About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2012
>>
[2012] ZAFSHC 138
|
|
Padongelukkefonds v De Wet (A318/11) [2012] ZAFSHC 138 (2 August 2012)
VRYSTAATSE HOË
HOF, BLOEMFONTEIN
REPUBLIEK VAN
SUID-AFRIKA
Appèlnommer :
A318/11
In
die appèl van:-
DIE
PADONGELUKKEFONDS
.
...............................................
Appellant
(Eiser)
en
JAN
HERMANUS ALBERTUS DE WET
...............
Respondent
(Verweerder)
CORAM:
HANCKE, WND RP
et
VAN DER MERWE, R
et
LEKALE, R
AANGEHOOR OP:
30 JULIE 2012
_____________________________________________________
UITSPRAAK DEUR:
HANCKE, WND RP
_____________________________________________________
GELEWER OP:
2 AUGUSTUS 2012
_____________________________________________________
[1] Die huidige appèl
is gerig teen ‘n uitspraak van die hof
a quo
(Kruger, R)
wat verklaar dat die appellant aanspreeklik is teenoor die respondent
vir al sodanige skade as wat die respondent mag
bewys deur hom gely
is en dat die appellant die koste, voortspruitende uit die beslegting
van die geskilpunt op die meriete, moet
betaal.
[2] Die respondent (die
eiser in die hof
a quo
) het ingevolge die bepalings van die
Padongelukkefondswet, Wet 56 van 1996, aksie teen die appellant
(verweerder in die hof
a quo
) ingestel as gevolg van beserings
wat deur hom opgedoen is in ‘n motorbotsing wat plaasgevind het
op 12 Mei 2007 te die Virginia/Bloudriftpad
in die distrik van
Virginia. Hierinlater word onderskeidelik na die partye as eiser en
verweerder verwys.
[3] Tydens die botsing
was die eiser die bestuurder van ‘n Ford Sierra motorvoertuig,
terwyl die versekerde voertuig, ‘n
Corsabakkie bestuur was deur
C L Moolman (hierinlater na verwys as “die versekerde
bestuurder”). Die eiser steun daarop
dat die versekerde
bestuurder nalatig was in die bestuur van die Corsabakkie en dat die
verweerder derhalwe, ingevolge die bepalings
van artikel 3,
saamgelees met artikel 17(1)(a) van die voormelde Wet, aanspreeklik
is om eiser te vergoed vir die skade wat hy
aldus in die botsing gely
het.
[4] Alhoewel die quantum
en meriete op ‘n stadium, nadat ‘n formele aansoek vir
skeiding gebring is, geskei is, is dit
later geskik en is ‘n
hofbevel dienooreenkomstig gemaak op 14 Junie 2011 waarvolgens dit op
R1,9 miljoen gekwantifiseer is.
[5] Die kruks van die
geskilpunt tussen die partye is soos dit blyk uit die volgende
gedeelte van die hof
a quo
se uitspraak:
“
Eiser sê
die botsing is veroorsaak omdat Moolman skielik voor hom ingeswaai
het terwyl hy besig was om verby te steek. Moolman
en Van Zyl sê
dat eiser van agter in die Corsa bakklie vasgery het.”
[6] Wat die bevindinge
van die hof
a quo
betref,
blyk dit dat die eiser ‘n goeie indruk in die getuiebank gemaak
het
“en vrae bondig geantwoord het sonder huiwering”
.
Wat die getuienis namens die verweerder betref, blyk dit dat die
versekerde bestuurder, Moolman, in kruisondervraging vir die
eerste
keer melding gemaak het van
“
die sigaret
opstekery toe hy besef hy moet verduidelik hoe sy kop aan die agter
middel beseer is as die botsing van agter plaasgevind
het en hy
getref is deur die pilaar van die regterkant van die voertuig. Hy
moes ‘n rede vind om sy kop te draai en getuig
toe van die
sigaret insident”.
[7] Wat die passasier Van
Zyl betref, het hy onder kruisverhoor
“
vir die
eerste keer van twee botsings – weereens om die skade aan die
skade aan die regterkant van die Corsa te verduidelik”
gemeld.
[8]
Die hof
a quo
het
na verskeie faktore verwys wat die saak van die eiser begunstig het.
Daar was genoeg spasie vir die eiser om die versekerde
voertuig verby
te gaan. Verder is dit duidelik dat die versekerde bestuurder se
volle aandag nie op die pad gerig was nie en dat
hy op ‘n
stadium weggekyk het na die kant van die pad, terwyl sy venster
toegedraai was. Die getuienis van Van Zyl omtrent
‘n sigaret
opsteek episode is as ‘n moontlikheid genoem vir die plaasvind
van die botsing.
[9]
Verder was daar geen rede vir die eiser om die voertuig voor hom, wat
hy duidelik kon sien, van agter te stamp nie. Die hof
a
quo
het in hierdie verband, met
verwysing na
AA ONDERLINGE ASSURANSIE-ASSOSIASIE BPK v
DE BEER
1982 (2) SA 603
(A)
te 614 H –
615 B, die volgende verklaar:
“
Die mees
voor die handliggende verduideliking vir die ongeluk is dat Moolman
sy voertuig skielik na regs laat beweeg het, terwyl
hy besig was om
sy venster af te draai of om na Van Zyl te kyk oor die sigaret
aanstekery.”
[10] Die hof
a quo
bevind dat op eiser se aanvaarde getuies was daar genoeg spasie om
die Corsa met veiligheid verby te steek, terwyl op die versekerde
bestuurder en Van Zyl se getuienis, daar redes bestaan waarom die
Corsabakkie na regs sou swaai. Die hof
a quo
bevind dan dat
die botsing, op ‘n oorwig van waarskynlikhede, plaasgevind het
soos deur die eiser beskryf.
[11]
Dit is gevestigde reg dat ‘n hof van appèl, in die
algemeen en onderworpe aan beperkinge, ongeneë is om in
te meng
met die bevindinge ten opsigte van geloofwaardigheid van getuies deur
die hof van eerste instansie gemaak.
SANTAM BPK v
BIDDULPH
2004 (5) SA 586
(HHA) te 589 F – G.
[12] In
SKILYA
PROPERTY INVESTMENTS (PTY) LTD v LLOYDS OF LONDON UNDERWRITING
2002 (3) SA 765
(T) te 781 B – D verklaar Southwood, R die
volgende:
“
Where more
than one inference is possible on the objective proved facts, the
Court may by balancing probabilities, select a conclusion
which seems
to be the more natural, or plausible, conclusion from among several
conceivable ones, even though that conclusion be
not the only
reasonable one. And in this context ‘plausible’ has the
connotation of ‘acceptable, credible, suitable’.”
[13] Die vraag ontstaan
dus of hier enige gronde aangevoer is wat hierdie hof geregtig maak
om in te meng met hierdie geloofwaardigheidsbevindinge.
[14] Soos reeds gemeld,
is die geskilpunt tussen die partye hoe die botsing plaasgevind het.
Ten opsigte van die verweerder se weergawe
dat die versekerde
voertuig van agter gestamp is, is dit belangrik om te let op die
getuienis van Mnr Malherbe De Wet wat foto’s
geneem het van die
botsingstoneel asook die voertuie. In hierdie verband getuig hy onder
andere die volgende:
“
Foto 17 het
ek van agter af geneem om te wys daar was geen impak van agter af wat
plaasgevind het nie, want as hy van agter af gestamp
was, sou die bak
se flap binnekant toe geduik gewees het. Hy sou nie agtertoe
oopgespring het nie...
Watse voertuig is hierdie? Foto 17,
watse foto is dit? --- Dit is ‘n blou Opel Corsa bakkie.”
Hierdie getuienis word
gestaaf deur self na die betrokke foto te kyk.
[15] Dit is verder
belangrik om daarop te let dat De Wet nie onder kruisverhoor geneem
is nie en dat hierdie getuienis onbetwis
is.
[16] Mnr Reinders, namens
die verweerder, het betoog dat die getuienis van Konstabel Motsoikha
daarop dui dat punt van botsing in
die linkerbaan plaasgevind het en
dus die weergawe van die verweerder staaf. In hierdie verband het hy
gesteun op die volgende
gedeelte van die getuienis van Motsoikha:
“
So after
your investigations you indicated the only point of impact is point
C? --- That is correct.”
[17] Hierdie gedeelte
moet egter gelees word in die totaliteit van hierdie getuie se
getuienis. Net na die voormelde aanhaling kwalifiseer
hy bogemelde
getuienis soos volg:
“
When I got
to the scene I asked Mr Moolman the point of collision and then he
pointed this one. After I opened the docket I put
this (indistinct)
and then the investigating officer must investigate the case. So I
according to Mr Moolman point C was the point
of impact.”
[18] Waar hy in
besonderhede hieroor getuig, blyk die volgende uit die rekord:
“
He (Moolman)
pointed lets say where I am standing now, it was the point where he
said the accident happened, but the glasses and
the marks they were
far from that point on the right hand side. Then I asked are you sure
this is where the accident happened and
he said yes. But I said no,
look there far is the glasses and then the marks on the right hand
side. Then he said no sir, this
is where the accident happened.”
Dit blyk ook volgens die
sleutel tot die plan na punt C verwys as
“point of
impact (pointed out by driver of Corsa Mr C L Moolman)”
.
[19] Dit blyk uit die
voorgaande dat die hof
a quo
sekere positiewe
geloofwaardigheidsbevindinge gemaak het ten opsigte van die eiser;
daarteenoor wat die versekerde bestuurder en
Van Zyl betref, was dit
minder gunstig gewees. Dit is ook van belang om daarop te let dat die
getuie Van Zyl se getuienis begin
het met ‘n harde slag van
agter af totdat hy dit later afgewater het na ‘n ligte “tap”
wat ‘n vraagteken
oor sy geloofwaardigheid plaas.
[20] Indien die rekord in
die geheel gelees word, is ek van mening dat daar nie fout gevind kan
word met hierdie geloofwaardigheidsbevindinge
nie. Die aanvaarding
van die eiser se weergawe op waarskynlikhede word gestaaf eerstens,
deur die foto’s van veral die Corsa,
wat dui op ‘n totale
afwesigheid van impak aan die agterkant. Inteendeel begin die skade
by die regter agterlig en strek
dit tot in die omgewing van die
regter voordeur; tweedens, die afwesigheid van enige glasstukke
alwaar die Corsa, op die weergawe
van die verweerder, getref is en
derdens, die aanduidings dat die punt van botsing, volgens die
getuienis van Konstabel Motsoikha,
in die regterbaan plaasgevind het.
[21] In die lig van die
voorgaande is daar geen gronde aangevoer wat hierdie hof geregtig
maak om in te meng met enige van die bevindinge
van die hof
a quo
nie. Inteendeel is daar verdere feite soos byvoorbeeld die ligging
van die punt van botsing, wat ‘n aanduiding is dat die
aanvaarding van die eiser se weergawe korrek was.
[22] Bygevolg word die
appèl van die hand gewys met koste.
______________________
S.P.B. HANCKE, WND RP
Ek
stem saam.
________________________
C.H.G. VAN DER MERWE,
R
Ek stem saam.
_____________
L.J. LEKALE, R
Namens die appellant: Adv
S J Reinders
In opdrag van:
Honey en Vennote
BLOEMFONTEIN
Namens die respondent:
Adv A J R van Rhyn SC
In opdrag van:
Wessels en Smith
BLOEMFONTEIN
/sp