Harmony Gold Mining Company Bpk v Xuma (2390/2011) [2012] ZAFSHC 95 (10 May 2012)

58 Reportability
Contract Law

Brief Summary

Prescription — Special plea of prescription — Respondent's acknowledgment of debt — Appellant's claim for payment of debt — Respondent's argument that claim had prescribed upon failure to pay first installment — Appellant contending that claim only became enforceable after written demand for payment — Court a quo finding that prescription commenced at acknowledgment of debt — Appeal court ruling that prescription only begins when the debt is enforceable, i.e., after written demand is made and not at the time of the acknowledgment of debt.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2012
>>
[2012] ZAFSHC 95
|

|

Harmony Gold Mining Company Bpk v Xuma (2390/2011) [2012] ZAFSHC 95 (10 May 2012)

/vv
VRYSTAATSE HOë
HOF, BLOEMFONTEIN
REPUBLIEK VAN
SUID-AFRIKA
Appél nr.:
A322/2011
Landdroshof saak nr.:
2390/2011
In die appél van:
HARMONY GOLD MINING
COMPANY BPK
...............................
Appellant
en
NDOESELE ESAU XUMA
........................................................
Respondent
_____________________________________________________
AANGEHOOR OP:
7 MEI 2012
_____________________________________________________
CORAM:
MUSI, CJ, R e
t
MURRAY, H, Wnd R
_____________________________________________________
UITSPRAAK DEUR:
MURRAY, Wnd R
GELEWER OP:
10 MEI 2012
_____________________________________________________
[1] Die Appellant
appèlleer teen die geheel van die uitspraak van addisionele
landdros Furstenburg in die Landdroshof vir
die distrik van Welkom,
gehou te Welkom, gelewer op 18 Augustus 2011, waarin die Respondent
se Spesiale Pleit van verjaring gehandhaaf
is en die Appellant se eis
van die hand gewys is met koste.
AANSOEK OM
KONDONASIE:
[2] Eerstens het die
Appellant aansoek gedoen om kondonasie vir die laat-liassering van
die appèlrekord en vir sy versuim
om Bylaag “F”
tot die aansoek in die rekord te inkorporeer. Die Hof is ook versoek
om die laat voortsetting van die
appèl te kondoneer.
[3] Uit die aansoek blyk
dit duidelik dat die laat-liassering nie te wyte is aan enige versuim
van die Appellant nie en is ‘n
aanvaarbare verduideliking vir
die nie-nakoming van die hofreëls gegee. Die kennisgewing van
appèl is tydig geliasseer.
Die aansoek is nie geopponeer nie.
Kondonasie behoort derhalwe verleen te word. Die Appellant vra ‘n
vergunning en behoort
dus die koste van die kondonasie-aansoek op ‘n
onbestrede basis te betaal.
MERIETE OP APPèL:
[4] Dit is gemeensaak dat
die Respondent op 25 Februarie 2008 ‘n skriftelike
skulderkenning geteken het waarin hy erken het
dat hy R330 200-41
(die “kapitaal”) aan die Appellant verskuldig is. In
terme van die ooreenkoms was die skuld terugbetaalbaar
in maandelikse
paaiemente van R30 000-00, die eerste paaiement betaalbaar op 31
Maart 2008.
[5] Twee klousules in die
ooreenkoms is hier van belang:
Klousule 6
wat
bepaal dat indien ‘n aftrek- of debietorder onbetaald sou bly
vir enige onvoorsiene rede buite beheer van die Respondent,
die
Respondent die R30 000-00 binne vyf werksdae vanaf skriftelike
kennisgewing sou betaal; en
Klousule 7
wat
bepaal dat, indien die Respondent sou versuim om enige paaiement op
die betaaldatum te betaal, die totale kapitale bedrag uitstaande
in
terme van die skulderkennings-ooreenkoms ná skriftelike
kennisgewing opeisbaar en betaalbaar sal wees.
[6] Dit is gemeensaak dat
die Respondent versuim het om enige paaiemente te betaal, dat die
Appellant hom op 8 Oktober 2009 tevergeefs
skriftelik tot betaling
van die kapitaal aangemaan het en dat dagvaarding waarin die volle
uitstaande bedrag en rente van die Respondent
geëis is eers op 7
April 2011 op die Respondent beteken is.
[7] Die Respondent se
saak was dat die Appellant se eis by betekening van die dagvaarding
reeds verjaar het omdat die skuld opeisbaar
geraak het by
ondertekening van die skulderkenning op 26 Februarie 2008 en omdat
verjaring begin loop het op 31 Maart 2008 by Respondent
se versuim om
die eerste paaiement te betaal. Daar is beweer dat die Appellant toe
sy keuse kon uitgeoefen het om die volle skuld
op te eis, en
aangesien hy nie het nie, verjaring op daardie datum begin loop het.
[8] Die Appellant se saak
was dat verjaring begin loop het toe die skuld opeisbaar en
betaalbaar geword het, nie reeds toe dit ontstaan
het nie. Namens die
Appellant is geargumenteer dat die skuld eers opeisbaar geraak het na
die Respondent vir vyf werksdae ná
die skriftelike aanmaning
op 8 Oktober 2009 versuim het om betaling te maak en dat die
Appellant se eis dus nog nie verjaar het
toe dagvaarding op 7 April
2011 beteken is nie.
[9] Die Respondent het
onder kruisverhoor toegegee dat die Appellant hom wel op 8 Oktober
2009 skriftelik aangemaan het en dat die
verskuldigde bedrag eers
opeisbaar en betaalbaar was na skriftelike kennisgewing.
[10] Hoewel die hof
a
quo
bevind het dat daar eers skriftelik kennis gegee moes word
voor die volle bedrag opeisbaar raak, het hy, soos reeds vermeld,
bevind
die Appellant se skuldoorsaak is voltooi met ontstaan van die
skuld en die skuld het opeisbaar geraak op 31 Maart 2008.
[11] Die gemelde hof het
naamlik bevind dat die Appellant tóé sy keuse
uitgeoefen het om nie sy regte ten aansien
van die
versnellingsklousule binne die verjaringstermyn af te dwing nie en
dat die Appellant se argument dat sy skuldoorsaak eers
voltooi was
met die uitreik van die skriftelike aanmaning aan die Respondent op 8
Oktober 2009 nie oortuig nie. Volgens die hof
a quo
kon
verjaring dus nie eers in Oktober 2009 begin loop nie en gevolglik
het hy bevind dat die Appellant se eis verjaar het en sy
eis met
koste van die hand gewys.
[12] Met verwysing na
Artikel 12(1) van die Verjaringswet, Wet 68 van 1969 (“die
Wet”), het Mnr Pienaar namens die Appellant
betoog dat
verjaring begin loop sodra die skuld opeisbaar is, en dat ‘n
skuld vir doeleindes van die Wet onmiddellik opeisbaar
is indien die
skuldenaar onder ‘n verpligting is om onmiddellik te presteer.
[13] In
DELOITTE
HUSKINS & SELLS CONSULTANTS (PTY) LTD v BOWTHORPE HELLERMAN
DEUTSCH (PTY) LTD,
[1990] ZASCA 136
;
1991 (1) SA 525
(A) te 532H is dan ook beslis
dat verjaring nie teen ‘n eiser se vordering loop voordat die
skuldoorsaak voltooi is nie.
Die skuldoorsaak is eers voltooi wanneer
die skuldeiser in staat is om sy eis af te dwing, met ander woorde
wanneer al die feite
ingetree het wat die skuldenaar moet bewys om
met sy vordering te slaag, en daar ‘n gelikwideerde geldelike
verpligting is
waarvoor die skuldeiser onmiddellik aksie kan instel
en wat die skuldenaar dan verplig is om onmiddellik te betaal, soos
ook blyk
uit
FAROCEAN MARINE (PTY) LTD v MINISTER OF TRADE &
INDUSTRY,
2007 (2) SA 334
(SCA) op 340, par[12] en in
TRUTER &
ANOTHER v DEYSEL,
[2006] ZASCA 16
;
2006 (4) SA 168
(SCA) op 174, par[16].
[14] Met verwysing na
STOCKDALE & ANOTHER v STOCKDALE,
2004 (1) SA 68
(C) en
BIG
ROCK (PTY) LTD v HOFFMAN,
1983 (1) SA 534
(T) op 539 – 540
het Mnr Pienaar aangevoer dat indien daar ‘n ooreenkoms is dat
‘n skuldeiser aan ‘n skuldenaar
kennis moet gee voor die
verskuldigde bedrag onmiddellik opeisbaar en betaalbaar sal wees, die
skuldoorsaak nie voltooi sal wees
voordat sodanige kennis gegee en
versuim is om in terme daarvan te presteer nie. Hierdie standpunt is
dan ook ondersteun deur Prof
M M Loubser in
Extinctive
Prescription, 1996,
te p. 72, waarmee ek, met respek, saamstem
.
[15] Aan die hand van die
bogemelde, het Mnr Pienaar aan die hand gedoen dat die volle kapitale
bedrag waarvoor aksie
in casu
ingestel is, eers opeisbaar en
betaalbaar was na verstryking van vyf werksdae sedert kennis op 8
Oktober 2009 aan die Respondent
gegee is, en dat dit dan die datum is
waarop die skuld in terme van Artikel 12(1) van die Wet opeisbaar
geraak het.
[16] Sy argument was dus
dat verjaring eers na aanmaning en versuim om daaraan te voldoen,
begin loop het en dat die aanmaning verjaring
gestuit het terme van
Art 15 van die Wet. Die dagvaarding sou dan binne die drie jaar
verjaringstermyn beteken wees en gevolglik
kon die hof
a quo
nie bevind het dat die Appellant se eis verjaar het nie en moes die
Spesiale Pleit van verjaring van die hand gewys gewees het.
[17] Daarteenoor het Mnr
Els namens die Respondent aangevoer dat die volle kapitale bedrag
opeisbaar geraak het op 31 Maart 2011
en dat die Appellant se eis
gevolglik verjaar het. Hy het gesteun op
LIST v JUNGERS
,
1979
(3) SA 106
(A) wat nog beslis is aan die hand van die Suid-Wes Afrika
ekwivalent van die 1943-Verjaringswet en waarin die wesenlike
onderskeid
tussen die ontstaan van ‘n skuld en die
opeisbaarheid daarvan met betrekking tot verjaring bespreek is.
[18] Vir sy argument dat
verjaring begin loop sodra die eerste paaiement in ‘n
afbetalingsverkoopooreenkoms nie betaal word
nie, het hy gesteun op
WESTERN BANK LTD v SJJ VAN VUUREN TRANSPORT (PTY) LTD &
OTHERS,
1980 (2) SA 348
(T) te p. 351G-H, en op
FIRST
CONSOLIDATED LEASING CORPORATION (PTY) LTD v SERVIC SA (PTY) LTD &
ANOTHER,
1981 (4) SA 380
(W) waarin met goedkeuring verwys is na
die Western Bank beslissing.
[19] In die
Western
Bank-saak
te p. 353 E-F is naamlik bevind dat die vraag nie moet
wees wanneer die skuldeiser wel besluit het om die
versnellingsklousule af
te dwing nie, maar wanneer die reg om dit te
doen die eerste maal ontstaan het, met ander woorde wanneer die
eerste verstek plaasgevind
het. Die Hof daarin het egter dié
slotsom bereik op grond van sy bevinding te 348 G-H dat na analogie
van Art 5(1)(d) van
die 1943-verjaringswet, verjaring begin loop
vanaf die datum waarop die reg tot aksie teen die skuldenaar
ontstaan
het. Vir dié bevinding het die gemelde Hof gesteun op
Roger
N.O. en ‘n Ander v Ersamus N.O. en ‘n Ander 1975(2) SA 59
(T),
wat, soos blyk te p. 70 F-H, beslis is in terme van Art
5(1)(d) van die 1943-verjaringswet.
[20] Prof. Loubser wys
egter daarop dat sake wat beslis is in terme van Art 5(1)(d) van die
1943-verjaringswet ten aansien van skulde
wat uit
versnellingsklousules ontstaan, nie gesag is vir sake wat beslis moet
word in terme van Art 12(1) van die 1969 Wet nie,
aangesien Art
5(1)(d) onteenseglik verwys na die
onstaan
van skuld met
betrekking tot die aanvang van verjaring teenoor Art 12(1) wat
opeisbaarheid en betaalbaarheid
vereis vir die aanvang van
verjaring.
[21] Die
Western
Bank
-beslissing is voorts ook nie
in casu
toepaslik nie
omdat daarin die reg om onmiddellik alle verdere huurpaaiemente op te
eis by die eerste versuim om ‘n enkele
paaiement te betaal, in
terme van die betrokke kontrak beding is sonder enige voorwaarde van
vooraf skriftelike kennisgewing. Die
Eiser se reg om dan onmiddellik
op onmiddellike betaling van die volle skuld aan te dring, is dus
uitdruklik so beding, anders
as
in casu
waar die partye by
ooreenkoms ‘n uitdruklike voorwaarde van skriftelike aanmaning
en ‘n grasie-tydperk vir betaling
in die ooreenkoms ingebou
het.
[22] Mnr Els het met
verwysing na
HAMILTON PLASE (EDMS) BPK v STADLER,
1977 (3) SA
361
(NC) en die
First Consolidated Leasing Corporation-
saak
verder aangevoer dat waar ‘n ooreenkoms aan ‘n skuldenaar
die keuse verleen om die volle bedrag op te eis, verjaring
begin loop
sodra hy daardie opsie kan uitoefen.
[23] Maar ook in die
Hamilton Plase
-saak was daar ‘n ooreenkoms wat aan die
skuldeiser die keuse verleen het om by wanprestasie van ‘n
rente-paaiement
die hele uitstaande balans onmiddellik te vorder,
sonder ‘n voorwaarde van skriftelike aanmaning, en is daar ook
gesteun
op Art 5(1)(d) van die 1943-verjaringswet en is dit dus nie
gesag vir die onderhawige saak nie.
[24] Bowendien, soos
Prof. Loubser, met respek, tereg aan die hand gedoen het, sal dit ‘n
anomalie wees as die skuldenaar
se verstek altyd outomaties die loop
van verjaring ten aansien van die versnellingsklousule aan die gang
sit, ongeag of die skuldenaar
gekies het om die versnellingsklousule
af te dwing of nie en ongeag of die kontrak uitdruklik daardie reg
vir die skuldeiser beding
het of nie.
[25] Mnr Els het ook
gesteun op
KOTZé v ONGESKIKTHEIDSFONDS VAN DIE UNIVERSITEIT
VAN STELLENBOSCH,
1996 (3) SA 252
(C) te 258B-C waar bevind is
verjaring begin loop sodra die skuld “opeising kan ondergaan”
of “geskik is om opeising
te ondergaan” en dat dit nie
nodig is dat dit reeds opgeëis moet wees nie. Maar ook in dié
saak was die prestasiedatum
nie onderhewig gestel aan skriftelike
aanmaning en die versuim om daarvolgens te presteer nie, anders as
in
casu
waar dit ‘n uitdruklike ooreekoms tussen die partye
was.
[26] Met verwysing na
UITENHAGE MUNICIPALITY v MOLLOY,
[1997] ZASCA 112
;
1998 (2) SA 735
(SCA) en
PHASHA v SOUTHERN METROPOLITAN LOCAL COUNCIL OF THE GREATER
JOHANNESBURG METROPOLITAN COUNCIL,
2000 (2) SA 455
(W) het Mnr
Els voorts geargumenteer dat die Appellant nie deur sy eensydige,
willekeurige optrede die aanvang van verjaring kon
uitstel deur eers
op 8 Oktober 2009 sy keuse uit te oefen om die versnellingsklousule
in werking te stel nie en dat verjaring dus
begin loop het toe hy die
eerste maal die keuse gehad het maar dit nie uitgeoefen het nie.
[27] Soos Prof. Loubser
met respek tereg op p. 76 aan die hand gedoen het, verloor ‘n
skuldeiser nie outomaties sy reg om
die versnellingsklousule in
werking te stel bloot omdat hy versuim om dit op die eerste moontlike
geleentheid uit te oefen nie.
Dit is geykte reg dat hy egter nie
onbeperk kan wag nie en moet hy sy reg binne ‘n redelike tyd
uitoefen. Redelikheid moet
dan bepaal word aan die hand van die
besondere omstandighede van die spesifieke saak. Waar daar geen
spesifieke datum bepaal is
waarbinne die reg uitgeoefen moet word
nie, het Prof. Loubser aan die hand gedoen dat ‘n redelike tyd
sou beteken ‘binne
die betrokke verjaringstermyn’, soos
dan ook
in casu
gebeur het, in teenstelling met die hof
a
quo
se bevinding.
[28] Mnr Els se argument,
en ook die hof
a quo
se bevinding, dat verjaring op 31 Maart
2008 ingetree het omdat die eerste paaiement op daardie datum nie
betaal is nie en die skuld
dus op daardie datum geskik was om
opeising te ondergaan en die Appellant tóé die keuse
gehad het om die versnellingsklousule
in werking te stel, maar dit
nie gebruik het nie, kan om verskeie redes nie slaag nie.
[29] Eerstens: die
Appellant het wel sy keuse uitgeoefen om die versnellingsklousule in
werking te stel deur die Respondent skriftelik
aan te maan op 8
Oktober 2009, soos ooreengekom in die skulderkenning. Dit was binne
die verjaringstermyn. Daar is geen getuienis
voorgelê ten
aansien van enige faktore wat die vertraging onredelik sou maak nie.
Die volle skuld kon dus eers opeisbaar
geraak het by Respondent se
versuim om te betaal in terme van dié aanmaning en kon
verjaring in terme van Art 12(1) van
die Wet dus eers toe begin loop
het.
[30] Tweedens: selfs al
sou die Appellant nie die skriftelike aanmaning gestuur het nie, sou
verjaring steeds nie op 31 Maart 2008
kon ingetree het soos die Hof
a
quo
bevind het nie. Die Respondent het naamlik in terme van die
ooreenkoms nog tot middernag van die 31ste die reg gehad om te betaal

en sou die Appellant dus eers daarna, met ander woorde op Dinsdag 1
April 2008, die reg gehad het om die versnellingsklousule in
werking
te stel en die volle skuld skriftelik op te eis.
[31] Indien Klousules 6
en 7 saamgelees sou word, soos Mnr Pienaar aangevoer het, sou die
skuld dan eers opeisbaar wees wanneer
die Respondent vir vyf werksdae
daarna steeds versuim het om te betaal, met ander woorde op Dinsdag 8
April 2008. Eers daarna sou
verjaring dan in werking tree.
[32] Indien Klousules 6
en 7 apart gelees word, soos Mnr Els aangevoer het, sou die Appellant
steeds eers op 1 April 2008 ‘n
skriftelike aanmaning aan die
Respondent kon rig. Aangesien Klousule 7 nie die aantal dae waarbinne
prestasie gelewer moet word,
bepaal nie, sou prestasie dan binne ‘n
redelike tyd moes geskied. In Klousule 6 het die partye self op vyf
besigheidsdae
as ‘n redelike tyd vir prestasie ooreengekom.
Daar is dus geen rede om te glo dat by toepassing van Klousule 7, by
gebrek
aan enige aanduiding tot die teendeel, minder as 5 werksdae
beoog is nie. Dus, selfs indien Klousule 7 op sy eie toegepas is, sou

8 April 2008 eweneens die vroegste datum wees waarop die skuld
redelikerwys opeisbaar kon wees en sou verjaring dus eers toe kon

begin loop.
[33] Dus, op welke
weergawe ookal, kon verjaring van die Appellant se eis in ieder geval
nie op 31 Maart 2008 ingetree het nie.
Die bepalings van die
ooreenkoms ten aansien van skriftelike aanmaning en versuim om
daaraan te voldoen kan nie weggewens word
nie. Verjaring in terme van
Art 12(1) van die Wet kan eers daarná intree.
[34] Die Appellant se eis
kon dus nie op enige van die twee
scenarios
verjaar het voor
die dagvaarding op 7 April 2011 op die Respondent beteken is nie en
moes die hof
a quo
die Spesiale Pleit van die hand gewys het.
BYGEVOLG WORD DIE
VOLGENDE BEVELE GEMAAK:
Die Appellant se
kondonasie-aansoek slaag.
Die Appellant word gelas
om die koste van die kondonasie-aansoek op ‘n onbestrede basis
te betaal.
Die appèl word
gehandhaaf.
Die bevel van die
addisionele landdros, mnr Furstenburg, gelewer op 18 Augustus 2011
onder saaknommer 2390/2001 in die Landdroshof
vir die distrik van
Welkom, gehou te Welkom, word tersyde gestel en vervang met die
volgende:

Die
Verweerder se Spesiale Pleit word van die hand gewys met koste, welke
koste voorbereiding insluit.”
Die Respondent word
gelas om die koste van die appél te
betaal.
_______________________
H MURRAY, WND. R
Ek stem saam.
_______________________
C J MUSI, R
Namens die Appellant: Adv
C D Pienaar
In opdrag van:
Hill, McHardy &
Herbst Ing
Bloemfontein
Namens die Respondent:
Adv J Els
In opdrag van:
Wessels & Smith
Prokureurs
Bloemfontein