Seboko v S (A36/2011) [2012] ZAFSHC 100 (21 May 2012)

65 Reportability
Criminal Law

Brief Summary

Criminal Law — Sentencing — Minimum sentences — Appellant convicted of housebreaking with intent to steal, illegal possession of a firearm, and illegal possession of ammunition — Appellant initially pleaded guilty but later changed plea to not guilty while admitting essential elements of charges — Court erred in considering minimum sentence of 15 years for illegal possession of firearm when no reference to such minimum was made in charge sheet or during guilty plea — Sentences imposed found to be shockingly inappropriate — Appeal upheld, original sentences set aside and replaced with reduced sentences of 5 years for housebreaking and 3 years for illegal possession of firearm and ammunition, to run concurrently.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2012
>>
[2012] ZAFSHC 100
|

|

Seboko v S (A36/2011) [2012] ZAFSHC 100 (21 May 2012)

VRYSTAAT
HOË HOF, BLOEMFONTEIN
REPUBLIEK
VAN SUID-AFRIKA
Appélnommer :
A36/2011
In
die appél tussen:-
PUTSOANE JOSEPH
SEBOKO
...............................................
Appellant
en
DIE STAAT
.
..........................................................................
Respondent
_____________________________________________________
CORAM:
VAN
ZYL, R
et
MATHEBULA, WND R
UITSPRAAK DEUR:
VAN ZYL, R
_____________________________________________________
GELEWER OP:
21 MEI 2012
_____________________________________________________
[1] Appellant het in die
Streekhof, Senekal, tereggestaan op drie aanklagte, synde:
Aanklag 1, huisbraak
met die opset om te steel en diefstal, deurdat dit beweer is dat
appellant op of omtrent 7 November 2008
wederregtelik en opsetlik
die huis van Buti Lekitlane oopgebreek of oopgemaak het met die
opset om die goed daarin te steel
en toe daar wederregtelik en 1 x
9mm Pietro Beretta pistool, 18 x 9mm patroonrondtes en 2 x Bells
Whiskey, die eiendom of in
die regmatige besit van Buti Lekitlane,
gesteel het.
Onwettige besit van ‘n
vuurwapen, deurdat dit beweer is dat appellant op of omtrent 7
November 2008 tot 10 November 2008
wederregtelik in besit was van
bogemelde pistool.
Onwettige besit van
ammunisie, deurdat dit beweer is dat appellant op of omtrent 7
November 2008 tot 10 November 2008 wederregtelik
in besit was van
bogemelde patroonrondtes.
[2] Appellant het
regsverteenwoordiging geniet in die hof
a quo
. Hoewel
appellant aanvanklik skuldig gepleit het, het sy regsverteenwoordiger
aangedui dat die pleit nie ooreenkomstig sy instruksies
is nie,
waarop hy ‘n kort konsultasie met appellant gehad het. Daarna
het appellant aangedui dat hy onskuldig pleit, maar
het sy
regsverteenwoordiger aangedui dat appellant wel sekere erkennings in
terme van Artikel 115(2)(b) van die Strafproseswet,
Wet 51 van 1977,
wens te maak, welke erkennings as formele erkennings genotuleer kan
word ooreenkomstig die bepalings van Artikel
220 van voormelde Wet.
Ingevolge hierdie formele erkennings, het appellant die wesenlike
elemente van elk van die drie aanklagte
erken. Appellant het egter
beweer dat hy die misdrywe gepleeg het aangesien die klaer aan hom
die bedrag van R3 000-00 geskuld
het vir ‘n selfoon wat
appellant aan die klaer verkoop het. Na aanleiding van voormelde
formele erkennings het die Staat
sy saak gesluit. Daarna het
appellant ook sy saak gesluit.
[3] Voortspruitend uit
die formele erkennings wat appellant gemaak het, is appellant
daaropvolgend skuldig bevind op al drie aanklagte.
Daarna is
appellant ten opsigte van aanklag 1 gevonnis tot agt (8) jaar
gevangenisstraf. Aanklagte 2 en 3 is saamgeneem vir doeleindes
van
vonnis en is appellant ten opsigte daarvan ook gevonnis tot agt (8)
jaar gevangenisstraf. Die verhoorhof het gelas dat die
opgelegde
vonnisse samelopend uitgedien moet word.
[4] Appellant het by die
verhoorhof aansoek gedoen om verlof om teen die opgelegde vonnisse te
appelleer, maar is die aansoek van
die hand gewys. Appellant het
daarop ‘n petisie tot hierdie hof gerig waarin hy aansoek
gedoen het om verlof om teen die
opgelegde vonnisste appelleer.
Hierdie petisie is aldus toegestaan en is die onderhawige appèl
dus slegs teen die opgelegde
vonnisse gerig.
[5] Mnr Pretorius, wie
die betoogshoofde namens appellant opgestel het, het in sy
betoogshoofde uitgewys dat die klagstaat nie enige
verwysing na die
voorgeskrewe minimum vonnis in terme van die Strafregwysigingswet,
Wet 105 van 1997 (hierinlater na verwys as
“die
Strafregwysigingswet”), ten opsigte van aanklag 2, bevat nie.
Daar was ook geen verwysing daarna ten tyde van
die uitspraak ten
opsigte van die skuldigbevindings nie en het die verhoorhof die
eerste keer daarna verwys ten tyde van die aanhoor
van die betoë
wat betref vonnisoplegging. Mnr Pretorius het aan die hand gedoen dat
dit ‘n onreëlmatigheid daarstel
en moes die verhoorhof
onder die omstandighede die oorweging van ‘n gepaste vonnis
benader het asof daar nie ‘n voorgeskrewe
minimum vonnis is
nie. Mnr van der Merwe, wie namens appellant ten tyde van die
beregting van die appèl verskyn het, het
laasgenoemde betoog
herhaal. Hy het aan die hand gedoen dat aangesien dit uit die
uitspraak ten opsigte van vonnis blyk dat die
verhoorhof ‘n
voorgeskrewe minimum vonnis van vyftien (15) jaar gevangenisstraf ten
opsigte van aanklag 2 as vertrekpunt
gebruik het, die hof misgetas
het wat dit betref, met die resultaat dat ‘n vonnis opgelê
is wat skokkend swaar en onvanpas
is.
Mnr Mthethwa, namens die
Staat, het tereg toegegee dat die verhoorhof onder die omstandighede
fouteer en misgetas het deur die oorweging
van ‘n gepaste
vonnis ten opsigte van aanklag 2 te oorweeg op die basis dat daar ‘n
voorgeskrewe minimum vonnis van
vyftien (15) jaar gevangenisstraf is.
Hy het dus toegegee dat die opgelegde vonnis van agt jaar
gevangenisstraf ten opsigte van
aanklagte 2 en 3, skokkend swaar en
onvanpas is.
[6] Wanneer die oorkonde
bestudeer word, is dit duidelik dat die klagstaat inderdaad geen
verwysing na enige voorgeskrewe minimum
vonnis in terme van die
Strafregwysigingswet bevat nie. Daar is ook geen melding daarvan
gemaak ten tyde van die uitspraak wat
die skuldigbevinding betref
nie. Dit is die eerste keer ten tyde van die betoë met
betrekking tot vonnis vermeld. Dit is nou
deur regspraak deur die
Hoogste Hof van Appél vasgelê dat onder sodanige
omstandighede ‘n verhoorhof die oorweging
van ‘n gepaste
vonnis moet oorweeg asof daar geen voorgeskrewe minimum vonnis ten
opsigte van die tersaaklike oortreding
bestaan nie. Sien
S v
NDLOVU
2003 (1) SASV 331 (SCA). In die onderhawige geval het die
verhoorhof dus duidelik fouteer deur die oorweging van ‘n
gepaste
vonnis ten opsigte van aanklag 2 te benader op die basis dat
‘n voorgeskrewe minimum vonnis van vyftien (15) jaar
gevangenisstraf
van toepassing is. Hierdie foutering is voortgesit in
die verhoorhof se oorweging van die aansoek om verlof om te
appelleer, waar
dit duidelik weereens verkeerdelik die verhoorhof se
beslissing beïnvloed het.
[7] Addisioneel tot
voormelde, het Mnr van der Merwe ook tereg uitgewys en betoog dat
daar ‘n verdere mistasting deur die
verhoorhof begaan is,
deurdat die onus op die Staat gerus het om te bewys dat die pistool
hierin ter sprake inderdaad ‘n
semi-outomatiese vuurwapen is
wat in werkende toestand verkeer. Die Staat se versuim om dit te
bewys is ‘n verdere rede waarom
die verhoorhof nie geregtig was
om die vonnis te oorweeg op die basis van ‘n voorgeskrewe
minimum vonnis van vyftien (15)
jaar gevangenisstraf nie.
[8] Voormelde mistastings
het derhalwe tot gevolg dat ons as Hof van Appél opnuut kan
oorweeg wat ‘n gepaste vonnis
ten opsigte van aanklagte 2 en 3
is.
[9] Wat betref die agt
(8) jaar gevangenisstraf met betrekking tot die aanklag van huisbraak
met die opset om te steel en diefstal,
het Mnr van der Merwe betoog
dat gegewe die persoonlike omstandighede van appellant en die
versagtende faktore hier aanwesig, die
vonnis skokkend swaar en
onvanpas is. Hoewel Mnr Pretorius in die betoogshoofde aan die hand
gedoen het dat ses (6) jaar gevangenisstraf
‘n gepaste vonnis
is, het Mnr van der Merwe betoog dat vyf (5) jaar gevangenisstraf ‘n
meer gepaste vonnis sal wees.
[10] Daar is ‘n
verdere aspek wat na my mening oorweeg moet word by die beslissing
van hierdie appèl. Dit blyk uit
die oorkonde dat die
verhoorhof, op eie inisiatief, onmiddellik voor vonnisoplegging die
klaer as getuie geroep het. Op vrae deur
die hof aan die klaer
gestel, het hy getuig dat hy nie enige selfoon van appellant gekoop
het nie en het hy dus ontken dat hy enige
geld aan appellant
verskuldig is. Dit het tot gevolg gehad dat die verhoorhof by sy
oorweging van ‘n gepaste vonnis die aangeleentheid
hanteer het
op die basis dat daar inderdaad geen transaksies tussen appellant en
die klaer plaasgevind het soos deur appellant
beweer nie en dat hy
dus die misdrywe, in besonder wat aanklag 1 betref, uit “
greed

gepleeg het.
[11] Na my mening stel
bogemelde werkswyse van die verhoorhof ‘n onreëlmatigheid
daar. Waar die Staat in die onderhawige
geval sy saak gesluit het
voortspruitend uit appellant se pleitverduideliking en die formele
erkennings deur hom gemaak, het dit
tot gevolg dat appellant se
bewering dat die klaer aan hom geld verskuldig was, onbetwis gestaan
het en aldus deur die hof aanvaar
moes word. Die prosedure om die
klaer voor vonnisoplegging as getuie te roep en dan getuienis wat die
klaer aanbied wat teenstrydig
was met die weergawe van die appellant
te aanvaar en appellant se weergawe te verwerp, is onreëlmatig.
Die verhoorhof (en
die Staat) was gebonde, onder hierdie
omstandighede, aan die inhoud van appellant se pleitverduideliking.
Toe ek ten tyde van die
argumentering van die appèl hierdie
aspek aan beide Mnre van der Merwe en Mthethwa geopper het, het beide
van hul betoog
en toegegee dat die verhoorhof se bevinding
hieromtrent ‘n onreëlmatigheid daarstel, wat tot gevolg
gehad het dat hy
die klaer se getuienis in die verband verkeerdelik
ten koste van appellant in oorweging geneem het by die oorweging van
‘n
gepaste vonnis. Voortspruitend uit sy toegewing het Mnr
Mthethwa dan aan die hand gedoen dat ses (6) jaar gevangenisstraf ‘n

gepaste vonnis ten opsigte van aanklag 1 is.
[12] Wat appellant se
persoonlike omstandighede betref, blyk dit dat hy 23 jaar oud was,
ongetroud en met geen kinders. Hy het Graad
10 op skool geslaag. Hy
was woonagtig saam met sy moeder en sy twee jonger broers.
Onmiddellik voor die voorval het appellant stukwerk
verrig ten
opsigte waarvan hy R1 700-00 per maand verdien het.
Wat na my mening
strafversagtend ten gunste van appellant inwerk, is die feit dat hy
in wese skuldig gepleit het, wat aanduidend
is daarvan dat hy
verantwoordelikheid vir sy dade aanvaar en daardeur ook berou toon.
Verder is hy ‘n algeheel eerste oortreder
en was hy ook 6
maande verhoorafwagtend.
[13] Teenoor voormelde
versagtende faktore, is dit wel so, soos ook deur die verhoorhof in
sy uitspraak uitgewys, dat hierdie misdrywe
ernstige misdrywe is wat
hoogty vier deur die hele land. Veral wat aanklag 1 betref, is lede
van die gemeenskap geregtig daarop
om te verwag dat ander persone hul
privaatheid en eiendom sal respekteer, wat nie gedoen word wanneer ‘n
persoon huisbraak
met die opset om te steel en diefstal pleeg nie.
Addisioneel tot
laasgenoemde, is ek ook van mening dat die feit dat appellant juis ‘n
vuurwapen en ammunisie gesteel het ten
tyde van aanklag 1, ook
strafverswarend inwerk ten opsigte van aanklag 1, vanweë die
feit dat misdrywe waarby gesteelde vuurwapens
en ammunisie gebruik
word hoogty vier en dikwels aanleiding gee tot die pleging van baie
ernstige ander misdrywe. Terselfdertyd
hou ek egter voor oë dat
in die onderhawige geval die vuurwapen en ammunisie nie gebruik was
by die pleging van ander of verdere
misdrywe nie.
[14] Na ‘n deeglike
en gebalanseerde oorweging van al die relevante feite en
omstandighede, in besonder wat betref die drie
elemente van
strafoplegging, is ek van mening dat die onderstaande vonnisse
gepaste vonnisse is in hierdie omstandighede.
[15] Gevolglik slaag
appellant se appèl teen die opgelegde vonnisse, die opgelegde
vonnisse word tersyde gestel en vervang
met die volgende:
Ten opsigte van aanklag
1, word appellant gevonnis tot vyf (5) jaar gevangenisstraf.
Aanklagte 2 en 3 word
saamgeneem vir doeleindes van vonnis en word appellant gevonnis tot
drie (3) jaar gevangenisstraf.
Dit word gelas dat
voormelde vonnisse samelopend uitgedien moet word.
Dit word voorts gelas
dat voormelde vonnisse geag moet word opgelê te gewees het op
13 Mei 2009.
___________________
C. VAN ZYL, R
Ek stem saam:
______________________
M.A. MATHEBULA, WND R
Namens die Appellant: Mnr
P. van der Merwe
In opdrag van:
Regssentrum
BLOEMFONTEIN
Namens die Respondent:
Adv S. Mthethwa
In opdrag van:
Direkteur van Openbare
Vervolgings
BLOEMFONTEIN