About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2012
>>
[2012] ZAFSHC 164
|
|
Monyote v S (A20/09) [2012] ZAFSHC 164 (3 September 2012)
VRYSTAAT
HOË HOF, BLOEMFONTEIN
REPUBLIEK
VAN SUID-AFRIKA
Appélnommer :
A20/09
In
die appél tussen:-
MAKESELA SAM
MONYOTE
..................................................
Appellant
en
DIE STAAT
...........................................................................
Respondent
_____________________________________________________
CORAM:
VAN
ZYL, R et MATHEBULA, WND R
_____________________________________________________
UITSPRAAK DEUR:
VAN ZYL, R
_____________________________________________________
GELEWER OP:
3 SEPTEMBER 2012
_____________________________________________________
[1] Appellant het in die
Streekhof gehou te Zastron tereggestaan op ‘n aanklag van
verkragting. Dit is beweer dat hy op of
omtrent 6 April 2007 en te of
naby Rouxville vir MJ Malefane (hierinlater na verwys as “die
klaagster”), ‘n sestienjarige
meisie, meer as een keer
verkrag het. Appellant het onskuldig gepleit en het sy
regsverteenwoordiger in ‘n pleitverduideliking
aangedui dat
appellant ontken dat hy gemeenskap met die klaagster gehad het en
beweer dat hulle slegs romanties verkeer het. Appellant
is egter
skuldig bevind op die basis dat hy die klaagster twee keer verkrag
het en is hy ooreenkomstig die bepalings van Artikel
51(1) van die
Strafregwysigingswet, Wet 105 van 1997 (hierinlater na verwys as “die
Strafregwysigingswet”), tot lewenslange
gevangenisstraf
gevonnis.
[2] Appellant se appèl
is slegs teen die opgelegde vonnis gerig. Vanweë die redes wat
hieronder sal blyk, is ek egter
van mening dat daar in terme van ons
inherente hersieningsbevoegdheid ooreenkomstig die bepalings van
Artikel 304(4) van die Strafproseswet,
Wet 51 van 1977, ook
gedeeltelik met appellant se skuldigbevinding ingemeng behoort te
word.
[3] Die Staat het die
getuienis van die klaagster, Dr. Coertze, wie haar ondersoek het na
aanleiding van die voorval, en drie ander
staatsgetuies aangebied.
Laasgenoemde getuies was Pule Lindley, wie in die geselskap van
appellant was toe hulle aanvanklik die
klaagster en haar vriendinne
teëgekom het, Elsie Dichaba, wie saam met die klaagster was toe
hulle appellant en sy vriende
teëgekom het en Lena Malefane,
synde ‘n familielid saam met wie die klaagster gewoon het en
aan wie die klaagster haar
eerste rapport ten opsigte van die
verkragting gemaak het. Die appellant het in sy eie verdediging
getuig. Soos reeds hierbo vermeld,
is appellant daaraan skuldig
bevind dat hy die klaagster twee keer verkrag het. Duidelikheidshalwe
moet vermeld word dat ek oortuig
is dat die skuldigbevinding aan die
eerste van hierdie beweerde twee dade van verkragting inderdaad in
orde is en dat daar op geen
basis daarmee ingemeng kan word op appèl
nie. Vanweë hierdie feit en verdermeer vanweë die feit dat
appellant
se appèl nie teen die skuldigbevinding gerig is nie,
ag ek dit gevolglik nie nodig om in detail met die getuienis ten
opsigte
van die eerste voorval van verkragting te handel nie. Ek sal
egter hierinlater wel in meer detail met die getuienis ten opsigte
van die tweede daad van verkragting handel.
[4] Die kronologiese
verloop van die gebeure soos uit die onderskeie staatsgetuies se
getuienis geblyk het en wat deur die Hof as
bewese aanvaar is, is
opsommenderwys die volgende. Die klaagster en drie van haar
vriendinne, waarvan bogemelde getuie, Elsie Dichaba
een was, was die
nag van die voorval te voet oppad na Elsie se huis. Hulle het
appellant en drie van sy vriende teëgekom.
Appellant het die
klaagster gegryp, waarop sy geskree het, losgeruk het en ‘n
entjie weggehardloop het. Appellant het die
klaagster agternagesit en
haar weer gegryp, steeds in die onmiddellike omgewing van die ander
persone. Die getuie, Pule Lindley
het vir appellant gesê om die
klaagster te los, waarop appellant hom stilgemaak het en die
klaagster in ‘n rigting
begin wegsleep het. Pule het daarop aan
appellant gesê dat as enigiets met die klaagster sou gebeur,
Pule aan die Hof sou
vertel dat appellant saam met die klaagster was
en haar daar weggeneem het. Appellant het toe vir Pule gedreig dat hy
hom met ‘n
mes sou steek indien Pule nie sou stilbly nie. Ook
Elsie het appellant aangesê om die klaagster te los, waarop
appellant
vir haar gesê het om stil te bly anders sou hy haar
met ‘n bottel wat hy in sy besit gehad het, steek. Appellant
het
daarop die klaagster na ‘n verlate gebou in die omgewing
gesleep. Sy het probeer skree, maar hy het haar mond toegedruk.
Intussen het appellant se vriende en die klaagster se vriende na die
klaagster se huis gegaan en aan die getuie, Lena gerapporteer
wat
gebeur het en het hulle ook die polisie ontbied. Binne die verlate
gebou het appellant die klaagster beveel om haar klere uit
te trek en
toe sy geweier het om dit te doen, het hy haar broek op ‘n
geweldadige wyse uitgetrek tot die mate dat die broek
geskeur het en
die knoop daarvan afgebreek het. Hierdie geskeurde broek is ook in
die Hof as ‘n bewysstuk ingehandig. Daarop
het appellant ook sy
eie klere uitgetrek, die klaagster laat lê en haar toe verkrag.
Sy het getuig dat ten tyde van die verkragting
haar geslagsdele
seergekry het en het sy om hulp geskree, maar aangesien daar nie
ander huise in die omgewing was nie, het niemand
haar klaarblyklik
gehoor nie. Nadat appellant haar klaar verkrag het, het hy haar regop
getrek en haar beveel om haar klere aan
te trek. Sy het die stukkende
broek weer aangetrek, waarna appellant haar forseer het om saam met
hom na sy sinkhuis te gaan. By
die sinkhuis het hy haar, aldus die
Verhoorlanddros se bevinding, ‘n tweede keer verkrag in sy bed,
waarna hulle aan die
slaap geraak het. Die volgende oggend toe sy
wakker word, het appellant nog geslaap, waarop die klaagster ontvlug
het na haar woonhuis.
Daar het sy vir Lena vertel wat gebeur het,
waarna hulle na die polisiestasie is en die klaagster ook later na
die hospitaal geneem
is vir ‘n mediese ondersoek. Lena het in
haar getuienis bevestig dat die klaagster huilend by die huis
aangehardloop gekom
het en aan haar rapporteer het dat appellant haar
in `n verlate gebou verkrag het.
Dr. Coertze het getuig
dat hy die klaagster op die oggend van 7 April 2007 medies ondersoek
het. Hy het sy bevindinge en gevolgtrekkings
op ‘n J88
aangedui, aan die hand waarvan hy sy getuienis aangebied het en welke
dokument ingehandig is as Bewysstuk “A”.
Dokter Coertze
het sy kliniese bevindings en gevolgtrekkings as volg op Bewysstuk
“A” genotuleer:
“
On the
6/4/2007 at plus minus 23h00 she was grabbed by a man who took her to
an abandoned building. She tried to fight him, but
he was too strong.
She says he hit her in the face with his fists and tried to strangle
her. He then removed her clothes and allegedly
raped her. Small
laceration seen on the inside of her upper lip. Labia minora slight
swelling. Hymen old tears, no fresh tears,
slight swelling. White
discharge.
No trauma noted to vagina, cervix, but
hymen is slightly swollen with white discharge which could be semen.
Possibility of penetration
is there.
... Penetration could have taken
place.”
[5] Appellant se
weergawe, wat deur die Verhoorlanddros verwerp is, was tot dien
effekte dat die klaagster sy vrymeisie was en dat
hulle ‘n
afspraak gehad het om mekaar daardie aand te sien. Toe hy en sy
vriende die klaagster en haar vriendinne dus raakloop,
het hy haar
hand gevat en het hulle gestaan en gesels, terwyl hulle vriende
daarvandaan weggegaan het. Vanweë die feit dat
dit begin reën
het, het hulle in die verlate gebou gaan skuiling soek. Daarvandaan
is hulle na appellant se huis waar hulle
onmiddellik in die bed
geklim en geslaap het. Volgens appellant het hulle nie gemeenskap
gehad daardie aand nie. Hulle het wel
by vorige geleenthede
gemeenskap gehad, aangesien hulle, volgens hom, in ‘n tipe van
verhouding was. Hy het die bewerings
dat hy die klaagster die aand
teen haar sin weggesleep het, dreigemente jeens sommige van die
staatsgetuies geuiter het en later
die klaagster twee maal verkrag
het, ontken.
[6] Soos reeds vermeld,
meen ek dat daar geen basis is waarop ingemeng kan word met die
Verhoorlanddros se bevinding dat die klaagster
in die verlate gebou
verkrag is nie. Wat die beweerde verkragting in die bed van appellant
betref, is daar na my mening egter wel
aspekte van die Staat se saak
wat nadere oorweging verg. Wat die klaagster se eie getuienis betref,
ag ek dit doelmatig om die
volgende gedeelte van haar getuienis in
hoof daaromtrent aan te haal soos dit voorkom in die oorkonde, p. 17,
reël 3 tot p.
18, reël 9:
“
So what
happened when you arrived at that shack? …When I arrived there
he opened the shack and then we got inside and then
he said I must
also lie there.
Yes? …And then Your Worship I
did not undress myself. I was still wearing my clothes. Then I jumped
into the bed and then
he said I must undress myself and then I deny
to do that.
Yes, what happened then? …Then
we slept Your Worship. He was asleep but I was not asleep.
Now before you sleep, did the accused
do anything to you? …No.
Did you again have to take off your
clothes while you were in bed? …No, I did not undress me.
So the accused did not repeat what he
had done in the old mortuary building with you again in the shack?
…Yes, he wanted
to do that Your Worship, but I denied, I was
just holding my pants here in front of me.
So he did not again force himself on
you? …Yes he forced him on me.
Can you explain? …Yes Your
Worship, I undressed my pants again and then he put the pants there
on the floor and then he forced
him on top of me and then he lied on
top of me. And then he took his private part and put it into my
private part Your Worship
and he again do that up and down movements
on top of me.
Now how did it happen that the accused
also was undressed? …He undressed himself.
What happened after this? …It
was already in the morning Your Worship, he was asleep and then I
woke up and then I left the
place, I ran away from there.
Where did you run to? ...To my
parental place.”
[7] Dit blyk dus uit
voormelde getuienis dat die klaagster aanvanklik getuig het dat
appellant nie enige iets aan haar gedoen het
nadat hulle in die bed
geklim het nie. Haar getuienis met betrekking tot die verkragting het
eers gevolg nadat dit spreekwoordelik
uit haar getrek is en toe dit
boonop eventueel by wyse van ‘n uiters leidende vraag aan haar
gestel was. Die problematiek
met betrekking tot hierdie gedeelte van
haar getuienis word na my mening vererger wanneer daar gelet word op
die getuienis van
Lena. Sy het slegs getuig dat die klaagster aan
haar rapporteer het dat appellant haar in die verlate gebou verkrag
het. Sy het
nie getuig dat die klaagster se rapport aan haar ook na
die beweerde verkragting in die bed van appellant verwys het nie. Die
tersaaklike
gedeelte van haar getuienis in hoof kom voor op p. 33,
reëls 19 tot 21 van die oorkonde:
“
Now did she
tell you that this person had allegedly raped her the previous night?
…Yes, she told me that the person raped
her at an old building
called the mortuary Your Worship.”
[8] Addisioneel tot
voormelde, blyk dit uit die mededelings wat die klaagster aan Dr.
Coertze gemaak het, soos reeds aangehaal in
paragraaf 4 hierbo, dat
sy ook teenoor hom slegs melding gemaak het van die verkragting in
die verlate gebou en nie vermeld het
dat sy ook in die bed van
appellant verkrag was nie.
[9] Hoewel die
transkripsie van die Verhoorlanddros se uitspraak ongelukkig redelik
onduidelik is, is dit wel duidelik dat die Verhoorlanddros
ook
voormelde probleem met die klaagster se getuienis wat betref die
verkragting in die bed van appellant, opgetel het. Hy het
in sy
uitspraak daarna verwys dat die klaagster ‘n enkelgetuie is en
dat daar derhalwe ‘n versigtigheidsreël van
toepassing is.
Daarop het hy as volg vermeld in sy uitspraak soos dit voorkom in die
oorkonde, p. 81, reëls 9 tot 16:
“
The
complainant made a good impression. The court ...(inaudible)
consistent ...(inaudible) evidence. The …(inaudible) one
aspect in her evidence …(inaudible) the prosecutor asked her:
did the accused …(inaudible) and she said no. He asked
her
again: did you take off your clothes and again she said no and then
when the prosecutor said …(inaudible) repeat what
he did in
the building she said …(inaudible) he did have intercourse
with me …(inaudible).”
[10] Dit blyk dat die
Verhoorlanddros toe egter bevind het dat voormelde onbevredigende
wyse waarop die klaagster hieromtrent getuig
het, waarskynlik daaraan
toe te skryf is dat, hoewel sy nie weer in die huis aangerand was
nie, sy vanweë die vroeëre
aanranding en verkragting op
haar bloot die appellant gehoorsaam was toe hy weer aangedring het op
gemeenskap en het sy haar dus
nie verset soos tydens die eerste geval
nie. Dit wil dus voorkom dat die Verhoorlanddros bevind het dat dit
derhalwe nie afbreuk
doen aan haar geloofwaardigheid met betrekking
tot die plaasvind van die beweerde tweede verkragting nie.
[11] Ek kan nie met
laasgenoemde bevindings saamstem nie. Soos tereg deur die
Verhoorlanddros uitgewys, is die klaagster ‘n
enkelgetuie met
betrekking tot die verkragting as sulks. Wanneer die
versigtigheidsreël wat van toepassing is op ‘n
enkelgetuie
toegepas word op die wyse soos beslis in
S v SAULS AND OTHERS
1981 (3) SA 172
(A), kan ek ongelukkig nie anders as om tot die
gevolgtrekking te kom dat die onbevredigende wyse waarop die
klaagster met betrekking
tot hierdie spesifieke voorval getuig het,
tesame met die gebrek aan stawende getuienis daaromtrent (anders as
in die geval van
die eerste verkragting), die klaagster se getuienis
sodanig onbevredigend is dat ek nie kan bevind dat die Staat bo
redelike twyfel
hierdie tweede voorval van verkragting bewys het nie.
Mnr. Strauss het dit ook aldus toegegee.
[12] Gevolglik is ek van
mening dat dit in die belang van reg en geregtigheid is dat daar
gedeeltelik ingemeng word met appellant
se skuldigbevinding deur te
bevind dat appellant die klaagster slegs een keer verkrag het, synde
in die verlate gebou.
AD VONNIS:
[13] Voormelde bevinding
met betrekking tot appellant se skuldigbevinding en gegewe dat die
klaagster reeds sestien jaar oud was
ten tyde van die voorval, het
tot gevolg dat die voorgeskrewe minimum vonnis wat van toepassing is
in die omstandighede wat nou
bevind is, nie (meer) lewenslange
gevangenisstraf is nie, maar wel tien (10) jaar gevangenisstraf
ooreenkomstig die bepalings van
Artikel 51(2)(b) van die
Strafregwysigingswet.
[14] Mnr Reyneke het
betoog dat die feit dat appellant ongeveer een jaar en een maand as
verhoorafwagtende in hegtenis was en voorts
dat hy onder die invloed
van alkohol verkeer het ten tyde van die pleging van die misdryf,
kumulatief wesenlike en dwingende omstandighede
daarstel wat die
oplegging van ‘n mindere vonnis dan die voorgeskrewe minimum
van tien (10) jaar gevangenisstraf regverdig.
Mnr Strauss het egter
betoog dat gegewe die omringende omstandighede tot die pleging van
die misdryf, die faktore geopper deur
Mnr Reyneke nie wesenlike en
dwingende omstandighede daarstel nie, deurdat ‘n onreg nie
jeens appellant sal geskied indien
tien (10) jaar gevangenisstraf
opgelê sou word nie.
[15] Wat as wesenlike en
dwingende omstandighede kwalifiseer wat die oplegging van ‘n
mindere vonnis dan die voorgeskrewe
minimum vonnis in terme van die
Strafregwysigingswet in ‘n bepaalde geval noodsaak en
regverdig, is gesaghebbend vasgelê
in
S v MALGAS
2001
(1) SASV 469 (SCA). In die onderhawige geval is dit inderdaad
gemeensaak tussen die Staat en die verdediging dat appellant
onder
die invloed van alkohol verkeer het ten tyde van die pleging van die
misdryf. Dit blyk verdermeer ook dat appellant wel ongeveer
een jaar
en een maand as verhoorafwagtende in hegtenis verkeer het. Wanneer
daar egter gelet word op die omringende omstandighede
tot die pleging
van die misdryf, moet ek met Mnr Strauss se betoog saamstem dat hier
faktore teenwoordig is wat tot gevolg het
dat daar ‘n hoë
mate van morele verwytbaarheid aan appellant se optrede kleef.
Appellant het in die teenwoordigheid
van sy eie vriende en in die
teenwoordigheid van die klaagster se vriendinne die klaagster gegryp
en teen haar wil weggesleep na
die verlate gebou. Toe hy aangespreek
was oor sy optrede deur beide een van sy eie vriende en een van die
vriendinne van die klaagster,
het hy hulle altwee met geweld gedreig.
Hierdie gedrag van appellant spreek na my mening van arrogante en
blatante misdadige optrede.
Nie net was appellant nie afgeskrik deur
die teenwoordigheid van ander nie, maar het hy hom geensins gesteur
aan die teregwysings
jeens hom nie.
[16] Addisioneel tot
voormelde is appellant ook nie ‘n eerste oortreder nie. Dit
blyk uit die SAP 69 dat hy gedurende 2001
onder een saaknommer op
vier aanklagte skuldig bevind was, synde huisbraak met die opset om
te steel en diefstal, die onwettige
besit van ‘n vuurwapen, die
onwettige besit van ammunisie en roof. Hy is gevangenisstraf ten
opsigte van elk van hierdie
aanklagte opgelê en is dit gelas
dat dit tot so ‘n mate samelopend uitgedien moet word dat hy
vyf (5) jaar gevangenisstraf
moes uitdien. Elk van hierdie
skuldigbevindings is baie ernstig van aard en is dit verdermeer
uiters relevant met betrekking tot
die onderhawige skuldigbevinding,
deurdat dit, net soos in die onderhawige geval, direk en/of indirek
geweldsmisdrywe was. Dit
dui dus op die geweldadige geneigdheid van
appellant, welke ‘n erg verswarende faktor is.
[17] Appellant het ter
strafversagting getuig. Daaruit het dit geblyk dat wat sy persoonlike
omstandighede betref, hy op daardie
stadium vier-en-twintig jaar oud
was, ongetroud en met geen kinders nie. Hy het vantevore
loodgieterswerk op ‘n stukwerk
basis gedoen waarvoor hy
gemiddeld ongeveer R600-00 per maand verdien het. Ten tyde van sy
arrestasie het hy en sy vader saamgewoon,
maar is sy vader sedertdien
oorlede.
[18] Dit is geyk dat in
geweldsmisdrywe soos die onderhawige, die gemeenskapsbelang sterk na
vore tree. Dit het insgelyks tot gevolg
dat die afskrikkings-,
voorkomings- en vergeldingsoogmerke van vonnisoplegging sterk
oorweging moet geniet.
[19] Wanneer die
totaliteit van bogemelde feite en faktore op ‘n ewewigtige wyse
oorweeg word, kan daar na my mening nie bevind
word dat daar
wesenlike en dwingende omstandighede bestaan wat die oplegging van ‘n
mindere vonnis dan die voorgeskrewe minimum
van tien (10) jaar
gevangenisstraf regverdig nie. Ek is van mening dat tien (10) jaar
gevangenisstraf in die omstandighede van
hierdie saak inderdaad ‘n
gepaste vonnis is.
[20] Gevolglik word die
volgende bevele gemaak:
Appellant se
skuldigbevinding word gewysig tot dien effekte dat hy skuldig bevind
word daaraan dat hy die klaagster een keer verkrag
het.
Appellant se appèl
teen die opgelegde vonnis slaag, die opgelegde vonnis van
lewenslange gevangenisstraf word tersyde gestel
en vervang met een
van tien (10) jaar gevangenisstraf.
Laasgenoemde vonnis moet
geag word opgelê te gewees het op 21 Julie 2008.
______________
C. VAN ZYL, R
Ek stem saam:
_______________________
M. A. MATHEBULA, WND R
Namens die appellant: Mnr
J.D. Reyneke
In opdrag van:
Regssentrum
BLOEMFONTEIN
Namens die respondent:
Adv M. Strauss
In opdrag van:
Kantoor van die
Direkteur:
Openbare Vervolgings
BLOEMFONTEIN