About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2012
>>
[2012] ZAFSHC 99
|
|
Mogotsi v S (A115/2011) [2012] ZAFSHC 99 (21 May 2012)
VRYSTAAT
HOË HOF, BLOEMFONTEIN
REPUBLIEK
VAN SUID-AFRIKA
Appélnommer :
A115/2011
In
die appél tussen:-
MOLTLHEGI DANIëL
MOGOTSI
..............................................
Appellant
en
DIE STAAT
...........................................................................
Respondent
CORAM:
VAN
ZYL, R
et
MATHEBULA, WND R
UITSPRAAK DEUR:
VAN ZYL, R
_____________________________________________________
GELEWER OP:
21 MEI 2012
_____________________________________________________
[1] Appellant het in die
streekhof, Bloemfontein, tereggestaan op ‘n aanklag van
verkragting in terme van Artikel 3, saamgelees
met die bepalings van
Artikels 56(1), 57, 58, 59, 60 en 61 van die Wysigingswet op die
Strafreg (Seksuele Misdrywe en Verwante
Aangeleenthede), Wet 32 van
2007 (hierinlater na verwys as “die Seksuele Misdrywe Wet”),
deurdat dit beweer is dat
appellant op 3 Mei 2008 wederregtelik en
opsetlik ‘n handeling van seksuele penetrasie met die drie en
‘n half jarige
klaagster gepleeg het deur haar geslagsdeel met
sy geslagsdeel te penetreer, sonder haar toestemming. Appellant het
onskuldig gepleit,
maar is skuldig bevind en op 17 November 2009
gevonnis tot 30 (30) jaar gevangenisstraf.
[2] Appellant se appèl
is slegs gerig teen die opgelegde vonnis, ten opsigte waarvan die
verhoorhof verlof aan appellant
verleen het om aldus te appelleer.
[3] By die aanvang van
die verhoor het die staatsaanklaer ‘n afskrif van die
geboortesertifikaat ten opsigte van die klaagster
ingehandig as
Bewysstuk “A”, waaruit dit blyk dat sy gebore is op 23
November 2004. Appellant het regsverteenwoordiging
in die verhoorhof
geniet en is daar geen beswaar namens hom gemaak teen die indiening
van hierdie geboortesertifikaat nie. Die
klaagster se getuienis is
gevolglik ook by wyse van ‘n tussenganger in die verhoorhof
aangebied. Dit blyk uit die getuienis
dat die klaagster die dag van
die voorval buite haar ouma se huis, by wie sy gebly het, gespeel het
toe appellant, op daardie stadium
hul buurman, haar gegryp het en
haar na sy huis geneem het. Hy het haar op sy bed verkrag. Na die
voorval is sy terug na haar ouma
se huis waar sy gehuil het en aan
haar ouma verduidelik het wat appellant aan haar gedoen het. Die
klaagster se ouma, Lenyane Maria
Mina, het ook aldus as staatsgetuie
getuig. Daar is ook mediese getuienis aangebied met betrekking tot
die fisiese beserings wat
die klaagster opgedoen het. Hierdie
getuienis was aanduidend daarvan dat dit waarskynlik is dat daar
inderdaad penetrasie plaasgevind
het. Die klaagster het egter geen
ernstige fisiese beserings opgedoen nie. Hoewel dit uit appellant se
getuienis geblyk het dat
hy die totaliteit van die bewerings teen hom
ontken, het hy wel getuig dat die klaagster aan hom bekend is,
aangesien hy haar en
haar ouma se buurman is. Appellant is in 1959
gebore en was ongeveer 49 jaar oud ten tyde van die plaasvind van die
voorval.
[4] Wat die opgelegde
vonnis betref, is dit so dat in terme van Artikel 51(1) van die
Strafregwysigingswet, Wet 105 van 1997, is
lewenslange
gevangenisstraf die voorgeskrewe minimum vonnis in hierdie geval
alwaar die klaagster onder die ouderdom van 16 jaar
oud was ten tyde
van die plaasvind van die verkragting. Die verhoorhof het dan ook die
vonnis op hierdie basis benader, maar het
toe bevind dat vanweë
appellant se ouderdom en die feit dat hy ‘n eerste oortreder
is, dit wesenlike en dwingende omstandighede
daarstel wat die
verhoorhof noodsaak om nie lewenslange gevangenisstraf op te lê
nie. Daarmee saam, hoewel onduidelik, blyk
dit dat die verhoorhof ook
die feit dat die slagoffer-impakverslag aangedui het dat die
klaagster nie langdurige emosionele skade
opgedoen het nie, ook in ag
geneem was by die bevinding dat daar wesenlike en dwingende
omstandighede bestaan. Sien uitspraak p.
84, reëls 8 – 13.
[5] Mnr van der Merwe,
namens appellant, het betoog dat gegewe dat die verhoorhof bevind het
dat daar wesenlike en dwingende omstandighede
bestaan wat die
oplegging van ‘n mindere vonnis dan lewenslange gevangenisstraf
regverdig en noodsaak, die vonnis van dertig
(30) jaar
gevangenisstraf, veral inaggenome appellant se ouderdom, skokkend
swaar en onvanpas is. Hy het aan die hand gedoen, ook
met verwysing
na tersaaklike gesag, dat ‘n vonnis van tussen vyftien (15)
jaar gevangenisstraf en agtien (18) jaar gevangenisstraf
‘n
gepaste vonnis sal wees.
Mnr Mthethwa, namens die
Staat, het toegegee, en na my mening op verantwoordelike wyse en
heeltemal tereg, dat die opgelegde vonnis
skokkend swaar en onvanpas
is. Hy het aan die hand gedoen dat ‘n vonnis van agtien (18)
jaar gevangenisstraf ‘n gepaste
vonnis sal wees.
[6] Ten eerste moet
vermeld word dat ek ten tyde van die argumentering van die appèl
die vraag aan Mnr Mthethwa gestel het
of die Staat bo redelike twyfel
bewys het dat die klaagster drie en ‘n half jaar oud was ten
tyde van die plaasvind van die
voorval. In die verband het ek op die
volgende hinderlike aspekte gewys:
Soos reeds vroeër
hierin vermeld, is ‘n afskrif van die geboortesertifikaat van
die klaagster ingehandig as Bewysstuk
“A”, waaruit dit
blyk dat sy gebore is op 23 November 2004 en derhalwe inderdaad,
hiervolgens, drie en ‘n
half jaar oud was ten tyde van die
pleging van die misdryf.
Dit sou beteken dat sy
ten tyde van haar getuienis aflegging ongeveer vier en ‘n
half jaar oud sou wees. By die nalees
van haar getuienis, blyk dit
egter na my mening uiters onwaarskynlik dat sy die tipe getuienis
sou kon aflê wat sy wel
gedoen het indien sy slegs vier en ‘n
half jaar oud was. Mnr Mthethwa het ook toegegee dat dit
onwaarskynlik is dat ‘n
vier en ‘n half jarige
dogtertjie op daardie wyse sou kon getuienis aflê.
Die klaagster self het
getuig dat sy, op die stadium wat sy haar getuienis afgelê
het, sewe jaar oud was en reeds skoolgegaan
het.
Uit die
slagoffer-impakverslag wat ingehandig is as Bewysstuk “C”
en gedateer is 30 Oktober 2009, is die geboortedatum
van die
klaagster weereens aangehaal as 23 November 2004, maar word dit ook
as volg gestipuleer in daardie verslag:
“
It was
reported that the victim never repeated any grade. She is still
progressing well at school despite her traumatic experience.”
Indien klaagster
inderdaad gebore was op 23 November 2004 en derhalwe ten tyde van die
datering van die verslag slegs amper vyf
jaar oud sou wees, is dit
tog onwaarskynlik en selfs onmoontlik dat die klaagster toe reeds op
skool sou wees en meer nog, klaarblyklik
reeds meerdere standerds
voltooi het.
[7] Na aanleiding van die
voormelde aspekte wat ek geopper het, het Mnr Mthethwa toegegee dat
dit onwaarskynlik is dat die geboortedatum
van die klaagster soos
aangedui op Bewysstuk “C”, korrek kan wees. Hy het
gesubmiteer dat dit klaarblyklik blyk dat
die klaagster ten tyde van
haar getuienis aflegging sewe jaar oud was, soos deur haarself
getuig, en derhalwe ongeveer ses jaar
oud was ten tyde van die
pleging van die misdryf. Hy het gevolglik aan die hand gedoen dat die
appèl bereg moet word op
die basis dat slegs aanvaar word dat
dit hier handel oor ‘n verkragting van ‘n jong kind,
waarskynlik onder die ouderdom
van sewe jaar oud, en uiteraard onder
die ouderdom van sestien jaar oud, maar dat dit nie as bewese beskou
kan word dat sy slegs
drie en ‘n half jaar oud was ten tyde van
die plaasvind van die voorval nie. Mnr van der Merwe het in sy
repliek ook hierdie
standpunt van Mnr Mthethwa ondersteun.
[8] Vanweë die feite
en omstandighede hierbo vermeld, is ek derhalwe van mening dat die
Staat nie bo redelike twyfel bewys
het dat die klaagster slegs drie
en ‘n half jaar oud was ten tyde van die pleging van die
misdryf nie. Op die totaliteit
van die getuienis aanvaar ek dat die
klaagster ‘n jong kind was ten tyde van die pleging van die
misdryf, waarskynlik jonger
as sewe jaar, en beslis onder die
ouderdom van sestien jaar oud. Hoewel appellant se verkragting van
die klaagster onder sodanige
omstandighede steeds uiters blaamwaardig
is, verminder dit egter wel sy morele blaamwaardigheid as wanneer die
klaagster slegs
drie en ‘n half jaar oud sou wees ten tyde van
die pleging van die misdryf.
[9] Wat die persoonlike
omstandighede van appellant betref, was hy ongeveer 49 jaar oud ten
tyde van die pleging van die misdryf
en ongeveer 50 jaar oud ten tyde
van vonnisoplegging. Hy is ‘n algehele eerste oortreder.
Appellant was werkloos, maar het
hy tog van tyd tot tyd stukwerk
verrig waarvoor hy R25-00 per dag verdien het. Hoewel hy voorheen
getroud was is sy eggenote gedurende
2008 oorlede en het hy twee
kinders, 21 en 20 jaar oud onderskeidelik. Die een was ten tyde van
vonnisoplegging nog op skool terwyl
die ander een werksaam was as ‘n
petroljoggie. Hy het nie hierdie kinders onderhou ten tyde van sy
arrestasie nie. Appellant
het ongeveer vyf maande in hegtenis verkeer
as verhoorafwagtende, waarna borgtog aan hom toegestaan is. Hy is ‘n
algeheel
eerste oortreder.
Vanweë die feit dat
die verhoorhof ten tyde van haar uitspraak bevind het dat appellant
ten tyde van die pleging van die misdryf
onder die invloed van
alkohol was, moet dit ook as strafversagtend in sy guns in aanmerking
geneem word.
[10] Wat die aard en erns
van die misdryf betref, behoef dit geen betoog dat hierdie ‘n
uiters ernstige misdryf is nie. Hoewel
daar grade van erns is, is
alle verkragtings ernstige misdrywe, des te meer wanneer dit gepleeg
word ten opsigte van ‘n jong
kind.
[11] Die gemeenskap se
belang tree sterk na vore by geweldsmisdrywe soos die onderhawige.
Die klaagster het as dogtertjie buite
haar ouma se huis gespeel,
vanwaar sy op geforseerde wyse weggeneem is na appellant se huis.
Waar sy dus veronderstel was om veilig
te wees in die erf van die
huis waar sy woonagtig was, is sy deur appellant wie aan haar bekend
was as hul buurman, weggeraap met
uiters duistere motiewe. Sulke
optrede word nie deur die gemeenskap geduld nie en moet die vonnis
wat opgelê word ook die
gemeenskap se afkeur in hierdie tipe
gedrag reflekteer.
[12] Mnr van der Merwe
het betoog dat die verhoorhof nie behoorlik in ag geneem het dat die
klaagster nie ernstige fisiese beserings
opgedoen het nie. Hierdie
aspek benodig nadere oorweging. Die onderhawige voorval het op 3 Mei
2008 plaasgevind. Met ingang vanaf
31 Desember 2007, d.w.s. voor die
plaasvind van die voorval, het die Wysigingswet op die Strafreg
(Vonnisoplegging), Wet 38 van
2007, ‘n Artikel 51(3)(aA)
ingevoeg tot die Strafregwysigingswet, Wet 105 van 1997, die Engelse
weergawe waarvan as volg
lees:
“
When
imposing a sentence in respect of the offence of rape the following
shall not constitute substantial and compelling circumstances
justifying the imposition of a lesser sentence:
The complainant’s previous
sexual history;
An apparent lack of physical injury
to the complainant;
An accused person’s cultural or
religious beliefs about rape; or
Any relationship between the accused
person and the complainant prior to the offence being committed.”
In
S
v NKAWU
2009 (2)
SASV 402 (ECG) het Plasket, R die bepalings van hierdie artikel
ontleed op 406 A tot H, en het hy tot die volgende gevolgtrekking
gekom op 406 G – H:
“
I am of the
view that it is possible to read s 51(3)(aA)(ii) in a way that would
render it constitutional. That is to interpret
it, and the other
provisions of s 51(3)(aA), to mean that anyone of them
on
their own
may not be regarded as a substantial and compelling circumstance
justifying a departure from the prescribed sentence, but that
each
one of them may be considered along with other factors accumulatively
to amount to substantial and compelling circumstances.
On this
interpretation I am not precluded from considering the fact that the
complainant suffered injuries that were neither serious
nor
permanent, along with a basket of other factors, in order to arrive
at a just and proportionate sentence.”
Gevolglik i
s
Mnr van der Merwe se betoog inderdaad korrek dat dit ‘n faktor
is wat ten gunste van appellant in aanmerking geneem moet
word. By
nalees van die verhoorhof se uitspraak ten opsigte van vonnis, blyk
dit dat, soos Mnr van der Merwe uitgewys het, hierdie
aspek geensins
deur die verhoorhof vermeld of in aanmerking geneem is nie.
[13] ‘n Verdere
aspek wat ook ten gunste van appellant in aanmerking geneem moet
word, is die feit dat dit blyk uit die slagoffer-impakverslag
dat
hoewel die klaagster kort na die voorval negatiewe emosionele
reaksies en gedrag getoon het, sy intussen daarvan herstel het
en
derhalwe geen blywende emosionele letsels blyk te hê nie.
Hoewel die verhoorhof in haar uitspraak wel die aspek van afwesigheid
van blywende emosionele letsels vermeld het, het sy onmiddellik
daarna voortgegaan en velerlei opmerkings en selfs gevolgtrekkings
gemaak met betrekking tot wat moontlik in die toekoms die impak van
hierdie voorval op die klaagster se emosionele toestand kan
wees,
sonder dat daar enige gronde in die getuienis daarvoor bestaan. Die
verhoorhof het duidelik misgetas in hierdie verband.
[14] Ek ag dit nodig om
te vermeld dat die verhoorhof in haar uitspraak ten opsigte van
vonnis in die algemeen talle klaarblyklik
emosioneel gefundeerde
opmerkings en konklusies gemaak het, wat glad nie deur die getuienis
voor die hof gesubstansieer word nie
en wat in totaliteit irrelevant
is. Dit het waarskynlik daartoe aanleiding gegee dat sy as gevolg
daarvan versuim het om op gebalanseerde
wyse die elemente van
strafoplegging te oorweeg, met die gevolg dat sy ‘n vonnis
opgelê het wat na my mening inderdaad
skokkend swaar en
onvanpas is onder die omstandighede en inmenging regverdig en
noodsaak.
[15] Gevolglik slaag
appellant se appèl teen sy vonnis en word die opgelegde vonnis
tersyde gestel en vervang met een van
sestien (16) jaar
gevangenisstraf. Laasgenoemde vonnis moet geag word opgelê te
gewees het op 17 November 2009.
___________________
C. VAN ZYL, R
Ek stem saam:
______________________
M.A. MATHEBULA, WNDR
Namens die Appellant: Mnr
P.L. van der Merwe
In opdrag van:
Regssentrum
BLOEMFONTEIN
Namens die Respondent:
Adv S. Mthethwa
In opdrag van:
Direkteur van Openbare
Vervolgings
BLOEMFONTEIN