ten opsigte van ‘n GWM voertuig met registrasienommer
WVK132GP
word tersyde gestel.
_____________
J.P. DAFFUE, R
Ek stem saam.
____________
A. KRUGER, R
/spieterse