Mbele v S (A198/2010) [2012] ZAFSHC 74 (19 April 2012)

80 Reportability
Criminal Law

Brief Summary

Criminal Law — Rape — Conviction and sentencing — Appellant convicted of multiple counts of rape and attempted rape of minors — Appellant's appeal against conviction based on alleged errors in accepting complainants' testimony and lack of DNA evidence — Court found that the trial court correctly assessed the credibility of witnesses and that the State proved its case beyond reasonable doubt — Sentences of life imprisonment for rape and ten years for attempted rape upheld as appropriate given the absence of compelling circumstances for lesser sentences.

About SAFLII
Databases
Search
Terms of Use
RSS Feeds
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
SAFLII
>>
Databases
>>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein
>>
2012
>>
[2012] ZAFSHC 74
|

|

Mbele v S (A198/2010) [2012] ZAFSHC 74 (19 April 2012)

VRYSTAAT
HOË HOF, BLOEMFONTEIN
REPUBLIEK
VAN SUID-AFRIKA
Appélnommer :
A198/2010
In
die appél tussen:-
SELLO PAULUS MBELE
.........................................................
Appellant
en
DIE STAAT
...........................................................................
Respondent
_____________________________________________________
CORAM:
VAN
ZYL, R
et
VAN ROOYEN, WND R
UITSPRAAK DEUR:
VAN ZYL, R
_____________________________________________________
GELEWER OP:
19 APRIL 2012
_____________________________________________________
[1] Appellant het in die
Streekhof, Bethlehem, tereggestaan op ses aanklagte van verkragting
in terme van Artikel 3, saamgelees
met die bepalings van Artikels
56(1), 57, 58, 59, 60 en 61 van die Wysigingswet op die Strafreg
(Seksuele Misdrywe en Verwante
Aangeleenthede), Wet 32 van 72
(hierinlater na verwys as “die Seksuele Misdrywe Wet”),
deurdat dit beweer is dat appellant
op 4 November 2008 te Bethlehem
wederregtelik en opsetlik `n handeling van seksuele penetrasie met
ses verskillende klaagsters
gepleeg het deur geslagsgemeenskap met
elkeen van hulle te hê sonder hulle toestemming. Die klaagsters
ten opsigte van die
onderskeie aanklagte, is die volgende:
Aanklag 1 –
Sebongile Motshoeneng – tien jaar oud.
Aanklag 2 –
Nthabiseng Mokoena – tien jaar oud.
Aanklag 3 –
Majwalane Motaung – geen ouderdom is in die klagstaat vermeld
nie.
Aanklag 4 –
Bongiwe Magwagwa – geen ouderdom is in die klagstaat vermeld
nie.
Aanklag 5 –
Ntaoleng Motaung – tien jaar oud.
Aanklag 6 –
Sebongile Moloi – agt jaar oud.
[2] Dit kan reeds op
hierdie stadium vermeld word dat die onderskeie ouderdomme van die
onderskeie klaagsters ten tyde van die beweerde
pleging van die
misdrywe, deur die Staat as volg bewys is:
2.1 Aanklag 1 –
tien jaar oud;
2.2 Aanklag 2 –
twaalf jaar oud;
2.3 Aanklag 3 –
dertien jaar oud;
2.4 Aanklag 4 – ses
jaar oud;
2.5 Aanklag 5 – elf
jaar oud;
2.7 Aanklag 6 – agt
jaar oud.
[3] Appellant het
regsverteenwoordiging in die hof
a quo
geniet. Hy het
onskuldig gepleit op al die ten laste gelegde misdrywe en geen
pleitverduideliking aangebied nie. Appellant is egter
op aanklagte 1
en 3 skuldig bevind aan verkragting, terwyl hy op aanklagte 2, 4, 5
en 6 skuldig bevind is aan poging tot verkragting.
[4] Ten opsigte van elk
van die aanklagte van verkragting, is appellant lewenslange
gevangenisstraf opgelê. Ten opsigte van
elk van die
skuldigbevindings aan poging tot verkragting, is appellant tien (10)
jaar gevangenisstraf opgelê. Dit is gelas
dat al die vonnisse
samelopend uitgedien moet word.
[5] Appellant se appèl
is teen sy skuldigbevindings, sowel as die opgelegde vonnisse gerig.
[6] Dit blyk dat
appellant se appèl ten opsigte van die skuldigbevindings
daarop gebaseer is dat die hof fouteer het deur
die klaagsters se
getuienis te aanvaar en appellant se getuienis te verwerp as synde
nie redelik moontlik waar nie. In besonder
steun appellant daarop dat
daar geen DNA toetse is ten opsigte waarvan die uitslag daarvan hom
verbind met die beweerde pleging
van die misdrywe nie.
[7] Ek ag dit doelmatig
vir doeleindes van die hantering van hierdie uitspraak om reeds ter
aanvang te vermeld dat Mnr van der Merwe,
wie die betoogshoofde
namens appellant opgestel het, na behoorlike oorweging van al die
getuienis en die uitspraak van die verhoorhof,
in sy betoogshoofde
vermeld het dat dit sy instruksies is dat die verhoorhof fouteer het
deur te bevind dat die Staat sy saak bo
redelike twyfel bewys het,
maar dat hy geen submissies in die verband aan die hof kan maak nie.
Aanvullend tot laasgenoemde verantwoordelike
toegewing van Mnr van
der Merwe, het Me Smith, wie namens appellant ten tyde van die
argumentering van die appèl verskyn
het, insgelyks op
verantwoordelike wyse van meet af dienooreenkomstig toegegee. Wanneer
die getuienis en die bevindings van die
hof
a quo
ten opsigte
van die skuldigbevindings van appellant oorweeg word, meen ek dat
beide voormelde regsverteenwoordigers tereg die toegewings
gemaak
het. Me Claassens, wie namens die Staat verskyn het, het ook
bogemelde toegewings ondersteun en volstaan met die submissies
ten
gunste en ter ondersteuning van appellant se skuldigbevindings, soos
vervat in haar betoogshoofde.
[8] Dit blyk uit die
getuienis van die klaagster dat ene Majoalani hulle die betrokke dag
kom haal het om na appellant se huis te
gaan ten einde die huis skoon
te maak. Dit blyk ook dat hulle vantevore, onder andere, gratis kos
by die huis van appellant ontvang
het. Daardie betrokke dag was
appellant se vrou nie teenwoordig nie. Hulle het die huis
skoongemaak, waarna hulle kos gemaak het
en geëet het. Op
daardie stadium was appellant nie teenwoordig nie. Later die middag
het appellant opgedaag, waarna appellant
weer die huis verlaat het en
teruggekeer het met alkohol (klaarblyklik met, onder andere,
tradisionele bier en vodka). Hy het die
klaagsters forseer om van die
alkohol te drink deur hulle met ‘n panga te dreig en nadat
sommige van hulle geslaap het, het
hulle later weer na die huis
teruggekeer. Dit was op hierdie stadium wat appellant die huis se
deur gesluit het en aan die klaagsters
gesê het dat hulle die
speletjie “
hibby
” gaan speel. Tydens hierdie
speletjie was hulle veronderstel om mekaar aan te raak. Daarna het hy
die klaagsters een vir
een na sy kamer geneem, waar hy, volgens
elkeen van hulle se getuienis, hul verkrag het. Nadat hy daarmee
klaar was, is die huis
se deur weer oopgesluit, waarna hulle weg is
vanaf die huis. Hy het hulle weer met die panga gedreig en gesê
dat hy hulle
sou doodmaak indien hulle vir enigiemand sou vertel wat
gebeur het.
[9] Soos tereg deur die
verhoorhof in sy uitspraak aangespreek, was daar meerdere
weersprekings tussen die getuienis van die onderskeie
klaagsters. Die
verhoorhof het egter op deeglike wyse met elk van hierdie
weersprekings gehandel en tot die gevolgtrekking gekom,
na my mening
heeltemal tereg, dat dit nie afbreuk doen aan die geloofwaardigheid
van die klaagsters se getuienis in geheel geoordeel
nie. Sien
uitspraak, p. 231, reël 1 tot p. 232, reël 19. Die
verhoorhof het hom ook deeglik vergewis van die versigtigheidsreël

wat geld ten opsigte van kindergetuies. Sien uitspraak p. 229, reël
24 tot p. 230, reël 24.
[10] Die klaagsters se
weergawe is ook gestaaf deur die getuienis van sommige van die
klaagsters se moeders, maar meer spesifiek
ook deur die getuienis van
Dr. Shoan, wie vyf van die ses klaagsters medies ondersoek het en J88
mediese verslae ten opsigte van
die ondersoeke voltooi het, welke
ingehandig is as bewysstukke. Die een ondersoek is gedoen deur Dr.
Essack, ten opsigte waarvan
hy ook ‘n J88 mediese verslag
voltooi het, welke verslag ingehandig is deur die Staat en erken is
deur die verdediging. Uit
die mediese getuienis het dit onteenseglik
geblyk dat daar duidelike tekens van penetrasie was met betrekking
tot die klaagsters
in aanklag 1 en aanklag 3, terwyl daar ten opsigte
van die ander klaagsters nie sodanige mediese getuienis was ter
stawing van
penetrasie nie.
[11] Teenoor voormelde
het appellant getuig dat hy gedurende die dag by ‘n taverne was
waar hy gedrink het en toe hy die middag
na sy huis is, het hy gaan
slaap. Op die stadium wat hy wakker geword het, was dit reeds donker.
Op daardie stadium is hy deur
‘n buurvrou van hom vertel dat
die klaagsters by sy huis was en daar gespeel het. Volgens appellant
se weergawe het die klaagsters
die bewerings teenoor hom opgemaak
aangesien ‘n polisiebeampte een van die klaagsters aangerand
het, waarna sy haar weergawe
verander het en beweer het dat appellant
haar verkrag het. Nadat hierdie klaagster dit gedoen het, het die
ander klaagsters ook
hulle weergawes dienooreenkomstig verander.
[12] Die verhoorhof het
al die getuienis as totaliteit geëvalueer ten einde vas te stel
of die Staat sy saak bo redelike twyfel
bewys het. Die hof het bevind
dat die klaagsters en die ander staatsgetuies geloofwaardig is en dat
die klaagsters mekaar staaf
wat die wesenlike aspekte van hul
weergawes betref. Wat betref die weersprekings in hulle getuienis,
het ek reeds daarop gewys,
met verwysing na die bepaalde gedeeltes
uit die uitspraak, dat die verhoorhof bevind het dat sodanige
weersprekings verstaanbaar
is onder die omstandighede, gegewe die
trauma wat die klaagsters ervaar het, die omstandighede waaronder die
voorval plaasgevind
het en die ouderdom van die klaagsters.
Daarteenoor het die verhoorhof bevind dat appellant nie ‘n
geloofwaardige getuie
was nie en dat sy weergawe nie redelik moontlik
waar kan wees in die lig van die oorweldigende getuienis teen hom
nie.
[13] Dit is geyk dat ‘n
Hof van appél slegs onder beperkte omstandighede met die
geloofwaardigheidsbevindings van ‘n
verhoorhof kan en sal
inmeng. Dit kan slegs gedoen word indien daar ‘n
onreëlmatigheid of ‘n mistasting deur die
hof begaan is.
In
S v FRANCIS
1991 (1) SASV 198 (A) op 204 E is dit as volg
gestel:

Bearing in
mind the advantage which a trial Court has of seeing, hearing and
appraising a witness, it is only in exceptional cases
that this Court
will be entitled to interfere with a trial Court’s evaluation
of oral testimony.”
[14] In die onderhawige
geval is ek oortuig dat daar geen basis is op grond waarvan met die
verhoorhof se bevindings wat betref
die geloofwaardigheid van die
onderskeie getuies, ingemeng kan word nie. Gevolglik is ek ook van
mening dat die verhoorhof nie
fouteer het met sy bevinding dat die
Staat appellant se skuld ten opsigte van die onderskeie
skuldigbevindings, bo redelike twyfel
bewys het nie. Appellant se
appèl teen sy skuldigbevindings kan derhalwe nie slaag nie.
AD VONNIS:
[15] Wat die opgelegde
vonnisse betref is dit so dat ten opsigte van die skuldigbevindings
aan verkragting op aanklagte 1 en 3,
die voorgeskrewe minimum vonnis
in terme van Artikel 51 van die Strafregwysigingswet, Wet 105 van
1997, lewenslange gevangenisstraf
is. Voortspruitend uit laasgenoemde
wetgewing, kan ‘n mindere vonnis ten opsigte van hierdie
aanklagte slegs opgelê
word indien daar wesenlike en dwingende
omstandighede bestaan wat die oplegging van sodanige mindere vonnis
regverdig en noodsaak.
In die onderhawige geval het die verhoorhof
bevind dat daar geen sodanige wesenlike en dwingende omstandighede
teenwoordig is nie.
[16] Alvorens ek verder
met die opgelegde vonnisse handel, ag ek dit weereens doelmatig om te
vermeld dat Mnr van der Merwe in sy
betoogshoofde aangedui het dat
dit appellant se instruksies is dat die opgelegde vonnisse skokkend
swaar en onvanpas is, in besonder
wat betref die vonnisse van
lewenslange gevangenisstraf. Mnr van der Merwe het egter weereens op
verantwoordelike wyse toegegee
dat in besonder in die lig van die
vorige veroordelings van appellant, hy nie submissies ter
ondersteuning hiervan kan maak nie.
Me Smith het ten tyde van haar
mondelinge argumentering van die appèl namens appellant,
weereens ook van meet af aan hierdie
verantwoordelike toegewing tereg
gemaak.
[17] Wat die persoonlike
omstandighede van appellant betref, was appellant 40 jaar oud ten
tyde van vonnisoplegging, ongetroud en
met geen kinders. Voorafgaande
sy arres, het hy skrootmetaal verkoop ten opsigte waarvan hy ongeveer
R150-00 per dag verdien het.
Hoewel hy ongetroud was, was hy in ‘n
saamleefverhouding met ene Pendiwe, wie werkloos was en was appellant
gevolglik die
broodwinner ten opsigte van haar en ook haar
minderjarige kind. Hy het ook finansieel bygedra tot sy moeder se
lewenskoste, aangesien
sy moeder ook werkloos was. Verdermeer was
appellant ongeveer sewentien maande as verhoorafwagtende in hegtenis.
[18] Wat erg
strafverswarend in die onderhawige omstandighede is en wat ook aldus
deur die verhoorhof in aanmerking geneem is, is
appellant se vorige
veroordelings. Sy vorige veroordelings wat bestaan uit meerdere
skuldigbevindings aan diefstal, twee skuldigbevindings
aan
aanranding, een skuldigbevinding aan roof en een skuldigbevinding aan
onsedelike gedrag in die openbaar, het reeds in 1982
‘n aanvang
geneem. Dit het tot gevolg gehad dat toe hy gedurende 1992 op
aanklagte van roof en verkragting skuldig bevind
is, is hy tot
gewoonte misdadiger verklaar. Hoewel dit in aanmerking geneem word
dat sommige van hierdie vorige oortredings ouer
as tien jaar is voor
die datum van die onderhawige oortredings, word dit steeds gemeld ten
einde te verduidelik waarom appellant
tot gewoonte misdadiger
verklaar is. Op 8 April 2005 is appellant vrygelaat “
on
special remission of sentence until 2005-10-08
”. Slegs
ongeveer vier maande daarna, synde op 20 Augustus 2005, het appellant
weer aanranding met die opset om ernstig te
beseer gepleeg, ten
opsigte waarvan hy ‘n opgeskorte vonnis opgelê is. Gegewe
die voormelde lys van vorige veroordelings,
in besonder inaggenome
dat dit ook ‘n aanklag van verkragting insluit, saamgeneem met
die aard en erns van die onderhawige
misdrywe, is ek dit eens met die
verhoorhof dat daar nie wesenlike en dwingende omstandighede bestaan
wat die oplegging van ‘n
mindere vonnis dan die voorgeskrewe
lewenslange gevangenisstraf regverdig nie. Appellant is duidelik ‘n
persoon wat permanent
uit die samelewing verwyder moet word.
[19] Wat betref die ander
vonnisse van tien jaar gevangenisstraf ten opsigte van elk van die
skuldigbevindings op ‘n aanklag
van poging tot verkragting, is
ek van mening dat hierdie vonnisse nie skokkend swaar en onvanpas is
nie en dat daar geen basis
is op grond waarmee daarmee op appèl
ingemeng kan word nie.
[20] Gevolglik kan
appellant se appèl teen sy opgelegde vonnisse ook nie slaag
nie.
[21] Derhalwe word
appellant se appèl teen sy skuldigbevindings en die opgelegde
vonnisse van die hand gewys.
_____________
C. VAN ZYL, R
Ek stem saam:
________________________
P.C.F. VAN ROOYEN, WND
R
Namens die Appellant: Me
L. Smith
In opdrag van:
Regssentrum
BLOEMFONTEIN
Namens die Respondent:
Adv B.G. Claassens
In opdrag van:
Direkteur van Openbare
Vervolging
BLOEMFONTEIN