About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2012
>>
[2012] ZAFSHC 82
|
|
Diamond Hill Trading 99 BK v Soet and Others (1752/2011) [2012] ZAFSHC 82 (26 April 2012)
VRYSTAAT
HOË HOF, BLOEMFONTEIN
REPUBLIEK
VAN SUID-AFRIKA
Aansoeknommer : 1752/2011
In
die aansoek tussen:-
DIAMOND HILL
TRADING 99 BK
............................................
Appellant
(Reg. No. 2010/145403/23)
en
PIET SOET
....................................................................
1ste
Respondent
MONNADULE JOHANNES
MATINA
............................
2de
Respondent
MZEMENE ISAAK
NTHOLENG
....................................
3de
Respondent
MOTSHEDISI LENAH
SOET
.
........................................
4de
Respondent
MAMOKONE SANA REIT
.............................................
5de
Respondent
KGOSIMANG LUCAS
REIT
..........................................
6de
Respondent
MODISENYANE SIMON
SEKOPA
................................
7de
Respondent
SEAPEHI DINAH
NTHOLENG
.
....................................
8ste
Respondent
KALODI DANIE KAIZER
...............................................
9de
Respondent
BONAKELE KOOS REIT
............................................
10de
Respondent
MAPITSO ELISA JELOA
............................................
11de
Respondent
SETORI EMILY SEKOPA
............................................
12de
Respondent
A GROUP OF
UNIDENTIFIED OCCUPIERS
ON THE FARM UITKIJK
DISTRICT
BLOEMFONTEIN
.......................................
13de
Respondent
CORAM:
VAN
ZYL, R
GELEWER OP:
26 APRIL 2012
_____________________________________________________
[1] Hierdie is ‘n
aansoek om uitsetting wat applikant in terme van die bepalings van
Artikel 4 van die Wet op die Voorkoming
van Onwettige Uitsetting en
Onregmatige Besetting van Grond, Wet 19 van 1998 (hierinlater na
verwys as “PIE”) teen
respondente geloods het. Hoewel die
aansoekstukke sowel as die onderskeie betoogshoofde in Engels was,
het Me Wright, namens respondente,
by die aanvang van die verrigtinge
aangedui dat sekere van die respondente in die Hof teenwoordig is,
dat hulle nie Engels magtig
is nie en het sy derhalwe versoek dat sy
haar betoog in Afrikaans aan my voorhou. Ek het uiteraard hiertoe
toegestem, waarop Mnr
Daffue, namens applikant, ook dienooreenkomstig
sy betoog in Afrikaans in die hof aangebied het. Onder die
omstandighede ag ek
dit derhalwe doelmatig om hierdie uitspraak ook
in Afrikaans te lewer.
[2] Applikant het tydens
die aanvanklike verrigtinge in hierdie aansoek verlof van die Hof
gevorder vir die uitreiking van ‘n
kennisgewing in terme van
die bepalings van Artikel 4(2) van “PIE”, met
gepaardgaande vorderings wat betref die toepaslike
betekening
daarvan. Sodanige bevel is verleen en is behoorlike uitvoering
daaraan gegee. Hoewel die aansoekstukke aanvanklik nie
op die
tersaaklike munisipaliteit beteken was nie, is die aansoek by ‘n
vorige geleentheid uitgestel ten einde hieraan te
voldoen. Op die
stadium wat die onderhawige aansoek voor my gedien het, was ek
derhalwe tevrede dat aan al die formaliteitsvereistes
met betrekking
tot “PIE” voldoen is.
[3] Die eiendom hierin
ter sprake staan algemeen bekend as die plaas “Uitkijk”.
Hoewel hierdie eiendom uit verskillende
plase en restant-plase
bestaan, is dit nie direk relevant vir doeleindes van hierdie
uitspraak nie. Ek gaan derhalwe doelmatigheidshalwe
na die geheel van
hierdie eiendomme wat bekend staan as die plaas “Uitkijk”,
verwys as “die eiendom”. Die
regshulp wat deur applikant
gevorder word, is die volgende:
“
1.
That
respondents be declared to be unlawful occupiers of the following
properties…..All the above properties commonly known
as the
farm Uitkijk held by Deed of Transfer No. T1064/2011 (the aforesaid
farms will hereinlater be referred to as ‘the
property’).
2. That respondents and all other
persons occupying the property through them be directed to vacate the
property not later than
31 May 2011 at 12h00.
3. That respondents and all other
occupiers occupying the property through them be directed to remove
all movable property, equipment
and livestock belonging to them from
the property by not later than…….
4. In the event of respondents or any
of the occupiers failing to comply with this order, the Sheriff for
the district of Bloemfontein
be authorised and directed to evict them
and to remove the movable property, equipment and livestock belonging
to them from the
property forthwith.
5. That respondents be ordered to pay
the costs of this application, jointly and severally, the one to pay
the others to be absolved.”
[4] Volledigheidshalwe
moet dit vermeld word dat dit uit die aansoekstukke, tesame met
inligting deur Me Wright vanaf die balie
verskaf, blyk dat vyfde en
sewende respondente sedert die loods van die aansoek oorlede is.
Eerste, tweede, derde, vierde, sesde,
agste, negende, tiende, elfde
en twaalfde respondente is egter steeds op die eiendom woonagtig,
tesame met ene Anna Matiena (na
wie in paragraaf 3 van die
repliserende verklaring verwys is as Mantoanyane Elizabeth Matina),
wie ook steeds op die eiendom woonagtig
is en derhalwe ‘n
geïdentifiseerde persoon ten opsigte van dertiende respondent
daarstel. Insoverre dit later relevant
sou wees (hoewel nie meer vir
doeleindes van hierdie uitspraak gegewe die gevolgtrekkings hierin
nie), het Me Wright ook op rekord
geplaas (tereg en word sy bedank
daarvoor) dat eerste, tweede, derde, agste, negende en elfde
respondente in die Hof teenwoordig
was.
KORTLIKSE
AGTERGROND:
[5] Die Thusong Trust,
IT1378/2002 (hierinlater na verwys as “die trust”), is
gestig met sewe-en-dertig trustees. Die
eiendom was voorheen
geregistreer in die naam van “
The Trustees for the time
being of THUSONG TRUST IT1378/2002
”. Die trustakte, ‘n
gedeelte waarvan aangeheg is tot die funderende verklaring as
Aanhangsel “D”, bevat
sekere bepalings ten opsigte van
die trustees en omskryf ook die bevoegdhede van die trustees. In die
verband bepaal klousule 11.1
van die trustakte dat in die geval van
‘n geskil tussen die trustees, ‘n besluit van die
meerderheid van trustees geldig
en bindend sal wees asof dit ‘n
eenparige besluit van al die trustees was. Voorafgaande die neem van
die resolusie om die
eiendom te verkoop, was ses van die trustees
reeds vooroorlede sonder dat hulle posisies gevul is. Soos reeds
gemeld, is vyfde
en sewende respondente ook sedert die loods van die
aansoek oorlede. Aldus applikant se saak het die meerderheid van
trustees die
resolusie geneem dat die eiendom verkoop word,
voortspruitend waaruit die eiendom aan applikant verkoop is. Dit is
verdermeer applikant
se saak dat die voormelde meerderheid van
trustees wie die resolusie geneem het, ook die koopkontrak onderteken
het, waarop oordrag
van die eiendom op 2 Februarie 2011 in die naam
van applikant geregistreer is. Beide applikant en die trust het
behoorlik en ten
volle in terme van die koopkontrak presteer.
[6] Voortspruitend uit
die registrasie van die eiendom in applikant se naam, is respondente,
wie toe steeds die eiendom okkupeer
het, by wyse van ‘n skrywe
gedateer 10 Februarie 2011 en welke skrywe aangeheg is tot die
funderende verklaring as Aanhangsel
“O”, in kennis gestel
dat hulle die eiendom moet verlaat en al hulle eiendom daarvandaan
moet verwyder teen 28 Februarie
2011, by gebrek waaraan die
Hooggeregshof by wyse van ‘n dringende aansoek vir gepaste
regshulp genader sal word. Relase
van betekening ten opsigte van
hierdie skrywe, die inhoud waarvan vir doeleindes van hierdie
uitspraak nie werklik relevant is
nie, is aangeheg tot die funderende
verklaring as Aanhangsels “P1” tot “P12”.
Daarna het sekere verdere
gebeure plaasgevind, die inhoud en detail
waarvan na my mening weereens nie relevant is vir doeleindes van
hierdie uitspraak nie,
maar met die eindresultaat dat respondente
nieteenstaande voormelde skrywe en mondelinge versoeke, voortgegaan
het om die eiendom
te okkupeer.
Ter stawing van sekere
van die tersaaklike bewerings en die vorderings van Applikant, is
daar bevestigende beëdigde verklarings
van (sommige) van die
trustees wie die resolusie geneem het en die koopkontrak onderteken
het, aangeheg tot die funderende verklaring.
[7] Dit is gevolglik
applikant se saak dat respondente in onregmatige okkupasie van die
eiendom is, dat applikant voldoen het aan
die formaliteitsvereistes
van “PIE” en dat applikant geregtig is op die gevorderde
regshulp.
[8] Respondente het in
wese twee verwere geopper, welke in die vorm van punte
in limine
gekonstrueer was. Die eerste hiervan is dat die kooptransaksie tussen
applikant en die trust ‘n bedrieglike transaksie is,
met die
gevolg dat dit
ab initio
nietig is en die oordrag van die
eiendom in die naam van applikant onregmatig is. Die tweede verweer
is dat respondente “okkupeerders”
is van die eiendom soos
bedoel in Artikel 1 van die Wet op die Uitbreiding van Sekerheid van
Verblyfreg, Wet No. 62 van 1997 (hierinlater
na verwys as “ESTA”),
dat die omskrywing van “onregmatige okkupeerder” in terme
van “PIE” spesifiek
‘n “okkupeerder” in
terme van ESTA uitsluit , dat applikant dus fouteer het deur die
prosedure voorgeskryf in
“PIE” te gebruik en dat die
aansoek gevolglik op hierdie basis afgewys moet word.
[9] Volledigheidshalwe
moet dit vermeld word dat daar in die aansoekstukke, sowel as in die
advokate se volledige betoogshoofde
en ook gedurende hulle mondelinge
betoë in die Hof, verwys is na aspekte met betrekking tot die
resolusie wat moontlik blyk
problematies te wees, sowel as na aspekte
met betrekking tot die ondertekening van die koopkontrak wat, onder
andere, nie ooreenkomstig
die aanvaarde regsbeginsels met betrekking
tot die vereistes wat betref ‘n handeling deur al die trustees
van ‘n trust,
geskied het nie, sowel as die regsgevolge van die
voormelde. Vanweë die beslissing waartoe ek in hierdie uitspraak
gaan kom,
is ek egter nie voornemens om na die gedetaileerde
bewerings hieromtrent te verwys nie, aangesien dit nie onder die
omstandighede
nodig en/of relevant gaan wees om dit te beslis nie.
“
PIE”
OF “ESTA”:
[10] In Artikel 1 van PIE
word “
onregmatige okkupeerder
” as volg
gedefinieer:
“’
n
Persoon wat grond sonder die uitdruklike of stilswyende toestemming
van die eienaar of persoon in beheer beset, of sonder enige
ander
wettige reg om sodanige grond te beset, maar nie ook ‘n persoon
wat ingevolge die Wet op die Uitbreiding van Sekerheid
van
Verblyfreg, 1997, ‘n okkupeerder is nie.”
[11] Uit voormelde
definisie blyk dit derhalwe dat indien ‘n persoon ‘n
“okkupeerder” in terme van “ESTA”
is,
sodanige persoon nie geag kan word ‘n “onregmatige
okkupeerder” in terme van “PIE” te wees nie.
‘n
“Okkupeerder” word as volg in Artikel 1 van “ESTA”
omskryf:
“’
n
Persoon wat woon op grond wat aan ‘n ander persoon behoort en
wat beskik oor, of op 4 Februarie 1997 of daarna beskik het
oor,
toestemming of ‘n ander regsgeldige reg om so te doen, maar
uitgesluit –
.......
‘
n persoon
wat die betrokke grond hoofsaaklik vir industriële, myn-,
kommersiële of kommersiële boerderydoeleindes
gebruik of
beoog om dit aldus te gebruik, maar nie ook ‘n persoon wat
self die grond bewerk nie en geen persoon wat nie
‘n lid van
sy of haar familie is in diens het of neem nie; en
‘
n persoon
met ‘n inkomste hoër as die voorgeskrewe bedrag.”
Duidelikheidshalwe haal
ek ook die Engelse weergawe van voormelde omskrywing van “occupier”
aan:
“
A person
residing on land which belongs to another person, and who has or on 4
February 1997 or thereafter had consent or another
right in law to do
so, but excluding:
……
.
a person using or intend to use the
land in question mainly for industrial, mining, commercial or
commercial farming purposes,
but including a person who works the
land himself or herself and does not employ any person who is not a
member of his/her family;
and
a person who has an income in excess
of the prescribed amount.”
[12] Mnr Daffue het in sy
betoog vermeld dat die voormelde definisie van “okkupeerder”
in “ESTA” vaag is.
Hy het betoog dat dit waarskynlik
beskerming aan `n persoon sal bied in ‘n geval waar die
feitelike situasie tot dien effekte
is dat so persoon met die
toestemming van ‘n grondeienaar op sodanige grond woon
(ingesluit ‘n persoon wat self die
grond bewerk en geen persoon
wat nie ‘n lid van sy of haar familie is in diens het of neem
nie) en daardie grond dan deur
die eienaar daarvan verkoop word.
Aldus sy betoog kon dit nie die bedoeling van die wetgewer gewees het
om in ‘n geval soos
die onderhawige van toepassing te wees nie,
synde waar respondente op die grond gewoon het (en volgens Mnr Daffue
se argument ook
‘n kommersiële boerdery bedryf het) en
self
besluit het om die grond te verkoop nie.
Addisioneel tot voormelde
het Mnr Daffue ook betoog dat aangesien respondente die beskerming
van “ESTA” as ‘n
verweer opper, die verpligting op
respondente gelê het om voldoende feitelike bewerings aan die
Hof voor te hou ter ondersteuning
van die verweer dat hulle binne die
definisie van “okkupeerder” vir doeleindes van “ESTA”
val.
[13] Me Wright het betoog
dat gegewe die bepalings van Artikel 2 van “ESTA”, is dit
duidelik dat die eiendom in die
onderhawige geval inderdaad “grond”
is waarop “ESTA” van toepassing is. Sy het voorts betoog
dat hoewel
die eiendom klaarblyklik aanvanklik deur die trust bekom
was vir doeleindes van kommersiële boerdery-aktiwiteite, blyk
dit
dat op die stadium wat die aansoek geloods is, daar geen sodanige
boerdery-aktiwiteite meer bedryf is nie. Sy het verwys na respondente
se feitelike weergawe tot dien effekte dat hulle in diens van die
trust was. Sy het betooog dat respondente derhalwe met toestemming
van die trust op die eiendom gewoon het, welke toestemming in terme
van Artikel 24(2) van “ESTA” bindend is op applikant,
met
die gevolg dat respondente in hul persoonlike hoedanighede
“okkupeerders” is soos bedoel in “ESTA”.
[14] Na my mening is die
vertrekpunt vir doeleindes van die beregting van die aansoek, die
oorweging van applikant se saak in die
funderende aansoekstukke.
Hoewel dit uit die totaliteit van die funderende aansoekstukke blyk
dat respondente (of ten minste eerste
tot twaalfde respondente)
trustees van die trust is en die minderheid van die trustees vorm wat
nie die resolusie en die koopkontrak
onderteken het nie, blyk dit
duidelik dat respondente in hulle persoonlike hoedanighede gesiteer
is as persone wat die eiendom
tans okkupeer (tesame met ander
onbekende okkupeerders) en nie in hulle verteenwoordigende
hoedanighede as trustees van die trust
nie. Dit strook dan ook met
die sitering van die dertiende respondent as synde ‘n groep van
ongeïdentifiseerde okkupeerders
van die eiendom. Alwaar
respondente nie in hulle verteenwoordigende hoedanighede as trustees
gesiteer is nie, blyk dit duidelik
applikant se saak te wees dat
respondente regmatig op die eiendom woonagtig was tot en met die
registrasie van die eiendom in naam
van applikant en die
daaropvolgende kennisgewing aan respondente dat hulle die eiendom
moet verlaat teen 28 Februarie 2011. Voorafgaande
die verkoop van die
eiendom en die daaropvolgende kennisgewing daarvan aan respondente,
was respondente dus met toestemming van
die eienaar van die eiendom
op die eiendom woonagtig. Die eienaar hier ter sprake is, op
applikant se eie weergawe, “
The Trustees for the time being
of THUSONG TRUST
” – dus nie enige van die respondente
in hul persoonlike hoedanighede nie.
[15] Verdermeer het
applikant as volg in paragraaf 48 van die funderende verklaring
beweer:
“
The
Respondents and the other unknown occupiers are not conducting any
farming operations on Uitkijk. Save for between 20 and 22
heads of
cattle belonging to them, they do not have any other livestock. Mr
Taylor, to which I referred earlier, keeps about 80
cattle on Uitkijk
in a different camp and save for these livestock, nothing else is
kept on Uitkijk. I need to mention that I am
aware of the fact that
the present occupiers who make up the minority of trustees of the
Thusong Trust apparently entered into
an agreement without the
consent of the majority of trustees for certain mining rights in
terms whereof sand is extracted from
the property by a close
corporation known as Final Touch Trading 517 CC. In so far as
applicant has become registered owner of
Uitkijk I have been advised
that applicant is now entitled to the payments for these rights and
applicant is presently in the process
of negotiating with the
aforesaid close corporation.”
Op applikant se eie saak
bedryf respondente, in hul persoonlike hoedanighede, derhalwe nie
enige boerdery-aktiwiteite nie en wat
betref die beweerde ooreenkoms
wat gesluit is met betrekking tot mynbedrywighede, is dit deur
respondente in hul verteenwoordigende
hoedanighede as trustees van
die trust gesluit.
[16] Gegewe dat
respondente dus in hul persoonlike hoedanighede op die eiendom
woonagtig was met die toestemming van die (vorige)
eienaar daarvan,
synde die trustees vir tyd en wyl van die Thusong Trust, is
applikant, soos deur Me Wright betoog, ook gebonde
aan hierdie
toestemming asof applikant dit verleen het. In die verband bepaal
Artikel 24 van “ESTA” as volg:
“
(1) Die
regte van ‘n okkupeerder is, behoudens die bepalings van
hierdie Wet, bindend op die regsopvolger van ‘n eienaar
of
persoon in beheer van die betrokke grond.
(2) Toestemming in hierdie Wet beoog
wat deur die eienaar of persone in beheer van grond verleen is, bind
sy of haar regsopvolger
asof laasbedoelde dit verleen het.”
[17] Addisioneel tot die
feit dat die applikant self besluit het om respondente in hul
persoonlike hoedanighede te siteer en nie
in hulle verteenwoordigende
hoedanighede as trustees van die trust nie, is dit duidelik uit die
gedeelte van die trustakte wat
aangeheg is tot die funderende
verklaring as Aanhangsel “D”, dat respondente nie net
trustees van die trust is nie,
maar ook inderdaad in hul persoonlike
hoedanighede trustbegunstigdes is. (Sien aansoekstukke, p. 72,
klousule 1.3). Applikant het
dan ook in paragrawe 22 en 25 van die
funderende verklaring na trustbegunstigdes verwys, hoewel hul nie by
name geïdentifiseer
is nie. Dit is dus duidelik dat respondente
in hul persoonlike hoedanighede ook as trustbegunstigdes met
toestemming van die trustees
op die eiendom gewoon het. Hulle is dus
direk geraak deur die besluit wat deur die meerderheid trustees
geneem is om die eiendom
te verkoop en die gevolge voortspruitend
daaruit.
[18] Respondente, in hul
persoonlike hoedanighede, wat insluit in hul hoedanighede as
trustbegunstigdes (maar uitgesluit hul hoedanighede
as trustees, want
hul is nie in hul verteenwoordigende hoedanighede as trustees
gesiteer nie), woon dus tans op die eiendom wat
eers aan die trustees
van die trust behoort het en nou aan applikant behoort, met ander
woorde “grond wat aan ‘n ander
persoon behoort”
soos bedoel in die omskrywing van “okkupeerder” in
“ESTA”. Hierdie bewoning was
aanvanklik met die
toestemming van die trustees van die trust, welke toestemming
ooreenkomstig die bepalings van Artikel 24(2)
na die registrasie van
die eiendom in naam van applikant, ook geag moet word die toestemming
van applikant te wees. Verdermeer
word respondente, in hul
persoonlike hoedanighede, op applikant se eie saak, nie uitgesluit
deur die uitsluitings vervat in (b)
of (c) van die omskrywing van
“okkupeerder” nie.
[19] In
MKANGELA
AND OTHERS v JOUBERT AND OTHERS
2002 (4) SA
36
(SCA) was dit ook `n geval waar trustbegunstigdes met die
toestemming van die trustees van die tersaaklike trust, wie die
eienaar
van die tersaaklike eiendom was, die eiendom bewoon het. Die
toepaslikheid van “ESTA” was ook ter sprake en het die
hof, onder andere, as volg op 43, para [10] beslis:
“
[10]
...Their (the trustees’) consent was therefore sufficient to
qualify the appellants as ‘occupiers’...”
[
20]
Wanneer voormelde feite in ag geneem word, soos reeds uit die
totaliteit van die funderende aansoekstukke geblyk het, is dit
na my
mening duidelik dat respondente resorteer onder die omskrywing van
“okkupeerder” soos vervat in “ESTA”.
[21] Waar laasgenoemde
gevolgtrekking voortspruit uit die feit dat applikant respondente
siteer het in hul persoonlike hoedanighede
en die verdere relevante
feite ten tyde van die loods van die aansoek binne applikant se
kennis geval het, en inteendeel feitelik
applikant se saak in die
funderende verklaring is, kan Mnr Daffue se argument dat die
verpligting op respondente gerus het om feitlike
bewerings aan die
Hof voor te hou waarom hulle beweer “ESTA” van toepassing
is, nie opgaan nie. Dit moes vir applikant
self duidelik gewees het
dat die bepalings van “ESTA” toepassing vind, onder welke
omstandighede applikant verplig
was om die prosedure voorgeskryf in
“ESTA” te volg. Gegewe dat die omskrywing van
“onregmatige okkupeerder”
soos vervat in “PIE”
spesifiek ‘n “okkupeerder” soos omskryf in “ESTA”
uitsluit, kon
applikant nie in die onderhawige omstandighede die
prosedure voorgeskryf in “PIE” gevolg het nie.
[22] Applikant was dus,
gebaseer op sy eie feitelike weergawe en wyse van sitering van die
respondente, verplig om die prosedure
voorgeskryf in “ESTA”
te volg. Dit maak respondente se weergawe in die verband grootliks
irrelevant, aangesien dit
geag moet word dat applikant dus onder die
omstandighede nie ‘n
prima facie
saak in sy funderende
stukke uitgemaak het nie. Selfs indien dit egter aanvaar sou word dat
respondente in hul persoonlike hoedanighede,
soos gesiteer, ook
werknemers van die trust was, soos deur derde respondent beweer, sal
dit steeds nie afbreuk doen aan die bevinding
dat respondente in hul
persoonlike hoedanighede ook steeds “okkupeerders” is
soos omskryf in ESTA nie. In ieder geval
het hulle dan onder sodanige
omstandighede as werknemers steeds met toestemming van die trustees
van die trust die grond bewoon.
[23] Mnr Daffue se betoog
dat dit nie die bedoeling van die wetgewer kon gewees het om aan
persone in die posisie van die onderhawige
respondente die beskerming
van “ESTA” te verleen nie, kan na my mening ook nie
opgaan nie. In die verband is daar as
volg in
LEBOWA PLATINUM
MINES LTD v VILJOEN
2009 (3) SA 511
(SCA) op 517, para [12] en
[13], beslis:
“
[12]
Turning
to the facts of the present case, I deal first with the proposition
on the appellant’s behalf that only ‘poor,
previously
disenfranchised farm workers’, which the respondent
undisputedly is not, may benefit from the protection offered
by ESTA.
I have some difficulty with this submission. In
MKANGELI
AND OTHERS v JOUBERT AND OTHERS
Brand JA said:
‘
Generally
speaking ESTA protects a particular class of impecunious tenant on
rural and semi- rural land against the eviction from
that land…..
It seems……that…….the Legislature intended
to oppose extensive limitations on any
right to seek the occupiers’
eviction from that land. This intention appears to be emphasised by
the plain wording of ss
9(1) and 23(1) of ESTA (which prescribes that
an occupier may be evicted only on the authority of a court order)……
A literal interpretation of these provisions appears to indicate
an
intention on the part of the Legislature that any right to have an
occupier evicted, regardless of who may be the holder of such
right
and whatever the source of such right may be, should be subject to
and limited by the provisions of ESTA
.’
[13] These views, with which I
respectfully agree, tend to reinforce mine – that although
there is obviously a particular
class of vulnerable persons who were
the legislator’s primary concern when ESTA was conceived, of
which a respondent may
not be a member, courts are nonetheless
enjoined to consider the colour-blind provisions of S 26(3) of the
Constitution when interpreting
ESTA. From the wide wording of such
provisions, it hardly seems inconceivable that in that exercise a
person falling outside the
designated category, but nonetheless
possessed of a land owner’s consent or some other legal right,
may fall within its purview.
In the words of Harms JA, dealing with
the scope of PIE, in
NDLOVU v NGCOBO
;
BEKKER AND ANOTHER v
JIKA
, ‘the Bill of Rights and social or remedial
legislation often confer benefits on persons of whom they are not
primarily intended…..
The law of unintended consequences
sometimes takes its toll’.”
JURISDIKSIE:
[24] Vanweë my
bevinding dat “ESTA” van toepassing is, ontstaan die
vraagstuk met betrekking tot hierdie Hof se
jurisdiksie om enige
aspekte met betrekking tot die meriete van die onderhawige aansoek te
oorweeg of te bereg. In die verband
is beide Mnr Daffue en Me Wright
dit eens dat ooreenkomstig die bepalings van Artikel 17(1) van
“ESTA”, slegs die Landdroshof
in wie se jurisdiksiegebied
die betrokke grond geleë is of die Grondeisehof jurisdiksie het,
met welke siening ek saamstem.
Sien
MKANGELA AND OTHERS v JOUBERT
AND OTHERS
,
supra,
op 44, par [16] en op 47, para [25].
[25] Mnr Daffue het egter
betoog dat in die onderhawige omstandighede dit geag moet word dat
respondente toegestem het tot die jurisdiksie
van hierdie Hof. Hy het
verwys na die bepalings van Artikel 17(2) van “ESTA” wat
as volg lees:
“
Indien al
die partye tot verrigtinge daartoe instem, kan verrigtinge in enige
afdeling van die Hoë Hof, ingestel word in wie
se
jurisdiksiegebied die betrokke grond geleë is.”
Mnr Daffue hat aan die
hand gedoen dat Artikel 17(2) bloot die woord “
instem
”
gebruik, sonder om te vereis dat sodanige toestemming skriftelik
en/of uitdruklik en/of voorafverkreë moet wees. Op
hierdie basis
het hy aan die hand gedoen dat gegewe dat respondente sedert die
onderhawige aansoek geloods is, ‘n tussentydse
aansoek geloods
het ten einde verdere partye tot die onderhawige aansoek te voeg,
aanduidend daarvan is dat respondente tevrede
is met die jurisdiksie
van hierdie Hof en daartoe toegestem het. Hy het ook aan die hand
gedoen dat respondente (by monde van derde
respondent in sy
opponerende verklaring) beweer het dat applikant die prosedure
voorgeskryf in “ESTA” moes gevolg het,
sonder om
spesifiek die jurisdiksie van hierdie Hof te betwis deur te beweer
dat respondente nie toegestem het tot die jurisdiksie
van hierdie Hof
nie.
[26] Uit bogemelde feite
geopper deur Mnr Daffue, is dit na my mening nie die enigste redelike
afleiding daaruit dat respondente
toegestem het tot hierdie Hof se
jurisdiksie nie. Gebaseer op applikant se funderende aansoekstukke,
sou hierdie Hof jurisdiksie
gehad het om die aansoek te bereg. Die
gebrek aan hierdie Hof jurisdiksie sou eers ter sprake gekom het
nadat en indien ek sou
bevind, soos deur respondente geopper, dat
“ESTA” inderdaad van toepassing is en gevolg moes gewees
het. Die vraagstuk
na hierdie Hof se jurisdiksie het dus nie ter
sprake gekom voordat daar nie ‘n bevinding ten gunste van
respondente ten opsigte
van “ESTA” is nie. Waar
respondente ‘n tussentydse aansoek voortspruitend uit die
onderhawige aansoek geloods
het, kan dit ook nie geag word
toestemming tot die jurisdiksie van hierdie Hof te gewees het vir
doeleindes van “ESTA”
nie, aangesien die tussentydse
aansoek geloods is op ‘n stadium toe dit nog nie bevind was dat
“ESTA” van toepassing
is nie.
[27] Addisioneel tot
voormelde, is ek van mening dat op ‘n behoorlike interpretasie
van Artikel 17(2), dit duidelik die wetgewer
se bedoeling is dat
sodanige toestemming voorafverkreë toestemming moet wees. Die
instemming of dan toestemming waarna verwys
word, is duidelik
ooreenkomstig die bewoording van die subartikel gekoppel aan die
woorde “
ingestel word
”, met ander woorde voordat
die aansoek geloods word. Indien dit nie die bedoeling was dat die
toestemming voorafverkreë
moet wees nie, sou dit uiteraard die
wetgewer vrygestaan het om byvoorbeeld in plaas van die woord
“
ingestel
” die woord “
aangehoor
”
te gebruik het. Voormelde interpretasie word na my mening ook
ondersteun deur die Engelse bewoording van Artikel 17(2) wat
as volg
lees:
“
If
all the parties to proceedings consent thereto, proceedings may be
instituted
in any division of the High Court within whose area of jurisdiction
the land in question is situated.” (Eie beklemtoning.)
[28] Ek is derhalwe van
mening dat ek nie kan bevind dat respondente toegestem het tot die
jurisdiksie van hierdie Hof nie.
[29] Derhalwe het hierdie
Hof nie jurisdiksie om die onderhawige aansoek te bereg nie.
KOSTE:
[30] In die onderhawige
geval is daar geen rede waarom die koste nie die uitslag van die
aansoek moet volg nie.
GEVOLGTREKKING:
[31] Gevolglik word
applikant se aansoek van die hand gewys, met koste.
_____________
C. VAN ZYL, R
Namens die Applikant:
Adv. J P Daffue S.C.
In opdrag van:
Steyn-Meyer Inc.
BLOEMFONTEIN
Namens die Respondente:
Adv G J M Wright
In opdrag van:
Matee Prokureurs
BLOEMFONTEIN