About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2012
>>
[2012] ZAFSHC 110
|
|
Claasen and Another v S (A20/2012) [2012] ZAFSHC 110 (7 June 2012)
VRYSTAATSE HOË
HOF, BLOEMFONTEIN
REPUBLIEK VAN
SUID-AFRIKA
Saak nommer. : A20/2012
In
die appèl tussen:
A
J CLAASSEN
.............................................................
Eerste
Appellant
P
W CLAASSEN
.........................................................
Tweede
Appellant
en
DIE STAAT
...........................................................................
Respondent
_____________________________________________________
CORAM:
HANCKE, WND RP
et
SNELLENBURG, WND R
_____________________________________________________
UITSPRAAK:
HANCKE, WND RP
AANGEHOOR OP:
4 JUNIE 2012
_____________________________________________________
GELEWER OP:
7 JUNIE 2012
[1] Die appellante is
ondanks hulle pleit van onskuldig skuldig bevind aan aanranding en
gevonnis tot 5 maande gevangenisstraf,
welke vonnis opgeskort is vir
‘n tydperk van 5 jaar op voorwaarde dat hulle nie weer skuldig
bevind word aan aanranding,
of aanranding gepleeg gedurende die
opskortingstydperk nie. Appellante is ook beveel om die klaer te
vergoed vir sy bril wat vervang
moes word en om ‘n program te
voltooi vir beheer van aggressie. Beide appellante is onbevoeg
verklaar om vuurwapens te besit.
[2] Nadat die
Verhoorlanddros verlof tot appèl geweier het, het die
appellante ‘n aansoek gerig om te petisioneer.
Eerste appellant
het verlof gekry om te appelleer teen haar skuldigbevind en vonnis,
terwyl die tweede appellant slegs verlof gekry
het ten aansien van sy
vonnis.
[3] Die staatsaak is
gebasseer op die enkelgetuienis van die klaer Mnr Robert Lotz, die
bestuurder by die Erfenisdam Natuurreservaat.
Hy het getuig dat hy
die afgelope 15 jaar aldaar werksaam is en dat op 7 Februarie 2010 hy
wakker geword het as gevolg van die
honde se geblaf. Hy het opgestaan
en by die voordeur het hy twee jong manne gewaar wat hom meegedeel
het dat hulle wil uitgaan
en dat die hek gesluit was. Klaer het hulle
meegedeel dat die hek 9 uur sluit en indien hulle wil uitgaan hulle
oornagfooie sou
moes betaal aangesien dit die reëls was. Klaer
het toe agter hulle aangery na die hek waar hy nog voertuie aangetref
het.
Hy het uitgeklim met sy notaboekie waarin hy gewoonlik die
voertuie se registrasienommers neergeskrywe sodat daar bewys is vir
die hekwag.
[4] Daar het ‘n
paar mense aan sy linkerkant gestaan by die voertuie, waarna die ouer
persoon met die snor na hom toe gekom
het en vir hom gesê het
hy moet die hek vir hulle oopmaak. Hy het aan hulle probeer
verduidelik dat dit nie so werk nie aangesien
hulle na 9nm nog steeds
binne is en dat hulle oornagfooie moet betaal anders kan hy nie die
hek oopmaak nie. Die persoon het sy
humeur begin verloor en aan klaer
geruk en gepluk. Intussen het sy vrou ook nader gekom en sy heeltyd
op klaer geskree en gevloek.
Aangesien hy besef het dat dit nie sal
help om met hulle te redeneer nie, het hy hulle meegedeel dat hy die
polisie sal ontbied
om die probleem uit te sorteer. Hierop het hy
omgedraai en terugbeweeg na sy voertuig toe waarop die man vir getuie
van agteraf
gegryp het en hom op sy kop en op die nek geslaan het.
Terwyl hy daarmee besig was het die vrou verby gehardloop na die
bakkie
toe en het die sleutels uit klaer se bakkie getrek. Hy het
haar hand gegryp om haar te probeer keer om die bakkie-sleutels te
neem
waarna die man hom van agteraf aan die kraag teruggeruk het.
[5] Klaer getuig dat hy
gesien het dat hy homself sal moet verdedig en het hy ‘n hou na
die man geslaan waarna die vrou op
hom afgestorm het en het getuie
ook ‘n hou na haar geslaan. Hierop het iemand sy hande van
agteraf vasgegryp en daarna het
die man hom twee houe in die gesig
geslaan en die vrou het hom ook een hou geslaan. Klaer het haar gevra
om sy sleutels aan hom
terug te besorg waarop sy geweier het en gesê
het hy moet die hekke oopmaak. Hierna het die klaer teruggeloop na sy
huis
toe wat sowat 1km van die hek af is. By die huis aangekom het hy
die polisie gebel, daarna sy bakkie se spaarsleutels geneem en
teruggeloop na die hek toe. Op ‘n stadium het hy sy voertuig se
sirene gehoor afgaan en toe hy terug is by die hek het die
hek
oopgestaan en al die voertuie het reeds weggery.
[6] Klaer getuig dat die
man met die snor die tweede appellant is terwyl die vrou die eerste
appellant was. Volgens hom was tweede
appellant redelik aggressief
gewees, hy het onmiddellik vir klaer gesê hy moet die hek
oopmaak anders is daar moeilikheid
en het hy onmiddellik aan klaer se
kleure begin ruk en pluk. Die vrou, eerste appellant, het heeltyd op
hom geskree en ook op hom
gevloek.
[7] Hy getuig dat terwyl
hy vasgehou is het tweede appellant hom twee houe in sy gesig geslaan
en het eerste appellant hom een keer
in die gesig geslaan, aan die
kant van sy gesig. In die proses het hy ‘n sny op sy lip gehad
wat oopgesny was en sy oog en
wang was gekneus gewees, sy bril was
van sy gesig afgeslaan en kon hy nie sy bril kry nie. Hy het sy
dokter gebel wat uitgekom
het en die moes steke in sy lip insit.
Verder het hy ook kneusplekke agter op sy kop gehad asook twee groot
knoppe. Tydens die
verhoor het hy herstel van sy beserings behalwe
dat daar op die lip nog ‘n knop binne-in was.
[8] Wat die
skuldigbevinding van die eerste appellant betref, het Mnr Oberholzer
betoog dat die klaer nie die toets van ‘n
enkelgetuie geslaag
het nie, as gevolg van teenstrydighede in sy weergawe. In hierdie
verband het hy daarop gesteun dat die klaer
homself weerspreek het
deur te getuig dat eerste appellant hom geslaan het, terwyl dit blyk
dat hy net ‘n afleiding in hierdie
verband gemaak het. Dit is
egter nie noodwendig ‘n weerspreking nie want die klaer getuig
dat die eerste appellant op hom
afgestorm het waarna hy ‘n hou
gevoel het. Die afleiding is dus onafwendbaar dat die eerste
appellant inderwaarheid geweld
ten opsigte van die klaer toegepas
het. As die klaer ‘n oneerlike getuie was wat sy saak wou
versterk, sou ‘n mens
verwag het dat hy sou getuig het dat hy
gesien het hoe die eerste appellant hom geslaan het.
[9] Mnr Pienaar het
namens die respondent betoog dat dit duidelik is dat die Landdros
deurgaans die versigtigheidsreël in gedagte
gehou het. Ook is
dit van belang om daarop te let dat daar verskeie aspekte was ten
opsigte waarvan die klaer nie ‘n enkelgetuie
was nie. Die
korrekte benadering is om ook die getuienis in die totaliteit te
beoordeel:
“
The proper
approach in a criminal case is to consider the totality of the
evidence, that is to say, to examine the nature of the
State case,
the nature of the defence case, the probabilities emerging from the
case as a whole, the credibility of all the witnesses
in the case
including the defence witnesses, and then to ask oneself at the end
of all this whether the guilt of an accused has
been established
beyond reasonable doubt.” (Leon, J in
S
v MATTIODA
1973
(1) PH H 24 (N);).
[10] Die waarskynlikhede
is na my mening oorweldigend in die guns van die klaer se weergawe.
Hoekom sou hy, soos wat hy inderwaarheid
getuig het, opgestaan het om
hulle te gaan help, en dan eerste begin slaan aan die eerste en
tweede appellante, wie se geselskap
bestaan het uit ‘n oormag
van ses tot sewe mense?
[11] Daarteenoor bevat
die weergawe van die appellante inherente onwaarskynlikhede,
weersprekings en was dit onbevredigend in verskeie
opsigte. Hulle
verweer van noodweer en noodtoestand is dus nie houdbaar nie.
[12] Indien die getuienis
in die totaliteit beoordeel word, blyk dit duidelik dat die eerste
appellant ‘n belangrike rol gespeel
het tydens hierdie
onderonsie. Volgens die tweede appellant was sy dan ook die persoon
wat die meeste gepraat het. In die omstandighede
is dit dus duidelik
dat die twee appellante saam opgetree het, dat afgesien van die hou
wat die eerste appellant die klaer toegedien
het, sy haar
onteenseglik vereenselwig het met die optrede van die tweede
appellant, wat die klaer twee houe geslaan het.
[13] In die omstandighede
is ek tevrede dat die staat sy saak bo redelike twyfel bewys het en
dat die Landdros se bevinding dus
die korrekte een was.
[14] Wat vonnis betref,
is die appellante elk 5 maande gevangenisstraf opgelê, sonder
om dit te koppel aan die keuse van ‘n
boete-betaling, alhoewel
die vonnis in die geheel opgeskort is. Die vraag ontstaan of artikel
103 van die Wet op Beheer van Vuurwapens,
no. 60 van 2000, wat handel
met “
Verklaring deur hof van persoon as onbevoeg om
vuurwapen te besit,”
Dit lui onder andere soos volg:
“
(1)
Tensy die hof anders bepaal, word ‘n persoon onbevoeg om ‘n
vuurwapen te besit indien skuldig bevind aan –
....
(g) enige misdryf
waarby geweld, seksuele mishandeling of oneerlikheid betrokke is en
waarvoor die beskuldigde gevonnis is tot ‘n
tydperk
gevangenisstraf sonder die keuse van ‘n boete.”
[15] Dit volg dus dat die
appellante ‘n vonnis opgelê is sonder die keuse van ‘n
boete, met die gevolg dat artikel
103(1)(g) van gemelde Wet van
toepassing is. Die resultaat hiervan is dat die appellante outomaties
onbevoeg is om ‘n vuurwapen
te besit tensy die hof anders
bepaal, wat in teenstelling is met die bepalings van artikel 103(2),
alwaar die onbevoegdheid eers
intree nadat die hof aldus gelas het.
[16] Ondanks die laakbare
optrede van die appellante, is dit egter nie van so aard dat hulle ‘n
vonnis van gevangenisstraf
sonder die keuse van ‘n boete opgelê
behoort te word nie. Dit is belangrik om daarop te let dat die klaer
tydens die
verhoor, wat plaasgevind het twee tot drie maande na die
voorval, heeltemal van sy beserings herstel het. Die effek van die
gewysigde
vonnis is dat artikel 103(1) van gemelde Wet nie van
toepassing is nie en bestaan daar nie gegronde redes waarom die
appellante
onbevoeg verklaar moet word om ‘n vuurwapen te besit
nie, veral in die lig van die feit dat hulle ‘n winkel besit en
bedryf en dat appellante aldaar by twee geleenthede beroof was.
[17] Verder blyk dit ook
dat alhoewel ‘n vuurwapen binne bereik van die tweede appellant
was, hy geensins gepoog het om daarvan
tydens die voorval gebruik te
maak nie. Die gedeelte van hulle vonnis dat hulle onbevoeg verklaar
word om vuurwapens te besit,
moet dus ook geskrap word. Ek is egter
van mening dat die vergoedingsbevel wat die Landdros uitgereik het,
asook om ‘n program
te voltooi vir beheer van aggressie
geregverdig is. Laasgenoemde program moet onverwyld aangepak en
spoedig afgehandel word.
[18] Bygevolg word die
volgende bevele gemaak:
(a) Die eerste appellant
se appèl ten opsigte van skuldigbevinding misluk en word die
skuldigbevinding bekragtig.
(b) Beide appellante se
appèlle ten opsigte van vonnis slaag tot die volgende mate:
1. Die oplegging van
slegs gevangenisstraf word geskrap en vervang met ‘n boete van
R1000,00 of 5 maande gevangenisstraf.
2. Die Landdros se bevel
dat die appellante onbevoeg is om vuurwapens te besit, word tersyde
gestel.
3. Origens word die
vonnis bekragtig wat insluit die opskorting van die vonnis in die
geheel asook die voorwaardes wat daaraan gekoppel
is.
_______________________
S. P. B. HANCKE, WND
RP
Ek stem saam.
______________________
N. SNELLENBURG, AJ
Namens die appellante:
Adv. C. B. Oberholzer
In opdrag van:
Bezuidenhouts Ing.
BLOEMFONTEIN
Namens die respondent:
Adv. F. J. Pienaar
In opdrag van:
Die Kantoor van die
Direkteur:
Openbare Vervolgings
BLOEMFONTEIN
/eb