About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2012
>>
[2012] ZAFSHC 124
|
|
Shilango and Others v S (A363/2010) [2012] ZAFSHC 124 (21 June 2012)
VRYSTAATSE HOË HOF, BLOEMFONTEIN
REPUBLIEK VAN SUID-AFRIKA
Appèlnommer: A363/2010
In
die appèl tussen:-
PAULUS SHILANGO @ JULINOH MOCAMO
........................
Beskuldigde 1
A
QUO
(EERSTE APPELLANT)
ALEXANDER ALBINO DAVA
.
................................................
Beskuldigde
2
A QUO
(TWEEDE APPELLANT)
ANTHONY MATHEBULA @ JOHN DRAKE
...........................
Beskuldigde 4
A QUO
(DERDE APPELLANT)
LAZARUS MNISI
.....................................................................
Beskuldigde
5
A QUO
(VIERDE APPELLANT)
SIMON MNISI
...........................................................................
Beskuldigde
6
A QUO
(VYFDE APPPELLANT)
SEBASTIAN SIBEKO @ MANDLA
.........................................
Beskuldigde
7
A QUO
(SESDE APPELLANT)
ARLINDO DIVANE @ THIVANE @ ELLIOT ZULU
..............
Beskuldigde 10
A QUO
(SEWENDE APPELLANT)
JACKSON FULANE @ JACKSON STEPHEN KHOZA
.......
Beskuldigde 11
A QUO
(AGTSTE APPELLANT)
JOSEPH MAHLALELA
..........................................................
Beskuldigde
13
A QUO
(NEGENDE APPELLANT)
_____________________________________________________
CORAM:
KRUGER, VAN DER MERWE
et
C.J.
MUSI, RR
_____________________________________________________
UITSPRAAK DEUR:
DIE VOLLE HOF
_____________________________________________________
AANGEHOOR OP:
12 MAART 2012
_____________________________________________________
GELEWER OP:
21 JUNIE 2012
_____________________________________________________
[1] Nege-en-veertig skuldigbevindings moet in hierdie
appèl oorweeg word. Die verhoorhof het gewerk met 15
beskuldigdes en
54 klagtes. (Al die beskuldigdes is nie op alle
klagtes aangekla nie.) Aanklagte 1 tot 52 is stelle aanklagte van
roof met verswarende
omstandighede en menseroof. Elke stel aanklagte
het betrekking op ‘n gewapende kaping van ‘n vragmotor en
die insittendes
daarvan. Die nege appellante is saam met ses
mede-beskuldigdes in die Rondgaande Hof te Kroonstad deur Hancke R en
assessore skuldig
bevind aan verskeie klagtes en op 13 Desember 2007
gevonnis. Ten einde verwarring te voorkom, word na die onderskeie
appellante
verwys volgens hulle beskrywing as beskuldigdes in die hof
a quo
.
[2] Verlof tot appèl is deur Hancke R geweier en
sekere van die beskuldigdes het petisies na die Hoogste Hof van Appél
gerig, welke petisies soos volg gehandhaaf is:
8 Julie 2009 - Beskuldigde 4, 7 en 13
26 Augustus 2009 - Beskuldigde 1, 5, 6 en 10
8 September 2010 - Beskuldigde 11
12 September 2011 - Beskuldigde 2.
[3] Beskuldigde 14 se appèl is deur die Hoogste
Hof van Appèl afgehandel (
NXUMALO v THE STATE
(450/2008)
[2009] ZASCA 113
(23 September 2009)). Sy
skuldigbevindings en die vonnisse op klagtes 21 en 22 is tersyde
gestel, maar verder is die appèl
afgewys. Beskuldigdes 3, 8,
12, 15 en 16 het nie gepetisioneer nie.
[4] Die appellante is soos volg deur die verhoorhof
skuldig bevind en tot gevangenisstraf gevonnis:
(i) Beskuldigde 1 - 26 klagtes
218 jaar
35 jaar effektief
(ii) Beskuldigde 2 - 16 klagtes
149 jaar
30 jaar effektief
(iii) Beskuldigde 4 - 5 klagtes
59 jaar
25 jaar effektief
(iv) Beskuldigde 5 - 4 klagtes
36 jaar
22 jaar effektief
(v) Beskuldigde 6 - 9 klagtes
77 jaar
25 jaar effektief
(vi) Beskuldigde 7 - 2 klagtes
18 jaar
(vii) Beskuldigde 10 - 8 klagtes
59 jaar
25 jaar effektief
(viii) Beskuldigde 11 - 21 klagtes
167 jaar
30 jaar effektief
(ix) Beskuldigde 13 - 4 klagtes
36 jaar
22 jaar effektief
[5] Op appèl is ons gebonde aan die
feitebevindinge en geloofwaardigheidsbevindinge van die verhoorhof,
tensy dit geraak
is deur wesenlike wanvoorligting of ons oortuig is
daarvan dat dit verkeerd is. Wanneer die bewese feite op hierdie wyse
bepaal
is, is die essensiële vraag of die verhoorhof fouteer het
deur daarvan af te lei dat die skuld van die betrokke beskuldigde
op
die betrokke aanklag bo redelike twyfel bewys is. Ook in hierdie
verband moet ons oortuig word dat die verhoorhof fouteer het,
maar
ons aanvaar dat ons in die onderhawige geval in dieselfde posisie as
die verhoorhof is om afleidings van die bewese feite
te maak. Sien
REX v DHLUMAYO AND ANOTHER
1948 (2) SA 677
(A).
[6] Die verhoorhof se feitebevindings aangaande die
eienaarskap, besit en/of gebruik van simkaarte en handstukke word
deur beskuldigdes
1, 6, 7, 10, 11 en 13 aangeval. Hulle beweer dat
die verhoorhof fouteer het deur hulle met die selfone en/of simkaarte
te verbind.
[7] Ons moet derhalwe daardie getuiens onder die loep
neem. Ons handel vervolgens met die getuienis wat elk van die
beskuldigdes
met die onderskeie selfone verbind.
[8] Dit is gemeensaak dat beskuldigde 1 en 2 op 17
September 2004 te Komatipoort gearresteer was deur Konstabels
Nsimbini, Twala
en ander lede van SAPD nadat beskuldigde 1 deur
meneer Molefe, die klaer op aanklagte 23 en 24, uitgewys was. Dit is
gemeensaak
dat daar ’n derde manspersoon in die voertuig saam
met beskuldigde 1 en 2 was en dat hy spoorloos verdwyn het. Dit is
gemeensaak
dat daar op twee selfone met nommers 0727565050 (5050) en
0834818804 (8804) beslaggelê was. Dit is gemeensaak dat
beskuldigde
2 erken het dat die selfoon met nommer 5050 sy eiendom
is.
[9] Die vraag is aan wie behoort 8804. Die verhoorhof
het bevind dat dit aan beskuldigde 1 behoort.
[10] Meneer van Wyngaard namens beskuldigde 1 het tereg
daarop gewys dat die getuienis van konstabels Nsimbini, Twala en kapt
Celeste
Van Deventer nie van veel hulp is nie. Die verhoorhof het ook
nie op enige van hulle getuienis gesteun nie.
[11] Inspekteur van Deventer het getuig dat die selfoon
(8804) die naam Makamo vertoon wanneer dit aangeskakel word en dat
dit ‘n
foto van beskuldigde 1 bevat.
[12] Beskuldigde 1 het beweer dat die selfoon 8804 aan
Jukes, synde die persoon wat te Komartipoort verdwyn het, behoort.
[13] Meneer van Wyngaard het inspekteur van Deventer se
getuienis gekritiseer en daarop gewys dat hy slegs gedurende
kruisverhoor
melding gemaak het van die foto en die feit dat die foon
die woord Makamo vertoon wanneer dit aangeskakel word.
[14] Behalwe vir die getuienis van van Deventer het die
verhoorhof ook op omstandigheidsgetuienis en beskuldigde 1 se
getuienis
gesteun.
[15] Meneer van Wyngaard het egter betoog dat die
omstandigheidsgetuienis nie voldoende is om bo redelike twyfel te
bevind dat 8804
aan beskuldigde 1 behoort nie.
[16] Die verhoorhof het die betoog van meneer van
Wyngaard, dat van Deventer se getuienis ’n fabrikasie is,
oorweeg. Die verhoorhof
het tot die slotsom gekom dat van Deventer se
getuienis hieraangaande korrek en betroubaar is. Ons vind geen fout
met daardie bevinding
nie.
[17] Die verhoorhof het ook die volgende getuienis in
die weegskaal geplaas:
17.1 Die datum en tyd waarop die foto geneem was, is 17
Maart 2004 om 9H45.
17.2 Beskuldigde 1 erken dat sy naam Julio Alberto
Macamo is.
17.3 Die nommer 8804 is in beskuldigde 2 se foonboek
gestoor onder die naam Juks; in beskuldigde 3 se foonboek is dit
gestoor as
Jonlinho; in beskuldigde 10 se foonboek is dit as Judo
gestoor en in beskuldigde 11 se foonboek is dit gestoor as July.
17.4 Beskuldigde 1 se vrou (Aidi) wie te Mosambiek
woonagtig is en sy Suid Afrikaanse vrou (Deliwe) se nommers is in
8804 gestoor.
17.5 Op 16 Augustus 2004 is Deliwe se nommer vanaf 8804
geskakel.
17.6 Meneer Molefe (klaer aanklagte 23 en 24) het vir
beskuldigde 1 uitgeken as een van die persone wie hom beroof het. Die
nommer
8804 word op daardie toneel geplaas.
17.7 Meneer Leoma (klaer aanklagte 21 en 22) het ook vir
beskuldigde 1 as een van die rowers uitgewys. Die nommer 8804 word
ook
op daardie toneel geplaas.
[18] Dit is duidellik dat die omstandigheidsgetuienis
tesame met van Deventer se getuienis vatbaar is vir slegs een
afleiding te
wete dat die selfoon met nommer 0834818804 aan
beskuldigde 1 behoort. Die verhoorhof se bevinding hieraangaande word
ondersteun.
[18] Die getuienis wat beskuldigde 6 met die besit van
die selfoon met IMEI nommer 449218919667698 en simkaarte met
selfoonnommers
0723638227 (8227) en 0726628361 (8361) verbind is
grotendeels gemeensaak.
[19] Beskuldigde 6 is op 3 Julie 2005 te Heidelbergweg
gearresteer. Daar was ‘n selfoon en twee simkaarte in sy besit
gevind.
Volgens Inspekteur Erasmus was die een simkaart (8361) in die
selfoon en die ander een (8227) los onder die battery van die
selfoon.
Volgens Inspekteur van Deventer was 8227 in die selfoon en
8361 los in die foon bo-op die battery gevind.
[20] Beskuldigde 6 erken dat 8361 sy selfoonnommer is.
Hy beweer dat hy ongeveer drie weke voor sy arrestasie die selfoon by
’n
vriend geleen het. Hy het voorts beweer dat 8227 aan sy 24
jarige seun, Chester, behoort en dat dit los agter in die selfoon
gevind
was.
[21] Die nommer 0726628361 is in beskuldigde 1 se
foonboek gestoor as Bra Saimo; in beskuldigde 3 se foonboek is dit
gestoor as
Sayi; in beskuldigde 5 se foonboek is dit gestoor as
Brasi; in beskuldigde 10 se foonboek is dit gestoor as Simoni en in
beskuldigde
11 se foonboek is dit gestoor as Bra Sai.
[22] Die verhoorhof het verkeerdelik bevind dat die
nommer 8227 op beskuldigde 5 se foonboek as Simoni gestoor is en dat
dit in
beskuldigde 11 se foonboek as Bra Sai gestoor is. Die nommer
8227 kom nie op beskuldigde 11 se foonboek voor nie en dit is as Anna
gestoor in beskuldigde 5 se foonboek.
[23] Dit was nie in geskil dat inspekteur Bierman
beslaggelê het op beskuldigde 15 se dagboek of sakboek waarin
hy telefoonnommers
geskyf het nie. In hierdie sakboek of dagboek het
hy aangedui dat die nommer 0733638227 Sayi Munisi se nommer is.
[24] Die verhoorhof het tereg beskuldigde 6 se weergawe
dat hy gedurende 2005 die nommer 8361 begin gebruik het en dat 8227
sy seun
se simkaart en nommer is, verwerp.
[25] Beskuldigde 7 is op 26 Julie 2005 op die N12
snelweg naby Delmas gearresteer. Inspekteurs van Deventer en Nel
getuig dat daar
’n selfoon in beskuldigde 7 se besit gevind was
en dat daar ’n los simkaart met nommer 0824717582 agter in die
selfoon
was. Beskuldigde 7 het op dieselfde dag die polisie na sy
woonplek geneem. Aldaar is daar op verskeie dokumente beslaggelê,
onder andere, ‘n Mosambiekse paspoort in die naam van Sibastian
Sibeko met beskuldigde 7 se foto daarop, ‘n kartondoos
van ’n
Nokia 2650 selfoon met IMEI nommer 355377000273550 en ‘n
kwitansie van Cellular Center gedateer 1.10.04 waarop
die IMEI nommer
351103100159174 verskyn.
[26] Van Deventer het op 19 Junie 2005 en 20 Junie 2005
vir beskuldigde 7 gekontak op selfoonnommer 0761887600 (7600).
Beskuldigde
7 het die selfoon beantwoord en homself as Mandla
geidentifiseer. Hy het vir van Deventer versoek om hom kans te gee
sodat hy saam
met sy prokureur na die polisie kan gaan om homself oor
te gee.
[27] Die simkaart met nommer 7600 was in die handstuk
met IMEI nommer 355377000223550 gebruik. Die kartondoos van daardie
handstuk
is by beskuldigde 7 se woonplek gevind.
[28] Die simkaart met nommer 7582 was gebruik in die
handstuk met IMEI nommer 351103100159174. Beide selfone, 7600 en
7582, was
op die rooftoneel van aanklagte 46 en 47.
[29] Alhoewel beskuldigde 7 ontken dat die simkaarte met
selfoonnommer 7600 en 7582 aan hom behoort of dat hy dit besit het,
het
hy besluit om nie onder eed te getuig nie. Die verhoorhof het
korrek bevind dat die Staat bo redelike twyfel die verbintenis tussen
beskuldigde 7 en 7600 bewys het.
[30] Inspekteur Van der Schyff het getuig dat hy op 8
Oktober 2004 vir beskuldigde 10 gearresteer het. Beskuldigde 10 was
’n
passasier in ’n Toyota Camry motorvoertuig (Camry) wat
’n geroofde vragmotor begelei het. Van der Schyff getuig dat
hy
en sy kollega, De Beer, die voertuig te Hectorspruit tot stilstand
gebring het. Slegs beskuldigde 10 en die bestuurder John
David Masuku
(Masuku) was in die Camry.
[31] Aldus van der Schyff het hy vir beskuldigde 10
gevisenteer en ’n Mosambiekse passport, bestuurderslisensie en
identiteitkaart
in die naam van Josefa Simon Thivane in sy
linkerskoen gevind. In beskuldigde 10 se beursie het hy, onder
andere, ’n BNU
(Mosambiekse bank) depositostrokie wat aandui
dat Arlindo Zavanhail Divane geld in daardie bank gedeponeer het,
gevind. Hy het
ook ’n selfoon met IMEI nommer 35069840071 en
selfoonnommer 0721543535 (3535) in beskuldigde 10 se besit gevind.
Beskuldigde
10 is gearresteer en na Komatipoort geneem. Aldaar het
die selfoon (3535) gelui. Van der Schyff het dit beantwoord en ’n
persoon wie homself as Frank voorgestel het, het gevra om met Arlindo
te praat. Van der Schyff het hom gevra of hy met Arlindo Divane
wil
praat waarop hy bevestigend geantwoord het; daarna het Van der Schyff
hom gevra om ‘n beskrywing van Arlindo Divane te
gee en hy het
gesê “he is short and fat with a round face.” Van
der Schyff het die persoon meegedeel dat hy vir
Arlindo Divane
gearresteer het.
[32] Aangesien die bestuurder van die geroofde vragmotor
(Sipho David Mxoli, beskuldigde 8) reeds gearresteer was en daar op
sy
selfoon met nommer 0838937315 (7315) beslaggelê was het Van
der Schyff opgemerk dat beskuldigde 8 geskakel was vanaf 3535
en dat
daar ook boodskape vanaf 7315 na 3535 gestuur was.
[33] In Masuku se besit was daar ’n Nokia selfoon
met IMEI nommer 351463102433260 met selfoonnommer 0725607616 gevind.
[34] Hy het die paspoort aan inspekteur Coetzee –
wie vir beskuldigde 10 geken het – getoon en laasgenoemde het
hom
meegedeel dat dit Arlindo Divane se foto is wat daarop voorkom.
[35] Inspekteur De Beer bevestig dat hy vir Masuku
gevisenteer het en ’n selfoon en dokumente in sy besit gevind
het.
[36] Inspekteur Joe Coetzee het getuig dat hy verbonde
is aan die misdaad inligting insameling eenheid te Komatipoort. Op 26
Julie
2001 het hy vir beskuldigde 10 ontmoet. Beskuldigde 10 het ’n
paspoort, in die naam Arlindo Zavanane Divane waarop sy foto
voorkom,
in sy besit gehad.
[37] Nommer 3535 verskyn op beskuldigde 2 se selfoonboek
teenoor die naam ar#.
[38] Dit is nie in geskil dat beskuldigde 10 te
Ennerdale woonagtig is nie. Dit is ook nie in geskil dat die
selfoonsein van 3535
hoofsaaklik te Ennerdale, Lenasia en Grasmere
geregistreer het nie. Dit is nie betwis dat Masuku te Ivory Park,
Tembisa, woonagtig
is nie.
[39] Beskuldigde 10 het getuig dat hy op 8 Oktober 2004
‘n geleentheid vanaf Nelspruit na Komatipoort by Masuku gekry
het.
Hy bevestig dat die voertuig te Hectorspruit tot stilstand
gebring was deur De Beer en Van der Schyff. Hy was deur De Beer
gevisenteer
en gearresteer. Die selfone was in die voertuig gevind.
Die een selfoon was af terwyl die ander een deur Masuku gebruik was.
Hy
ontken dat daar enige dokumente in sy skoen gevind was. Hy erken
dat die depositostrokie in sy besit gevind was maar beweer dat
Arlindo Divane hom in ‘n bank in Mosambiek gekry het en hom
versoek het om die geld namens hom te deponeer aangesien die
tou te
lank was.
[40] Die verhoorhof het bevind dat 3535 in beskuldigde
10 se besit gevind was tydens sy arresteer op 8 Oktober 2004 en dat
die nommer
op beskuldigde 2 se foonboek verskyn as “Y. R. Hass”
(Dit moet ar# wees.)
[41] Meneer Van Wyngaard namens beskuldigde 10 het
submiteer dat die verhoorhof fouteer het deur op sterkte van Van der
Schyff se
getuenis te bevind dat die Staat bo redelike twyfel bewys
het dat die selfoon in beskuldigde 10 se besit was.
[42] Dit is korrek dat Van der Schyff kleigetrap het
gedurende kruisondervraging. Hy het nie net homself weerspreek nie
maar ook
’n verslag wat hy self opgestel het. Hy was ook deur
sy kollega De Beer weerspreek. Hy het toegegee dat hy vier
verskillende
weergawes voor die hof geplaas het. Dit is duidelik dat
sy geheue hom in die steek gelaat het. Dieselfde kan egter nie van De
Beer
gesê word nie. Hy was konsekwent en seker dat hy vir
Masuku gevisenteer en gearresteer het. Geen kritiek was teen sy
getuienis
uitgespreek nie.
[43] Beskuldigde 10 se weergawe is leuenagtig en
onwaarskynlik. Volgens hom het hy ’n geleentheid by Masuku
gekry maar hy
sit sy persoonlike dokumente in Masuku se voertuig; dit
terwyl hy nie eers Masuku se naam geken het nie. Hy ontken dat hy
Arlindo
Divane is terwyl daar oorweldigende getuienis is dat hy wel
ook as Arlindo Divane bekend staan. Die rede waarom hy dit ontken is
voor die hand liggend, want indien hy dit erken en daar word bevind
dat die ar# op beskuldigde 2 se selfoon staan vir Arlindo dan
sal dit
beteken dat 3535 sy selfoon is. Van der Schyff se getueinis dat ’n
Frank geskakel het en gevra het om met Arlindo
te praat is ook nie
pertinent ontken nie. Die verhoorhof het sy weergawe tereg verwerp.
[44] Die bewese feite is die volgende:
44.1 Beskuldigde 10 en Masuku was in die Camry.
44.2 ‘n Selfoon is in Masuku se besit gevind.
44.3 Dit is onseker waar die tweede selfoon gevind is.
44.4 Beskuldigde 10 se ander naam is Arlindo Divane.
44.5 Op beskuldigde 2 se selfoon verskyn die letters ar
en symbool # teen oor die selfoon nommer 3535.
44.6 Beskuldiugde 10 het leuenagtiglik beweer dat hy nie
Arlindo Divane is nie.
44.7 Beskuldigde 10 het gewink vir die bestuurder van
die geroofde vragmotor en dat daar vanaf 3535 na die vragmotor
bestuurder
se selfoon geskakel was.
44.8 Dat ‘n persoon 3535 geskakel het en gevra het
om met Arlindo te praat.
44.9 Beskuldigde 10 woon te Ennerdale.
44.10 Masuku woon te Ivory Park Tembisa.
44.11 3535 se sein is hoofsaaklik te Ennerdale, Lenasia
en Grasmere opgevang.
[45] Dit is geykte reg dat ‘n afleiding in ‘n
strafsaak slegs gemaak behoort te word indien dit konsekwent is met
die
bewese feite en dat dit die enigste redelike afleiding moet wees.
[46] Na ons mening staan ar# vir Arlindo. ’n
Persoon het 3535 geskakel en vra om met Arlindo te praat. Beskuldigde
10 het
’n handgebaar gemaak wat duidelik aangetoon het dat hy
met die vragmotorbestuurder kommunikeer. Daar was ook per selfoon
3535 met die bestuurder van die vragmotor gekommunikeer. Daar is twee
persone en twee selfone gevind. Daar is een selfoon op Masuku
se
persoon gevind. Dit is onwaarskynklik dat Masuku wat besig was om ’n
geroofde vragmotor te begelei, ’n vreemdeling
’n
geleentheid sou gee. Beskuldigde 10 woon te Ennerdale in die Wes Rand
terwyl Masuku te Tembisa in die Oos Rand woonagtig
is. Die selfoon se
sein word hoofsaaklik in die Wes Rand opgevang.
[47] Na ons mening skort daar niks met die verhoorhof se
bevinding dat 3535 in beskuldigde 10 se besit was nie. Dit strook met
die
bewese feite.
[48] Beskuldigde 11 se naam is Jackson Stephen Khoza. Hy
is op 14 Julie 2004 te Johannesburg gearresteer. Inspekteurs Erasmus,
Jacobs,
Bierman en van Deventer het hom daarna na sy huis te
Derdelaan 8 Rosettenville vergesel waar hulle op verskeie dokumente
beslaggelê
het. Die relevante dokumente is die volgende:
48.1 In die sitkamer het inspekteur Jacobs ‘n
Vodacom dokument getitel “Important details to know about your
cellphone
number” gevind. Op hierdie dokument kom die volgende
inligting voor: Pin 4712, Puk 46418093 SIM CARD NUMBER
89611000000001123783
Cell number 0726175227.
48.2 Inspekteur Jacobs lê ook beslag, in die
sitkamer, op ’n simkaart met selfoonnommer 0726175227 (5227).
48.3 In ’n vullisblik buite die huis vind
inspekteur Bierman, onder andere, ’n dokument met die titel
“Your Vodacom
Certificate.” Hierdie dokument bevat die
volgende inligting: Cell number 0721117824; PIN MUMBER 5903; PUK
NUMBER 05008289;
ICC ID NUMBER 89111000000001291045.
48.4 Onder die bed is daar twee Eerste Nasionale Bank
deposito strokies gevind wat aandui dat beskuldigde 11 geld
gedeponeer het
en sy selfoonnommer as 0827238870 aangedui het.
48.5 Daar is ook belaggelê op ‘n kwitansie
uitgereik deur Southern Brick Yard gedateer 23/11/2005 waarop die
volgende
besonderhede versky: 8 3
rd
Rd Larochelle Jackson
0721117824 (7824).
[49] Die nommer 8870 kom voor in beskuldigde 1 en 2 se
foonboeke teenoor die naam “JKS.’ Die verhoorhof het
korrek bevind
dat “JKS” staan vir Jackson. Die nommer
7824 kom voor in beskuldigde 10 se foonboek as “Jeksen.”
Die nommer
5772 kom voor in beskuldigde 1 se foonboek onder die naam
“JKS”, in beskuldigde 2 se foonboek onder die naam
“JKSN”,
in beskuldigde 5 se foonboek onder die naam
“Jackson” en in beskuldigde 6 se foonboek as “Jack.”
[50] Die simkaarte met nommers 5772 en 7824 was beide in
dieselfde handstuk gebruik.
[51] Beskuldigde 11 het getuig dat 8870 sy gewese
meisie, Belucia, se selfoonnommer is. Hy het enige kennis van van
5772 en 7824
ontken.
[52] Dit is duidelik dat die datum op die kwitansie van
Southern Brick Yard verkeerd is. Bierman se getuienis is duideik. Hy
was
slegs by een geleentheid by beskuldigde 11 se woning en dat hy
tydens daardie geleentheid op daardie dokument beslaggelê het.
Beskuldigde 11 is op 14 Julie 2005 gearresteer. Die kwitansie is
gedateer 23 November 2005. Dit is onmoontlik dat daardie kwitansie
op
23 November 2005 uitgeskryf kon gewees het.
[53] Die getuienis teen beskuldigde11 is verdoemend.
Daar was dokumentasie aangaande die drie tersaaklike selfoonnommers
in sy huis
gevind en al drie selfoonnommers is in van die ander
beskuldigdes se foonboeke gestoor onder sy naam.
[54] Die verhoorhof het sy weergawe, korrek, as vals
verwerp en bevind dat hy die drie simkaarte gebruik het. Ons stem
saam met
daardie gevolgtrekking.
[55] Beskuldigde 13 is op 25 Februarie 2005 te Ennerdale
gearresteer. Inspekteur Cloete het getuig dat hy tydens beskuldigde
13
se arrestasie ‘n Nokia handstuk met IMEI nommer
350689201433659 en simkaart met selfoon nommer 0726288872 (8872) in
beskuldigde
13 se besit gevind het.
[56] Beskuldigde 13 het bevestig dat inspekteur Cloete
op 25 Februarie 2005 op sy selfoon beslaggelê het. Hy beweer
egter
dat die simkaart in die handstuk se selfoonnommer 0726420059
was. Volgens hom het hy ‘n simkaart met selfoonnommer
0726288872
besit maar dat hy gedurende 2004 sy foon met daardie
simkaart daarin verloor het.
[57] Die selfoonrekords toon egter aan dat die nommer
8872 in die handstuk met IMEI 350689201433659 tot 21 April 2005
gebruik was.
Dit is duidelik dat beskuldigde 13 se getuienis vals is.
Dit was tereg verwerp. Die verhoorhof se bevinding dat nommer 8872
aan
beskuldigde 13 behoort het is in die kol.
[58] Voordat ons die aanklagte wat voortspruit uit elke
afsonderlike voorval afsonderlik behandel in die lig van die
voormelde bevindings,
is dit dienlik om ‘n oorsig te gee van
ons benaderingswyse in hierdie saak ten einde te bepaal of die
verhoorhof fouteer
het deur te bevind dat die skuld van ‘n
bepaalde beskuldigde op ‘n bepaalde aanklag bo redelike twyfel
bewys is.
[59] Logieserwys moet eerstens bepaal word of ‘n
beskuldigde aan die betrokke rooftog of kaping self deelgeneem het of
andersins
fisies betrokke was by die pleging van die betrokke
misdryf. Dit kan in hierdie saak eerstens bewys word deur aanvaarde
positiewe
identifikasie deur die klaer(s) van die beskuldigde as een
van die daders. Dit kan ook in die afwesigheid van ‘n
aanvaarbare
verduideliking daarvoor, bo redelike twyfel afgelei word
daarvan dat vingerafdrukke van die beskuldigde gevind is op ‘n
voertuig
of voorwerp wat by die misdaad betrokke was of dat die
beskuldigde kort na pleging van die roof in besit of beheer was van
‘n
voertuig of voorwerp wat tydens die roof gesteel is.
[60] Wat betref selfoongetuienis kan in die afwesig van
‘n aanvaarbare verduideliking tot die teendeel, bevind word dat
‘n
selfoon wat bewys is aan ‘n beskuldigde te behoort,
deur die beskuldigde self gebruik is. Op hierdie wyse kan van die
bewys
deur selfoondata van die gebruik van die selfoon in die
nabyheid van tyd en plek van die pleging van die misdaad en ver van
die
woonplek van die beskuldigde, in die afwesigheid van ‘n
aanvaarbare verduideliking bo redelike twyfel afgelei word dat die
betrokke beskuldigde aan die pleging van die betrokke misdaad
deelgeneem het.
[61] Dit moet natuurlik des te meer so wees waar die
beskuldigde op meer as een van hierdie wyses aan die pleging van die
betrokke
misdaad verbind word, waar die beskuldigde naby aan die tyd
van die pleging van die misdryf ook per selfoon in kontak was met ‘n
ander persoon wat bewys is aan die pleging van die misdryf skuldig is
of waar selfoondata aantoon dat die beskuldigde ook ‘n
roete
gevolg het wat in tyd en ruimte ooreenstem met dié van die
gekaapte vragmotor.
[62] Dit is duidelik dat voorafbeplande kapings van
veral vragmotors met vragte deur ‘n sindikaat hier ter sprake
is. Reëlings
moes byvoorbeeld getref gewees het vir afset van
die vragmotors en vragte en vir begeleiding daarvan tot by die
bestemming, meestal
in Mosambiek. Dit moet dus aanvaar word dat
persone betrokke was by pleging van die misdrywe kragtens
voorafgaande sameswering,
maar wat nie aan die betrokke rooftog self
deelgeneem het of andersins fisies daarby betrokke was nie. Die
betrokkenheid van sodanige
persone by die beplanning of ooreenkoms en
dus sameswering om die betrokke kaping te doen, kan bo redelike
twyfel afgelei word
van data van die gebruik van selfone. Indien ‘n
beskuldigde tydens of op meer as een geleentheid kort voor of kort na
die
pleging van die kaping per selfoon in kontak was met ‘n
persoon of persone wat bewys is aan die rooftog self deelgeneem het
of andersins fisies daarby betrokke was, moet ons insiens in die
afwesigheid van ‘n aanvaarbare verduideliking bevind word
dat
die beskuldigde in die uitvoering van ‘n sameswering aan die
uitvoering van die misdryf deelgeneem het. Die omstandighede
moet dus
sodanig wees dat bloot toevallige selfoonkontak tussen die
beskuldigde en die bewese rower as redelike moontlikheid uitgesluit
kan word. Sodanige selfoonkontak slegs op ‘n ander dag as die
dag waarop die misdryf gepleeg is of ‘n enkele oproep
op
dieselfde dag gemaak, ure voor of na die roof, sou dus alleenstaande
nie voldoende wees om ‘n
prima facie
afleiding van
deelname aan die misdaad te regverdig nie. Dit kan egter beswaarlik
toevallig wees dat ‘n beskuldigde per selfoonkontak
gehad het
met ‘n bewese rower tydens die betrokke roof of op meer as een
geleentheid kort voor of kort daarna en hy dit nie
kan verduidelik
nie of valslik ontken. Dit kan nog minder ‘n toevalligheid wees
indien die beskuldigde aldus kontak gehad
het met meer dan een bewese
deelnemers aan die betrokke misdaad. Hoe meer die selfoon kontak
tussen die beskuldigde en die bewese
rower tydens, kort voor of kort
na die betrokke roof, hoe sterker natuurlik die afleiding van
deelname daaraan. ‘n Beskuldigde
wat aldus bewys is ‘n
samesweerder ten opsigte van die betrokke kaping te wees, kan
natuurlik op sy beurt ook ‘n ander
of hierdie wyse met
selfoondata verbind.
[63] Nie een van die onderhawige beskuldigdes wie se
gebruik van ‘n selfoon of selfone aan die voormelde voldoen,
het ‘n
aanvaarbare onskuldige verduideliking vir die gebruik
daarvan gegee nie, trouens in die meeste gevalle het hul valslik
ontken dat
hulle die betrokke selfone besit het of gebruik het.
Klagtes 1 en 2
[64] Beskuldigde 13 is op hierdie klagtes skuldig
bevind. Hierdie klagtes betref die gewapende roof van ‘n MAN
vragmotor en
sleepwa ter waarde van R500 000 met ‘n vrag koring
ter waarde van R100 000 op 15 November 1999 te Bloemhof. Volgens die
drywer
van die MAN het twee gewapende mans by ‘n vulstasie uit
‘n blou Cressida motor geklim en die MAN geroof. Die drywer
en
sy assistent is in die Cressida se kattebak gesit en nadat hulle vir
ongeveer ‘n dag in die veld aangehou is, vrygelaat.
Die klaer
het op ‘n later stadium die Cressida opgemerk terwyl hy saam
met privaat ondersoekers was. Na ‘n jaagtog
het die persone uit
die Cressida gespring en weggehardloop. Beskuldigde 13 se
vingerafdrukke is op die Cressida gevind. Die klere
wat die klaer
tydens die roof gedra het, is in die Cressida se kattebak gevind.
[65] Namens beskuldigde 13 wys Mnr. Potgieter daarop dat
beskuldigde se palmafdruk aan die buitekant van die masjienkap gevind
is.
Beskuldigde 13 se weergawe is dat hy die Cressida by ‘n
handelaar in Julesstraat, Johannesburg gekoop het en in 1997 verkoop
het aan ene Makwakwa, wat dit afbetaal het. In 1999 was daar ‘n
probleem met die enjin en beskuldigde 13 het die voertuig
gaan
ondersoek. Dis hoe sy palmafdruk op die enjinkap gekom het.
[66] Beskuldigde 13 se weergawe is deur die verhoorhof
as vergesog verwerp. Die Cressida is naby beskuldigde 13 se woning
teruggevind.
Daar is geen basis om met hierdie skuldigbevinding in te
meng nie.
Klagte 4
[67] Beskuldigde 1 is op hierdie klagte skuldig bevind.
Hierdie klagte betref die gewapende roof van ‘n Pajero op 27
Julie
2000 te Carltonville. Die Pajero is die volgende dag by
Nelspruit teruggevind. Beskuldigde 1 word met die klagte verbind
omdat
sy vingerafdruk gevind is op ‘n nommerplaat wat op die
gesteelde Pajero was. Beskuldigde 1 se verduideliking is dat sy
vingerafdruk
op die nommerplaat gekom het toe hy as passasier in die
Pajero gery het en hy aan die nommerplaat geraak het.
[68] Mnr. Van Wyngaard, namens beskuldigde 1, sê
die staatsgetuies gee teenstrydige getuienis oor waar die nommerplaat
gevind
is. Die Staat sê beskuldigde 1 is tereg skuldig bevind.
[69] Die getuienis dat beskuldigde 1 se vingerafdruk op
die nommerplaat MME 0490 gevind is, wat met die Pajero verbind word,
is
tereg deur die verhoorhof aanvaar as voldoende. Daar is geen basis
om in te meng nie.
Klagtes 7 en 8
[70] Beskuldigdes 1 en 6 is op hierdie klagtes skuldig
bevind.
[71] Hierdie klagtes betref die gewapende roof van ‘n
Scania vragmotor en sleepwa ter waarde van R105 800 met ‘n vrag
koeldrank ter waarde van R1,3 miljoen, op die Heilbron/Petrus Steyn
pad op 1 Maart 2004 om ongeveer 13:45.
[72] Beskuldigde 6 is deur die klaer geïdentifiseer
as een van die persone wat die roof uitgevoer het. Die klaer was
helder
oordag en vir meer as ‘n voldoende tydperk om behoorlike
waarneming te doen, in die teenwoordigheid van beskuldigde 6. Die
verhoorhof het die getuienis van beskuldigde 6 hieromtrent verwerp en
het bevind dat die klaer, Mnr Ncongwane, se getuienis logies,
gemotiveerd, aanduidend van ‘n goeie geheue en oortuigend is.
Daar is geen grondslag om met hierdie bevindinge in te meng
nie.
[73] Beskuldigde 1 word deur sy selfoonrekords met die
onderhawige misdryf verbind. Volgens sy selfoon rekords het
beskuldigde 1
vroegoggend vanaf Tembisa vertrek en was hy tussen
13:20 en 14:18 in die omgewing van Heilbron en Petrus Steyn. Daar was
ook selfoonkontak
tussen beskuldigdes 1 en 6 om 21:35 op dieselfde
dag.
[74] Daar is geen basis om met hierdie skuldigbevinding
in te meng nie.
Klagtes 15 en 16
[75] Beskuldigdes 1 en 2 is skuldig bevind op hierdie
klagtes. Hierdie klagtes betref die gewapende roof van ‘n
Mercedes Benz
Actros en ‘n tenker sleepwa, waarde R700 000 en
R571 000, met ‘n vrag ter waarde van R30 000 geroof te Orange
Farm
op 23 Junie 2004 vanaf 8:15.
[76] Beskuldigde 2 is die persoon wat die klaer Mnr
Motaung in die bosse ingeneem het. Mnr Motaung was vir nagenoeg vier
ure in
beskuldigde 2 se geselskap, helder oordag. Hy het genoeg tyd
en geleentheid vir uitkenning gehad.
[77] Beskuldigde 1 se selfoon word op die toneel
geplaas, vanaf 8:15, veral omstreeks 9:00 asook daarna. Beskuldigde 1
het na die
voorval kontak met beskuldigde 2 om 12:23.
[78] Daar is geen basis om met hierdie skuldigbevindings
in te meng nie.
Klagtes 17 en 18
[79] Aanklagte 17 en 18 het betrekking op ‘n
gewapende roof van ‘n Nissan vragmotor met ‘n vrag
tamaties wat plaasgevind
het op 28 Junie 2004 omstreeks 14:30 naby
Warden. Beskuldigdes 1, 2, 3, 4, 5, 6 en 11 is deur die verhoorhof op
hierdie aanklagte
skuldig bevind.
[80] Volgens die selfoonrekords van beskuldigde 1 se
selfoon wat eindig in 8804 het hy op die betrokke dag beweeg vanaf
Tembisa
tot by Warden en weer terug na Tembisa via die N3. Om 7:24
was hy nog te Tembisa. Daarna het hy beweeg in die rigting van
Warden,
in welke omgewing hy verskeie oproepe gemaak het tussen 15:23
en 15:33 en om 21:44 was hy weer terug by Tembisa. Met inagneming
van
sy valse ontkenning van die besit en/of gebruik van die selfoon wat
eindig in 8804 moet na ons oordeel bevind word dat die
enigste
redelike afleiding is dat beskuldigde 1 te Warden deelgeneem het aan
die pleging van die onderhawige kaping.
[81] Daar was op die betrokke dag selfoonkontak tussen
beskuldigde 1 en beskuldigde 11 op meerdere geleenthede kort voor en
kort
na die pleging van die onderhawige misdrywe. Daar was kontak
tussen beskuldigde 1 en 11 om 8:53 en daarna weer om 17:07, 17:08 en
17:09. In die afwesigheid van enige aanvaarbare verduideliking is die
enigste redelike afleiding dat beskuldigde 11 met beskuldigde
1 aldus
kontak gehad het omdat hy deel was van ‘n komplot om die
onderhawige kaping te pleeg.
[82] Beskuldigde 6 het op sy beurt op die betrokke dag
selfoonkontak gehad met beskuldigde 11, naamlik om 10:04, 10:35,
10:36 en
veral belangrik om 14:33. Laasgenoemde kontak, per sms, moet
beskou word as kontak tydens die onderhawige kaping. Beskuldigde 6
het nie ‘n aanvaarbare verduideliking gegee waarom hy aldus met
beskuldigde 11 kontak gehad het nie en word beskuldigde 6
derhalwe
via beskuldigde 11 verbind as ‘n samesweerder ten opsigte van
hierdie kaping.
[83] Beskuldigde 5 het selfoonkontak gehad met
beskuldigde 6 op die betrokke dag om 10:06 en weer 10:38. In die lig
veral daarvan
dat die kontak tussen beskuldigde 6 en beskuldigde 5
telkens plaasgevind het binne minute nadat daar kontak was tussen
beskuldigde
6 en 11, is ons nie oortuig daarvan dat die verhoorhof
fouteer het deur beskuldigde 5 op hierdie aanklagte skuldig te bevind
nie.
[84] Dieselfde geld na ons oordeel vir beskuldigde 2,
selfs slegs op die volgende grondslag. Daar was selfoonkontak tussen
beskuldigde
1 en beskuldigde 2 op nie minder nie as 7 geleenthede op
die dag tevore, dit wil sê 27 Junie 2004. Hierdie kontak het
plaasgevind
om 12:05, 13:23, 14:12, 16:55, 18:02, 19:33 en 20:02 en
is aanduidend, in die afwesigheid van enige verduideliking, van
beplanning
van die rooftog wat die volgende dag onder andere deur
beskuldigde 1 uitgevoer sou word. Daar was dan ook selfoonkontak
tussen
beskuldigde 1 en 2 op 28 Junie 2004 om 10:56. Boonop het
beskuldigde 2 op daardie dag om 16:57 ten minste gepoog om per
selfoon
kontak te maak met beskuldigde 3, wie se skuldigbevinding op
hierdie aanklagte nie aangeveg word nie.
[85] Wat betref beskuldigde 4 is die posisie na ons
oordeel egter anders. Die verhoofhof se skuldigbevinding van
beskuldigde 4 op
hierdie aanklagte is daarop gebaseer dat volgens die
betrokke selfoondata beskuldigde 6 hom tesame met beskuldigde 2 op 28
Junie
2004 in die omgewing van Alrode Suid bevind het, dat
beskuldigde 4 hom ook op 28 Junie 2004 te Alrode Suid bevind het, dat
hy op
daardie datum om 16:30 in selfoonkontak was met beskuldigde 11,
asook dat daar deurlopend selfoonkontak was tussen beskuldigde 4
en
beskuldigde 11 op die dag ná die voorval, dit wil sê 29
Junie 2004. Dit blyk uit die betrokke selfoonrekords dat
beskuldigde
6 hom op 28 Junie 2004 om 10:36 te Alrode Suid bevind het terwyl
beskuldigde 2 hom om 13:36 en 14:02 aldaar bevind
het. Beskuldigde 4
was egter vanaf 16:30 tot 16:38 in die omgewing van Alrode Suid.
Beskuldigde 4 het nie selfoonkontak gehad met
beskuldigde 11 om 16:30
op 28 Junie 2004 of op enige tydstip op daardie dag nie en die
verhoorhof het in hierdie verband fouteer.
In die lig hiervan kan nie
van die feit dat daar selfoonkontak tussen beskuldigde 4 en
beskuldigde 11 was by vier geleenthede tussen
13:24 en 13:45 op 29
Junie 2004, selfs
prima facie
afgelei word dat beskuldigde 4
deel was van ‘n sameswering om die onderhawige kaping te pleeg
nie. Dit is gevolglik irrelevant
dat beskuldigde 4 nie getuienis
afgelê het nie.
[86] Dit volg dat die skuldigbevinding van beskuldigde 4
op aanklagte 17 en 18 ter syde gestel moet word maar dat die ander
skuldigbevindings
waarteen geappelleer is bekragtig moet word.
Klagte 19 en 20
[87] Hierdie aanklagte het betrekking op die kaping van
‘n vragmotor op 16 Julie 2004 kort na 14:00 buite Frankfort.
Beskuldigdes
1, 2, 3, 4, 5, 6, 10, 11 en 14 is op hierdie aanklagte
skuldig bevind. Die verhoorhof het bevind dat ‘n selfoon met ‘n
nommer wat eindig in 1911 bewys was betrokke te gewees het by
verskeie van die onderhawige misdrywe. Geriefshalwe word hierna bloot
verwys na nommer 1911. Hierdie bevinding is deur die Hoogste Hof van
Appèl aanvaar in die uitspraak in beskuldigde 14 se
appèl
na daardie hof (
NXUMALO v THE STATE
[2009] ZASCA 113
,
gelewer 23 September 2009). Dit moet dus vir doeleindes vir die
onderhawige aanklagte aanvaar word dat nommer 1911 aandadig was
daaraan. Vir die redes wat volg moet bevind word dat beskuldigde 1,
3, 5 en 14 aan die betrokke rooftog self deelgeneem het en/of
andersins fisies daarby betrokke was.
[88] Beskuldigde 1 het sy selfoon in die omgewing van
die toneel van die misdaad gebruik om 14:22, 14:24, 14:25 en 14:26.
Hy het
daarheen dieselfde roete gevolg as wat die gekaapte vragmotor
gevolg het, naamlik vanuit die rigting van Reitz na Frankfort.
Beskuldigde
1 was per selfoon in kontak met nommer 1911 op 16 Julie
2004 om 11:22, 11:25, 19:22, 19:27 en 22:25.
[89] Die vingerafdruk van beskuldigde 3 is gevind aan
die buitekant van die geroofde vragmotor. Sy verduideliking hiervoor
is deur
die verhoorhof as vals verwerp en daar is geen grondslag om
van hierdie bevinding te verskil nie. Beskuldigde 5 is op 19 Julie
2004 in die Komatipoort omgewing in die geroofde voertuig gevind
terwyl hy die bestuurder daarvan was. Die vragmotor het ‘n
vervalste nommerplaat opgehad en die satelietopsporingstelsel daarin
was opsigtelik verwyder. Insgelyks is daar geen rede of grondslag
om
in te meng met die verhoorhof se verwerping van die weergawe van
beskuldigde 5 nie. Boonop was beskuldigdes 3 en 5 per selfoon
in
kontak met mekaar op 16 Julie 2004 om 19:31, 19:50 en 20:31. Beide
beskuldigde 3 en beskuldigde 5 het beweeg na die Lebombo
en
Komatipoort omgewing. Op 19 Julie 2004 was beide beskuldigdes 3 en 5
in die omgewing van Lebombo, Naas Service Station en Komatipoort,
meermale
gedurende tye wat oorvleuel. Op 19
Julie 2004 was beskuldigde 3 te Naas Service Station tussen 11:23 en
11:29. Beskuldigde 5 was
daar onder andere tussen 10:53 en 11:29.
Gedurende hierdie tyd het ook selfoonkontak tussen beskuldigde 3 en 5
plaasgevind. Beskuldigde
3 en 5 was beide op hierdie datum in die
Komatipoort omgewing en wat betref Lebombo was beskuldigde 3 in
daardie omgewing tussen
20:24 en 20:26 terwyl beskuldigde 5 juis ook
tussen 20:22 en 20:26 in dieselfde omgewing of op dieselfde plek was.
[90] Die Hoogste Hof van Appèl het in die
voormelde uitspraak die bevinding van die verhoofhof dat beskuldigde
14 by of naby
die toneel van die misdaad was op die betrokke tydstip,
bekragtig en bevind dat die enigste redelike afleiding is dat hy self
aan
die pleging van die betrokke misdade deelgeneem het. Beskuldigde
14 is dus, soos beskuldigde 1, direk gekoppel aan die onderhawige
kaping.
[91] Beskuldigde 2 het op die vorige dag, dit wil sê
15 Julie 2004, kontak gehad met beskuldigde 1 om 11:10 en 11:15. Op
die
betrokke datum, 16 Julie 20:04, was daar herhaaldelik
selfoonkontak tussen beskuldigde 2 en beskuldigde 1 te wete om 6:58,
15:02,
15:52, 17:58, 18:10, 18:12, 18:34, 18:49, 19:13 en 19:37.
Beskuldigde 2 was ook in kontak met nommer 1911 op 15 Julie 2004 om
17:43
en 19:04, op 16 Julie 2004 om 20:39 en op 17 Julie 2004 om
07:45, 7:54 en 08:27. Die enigste redelike afleiding wat in al die
omstandighede
van hierdie onverduidelikde kontak gemaak kan word, is
dat beskuldigde 2 kragtens sameswering ‘n deelnemer aan hierdie
misdade
was.
[92] Op sy beurt het beskuldigde 10 op 16 Julie 2004
kontak gehad met beskuldigde 1 by verskeie geleenthede te wete 08:10,
09:52,
14:38, 20:02, 20:03 en 20:04. Beskuldigde 10 het ook met
beskuldigde 2 kontak gehad op 16 Julie 2004 om 11:58 en meermale op
17
Julie 2004 te wete 14:42, 16:08 en 16:11. Ook van hierdie
selfoonkontak moet in die omstandighede as enigste redelike afleiding
bevind word dat beskuldigde 10 skuldig is in hierdie misdrywe.
Duidelikheidshalwe moet gemeld word dat geen afleiding daarvan gemaak
word dat beskuldigde 10 ook na die Lebombo omgewing is in die dae na
16 Julie 2004 nie. Beskuldigde 10 se selfoonrekords toon aan
dat hy
laatmiddag op 16 Julie 2004 via Molopo-oog en Madikwe in die rigting
van Botswana beweeg het en dat hy eers gedurende die
middag van 20
Julie 2004 in die Lebombo omgewing was.
[93] Na ons oordeel is die omstandigheidsgetuienis teen
beskuldigde 11 baie sterk en was die verhoorhof korrek om hom op
hierdie
aanklagte skuldig te bevind. Daar was kontak per selfoon
tussen beskuldigde 11 en beskuldigde 1 op 16 Julie 2004 om
besonderlik
14:46, maar ook 18:18 en 20:06. Daar was op dieselfde
datum herhaalde kontak tussen beskuldigde 11 en beskuldigde 3,
besonderlik
rondom 14:00, naamlik 10:54, 12:14, 14:12, 14:32, 15:07,
15:14 en 19:30. Daar was op 16 Julie 2004 nie minder nie as 21 keer
selfoonkontak
tussen beskuldigde 11 en beskuldigde 5, vanaf 10:55 tot
23:50. Op die volgende dag, 17 Julie 2004, was daar feitlik
aaneenlopende
kontak tussen beskuldigde 11 en beskuldigde 5 en was
daar by meerdere geleenthede kontak tussen beskuldigde 11 en 5 op
beide 18
Julie 2004 en 19 Julie 2004. Daar word hieronder verwys na
die herhaalde kontak op 16 Julie 2004 tussen beskuldigde 11 en
beskuldigde
6. Na die kaping was beskuldigde 5 volgens sy
selfoonrekords te Alrode Suid vanaf 16:07 tot 16:47. Beskuldigde 11
was op sy beurt
op 16 Julie 2004 te Alrode Suid vanaf 16:05 tot
16:42, volgens sy selfoonrekords. In hierdie tydperk was daar by twee
geleenthede
selfoonkontak tussen beskuldigde 11 en beskuldigde 5.
Beskuldigde 11 was in die Komatipoort omgewing op 19 Julie 2004 vanaf
13:00
tot 13:05 en vanaf 13:30 tot 15:00. Dit stem ooreen met die
selfoondata van beskuldigde 3 wat aantoon dat hy op daardie datum te
Komatipoort omgewing was vanaf 13:01 tot 13:39. Beskuldigde 11 was op
19 Junie 2004 te Naas Service Station om 15:36 en 17:59 en
om 20:19
in die Komatipoort omgewing. Dit stem ooreen met die bewegings van
beskuldigde 5 volgens die selfoonrekords, naamlik dat
hy om 20:23 en
vanaf 20:51 tot 21:40 ook te Komatipoort was. In laasgenoemde tydperk
het beskuldigde 5 by vyf geleenthede kontak
gehad met beskuldigde 1.
Beskuldigde 11 was in die Lebombo omgewing op 19 Julie 2004 vanaf
20:14 tot 20:17 en vanaf 20:22 tot 20:26.
Beskuldigde 3 was op
daardie datum in die Lebombo omgewing vanaf 20:24 tot 20:26 en
beskuldigde 5 was daar vanaf 20:22 tot 20:26
en ook om 20:41, toe hy
ook met beskuldigde 1 kontak gehad het. Dit sal onthou word dat die
kaping plaasgevind het op 16 Julie
2004 en dat die vragmotor in besit
van beskuldigde 5 teruggevind is in die Komatipoort/Lebombo omgewing
op 19 Julie 2004. Uit die
voorgaande blyk dat beskuldigde 11
gedurende hierdie tydperk nie net in uitgebreide kontak was met
beskuldigde 5 nie, maar ook
met persone wat bewys is aan die betrokke
misdryf deel te geneem het en/of andersins fisies daarby betrokke te
gewees het, te wete
beskuldigdes 1 en 3.
[94] Beskuldigde 6 was op 16 Julie 2004 in kontak met
beskuldigde 1 om 20:07. Daar was op 16 Julie 2004 kontak tussen
beskuldigde
6 en beskuldigde 3 om 10:38, 21:37 en 22:13. Daar was op
16 Julie 2004 by 30 geleenthede kontak tussen beskuldigde 6 en
beskuldigde
5 tussen 15:12 en 23:09 asook op verskeie geleenthede op
17 Julie 2004 en 18 Julie 2004. Daar was ook kontak tussen
beskuldigde
6 en beskuldigde 11 op 16 Julie 2004 om 12:04, 14:35,
15:20, 15:50, 16:16, 16:39, 16:42, 16:47, 16:48, 16:50 en 16:58. Toe
beskuldigde
5 op 16 Julie 2004 vanaf 16:07 tot 16:47 te Alrode Suid
was, was daar, soos gemeld, by vyf geleenthede kontak tussen
beskuldigde
6 en beskuldigde 5. Insgelyks toe beskuldigde 11 op 16
Julie 2004 vanaf 16:05 tot 16:42 te Alrode Suid was, was daar by twee
geleenthede
kontak tussen beskuldigde 6 en beskuldigde 11.
Beskuldigde 6 self was op daardie datum om 16:58 te Alrode Suid en hy
het aldaar
om 16:58 vir elk van beskuldigde 5 en beskuldigde 11
gekontak. Beskuldigde 6 was op 19 Julie 2004 te die Komatipoort
omgewing vanaf
13:34 tot 14:24. Dit stem ooreen met die
teenwoordigheid van elk van beskuldigde 3 en beskuldigde 11 in
daardie omgewing soos hierbo
uiteengesit. Beskuldigde 6 was op 19
Julie 2004 om 15:00 te die Lebombo omgewing toe hy kontak gemaak met
beskuldigde 11. Beskuldigde
6 was by Naas Service Station op 19 Julie
2004 vanaf 17:50 tot 17:55, wat ooreenstem daarmee dat beskuldigde 5
aldaar was te 17:56.
Op hierdie wyse is daar ook wat betref
beskuldigde 6 ‘n onlosmaaklike web van skuld om hom geweef.
[95] Dit kan weereens egter nie gesê word van
beskuldigde 4 nie. Die verklarings wat beskuldigde 5 buitegeregtelik
gemaak
het tot die effek dat hy deur beskuldigde 4 aangesê was
om die geroofde vragmotor te bestuur, is nie toelaatbare getuienis
teen beskuldigde 4 nie. Dit volg dat die enigste getuienis teen
beskuldigde 4 is dat hy op 18 Julie 2004 vanaf 16:13 tot 16:41
in die
Lebombo en Komatipoort omgewings was. Hierdie getuienis is nie na ons
oordeel voldoende om ‘n
prima facie
saak teen
beskuldigde 4 op hierdie aanklagte uit te maak nie. Boonop blyk uit
beskuldigde 4 se selfoonrekords dat hy op 12 Julie
2004 om 11:30 sy
selfoon te Lebombo gebruik het, maar dat die volgende inskrywing in
sy selfoonrekords juis die een is van 18 Julie
2004 om 16:13 te
Komatipoort. Hieruit behoort afgelei te word dat beskuldigde 4 in die
tydperk tussen die twee gemelde inskrywings
in Mosambiek was. Toe
beskuldigde 4 soos gemeld op 18 Julie 2004 na die Republiek van
Suid-Afrika teruggekeer het, het hy volgens
sy selfoonrekords ook in
die rigting van Gauteng beweeg, wat die teenoorgestelde rigting is
dan wat die ander beskuldigdes gevolg
het, soos reeds uiteengesit.
Dit volg dat die appèl van beskuldigde 4 ook ten aansien van
die skuldigbevindings en vonnisse
op hierdie aanklagte moet slaag.
Klagte 21 en 22
[96] Hierdie aanklagte het betrekking op die roof van ‘n
vragmotor en die persoonlike besittings van die bestuurder daarvan
sowel as die kaping van die bestuurder, wat plaasgevind het op 27
Julie 2004 tussen Memel en Vrede om ongeveer 9:00. Beskuldigdes
1, 2,
6, 11, 14 en 15 is op hierdie aanklagte skuldig bevind. Beskuldigde
14 se skuldigbevindings op hierdie aanklagte is deur
die Hoogste Hof
van Appèl ter syde gestel. Beskuldigde 15 het nie aansoek
gedoen om verlof om te appelleer nie.
[97] Beskuldigde 1 is positief geïdentifiseer deur
die bestuurder van die vragmotor as een van die persone wat aan die
roof
deelgeneem het. Hierdie persoon was vir ongeveer 4 ure
aaneenlopend in helder daglig in die geselskap van beskuldigde 1.
Volgens
die selfoondata van beskuldigde 1 se selfoon wat eindig in
8804 was hy in die omgewing van die misdaadtoneel op die betrokke
datum
en wel vanaf 9:03 tot 12:11. Volgens die selfoonrekords van
nommer 1911 was die betrokke persoon op 27 Julie 2004 in die omgewing
van die misdaadtoneel vanaf 9:13 tot 10:06. Daar was meermale
selfoonkontak tussen beskuldigde 1 en nommer 1911 op 26 Julie 2004
en
27 Julie 2004 was hul in selfoonkontak om 4:58 en 5:18. Na die roof
het beide beweeg na Alrode Suid, beskuldigde 1 was te Alrode
Suid
tussen 15:39 en 15:48 en nommer 1911 was in daardie omgewing tussen
16:09 en 16:14. Daar is dus sterk stawing vir die getuienis
van die
bestuurder van die vragmotor en daar is geen rede hoegenaamd om die
verhoorhof se bevindings dat hierdie getuie se getuienis
geloofwaardig was en dat sy identifikasie van beskuldigde 1
betroubaar was, te bevraagteken nie.
[98] Beskuldigde 11 was op 27 Julie 2004 in
selfoonkontak met nommer 1911 om 14:52, 14:55 en 23:13. Boonop was
beskuldigde 11 in
selfoonkontak met beskuldigde 1 op 26 Julie 2004 om
11:23, 11:38, 16:06, 20:36 en 20:39 en op 28 Julie 2004 om 21:30 en
21:31.
Van hierdie onverduidelikde selfoonkontak met twee persone wat
by die pleging van die onderhawige misdrywe teenwoordig was, moet
bo
redelike twyfel afgelei word dat beskuldigde 11 saamgesweer het om
hierdie misdrywe te pleeg.
[99] Beskuldigde 6 was op sy beurt herhaaldelik in
selfoonkontak met beskuldigde 11. Op 26 Julie 2004 was daar meermale
selfoonkontak
tussen beskuldigde 6 en beskuldigde 11, op 27 Julie
2004 was hul in selfoonkontak om 9:46, 11:40, 12:07, 15:30 en 20:49
en op 28
Julie 2004 was hul insgelyks meermale in selfoonkontak.
Insgelyks moet na ons oordeel in die omstandighede hiervan afgelei
word
dat beskuldigde 6 deel was van ‘n sameswering om die
onderhawige misdrywe te pleeg.
[100] Wat betref beskuldigde 2, steun die respondent
slegs op selfoonkontak tussen beskuldigde 2 en nommer 1911 om 5:24 op
27 Julie
2004. Beskuldigde 2 was gedurende die aand van 26 Julie 2004
ook by twee geleenthede in selfoon kontak met nommer 1911. Selfs met
inagneming hiervan egter, was ‘n antwoord deur beskuldigde 2
nie geverg nie en is sy skuld op hierdie aanklagte nie bo redelike
twyfel bewys nie.
Klagtes 23 en 24
[101] Beskuldigde 1, 3, 11 en 14 is op hierdie klagtes
skuldig bevind. Hierdie klagte betref die roof van ‘n Mercedes
Benz
vragmotor ter waarde van R700 000 by Koppies op 5 Augustus 2004
om ongeveer 7:30 deur drie mans.
[102] Beskuldigde 1 is uitgeken as een van die persone
wat hom beroof het deur die vragmotorbestuurder, Mnr Molefe. Die
verhoorhof
het Mnr Molefe se getuienis aanvaar. Daar is geen
grondslag om met die verhoorhof se bevinding in hierdie verband in te
meng nie.
Inteendeel daar is baie sterk stawing vir die getuienis van
Mnr Molefe. Enersyds word beskuldigde 1 deur middel van sy
selfoonrekords
met die toneel verbind, soos duidelik uiteengesit in
die verhoorhof se uitspraak. Andersyds word beskuldigde 1 verbind
deur middel
van selfoonkontak wat hy op die betrokke datum gehad met
twee persone wat onteenseglik bewys is aandadig is aan die
onderhawige
misdrywe, te wete beskuldige 14 en nommer 1911. Beide
word volgens hulle selfoonrekords met die toneel en met mekaar
verbind. Beskuldigde
14 het nie verlof om te appelleer op hierdie
aanklagte verkry nie. Nommer 1911 het op 7 Augustus 2004 begin om
daardie nommer te
gebruik met die selfoon wat by hierdie geleentheid
geroof is. Beskuldigde 1 en 14 het op 5 Augustus 2004 per selfoon
kontak gehad
om 4:00, 7:42, 9:32, 9:41 en 19:05. Daar was herhaalde
selfoonkontak tussen beskuldigde 1 en nommer 1911 beginnende om 4:07,
herhaaldelik
tussen 8:38 en 9:47 en weer om 21:29. Daar is na ons
oordeel geen twyfel nie dat beskuldigde 1 se skuld op hierdie
aanklagte bewys
is.
[103] Beskuldigde 11 het op 5 Augustus 2004 per selfoon
kontak gehad met beskuldigde 1 om 19:34. Hy het met nommer 1911
kontak gehad
op die betrokke dag om 07:23, 9:40 en 16:43. Hy was op
die betrokke dag na die voorwal te Alrode Suid net soos beskuldigde 1
en
14 asook 1911 en alwaar die betrokke vragmotor ook gevind is. In
die afwesigheid van enige aanvaarbare verduideliking hiervoor is
tereg bevind dat beskuldigde 11 ‘n deelnemer was aan hierdie
misdrywe.
Klagtes 25, 26 en 27
[104] Hier is beskuldigdes 1, 3, 10, 11 en 14 skuldig
bevind.
[105] Die geval betref die gewapende roof van ‘n
Isuzu vragmotor ter waarde van R780 000 en ‘n vrag
rekenaartoerusting
van R15 000 op 5 Augustus 2004 om ongeveer 22:00
naby Kroonstad deur vier mans.
[106] Beskuldigde 1 word deur middel van sy
selfoonrekords met die toneel verbind. Daarvolgens was hy in die
Kroonstad omgewing
tussen 20:57 en 21:59. Die skuldigbevinding van
beskuldigde 14 op hierdie aanklagte staan vas. Hy is met selfoondata
met die toneel
van die misdade verbind, is deur ‘n goeie getuie
geïdentifiseer as een van die rowers en het op dieselfde dag
begin
om ‘n selfoon te gebruik wat by hierdie geleentheid
geroof is. Die Hoogste Hof van Appèl het gevolglik nie verlof
om te appèlleer op hierdie aanklagte aan beskuldigde 14
verleen nie. Beskuldigde 1 het op die betrokke dag kontak gehad met
beskuldigde 14 soos hierbo uiteengesit ten aansien van aanklagte 23
en 24 asook met nommer 1911.
[107] Beskuldigde 11 het op sy beurt met beskuldigde 1
en 1911 kontak gehad soos hierbo uiteengesit ten aansien van
aanklagte 23
en 24. Die verwysing deur die verhoorhof na
selfoonkontak tussen beskuldigde 1 en 11 ook om 20H30 blyk nie korrek
te wees nie.
Soos deur die verhoorhof verduidelik is die afleiding
onweerstaanbaar dat hierdie misdrywe met dieselfde
modus operandi
gepleeg is nadat en as gevolg daarvan dat die vragmotor waarop
aanklagte 23 en 24 betrekking het, onklaar geraak het. In al hierdie
omstandighede kan nie fout gevind word met die skuldigbevinding van
beskuldigde 11 op hierdie aanklagte nie.
[108] In sy uitspraak verwys die verhoorregter by die
bespreking van hierdie klagtes nie na beskuldigde 10 nie, en dit lyk
of die
skuldigbevinding van beskuldigde 10 in par. [195] van die
uitspraak ‘n fout is. Beskuldigde 10 se skuldigbevinding op
klagtes
25, 26 en 27 moet tersyde gestel word. Respondent gee toe.
Klagtes 30 en 31
[109] Beskuldigdes 1, 2 en 11 is op hierdie klagtes
skuldig bevind. Die klagtes betref die roof van ‘n Hino
vragmotor ter
waarde van R265 000 en sleepwa van R80 000 tussen
Heilbron en Sasolburg op 18 Augustus 2004 om ongeveer 12:30 deur drie
mans.
[110] Beskuldigde 1 was volgens sy selfoondata in die
Heilbron omgewing om 11:13. Op die totaliteit van die getuienis en in
die
afwesigheid van ‘n bevredigende verduideliking, is daar bo
redelike twyfel bewys gelewer van beskuldigde 1 se aandadigheid
aan
hierdie misdrywe.
[111] Soos volledig blyk uit die uitspraak van die
verhoorhof is daar met betrekking tot die dag van die voorval ‘n
onlosmaaklike
patroon van selfoondata wat beskuldigdes 1, 2, 11 en
nommer 1911 onderling verbind. Daar was kontak tussen beskuldigde 1
en beskuldigde
2 om 11h13, toe beskuldigde 1 soos voormeld in die
Heilbron omgewing was. Daar was daarna vanaf kort na die voorval om
12:42 verskeie
keer kontak tussen beskuldigde 1 en beskuldigde 2.
Daar was herhaaldelike kontak tussen beskuldigde 1 en nommer 1911,
kort voor,
gedurende en kort na die voorval. Daar was kontak tussen
beskuldigde 2 en nommer 1911 op ‘n gereelde grondslag. Daar was
kontrak tussen beskuldigde 11 en beskuldigde 1 kort voor en kort na
die voorval en ook tussen beskuldigde 11 en nommer 1911 na die
voorval. Al vier het hul na die voorval te Alrode Suid bevind.
[112] Na ons mening bewys die patroon van die
selfoonoproepe, soos uiteengesit in die verhoorhof se uitspraak in
par. [183], die
skuld van beskuldigdes 1, 2 en 11 voldoende en daar
is geen basis om in te meng nie.
Klagtes 32, 33 en 34
[113] Beskuldigdes 1, 2 en 11 is op hierdie klagtes
skuldig bevind. Die voorval behels die gewapende roof van ‘n
Scania vragmotor
en sleepwa ter waarde van R2,5 miljoen tussen
Potchefstroom en Vereeniging op 20 Augustus 2004 om ongeveer 6:50
deur twee mans.
[114] Beskuldigde 1 word met selfoondata in die ongewing
van die toneel van die misdrywe geplaas, soos ook nommer 1911.
Beskuldigde
1 was in daardie omgewing vanaf ongever 6:54 tot ongeveer
8:42. In daardie tydperk was daar herhaalde selfoonkontak tussen
beskuldigde
1 en nommer 1911 sowel as herhaaldelik daarna op
dieselfde dag. Beskuldigde 3 se skuldigbevindings staan vas. Hy is in
die gesteelde
vragmotor gearresteer en sy vingerafdruk is op die
voorste vervalste nommerplaat daarvan gevind. Hy het nie aansoek om
verlof om
te appèlleer gedoen nie. Daar was selfoonkontak op
20 Augustus 2004 tussen beskuldigde 1 en 3 om 13:12, 17:58 en 18:36.
In die omstandighede is ons oortuig daarvan dat beskuldigde 1 tereg
skuldig bevind is op hierdie aanklagte.
[115] Beskuldigde 11 was op die betrokke dag feitlik
deurgaans in selfoonkontak met drie persone wat bewys is aandadig te
gewees
het aan hierdie misdrywe, te wete beskuldigde 1, 3 en nommer
1911. Insiggewend is dat die selfoonkontak op die betrokke dag tussen
beskuldigde 1 en beskuldigde 11 in aanvang neem om 6:59. Ook was
beide beskuldigde 11 en nommer 1911 kort na die roof te Alrode
Suid,
beskuldigde 11 om 8:58 en nommer 1911 om 9:03.
[116] Beskuldigde 2 was op sy beurt op 20 Augustus 2004
in selfoonkontak met beskuldigde 1 om 12:57, 19:01, 23:17, 23:18,
23:40
en 23:45 en met nommer 1911 om 23:54. Daar is geen aanvaarbare
verduideliking vir hierdie selfoonkontak op die dag van die roof
met
persone wat bewys is daaraan deel te gehad het nie. Alhoewel die data
met betrekking tot selfoonkontak in die verhoorhof se
uitspraak op
hierdie aanklagte verstaanbaar nie in alle opsigte heeltemal akkuraat
is nie, is ons nie oortuig daarvan dat die skuldigbevinding
van
beskuldigde 2 foutief is nie.
Klagtes 35 en 36
[117] Beskuldigdes 1, 2 en 11 is op hierdie klagtes
skuldig bevind. Hierdie klagtes betref die gewapende roof van ‘n
Volvo
vragmotor ter waarde van R1 miljoen en sleepwa van R33 000,
tussen Petrus Steyn en Heilbron op 26 Augustus 2004 om ongeveer 19:00
deur drie mans.
[118] Die getuienis teen beskuldigde 1 is verdoemend. Hy
word by wyse van selfoondata met die toneel van die misdade verbind.
Hy
was op die betrokke dag tussen 7:43 en 22:22 herhaaldelik in
selfoonkontak met nommer 1911, wat ook met selfoondata met die toneel
van die roof verbind word. Beskuldigde 1 het dan ook op die volgende
dag begin om die selfoon wat tydens die roof gesteel is, te
gebruik
met sy eie simkaart.
[119] Beskuldigde 2 en 11 was beide op die betrokke dag
by of meer as een geleentheid in selfoonkontak met nommer 1911.
Beskuldigde
2 was ook op beide 25 en 27 Augustus 2004 meermale in
selfoonkontak met beskuldigde 1 en nommer 1911. Beskuldigde 11 was op
25
Augustus 2004 meermale in selfoonkontak met beskuldigde 1 en
nommer 1911 en meermale in selfoonkontrak met beskuldigde 1 op 27
Augustus 2004. Van hierdie onverduidelikde selfoonkontak deur
beskuldigde 2 en 11 was na ons oordeel tereg afgelei dat hul
aandadigheid
aan hierdie misdrywe bo redelike twyfel aangetoon is.
[120] Hier is geen basis om in te meng nie.
Klagtes 37 en 38
[121] Beskuldigdes 1 en 2 is op hierdie klagtes skuldig
bevind. Die klagtes betref die gewapende roof van ‘n Mercedes
Benz
vragmotor ter waarde van R940 000 in Sasolburg op 15 September
2004 om ongeveer 9:00.
[122] Namens beskuldigde 1 betoog Mnr. Van Wyngaard dat
die feit dat beskuldigde 15 die drywer van die gekaapte voertuig was,
nie
beskuldigde 1 se skuldigbevinding bevestig nie, omdat daar geen
telefoniese kontak tussen beskuldigde 1 en beskuldigde 15 was nie.
Wat beskuldigde 2 betref, sê Mnr. Van Rensburg dat geen oproep
tussen beskuldigde 2 en enige ander beskuldigdes onmiddellik
voor of
na die voorval bewys is nie en geen getuienis is aangebied presies
waar die misdaadtoneel was nie. Die verhoorhof bevind
hier:
“
Beskuldigde 1 bevind hom reeds om 07:20 in
die omgewing tussen Heilbron en Sasolburg en so ook in die omgewing
van die toneel omstreeks
09:00. So ook word beskuldigde 2 op die
toneel van die misdaad geplaas deur middel van sy selfoondata.
Beskuldigde 1 het om 12:13
op 16 September 2004 kontak met
beskuldigde 2. Sy eerste selfoon-aktiwiteit op 15 September 2004 is
om 00:125 en daarna 07:00 in
die Parys omgewing waarna dit beweeg in
die rigting van Sasolburg en hy hom om 09:12 te Vaalpark bevind.
Dit blyk dat daar kontak is tussen beskuldigdes 1 en 2 voor en na
hierdie voorval en dat beskuldigdes 1, 2 en 4 hulle na die roof
te
Alrode bevind waarna beskuldigdes 1, 2 en 4 na Lebombo beweeg en
beskuldigde 1 en 2 te Komatipoort op 17 September 2000 deur
die
polisie gearresteer word na uitwysing deur die bestuurder van die
vragmotor wat te Koppies geroof is.”
[123] Die verhoorhof se bevinding dat die getuienis
voldoende was om die skuld van beskuldigdes 1 en 2 te bewys, kan nie
aangeveg
word nie. Die appèl moet op hierdie klagtes afgewys
word.
Klagtes 41, 42 en 43
[124] Beskuldigde 8 is aan diefstal van die geroofde
vragmotor skuldig bevind. Beskuldigde 10 is op hierdie klagte skuldig
bevind
soos aangekla. Die klagtes betref die gewapende roof van ‘n
Mercedes Benz vragmotor en sleepwa ter waarde van R900 000 tussen
Heilbron en Petrus Steyn op 7 Oktober 2004 om onstreeks 13:00.
[125] Beskuldigde 8 was die dag na die voorval in die
geroofde vragmotor gevind en gearresteer en sy verduideliking
daarvoor is
deur die verhoorhof as vals verwerp. Beskuldigde 8 was na
ons oordeel gelukkig om op hierdie aanklagte slegs aan diefstal
skuldig
bevind te word. Beskuldigde 10 was op die betrokke dag, 7
Oktober 2004, in selfoonkontak met beskuldigde 8 voor, tydens en na
die
voorval. Op die volgende dag was beskuldigde 8 en 10 feitlik
deurgaans (± 99 keer) in selfoonkontak met mekaar. Beskuldigde
10 was ook op daardie dag ‘n passasier in ‘n voertuig wat
die geroofde vragmotor vergesel het en in hierdie proses
het
polisiebeamptes waargeneem dat beskuldigde 10 duidelik met sy arm aan
die bestuurder van die geroofde vragmotor aandui om die
voertuig
waarin hy was, te volg. Beskuldigde 10 se verduideliking hiervoor is
tereg as vals verwerp en daar kan geen fout gevind
word met sy
skuldigbevinding op hierdie aanklagte nie.
Klagte 44 en 45
[126] Hierdie aanklagte het betrekking op die kaping van
‘n Mercedes Benz vragmotor en sleepwa wat plaasgevind het op 22
Februarie
2005 by ‘n kruising êrens tussen Vereeniging en
Heidelberg. Beskuldigdes 13 en 16 is op hierdie aanklagte skuldig
bevind.
[127] Namens beskuldigde 13 is betoog dat dit onseker is
wanneer op die betrokke dag en presies waar tussen Vereeniging en
Heidelberg
die roof plaasgevind het. Daar is daarop gewys dat volgens
die getuienis van die vragmotorbestuurder die voorval om ongeveer
7:30
plaasgevind het terwyl die vervolging daarop steun dat dit om
ongeveer 9:30 plaasgevind het. Die tyd van pleging van misdaad as
9:30 op 22 Februarie 2005 is afkomstig van ‘n inskrywing op die
polisiedossier ten aansien van die betrokke voorval. Dat
die betrokke
misdade plaasgevind het, is onbetwis. Dit is duidelik dat die
inskrywing op die polisiedossier meer betroubaar is
dan die blote
geheue van die vragmotorbestuurder etlike jare na die voorval. Dit is
na ons oordeel onnodig om te beslis presies
waar tussen Vereeniging
en Heidelberg die voorval plaasgevind het, aangesien die
vragmotorbestuurder getuig het dat die drie persone
wat die rooftog
self uitgevoer het, nie in die hof teenwoordig was nie en daardie
getuienis kan redelik moontlik waar wees. Vir
die redes wat volg is
ons egter steeds oortuig daarvan dat beskuldigde 13 korrek skuldig
bevind is op hierdie aanklagte.
[128] Beskuldigde 16 is later dieselfde dag te
Komatipoort in besit van die geroofde vragmotor gevind. Ons is nie
daarvan oortuig
dat die verhoorhof fouteer het deur beskuldigde 16 se
verontskuldigende getuienis hieromtrent te verwerp nie. Bowendien
word beskuldigde
16 se skuldigbevinding nie betwis nie, aangesien hy
nie aansoek gedoen het om verlof om te appelleer nie. Dit staan dus
vas dat
beskuldigde 16 ten minste in die uitvoering van ‘n
sameswering aan die betrokke misdrywe deelgeneem het.
[129] ‘n Analise en vergelyking van die
selfoonrekords van beskuldigde 13 en beskuldigde 16 met verwysing na
selfoontorings
in die betrokke gebied, is insiggewend. Beskuldigde 13
was vanaf 8:41 tot 8:46 op 22 Februarie 2005 te Heidelberg Industrial
3.
Om 8:48 was hy by Heidelberg 2. Om 8:54 was hy by Koppieskraal 3
terwyl beskuldigde 16 om 9:00 by Koppieskraal 3 was. Om 9:09 was
beskuldigde 13 by Heidelberg 3, terwyl beskuldigde 16 om 9:24 by
Heidelberg 3 was. Nadat beskuldigde 13 van 9:14 tot 9:18 by
Heidelberg
Industrial 3 was, was hy om 9:22 weer by Koppieskraal 3,
terwyl beskuldigde 16 op sy beurt om 9:25 weer by Koppieskraal 3 was.
Om 9:41 was beskuldigde 16 by Kliprivier 0, terwyl beskuldigde 13 om
9:43 by Kliprivier 0 was. Om 9:46 was daar selfoonkontak tussen
beskuldigde 13 en beskuldigde 16. Die enigste redelike afleiding in
al hierdie omstandighede is dat beskuldigde 13 ten minste as
‘n
samesweerder skuldig is op hierdie aanklagte.
Klagtes 46 en 47
[130] Beskuldigdes 7 en 11 is op hierdie klagtes skuldig
bevind. Die voorval betref die gewapende roof van ‘n Mercedes
Benz
vragmotor van R1 miljoen met twee sleepwaens ter waarde van R331
000 en ‘n vrag rys met ‘n waarde van R113 585.
[131] Die voorval het plaasgevind op die pad tussen Paul
Roux en Senekal op 26 Februarie 2005 om ongeveer 11:30. Beskuldigde 7
word
met altwee die selfoonnommers wat bewys is aan hom te behoort,
op die toneel van die misdrywe geplaas. Beskuldigde 7 het sy
selfoonnommer
wat eindig in 7600 op 26 Februarie 2005 in die Paul
Roux omgewing gebruik vanaf 9:53 tot 13:21 en het gedurende daardie
tydperk
9 oproepe gemaak. Met sy selfoonnommer wat eindig in 7582 het
beskuldigde 7 vanaf 9:48 tot 13:14 in die Paul Roux/Senekal omgewing
20 oproepe gemaak. Beskuldigde 7 het verkies om geen getuienis af te
lê nie.
[132] Beskuldigde 11 word by die pleging van hierdie
misdrywe betrek by wyse van sy selfoonkontak met beskuldigde 7.
Beskuldigde
7 en 11 was met elk van beskuldigde 7 se voorgemelde
selfoonnommers by altesame nege geleenthede op die dag van die
voorval in
verbinding met mekaar. In die afwesigheid van ‘n
verduideliking hiervoor kan daar nie fout gevind word met die
skuldigbevinding
van beskuldigde 11 op hierdie aanklagte nie.
Klagte 53
[133] Van die appellante is beskuldigdes 1, 2, 4, 6, 10
en 11 is op hierdie klagte skuldig bevind. Die klagte handel met
lidmaatskap
van ‘n kriminele bende – artikel 9(1)(a) en
9(2)(a) Wet 121 van 1998. Die beskuldigdes se skuld op hierdie klagte
word
bewys deur hul skuldigbevindings op die ander klagtes. Omdat al
die skuldigbevindings van beskuldigde 4 tersyde gestel word, moet
sy
skuldigbevinding op klagte 53 ook wegval.
[134] Gevolglik moet die skuldigbevindings en vonnisse
van beskuldigde 2 op aanklagte 21 en 22 ter syde gestel word. Die
appèl
van beskuldigde 4 slaag ten volle. Al die
skuldigbevindings wat ten opsigte van beskuldigde 4 gemaak is, dit
wil sê op aanklagte
17, 18, 19, 20 en 53, sowel as die vonnisse
daarvoor opgelê, moet dus ter syde gestel word. Die appèl
van beskuldigde
10 slaag ten opsigte van die skuldigbevindings en
vonnisse op aanklagte 25, 26 en 27. Al die ander appèlle teen
skuldigbevindings
moet afgewys word.
[135] Na ons oordeel regverdig die tersydestelling van
die vonnisse van beskuldigde 2 en 10 soos hierbo vermeld, nie enige
verandering
van die effektiewe vonnisse aan hulle opgelê nie.
Wat die vonnisse origens aan betref is dit geykte reg dat
vonnisoplegging
in die diskresie van die verhoorhof lê en dat
‘n hof van Appèl met die uitoefening van daardie
diskresie slegs
kan inmeng indien dit deur wesenlike wanvoorligting
geraak is of indien die opgelegde vonnisse treffend onvanpas is. Daar
is geen
sodanige wanvoorligting ter sprake nie. Die opgelegde
vonnisse en besonderlik die effektiewe vonnisse is na ons oordeel
geensins
treffend onvanpas nie maar die resultaat van deeglike en
gebalanseerde oorweging van al die omstandighede.
[136] Gevolglik word die volgende bevele verleen:
Die skuldigbevindings van beskuldigde 2 op aanklagte 21
en 22 en die vonnisse op daardie aanklagte opgelê, word ter
syde
gestel.
Die skuldigbevindings van beskuldigde 4 op al die
aanklagte waaraan hy skuldig bevind is, te wete aanklagte 17, 18,
19, 20 en
53 en al die vonnisse aan hom opgelê, word ter syde
gestel.
Die skuldigbevindings van beskuldigde 10 op aanklagte
25, 26 en 27 en die vonnisse daarvoor opgelê, word ter syde
gestel.
Behalwe soos hierbo uiteengesit, word die appèlle
van die hand gewys en die skuldigbevindings, vonnisse en effektiewe
vonnisse
bekragtig.
____________
KRUGER, R
Ek stem saam.
________________________
C.H.G. VAN DER MERWE, R
Ek stem saam.
___________
C.J. MUSI, R
Namens
die Staat: Adv. C. Steyn
Namens
beskuldigdes 1 en 10: Adv. M. Van Wyngaard
Namens
beskuldigdes 2, 4, 5, 6 en 11: Adv. T.B. van Rensburg
Namens
beskuldigdes 7 en 13: Adv. H. J. Potgieter
/eb/sp