About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2012
>>
[2012] ZAFSHC 131
|
|
Quad Ostrich Farming (Pty) Ltd v Rautenbach NO (1687/2012) [2012] ZAFSHC 131 (28 June 2012)
25
VRYSTAAT HOË
HOF, BLOEMFONTEIN
REPUBLIEK VAN
SUID-AFRIKA
Saak Nr. : 1687/2012
In die aansoek tussen:-
QUAD OSTRICH
FARMING (PTY) LTD
.
.......................................
Applikant
en
AJ RAUTENBACH N.O.
............................................................
Respondent
[In sy hoedanigheid as
Trustee van
die Rau Easy Farming
Trust]
GELEWER DEUR:
SNELLENBURG, AJ
AANGEHOOR:
21 JUNIE 2012
GELEWER:
28
JUNIE 2012
[1] Die applikante doen
aansoek
(i)
in facie curiae
dat verlof verleen word om die kennisgewing van mosie te wysig sodat
dit voorsiening maak dat kondonasie verleen word, as eerste
bede, vir
die versuim om die appèl aan te teken in terme van die
bepalings van Landdroshof reël 51(3) en deurhaling
van die
verwysing (in die bestaande bede) na die bevel van 13 Augustus 2009;
(ii) indien die wysiging
toegestaan word vir ‘n verdere bevel dat die appèl teen
die uitspraak gelewer op 12 Februarie
2009 onder Reitz Landdroshof
siviele saakomslag nommer 277/2007, herleef [die kennisgewing van
mosie verwys na ‘terug geplaas
word’] en
(iii) koste van die
aansoek indien dit geopponeer word. Die aansoek is deur die applikant
te rolle geplaas as `n gewone bestrede
mosie.
Markante
kronologiese agtergrond
:
[2] Die respondent het
die applikant in die Landdroshof, Reitz, gedagvaar vir betaling van
R45 600.00 ten aansien van goedere
verkoop en gelewer. Die
pleitstukke is nie voor hierdie hof geplaas nie, maar die volgende
blyk uit die verklarings wat in hierdie
verrigtinge liasseer is:
2.1 Die dagvaarding is op
26 September 2007 uitgereik onder siviele saakomslag nommer 277/2007.
Die applikant het vervolgens ‘n
teeneis ingestel vir betaling
van R60 000.00.
2.2 Dit is nie bekend
wanneer die respondent sy versoek om nadere besonderhede tot die
verweerskrif liasseer het nie, maar op 27
Januarie 2008 het die
respondent, in terme van die bepalings van die toe geldende
landdroshofreël 60(2), aansoek gedoen vir
‘n bevel dat die
applikant gelas word (verplig word) om die nadere besonderhede te
verskaf. So bevel is deur die landdros
verleen.
2.3 ‘n Antwoord op
die versoek is op ‘n datum onbekend liasseer, alhoewel die
inhoud van beide die versoek en antwoord
nie voor die hof dien nie.
2.4 Op 27 Maart 2008 rig
die respondent ‘n verdere aansoek in terme van die bepalings
van landdroshofreël 60(3) tot die
hof, vir vonnis op grond
daarvan dat die applikant nie aan die hofbevel van 27 Januarie 2008
voldoen het nie. Dit blyk dat aangevoer
is dat daar nie behoorlike
besonderhede verskaf is ten aansien van paragraaf 1.1 van die
aanvanklike versoek (en gevolglik die
hofbevel) nie.
2.5 Na aanleiding van die
partye se argumente bevind die landdros dat die antwoord wat verskaf
is dubbelsinnig, vaag en ontwykend
is, wat die respondent kan
benadeel. Die landdros staan egter nie die vonnis toe nie, maar
verleen aan die applikant ‘n verdere
geleentheid, deur te gelas
dat volledig voldoen moet word aan die hofbevel binne 10 dae vanaf
datum van bevel, met ander woorde,
voor of op 12 Mei 2008.
2.6 Op 12 Februarie 2009
rig die respondent ‘n verdere aansoek vir vonnis tot die hof in
terme van landdroshofreël 60(3).
Ter aanvang van die argument
het die applikant deur sy plaaslike prokureur, Mev Van Wyk, aansoek
gedoen vir uitstel van die aansoek
vir twee weke. Die basis vir die
aansoek sal hieronder behandel word wanneer die meriete van die
hierdie aansoek beoordeel word.
Die aansoek om uitstel is afgewys en
vonnis in die guns van die respondent verleen.
2.7 Op 26 Maart 2009 [30
hofdae na die uitspraak] rig die applikant se prokureurs van rekord,
‘n skrywe waarin geboekstaaf
word dat die prokureurs
instruksies hou om teen die landdros se bevel van 12 Februarie 2009
te appelleer na die Vrystaatse Hoë
Hof, Bloemfontein, maar dat
die appèl nie ooreenkomstig die bepalings van Landdroshof reël
51(3), binne die voorgeskrewe
tydperk aangeteken is nie. Die
prokureurs versoek die respondent se prokureurs in terme van die
bepalings van landdroshofreël
60(5) om toe te stem tot ‘n
verlenging van die tydperk waarbinne die appèl aangeteken moes
word. Die respondent se
prokureurs weier skriftelik, op 1 April 2009,
om aldus toe te stem.
2.8 Op 20 April 2009 rig
die applikant ‘n aansoek om kondonasie in terme van die
bepalings van landdroshofreël 60(5),
gelees met reël 51(3),
welke aansoek afgewys word op 14 Mei 2009. Die uitspraak word eers
gelewer op 13 Augustus 2009 en na
‘n versoek vir redes,
gedateer 25 Augustus 2009, word dié verskaf op 17 September
2009.
2.9 In al die aansoeke is
koste teen die applikant verleen wat takseerbaar en betaalbaar is.
2.10 Op 6 Oktober 2009,
liasseer die applikant ‘n ‘kennisgewing van appèl’
teen beide die bevele van 12
Februarie 2009 sowel as 13 Augustus
2009.
2.11 Op 23 Oktober 2009
verskaf die landdros ‘n skriftelike opgaaf van redes ingevolge
die bepalings van die toe geldende
landdroshofreël 51(8),
bykomend tot die skriftelike redes wat reeds verskaf is.
2.12 Op 25 April 2012
[ongeveer 2½ jaar nadat die gewaande kennisgewing van appèl
liasseer is en 3 jaar en 2 maande
nadat die bevel waarteen
geappelleer wil word verleen is] word die onderhawige aansoek
uitgereik.
2.13 Blykens die
bewerings in die funderende verklaring is die ‘appèl’
op 26 Mei 2011, op onreëlmatige wyse
vir aanhoor op 31 Oktober
2011 te rolle geplaas, maar eweneens verwyder van die rol op 5
Oktober 2011. Geen oorkonde is voorberei
of verskaf nie, met die
gevolg dat die respondent se prokureurs van rekord geweier het om ‘n
ooreenkoms te bereik rakende
`n datum waarop die ‘appèl’
aangehoor kan word. Dit blyk dat datums skriftelik aangevra is van
die respondent,
deur die applikant, op onderskeidelik 6 Oktober 2011
en 29 November 2011. Geen verdere stappe is geneem voordat hierdie
aansoek
uitgereik is nie. Tot op hede is geen prokurasie liasseer
nie.
2.14 Van belang by die
kronologie, is die respondent se antwoord op die versoek vir datums
van 6 Oktober 2011, waarby vorige korrespondensie
deur die respondent
se prokureurs gedateer onderskeidelik 16 September 2011 en 27
September 2011 aangeheg word. In die skrywe van
16 September 2011,
verwys die respondent se prokureurs na navrae oor die appèl
oorkondes reeds gedurende Mei 2011, met die
gewaande te rolle plasing
asook meerdere navrae, in daardie verband, daarna sonder sukses. Dit
word ook op rekord geplaas dat daar
onderneem is deur die applikant
se prokureurs, om die oorkonde te verskaf teen 16 September 2011. Die
skrywe van 27 September 2011
boekstaaf dat geen stukke of oorkonde
ontvang is teen 16 September 2011, of daarna nie, en plaas op rekord
‘n mededeling
deur die applikant se prokureurs dat die
respondent kan aanvaar dat die appèl abandoneer is, indien
geen stukke geliasseer
word teen 16 September 2011 nie. Die applikant
se prokureurs het nie gereageer op die skrywe nie.
Aansoek om wysiging
met aanvang van argument
:
[3] Met aanvang van die
verrigtinge het Mnr Olivier, namens die applikant, op rekord geplaas
dat die applikant ‘n wysiging
van die kennisgewing van mosie
verlang, wat neerkom op die volgende:
(i) dat die verwysing in
die bestaande bede na die uitspraak van 13 Augustus 2009 deur gehaal
word;
(ii) dat die bestaande
bedes hernommer word nadat ‘n nuwe bede 1 ingevoeg word om
voorsiening te maak dat kondonasie aan die
applikant verleen word vir
die versuim om aan landdroshofreël 51(3) te voldoen en dat die
tydgrens vir aantekening van die
appèl in terme van die
landdroshofreël dienooreenkomstig verleng word. Die bedes is nie
behoorlik formuleer nie, maar
die omvang van die wysiging blyk
redelik duidelik uit die repliserende verklaring, soos toegelig deur
die betoogshoofde wat namens
die applikant liasseer is.
[4] Mnr Cilliers, namens
die respondent, het bewaar gemaak teen die voorgenome wysiging op die
basis dat geen grondslag in die stukke
deur die applikant uitgemaak
is vir die wysiging nie.
[5] Die wysiging word
in
facie curiae
versoek. Daar is in die repliserende verklaring
verwys daarna dat die applikant, die hof by aanhoor van die aansoek,
sou versoek
om die kennisgewing van mosie te wysig. Dit het gevolg na
aanleiding van die respondent se opponerende verklaring waarin die
punt
geneem is dat die aansoek fataal gebrekkig is vanweë die
afwesigheid van kondonasie vir die versuim om die appèl binne
die voorgestelde tydperk in te stel.
Toepaslike
regsbeginsels
:
[6] Die kennisgewing van
mosie is ‘n pleitstuk en aldus vatbaar om gewysig te word. Die
algemene reël by wysigings is
bevestig in
Devonia Shipping
Ltd v MV Luis (Yeoman Shipping Co Ltd Intervening)
1994 (2)
SA 363
(C) te 369F - I:
‘
The
general rule is that an amendment of a notice of motion, as in the
case of a summons or pleading in an action, will always be
allowed
unless the application to amend is mala fide or unless the amendment
would cause an injustice or prejudice to the other
side which cannot
be compensated by an order for costs or, in other words, unless the
parties cannot be put back for the purposes
of justice in the same
position as they were when the notice of motion which it is sought to
amend was filed.’
[7] In aansoeke
konstateer die beëdigde verklarings wat namens partye liasseer
word, beide die pleitstukke sowel as die getuienis
namens die
onderskeie partye.
Transnet
Ltd v Rubenstein
2006
(1) SA 591
(SCA) para 28. Uniforme Reël 28 vind eweneens
toepassing by die voorgenome wysiging van ‘n kennisgewing van
mosie.
[8] Dit is insgelyks
gevestigde reg dat ‘n applikant sy saak moet uitmaak in die
funderende verklaring.
National
Council of Societies for the Prevention of Cruelty to Animals v
Openshaw
[2008] ZASCA 78
;
2008
(5) SA 339
(SCA) para [29].
[9] `n Party is geregtig,
om afhangend van omstandighede, kennis te gee dat hy van voornemens
is om by die aanvang van die verhoor
(mosie) aansoek te doen vir ‘n
wysiging. In so geval is die ander party geregtig om beswaar te maak,
selfs by aanvang van
die verrigtinge en indien beswaar gemaak word,
sal die party ‘n substantiewe aansoek moet rig vir verlof om te
wysig. Sien
Nel
v Mathews
1973
(1) SA 184
(T);
Marais
v Smith en 'n Ander
2000
(2) SA 924
(W). Daardie riglyne is nie die wet van Mede en Perse nie.
Die hof het altyd `n diskresie om sy eie prosedures te reguleer, en
met behoorlike oorweging van moontlike nadeel van die prosedure vir
die ander party, mag die hof soos in hierdie geval, so aansoek
oorweeg op die stukke wat reeds liasseer is. As gevolg van die feit
dat die repliserende verklaring nie tydig liasseer is nie,
het die
respondent nie geleentheid gehad om met die wysiging te handel in die
betoogshoofde nie. Daar is wel beswaar gemaak met
aanvang van die
verrigtinge en die basis vir die beswaar is op rekord geplaas. Geen
formele aansoek vir die wysiging is gedoen
nie.
[10] In lig van my
siening van die aansoek, meen ek nie dat die wysiging die respondent
sal benadeel nie en sal ek gevolglik verlof
verleen dat die
kennisgewing van mosie dienooreenkomstig gewysig word en, soos
versoek, ag dat dit aldus gewysig is om te lees
soos geformuleer in
die bevel hieronder. Dit moet egter nie as ‘n beginsel beskou
word nie. Die wysiging moet as reël
behoorlik formuleer word ten
einde die teenkant die geleentheid te gee om dit behoorlik te
oorweeg. Ek meen nie dat dit in enige
van die partye se belang is dat
hierdie aansoek uitgestel moet word nie. Ek het die bede wat die
applikant versoek, maar nie geformuleer
het nie, gevolglik
geformuleer na aanleiding van die aanwysing in die repliserende
verklaring. Die funderende stukke handel wel
met die buitentydse
aantekening van die beweerde appèl, en die respondent het op
daardie bewerings geantwoord. Wat betref
die skrapping van die
verwysing na die bevel van 13 Augustus 2009 in die bestaande bede,
het ek my bedenkinge of dit wel foutiewelik
in die kennisgewing van
mosie vervat is. Die inhoud van die ‘kennisgewing van appèl’
en die funderende verklaring
toon onteenseglik dat die applikant
deurgaans die bedoeling gehad het, reg of verkeerd, om ook ten
aansien van daardie bevel te
appelleer en kondonasie in die
verrigtinge te versoek. Hoe dit ook al sy, die skrapping benadeel nie
die respondent nie.
Kondonasie vir die
versuim om Landdroshofreël 51(3) en Hoë hofreël 50(1)
na te kom
:
[11] Met die kennisgewing
van mosie gewysig versoek die applikant gevolglik die volgende
regshulp:
‘
1.
Dat
kondonasie aan die applikant verleen word vir die versuim om aan
landdroshofreël 51(3) te voldoen en dat die tydgrens vir
aantekening van die appèl in terme van die landdroshofreël,
dienooreenkomstig verleng word;
2.
Dat die appèl teen
die uitspraak gelewer op 12 Februarie 2009 onder Reitz Landdroshof
siviele saakomslag nommer 277/2007,
terug geplaas word; en-
3.
Dat sou die Respondent
die aansoek opponeer, die Respondent gelas word om die koste vir die
aansoek te betaal.’
[12] Dit is nie duidelik
waarom die applikant ‘n aansoek in terme van die bepalings van
landdroshofreël 60(5) gerig het,
om die versuim om die appèl
tydiglik aan te teken, te kondoneer nie. Die hofreël self sluit
die landdroshof se jurisdiksie
uit om die tydperk vir aantekening van
die appèl te verleng en gevolglik die nie-nakoming te
kondoneer. Die reël se
aanhef ten tyde van die rig van die
aansoek het as volg gelees in Engels:
‘
Subject
to the provisions of rule 17(1)(b), any time limit prescribed by
these rules, except the period prescribed in rule 51(3)
and (6), may
at any time whether before or after the expiry of the period limited,
be extended…’
Sien ook
Suid-Westelike
Transvaalse Landbou Koöperasie v Kotze
[2000]
1 All SA 170
(NC) te 173h -174c.
Dit is eweneens nie
duidelik waarom die aansoek nie gewoon op daardie basis opponeer en
van die hand gewys is nie, ten minste wat
betref die regshulp
betreffende die kondonasie vir laat aantekening van die appèl.
So aansoek moet na die Hoë Hof gerig
word. Die aard van die
regshulp bepaal of die aansoek aangehoor moet word deur ‘n hof
wat jurisdiksie het om ‘n appèl
vanaf die laerhof aan te
hoor [saamgestel uit twee regters] óf deur ‘n enkel
regter in die onbestrede of bestrede
mosiehof.
[13] Die partye was dit
klaarblyklik eens dat hierdie hof, bestaande uit slegs een regter,
bevoeg is om die aansoek aan te hoor.
Die applikant het enersyds nie
aansoek gedoen by die griffier dat die aansoek voor ‘n hof dien
wat saamgestel is soos `n
hof van appèl nie, met ander woorde
twee regters en, andersyds het die respondent nie beswaar gemaak teen
die plasing van
die aansoek in die bestrede mosiehof nie. Vir die
redes wat volg meen ek wel dat hierdie hof die aansoek, met die
gewysigde regshulp
soos dit nou daar uitsien, mag aanhoor.
[14] In
Van Aswegen
v De Swardt Motors (Pty) Ltd
1958 (1) SA 125
(O) het De
Villiers, R bevind dat waar ‘n appèl behoorlik
aangeteken en voortgesit is, slegs ‘n hof wat ‘n
appèl
mag aanhoor, ‘n aansoek wat verband hou met ‘n
aangeleentheid van die appèl mag aanhoor, soos wat
die geval
sou gewees het met die wysiging van die kennisgewing van appèl
of om kondonasie waar ‘n bevel verval het.
Die hof het daardie
feite onderskei van die feite wat die onderwerp gevorm het van die
bevinding in
Cloete Bros. (Pty.) Limited v Harding
1954
(3) SA 565
(O) te 126H -127B [Van Blerk J en De Villiers J] waar
beslis is dat ‘n enkel regter in hierdie afdeling wel
jurisdiksie het
‘
to
hear an application for an order condoning a failure to note and
prosecute an appeal timeously against a magistrate's court judgment.’
In
Motsamai v Read
and Another
1961 (1) SA 173
(O) te 174A-E bevind Smit Wnd RP
dat die praktyk ontstaan het om
‘
matters
ancillary to the appeal from a lower court, to the Full Court which
alone has the jurisdiction to hear such appeals’
te bereg.
Die
regter steun onder andere op die Van Aswegen uitspraak (
supra
)
vir die bevinding.
[15] In hierdie geval is
daar nie sprake van ‘n appèl wat bestaan en gevolglik
enige ‘matter ancillary’
daartoe nie. `n Party is nie by
magte om ‘n kennisgewing van appèl, wat buite die
voorgeskrewe tydperk is, te liasseer
voordat `n aansoek vir
kondonasie van die versuim nie eers uitgereik is nie. Sien
Murray
& Daddy (Pty) Ltd v Floros
1959 (4) SA 137
(N). Die
kennisgewing van appèl is gevolglik onreëlmatig en bring
geen regsgevolge teweeg nie. Op die basis soos bevind
in
Cloete
Bros. (Pty.) Limited v Harding
1954 (3) SA 565
(O), het
hierdie hof gevolglik wel die bevoegdheid om die aansoek aan te hoor.
Dit sou ‘n ander saak gewees het indien die
applikant wel
geregtig was om regshulp te versoek dat die appèl herleef,
synde dat ‘n appèl dan bestaan het.
In daardie geval sou
hierdie hof, soos huidiglik saamgestel, geen jurisdiksie gehad het
nie. Myns insiens sou dit ook die geval
gewees het indien ‘n
kennisgewing van appèl liasseer was (die appèl
gevolglik aangeteken was) nadat hierdie
aansoek uitgereik was. Dit is
nie die geval huidiglik nie.
[16] In die omstandighede
huldig die applikant die mening dat die ‘kennisgewing van
appèl’ se liassering met
kondonasie reëlmatig sal
raak en dat ‘n appèl sal bestaan wat kan herleef. Dit is
kennelik nie die geval nie.
Die applikante kan in die omstandighede
nie slaag met die regshulp dat ‘die appèl herleef’
nie, aangesien daar
geen appèl bestaan wat kan herleef nie.
Geen appèl is met die aanhoor van die aansoek aangeteken nie.
Indien die
applikant se versuim om in terme van Landdroshof reël
51(3) te handel egter kondoneer word en die tydgrens verleng word,
sal
die applikant die kennisgewing van appèl kan lewer. In so
geval sal die applikant nie nodig hê om die appèl
te
laat herleef nie, aangesien al die voorgeskrewe tydperke vanaf datum
van die kondonasie sal loop. Die tydperk van versuim is
egter in lig
van die voormelde meer as drie jaar, wat die onus wat die applikant
moet kwyt aansienlik bemoeilik.
[17] Dit mag wel in
belang wees van partye om eerder so aansoek in elk geval te rolle te
plaas, voor ‘n hof wat jurisdiksie
het om ‘n appèl
aan te hoor, vernaam waar dit oor die vooruitsig op sukses met die
appèl handel. In hierdie
aangeleentheid meen ek nie dat dit in
belang van die partye is, waar die hof in elk geval jurisdiksie het,
om die aansoek uit te
stel sodat dit voor twee regters kan dien nie.
Die rede daarvoor is onder andere geleë in juis die vooruitsigte
op sukses
met die voorgenome appèl. Ek handel later daarmee.
[18] Waar `n party
kondonasie verlang vir die nie-nakoming van die bepalings van
landdroshofreël 51(3), sal dieselfde onus
geld as waar ‘n
appèl verval het en moet gegronde rede [“good cause”]
aangetoon word. In
United Plant Hire (Pty) Ltd v Hills and
Others
1976 (1) SA 717
(A) te 720F - G is die toets as volg
gestel:
‘
It
is well settled that, in considering applications for condonation,
the Court has a discretion, to be exercised judicially upon
a
consideration of all of the facts; and that in essence it is a
question of fairness to both sides. In this enquiry, relevant
considerations may include the degree of non-compliance with the
Rules, the explanation therefore, the prospects of success on
appeal,
the importance of the case, the respondent's interest in the finality
of his judgment, the convenience of the Court, and
the avoidance of
unnecessary delay in the administration of justice. The list is not
exhaustive.
These factors are not
individually decisive but are interrelated and must be weighed one
against the other; thus a slight delay
and a good explanation may
help to compensate for prospects of success which are not strong…’
[19] Die party wat
kondonasie verlang moet nie slegs ‘n volledige verduideliking
gee vir die hele tydperk van die versuim
nie, maar die verduideliking
moet ook redelik wees.
Sien
Van Wyk v Unitas
Hospital and Another (Open Democratic Advice Centre as Amicus Curiae)
[2007] ZACC 24
;
2008 (2) SA 472
(CC).
[20] Die applikant se
verduideliking vir die versuim is enersyds nie volledig nie en
andersyds nie redelik nie. Die applikant vermeld
met betrekking tot
die versuim om die appèl binne die voorgeskrewe tydperk aan te
teken dat, nieteenstaande instruksies
om die appèl aan te
teken, die applikant se prokureur die moontlikheid van ‘n
skikking ondersoek het. Die versuim
word met daardie enkele vae
stelling verduidelik. Wat dit egter tot inhoud gehad het, verduidelik
die applikant nie. Geen korrespondensie
tot dié effek is
aangeheg nie. Dit is gemene saak tussen die partye dat die beweerde
moontlikheid nooit met die respondent
opgeneem is nie. Die
verduideliking voldoen nie aan die vereistes wat gestel word nie. Dit
is nie volledig of redelik nie.
[21] Die applikant
verduidelik die aansienlike verloop van die tydperk van versuim,
vanaf datum van die versoek om toestemming tot
verlening van die
tydgrens, in terme van landdroshofreël 60(5), tot die hede aan
die hand van
(i) die gebrekkige
aansoek om kondonasie in die Landdroshof;
(ii) die onreëlmatige
plasing van die ‘appèl’ deur sy prokureurs;
(iii) werksdruk van die
prokureurs wat tot gevolg gehad het dat die appèl nie
behoorlike en tydige aandag geniet het nie;
(iv) die feit dat sy
prokureurs op ‘n stadium kantore getrek het, met die gevolg dat
die lêers vir ‘n periode
nie ter hand was nie; en
(v) die feit dat die
prokureur wat belas was met die aangeleentheid tydelik vergeet het
van die appèl en daarna bedank het,
met die gevolg dat ‘n
ander prokureur eers later bewus geraak het van die probleem.
Saamgeneem blameer die applikant sy versuim
op die nalatigheid van sy
prokureurs en aanvaar die prokureurs verantwoordelikheid daarvoor.
[22] Die applikant
verduidelik egter nie werklik waarom die aansoek om kondonasie nou
eers voor die hierdie hof dien nie. ‘n
Aansoek om kondonasie
moet gemaak word die oomblik wat die party (sy prokureur) besef dat
die hofreëls nie nagekom is nie.
Die verloop van insiggewende
periodes tussen die insidente waarop die applikant steun vir die
versuim word eweneens nie verduidelik
nie. Hierdie is kennelik ‘n
geval waar die applikant nie die gevolge van die nalatigheid van sy
prokureur kan ontsnap nie,
indien dit werklik die rede vir die
versuim was. Sien
Ferreira v Ntshingila
1990 (4) SA 271
(A) veral 281 en 282. Ek het ernstige bedenkinge of die applikant die
ware gronde vir die versuim voor die hof geplaas het.
[23] Die applikant beweer
dat dit vertrou het dat die aangeleentheid deur die prokureurs
hanteer sou word. Die applikant beweer
nie dat daar enige navrae deur
dit gerig is in verband met die vordering van die appèl en wat
die frekwensie van die navrae
sou wees nie. Meer as drie jaar het
verloop. Die enigste oplewing was telkens met pogings om die vonnis
uit te win. Die enigste
gevolgtrekking wat regverdig is in die
omstandighede, is dat die applikant geen belangstelling getoon het in
die appèl nie.
`n Algemene stelling dat dit deurgaans begerig
was om die appèl voort te sit, is nie op sigself genoegsaam
nie. So bedoeling
moet blyk uit die party se optrede. `n Ander aspek
wat ernstige twyfel laat oor die applikant se beweerde begeerte om
met die appèl
te volhard, is die respondent se prokureurs se
skrywe van 27 September 2011 waarin geboekstaaf word dat aan die
laasgemelde prokureurs
meegedeel is dat hulle kan aanvaar dat die
appèl abandoneer word indien geen stukke teen 16 September
2011 ontvang word
nie. Soos gemeld is geen skriftelike reaksie op die
skrywe gerig nie. Daar sal verwag word, indien die stelling in die
skrywe nie
korrek was nie, dat dit onmiddellik, skriftelik ontken sou
word deur die applikant se prokureurs. Dit is nooit voor die huidige
verrigtinge ontken nie en is die skrywe in die repliserende
verklaring nie direk en pertinent ontken, as synde dat so mededeling
nooit gemaak sou gewees het nie.
[24] Bykomend tot die
voormelde, beskik die applikant oor uiters swak, indien nie geen,
vooruitsigte op sukses met die appèl
nie. Die applikant se
voorgenome appèl behels die oorweging van die uitoefening van
‘n diskresie deur die voorsittende
beampte. Eerstens moet die
verloop van die aangeleentheid tot op die punt waar die aansoek om
uitstel voor die landdros gedien
het, in ag geneem word. Ruim
geleentheid is aan die applikant verleen om aan die hofbevel te
voldoen. Op die stadium wat die aansoek
voor die hof gedien het, het
daar reeds `n jaar en vyf maande verstryk vandat die dagvaarding
uitgereik is en is ‘n soortgelyke
aansoek nie verleen nie, maar
is die applikant ‘n verdere geleentheid gegun om te voldoen aan
die hofbevel. In daardie periode
het die saak glad nie gevorder nie.
Die applikant was toe reeds vir ‘n geruime tyd in versuim.
[25] Op die dag wat die
aansoek in terme van landdroshofreël 60(3) weer voor die
landdros gedien het, is uitstel mondelings
in facie curiae
versoek. Uit die rekord blyk duidelik dat die enigste grond waarop
die uitstel versoek is, was dat die applikant se Bloemfontein
regsverteenwoordigers self die aansoek wou argumenteer. Vir daardie
rede is twee weke uitstel versoek. Geen ander grond(e) vir
die
uitstel is verskaf en blyk uit die rekord nie. In hierdie verrigtinge
beweer die applikant dat die rede vir die uitstel was
dat hulle in
afwagting was van verdere inligting van ‘n derde party wat
hulle in staat sou stel om aan die hofbevel te voldoen.
Dit is egter
nooit aan die landdros voorgehou as ‘n grond waarop die aansoek
uitgestel moes word nie.
[26] Daardie gronde wat
nou voor hierdie hof geplaas word is gevolglik nie aan die hof benede
voorgehou en het nie deel gevorm van
die feite en omstandighede aan
die hand waarvan die landdros sy diskresie moes uitoefen nie. Die
applikant poog gevolglik om die
uitoefening van die diskresie op
appèl aan te val op gronde wat nie voor die landdros gedien
het toe hy sy diskresie uitgeoefen
het nie. Geen korrespondensie blyk
eens gerig te gewees het deur die applikant se prokureurs aan die
respondent se prokureurs om
uitstel te versoek op daardie basis nie.
[27] Gevolglik was die
enigste basis wat aan die hof voorgehou was, en gevolglik aan die
hand waarvan die landdros sy diskresie
regterlik moes uitoefen, die
feit dat die applikant se Bloemfontein regsverteenwoordigers self die
aansoek wou opponeer (argumenteer)
te Reitz. Geen substantiewe
aansoek om op daardie spesifieke grond uit te brei is voor die hof
geplaas nie. Die aansoek en regsbeginsels
ter sprake, is nie op
sigwaarde ingewikkeld nie en geen rede is voor die hof benede geplaas
of geargumenteer waarom die plaaslike
prokureur te Reitz nie in staat
was om die aansoek te argumenteer nie. Daar mag stellig goeie gronde
wees waarom dit in belang
van ‘n litigant mag wees dat ‘n
bepaalde regsverteenwoordiger ‘n aansoek hanteer, maar indien
die gronde nie
voor die hof geplaas word nie, kan dit immers nie
oorweeg word nie. Die landdros se bevinding op die grond wat voor hom
gedien
het, word ook nie op daardie basis aangeveg nie. Selfs al sou,
vir doeleindes van argument, aanvaar word dat die grond waarop die
applikante hulle nou beroep voor die landdros gedien het, sou daar
steeds geen ruimte wees vir die bevinding dat die landdros nie
in die
omstandighede die uitstel sondermeer kon weier nie. Geen
besonderhede, selfs in hierdie aansoek, word verskaf aangaande
wat
die verdere inligting behels het, wanneer dit ter hand sou kom,
waarom nieteenstaande die verloop van meer as ‘n jaar
dit nog
nie beskikbaar was en so meer, word verskaf nie. In die omstandighede
is daar geen ruimte om te bevind dat die landdros
nie sy diskresie,
regterlik uitgeoefen het nie.
[28] Die respondent se
belang in finaliteit van die vonnis word nie behoorlik aangespreek
deur die applikant nie. In soverre die
gesag hierbo konstateer dat
die oorweging
‘
in
essence it is a question of fairness to both sides’
[
United
Plant Hire (Pty) Ltd v Hills and Others
supra
],
blyk dit oorweldigend dat die verlening van die
vergunning in die omstandighede wesenlik onbillik sal wees. Selfs al
sou daar ‘n
vooruitsig van sukses wees met die appèl, is
die versuime en verontagsamings van die hofreëls so grof en
flagrant,
dat die kondonasie vir die versuim om aan landdroshofreël
51(3) te voldoen, nie verleen moet word nie.
[29] Vir die voormelde
redes het die applikant na my mening nie daarin geslaag om gegronde
rede aan te voer vir kondonasie van die
versuim nie.
[30] Gevolglik word
volgende bevele verleen:
Verlof word aan die
applikant verleen om die kennisgewing van mosie te wysig;
Die bedes in die
kennisgewing van mosie word gewysig om as volg te lees:
‘
1.
Dat
kondonasie aan die applikant verleen word vir die versuim om aan
landdroshofreël 51(3) te voldoen en dat die tydgrens vir
aantekening van die appèl in terme van die landdroshofreël,
dienooreenkomstig verleng word;
2.
Dat die appèl teen
die uitspraak gelewer op 12 Februarie 2009 onder Reitz Landdroshof
siviele saakomslag nommer 277/2007,
terug geplaas word; en-
3.
Dat sou die Respondent
die aansoek opponeer, die Respondent gelas word om die koste vir die
aansoek te betaal.’
Die aansoek word van die
hand gewys word met koste.
_______________________
N. SNELLENBURG, WND R
Namens die applikant:
Adv. J L Olivier In opdrag van: Bredenkamp Prokureurs BLOEMFONTEIN
Namens die respondent:
Adv. H J Cilliers
In opdrag van:
Naudes Prokureurs,
BLOEMFONTEIN
NS/sp