About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2012
>>
[2012] ZAFSHC 98
|
|
Doro v S (A69/09) [2012] ZAFSHC 98 (21 May 2012)
VRYSTAAT
HOË HOF, BLOEMFONTEIN
REPUBLIEK
VAN SUID-AFRIKA
Appélnommer :
A69/09
In
die appél tussen:-
JOSEPH LEBOGANG
DORO
...................................................
Appellant
en
DIE STAAT
...........................................................................
Respondent
_____________________________________________________
CORAM:
VAN
ZYL, R
et
MATHEBULA, WND R
UITSPRAAK DEUR:
VAN ZYL, R
_____________________________________________________
GELEWER OP:
21 MEI 2012
_____________________________________________________
[1] Appellant het in die
Streekhof, Bloemfontein tereggestaan op ‘n aanklag van
verkragting deurdat dit beweer is dat hy op
of omtrent 16 Desember
2006 te Bloemfontein wederregtelik en gewelddadig en opsetlik vir
Kenalemang Gladys Kotoyi, ‘n volwasse
vrou (hierinlater na
verwys as “die klaagster”), aangerand het en toe
wederregtelik en geweldadig en teen haar wil
met haar vleeslike
gemeenskap gehad het en haar aldus verkrag het.
[2] Appellant het
regsverteenwoordiging geniet in die hof
a quo
. Hy het
onskuldig gepleit en verkies om geen pleitverduideliking te gee nie.
Appellant is egter skuldig bevind soos aangekla en
tot vyftien (15)
jaar gevangenisstraf gevonnis.
[3] Appellant het aansoek
gedoen om verlof om te appelleer teen beide sy skuldigbevinding en
die opgelegde vonnis. Hierdie aansoek
is van die hand gewys. Daarop
het appellant ‘n petisie tot hierdie hof gerig waarin hy
insgelyks aansoek gedoen het om verlof
om te appelleer teen beide sy
skuldigbevinding en die opgelegde vonnis, welke petisie toegestaan
is.
[4] Ter aanvang moet
vermeld word dat die oorkonde “moeilik” en “deurmekaar”
lees met betrekking tot die
klaagster se getuienis in hoof. Dit blyk
voort te spruit uit ‘n kombinasie van die staatsaanklaer wat op
relatiewe onbeholpe
en nie-kronologiese wyse die klaagster se
getuienis aangebied het, tesame met die klaagster se klaarblyklike
relatiewe onvermoë
om die vrae op duidelik en onomwonde wyse te
beantwoord. Laasgenoemde moet glad nie verstaan word as dat ek van
oordeel is dat
die klaagster vrae enigsins ontwykend geantwoord het
nie. Dit spruit, na my mening, bloot voort uit die feit dat in
gedagte gehou
moet word dat haar hoogste skoolkwalifikasie Graad 7 is
en het die verhoorhof, wie die geleentheid gehad het om haar
persoonlik
in die getuiebank waar te neem, haar as volg beskryf op p.
133, reëls 15 – 20 van die uitspraak:
“
She appears
to be a very frail person of a small build. Even the sister in the
J88 had noted so. She is not so much of a highly
assertive person,
she is soft spoken….. She was at pain to give her testimony to
the Court. But she displayed average intelligence.
She could say what
happened to her and how much she disliked it.”
As gevolg van voormelde,
het dit my genoodsaak om die rekord meerdere kere deur te lees en te
bestudeer, na aanleiding waarvan ek
die tersaaklike bevindings en
gevolgtrekkings in hierdie uitspraak maak.
[5] Die verhoorhof het na
my mening op redelik volledige wyse die totaliteit van die getuienis
in haar uitspraak opgesom. Ek is
gevolglik nie voornemens om die
getuienis van elke getuie te herhaal of hierin op te som nie. Wat
sommige aspekte van die getuienis
betref gaan ek dus slegs in breë
trekke daarna verwys, terwyl ek dan op meer gedetaileerde wyse na die
getuienis sal verwys
wat na my mening voortspruitend uit die aanhoor
van die appèl nadere toeligting verg.
[6] Ek handel vervolgens
met die getuienis van die klaagster. Op 15 Desember 2006 is ‘n
beskermingsbevel wat die klaagster
teen appellant verkry het, op hom
beteken. (Volledigheidshalwe kan vermeld word dat appellant dit ook
aldus bevestig het.) Volgens
die klaagster het hierdie
beskermingsbevel onder andere bepaal dat appellant verbied is om na
haar huis te gaan en dat hy ook verbied
is om met haar
geslagsgemeenskap sonder haar toestemming te hê. Volgens
appellant se getuienis, het die beskermingsbevel
hom nie verbied om
na die klaagster se huis te gaan nie; dit het hom wel verbied om die
klaagster aan te rand, om haar te dreig
en geslagsgemeenskap met haar
te hê sonder haar toestemming. Daardie aand het die vader van
klaagster se oudste seun, wie
nie appellant is nie, vir haar R200-00
gegee waarmee sy vir Kersfees klere vir die kind moes koop. Appellant
het daarop aangedring
dat sy R100-00 vir hom moes gee, wat sy gedoen
het, omdat sy bang was vir hom. Daarmee het hy alkohol en dagga
gekoop. Terwyl appellant
nog die aand by haar huis gesit en drink
het, het sy gaan slaap. Gedurende die nag het hy haar wakker gemaak.
Hy het haar met ‘n
mes gedreig en haar gevra met wie hy
geslagsgemeenskap moet hê as hy nie veronderstel is om met haar
gemeenskap te hê
nie. Sy het hom bang aangekyk en het hy gesê
dat hy met haar gemeenskap wou hê. Omdat hy haar met die mes
gedreig het,
het sy dit gegryp, waarop dit haar hand gesny het. Sy
het haar teëgesit, maar terselfdertyd was sy ook bang vir die
mes wat
hy gehad het en het hy gemeenskap met haar sonder haar
toestemming gehad. Sy het hom versoek om ‘n kondoom te gebruik,
maar
hy het geweier. Daarna het appellant opgestaan en weer na die
ander vertrek gegaan waar hy verder gedrink het tot later die oggend.
Sy het geslaap. Die oggend is appellant nie werk toe nie, maar het hy
haar forseer om saam met hom na ‘n taverne te gaan.
Daar het hy
haar ook forseer om saam met hom alkohol te gebruik, deurdat hy
gedreig het om haar dood te maak. Op ‘n stadium
het sy onder
die voorwendsel dat sy badkamer toe gaan, weggehardloop vanaf die
taverne na ene Mnr Peete, synde ‘n lid van
die CPF (“
Community
Police Forum
”), aan wie sy gerapporteer het dat appellant
gemeenskap met haar het sonder haar toestemming. Mnr Peete het haar
geadviseer
om na die polisie te gaan. Oppad daarheen het sy egter
weer vir appellant raakgeloop. Hy het haar forseer om terug te gaan
na die
taverne en weer saam met hom bier te drink. Toe hulle die
taverne verlaat het, het hy haar langs die pad geklap. Sy het na ‘n
sekere huis gehardloop, waar die mense onbekend was aan haar, maar
welke huis sy binnegegaan het terwyl sy gehuil het en om hulp
gevra
het. Appellant het ook die huis binnegegaan en aangedring dat sy saam
met hom die huis moes verlaat. Die okkupeerders van
die huis het hom
egter verhoed om die klaagster saam met hom te neem, waarop appellant
die huis verlaat het. Die bewoners van die
huis het aan die klaagster
geld gegee, welke sy gebruik het om ‘n taxi te neem na die
polisiestasie. Toe sy by die polisiestasie
opdaag, het sy appellant
daar aangetref, tesame met hul baba. Sy het probeer om die baba te
neem, maar die polisie het haar verbied
deurdat hulle gesê het
dat sy onder invloed van drank was. Kort daarna het die polisie die
klaagster by haar huis gaan aflaai.
Hulle het verder gery met
appellant en die baba. Sy het daarna die baba se doeke en klere na
die polisiestasie geneem en vir die
polisie aangedui dat sy nie die
nag sal kan slaap indien sy nie weet waar haar baba is nie. Die
polisie het haar egter aangesê
dat sy die polisiestasie moes
verlaat, anders sou hulle haar toesluit. Sy het wel die polisiestasie
verlaat en na haar oom se huis
gegaan. Die volgende oggend is sy
terug na die polisiestasie, waar sy ‘n klagte van verkragting
teen appellant gelê
het. Die polisie het haar daarop na ‘n
dokter geneem, vanwaar hulle haar teruggeneem het na haar huis.
Appellant is voortspruitend
hieruit gearresteer.
[7] Bogemelde Mnr Peete
is ook as staatsgetuie geroep en het hy bevestig dat die klaagster
die tersaaklike aand by sy huis opgedaag
het en hom meegedeel dat sy
en haar mansvriend (“
boyfriend
”) in ‘n
bakleiery betrokke is. Sy het gesê dat haar mansvriend haar
misbruik en met haar gemeenskap het sonder
haar toestemming. Hy het
haar toe inderdaad aanbeveel om na die polisiestasie te gaan.
Die verpleegster wie die
klaagster medies ondersoek het en ‘n J88 medieseverslag ten
opsigte van die klaagster voltooi het,
Me Seekoei, het ook getuig.
Dit moet vermeld word dat sy oor veelvuldige kwalifikasies in
verpleging beskik, wat insluit diplomas
sowel as ‘n graad.
Volgens haar getuienis en soos ook bevestig in die J88, het sy die
klaagster op 17 Desember 2006 om 10h30
ondersoek. Me Seekoei het die
volgende genotuleer op die J88:
“
She
says
she was sexually assaulted by the boyfriend on 2006.12.16 at plus
minus 02h30. The man was threatening her with a knife. Left
hand is
having a 3cm scar.”
Onder dit is ook die
volgende genotuleer:
“
A scar in
the left hand is consistent with what she reported.”
Met betrekking tot die
besering aan haar hand, het sy verduidelik dat dit ‘n sny was
aan die binnekant van die klaagster se
linkerhand.
Hoewel Me Seekoei geen
beserings aan die geslagsdele van die klaagster gevind het nie, het
sy die volgende gevolgtrekking op die
J88 genotuleer:
“
Absence of
genital injuries does not exclude forceful penetration.”
Laasgenoemde bevinding
het sy in haar getuienis verduidelik tot dien effekte dat vanweë
die feit dat die klaagster seksueel
aktief was, dit hoogs
uitsonderlik sal wees dat daar beserings of snye gevind sal word
voortspruitend uit ‘n beweerde penetrasie
soos in die
onderhawige geval.
[8] Inspekteur Moahi was
ook ‘n staatsgetuie. Hy is gestasioneer by die Uniform Tak te
Kagisanong Polisiestasie. Volgens hom
is die klaagster aan hom goed
bekend, aangesien sy op gereelde basis die polisiestasie besoek het
met klagtes dat sy misbruik word
deur haar man. Hy was die
stasiebevelvoerder die oggend van 17 Desember 2006 toe die klaagster
opgedaag het om die onderhawige
aanklag van verkragting teen
appellant aanhangig te maak. Volgens sy waarneming was die klaagster
ontsteld en het sy deurmekaar
voorgekom. Hy het as bevelvoerder
instruksies gegee dat die klaagster die geleentheid gegee moes word
om te bedaar en tot verhaal
te kom en dat vroue-inspekteur Jantjies
dan haar verklaring moes afneem.
Uit sy kruisverhoor het
dit geblyk dat hy nie die vorige aand, dit wil sê 16 Desember
2006, toe appellant met die baba en
later ook die klaagster by die
polisiestasie was, teenwoordig was nie.
[9] Volgens appellant se
weergawe het hy en die klaagster ‘n verhouding gehad en het
hulle saam gewoon. Hy het ontken dat
hy haar op 16 Desember 2006
verkrag het. Volgens hom was hulle by die huis toe hy haar gevra het
of hy na die taverne kon gaan.
Sy het toegestem daartoe. Terwyl hy by
die taverne was, het sy opgedaag en het daar ‘n woordewisseling
tussen hulle plaasgevind,
aangesien sy hom beskuldig het dat hy haar
en die kinders by die huis laat terwyl hy by die taverne sit en
drink. Voortspruitend
hieruit het hy haar by die taverne gelaat, hul
baba en die beskermingsbevel by die huis gaan haal en na die
polisiestasie daarmee
gegaan. Daar het hy die polisie meegedeel dat
sy ‘n beskermingsbevel teen hom verkry het, maar dat sy nou die
een is wat
na hom in die taverne kom en op hom skree voor ander
persone. Terwyl hy by die polisiestasie was, het die klaagster ook
opgedaag.
Volgens appellant het die klaagster begin huil toe sy hom
sien. Die polisie het haar aangespreek en daarna gesê dat hy
wat
appellant is, die baba na sy suster moes neem en dat hy dan weer
die baba die volgende dag kon gaan haal nadat hy en die klaagster
die
probleem tussen hulle uitsorteer het. Die baba was nie vir die
klaagster gegee nie omdat sy nog meer as hy onder die invloed
van
alkohol verkeer het. Nadat hy saam met die polisie die baba by sy
suster se huis gaan aflaai het, is hy terug na die klaagster
se huis.
Volgens appellant was alles toe rustig by die huis en was daar geen
verdere woordewisselings tussen hulle nie. Toe daar
aan appellant in
sy getuienis in hoof gevra is of hy die sny aan die klaagster se hand
opgemerk het, het hy dit bevestig, maar
getuig dat sy haarself
daardie aand terwyl sy kos gemaak het nadat hulle van die
polisiestasie teruggekeer het, gesny het. Nadat
die klaagster
kosgemaak het, het hulle gaan slaap. Appellant het dan spesifiek
getuig dat hulle nie daardie aand van 16 Desember
2006
geslagsgemeenskap gehad het nie.
[10] Mnr Reyneke, wie
namens appellant verskyn het, het in sy betoogshoofde sekere
weersprekings in die klaagster se getuienis uitgewys
(waarmee ek
aanstons sal handel), maar aangedui dat dit slegs sy instruksies is
om te submiteer dat dit wesenlike weersprekings
is. Ook by die
aanvang van die argumentering van die appèl het Mnr Reyneke
steeds aangedui dat hy nie met oortuiging kan
submiteer dat die appèl
ten opsigte van die skuldigbevinding behoort te slaag nie. Soos sy
argumentering van die appèl
ten opsigte van die
skuldigbevinding egter voortgegaan het, het hy afgesluit met die
submissie dat daar twyfel en ongemak by die
hof behoort te bestaan
ten opsigte van die skuldigbevinding en dat die appèl as
gevolg daarvan moet slaag.
Mnr Mthethwa, namens die
Staat, het in sy betoogshoofde die skuldigbevinding ondersteun en het
gedurende sy argumentering van die
appèl daarmee volhard,
nieteenstaande sekere elemente van die staatsaak wat gedurende die
argumentering van die appèl
deur my en my kollega, Mathebula
Wnd R, teenoor Mnr Mthethwa bevraagteken is nie.
[11] Die enigste
weerspreking wat as sulks wat deur Mnr Reyneke uitgewys is ten
opsigte van die klaagster se getuienis, is as volg
in sy
betoogshoofde verwoord:
“
When the
Complainant started with her evidence in chief, she denied having an
affair with, or living with Appellant. She indicated
that she has a
child with him, as he was used to sleep with her against her will.
She later changed this version and
said that she asked him to use a condom ‘whenever’ he
slept with her and that she
would not have a problem to sleep with
him, as long as he wears it. She also later conceded that she indeed
had been in a love
relationship with Appellant, also staying at his
place.”
Hy het dan na sekere
gedeeltes van die rekord verwys ter ondersteuning van hierdie
submissie.
[12] Na herhaaldelike
nalees van die oorkonde en met in agneming van die moeilike wyse
waarop die klaagster se getuienis in hoof
op rekord geplaas is,
waarna ek reeds verwys het, meen ek dat haar getuienis in werklikheid
nie ‘n weerspreking in hierdie
verband daarstel nie. Dit blyk
dat die vrae wat die staatsaanklaer aanvanklik aan die klaagster in
haar getuienis in hoof gevra
het met betrekking tot die vraag of sy
in ‘n verhouding met appellant was, geslaan het op die tydperk
ten tyde van die beweerde
insident van verkragting. Dit is waarom sy
dit in die negatief beantwoord het. Dit is nie ‘n geval waar
die klaagster enigsins
gepoog het om te ontken of weg te steek dat sy
en appellant
voorheen
in ‘n verhouding betrokke was nie.
Die verhoorhof het dan ook pertinent op ‘n stadium ten tyde van
die klaagster se
getuienis in hoof die staatsaanklaer onderbreek en
die staatsaanklaer daarop gewys dat die klaagster nog nie pertinent
getuig het
of sy voorheen in ‘n verhouding met appellant was,
aldan nie. Haar ontkenning dat sy en die appellant saam gewoon het,
het
ook geslaan op die tydperk wat die beweerde verkragting
plaasgevind het. Dit was eers gedurende kruisverhoor toe die vrae
duideliker
gestel was deur appellant se regsverteenwoordiger tot dien
effekte of sy
ooit
‘n verhouding met appellant gehad
het, dat sy onmiddellik bevestigend geantwoord het. Sy was ook deur
appellant se regsverteenwoordiger
gevra of sy
ooit
saam met
appellant gewoon het, wat sy toe ook onmiddellik bevestig het. Waar
die klaagster dan ook in haar getuienis in hoof getuig
het dat
appellant “
used to sleep with me against my will
”
en sy ook getuig het dat sy appellant gevra het “
to use a
condom whenever he sleeps with me and then he refused
”,
blyk dit duidelik uit die totaliteit van haar getuienis dat hierdie
antwoorde slaan op die tydperk nadat sy die verhouding
tussen haar en
appellant beëindig het of gepoog het te beëindig. Nadat sy
vasgestel het dat sy HIV positief is, was sy
steeds bereid om met
appellant gemeenskap te hê, mits hy ‘n kondoom gebruik.
Hy het egter geweier om van ‘n kondoom
gebruik te maak. Dit heg
tot gevolg gehad dat sy die verhouding met appellant beëindig
het, maar het hy geweier en het hy
voorts geweier om haar huis te
verlaat. Dit blyk eers daarna te wees wat hy teen haar sin met haar
gemeenskap gehad het sonder
‘n kondoom. Dit het ook eventueel
daartoe aanleiding gegee dat sy die beskermingsbevel teen hom verkry
het.
Ek het op geen stadium in
haar getuienis, hetsy in haar getuienis in hoof of kruisverhoor, die
indruk gekry dat sy gepoog het om
vrae ontwykend te antwoord of in
wese haarself weerspreek het nie.
[13] Na my mening is daar
ook die volgende stawing vir die klaagster se weergawe:
Hoewel dit moontlik
geag kan word ‘n mate van self-stawing te wees, meen ek tog
dit moet in ag geneem word dat die klaagster
in haar verkryging van
die beskermingsbevel klaarblyklik reeds haar bekla het dat
appellant met haar gemeenskap sonder haar
toestemming het, deurdat
dit spesifiek, ook volgens appellant se eie weergawe, een van die
bepalings van die beskermingsbevel
was.
Hoewel dit ook geag kan
word ‘n mate van self-stawing te wees, is dit tog ook nodig
om in die totaliteit van die getuienis
in ag te neem dat daar nie
enige weersprekings was tussen die klaagster se
viva voce
getuienis en haar verklaring waarmee sy ten tyde van kruisverhoor
gekonfronteer is nie.
Die feit dat die
klaagster die aand van 16 Desember 2006, nadat die verkragting in
die vroeë more-ure van 16 Desember 2006
plaasgevind het,
weggehardloop het vanaf appellant en hulp gaan soek het by Mnr
Peete, welke ook deur Mnr Peete bevestig is.
Die mededelings wat die
klaagster aan die verpleegster, Me Seekoei, gemaak het, stem ook
ooreen met haar
viva voce
getuienis en haar skriftelike
verklaring. Verdermeer het Me Seekoei klinies waargeneem dat daar
‘n sny op die klaagster
se hand voorkom wat vereenselwigbaar
is met die klaagster se weergawe dat sy met ‘n mes deur
appellant gedreig was ten
tyde van die verkragting, welke mes sy
gegryp het en wat toe haar hand gesny het. Me Seekoei se bevinding
dat daar geen genitale
beserings was nie, doen nie afbreuk aan die
klaagster se weergawe nie, deurdat Me Seekoei spesifiek getuig het
dat dit nie
die moontlikheid van penetrasie uitsluit nie.
[14] Dit is egter wel ook
so, soos deur myself en my kollega ten tyde van die argumentering van
die appèl teenoor die onderskeie
regsverteenwoordigers
geopper, dat daar aspekte van die klaagster se getuienis is wat op
die oog af vreemd voorkom. In die verband
kan die volgende genoem
word:
14.1 Die klaagster het
getuig dat appellant teen haar wil by haar huis saam met haar gewoon
het, maar blyk dit dat nadat sy haar
huis verkoop het, sy by hom gaan
woon het en ten tyde van die verhoor steeds by sy huis woonagtig was.
Dit val vreemd op dat
appellant die klaagster kon verplig het om die aand by die taverne
alkohol teen haar sin te gebruik.
[15] Wanneer bogemelde
aspekte egter weer teen die agtergrond van die totaliteit van die
klaagster se getuienis en weergawe gesien
word, meen ek blyk die
volgende:
Dit blyk duidelik die
klaagster se getuienis te wees dat appellant aggressief van
geaardheid is en almal bang is om teen hom
op te staan. Dit het
reeds aanvanklik geblyk toe appellant die klaagster se man vanaf
haar huis verjaag het en self daar begin
woon het.
Dat die klaagster oor
‘n relatiewe lang tydperk (in aggenome dat sy toe sy swanger
geword het met haar en appellant se
baba vasgestel het dat sy HIV
positief is en daarna nie meer gemeenskap met appellant wou hê
sonder ‘n kondoom
nie, terwyl die gemelde baba toe intussen
reeds gebore is en reeds vier maande oud was ten tyde van die
plaasvind van die voorval),
haar lot omtrent appellant se gedrag en
misbruik van haar bekla het, word bevestig deur die getuienis van
Inspekteur Moahi,
wie getuig het dat sy op ‘n gereelde basis
die polisiestasie besoek en haar bekla het dat sy misbruik word
deur haar
man, wie duidelik appellant moet wees. Selfs appellant
het beaam dat sy gereeld polisie toe gegaan het as hulle baklei
het.
Die situasie was so
onuithoudbaar dat klaagster dit nodig geag het om ‘n
beskermingsbevel teen appellant te verkry.
15.4 Die feit dat die
klaagster na bewering by die taverne alkohol sou drink teen haar sin,
blyk dan ook nie meer so vergesog te
wees, gegewe dat sy getuig het
hoe bang sy vir appellant was nie.
15.5 Volgens haar
weergawe het die klaagster haar huis verkoop om weg te kom vanaf
appellant en het sy dan ook met ‘n gedeelte
van die geld wat sy
vir haar huis gekry het, stene gekoop waarmee sy vir haarself ‘n
huis in Botshabelo wou bou. Appellant
het haar, volgens haar
weergawe, egter toe verplig om by sy huis in te trek. Laasgenoemde is
weereens verduidelik gegewe die vrees
wat sy vir appellant gehad het.
Volledigheidshalwe moet vermeld word dat dit blyk dat die klaagster
se verkoop van haar huis en
haar intrek by appellant se huis daarna,
plaasgevind het nadat appellant reeds gearresteer was op die
onderhawige aanklag. Dit
blyk uit haar getuienis dat sy haar huis
verkoop het gedurende April 2007, terwyl appellant uit was op borgtog
nadat hy reeds gedurende
Desember 2006 gearresteer was. Die klaagster
se getuienis dat dit op appellant se aandrang was dat sy by sy huis
gaan woon het,
word tot ‘n mate deur appellant se eie getuienis
gestaaf, deurdat hy, volgens sy weergawe, nadat hy op borgtog
vrygelaat
is gedurende 7 Februarie 2007, deur klaagster genader was
om weer by haar te gaan woon (wat uiteraard deur klaagster ontken
word),
maar, volgens sy eie weergawe, het hy toe aangedring dat hulle
by sy huis moes gaan woon.
Nadat appellant se
borgtog herroep is gedurende Junie/Julie 2007, juis omdat klaagster
weer by die hof haar lot bekla het dat
appellant teen haar sin met
haar gemeenskap het, het sy voortgegaan om in appellant se huis te
woon. Dit val op sigwaarde weereens
vreemd op. Aan die ander kant
moet egter onthou word dat die klaagster se woning op daardie
stadium reeds verkoop was en dit
blyk dat haar huis wat sy te
Botshabelo wou gebou het, nog nie realiseer het nie. Daar is
gevolglik, gegewe dat appellant nou
in hegtenis verkeer het en nie
meer ‘n bedreiging vir die klaagster gewees het nie, eintlik
geen rede waarom die klaagster
dan nie kon voortgaan om saam met
haar en appellant se kind in appellant se huis te woon nie.
[16] Uiteraard moet die
klaagster se getuienis, of dan die Staat se saak in totaliteit, nie
in isolasie beoordeel word nie. In die
verband het Mnr Mthethwa dan
ook spesifiek betoog dat wanneer appellant se getuienis evalueer
word, blyk dit dat daar weersprekings
daarin voorkom en ook dat
appellant in meerdere opsigte getuienis aangebied het wat nooit aan
staatsgetuies gestel was nie. By
nadere oorweging van appellant se
getuienis, blyk die volgende:
Appellant het by een
geleentheid gedurende sy kruisverhoor getuig dat klaagster hom
nooit gevra het om ‘n kondoom te gebruik
nie (Oorkonde p. 77,
reëls 13 tot 15), terwyl hy op ‘n later stadium
gedurende sy kruisverhoor teenstrydig daarmee
getuig het dat die
klaagster hom gevra het dat wanneer hulle ookal seksuele omgang
het, hulle ‘n kondoom moet gebruik
(Oorkonde p. 82, reëls
10 tot 12).
Gedurende appellant se
getuienis in hoof, is hy gevra waarom hy meen die klaagster teen
hom ‘n beskermingsbevel verkry
het. Hy het getuig dat hoewel
daar nie enige probleme tussen hom en die klaagster was nie, is die
klaagster ‘n persoon
wat van baie mans hou en wanneer
appellant haar daaromtrent aangespreek het, het sy nie geluister
nie. Toe hy gedurende kruisverhoor
gekonfronteer is met die vraag
of hy hierdie weergawe aan sy prokureur vertel het aangesien dit
nie aan die klaagster gestel
was nie, het hy ‘n
onwaarskynlike verduideliking verskaf tot dien effekte dat hy by
geleenthede sy prokureur se aandag
probeer trek het om aan haar
instruksies te gee gedurende die verhoor, waarop sy prokureur
aangedui het dat sy later by hom
instruksies sou neem, maar dit dan
nooit gedoen het nie.
Toe appellant in sy
getuienis in hoof gevra is waarom die klaagster ‘n vals
klagte van verkragting teen hom sou gelê
het, het hy as volg
geantwoord op p. 75, reël 24 tot p. 76 reël 3 van die
oorkonde:
“
Well when I
spoke to her at home, she said that she is aware that I want to chase
her out of my house while she sold her RDP house.
Well she said that
she will show me your honour, life what I will experience in life.”
Voormelde verduideliking
van appellant kan egter nie opgaan nie, gegewe dat op die stadium wat
die klaagster die aanklag van verkragting
teen appellant aanhangig
gemaak het, haar huis nog nie verkoop was nie en sy steeds in haar
eie huis woonagtig was. Op appellant
se eie weergawe was dit eers
gedurende Februarie 2007, toe hy op borg vrygelaat was wat hy, nadat
die klaagster versoek het dat
hy weer by haar kom woon, aangedring
het dat die klaagster by hom kon woon. Op die stadium wat die
klaagster die aanklag aanhangig
gemaak het, was haar huis nog nie
verkoop nie en was sy beslis nog nie in appellant se huis woonagtig
nie.
16.4 Appellant se
getuienis in hoof dat die klaagster die snymerk aan haar hand
opgedoen het terwyl sy die aand van 16 Desember
2006 vir hulle kos
gemaak het nadat hulle van die polisiestasie af teruggekeer het, is
ook weer deur hom gedurende kruisverhoor
herhaal. Toe hy gedurende
kruisverhoor gekonfronteer is met die feit dat hierdie weergawe van
appellant nooit gedurende die aanbied
van die staatsaak gestel was
nie, het hy verduidelik dat hy dit nie aan sy prokureur gesê
het nie aangesien hy nie geweet
het dat die klaagster daaromtrent
gaan getuig nie. Hierdie verduideliking gaan uiteraard nie op nie.
Inteendeel, beide die klaagster
en die verpleegster, Me Seekoei, het
omtrent hierdie sny en die klaagster se weergawe daaromtrent getuig,
maar was dit op geen
stadium deur appellant se regsverteenwoordiger
in dispuut geplaas nie en/of is sy weergawe wat hy gedurende sy
getuienis aan die
hof voorgehou het, nie aan enige van hierdie
getuies gestel nie.
16.5 Omdat appellant
gedurende kruisverhoor by meerdere geleenthede verregaande
verduidelikings verskaf het met betrekking tot waarom
hy sekere
instruksies nie aan sy prokureur kon gee nie, het dit sy prokureur
selfs genoodsaak om gedurende herverhoor haarself
te probeer
verontskuldig deur in herverhoor vrae aan hom te stel wat aanduidend
is daarvan dat hy meer as genoeg geleentheid gehad
het om aan haar
behoorlike instruksies te gee en insoverre sy nie sekere stellings
gemaak het nie, dit was omdat sodanige instruksies
nie aan haar gegee
was deur appellant nie.
[17] Addisioneel tot
voormelde gebreke in appellant se getuienis, is die grootste gebrek
in sy getuienis die feit dat hy geensins
enige getuienis aangebied
het omtrent sy doen en late gedurende die vroeë oggendure van 16
Desember 2006, synde die tydstip
wat die klaagster beweer appellant
haar verkrag het nie. Sy getuienis het uitsluitlik gehandel met die
gebeure gedurende die dag
van 16 Desember 2006, die aand van 16
Desember 2006 en die nag van 16/17 Desember 2006. Dit was ook ten
opsigte van laasgenoemde
nag wat hy spesifiek getuig het dat nadat
hulle van die polisiestasie af teruggekeer het, daar geen verdere
probleme tussen hulle
was nie, die klaagster vir hulle kos gemaak het
en hulle toe gaan slaap het, met sy spesifieke getuienis dat hulle
nie daardie
aand seksueel verkeer het nie. Die feit is egter dat dit
nie die klaagster se saak is dat dit die aand van 16 Desember 2006 of
die nag van 16/17 Desember 2006 is wat appellant haar verkrag het
nie. Dit het tot gevolg dat die klaagster se bewering met betrekking
appellant se verkragting van haar gedurende die vroeë oggendure
van 16 Desember 2006, in wese onbetwis staan, behalwe appellant
se
enkele ontkenning by die aanvang van sy getuienis in hoof waartydens
hy ontken het dat hy haar enigsins op 16 Desember 2006
verkrag het.
Daarna het hy egter voortgegaan, soos reeds vermeld, om getuienis aan
te bied rondom die gebeure van die dag en die
aand van 16 Desember
2006, welke nie die relevante tydperk is vir doeleindes van die
klaagster se weergawe nie.
[18] Ek neem deeglik in
ag dat die klaagster ‘n enkelgetuie is ten opsigte waarvan daar
dan ‘n geykte versigtigheidsreël
bestaan met betrekking
tot die evaluering van haar getuienis. Sien
S v SAULS
1981 (3)
SA 173
(A) op 179 G – 180 G. Hoewel daar nie meer ‘n
algemene versigtigheidsreël met betrekking tot seksuele misdrywe
bestaan nie (
S v JACKSON
1998 (1) SASV 470 (SCA)), neem ek
steeds in ag dat onder sekere omstandighede sodanige getuienis steeds
met versigtigheid benader
moet word.
[19] Die totaliteit van
die getuienis moet oorweeg word. Sien
S v M
2006 (1) SASV 135
(SCA) op 183 H – I. Wanneer dit gedoen word, in die lig van die
evaluering van die getuienis soos hierbo
uiteengesit, meen ek dat
daar nie enige basis is op grond waarvan met die verhoorhof se
geloofwaardigheidsbevinding ten gunste
van die klaagster en teen
appellant ingemeng kan word nie. Sien
S v FRANCIS
1991 (2)
SASV 198 (A) op 204 C – E. Gevolglik is ek van mening dat die
verhoorhof nie fouteer het deur te bevind dat appellant
se weergawe
nie redelik moontlik waar is insoverre dit verskil met die van die
klaagster nie en dat die Staat bo redelike twyfel
die skuld van
appellant bewys het.
AD VONNIS:
[20] Dit is gemeensaak
dat die voorgeskrewe minimum vonnis in terme van Artikel 51 van die
Strafregwysigingswet, Wet 105 van 1997,
in die onderhawige geval tien
(10) jaar gevangenisstraf is. Die verhoorhof het egter, soos reeds in
die aanvang van hierdie uitspraak
vermeld, vyftien (15) jaar
gevangenisstraf opgelê. Dit is gedoen nadat sy tot die volgende
gevolgtrekking gekom het:
“
I find that
there are no substantial and compelling circumstances in this case
that justify my departure from the prescribed sentence
of ten years
imprisonment. Instead I find that I will be justified to impose more
than ten years’ imprisonment herein given
all the circumstances
I have set out for you. In the circumstances I sentence you to
fifteen years imprisonment.”
[21] Mnr Reyneke het
betoog dat die opgelegde vonnis skokkend swaar en onvanpas is. Hy het
betoog dat die verhoorhof ‘n swaarder
vonnis dan die
voorgeskrewe minimum vonnis opgelê het sonder om werklik
gefundeerde en substantiewe redes daarvoor te verskaf.
Mnr Reyneke
het voorts betoog dat gegewe die persoonlike omstandighede van
appellant en die feit dat hy dertien maande verhoorafwagtend
was,
kumulatief beskou wesenlike en dwingende omstandighede daarstel wat
die oplegging van ‘n mindere vonnis dan die voorgeskrewe
tien
(10) jaar gevangenisstraf regverdig en noodsaak. Hy het betoog dat
gevangenisstraf van ongeveer agt (8) jaar ‘n gepaste
vonnis
behoort te wees.
[22] Mnr Mthethwa het
aanvanklik in sy betoogshoofde die opgelegde vonnis ondersteun. Ten
tyde van sy mondelinge betoog in die hof,
het hy egter toegegee dat
die opgelegde vonnis van vyftien (15) jaar gevangenisstraf skokkend
swaar en onvanpas is en dat daarmee
ingemeng behoort te word op
appèl. Hy het egter terselfdertyd betoog dat die verhoorhof
nie fouteer het deur te bevind dat
daar nie wesenlike en dwingende
omstandighede bestaan wat die oplegging van ‘n mindere vonnis
dan die voorgeskrewe tien (10)
jaar gevangenisstraf regverdig nie.
[23] ‘n Aspek wat
nie deur enige van die regsverteenwoordigers geopper is nie, is die
feit dat ten tyde van die aanhoor van
die betoë met betrekking
tot vonnisoplegging in die hof
a quo
, het die verhoorhof op
geen stadium aangedui dat sy dit oorweeg om ‘n swaarder vonnis
dan die voorgeskrewe minimum van tien
(10) jaar gevangenisstraf op te
lê nie. In
S v MAAKE
2011 (1) SASV 263 (SCA) is daar,
onder andere, as volg op 270 B tot 271 B beslis in omstandighede waar
`n swaarder vonnis dan die
voorgeskrewe minimum opgelê is:
“
[26]
Importantly,
on the record in the present case, there is no indication at all that
the imposition of the maximum sentence provided
for in s 51(3) was
within the Magistrate’s contemplation.
[27] In any event, there is a further
fatal problem in respect of the sentence of fifteen years’
imprisonment imposed by the
Magistrate. In respect of minimum
sentence provisions, our courts have insisted that, particularly,
unrepresented accused being
informed of all their implications.
Although the appellant was represented, it is clear from the record
that there is no indication
at all that the magistrate considered
imposing the maximum sentence. The appellant’s legal
representative could consequently
not have been invited to make
submissions in this regard.
[28] The safeguards in relation to
minimum sentences must
a fortiori
apply to the contemplated
imposition of a maximum sentence…..
[29] In the present matter the
requirement set out in the immediately preceding paragraphs were not
met….. The consequence
is that the maximum sentence imposed is
liable to be set aside.”
[24] Vanweë
laasgenoemde rede moet die opgelegde vonnis van vyftien (15) jaar
gevangenisstraf derhalwe in ieder geval tersyde
gestel word.
[25] Die enigste aspek
wat derhalwe nog oorweeg moet word is die vraag of hier wesenlike en
dwingende omstandighede is wat die oplegging
van ‘n mindere
vonnis dan die voorgeskrewe minimum regverdig. Wat die persoonlike
omstandighede van appellant betref waarna
Mnr Reyneke verwys het, was
hy 29 jaar oud ten tyde van vonnisoplegging, ongetroud met een
minderjarige kind. Appellant was werksaam
ten tyde van sy arrestasie
en het dertien maande as verhoorafwagtende in hegtenis verkeer.
[26] Na my mening kan
voormelde faktore nie kumulatief wesenlike en dwingende omstandighede
daarstel nie. In ieder geval moet in
ag geneem word dat appellant
kort na sy arrestasie op borgtog vrygelaat was en dat die feit dat sy
borgtog herroep was en hy derhalwe
voormelde tydperk in hegtenis as
‘n verhoorafwagtende verkeer het, klaarblyklik uitsluitlik te
wyte was aan appellant se
eie skuld deur sy optrede jeens die
klaagster terwyl hy op borgtog was. Verdermeer is ek ook van mening
dat die aard en erns van
die onderhawige misdryf, sowel as die
belange van die gemeenskap, sodanige verswarende faktore daarstel dat
dit nie ‘n onreg
jeens appellant sal wees indien die
voorgeskrewe minimum vonnis opgelê word nie.
[27] Gevolglik word die
volgende bevele gemaak:
Appellant se appèl
teen sy skuldigbevinding word van die hand gewys.
Appellant se appèl
teen sy opgelegde vonnis word gehandhaaf, die opgelegde vonnis word
tersyde gestel en vervang met
een van tien (10) jaar
gevangenisstraf.
Laasgenoemde vonnis
moet geag word opgelê te gewees het op 26 Augustus 2008.
______________
C. VAN ZYL, R
Ek stem saam:
______________________
M.A MATHEBULA, WND R
Namens die Appellant: Mnr
J.D. Reyneke
In opdrag van:
Regssentrum
BLOEMFONTEIN
Namens die Respondent:
Adv S. Mthethwa
In opdrag van:
Direkteur van Openbare
Vervolging
BLOEMFONTEIN