About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2012
>>
[2012] ZAFSHC 202
|
|
S v Petersen (307/2012) [2012] ZAFSHC 202 (1 November 2012)
VRYSTAATSE HOË HOF, BLOEMFONTEIN
REPUBLIEK VAN SUID-AFRIKA
Hersiening Nr: 307/2012
In
die saak tussen:-
DIE STAAT
en
EMMANUEL PETERSEN
_____________________________________________________
CORAM:
KRUGER, R
et
VAN DER MERWE,
R
_____________________________________________________
UITSPRAAK DEUR:
VAN DER MERWE, R
_____________________________________________________
GELEWER OP:
1 NOVEMBER 2012
_____________________________________________________
[1] Die beskuldigde, ‘n 18-jarige man, is in die
Landdroshof skuldig bevind aan huisbraak met die opset om te steel en
diefstal
(aanklag 1), besit van ‘n 9-mm semi-automatiese
pistool sonder ‘n lisensie (aanklag 2) en besit van 3 patrone
vir daardie
pistool (aanklag 3). Hy is op aanklag 1 gevonnis tot 2
jaar gevangenisstraf, op aanklag 2 tot 4 jaar gevangenisstraf en op
aanklag
3 tot 1 jaar gevangenisstraf. Die effektiewe vonnis is dus 7
jaar gevangenisstraf.
[2] Dit blyk dat die beskuldigde by ‘n woning
ingebreek het en klerasie en huishoudelike goedere ter waarde van
ongeveer R25
000,00 gesteel het. Sommige van die items is teruggekry
maar dit is onduidelik welke presies dit is. Een van die goedere wat
tydens
die inbraak gesteel is, is die 9-mm pistool bevattende ‘n
magasyn met drie patrone. Die beskuldigde was vir hoogstens 14 dae
in
besit van die pistool en ammunisie en was tydens sy arrestasie in die
proses om dit te probeer verkoop.
[3] Die beskuldigde was 17 jaar oud ten tye van die
pleging van die misdrywe, het skuldig gepleit en is ‘n eerste
oortreder.
Die beskuldigde is buite die huwelik gebore en sy moeder
het gesterf toe hy maar 11 dae oud was. Hy het nooit enige kontak met
sy biologiese vader gehad nie en het dus by sy materne grootouers
grootgeword.
[4] Die beskuldigde het ongetwyfeld ernstige misdrywe
gepleeg. Die proefbeampte wat sy omstandighede ondersoek het, het in
‘n
voorvonnisverslag aanbeveel dat direkte gevangenisstraf
opgelê word vanweë die beskuldigde se gebrek aan
dissipline.
Hiermee kan nie fout gevind word nie, so ook nie met die
individuele vonnisse wat opgelê is nie. Die kumulatiewe effek
van
die opgelegde vonnisse is egter na my oordeel in al die
omstandighede van hierdie saak buitensporig swaar en moet getemper
word
deur ‘n bevel dat al die vonnisse samelopend uitgedien
word.
[5] Gevolglik word die skuldigbevindings en vonnisse
gekragtig maar word gelas dat al drie vonnisse met effek vanaf 8
Augustus 2012
samelopend uitgedien word.
________________________
C.H.G. VAN DER MERWE, R
Ek stem saam.
_____________
A. KRUGER, R
/EB